Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Voor die Sanhedrin, dan na Pilatus
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 121

      Voor die Sanhedrin, dan na Pilatus

      DIE nag is amper om. Petrus het Jesus vir die derde keer verloën, en die lede van die Sanhedrin is klaar met hulle skynverhoor en het uiteengegaan. Maar met dagbreek Vrydagoggend vergader hulle weer, hierdie keer in hulle Sanhedrinsaal. Hulle doel is waarskynlik om ’n skyn van wettigheid aan die nagverhoor te verleen. Wanneer Jesus voor hulle gebring word, sê hulle, soos gedurende die nag: “As U die Christus is, sê vir ons.”

      “As Ek vir u sê, sal u tog nie glo nie”, antwoord Jesus. “En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord . . . nie.” Maar Jesus verwys moedig na sy identiteit en sê: “Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.”

      “Is U dan die Seun van God?” wil hulle almal weet.

      “U sê dat Ek dit is”, antwoord Jesus.

      Vir hierdie moordlustige manne is hierdie antwoord voldoende. Hulle beskou dit as godslastering. “Wat het ons nog getuienis nodig!” vra hulle. “Want ons het dit self uit sy mond gehoor.” Toe boei hulle Jesus, lei hom weg en lewer hom oor aan die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus.

      Judas, Jesus se verraaier, het die gebeure dopgehou. Toe hy sien dat Jesus veroordeel is, kry hy spyt. Hy gaan derhalwe na die owerpriesters en die ouderlinge om die 30 silwerstukke terug te gee, en verduidelik: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai.”

      “Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!” is hulle gevoellose antwoord. Gevolglik gooi Judas die silwerstukke in die tempel neer en gaan weg en probeer homself ophang. Maar die tak waaraan  Judas die tou vasbind, breek blyk-baar en sy liggaam stort op die rotse onder neer, waar dit oopbars.

      Die owerpriesters weet nie wat om met die silwerstukke te doen nie. “Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie”, besluit hulle, “omdat dit bloedgeld is.” Nadat hulle saam raad gehou het, koop hulle dus die pottebakker se grond met die geld as ’n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom word die grond “Bloedgrond” genoem.

      Dit is nog vroeg in die oggend wanneer Jesus na die goewerneur se paleis geneem word. Maar die Jode wat hom vergesel het, weier om in te gaan omdat hulle glo dat sulke intimiteit met nie-Jode hulle sal verontreinig. Pilatus kom hulle derhalwe tegemoet en kom uit. “Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?” vra hy.

      “As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie”, antwoord hulle.

      Omdat hy nie by die saak betrokke wil raak nie, antwoord Pilatus: “Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet.”

      Die Jode verraai hulle moorddadige oogmerk wanneer hulle beweer: “Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie.” Trouens, dit sal heel moontlik ’n openbare opstand veroorsaak as hulle Jesus gedurende die Pasgafees doodmaak, aangesien baie mense Jesus hoogag. Maar as hulle die Romeine sover kan kry om hom op ’n politieke aanklag tereg te stel, sal dit hulle nie voor die mense aanspreeklik laat lyk nie.

      Die godsdiensleiers maak nie melding van hulle vroeëre verhoor waartydens hulle Jesus vir godslastering veroordeel het nie maar versin nou ander aanklagte. Hulle maak die drievoudige beskuldiging: “Ons het gevind dat hierdie man [1] die volk verlei en [2] verbied om aan die keiser belasting te betaal, terwyl Hy [3] sê dat Hy self Christus, die Koning, is.”

      Die aanklag dat Jesus beweer dat hy ’n koning is, verontrus Pilatus. Hy gaan dus weer in die paleis in, roep Jesus na hom en vra: “Is U die Koning van die Jode?” Met ander woorde, het jy die wet oortree deur jou in verset teen die keiser ’n koning te verklaar?

      Jesus wil weet hoeveel Pilatus reeds omtrent hom gehoor het en daarom vra hy: “Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê?”

      Pilatus gee te kenne dat hy niks van hom weet nie en dat hy graag die feite wil hê. “Is ek dan ’n Jood?” antwoord hy. “U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?”

      Jesus probeer geensins om van die geskil, naamlik koningskap, weg te skram nie. Die antwoord wat Jesus nou gee, verbaas Pilatus ongetwyfeld. Lukas 22:66–23:3; Mattheüs 27:1-11; Markus 15:1; Johannes 18:28-35; Handelinge 1:16-20.

      ▪ Waarom vergader die Sanhedrin weer die oggend?

      ▪ Hoe sterf Judas, en wat word met die 30 silwerstukke gedoen?

      ▪ Pleks van Jesus self dood te maak, waarom wil die Jode hê dat die Romeine hom moet doodmaak?

      ▪ Watter aanklagte bring die Jode teen Jesus in?

  • Van Pilatus na Herodes en weer terug
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 122

      Van Pilatus na Herodes en weer terug

      HOEWEL Jesus glad nie probeer om dit vir Pilatus weg te steek dat hy ’n koning is nie, verduidelik hy dat sy Koninkryk nie ’n bedreiging vir Rome is nie. “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie”, sê Jesus. “As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie uit hierdie bron nie” (NW). Jesus erken dus drie keer dat hy ’n Koninkryk het, hoewel dit nie ’n aardse koninkryk is nie.

      Maar Pilatus dring verder by hom aan: “Is U dan tog ’n koning?” Met ander woorde, is jy ’n koning selfs al is jou Koninkryk nie ’n deel van hierdie wêreld nie?

      Jesus laat Pilatus verstaan dat hy tot die regte slotsom gekom het en antwoord: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”

      Ja, die hele doel van Jesus se bestaan op aarde is om vir “die waarheid” te getuig, veral vir die waarheid omtrent sy Koninkryk. Jesus is bereid om aan daardie waarheid getrou te bly selfs al kos dit hom sy lewe. Hoewel Pilatus vra: “Wat is waarheid?” wag hy nie vir ’n verdere verduideliking nie. Hy het genoeg gehoor om ’n oordeel te vel.

      Pilatus keer terug na die skare wat buitekant die paleis wag. Jesus staan blykbaar langs hom wanneer hy vir die owerpriesters en dié wat saam met hulle is, sê: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

      Die skare is woedend oor die besluit en dring aan: “Hy maak die volk oproerig met sy leer die hele Judea deur, vandat Hy in Galilea begin het tot hiertoe.”

      Die Jode se onredelike fanatisme verbaas Pilatus ongetwyfeld. Terwyl die owerpriesters en ouderlinge aanhou skreeu, draai Pilatus na Jesus en vra: “Hoor U nie hoe baie dinge hulle teen U getuig nie?” Maar Jesus probeer nie eers om hierop te antwoord nie. Sy kalmte te midde van die wilde aantygings verstom Pilatus.

      Toe Pilatus uitvind dat Jesus ’n Galileër is, sien hy ’n manier om die verantwoordelikheid op iemand anders af te skuif. Die heerser van Galilea, Herodes Antipas (seun van Herodes die Grote), is in Jerusalem vir die Pasga en daarom stuur Pilatus Jesus na hom toe. Herodes Antipas het Johannes die Doper vroeër onthoof, en Herodes het bang geword toe hy hoor hoe Jesus wonderwerke verrig, want hy was bang dat Jesus in werklikheid Johannes is wat uit die dood opgewek is.

      Herodes is baie bly oor die geleentheid om Jesus nou te sien. Dit is nie omdat hy oor Jesus se welsyn bekommerd is of omdat hy werklik wil probeer uitvind of die beskuldigings teen hom waar of vals is nie. Inteendeel, hy is net nuuskierig en hoop om te sien hoe Jesus ’n wonderwerk verrig.

      Maar Jesus weier om Herodes se nuuskierigheid te bevredig. Trouens, terwyl Herodes hom ondervra, sê hy nie ’n woord nie. Herodes is teleurgesteld, en hy en sy soldate dryf die spot met Jesus. Hulle sit ’n blink kleed om hom en bespot hom. Dan stuur hulle hom terug na Pilatus. Gevolglik word Herodes en Pilatus, wat voorheen vyande was, goeie vriende.

      Wanneer Jesus terugkeer, roep Pilatus die owerpriesters, die Joodse heersers en die volk bymekaar en sê vir hulle: “Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie; ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie. Nadat ek Hom dan gekasty het, sal ek Hom loslaat.”

      Pilatus het Jesus dus twee keer onskuldig verklaar. Hy is gretig om hom vry te laat, omdat hy besef dat dit net uit afguns is dat die priesters hom oorgelewer het. Terwyl Pilatus steeds probeer om Jesus vry te laat, kry hy selfs ’n sterker motivering om dit te doen. Terwyl hy op sy regbank sit, stuur sy vrou ’n boodskap na hom en maan sy hom: “Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in ’n droom [klaarblyklik van goddelike oorsprong] baie gely om sy ontwil.”

      Maar hoe kan Pilatus hierdie onskuldige man vrylaat, soos hy weet hy eintlik moet? Johannes 18:36-38; Lukas 23:4-16; Mattheüs 27:12-14, 18, 19; 14:1, 2; Markus 15:2-5.

      ▪ Hoe beantwoord Jesus die vraag omtrent sy koningskap?

      ▪ Wat is “die waarheid” waarvan Jesus gedurende sy aardse lewe getuig het?

      ▪ Wat is Pilatus se uitspraak, hoe reageer die mense en wat doen Pilatus met Jesus?

      ▪ Wie is Herodes Antipas, waarom is hy so bly om Jesus te sien en wat doen hy met hom?

      ▪ Waarom is Pilatus gretig om Jesus vry te laat?

  • “Dáár is die mens!”
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 123

      “Dáár is die mens!”

      PILATUS is beïndruk deur Jesus se gedrag en besef dat hy onskuldig is; daarom probeer hy ’n ander manier soek om hom vry te laat. “Julle het ’n gewoonte”, sê hy vir die skare, “dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat.”

      Barabbas, ’n berugte moordenaar, word ook gevange gehou, en Pilatus vra dus: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Barabbas, of Jesus wat genoem word Christus?”

      Die owerpriesters het die volk egter opgehits, en hulle vra dat Barabbas vrygelaat moet word maar dat Jesus doodgemaak moet word. Pilatus gooi egter nie tou op nie en vra weer: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”

      “Barabbas!” skreeu hulle.

      “Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus?” vra Pilatus ontsteld.

      Met een oorverdowende uitroep, antwoord hulle: “Aan die paal met hom!” “Aan die paal! Aan die paal met hom!”—NW.

      Pilatus weet dat hulle die dood van ’n onskuldige man eis en pleit: “Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.”

      Ondanks sy pogings hou die woedende skare, wat deur hulle godsdiensleiers aangehits word, aan met skreeu: “Aan die paal met hom!” Die skare wat deur die priesters tot raserny opgesweep is, is bloeddorstig. En dink net, sommige van hulle was waarskynlik net vyf dae vantevore onder diegene wat Jesus as Koning in Jerusalem verwelkom het! Jesus se dissipels bly stil, indien hulle teenwoordig is, en hou hulle eenkant.

      Pilatus sien dat sy pleidooie niks help nie, maar dat daar eerder ’n oproer ontstaan, en neem water en was sy hande voor die skare en sê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!” Toe antwoord die volk: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!”

      Ooreenkomstig hulle eise—en in ’n poging om die skare tevrede te stel, pleks van te doen wat hy weet reg is—laat Pilatus dus Barabbas vir hulle vry. Hy neem Jesus en gee opdrag dat sy klere uitgetrek en hy gegesel word. Dit was nie sommer net gewone slae met ’n sweep nie. The Journal of the American Medical Association beskryf die Romeinse gebruik van geseling:

      “Die instrument was gewoonlik ’n kort sweep (gesel) met etlike enkel of gevlegte leerriempies van verskillende lengtes, waaraan klein ysterbolletjies of skerp stukkies skaapbeen op ’n paar plekke vasgeknoop is. . . . Wanneer die Romeinse soldate met al hulle krag herhaaldelik op die slagoffer se rug geslaan het, het die ysterbolletjies diep kneusplekke veroorsaak, en die leerriempies en skaapbene het in die vel en die weefsel onder die vel ingesny. Die skeurwonde het dan, terwyl die geseling voortgeduur het, tot in die onderliggende skeletspiere ingeskeur en bewende flenters bloeiende vlees tot gevolg gehad.”

      Ná hierdie pynlike slae word Jesus in die goewerneur se paleis ingeneem, en die hele leërafdeling word bymekaar gebring. Daar bespot die soldate hom verder deur ’n kroon van dorings te vleg en dit op sy kop te druk. Hulle plaas ’n riet in sy regterhand en hulle klee hom met ’n purperkleed, die soort wat deur koninklikes gedra word. Dan sê hulle spottend vir hom: “Wees gegroet, Koning van die Jode!” Hulle spoeg ook op hom en klap hom deur sy gesig. Hulle neem die stewige riet uit sy hand en gebruik dit om hom oor sy kop te slaan en dryf sodoende die skerp dorings van sy vernederende “kroon” selfs dieper in sy kopvel in.

      Jesus se buitengewone waardigheid en krag te midde van hierdie mishandeling beïndruk Pilatus sodat hy beweeg word om hom weer te probeer bevry. “Kyk, ek bring Hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie”, sê hy vir die skare. Hy dink waarskynlik dat hulle harte sal versag as hulle Jesus se gemartelde toestand sien. Terwyl Jesus voor die hartelose skare staan, met die doringkroon op sy kop en die purperkleed om hom en met sy bloeiende gesig wat vertrek is van pyn, verklaar Pilatus: “Dáár is die mens!”

      Hoewel hy pimpel en pers geslaan is, staan die merkwaardigste persoon van alle tye hier, waarlik die grootste mens wat nog geleef het! Ja, Jesus toon ’n stille waardigheid en kalmte wat getuig van ’n grootsheid wat selfs Pilatus moet erken, want sy woorde weerspieël blykbaar respek sowel as jammerte. Johannes 18:39–19:5; Mattheüs 27:15-17, 20-30; Markus 15:6-19; Lukas 23:18-25.

      ▪ Hoe probeer Pilatus om Jesus vry te laat?

      ▪ Hoe probeer Pilatus sy verantwoordelikheid ontduik?

      ▪ Wat behels dit om gegesel te word?

      ▪ Hoe word Jesus bespot nadat hy gegesel is?

      ▪ Watter verdere poging wend Pilatus aan om Jesus vry te laat?

  • Oorgelewer en weggelei
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 124

      Oorgelewer en weggelei

      TOE Pilatus, getref deur die stille waardigheid van die gemartelde Jesus, hom weer probeer vrylaat, word die owerpriesters nog kwater. Hulle is vasbeslote dat niks hulle bose plan sal dwarsboom nie. Hulle skreeu dus opnuut: “Aan die paal met hom! Aan die paal met hom!”—NW.

      “Neem julle Hom en [hang hom aan ’n paal]”, sê Pilatus. (In teenstelling met wat die Jode vroeër beweer het, hét hulle die mag om misdadigers tereg te stel vir godsdiensoortredings wat ernstig genoeg is.) Dan verklaar Pilatus, vir ten minste die vyfde keer, dat Jesus onskuldig is deur te sê: “Ek vind geen skuld in Hom nie.”

      Toe die Jode sien dat hulle politieke aantygings geen resultate oplewer nie, beskuldig hulle Jesus weer van godslastering, soos hulle ure tevore by sy verhoor voor die Sanhedrin gedoen het. “Ons het ’n wet”, sê hulle, “en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”

      Hierdie beskuldiging is nuut vir Pilatus, en dit maak hom selfs meer bevrees. Teen hierdie tyd besef hy dat Jesus nie ’n gewone mens is nie, soos sy vrou se droom en Jesus se merkwaardige sterk persoonlikheid toon. Maar “die Seun van God”? Pilatus weet dat Jesus uit Galilea kom. Maar is dit moontlik dat hy voorheen kon gelewe het? Pilatus neem hom weer in die paleis in en vra: “Van waar is U?”

      Jesus antwoord hom nie. Hy het vroeër vir Pilatus gesê dat hy ’n koning is, maar dat sy Koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie. Enige verdere verduideliking sal nou nutteloos wees. Maar Pilatus se eer is gekrenk omdat Jesus weier om te antwoord, en hy bars uit teenoor hom met hierdie woorde: “Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U [aan ’n paal te hang] en mag het om U los te laat nie?”

      “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie”, antwoord Jesus hom eerbiedig. Hy praat van die feit dat God menseheersers die mag gee om sake op aarde te bestuur. Jesus voeg by: “Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.” Die hoëpriester Kajafas en sy medepligtiges en Judas Iskariot het almal inderdaad groter skuld as Pilatus aan die onregverdige behandeling van Jesus.

      Omdat Pilatus selfs meer beïndruk is deur Jesus en bang is dat Jesus van goddelike oorsprong is, probeer hy opnuut om hom vry te laat. Maar die Jode keer Pilatus. Hulle herhaal hulle politieke aantyging en dreig listig: “As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser.”

      Ten spyte van die gevaar wat dit kan inhou, bring Pilatus Jesus nog ’n keer na buite. “Dáár is julle Koning!” sê hy weer eens.

      “Weg met hom! Weg met hom! Aan die paal met hom!”—NW.

      “Moet ek julle Koning [aan ’n paal hang]?” vra Pilatus desperaat.

      Die Jode is ontevrede onder die Romeinse juk. Hulle verag inderdaad Rome se heerskappy! Tog sê die owerpriesters skynheilig: “Ons het geen koning behalwe die keiser nie.”

      Uit vrees vir sy politieke posisie en reputasie gee Pilatus eindelik toe aan die Jode se meedoënlose eise. Hy lewer Jesus oor. Die soldate trek die purperkleed uit en trek weer vir Jesus sy eie klere aan. Jesus word gedwing om sy eie folterpaal te dra wanneer hulle hom weglei om hom aan die paal te gaan nael.

      Dit is nou al die middel van die voormiddag van Vrydag, 14 Nisan; miskien is dit al amper twaalfuur. Jesus is al van vroeg Donderdagoggend op, en hy het die een pynlike ondervinding na die ander deurgemaak. Dit is verstaanbaar dat sy krag sommer gou onder die gewig van die paal ingee. ’n Verbyganger, ’n sekere Simon van Cirene in Afrika, word dus gedwing om dit vir hom te dra. Terwyl hulle loop, word hulle gevolg deur baie mense, insluitende vroue, wat hulleself in droefheid slaan en oor Jesus weeklaag.

      Jesus draai om na die vroue en sê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders; want daar kom dae wanneer hulle sal sê: Gelukkig is die onvrugbares en die moederskote wat nie gebaar en die borste wat nie gesoog het nie. . . . Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur!”

      Jesus praat van die boom van die Joodse nasie wat, soos groen hout, nog ’n bietjie lewensvog besit vanweë Jesus se teenwoordigheid en die bestaan van ’n oorblyfsel wat in hom glo. Maar wanneer hulle uit die nasie geneem word, sal daar net ’n geestelik dooie, droë boom oorbly, ja, ’n verdorde nasionale organisasie. O, watter rede om te ween sal daar tog wees wanneer die Romeinse leërs, wat as God se skerpregters sal dien, die Joodse nasie verwoes! Johannes 19:6-17; 18:31; Lukas 23:24-31; Mattheüs 27:31, 32; Markus 15:20, 21.

      ▪ Watter beskuldiging bring die godsdiensleiers teen Jesus in wanneer hulle politieke beskuldigings nie resultate oplewer nie?

      ▪ Waarom raak Pilatus meer bevrees?

      ▪ Wie het die grootste skuld aan wat met Jesus gebeur?

      ▪ Hoe kry die priesters dit reg dat Pilatus Jesus uiteindelik oorlewer om tereggestel te word?

      ▪ Wat sê Jesus vir die vroue wat oor hom ween, en wat bedoel hy wanneer hy praat van die “groen hout” en die “droë”?

  • Doodstryd aan die paal
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 125

      Doodstryd aan die paal

      TWEE rowers word saam met Jesus uitgelei om tereggestel te word. Die optog kom net buite die stad tot stilstand by die plek wat Golgota, of Plek van die Hoofskedel, genoem word.

      Die gevangenes se klere word uitgetrek. Dan word hulle wyn gemeng met mirre gegee. Blykbaar berei die vroue van Jerusalem dit, en die Romeine ontsê diegene wat die paalstraf opgelê word nie hierdie verdowingsmiddel nie. Maar wanneer Jesus dit proe, weier hy om dit te drink. Waarom? Hy wil blykbaar by sy volle sinne wees terwyl sy geloof tot die uiterste beproef word.

      Jesus word nou met sy hande bo sy kop op die paal uitgestrek. Dan slaan die soldate groot spykers deur sy hande en voete. Hy ruk van die pyn wanneer die spykers sy vlees en ligamente deurboor. Die pyn is intens wanneer die paal regop geswaai word, want die liggaam se gewig skeur aan die spykerwonde. Maar pleks van hulle te dreig, bid Jesus vir die Romeinse soldate: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

      Pilatus laat ’n teken op die paal aanbring wat sê: “Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode.” Hy skryf dit blykbaar nie net omdat hy Jesus respekteer nie, maar omdat hy die Joodse priesters verafsku, aangesien hulle Jesus se doodvonnis van hom afgedwing het. Sodat almal die teken kan lees, laat Pilatus dit in drie tale skryf—in Hebreeus, in die amptelike Latyn en in die gebruiklike Grieks.

      Die owerpriesters, Kajafas en Annas inkluis, is ontsteld. Hierdie positiewe verklaring bederf hulle uur van triomf. Hulle protesteer dus: “Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.” Ergerlik omdat hy as werktuig vir die priesters gedien het, antwoord Pilatus met besliste minagting: “Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.”

      Die priesters en ’n groot menigte vergader nou by die teregstellingsplek, en die priesters weerspreek die getuienis van die teken. Hulle herhaal die valse getuienis wat vroeër by die Sanhedrinverhore gelewer is. Dit is dus nie verbasend nie dat die verbygangers hom begin smaad, hulle hoofde spottend skud en sê: “U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As u die Seun van God is, kom af van die [folterpaal]!”

      “Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie.” spot die owerpriesters en hulle godsdienstrawante saam. “As hy die koning van Israel is, laat Hom nou van die [folterpaal] afkom, en ons sal in Hom glo. Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou verlos as Hy behae in Hom het; want Hy het gesê: Ek is die Seun van God.”

      Die soldate word meegevoer deur die atmosfeer en dryf ook die spot met Jesus. Hulle bied hom spottend asyn aan en hou dit blykbaar net buite die bereik van sy droë lippe. “As U die Koning van die Jode is”, tart hulle, “verlos Uself.” Selfs die rowers—die een aan ’n paal aan Jesus se regter- en die ander aan sy linkerkant—smaad hom. Stel jou dit voor! Die grootste mens wat nog geleef het, ja, die een wat Jehovah God gehelp het om alle dinge te skep, verdra al hierdie hoon onverskrokke!

      Die soldate neem Jesus se boklere en verdeel dit in vier dele. Hulle werp die lot daaroor om te sien wie s’n dit sal word. Die onderkleed is egter van hoë gehalte en het nie ’n naat nie. Die soldate sê dus vir mekaar: “Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s’n dit sal wees.” Hulle vervul derhalwe onwetend die teks wat sê: “Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp.”

      Een van die rowers besef mettertyd dat Jesus waarlik ’n koning moet wees. Daarom berispe hy sy maat en sê: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?—ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” Dan praat hy met Jesus en smeek hom: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.”

      Jesus antwoord hom: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (NW). Hierdie belofte sal vervul word wanneer Jesus as Koning in die hemel regeer en die berouvolle kwaaddoener opwek tot lewe op die Paradysaarde wat Armageddon-oorlewendes en hulle metgeselle die voorreg sal hê om te bewerk. Mattheüs 27:33-44; Markus 15:22-32; Lukas 23:27, 32-43; Johannes 19:17-24.

      ▪ Waarom weier Jesus om die wyn gemeng met mirre te drink?

      ▪ Waarom word ’n teken op Jesus se paal aangebring, en watter woordewisseling laat dit tussen Pilatus en die owerpriesters ontstaan?

      ▪ Hoe word Jesus verder aan die folterpaal gehoon, en wat gee blykbaar aanleiding daartoe?

      ▪ Hoe word ’n profesie vervul in wat met Jesus se klere gedoen word?

      ▪ Hoe verander een van die rowers, en hoe sal Jesus aan sy versoek voldoen?

  • “Waarlik, Hy was die Seun van God”
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 126

      “Waarlik, Hy was die Seun van God”

      JESUS is nog nie lank aan die paal nie toe daar teen twaalfuur die middag ’n onverklaarbare duisternis kom wat drie uur duur. Dit word nie deur ’n sonsverduistering veroorsaak nie, aangesien dít net gebeur wanneer dit nuwemaan is, en tydens die Pasga is dit volmaan. Daarbenewens duur ’n sonsverduistering net ’n paar minute. Die duisternis is dus van goddelike oorsprong! Dit stem moontlik diegene wat Jesus bespot tot nadenke, en laat hulle gehoon selfs ophou.

      As die onheilspellende verskynsel plaasvind vóór die een kwaaddoener sy maat ernstig berispe en Jesus vra om aan hom te dink, dra dit dalk daartoe by dat hy hom bekeer. Dit is moontlik tydens die duisternis dat vier vroue, naamlik Jesus se moeder en haar suster Salome, Maria Magdalena en Maria, die moeder van die apostel Jakobus die kleine, naby die folterpaal gaan staan. Johannes, Jesus se geliefde apostel, is saam met hulle daar.

      Hoe ‘deurboor’ dit tog die hart van Jesus se moeder terwyl sy toekyk hoe die seun wat sy gesoog en grootgemaak het daar in folterende pyn hang! Tog dink Jesus nie aan sy eie pyn nie maar aan haar welsyn. Met groot inspanning knik hy na Johannes en sê vir sy moeder: “Vrou, dáár is u seun!” Dan knik hy na Maria en sê vir Johannes: “Dáár is jou moeder!”

      Hiermee vertrou Jesus die sorg van sy moeder, wat blykbaar nou ’n weduwee is, toe aan die apostel wat hy besonder liefhet. Hy doen dit omdat Maria se ander seuns tot dusver nog nie getoon het dat hulle in hom glo nie. Sodoende stel hy ’n goeie voorbeeld deur nie net voorsiening te maak vir sy moeder se fisiese behoeftes nie maar ook vir haar geestelike behoeftes.

      Ongeveer drie-uur die middag sê Jesus: “Ek het dors!” Jesus besef dat sy Vader as ’t ware Sy beskerming van hom weggeneem het sodat sy onkreukbaarheid tot die uiterste beproef kan word. Daarom roep hy met ’n groot stem uit: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” Toe sommige van dié wat daar naby staan dit hoor, sê hulle: “Kyk, Hy roep na Elia.” Dadelik hardloop een van hulle, sit ’n spons wat met suur wyn deurweek is op ’n hisopstingel en laat hom drink. Maar ander sê: “Wag, laat ons sien of Elia kom om Hom af te haal.”

      Wanneer Jesus die suur wyn neem, roep hy uit: “Dit is volbring!” Ja, hy het alles gedoen waarvoor sy Vader hom na die aarde toe gestuur het. Heel laaste sê hy: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Jesus vertrou sodoende sy lewenskrag aan God toe in die vertroue dat God dit weer aan hom sal teruggee. Dan buig hy sy hoof en sterf.

      Die oomblik wanneer Jesus sy laaste asem uitblaas, is daar ’n geweldige aardbewing wat die rotse laat skeur. Die aardbewing is so hewig dat die gedenkgrafte buite Jerusalem oopgebreek en lyke uitgeslinger word. Verbygangers, wat die lyke buite sien lê, gaan na die stad en vertel ander daarvan.

      Die groot voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste in God se tempel skei, skeur ook die oomblik dat Jesus sterf van bo tot onder in twee. Hierdie pragtig versierde voorhangsel is blykbaar 18 meter lank en baie swaar! Die verbasende wonderwerk openbaar nie net God se toorn teenoor die moordenaars van Sy Seun nie, maar beteken ook dat Jesus se dood dit nou moontlik maak om in die Allerheiligste, die hemel self, in te gaan.

      Wel, wanneer mense die aardbewing voel en hierdie dinge sien gebeur, word hulle baie bevrees. Die hoofman oor honderd wat verantwoordelik was vir die teregstelling verheerlik God. “Waarlik, Hy was die Seun van God”, sê hy. Hy was waarskynlik by toe Jesus se verklaring dat hy die Seun van God is tydens sy verhoor voor Pilatus bespreek is. En nou is hy oortuig dat Jesus die Seun van God is, ja, dat hy inderdaad die grootste mens is wat nog geleef het.

      Ander is ook oorweldig deur hierdie wonderbaarlike gebeurtenisse, en hulle begin om huis toe te gaan, terwyl hulle op hulle bors slaan as ’n blyk van hulle intense droefheid en skaamte. Baie vroue wat dissipels van Jesus is, is diep getref deur hierdie betekenisvolle gebeure en aanskou hierdie dinge op ’n afstand. Die apostel Johannes is ook daar. Mattheüs 27:45-56; Markus 15:33-41; Lukas 23:44-49; 2:34, 35; Johannes 19:25-30.

      ▪ Waarom kan ’n sonsverduistering nie die oorsaak wees van die duisternis wat drie uur duur nie?

      ▪ Watter goeie voorbeeld stel Jesus kort voor sy dood vir diegene met bejaarde ouers?

      ▪ Wat is die vier laaste dinge wat Jesus sê voordat hy sterf?

      ▪ Wat word deur die aardbewing veroorsaak, en wat beteken dit wanneer die tempel se voorhangsel in twee geskeur word?

      ▪ Watter uitwerking het die wonderwerke op die hoofman oor honderd wat vir die teregstelling verantwoordelik was?

  • Vrydag begrawe—Sondag ’n leë graf
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 127

      Vrydag begrawe—Sondag ’n leë graf

      DIT is nou al laat Vrydagmiddag, en die Sabbat van 15 Nisan sal ná sononder begin. Jesus se dooie liggaam hang slap aan die paal, maar die twee rowers weerskante van hom lewe nog. Vrydagmiddag word die Voorbereiding genoem omdat dit die tyd is wanneer mense maaltye voorberei en enige ander dringende werk klaarmaak wat nie tot ná die Sabbat uitgestel kan word nie.

      Die Sabbat wat binnekort gaan begin, is nie net ’n gewone Sabbat (die sewende dag van die week) nie, maar ook ’n dubbele, of “groot”, Sabbat. Dit word so genoem omdat 15 Nisan, wat die eerste dag van die sewedaagse Fees van die Ongesuurde Brode is (en altyd ’n Sabbat is, ongeag op watter dag van die week dit val), op dieselfde dag as die gewone Sabbat val.

      Volgens God se Wet mag liggame nie oornag aan ’n paal bly hang nie. Daarom vra die Jode Pilatus dat die dood van diegene wat tereggestel word, bespoedig moet word deur hulle bene te breek. Die soldate breek gevolglik die twee rowers se bene. Maar aangesien Jesus klaarblyklik reeds dood is, word sy bene nie gebreek nie. Dit vervul die teks: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”

      Om egter seker te maak dat Jesus werklik dood is, steek een van die soldate ’n spies in sy sy. Die spies deurboor Jesus naby sy hart, en bloed en water stroom onmiddellik uit die wond. Die apostel Johannes, wat ’n ooggetuie is, berig dat dit ’n ander teks vervul: “Hulle sal opsien na die Een wat hulle deurboor het.”—NW.

      Josef van die stad Arimathea, ’n vername lid van die Sanhedrin, is ook by die teregstelling. Hy het geweier om ten gunste van die hoër hof se onregverdige veroordeling van Jesus te stem. Josef is in werklikheid ’n dissipel van Jesus, hoewel hy tot dusver te bang was om homself as een te identifiseer. Nou toon hy egter moed en gaan na Pilatus om vir Jesus se liggaam te vra. Pilatus laat die hoofman oor honderd roep, en nadat die hoofman bevestig het dat Jesus dood is, beveel Pilatus dat die lyk vir Josef gegee moet word.

      Josef neem die liggaam en draai dit in skoon, fyn linne toe ter voorbereiding vir die begrafnis. Hy word deur Nikodemus, ’n ander lid van die Sanhedrin, bygestaan. Nikodemus het ook nie sy geloof in Jesus bely nie omdat hy bang was om sy posisie te verloor. Maar nou bring hy ’n mengsel van mirre en duur aalwee van omtrent 33 kilogram. Jesus se liggaam word in doeke toegedraai wat hierdie speserye bevat, net soos dit die Jode se gewoonte is om liggame vir die begrafnis voor te berei.

      Die liggaam word dan in Josef se nuwe graf neergelê, wat in ’n tuin daar naby in die rots gekap is. Laastens word ’n groot klip voor die graf gerol. Die voorbereiding van die liggaam word baie vinnig gedoen om die begrafnis voor die Sabbat af te handel. Daarom gaan Maria Magdalena en Maria die moeder van Jakobus die kleine, wat moontlik met die voorbereiding gehelp het, vinnig huis toe om nog speserye en salf te berei. Hulle is van plan om Jesus se liggaam ná die Sabbat verder te behandel sodat dit langer behoue sal bly.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel