Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Vrydag begrawe—Sondag ’n leë graf
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Vroeg Sondagoggend bring Maria Magdalena en Maria die moeder van Jakobus saam met Salome, Johanna en ander vroue speserye na die graf om Jesus se liggaam te behandel. Op pad vra hulle vir mekaar: “Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol?” Maar toe hulle daar kom, sien hulle dat ’n aardbewing plaasgevind het en dat Jehovah se engel die steen weggerol het. Die wagte is weg, en die graf is leeg! Mattheüs 27:57–28:2; Markus 15:42–16:4; Lukas 23:50–24:3, 10; Johannes 19:14, 31–20:1; 12:42; Levitikus 23:5-7; Deuteronomium 21:22, 23; Psalm 34:21; Sagaria 12:10.

  • Jesus leef!
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • Hoofstuk 128

      Jesus leef!

      TOE die vroue Jesus se graf leeg aantref, hardloop Maria Magdalena om Petrus en Johannes daarvan te gaan vertel. Maar die ander vroue bly blykbaar by die graf. Kort hierna verskyn ’n engel en nooi hulle in.

      Hier sien die vroue nog ’n engel, en een van die engele sê vir hulle: “Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat [aan ’n paal gehang] is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het; en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode.” Daarom hardloop ook hierdie vroue met vrees en groot blydskap na die dissipels toe.

      Teen hierdie tyd het Maria Petrus en Johannes gevind, en sy sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.” Die twee apostels hardloop dadelik na die graf. Johannes is vinniger—blykbaar omdat hy jonger is—en hy kom eerste by die graf. Teen hierdie tyd is die vroue reeds weg; daarom is daar niemand in die omgewing nie. Johannes buk en kyk by die graf in en sien die doeke, maar hy bly buite.

      Wanneer Petrus daar aankom, huiwer hy nie maar gaan dadelik in. Hy sien die doeke daar lê en hy sien ook die doek waarmee Jesus se kop toegedraai was. Dit lê eenkant opgerol. Johannes gaan nou ook in die graf in, en hy glo wat Maria hulle vertel het. Maar nie Petrus of Johannes besef dat Jesus opgewek is nie, hoewel Hy dikwels vir hulle gesê het dat Hy opgewek sou word. Die twee gaan dronkgeslaan huis toe, maar Maria, wat na die graf teruggekom het, bly daar agter.

      Soos die engele hulle beveel het, haas die ander vroue hulle na die dissipels om hulle te vertel dat Jesus opgewek is. Terwyl hulle so vinnig as hulle kan hardloop, kom Jesus hulle teë en sê: “Wees gegroet!” Hulle val voor sy voete neer en bring hom hulde. Dan sê Jesus: “Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galilea moet gaan; en daar sal hulle My sien.”

      Vroeër, toe die aardbewing plaasgevind en die engele verskyn het, het die wagte hulle lam geskrik en soos dooies geword. Toe hulle tot verhaal kom, het hulle dadelik na die stad gegaan en die owerpriesters vertel wat gebeur het. Ná hulle saam met die “ouderlinge” van die Jode raad gehou het, is daar besluit om die saak te probeer stilhou deur die soldate om te koop. Die soldate is beveel: “Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.”

      Aangesien Romeinse soldate die doodstraf opgelê kan word as hulle op hulle pos aan die slaap raak, het die priesters beloof: “As dit [die feit dat julle aan die slaap geraak het] by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is.” Omdat die omkoopprys groot genoeg was, het die soldate gedoen soos hulle gesê is. Die vals berig dat Jesus se liggaam gesteel is, is gevolglik algemeen onder die Jode versprei.

      Maria Magdalena, wat by die graf agterbly, is oorstelp van droefheid. Waar kon Jesus wees? Toe sy vooroor buk om by die graf in te kyk, sien sy die twee engele met wit klere aan wat weer verskyn het! Die een sit by die hoof en die ander by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. “Vrou, waarom ween jy?” vra hulle.

      “Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie”, antwoord Maria. Dan draai sy om en sien sy iemand wat die vraag herhaal: “Vrou, waarom ween jy?” En hy vra ook: “Wie soek jy?”

      Omdat sy dink dat hy die opsigter is van die tuin waar die graf geleë is, sê sy vir hom: “Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.”

      “Maria!” sê hy. En onmiddellik weet sy, weens die bekende manier waarop hy met haar praat, dat dit Jesus is. “Rabboeni!” (wat Meester beteken) roep sy uit. En met uitbundige vreugde gryp sy hom vas. Maar Jesus sê: “Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”

      Maria hardloop nou na waar die apostels en mededissipels vergader het. Die ander vroue het reeds vertel dat hulle die verrese Jesus gesien het, en Maria vertel nou ook wat sy gesien het. Maar hierdie manne, wat nie die eerste vroue geglo het nie, glo Maria blykbaar ook nie. Mattheüs 28:3-15; Markus 16:5-8; Lukas 24:4-12; Johannes 20:2-18.

      ▪ Wat doen Maria Magdalena toe sy sien dat die graf leeg is, en wat gebeur met die ander vroue?

      ▪ Hoe reageer Petrus en Johannes wanneer hulle sien dat die graf leeg is?

      ▪ Wie kom die ander vroue teë terwyl hulle op pad is om vir die dissipels te vertel dat Jesus opgewek is?

      ▪ Wat het met die wagte gebeur, en hoe het die priesters gereageer op wat die wagte hulle vertel het?

      ▪ Wat gebeur wanneer Maria Magdalena alleen by die graf is, en hoe reageer die dissipels op wat die vroue hulle vertel?

  • Jesus se verdere verskynings
    Die grootste mens wat nog geleef het
    • DIE dissipels is nog altyd mismoedig. Hulle verstaan nie wat die leë graf beteken nie, en hulle glo ook nie wat die vroue hulle vertel het nie. Later dié Sondag vertrek Kleopas en ’n ander dissipel uit Jerusalem na Emmaüs, omtrent elf kilometer daarvandaan.

      Op pad, terwyl hulle die gebeure van die dag bespreek, sluit ’n vreemdeling hom by hulle aan. “Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel?” vra hy.

      Die dissipels gaan staan, hulle gesigte bedruk, en Kleopas antwoord: “Is U alleen ’n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?” Hy vra: “Watter dinge?”

      “Die dinge aangaande Jesus, die Nasarener”, antwoord hulle. “Hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom [aan ’n paal gehang] het. En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos.”

      Kleopas en sy metgesel verduidelik die verstommende gebeure van die dag—die berig oor die bonatuurlike verskyning van engele en die leë graf—maar hulle erken dan dat hulle dronkgeslaan is oor die betekenis van al hierdie dinge. Die vreemdeling wys hulle tereg: “o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” Daarna lê hy vir hulle gedeeltes in die heilige Skrif uit wat op die Christus betrekking het.

      Uiteindelik is hulle naby Emmaüs, en die vreemdeling maak asof hy verder wil gaan. Die dissipels wil meer hoor en dring aan: “Bly by ons, want dit is amper aand.” Hy bly dus vir ’n maaltyd. Terwyl hy ’n gebed doen en die brood breek en vir hulle gee, besef hulle dat hy werklik Jesus in ’n gematerialiseerde menseliggaam is. Maar dan verdwyn hy.

      Nou verstaan hulle waarom die vreemdeling soveel geweet het! “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” vra hulle. Hulle staan dadelik op en haas hulle al die pad terug na Jerusalem toe waar hulle die apostels vind en diegene wat saam met hulle vergader is. Voor Kleopas en sy metgesel iets kan sê, sê die ander opgewonde: “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn!” Toe vertel die twee hoe Jesus ook aan hulle verskyn het. Hy het dus al vier keer gedurende hierdie dag aan verskillende dissipels verskyn.

      Skielik verskyn Jesus ’n vyfde keer. Selfs al is die deure gesluit omdat die dissipels bang is vir die Jode, kom hy in, gaan staan hy tussen hulle en sê: “Vrede vir julle!” Hulle is baie bang, want hulle dink dat hulle ’n gees sien. Jesus verduidelik dus vir hulle dat hy nie ’n gees is nie en sê: “Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ’n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Hulle is nog steeds huiwerig om te glo.

      Om hulle te help besef dat hy werklik Jesus is, vra hy: “Het julle hier iets om te eet?” Nadat hy ’n stuk gebraaide vis geneem en dit geëet het, sê hy: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog [voor my dood] by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die Wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.”

      Jesus hou as ’t ware ’n Bybelstudie met hulle en leer hulle verder: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge.”

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel