-
Handhaaf vrede in julle huisgesinDie geheim van gesinsgeluk
-
-
HOOFSTUK ELF
Handhaaf vrede in julle huisgesin
1. Wat is party dinge wat verdeeldheid in gesinne kan veroorsaak?
GELUKKIG is diegene wat aan ’n gesin behoort waarin daar liefde, begrip en vrede is. Hopelik is julle so ’n gesin. Ongelukkig kom tallose gesinne nie met daardie beskrywing ooreen nie en is hulle om die een of ander rede verdeeld. Wat veroorsaak verdeeldheid in huisgesinne? In hierdie hoofstuk gaan ons drie dinge bespreek. In party gesinne behoort al die lede nie aan dieselfde geloof nie. In ander het die kinders dalk nie dieselfde biologiese ouers nie. In ander weer lyk dit of die stryd om ’n bestaan te maak of die begeerte na meer materiële dinge gesinslede uitmekaardryf. Maar omstandighede wat een huisgesin verdeel, het moontlik nie ’n uitwerking op ’n ander nie. Wat maak die verskil?
2. Waar soek party na leiding in verband met gesinslewe, maar wat is die beste bron van sulke leiding?
2 Sienswyse is een faktor. As jy opreg probeer om die ander persoon se sienswyse te verstaan, sal jy heel waarskynlik kan bepaal hoe om ’n verenigde gesin te behou. ’n Tweede faktor is jou bron van leiding. Baie mense volg die raad van werkmaats, bure, koerantrubriekskrywers of ander raadgewers. Maar sommige het uitgevind wat God se Woord oor hulle situasie sê, en hulle het dan toegepas wat hulle geleer het. Hoe kan dít ’n gesin help om vrede in ’n huisgesin te handhaaf?—2 Timoteus 3:16, 17.
AS JOU MAN ’N ANDER GELOOF HET
Probeer om die ander persoon se sienswyse te verstaan
3. (a) Wat is die Bybel se raad aan diegene wat met iemand van ’n ander geloof wil trou? (b) Wat is ’n paar basiese beginsels wat geld as die een huweliksmaat ’n gelowige is en die ander een nie?
3 Die Bybel vermaan ons ten sterkste om nie met iemand van ’n ander geloof te trou nie (Deuteronomium 7:3, 4; 1 Korintiërs 7:39). Maar jy het dalk ná jou troue die waarheid in die Bybel geleer, hoewel jou man dit nie geleer het nie. Wat dan? Die huweliksgeloftes is natuurlik steeds geldig (1 Korintiërs 7:10). Die Bybel beklemtoon die duursaamheid van die huweliksband en spoor getroude persone aan om hulle verskille uit die weg te ruim pleks van dit te ontwyk (Efesiërs 5:28-31; Titus 2:4, 5). Maar sê nou jou man is hewig daarteen gekant dat jy die godsdiens van die Bybel beoefen? Hy probeer jou dalk keer om gemeentelike vergaderinge by te woon of hy sê dalk dat hy nie wil hê dat sy vrou van huis tot huis moet gaan om oor godsdiens te praat nie. Wat sal jy doen?
4. Op watter manier kan ’n vrou empatie betoon as haar man nie aan dieselfde geloof as sy behoort nie?
4 Vra jou af: ‘Waarom voel my man so?’ (Spreuke 16:20, 23, NW). As hy nie werklik verstaan wat jy doen nie, bekommer hy hom dalk oor jou. Of familielede oefen dalk druk op hom uit omdat jy nie meer aan sekere gebruike deelneem wat vir hulle belangrik is nie. “Ek het verlate gevoel wanneer ek alleen in die huis was”, het een man gesê. Hierdie man het gevoel dat hy sy vrou aan ’n godsdiens afstaan. Maar trots het hom verhinder om te erken dat hy eensaam was. Jou man het dalk die versekering nodig dat jou liefde vir Jehovah nie beteken dat jy hom nou minder liefhet as wat jy hom in die verlede gehad het nie. Maak seker dat jy tyd saam met hom deurbring.
5. Watter balans moet die vrou handhaaf wie se man aan ’n ander geloof behoort?
5 Maar iets selfs belangrikers moet in ag geneem word as jy verstandig in die situasie wil optree. God se Woord spoor vrouens aan: “Wees onderdanig aan julle mans, soos dit betaamlik is in die Here” (Kolossense 3:18). Dit waarsku dus teen ’n gees van onafhanklikheid. Deur te sê “soos dit betaamlik is in die Here”, toon hierdie teks ook dat onderdanigheid aan jou man met inagneming van onderdanigheid aan die Here bewys moet word. Balans moet gehandhaaf word.
6. Watter beginsels moet ’n Christenvrou in gedagte hou?
6 Om gemeentelike vergaderinge by te woon en vir ander aangaande jou Bybelse geloof te getuig, is vir ’n Christen belangrike aspekte van ware aanbidding wat nie nagelaat kan word nie (Romeine 10:9, 10, 14; Hebreërs 10:24, 25). Wat sal jy dus doen as ’n mens jou uitdruklik beveel om ’n spesifieke vereiste van God te verontagsaam? Die apostels van Jesus Christus het gesê: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense” (Handelinge 5:29). Hulle voorbeeld stel ’n presedent wat in baie lewensituasies van toepassing is. Sal liefde vir Jehovah jou beweeg om aan hom die toegewydheid te gee wat hom toekom? Sal jou liefde en respek vir jou man terselfdertyd maak dat jy dit op ’n manier probeer doen wat vir hom aanvaarbaar is?—Matteus 4:10; 1 Johannes 5:3.
7. Wat moet ’n Christenvrou vasbeslote wees om te doen?
7 Jesus het getoon dat dit nie altyd moontlik sal wees nie. Hy het gewaarsku dat teenstand teen ware aanbidding gelowige lede van sommige gesinne afgesny sou laat voel, asof ’n swaard tussen hulle en die res van die gesin gekom het (Matteus 10:34-36). ’n Vrou in Japan het dit ondervind. Haar man het haar 11 jaar lank teëgestaan. Hy het haar wreed mishandel en haar dikwels uitgesluit. Maar sy het volhard. Vriende in die Christengemeente het haar gehelp. Sy het onophoudelik gebid en is grootliks aangemoedig deur 1 Petrus 2:20. Hierdie Christenvrou was daarvan oortuig dat haar man Jehovah eendag saam met haar sou dien as sy standvastig bly. En hy het.
8, 9. Hoe moet ’n vrou optree sodat sy nie onnodige struikelblokke in haar man se weg lê nie?
8 Daar is heelwat praktiese dinge wat jy kan doen om jou huweliksmaat se gesindheid te beïnvloed. As jou man byvoorbeeld teen jou godsdiens beswaar het, moet jy hom nie geldige redes gee om oor ander dinge te kla nie. Hou die huis skoon. Let op jou voorkoms. Betoon oorvloedige liefde en waardering. Ondersteun hom pleks van hom te kritiseer. Toon dat jy op sy hoofskap staatmaak. Moenie in gelyke munt terugbetaal as jy meen dat jy te na gekom is nie (1 Petrus 2:21, 23). Neem menslike onvolmaaktheid in ag, en as ’n geskil ontstaan, moet jy die eerste wees wat nederig verskoning vra.—Efesiërs 4:26.
9 Moenie dat jou vergaderingbywoning ’n rede wees dat sy maaltye laat is nie. Jy sal dalk ook aan die Christelike bediening wil deelneem wanneer jou man nie tuis is nie. Dit is verstandig van ’n Christenvrou om nie vir haar man te preek as hy nie daarvan hou nie. Sy volg eerder die apostel Petrus se raad: “Vrouens, wees . . . onderdanig aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Petrus 3:1, 2). Christenvrouens lê hulle daarop toe om die vrugte van God se gees in groter mate te openbaar.—Galasiërs 5:22, 23.
WANNEER DIE VROU AAN ’N ANDER GELOOF BEHOORT
10. Hoe moet ’n gelowige man teenoor sy vrou optree as sy aan ’n ander geloof behoort?
10 Sê nou die man is ’n ware Christen en die vrou nie? Die Bybel gee riglyne vir sulke situasies. Dit sê: “As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy nietemin bereid is om met hom saam te woon, laat hy haar dan nie verlaat nie” (1 Korintiërs 7:12). Dit vermaan mans ook: “Hou aan om julle vrouens lief te hê.”—Kolossense 3:19.
11. Hoe kan ’n man onderskeidingsvermoë aan die dag lê en op ’n taktvolle wyse hoofskap oor sy vrou uitoefen as sy nie ’n ware Christen is nie?
11 As jy die man is van ’n vrou wie se geloof van joune verskil, moet jy veral nie nalaat om eerbied aan jou vrou te betoon en haar gevoelens in ag te neem nie. As ’n volwassene is sy geregtig op ’n sekere mate van vryheid om haar godsdiens te beoefen, al verskil dit van joune. Die eerste keer wat jy met haar oor jou geloof praat, moet jy nie verwag dat sy lank gehuldigde oortuigings ten gunste van iets nuuts gaan prysgee nie. Pleks van prontuit te sê dat gebruike wat sy en haar familie lank al koester vals is, moet jy geduldig met haar uit die Skrif probeer redeneer. Sy voel dalk verwaarloos as jy baie tyd aan die bedrywighede van die gemeente bestee. Sy staan dalk jou pogings teë om Jehovah te dien, maar miskien probeer sy net sê: “Ek het meer van jou tyd nodig!” Wees geduldig. As jy haar liefdevol in ag neem, kan sy mettertyd gehelp word om ware aanbidding aan te neem.—Kolossense 3:12-14; 1 Petrus 3:8, 9.
DIE OPVOEDING VAN DIE KINDERS
12. Hoe moet skriftuurlike beginsels met die opvoeding van kinders toegepas word, al behoort ’n man en vrou aan verskillende gelowe?
12 In ’n huisgesin wat nie in aanbidding verenig is nie, raak die kinders se godsdiensonderrig soms ’n geskilpunt. Hoe moet skriftuurlike beginsels toegepas word? Die Bybel gee die vader die vernaamste verantwoordelikheid om die kinders te onderrig, maar die moeder speel ook ’n belangrike rol. (Spreuke 1:8; vergelyk Genesis 18:19; Deuteronomium 11:18, 19.) Selfs al aanvaar die vader nie die hoofskap van Christus nie, is hy nog steeds die gesinshoof.
13, 14. Wat kan die vrou doen as die man haar belet om die kinders na Christelike vergaderinge te neem of om met hulle te studeer?
13 Party ongelowige vaders maak nie daarteen beswaar as die moeder die kinders godsdiensonderrig gee nie. Ander doen dit wel. Gestel jou man weier dat jy die kinders na gemeentelike vergaderinge neem of belet jou selfs om die Bybel tuis met hulle te studeer, wat dan? Jy het nou ’n paar verpligtinge wat jy in ewewig moet hou—jou verpligting teenoor Jehovah God, teenoor jou man as jou hoof en teenoor jou geliefde kinders. Hoe kan jy aan almal reg laat geskied?
14 Jy sal dit beslis ’n saak van gebed maak (Filippense 4:6, 7; 1 Johannes 5:14). Maar jy is die een wat uiteindelik moet besluit watter weg jy gaan volg. As jy taktvol voortgaan en duidelik vir jou man toon dat jy nie sy hoofskap betwis nie, sal sy teenstand dalk uiteindelik afneem. Selfs al belet jou man jou om jou kinders vergaderinge toe te neem of om ’n formele Bybelstudie met hulle te hou, kan jy hulle nog steeds leer. Probeer om deur jou daaglikse gesprekke en jou goeie voorbeeld ’n mate van liefde vir Jehovah by hulle in te skerp, asook geloof in sy Woord, respek vir ouers—onder andere vir hulle vader—liefdevolle besorgdheid oor ander mense en waardering vir goeie werkgewoontes. Die vader sal dalk mettertyd die goeie resultate opmerk en die waarde van jou pogings waardeer.—Spreuke 23:24.
15. Wat is ’n gelowige vader se verantwoordelikheid wat die opvoeding van sy kinders betref?
15 As jy ’n gelowige man is en jou vrou nie ’n gelowige is nie, rus die verantwoordelikheid op jou om jou kinders “in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Terwyl jy dit doen, moet jy natuurlik op ’n vriendelike, liefdevolle en redelike wyse met jou vrou handel.
AS JOU GELOOF NIE DIESELFDE AS JOU OUERS S’N IS NIE
16, 17. Watter Bybelbeginsels moet kinders onthou as hulle ’n geloof aanneem wat van hulle ouers s’n verskil?
16 Dit is nie meer iets ongewoons dat selfs minderjarige kinders godsdiensbeskouings huldig wat van dié van hulle ouers verskil nie. Is dit in jou geval waar? Indien wel, het die Bybel raad vir jou.
17 God se Woord sê: “Wees gehoorsaam aan julle ouers in eenheid met die Here, want dít is regverdig: ‘Eer jou vader en jou moeder’” (Efesiërs 6:1, 2). Dit sluit heilsame respek vir ouers in. Maar hoewel gehoorsaamheid aan ouers belangrik is, moet dit nie sonder inagneming van die ware God betoon word nie. Wanneer ’n kind oud genoeg is om sy eie besluite te begin neem, dra hy ’n groter mate van verantwoordelikheid vir sy dade. Dit is nie net waar wat sekulêre wette betref nie, maar veral met betrekking tot God se wette. ‘Elkeen van ons sal vir homself aan God rekenskap gee’, sê die Bybel.—Romeine 14:12.
18, 19. Hoe kan kinders hulle ouers help om hulle geloof beter te verstaan as hulle ’n ander geloof as hulle ouers het?
18 As jy vanweë jou oortuigings veranderinge in jou lewe aanbring, moet jy jou ouers se sienswyse probeer verstaan. Hulle sal waarskynlik bly wees as jy, weens die Bybelleringe wat jy leer en toepas, eerbiediger, gehoorsamer en pligsgetrouer word wanneer hulle jou vra om iets te doen. Maar as jou nuwe geloof ook tot gevolg het dat jy oortuigings en gebruike verwerp wat hulle persoonlik koester, sal hulle dalk meen dat jy ’n erfenis verag wat hulle jou probeer gee het. Hulle is dalk ook oor jou welsyn bekommerd as dít wat jy doen nie in die gemeenskap gewild is nie of as dit jou aandag aftrek van strewes wat hulle meen jou kan help om materiële vooruitgang te maak. Trots kan ook ’n hindernis wees. Hulle voel dalk dat jy as ’t ware sê dat jy reg en hulle verkeerd is.
19 Probeer dus so gou moontlik reël dat jou ouers party van die ouer manne of ander ervare Getuies van die plaaslike gemeente ontmoet. Moedig jou ouers aan om na ’n Koninkryksaal te gaan om self te hoor wat bespreek word en persoonlik te sien watter soort mense Jehovah se Getuies is. Jou ouers se gesindheid sal dalk mettertyd versag. Selfs wanneer ouers hulle kinders kwaai teëstaan, Bybellektuur vernietig en die kinders verbied om Christelike vergaderinge by te woon, is daar gewoonlik geleenthede om êrens anders te lees, met mede-Christene te praat en op informele wyse vir ander te getuig en hulle te help. Jy kan ook tot Jehovah bid. Party jongmense moet dalk wag totdat hulle oud genoeg is om die huis te verlaat voordat hulle meer kan doen. Maar ongeag wat die situasie in die huis is, jy moet nie vergeet om ‘jou vader en jou moeder te eer’ nie. Dra jou deel by om die vrede in die huis te bewaar (Romeine 12:17, 18). Streef bowenal vrede met God na.
DIE UITDAGING OM ’N STIEFOUER TE WEES
20. Watter gevoelens kan kinders dalk ondervind as hulle vader of moeder ’n stiefouer is?
20 In baie huise is die situasie wat die grootste uitdaging bied nie godsdienstig van aard nie maar biologies. In baie huisgesinne is daar vandag kinders uit vorige huwelike van een of albei die ouers. In so ’n gesin ondervind kinders dalk jaloesie en gegriefdheid of miskien botsende lojaliteite. Gevolglik verwerp hulle dalk die stiefouer se opregte pogings om ’n goeie vader of moeder te wees. Wat kan tot die sukses van ’n stiefgesin bydra?
Vertrou op die Bybel vir leiding, hetsy jy ’n biologiese ouer of ’n stiefouer is
21. Waarom moet stiefouers, ten spyte van hulle spesiale omstandighede, hulle tot beginsels in die Bybel wend om hulp?
21 Ten spyte van die spesiale omstandighede moet julle besef dat Bybelbeginsels wat tot sukses in ander huisgesinne lei ook hier van toepassing is. As julle daardie beginsels ignoreer, mag dit lyk of ’n probleem voorlopig opgelos is, maar dit sal waarskynlik later tot hartseer lei (Psalm 127:1; Spreuke 29:15). Verkry wysheid en onderskeidingsvermoë—wysheid om godvrugtige beginsels toe te pas met langtermynvoordele in gedagte en onderskeidingsvermoë om vas te stel waarom gesinslede sekere dinge sê en doen. Dit is ook noodsaaklik om empatie te betoon.—Spreuke 16:21; 24:3, NW; 1 Petrus 3:8.
22. Waarom vind kinders dit dalk moeilik om ’n stiefouer te aanvaar?
22 As jy ’n stiefouer is, onthou jy dalk dat jy as ’n vriend van die gesin moontlik deur die kinders verwelkom is. Maar toe jy hulle stiefouer geword het, het hulle gesindheid dalk verander. Omdat die kinders die biologiese ouer onthou wat nie meer by hulle woon nie, voer hulle dalk ’n stryd teen botsende lojaliteite en meen hulle moontlik dat jy hulle liefde vir die ouer wat weg is, wil hê. Hulle sal jou dalk soms prontuit daaraan herinner dat jy nie hulle vader of hulle moeder is nie. Sulke woorde maak seer. Maar “wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie” (Prediker 7:9). Jy het onderskeidingsvermoë en empatie nodig sodat die kinders se emosies jou nie onderkry nie.
23. Hoe kan dissipline in ’n gesin met stiefkinders uitgeoefen word?
23 Daardie eienskappe is uiters belangrik wanneer jy dissipline uitoefen. Konsekwente dissipline is noodsaaklik (Spreuke 6:20; 13:1, NW). En aangesien kinders nie almal dieselfde is nie, kan dissipline van een geval na die ander verskil. Party stiefouers vind dat dit dalk beter is as die biologiese ouer ten minste aan die begin hierdie aspek van ouerlike opvoeding behartig. Dit is egter belangrik dat albei ouers oor die dissipline saamstem en dit handhaaf en dat hulle nie hulle eie kind bo ’n stiefkind begunstig nie (Spreuke 24:23). Gehoorsaamheid is belangrik, maar neem hulle onvolmaaktheid in ag. Moenie oorreageer nie. Dissiplineer in liefde.—Kolossense 3:21.
24. Wat kan help om sedelike probleme tussen lede van albei geslagte in ’n stiefgesin te voorkom?
24 Gesinsbesprekings kan baie daartoe bydra om moeilikheid te voorkom. Dit kan die gesin help om hulle aandag op die belangrikste sake in die lewe gevestig te hou. (Vergelyk Filippense 1:9-11.) Dit kan ook elkeen help om te sien watter bydrae hy of sy kan lewer om gesinsdoelwitte te bereik. Daarbenewens kan openhartige gesinsbesprekings sedelike probleme voorkom. Meisies moet verstaan watter klere en gedrag gepas is wanneer hulle saam met hulle stiefvader en enige stiefbroers is, en seuns het raad nodig oor wat gepaste gedrag teenoor hulle stiefmoeder en enige stiefsusters is.—1 Tessalonisense 4:3-8.
25. Watter eienskappe kan help om vrede in ’n stiefgesin te bewaar?
25 Wees geduldig terwyl jy die spesiale uitdaging om ’n stiefouer te wees die hoof probeer bied. Dit verg tyd om nuwe verhoudings te ontwikkel. Dit kan ’n ontsaglike taak wees om kinders se liefde en respek te wen as daar geen biologiese band tussen jou en hulle is nie. Maar dit is moontlik. ’n Verstandige en opmerksame hart, tesame met ’n sterk begeerte om Jehovah te behaag, is die sleutel tot vrede in ’n stiefgesin (Spreuke 16:20, NW). Hierdie eienskappe kan jou ook help om ander situasies die hoof te bied.
WORD JULLE HUIS DEUR MATERIËLE STREWES VERDEEL?
26. Op watter maniere kan probleme en gesindhede ten opsigte van materiële dinge ’n gesin verdeel?
26 Probleme en gesindhede ten opsigte van materiële dinge kan gesinne op baie maniere verdeel. Ongelukkig word sommige gesinne ontwrig omdat hulle oor geld stry en graag ryk wil wees—of ten minste ’n bietjie ryker. Verdeeldheid kan ontstaan wanneer albei huweliksmaats sekulêre werk doen en die gesindheid ontwikkel dat dit “my geld en jou geld” is. Selfs as daar nie gestry word nie, vind huweliksmaats, as hulle albei werk, dat hulle ’n roetine het wat hulle met min tyd vir mekaar laat. ’n Toenemende neiging in die wêreld is dat vaders lang tye—maande of selfs jare—van hulle gesinne af weg is om meer geld te verdien as wat hulle ooit tuis sou verdien. Dit kan tot baie ernstige probleme lei.
27. Wat is party beginsels wat ’n gesin kan help wat onder finansiële druk verkeer?
27 Geen reëls kan neergelê word oor hoe hierdie situasies hanteer moet word nie, aangesien die druk wat gesinne ervaar en hulle behoeftes verskil. Maar Bybelraad kan help. Spreuke 13:10 sê byvoorbeeld dat ’n onnodige stryd soms vermy kan word deur ‘saam te beraadslaag’ (NW). Dit behels nie net dat jy jou eie menings lug nie, maar dat jy raad vra en uitvind hoe die ander persoon ’n saak beskou. Daarbenewens kan dit help om gesinspogings te verenig as ’n realistiese begroting uitgewerk word. Soms is dit nodig—miskien tydelik—dat albei huweliksmaats sekulêre werk doen om bykomende onkoste te dek, veral wanneer daar kinders of ander afhanklikes is. Wanneer dít die geval is, kan die man sy vrou verseker dat hy steeds tyd vir haar het. Hy en die kinders kan op liefdevolle wyse help met van die werk wat sy dalk gewoonlik alleen doen.—Filippense 2:1-4.
28. Watter vermanings sal ’n gesin help om hulle vir vrede te beywer indien hulle daarop ag slaan?
28 Hou egter in gedagte dat geld nie geluk meebring nie, al is dit ’n noodsaaklikheid in hierdie stelsel van dinge. Dit het beslis nie die lewe tot gevolg nie (Prediker 7:12). Trouens, as materiële dinge oorbeklemtoon word, kan dit tot geestelike en sedelike ondergang lei (1 Timoteus 6:9-12). Hoeveel beter is dit tog om God se Koninkryk en sy regverdigheid eerste te stel, met die versekering dat hy ons pogings sal seën om ons lewensbenodigdhede te verkry! (Matteus 6:25-33; Hebreërs 13:5). As jy geestelike belange eerste stel en ten eerste vrede met God nastreef, sal jy dalk vind dat jou huisgesin, hoewel dit miskien deur sekere omstandighede verdeeld is, op die belangrikste maniere ’n waarlik verenigde gesin sal word.
-
-
Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokkenDie geheim van gesinsgeluk
-
-
HOOFSTUK TWAALF
Jy kan probleme te bowe kom wat ’n gesin skade berokken
1. Watter verborge probleme bestaan daar in party gesinne?
DIE ou motor is so pas gewas en gepolitoer. Vir verbygangers lyk dit blink, amper nuut. Maar onder die oppervlak is vernietigende roes besig om die bakwerk van die voertuig weg te vreet. Dit is dieselfde met party gesinne. Hoewel alles op die oog af goed lyk, verberg glimlaggende gesigte vrees en pyn. Agter geslote deure is vernietigende elemente besig om die gesinsvrede te ondermyn. Alkoholisme en geweld is twee probleme wat hierdie uitwerking op ’n gesin kan hê.
DIE SKADE WAT DEUR ALKOHOLISME VEROORSAAK WORD
2. (a) Wat is die Bybel se beskouing oor die gebruik van alkohol? (b) Wat is alkoholisme?
2 Die Bybel veroordeel nie die matige gebruik van alkohol nie, maar dit veroordeel wel dronkenskap (Spreuke 23:20, 21; 1 Korintiërs 6:9, 10; 1 Timoteus 5:23; Titus 2:2, 3). Alkoholisme behels egter meer as dronkenskap; dit is ’n chroniese beheptheid met alkohol en ’n gebrek aan selfbeheersing wat die gebruik daarvan betref. Alkoholiste kan volwassenes wees. Hulle kan ongelukkig ook jongmense wees.
3, 4. Verduidelik watter uitwerking alkoholisme op die alkoholis se huweliksmaat en op die kinders het.
3 Die Bybel het lank gelede reeds getoon dat alkoholmisbruik gesinsvrede kan ontwrig (Deuteronomium 21:18-21). Die vernietigende uitwerking van alkoholisme raak die hele gesin. Die vrou doen moontlik alles in haar vermoë om die alkoholis se drinkery te keer of om sy onvoorspelbare gedrag te verduur.a Sy probeer die drank wegsteek, dit weggooi, sy geld wegsteek en ’n beroep doen op sy liefde vir die gesin, vir die lewe, selfs vir God—maar die alkoholis drink steeds. Namate haar pogings om sy drinkery te beheer herhaaldelik faal, voel sy gefrustreerd en onbevoeg om te help. Sy begin dalk ly as gevolg van vrees, woede, skuldgevoelens, senuweeagtigheid, bekommernis en ’n gebrek aan selfrespek.
4 Kinders spring nie die gevolge van ’n ouer se alkoholisme vry nie. Party word fisies aangerand. Ander word seksueel gemolesteer. Hulle blameer hulleself dalk vir ’n ouer se alkoholisme. Hulle vermoë om ander te vertrou, word dikwels verpletter deur die alkoholis se inkonsekwente gedrag. Omdat die kinders nie maklik kan praat oor wat by die huis gebeur nie, leer hulle dalk om hulle gevoelens te onderdruk, dikwels met nadelige fisiese gevolge (Spreuke 17:22). Sulke kinders sal dalk selfs as volwassenes hierdie gebrek aan selfvertroue of selfrespek hê.
WAT KAN DIE GESIN DOEN?
5. Hoe kan alkoholisme hanteer word, en waarom is dit moeilik?
5 Hoewel baie gesaghebbendes sê dat alkoholisme nie genees kan word nie, stem die meeste saam dat ’n mate van herstel moontlik is deur ’n program van geheelonthouding te volg. (Vergelyk Matteus 5:29.) Maar om ’n alkoholis te oorreed om hulp te aanvaar, is makliker gesê as gedaan, aangesien hy gewoonlik ontken dat hy ’n probleem het. Wanneer gesinslede egter iets doen aan die uitwerking wat die alkoholisme op húlle gehad het, sal die alkoholis dalk begin besef dat hy ’n probleem het. ’n Geneesheer wat al baie alkoholiste en hulle gesinne gehelp het, het gesê: “Ek dink die belangrikste ding is dat die gesin eenvoudig op die bes moontlike manier met hulle lewe voortgaan. Die alkoholis kom al hoe meer voor die feit te staan dat daar ’n groot kontras tussen hom en die res van die gesin bestaan.”
6. Wat is die beste bron van raad vir gesinne waar ’n gesinslid ’n alkoholis is?
6 As daar ’n alkoholis in julle gesin is, kan die Bybel se geïnspireerde raad julle help om op die bes moontlike manier te lewe (Jesaja 48:17; 2 Timoteus 3:16, 17). Beskou ’n paar beginsels wat gesinne gehelp het om teen alkoholisme opgewasse te wees.
7. Wie is daarvoor verantwoordelik as ’n gesinslid ’n alkoholis is?
7 Hou op om al die skuld te dra. Die Bybel sê: “Elkeen sal sy eie vrag dra”, en dat ‘elkeen van ons vir homself aan God rekenskap sal gee’ (Galasiërs 6:5; Romeine 14:12). Die alkoholis probeer dalk sê dat gesinslede die oorsaak van sy probleem is. Hy sê dalk byvoorbeeld: “As julle my beter behandel het, sou ek nie drink nie.” As dit lyk of ander met hom saamstem, moedig hulle hom net aan om verder te drink. Maar al is ons die slagoffers van omstandighede of van ander mense, is ons almal—ook alkoholiste—aanspreeklik vir ons dade.—Vergelyk Filippense 2:12.
8. Wat is party maniere waarop die alkoholis gehelp kan word om die gevolge van sy probleem te dra?
8 Moenie dink dat jy die alkoholis altyd teen die gevolge van sy drinkery moet beskerm nie. ’n Bybelspreuk oor iemand wat woedend is, kan ewe goed op die alkoholis van toepassing wees: “As jy hom een keer help, sal jy dit elke keer weer moet doen” (Spreuke 19:19, NAV). Laat die alkoholis die gevolge van sy drinkery dra. Laat hom skoonmaak waar hy gemors het of sy werkgewer bel die oggend ná sy drinkery.
Christen- ouer manne kan ’n groot bron van hulp wees om gesinsprobleme op te los
9, 10. Waarom moet die gesinne van alkoholiste hulp aanvaar, en wie se hulp moet hulle in die besonder vra?
9 Aanvaar hulp van ander. Spreuke 17:17 sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (NW). Wanneer daar ’n alkoholis in julle gesin is, is daar beslis benoudheid. Julle het hulp nodig. Moenie huiwer om op ‘ware metgeselle’ vir ondersteuning te vertrou nie (Spreuke 18:24). As jy met ander praat wat die probleem verstaan of wat al voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom het, kan hulle jou dalk praktiese wenke gee oor wat om te doen en wat om nie te doen nie. Maar handhaaf jou balans. Praat met diegene wat jy vertrou, diegene wat jou “geheim” sal bewaar.—Spreuke 11:13.
10 Leer om Christen- ouer manne te vertrou. Die ouer manne in die Christengemeente kan ’n groot bron van hulp wees. Hierdie ervare manne is vertroud met God se Woord en beskik oor die ondervinding om die beginsels daarin toe te pas. Hulle kan “wees soos ’n toevlug teen die wind en ’n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in ’n dor streek, soos die skaduwee van ’n swaar rots in ’n land wat versmag” (Jesaja 32:2). Christen- ouer manne beskerm nie net die gemeente as ’n geheel teen skadelike invloede nie, maar hulle vertroos, verkwik en toon persoonlike belangstelling in persone wat probleme het. Maak ten volle van hulle hulp gebruik.
11, 12. Wie voorsien die grootste hulp aan gesinne van alkoholiste, en hoe word daardie ondersteuning gebied?
11 Vertrou bowenal op Jehovah vir krag. Die Bybel gee ons hierdie hartverblydende versekering: “Die HERE is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees” (Psalm 34:19). As jy gebroke van hart of verslae van gees voel weens die druk om saam met ’n gesinslid te lewe wat ’n alkoholis is, moet jy onthou dat ‘Jehovah naby is’. Hy verstaan hoe moeilik jou gesinsomstandighede is.—1 Petrus 5:6, 7.
12 As jy glo wat Jehovah in sy Woord sê, kan dit jou help om jou sorge die hoof te bied (Psalm 130:3, 4; Matteus 6:25-34; 1 Johannes 3:19, 20). As jy God se Woord bestudeer en volgens die beginsels daarin lewe, stel dit jou in staat om die hulp van God se heilige gees te ontvang, wat jou kan toerus met “krag wat bo die normale is” om van dag tot dag voort te gaan.—2 Korintiërs 4:7.b
13. Wat is ’n tweede probleem wat baie gesinne skade berokken?
13 Die misbruik van alkohol kan tot nog ’n probleem lei wat baie gesinne skade berokken—gesinsgeweld.
SKADE WAT DEUR GESINSGEWELD VEROORSAAK WORD
14. Wanneer het gesinsgeweld begin, en wat is vandag die toedrag van sake?
14 Die eerste daad van geweld in die mensegeskiedenis was ’n geval van gesinsgeweld waarby twee broers, Kain en Abel, betrokke was (Genesis 4:8). Van toe af is die mensdom met allerhande vorme van gesinsgeweld geteister. Daar is mans wat hulle vrouens slaan, vrouens wat hulle mans aanval, ouers wat hulle kindertjies wreed slaan en volwasse kinders wat hulle bejaarde ouers mishandel.
15. Watter emosionele uitwerking het gesinsgeweld op gesinslede?
15 Die skade wat deur gesinsgeweld veroorsaak word, sluit baie meer as net die liggaamlike littekens in. Een mishandelde vrou het gesê: “Jy voel ontsettend skuldig en skaam. Die meeste oggende wil jy net in die bed bly, en jy hoop dat dit bloot ’n slegte droom was.” Kinders wat gesinsgeweld sien of ondervind, sal moontlik self gewelddadig wees wanneer hulle grootword en hulle eie gesin het.
16, 17. Wat is emosionele mishandeling, en watter uitwerking het dit op gesinslede?
16 Gesinsgeweld is nie net tot fisiese mishandeling beperk nie. Die aanval bestaan dikwels uit woorde. Spreuke 12:18 sê: “Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke.” Hierdie “swaardsteke”, wat ’n kenmerk van gesinsgeweld is, sluit in uitskellery en skreeuery, asook aanhoudende kritiek, vernederende beledigings en dreigemente van fisiese geweld. Die wonde van emosionele geweld is onsigbaar en ander sien dit dikwels nie.
17 Dit is veral ’n hartseer situasie as ’n kind emosioneel afgetakel word—die voortdurende kritisering en verkleinering van ’n kind se vermoëns, intelligensie of waarde as persoon. Sulke skeltaal kan die gees van ’n kind vernietig. Alle kinders het weliswaar dissipline nodig. Maar die Bybel vermaan vaders: “Moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.”—Kolossense 3:21.
HOE GESINSGEWELD VERMY KAN WORD
Christenhuweliksmaats wat mekaar liefhet en respekteer, sal gou optree om probleme uit die weg te ruim
18. Waar ontstaan gesinsgeweld, en wat is volgens die Bybel die manier om dit te beëindig?
18 Gesinsgeweld ontstaan in die hart en verstand; die manier waarop ons optree, spruit uit ons denkwyse voort (Jakobus 1:14, 15). Om ’n einde aan die geweld te maak, moet die persoon wat sy gesin mishandel sy denkwyse verander (Romeine 12:2). Is dit moontlik? Ja. God se Woord het die krag om mense te verander. Dit kan selfs “sterk verskanste” afbrekende sienswyses uitroei (2 Korintiërs 10:4; Hebreërs 4:12). Juiste kennis van die Bybel kan help om so ’n algehele verandering in mense teweeg te bring dat daar van hulle gesê kan word dat hulle hulle met ’n nuwe persoonlikheid beklee.—Efesiërs 4:22-24; Kolossense 3:8-10.
19. Hoe moet ’n Christen sy of haar huweliksmaat beskou en behandel?
19 Jou beskouing van jou huweliksmaat. God se Woord sê: “Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief” (Efesiërs 5:28). Die Bybel sê ook dat ’n man aan sy vrou ‘eer moet toeken as ’n swakker vat’ (1 Petrus 3:7). Vrouens word vermaan “om hulle mans lief te hê” en “diep respek” vir hulle te hê (Titus 2:4; Efesiërs 5:33). ’n Godvresende man kan nouliks in alle eerlikheid sê dat hy sy vrou werklik eer as hy haar fisies of met woorde aanval. En geen vrou wat op haar man skreeu, op sarkastiese wyse met hom praat of hom gedurig uitskel, kan sê dat sy hom waarlik liefhet en respekteer nie.
20. Voor wie is ouers vir hulle kinders verantwoordelik, en waarom moet ouers nie onrealistiese verwagtinge van hulle kinders koester nie?
20 Die regte beskouing van kinders. Kinders verdien hulle ouers se liefde en aandag—ja, hulle het dit nodig. God se Woord noem kinders “’n erfdeel van die HERE” en “’n beloning” (Psalm 127:3). Ouers is voor Jehovah verantwoordelik om na hierdie erfdeel om te sien. Die Bybel praat van “die eienskappe van ’n klein kindjie” en die “dwaasheid” van die kinderdae (1 Korintiërs 13:11; Spreuke 22:15, NW). Ouers moenie verbaas wees as hulle dwaasheid in hulle kinders opmerk nie. Kinders is nie volwassenes nie. Ouers moenie meer van hulle kind vereis as wat hulle ouderdom, familieagtergrond en vermoë toelaat nie.—Sien Genesis 33:12-14.
21. Wat is die godvrugtige manier waarop bejaarde ouers beskou en behandel moet word?
21 Jou beskouing van bejaarde ouers. Levitikus 19:32 sê: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer.” God se Wet het mense dus aangemoedig om respek en hoë agting vir bejaardes te hê. Dit bied dalk ’n uitdaging wanneer dit lyk asof ’n bejaarde ouer te veeleisend is of wanneer hy of sy siek is en moontlik nie vinnig beweeg of dink nie. Kinders word nogtans daaraan herinner om “’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers . . . te bly betaal” (1 Timoteus 5:4). Dit sal beteken dat jy hulle met waardigheid en respek sal behandel en miskien selfs finansieel na hulle sal omsien. As ons ons bejaarde ouers fisies of andersins mishandel, is dit lynreg in stryd met wat die Bybel sê ons moet doen.
22. Wat is ’n noodsaaklike eienskap om gesinsgeweld te vermy, en hoe kan dit beoefen word?
22 Kweek selfbeheersing aan. Spreuke 29:11 sê: “’n Dwaas laat al sy toorn uitvaar, maar ’n wyse bring dit eindelik tot bedaring.” Hoe kan jy jou gees beheers? Pleks van frustrasie in jou te laat opbou, moet jy vinnig optree om probleme wat ontstaan uit die weg te ruim (Efesiërs 4:26, 27). Loop maar liewer as jy voel dat jy jou selfbeheersing begin verloor. Vra God se heilige gees om selfbeheersing in jou voort te bring (Galasiërs 5:22, 23). As jy ’n entjie gaan stap of die een of ander liggaamlike oefening doen, kan dit jou help om jou emosies in toom te hou (Spreuke 17:14, 27, NW). Probeer om ‘lankmoedig’ te wees.—Spreuke 14:29.
MOET ONS SKEI OF BYMEKAAR BLY?
23. Wat kan gebeur as ’n lid van die Christengemeente herhaaldelik en onberouvol aan gewelddadige vlae van toorn toegee, onder andere miskien fisiese mishandeling van sy gesin?
23 Onder die werke wat deur God veroordeel word, noem die Bybel “vyandskappe, twis, . . . vlae van toorn” en sê dat “dié wat sulke dinge beoefen God se koninkryk nie sal beërf nie” (Galasiërs 5:19-21). Enigiemand wat dus sê dat hy ’n Christen is maar herhaaldelik en onberouvol aan gewelddadige vlae van toorn toegee, onder andere miskien fisiese mishandeling van sy vrou en kinders, kan uit die Christengemeente gesit word. (Vergelyk 2 Johannes 9, 10.) Sodoende word die gemeente rein gehou van mense wat hulle gesinne mishandel.—1 Korintiërs 5:6, 7; Galasiërs 5:9.
24. (a) Wat besluit huweliksmaats wat mishandel word dalk om te doen? (b) Hoe kan besorgde vriende en ouer manne iemand wat mishandel word, ondersteun, maar wat moet hulle nie doen nie?
24 Wat van Christene wat tans deur ’n huweliksmaat mishandel word wat geen tekens van verandering toon nie? Party het om die een of ander rede besluit om by die huweliksmaat te bly wat hulle mishandel. Ander het besluit om hulle huweliksmaat te verlaat, aangesien hulle meen dat hulle fisiese, geestes- en geestelike gesondheid—moontlik selfs hulle lewe—in gevaar is. Wat ’n slagoffer van gesinsgeweld besluit om in hierdie omstandighede te doen, is ’n persoonlike besluit voor Jehovah (1 Korintiërs 7:10, 11). Welmenende vriende, familielede of Christen- ouer manne wil dalk graag hulp en raad gee, maar hulle moet nie druk op ’n slagoffer uitoefen om op ’n spesifieke manier op te tree nie. Dit is ’n besluit wat hy of sy self moet neem.—Romeine 14:4; Galasiërs 6:5.
SKADELIKE PROBLEME KOM TOT ’N EINDE
25. Wat is Jehovah se voorneme vir die gesin?
25 Toe Jehovah Adam en Eva in die huwelik verbind het, was dit nooit sy voorneme dat gesinne deur skadelike probleme soos alkoholisme of geweld ondermyn moes word nie (Efesiërs 3:14, 15). Die gesin moes ’n plek wees waar liefde en vrede sou floreer en waar daar in elke gesinslid se verstandelike, emosionele en geestelike behoeftes voorsien sou word. Maar ná die ontstaan van sonde het gesinslewe vinnig agteruitgegaan.—Vergelyk Prediker 8:9.
26. Watter toekoms is daar vir diegene wat in ooreenstemming met Jehovah se vereistes probeer lewe?
26 Gelukkig het Jehovah nie sy voorneme vir die gesin laat vaar nie. Hy belowe dat hy ’n vreedsame nuwe wêreld gaan inlei waarin mense “veilig [sal] woon sonder dat iemand hulle verskrik” (Esegiël 34:28). Dan sal alkoholisme, gesinsgeweld en al die ander probleme wat hedendaagse gesinne skade berokken tot die verlede behoort. Mense sal glimlag, nie om vrees en pyn te verberg nie, maar omdat hulle hulle “verlustig oor groot vrede”.—Psalm 37:11.
a Hoewel ons na die alkoholis verwys as ’n man, is die beginsels hierin ook van toepassing as die alkoholis ’n vrou is.
b In party lande is daar sentrums vir behandeling, hospitale en herstelprogramme wat daarin spesialiseer om alkoholiste en hulle gesinne te help. Of jy van hierdie hulp gebruik maak of nie is ’n persoonlike keuse. Die Wagtoringgenootskap staan nie enige besondere behandeling voor nie. Wanneer ’n mens hulp soek, moet jy egter versigtig wees dat jy nie by bedrywighede betrokke raak wat jou skriftuurlike beginsels in gevaar kan stel nie.
-
-
Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkelDie geheim van gesinsgeluk
-
-
HOOFSTUK DERTIEN
Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
1, 2. Watter vraag moet ’n mens jou afvra wanneer daar spanning in ’n huwelik is?
IN 1988 het ’n Italiaanse vrou met die naam Lucia baie terneergedruk gevoel.a Ná tien jaar was haar huwelik besig om te verbrokkel. Sy het baie keer ’n versoening met haar man probeer bewerkstellig, maar dit het eenvoudig nie geslaag nie. Weens hulle onaanpasbaarheid het sy hom dus verlaat, en nou het sy die verantwoordelikheid gehad om twee dogters op haar eie groot te maak. Wanneer Lucia aan daardie tyd terugdink, sê sy: “Ek was daarvan oortuig dat niks ons huwelik kon red nie.”
2 As jy huweliksprobleme het, sal jy jou moontlik in Lucia se posisie kan indink. Jy ondervind moontlik probleme in jou huwelik, en jy wonder dalk of dit nog gered kan word. As dit die geval is, sal dit nuttig wees as jy oor hierdie vraag nadink: Het ek ál die goeie raad gevolg wat God in die Bybel gegee het om die huwelik te laat slaag?—Psalm 119:105.
3. Watter reaksie word na berig onder baie geskeide mense en hulle families gevind, al het egskeidings gewild geraak?
3 Wanneer die spanning tussen die man en vrou hoog loop, lyk dit dalk of die ontbinding van die huwelik die maklikste uitweg is. Maar hoewel baie lande ’n skokkende toename in gebroke gesinne ondervind het, toon onlangse studies dat ’n groot persentasie van geskeide mans en vrouens spyt is dat hulle geskei het. ’n Aantal het meer gesondheidsprobleme, fisies sowel as verstandelik, as diegene wat getroud bly. Die verwarring en ongelukkigheid wat kinders weens ’n egskeiding ervaar, duur dikwels jare lank voort. Ouers en vriende van die gebroke gesin ly ook. En hoe beskou God, die Insteller van die huwelik, die situasie?
4. Hoe moet probleme in ’n huwelik hanteer word?
4 Soos daar in vorige hoofstukke getoon is, is dit God se voorneme dat die huwelik ’n lewenslange band moet wees (Genesis 2:24). Waarom verbrokkel soveel huwelike dan? Dit gebeur nie oornag nie. Daar is gewoonlik waarskuwingstekens. Kleinerige probleme in ’n huwelik kan al hoe groter word totdat dit na onoorkomelike probleme lyk. Maar as daar onmiddellik met behulp van die Bybel van hierdie probleme werk gemaak word, kan baie gebroke huwelike vermy word.
WEES REALISTIES
5. Watter realistiese situasie moet in enige huwelik onder die oë gesien word?
5 ’n Faktor wat soms tot probleme lei, is die onrealistiese verwagtinge wat een of albei huweliksmaats dalk koester. Liefdesverhale, gewilde tydskrifte, televisieprogramme en rolprente kan verwagtinge en drome skep wat geheel en al in stryd met die werklike lewe is. Wanneer hierdie drome nie verwesenlik word nie, kan ’n mens bedrieg, ontevrede, selfs bitter, voel. Maar hoe kan twee onvolmaakte mense geluk in die huwelik vind? Dit verg inspanning om ’n suksesvolle verhouding op te bou.
6. (a) Watter gebalanseerde beskouing van die huwelik vind ons in die Bybel? (b) Wat is ’n paar redes waarom daar verskille in die huwelik is?
6 Die Bybel is prakties. Dit erken die vreugdes wat die huwelik meebring, maar dit waarsku ook dat diegene wat trou “verdrukking in hulle vlees [sal] hê” (1 Korintiërs 7:28). Soos reeds gesê is, is albei huweliksmaats onvolmaak en geneig tot sonde. Die geestes- en emosionele gesteldheid en opvoeding van elke huweliksmaat verskil. Egpare verskil soms oor geld, kinders en skoonfamilie. Te min tyd om dinge saam te doen en seksuele probleme kan ook tot onenigheid aanleiding gee.b Dit verg tyd om aan sulke sake aandag te gee, maar skep moed! Die meeste egpare is in staat om sulke probleme die hoof te bied en wedersyds aanvaarbare oplossings te vind.
BESPREEK JULLE VERSKILLE
Los probleme vinnig op. Laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie
7, 8. Wat is die skriftuurlike manier om op te tree as daar gekrenkte gevoelens of misverstande tussen huweliksmaats bestaan?
7 Baie mense vind dit moeilik om kalm te bly wanneer hulle gekrenkte gevoelens, misverstande of persoonlike tekortkominge bespreek. Pleks van reguit te sê: “Ek dink jy verstaan my nie”, sal ’n huweliksmaat dalk emosioneel optree en die probleem oordryf. Baie sal sê: “Jy gee net vir jouself om”, of: “Jy het my nie lief nie.” Omdat die ander huweliksmaat nie by ’n argument betrokke wil raak nie, weier hy of sy dalk om daarop te reageer.
8 Dit is beter om die Bybel se raad te gehoorsaam: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Toe een egpaar wat gelukkig getroud is hulle 60ste huweliksherdenking bereik het, is hulle gevra wat die geheim van hulle suksesvolle huwelik is. Die man het gesê: “Ons het geleer om nie te gaan slaap voordat ons eers ons verskille uit die weg geruim het nie, ongeag hoe klein dit is.”
9. (a) Wat is volgens die Skrif ’n noodsaaklike deel van kommunikasie? (b) Wat moet huweliksmaats dikwels doen, al verg dit moed en nederigheid?
9 Wanneer ’n man en vrou nie oor iets saamstem nie, moet elkeen “gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig ten opsigte van gramskap” (Jakobus 1:19). Nadat hulle aandagtig geluister het, sal albei huweliksmaats dalk besef dat hulle om verskoning moet vra (Jakobus 5:16). Dit verg nederigheid en moed om opreg te sê: “Jammer dat ek jou seergemaak het.” Maar as verskille op hierdie manier hanteer word, sal dit ’n egpaar baie help om nie net hulle probleme op te los nie, maar ook om hartlikheid en intimiteit te ontwikkel wat daartoe sal bydra dat hulle meer genot in mekaar se geselskap vind.
KOM DIE HUWELIKSPLIG NA
10. Watter raad, wat as ’n beskerming kan dien, het Paulus aan die Korintiese Christene gegee wat vandag op ’n Christen van toepassing kan wees?
10 Toe die apostel Paulus aan die Korintiërs geskryf het, het hy “weens die algemeenheid van hoerery” voorgestel dat mense trou (1 Korintiërs 7:2). Die wêreld is vandag net so sleg, of selfs slegter, as eertydse Korinte. Die onsedelike onderwerpe wat wêreldse mense openlik bespreek, hulle onbeskeie kleredrag en die sensuele verhale in tydskrifte en boeke, op TV en in rolprente dra alles tot die opwekking van ongeoorloofde seksuele begeertes by. Aan die Korintiërs wat in ’n soortgelyke milieu gelewe het, het die apostel Paulus gesê: “Dit is beter om te trou as om van hartstog te brand.”—1 Korintiërs 7:9.
11, 12. (a) Wat is die man en vrou aan mekaar verskuldig, en in watter gees moet dit nagekom word? (b) Hoe moet die situasie behartig word wanneer die huweliksplig tydelik nie nagekom kan word nie?
11 Die Bybel beveel getroude Christene dus: “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man” (1 Korintiërs 7:3, NAV). Let op dat die klem op gee val—nie op eis nie. Slegs as elke huweliksmaat oor die ander se voordeel besorg is, is fisiese intiemheid in die huwelik waarlik bevredigend. Die Bybel beveel mans byvoorbeeld om “ooreenkomstig kennis” met hulle vrouens te handel (1 Petrus 3:7). Dit is veral waar wat die gee en ontvang van die huweliksplig betref. As ’n vrou nie met teerheid behandel word nie, sal sy dit dalk moeilik vind om hierdie aspek van die huwelik te geniet.
12 Daar is tye wanneer huweliksmaats mekaar dalk die huweliksplig moet ontsê. Met die vrou is dit dalk gedurende sekere tye van die maand of wanneer sy baie moeg is. (Vergelyk Levitikus 18:19.) Met die man is dit dalk wanneer hy ’n ernstige probleem by die werk het en emosioneel uitgeput voel. In sulke gevalle wanneer die huweliksplig tydelik nie nagekom word nie, word die situasie die beste behartig as albei huweliksmaats dit openhartig bespreek en ‘wedersyds daartoe instem’ (1 Korintiërs 7:5). Dit sal verseker dat nie een van die huweliksmaats ’n verkeerde gevolgtrekking maak nie. Maar as ’n vrou haar man dit opsetlik ontsê of as ’n man moedswillig versuim om die huweliksplig op ’n liefdevolle wyse na te kom, sal dit ’n huweliksmaat dalk aan versoeking blootstel. In so ’n geval sal probleme moontlik in ’n huwelik ontstaan.
13. Hoe kan Christene hulle daarop toelê om hulle gedagtes rein te hou?
13 Soos alle Christene moet getroude knegte van God pornografie, wat onrein en onnatuurlike begeertes kan wek, vermy (Kolossense 3:5). Hulle moet ook op hulle gedagtes en dade let wanneer hulle met alle lede van die ander geslag te doen het. Jesus het gewaarsku: ‘Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:28). As egpare die Bybel se raad aangaande seks toepas, sal hulle nie voor versoeking swig en egbreuk pleeg nie. Hulle kan voortgaan om aangename intiemheid te geniet in ’n huwelik waarin seks as ’n heilsame gawe van die Insteller van die huwelik, Jehovah, beskou word.—Spreuke 5:15-19.
DIE BYBELSE GRONDSLAG VIR EGSKEIDING
14. Watter hartseer situasie ontstaan soms? Waarom?
14 In die meeste Christenhuwelike kan enige probleem wat ontstaan gelukkig opgelos word. Maar soms is dit nie die geval nie. Omdat mense onvolmaak is en in ’n sondige wêreld woon wat onder Satan se beheer is, verbrokkel sommige huwelike wel (1 Johannes 5:19). Hoe moet Christene so ’n moeilike situasie hanteer?
15. (a) Wat is die enigste skriftuurlike grondslag vir egskeiding met die moontlikheid om weer te trou? (b) Waarom het party besluit om nie van ’n ontroue huweliksmaat te skei nie?
15 Soos in Hoofstuk 2 van hierdie boek genoem is, is hoerery die enigste skriftuurlike grondslag vir egskeiding met die moontlikheid om weer te trou (Matteus 19:9).c As jy afdoende bewys het dat jou huweliksmaat ontrou aan jou was, het jy ’n moeilike besluit om te neem. Sal jy met die huwelik voortgaan of egskeiding kry? Daar is geen reëls nie. Party Christene het ’n huweliksmaat wat opreg berouvol was heeltemal vergewe, en die huwelik wat sodoende gered is, is nou gelukkig. Ander het besluit om ter wille van die kinders nie te skei nie.
16. (a) Wat is party faktore wat sommige beweeg het om van hulle ontroue huweliksmaat te skei? (b) Waarom moet niemand ’n onskuldige huweliksmaat se besluit kritiseer wanneer hy of sy besluit om te skei of nie te skei nie?
16 Aan die ander kant het die sondige daad dalk swangerskap of ’n seksueel oordraagbare siekte tot gevolg gehad. Of miskien moet die kinders beskerm word teen ’n ouer wat hulle molesteer. Daar is beslis baie om in ag te neem voordat ’n besluit geneem kan word. Maar as jy uitvind dat jou huweliksmaat ontrou was en jy daarna weer geslagsgemeenskap met jou maat het, toon jy sodoende dat jy jou huweliksmaat vergewe het en dat jy graag met die huwelik voort wil gaan. Die grondslag vir egskeiding met die skriftuurlike moontlikheid om weer te trou, bestaan dan glad nie meer nie. Niemand moet bemoeisiek wees en jou besluit probeer beïnvloed nie, en niemand moet jou kritiseer wanneer jy ’n besluit geneem het nie. Jy sal met die gevolge van jou besluit moet saamleef. “Elkeen sal sy eie vrag dra.”—Galasiërs 6:5.
GRONDSLAG VIR SKEIDING
17. Watter beperkings lê die Skrif op skeiding of egskeiding as daar nie hoerery gepleeg is nie?
17 Is daar situasies wat dalk ’n skeiding of moontlik ’n egskeiding regverdig, al het jou huweliksmaat nie hoerery gepleeg nie? Ja, maar in so ’n geval is ’n Christen nie vry om ’n verhouding met ’n derde party aan te knoop met die oog om weer te trou nie (Matteus 5:32). Hoewel die Bybel so ’n skeiding in ag neem, stel dit as voorwaarde dat die persoon wat sy maat verlaat ‘ongetroud moet bly of weer versoen moet raak’ (1 Korintiërs 7:11). Wat is party uitsonderlike situasies wat ’n skeiding dalk raadsaam sal laat lyk?
18, 19. Wat is party van die ernstige situasies wat daartoe kan lei dat ’n huweliksmaat ’n geregtelike skeiding of ’n egskeiding raadsaam ag, al is daar nie ’n moontlikheid om weer te trou nie?
18 Wel, die gesin raak dalk behoeftig omdat die man uiters lui is en slegte gewoontes het.d Hy dobbel dalk die gesin se inkomste weg of gebruik dit moontlik om sy dwelm- of alkoholverslawing te onderhou. Die Bybel sê: “As iemand . . . vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). As so ’n man weier om sy weë te verander en miskien selfs geld neem wat sy vrou verdien sodat hy sy slegte gebruike kan onderhou, verkies die vrou dalk om haar en haar kinders se welsyn te beskerm deur ’n geregtelike skeiding te verkry.
19 Sulke geregtelike optrede kan ook oorweeg word as een huweliksmaat baie gewelddadig teenoor die ander een optree deur die persoon miskien herhaaldelik so te slaan dat sy of haar gesondheid en selfs lewe in gevaar is. As iemand boonop sy of haar huweliksmaat voortdurend probeer dwing om God se bevele op die een of ander manier te verontagsaam, kan die huweliksmaat wat gedreig word ook ’n skeiding oorweeg, veral as sake die punt bereik waar sy of haar geestelike lewe in gevaar is. Die huweliksmaat wat in gevaar verkeer, kom dalk tot die gevolgtrekking dat ’n geregtelike skeiding die enigste manier is om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.
20. (a) Wat kan ervare vriende en ouer manne wel doen as ’n huwelik verbrokkel, en wat moet hulle nie doen nie? (b) Getroude persone moet nie die Bybel se verwysings na skeiding en egskeiding as ’n verskoning gebruik om wat te doen nie?
20 In alle gevalle van kwaai huweliksgeweld moet niemand druk op die onskuldige maat uitoefen om van die ander maat te skei of by die ander maat te bly nie. Hoewel ervare vriende en ouer manne dalk ondersteuning en Bybelse raad kan gee, beskik hulle nie oor al die besonderhede van dinge wat tussen ’n man en vrou plaasvind nie. Net Jehovah kan dit sien. ’n Christenvrou sal God se huweliksreëling natuurlik nie eer as sy flou verskonings gebruik om die huwelik te beëindig nie. Maar as ’n uiters gevaarlike situasie voortduur, moet niemand haar kritiseer as sy verkies om haar man te verlaat nie. Presies dieselfde kan gesê word wanneer ’n Christenman wil skei. “Ons sal almal voor die regterstoel van God staan.”—Romeine 14:10.
HOE ’N GEBROKE HUWELIK GERED IS
21. Watter ondervinding toon dat die Bybel se raad oor die huwelik prakties is?
21 Drie maande nadat Lucia, wat vroeër gemeld is, haar man verlaat het, het sy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom, en hulle het ’n Bybelstudie met haar begin hou. “Tot my groot verbasing”, verduidelik sy, “het die Bybel praktiese oplossings vir my probleem gehad. Ná ek net een week gestudeer het, wou ek onmiddellik met my man versoen raak. Vandag kan ek sê dat Jehovah weet hoe om huwelike te red wat ’n krisis beleef omdat sy leringe huweliksmaats help om te leer hoe hulle mekaar moet waardeer. Dit is nie waar, soos sommige beweer, dat Jehovah se Getuies gesinne verdeel nie. In my geval was presies die teenoorgestelde waar.” Lucia het geleer om Bybelbeginsels in haar lewe toe te pas.
22. Waarin moet alle egpare vertroue hê?
22 Lucia is geen uitsondering nie. Die huwelik moet ’n seën wees, nie ’n las nie. Met dié doel het Jehovah die allerbeste bron van raad oor die huwelik voorsien—sy kosbare Woord. Die Bybel kan “die onervarene wys maak” (Psalm 19:7-11, NW). Dit het baie huwelike gered wat besig was om te verbrokkel en het talle verbeter wat ernstige probleme ondervind het. Mag alle egpare volle vertroue hê in die raad wat Jehovah God oor die huwelik voorsien. Dit is beslis prakties!
a Die naam is verander.
b Sommige van hierdie aspekte is in vorige hoofstukke bespreek.
c Die Bybelse term wat met “hoerery” vertaal is, sluit egbreuk in, asook homoseksualiteit, bestialiteit en ander doelbewuste, ongeoorloofde dade waarby die gebruik van die geslagsorgane betrokke is.
d Dit sluit nie gevalle in waar ’n man, hoewel hy goeie bedoelings het, om redes buite sy beheer nie vir sy gesin kan sorg nie, soos wanneer hy siek is of daar nie genoeg werksgeleenthede is nie.
-
-
Word saam ouerDie geheim van gesinsgeluk
-
-
HOOFSTUK VEERTIEN
Word saam ouer
1, 2. (a) Watter veranderings vind plaas namate ’n mens ouer word? (b) Hoe het godvrugtige manne in Bybeltye tevredenheid in hulle oudag gesmaak?
BAIE veranderings vind plaas namate ons ouer word. Liggaamlike swakheid ondermyn ons kragte. Wanneer ons in die spieël kyk, sien ons nuwe plooie en hoe ons hare geleidelik verkleur—selfs uitval. Ons raak dalk vergeetagtig. Nuwe verhoudings ontstaan wanneer die kinders trou en weer wanneer daar kleinkinders kom. Vir sommige het hulle aftrede ’n ander lewensroetine tot gevolg.
2 Om die waarheid te sê, dit kan ’n beproewing wees om ouer te word (Prediker 12:1-8). Maar beskou God se knegte in Bybeltye. Hoewel hulle uiteindelik gesterf het, het hulle wysheid en begrip verkry, wat hulle op hulle oudag groot tevredenheid verskaf het (Genesis 25:8, NW; 35:29, NW; Job 12:12, NW; 42:17, NW). Hoe het hulle daarin geslaag om ouer te word en gelukkig te bly? Dit was gewis deur in ooreenstemming met beginsels te lewe wat ons vandag in die Bybel opgeteken vind.—Psalm 119:105; 2 Timoteus 3:16, 17.
3. Watter raad het Paulus vir bejaarde manne en vroue gegee?
3 In sy brief aan Titus het die apostel Paulus goeie leiding aan diegene gegee wat ouer word. Hy het geskryf: “Laat die bejaarde manne matig in hulle gewoontes wees, ernstig, gesond van verstand, gesond in geloof, in liefde, in volharding. Laat die bejaarde vroue insgelyks godvererend wees wat hulle gedrag betref, nie laster of aan baie wyn verslaaf wees nie, leraresse van wat goed is” (Titus 2:2, 3). As jy op hierdie woorde ag slaan, kan dit jou help om die uitdagings van die ouderdom die hoof te bied.
PAS BY JOU KINDERS SE ONAFHANKLIKHEID AAN
4, 5. Hoe reageer baie ouers wanneer hulle kinders die huis verlaat, en hoe pas party by die nuwe situasie aan?
4 Wanneer die rolle verander, verg dit aanpasbaarheid. Hoe waar is dit tog nie wanneer volwasse kinders uit die huis gaan en trou nie! Vir baie ouers is dit die eerste herinnering daaraan dat hulle oud word. Hoewel ouers bly is dat hulle kinders volwassenes word, is hulle dikwels daaroor bekommerd of hulle alles moontlik gedoen het om hulle kinders vir onafhanklikheid voor te berei. En hulle mis dalk die kinders in die huis.
5 Dit is te verstane dat ouers oor die welsyn van hulle kinders besorg sal bly, selfs nadat die kinders die huis verlaat het. “As ek net meermaal van hulle kan hoor om my die versekering te gee dat alles nog in orde is—dit sal my baie gelukkig maak”, het een moeder gesê. ’n Vader sê: “Toe ons dogter die huis verlaat het, was dit ’n baie moeilike tyd. Dit het ’n groot leemte in ons gesin gelaat omdat ons altyd alles saam gedoen het.” Hoe het hierdie ouers die afwesigheid van hulle kinders oorkom? In baie gevalle deur die hand na ander te reik en hulle te help.
6. Wat help om gesinsverhoudinge in die regte perspektief te sien?
6 Wanneer kinders trou, verander die rol van die ouers. Genesis 2:24 sê: “Die man [sal] sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.” (Ons kursiveer.) As ouers die Goddelike beginsels van hoofskap en goeie orde erken, sal dit hulle help om dinge in die regte perspektief te sien.—1 Korintiërs 11:3; 14:33, 40.
7. Watter goeie gesindheid het een vader aangekweek toe sy dogters uit die huis is om te gaan trou?
7 Nadat ’n egpaar se twee dogters getrou en weggetrek het, het die egpaar ’n leemte in hulle lewe gevoel. Aan die begin het die man sy skoonseuns kwalik geneem. Maar namate hy oor die beginsel van hoofskap nagedink het, het hy besef dat sy dogters se mans nou vir hulle onderskeie huisgesinne verantwoordelik is. Wanneer sy dogters hom dus raad gevra het, het hy hulle gevra hoe hulle mans daaroor voel, en dan het hy seker gemaak dat hy hulle sover moontlik ondersteun. Sy skoonseuns beskou hom nou as ’n vriend en verwelkom sy raad.
8, 9. Hoe het party ouers by die onafhanklikheid van hulle volwasse kinders aangepas?
8 Gestel pasgetroudes doen nie wat die ouers dink reg is nie, al doen hulle nie iets onskriftuurliks nie. “Ons help hulle altyd om Jehovah se standpunt in te sien”, verduidelik een egpaar wat getroude kinders het, “maar as ons nie met hulle besluit saamstem nie, aanvaar ons dit en ondersteun ons hulle en moedig ons hulle aan.”
9 In sekere Asiatiese lande vind party moeders dit veral moeilik om hulle seuns se onafhanklikheid te aanvaar. Maar as hulle Christelike orde en hoofskap respekteer, vind hulle dat daar minder wrywing tussen hulle en hulle skoondogters is. Die feit dat een Christenvrou se seuns die huis verlaat het, was vir haar ’n “bron van immer toenemende dankbaarheid”. Dit verskaf haar genot om te sien dat hulle die vermoë het om hulle nuwe huisgesin te bestuur. Dit weer het beteken dat die fisiese en verstandelike las verlig is wat sy en haar man moet dra namate hulle ouer word.
VERSTERK JULLE HUWELIKSBAND OPNUUT
Bevestig julle liefde opnuut vir mekaar namate julle ouer word
10, 11. Watter skriftuurlike raad sal mense help om party van die strikke tydens die middeljare te vermy?
10 Mense reageer verskillend op die feit dat hulle hulle middeljare bereik. Party mans trek anders aan om jonger te probeer lyk. Baie vrouens is bekommerd oor die veranderings wat die menopouse meebring. Ongelukkig veroorsaak sommige middeljarige mense dat hulle huweliksmaat gegrief en jaloers raak omdat hulle met jonger lede van die ander geslag flankeer. Godvrugtige bejaarde mans is egter “gesond van verstand” en beteuel onbetaamlike begeertes (1 Petrus 4:7). Uit liefde vir hulle mans en omdat hulle graag Jehovah wil behaag, probeer ervare vrouens insgelyks hard om hulle huwelik bestendig te hou.
11 Onder inspirasie het koning Lemuël lof opgeteken vir die “deugsame vrou” wat haar man beloon deur “aan hom goed [te doen], en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe”. (Ons kursiveer.) ’n Christenman sal nie nalaat om waardering te toon vir die manier waarop sy vrou enige emosionele ontwrigting wat sy tydens haar middeljare ondervind die hoof probeer bied nie. Sy liefde sal hom beweeg om ‘haar te prys’.—Spreuke 31:10, 12, 28.
12. Hoe kan egpare met verloop van jare nader aan mekaar kom?
12 Tydens die besige jare toe julle julle kinders grootgemaak het, het julle albei dalk met graagte julle persoonlike belange opsy gesit om in julle kinders se behoeftes te voorsien. Ná hulle uit die huis is, is dit tyd om nuwe aandag aan julle huwelikslewe te skenk. “Toe my dogters die huis verlaat het”, sê een man, “het ek my vrou van voor af die hof begin gemaak.” ’n Ander man sê: “Ons hou ’n ogie oor mekaar se gesondheid en herinner mekaar daaraan om oefeninge te doen.” Om nie eensaam te voel nie, bewys hy en sy vrou gasvryheid aan ander lede van die gemeente. Ja, dit het seëninge tot gevolg as ’n mens belangstelling in ander toon. Wat meer is, dit behaag Jehovah.—Filippense 2:4; Hebreërs 13:2, 16.
13. Watter rol speel openhartigheid en eerlikheid namate ’n egpaar saam ouer word?
13 Moenie toelaat dat daar ’n kommunikasiegaping tussen jou en jou huweliksmaat ontstaan nie. Praat openhartig met mekaar (Spreuke 17:27). “Ons leer mekaar beter verstaan deur besorgd en bedagsaam teenoor mekaar te wees”, sê een man. Sy vrou stem saam en sê: “Namate ons ouer geword het, het ons dit begin geniet om saam tee te drink, te gesels en ons samewerking aan mekaar te gee.” As julle openhartig en eerlik met mekaar is, kan dit help om julle huweliksband heg te bind, wat julle huwelik die veerkragtigheid sal gee om die aanvalle van Satan, die huweliksverwoester, af te weer.
SKEP BEHAE IN JULLE KLEINKINDERS
14. Watter rol het Timoteus se grootmoeder klaarblyklik daarin gespeel dat hy as ’n Christen grootgeword het?
14 Kleinkinders is “’n kroon” vir bejaardes (Spreuke 17:6). Die geselskap van kleinkinders kan waarlik ’n genot wees—lewendig en verkwikkend. Die Bybel praat met lof van Loïs, ’n grootmoeder wat, tesame met haar dogter Eunice, haar geloofsoortuiging aan haar jong kleinseun Timoteus oorgedra het. Hierdie jong man het grootgeword met die besef dat Bybelwaarheid vir sy moeder en sy grootmoeder belangrik is.—2 Timoteus 1:5; 3:14, 15.
15. Watter waardevolle bydrae kan grootouers met betrekking tot hulle kleinkinders lewer, maar wat moet hulle vermy?
15 Hier is dus ’n spesiale gebied waarop grootouers ’n baie waardevolle bydrae kan lewer. Grootouers, julle het alreeds julle kennis van Jehovah se voornemens aan julle kinders oorgedra. Nou kan julle dieselfde vir nog ’n geslag doen! Talle jong kinders geniet dit om te hoor hoe hulle grootouers Bybelverhale vertel. Julle neem natuurlik nie die vader se verantwoordelikheid oor om Bybelwaarhede by sy kinders in te skerp nie (Deuteronomium 6:7). Julle help eerder daarmee. Mag julle ook soos die psalmis bid: “Ook tot die ouderdom en die grysheid toe—o God, verlaat my nie, totdat ek aan die volgende geslag u arm verkondig, aan almal wat sal kom, u mag.”—Psalm 71:18; 78:5, 6.
16. Hoe kan grootouers voorkom dat hulle die oorsaak van spanning in hulle familie is?
16 Ongelukkig bederf party grootouers die kleintjies só dat daar spanning tussen die grootouers en hulle volwasse kinders ontstaan. Maar julle opregte goedhartigheid sal dit miskien vir julle kleinkinders makliker maak om julle in hulle vertroue te neem wanneer hulle nie graag sake aan hulle ouers wil openbaar nie. Soms hoop die kinders dat hulle toegeeflike grootouers hulle kant sal kies en nie hulle ouers s’n nie. Wat dan? Lê wysheid aan die dag en moedig julle kleinkinders aan om openhartig met hulle ouers te wees. Julle kan aan hulle verduidelik dat dit Jehovah behaag (Efesiërs 6:1-3). Indien nodig, kan julle aanbied om die kinders te help deur vooraf met hulle ouers te praat. Wees openhartig met julle kleinkinders oor wat julle deur die jare geleer het. Julle eerlikheid en openhartigheid kan hulle tot voordeel strek.
PAS AAN NAMATE JY OUER WORD
17. Watter vasbeslotenheid van die psalmis moet bejaarde Christene navolg?
17 Met die jare sal jy vind dat jy nie alles kan doen wat jy gewoonlik gedoen het of wat jy graag wil doen nie. Hoe kan jy jou in die verouderingsproses berus? In jou verstand voel jy dalk 30 jaar oud, maar as jy in die spieël kyk, verraai dit iets heel anders. Moenie ontmoedig raak nie. Die psalmis het Jehovah gesmeek: “Verwerp my nie in die tyd van die ouderdom nie, verlaat my nie as my krag gedaan is nie.” Neem jou voor om die psalmis se vasbeslotenheid na te volg. Hy het gesê: “Ék sal altyddeur hoop en al u lof vermeerder.”—Psalm 71:9, 14.
18. Hoe kan ’n ervare Christen sy tyd benut wanneer hy aftree?
18 Baie het voor die tyd reëlings getref om hulle lof tot Jehovah te vermeerder nadat hulle afgetree het. “Ek het vooruitbeplan wat ek gaan doen wanneer ons dogter die skool verlaat”, verduidelik een vader wat nou afgetree het. “Ek het my voorgeneem om die voltydse bediening te betree, en ek het my sakeonderneming verkoop sodat ek vry sou wees om Jehovah in groter mate te dien. Ek het tot God om leiding gebid.” As jy aftree-ouderdom bereik, kan jy vertroosting put uit die verklaring van ons Grootse Skepper: “Tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra.”—Jesaja 46:4.
19. Watter raad word aan diegene gegee wat ouer word?
19 Dit is dalk nie maklik om aan te pas nadat jy afgetree het nie. Die apostel Paulus het bejaarde manne vermaan om “matig in hulle gewoontes” te wees. Dit verg selfbeheersing om nie toe te gee aan die neiging om ’n luilekker lewe te lei nie. ’n Roetine en selfdissipline is dalk selfs belangriker ná as voor jou aftrede. Bly dus besig, “terwyl [jy] altyd volop het om in die werk van die Here te doen, in die wete dat [jou] arbeid nie tevergeefs is in verband met die Here nie” (1 Korintiërs 15:58). Brei jou bedrywighede uit om ander te help (2 Korintiërs 6:13). Baie Christene doen dit deur die goeie nuus ywerig te verkondig, maar teen ’n veranderde pas. Namate jy ouer word, moet jy “gesond in geloof, in liefde, in volharding” wees.—Titus 2:2.
HOE OM DIE DOOD VAN JOU HUWELIKSMAAT TE VERWERK
20, 21. (a) Wat sal ’n egpaar uiteindelik in die huidige stelsel van dinge skei? (b) Hoe het Anna ’n goeie voorbeeld vir bedroefde huweliksmaats gestel?
20 Dit is hartseer maar waar dat egpare in die huidige stelsel van dinge uiteindelik deur die dood geskei word. Bedroefde Christenhuweliksmaats weet dat hulle geliefdes nou slaap, en hulle is vol vertroue dat hulle hulle weer sal sien (Johannes 11:11, 25). Maar die verlies laat ’n mens steeds bedroef voel. Hoe kan die persoon wat agterbly dit verwerk?a
21 Dit is nuttig om in gedagte te hou wat ’n sekere Bybelkarakter gedoen het. Anna het ’n weduwee geword net sewe jaar nadat sy getroud is, en wanneer ons van haar lees, is sy 84 jaar oud. Ons kan daarvan seker wees dat sy bedroef was toe sy haar man verloor het. Hoe het sy dit oorkom? Sy het dag en nag heilige diens aan Jehovah God by die tempel verrig (Lukas 2:36-38). Anna se lewe van godvrugtige diens het ongetwyfeld die droefheid en eensaamheid wat sy as ’n weduwee ondervind het grootliks teëgewerk.
22. Hoe het party weduwees en wewenaars hulle eensaamheid te bowe gekom?
22 “My grootste uitdaging was dat ek nie ’n maat gehad het om mee te gesels nie”, verduidelik ’n 72-jarige vrou wat tien jaar gelede ’n weduwee geword het. “My man was ’n goeie luisteraar. Ons het oor die gemeente en oor ons deelname aan die Christelike bediening gepraat.” ’n Ander weduwee sê: “Hoewel die tyd wonde heel, het ek gevind dat dit nader aan die waarheid is om te sê dat dit wat ’n mens met jou tyd doen jou wonde help heel. Jy is beter daartoe in staat om ander te help.” ’n Sewe-en-sestigjarige wewenaar stem saam en sê: “’n Wonderlike manier om jou verlies te bowe te kom, is om ander te vertroos.”
GOD WAARDEER BEJAARDES
23, 24. Watter groot vertroosting put bejaardes uit die Bybel, veral diegene wie se huweliksmaat gesterf het?
23 Hoewel die dood ’n geliefde maat wegneem, bly Jehovah altyd getrou, altyd onfeilbaar. “Een ding het ek van die HERE begeer”, het koning Dawid van die ou tyd gesing, “dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.”—Psalm 27:4.
24 “Eer weduwees wat werklik weduwees is”, spoor die apostel Paulus ons aan (1 Timoteus 5:3). Die raad wat ná hierdie instruksie volg, toon dat waardige weduwees sonder bloedverwante moontlik materiële ondersteuning van die gemeente nodig gehad het. Maar die betekenis van die instruksie om te “eer”, beteken ook om hulle te waardeer. Watter vertroosting kan godvrugtige weduwees en wewenaars tog put uit die wete dat Jehovah hulle waardeer en sal onderskraag!—Jakobus 1:27.
25. Watter doelwit kan bejaardes steeds nastreef?
25 “Die versiersel van grysaards is grys hare”, sê God se geïnspireerde Woord. Dit is “’n luisterryke kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spreuke 16:31, NW; 20:29). Gaan dus voort, hetsy jy getroud of weer eens ongetroud is, om Jehovah se diens eerste in jou lewe te stel. Jy sal dan ’n goeie naam by God hê, asook die vooruitsig op ewige lewe in ’n wêreld waar die pyn wat met die ouderdom gepaardgaan nie meer sal bestaan nie.—Psalm 37:3-5; Jesaja 65:20.
a Sien die brosjure Wanneer ’n geliefde sterf, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie onderwerp.
-
-
Hoe ons ons bejaarde ouers moet eerDie geheim van gesinsgeluk
-
-
HOOFSTUK VYFTIEN
Hoe ons ons bejaarde ouers moet eer
1. Wat is ons aan ons ouers verskuldig, en hoe moet ons dus oor hulle voel en teenoor hulle optree?
“LUISTER na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie”, het die wyse man lank gelede gemaan (Spreuke 23:22). ‘Ek sal dit nooit doen nie!’ sê jy dalk. Die meeste van ons is baie lief vir ons ouers en sal nie ons moeder—of ons vader—verag nie. Ons besef dat ons baie aan hulle verskuldig is. Ten eerste het ons ouers aan ons lewe gegee. Hoewel Jehovah die Bron van die lewe is, sou ons sonder ons ouers eenvoudig nie bestaan het nie. Niks wat ons ons ouers kan gee, is so kosbaar soos die lewe self nie. Dink dan ook aan die selfopoffering, bekommernis, onkoste en liefdevolle aandag wat daarby betrokke is om ’n kind te help om volwassenheid te bereik. Hoe redelik is dit dus tog dat God se Woord ons vermaan: “Eer jou vader en jou moeder . . . sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly”!—Efesiërs 6:2, 3.
ERKEN HULLE EMOSIONELE BEHOEFTES
2. Hoe kan volwasse kinders “verskuldigde vergoeding” aan hulle ouers betaal?
2 Die apostel Paulus het aan Christene geskryf: “Kinders of kleinkinders [moet] . . . eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë” (1 Timoteus 5:4). Volwasse kinders gee hierdie “verskuldigde vergoeding” deur waardering te toon vir die jare se liefde, werk en versorging wat hulle ouers en grootouers aan hulle gegee het. Een manier waarop kinders dit kan doen, is deur te besef dat bejaardes net soos die res van ons liefde en gerusstelling nodig het—dikwels uiters nodig het. Hulle moet, net soos ons almal, voel dat hulle kosbaar is. Hulle moet voel dat hulle lewe betekenis het.
3. Hoe kan ons ons ouers en grootouers eer?
3 Ons kan dus ons ouers en grootouers eer deur aan hulle te bewys dat ons hulle liefhet (1 Korintiërs 16:14). As ons ouers nie by ons woon nie, moet ons onthou dat dit baie vir hulle beteken om van ons te hoor. ’n Vriendelike brief, ’n telefoonoproep of ’n besoek kan baie tot hulle vreugde bydra. Mijo, wat in Japan woon, het toe sy 82 jaar oud was, geskryf: “My dogter [wie se man ’n reisende bedienaar is] sê vir my: ‘Ma, “reis” asseblief saam met ons.’ Sy stuur vir my hulle reisroete en telefoonnommers vir elke week. Ek kan my kaart oopmaak en sê: ‘A, hulle is nou hier!’ Ek dank Jehovah altyd dat ek met so ’n kind geseën is.”
HELP MET MATERIËLE BEHOEFTES
4. Hoe het Joodse godsdienstradisies gevoelloosheid teenoor bejaarde ouers bevorder?
4 Sluit eer aan ’n mens se ouers dalk ook in dat jy in hulle materiële behoeftes moet voorsien? Ja. Dit is dikwels die geval. In Jesus se tyd het die Joodse godsdiensleiers die tradisie gehandhaaf dat ’n persoon wat verklaar het dat sy geld of eiendom “’n gawe [is] wat aan God gewy is” van die verantwoordelikheid onthef is om dit te gebruik om vir sy ouers te sorg (Matteus 15:3-6). Hoe gevoelloos tog! Daardie godsdiensleiers het mense in werklikheid aangespoor om hulle ouers nie te eer nie, maar om hulle te minag deur hulle behoeftes op selfsugtige wyse te ignoreer. Ons wil dit nooit doen nie!—Deuteronomium 27:16, NW.
5. Waarom sluit eer aan ’n mens se ouers soms finansiële hulp in, al maak die regerings van party lande dalk daarvoor voorsiening?
5 In baie lande is daar vandag staatsondersteunde welsynsprogramme om in van die materiële behoeftes van die bejaardes te voorsien, soos voedsel, klere en onderdak. Daarbenewens was die bejaardes dalk in staat om self in sekere mate vir hulle oudag voorsiening gemaak. Maar as hierdie voorsienings opraak of te min is, eer kinders hulle ouers deur te doen wat hulle kan om in hulle ouers se behoeftes te voorsien. Trouens, om vir bejaarde ouers te sorg, is ’n blyk van godvrugtige toegewydheid, dit wil sê ’n mens se toegewydheid aan Jehovah God, die Insteller van die gesinsreëling.
LIEFDE EN SELFOPOFFERING
6. Watter reëlings het party getref om in die behoeftes van hulle ouers te voorsien?
6 Talle volwasse kinders het al met liefde en selfopoffering in die behoeftes van hulle sieklike ouers voorsien. Party het hulle ouers by hulle in hulle eie huis laat intrek of verhuis om naby hulle te wees. Ander het by hulle ouers gaan woon. Sulke reëlings was al dikwels ’n seën vir ouers sowel as vir kinders.
7. Waarom is dit goed om nie oorhaastig besluite oor bejaarde ouers te neem nie?
7 Maar soms loop sulke reëlings skeef. Waarom? Miskien omdat besluite oorhaastig geneem is of geheel en al op emosies berus. “Die skrandere let op sy voetstappe”, is die Bybel se wyse vermaning (Spreuke 14:15). Byvoorbeeld, gestel jou bejaarde moeder vind dit moeilik om alleen te woon en jy dink dat dit dalk goed sal wees as sy by julle kom woon. As jy op skrandere wyse op jou voetstappe wil let, moet jy dalk die volgende in ag neem: Wat is werklik haar behoeftes? Is daar private of staatsgesubsidieerde welsynsdienste wat ’n aanvaarbare alternatiewe oplossing bied? Wil sy trek? Op watter maniere sal haar lewe beïnvloed word indien sy wel trek? Sal sy vriende moet agterlaat? Hoe sal dit haar miskien emosioneel beïnvloed? Het jy hierdie dinge met haar bespreek? Hoe sal dit jou, jou huweliksmaat en jou kinders beïnvloed as sy trek? Wie gaan na jou moeder omsien as sy versorging nodig het? Kan die verantwoordelikheid gedeel word? Het jy die saak met almal bespreek wat regstreeks daarby betrokke is?
8. Wie kan jy raadpleeg wanneer jy besluit hoe om jou bejaarde ouers te help?
8 Aangesien al die kinders in ’n gesin die verantwoordelikheid het om vir hulle ouers te sorg, is dit dalk raadsaam om ’n familiekonferensie te hou sodat almal by die besluite betrokke kan wees. Dit kan ook help om met die ouer manne in die Christengemeente te praat of met vriende wat voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom het. “Planne misluk sonder beraadslaging”, waarsku die Bybel, “maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.”—Spreuke 15:22.
TOON EMPATIE EN BEGRIP
Dit is onverstandig om besluite vir ’n ouer te neem sonder om eers met hom of haar daaroor te praat
9, 10. (a) In watter opsig moet bejaardes, ondanks die feit dat hulle ouer word, in ag geneem word? (b) Hoe moet ’n volwasse kind sy ouers altyd behandel ongeag wat hy ten behoewe van hulle doen?
9 As ons ons bejaarde ouers wil eer, verg dit empatie en begrip. Namate die jare hulle tol eis, vind bejaardes dit dalk al hoe moeiliker om te loop, te eet en dinge te onthou. Hulle het miskien hulp nodig. Die kinders raak dikwels te beskermend en probeer leiding gee. Maar die bejaardes is volwassenes wat ’n leeftyd van wysheid en ondervinding agter hulle het, ’n leeftyd waartydens hulle vir hulleself gesorg het en hulle eie besluite geneem het. Hulle identiteit en selfrespek hang dalk grootliks af van hulle rol as ouers en volwassenes. Ouers wat voel dat beheer oor hulle lewe nou aan hulle kinders oorgelaat moet word, raak dalk terneergedruk of kwaad. Party voel gegrief oor en bied teenstand teen wat hulle dalk beskou as pogings om hulle hulle onafhanklikheid te ontneem.
10 Daar is nie maklike oplossings vir sulke probleme nie, maar dit is ’n blyk van goedhartigheid om bejaarde ouers sover moontlik toe te laat om na hulleself om te sien en hulle eie besluite te neem. Dit is verstandig om nie besluite te neem oor wat vir jou ouers goed is as jy nie eers met hulle daaroor gepraat het nie. Hulle het dalk reeds baie verloor. Laat hulle toe om te behou wat hulle nog het. Jy sal moontlik vind dat jou verhouding met jou ouers beter is as jy hulle lewe nie te veel probeer beheer nie. Hulle sal gelukkiger wees en jy ook. Selfs as dit nodig is om vir hulle welsyn op sekere dinge aan te dring, sal eer aan jou ouers vereis dat jy hulle met die waardigheid en respek behandel wat hulle verdien. God se Woord vermaan ons: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer.”—Levitikus 19:32.
BEHOU DIE REGTE GESINDHEID
11-13. Hoe kan ’n volwasse kind wat nie in die verlede ’n goeie verhouding met sy ouers gehad het nie steeds die uitdaging die hoof bied om vir hulle te sorg wanneer hulle ouer word?
11 ’n Probleem waarmee volwasse kinders soms te kampe het wat eer aan hulle bejaarde ouers betref, hou verband met die verhouding wat daar vroeër tussen hulle en hulle ouers bestaan het. Jou vader was miskien hard en liefdeloos, jou moeder baasspelerig en ongevoelig. Jy voel dalk steeds gefrustreerd, kwaad of seergemaak omdat hulle nie die ouers was wat jy graag wou hê hulle moes wees nie. Kan jy sulke gevoelens te bowe kom?a
12 Basse, wat in Finland grootgeword het, sê: “My stiefpa was ’n SS-offisier in Nazi-Duitsland. Hy het sy humeur maklik verloor, en dan was hy gevaarlik. Hy het my ma baie kere voor my oë geslaan. Toe hy eenmaal vir my kwaad was, het hy sy belt geswaai en my met die gespe in die gesig geslaan. Dit het my so hard getref dat ek bo-oor die bed geval het.”
13 Maar elke saak het ook ’n ander kant. Basse sê voorts: “Daarenteen het hy baie hard gewerk en sy bes gedoen om materieel vir ons gesin te sorg. Hy het nooit vaderlike geneentheid aan my betoon nie, maar ek het geweet dat hy ’n emosionele knou weg het. Sy ma het hom uit die huis uitgejaag toe hy ’n jong seun was. Hy moes sy pad in die lewe oopveg en het as ’n jongman in die oorlog begin veg. Ek kon dit tot sekere mate verstaan en het hom nie blameer nie. Toe ek ouer geword het, wou ek hom tot sy dood toe soveel moontlik help. Dit was nie maklik nie, maar ek het gedoen wat ek kon. Ek het tot die einde probeer om ’n goeie seun te wees, en ek dink hy het my as sodanig aanvaar.”
14. Watter teks geld in alle aangeleenthede, onder andere in dié waar daar na bejaarde ouers omgesien moet word?
14 In gesinsaangeleenthede, soos in ander sake, geld dié Bybelraad: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”—Kolossense 3:12, 13.
VERSORGERS HET OOK VERSORGING NODIG
15. Waarom is dit soms so ontstellend om jou ouers te versorg?
15 Dit is harde werk om ’n sieklike ouer te versorg, want baie take, heelwat verantwoordelikhede en lang ure is daarby betrokke. Maar die moeilikste deel is dikwels die emosionele aspek. Dit is ontstellend om te sien hoe jou ouers hulle gesondheid, geheue en onafhanklikheid verloor. Sandy, wat van Puerto Rico af kom, sê: “My ma was die middelpunt van ons gesin. Dit was ’n baie hartseer saak om haar te versorg. Sy het eers mank begin loop; toe het sy ’n kierie nodig gehad, toe ’n loopraam, toe ’n rystoel. Daarna het sy net agteruitgegaan totdat sy gesterf het. Sy het beenkanker gekry en moes voortdurend—dag en nag—versorg word. Ons het haar gebad en gevoer en vir haar gelees. Dit was baie moeilik—veral emosioneel. Toe ek besef dat my moeder besig was om te sterf, het ek gehuil omdat ek só lief vir haar was.”
16, 17. Watter raad sal ’n versorger dalk help om ’n gebalanseerde beskouing van sake te handhaaf?
16 Wat kan jy doen om die mas op te kom as jy in ’n soortgelyke situasie is? Dit sal jou baie help as jy na Jehovah luister deur die Bybel te lees en in gebed met hom te praat (Filippense 4:6, 7). Prakties gesproke kan jy seker maak dat jy gebalanseerde maaltye eet en moet jy genoeg slaap probeer kry. Sodoende sal jy, emosioneel sowel as liggaamlik, beter daartoe in staat wees om jou geliefde te versorg. Miskien kan jy nou en dan ’n blaaskans in jou daaglikse roetine kry. Al kan jy nie met vakansie gaan nie, is dit steeds verstandig om ’n bietjie tyd vir ontspanning opsy te sit. Jy kan moontlik reël dat iemand anders by jou siek ouer bly sodat jy ’n bietjie kan weggaan.
17 Dit is nie ongewoon dat volwasse versorgers onredelike eise aan hulleself stel nie. Maar moenie skuldig voel oor wat jy nie kan doen nie. In sekere omstandighede moet jy dalk jou geliefde aan die sorg van ’n verpleeginrigting oorlaat. As jy ’n versorger is, moet jy redelike eise aan jouself stel. Jy moenie net in die behoeftes van jou ouers voorsien nie, maar ook in dié van jou kinders, jou huweliksmaat en jouself.
KRAG WAT BO DIE NORMALE IS
18, 19. Watter ondersteuning het Jehovah beloof, en watter ondervinding toon dat hy sy belofte nakom?
18 Deur middel van sy Woord, die Bybel, voorsien Jehovah op liefdevolle wyse leiding wat ’n mens baie kan help om na jou bejaarde ouers om te sien, maar dit is nie die enigste hulp wat hy voorsien nie. “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep”, het die psalmis onder inspirasie geskryf. “Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.” Jehovah sal sy getroues selfs in die moeilikste situasies verlos, of bewaar.—Psalm 145:18, 19.
19 Myrna, in die Filippyne, het dit uitgevind toe sy haar moeder versorg het wat as gevolg van ’n beroerteaanval hulpeloos was. “Daar is niks meer ontstellends as om te sien hoe jou geliefde ly en nie in staat is om vir jou te sê waar dit seer is nie”, skryf Myrna. “Dit was asof ek gesien het hoe sy geleidelik verdrink, en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. Baie male het ek op my knieë gegaan en vir Jehovah gesê hoe moeg ek is. Ek het soos Dawid uitgeroep, wat Jehovah gesmeek het om sy trane in ’n kruik te sit en hom te onthou. En soos Jehovah belowe het, het hy my die krag gegee wat ek nodig gehad het. ‘Jehovah was my steun.’”—Psalm 18:19, vgl. NW.
20. Watter beloftes in die Bybel help versorgers om optimisties te bly, selfs al sterf die persoon wat hulle versorg?
20 Daar is al gesê dat versorging van bejaarde ouers ’n “verhaal sonder ’n gelukkige einde” is. Ondanks die beste versorging sterf bejaardes dalk, soos in die geval van Myrna se moeder. Maar diegene wat op Jehovah vertrou, weet dat die dood nie die einde van die verhaal is nie. Die apostel Paulus het gesê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees” (Handelinge 24:15). Diegene wat bejaarde ouers aan die dood afgestaan het, put vertroosting uit die opstandingshoop, asook uit die belofte van ’n wonderlike nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring en waarin ‘die dood nie meer sal wees nie’.—Openbaring 21:4.
21. Watter goeie resultate lewer dit as bejaarde ouers geëer word?
21 Knegte van God het groot agting vir hulle ouers, al het hulle oud geword (Spreuke 23:22-24). Hulle eer hulle. Sodoende ondervind hulle wat die geïnspireerde spreuk sê: “Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het” (Spreuke 23:25). En diegene wat hulle bejaarde ouers eer, behaag en eer bowenal Jehovah God.
a Ons bespreek nie hier situasies waarin ouers skuldig was aan die uitermatige misbruik van hulle gesag en vertroue, soseer dat dit as ’n misdaad beskou kan word nie.
-
-
Verseker ’n blywende toekoms vir jou gesinDie geheim van gesinsgeluk
-
-
HOOFSTUK SESTIEN
Verseker ’n blywende toekoms vir jou gesin
1. Wat was Jehovah se voorneme met die gesinsreëling?
TOE Jehovah Adam en Eva in die huwelik verbind het, het Adam aan sy vreugde uiting gegee deur die eerste opgetekende Hebreeuse poësie uit te spreek (Genesis 2:22, 23). Maar die Skepper het meer in gedagte gehad as om bloot vreugde aan sy mensekinders te verskaf. Hy wou hê dat egpare en gesinne sy wil doen. Hy het vir die eerste egpaar gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). Watter wonderlike, lonende toewysing was dit tog! Hoe gelukkig sou hulle en hulle toekomstige kinders tog gewees het as Adam en Eva Jehovah se wil met volkome gehoorsaamheid gedoen het!
2, 3. Hoe kan gesinne vandag die grootste geluk vind?
2 Gesinne is ook vandag die gelukkigste wanneer hulle saam werk om God se wil te doen. Die apostel Paulus het geskryf: “Godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timoteus 4:8). ’n Gesin wat met godvrugtige toegewydheid lewe en wat Jehovah se riglyne in die Bybel volg, sal in ‘die teenswoordige lewe’ geluk vind (Psalm 1:1-3; 119:105; 2 Timoteus 3:16). Selfs as net een gesinslid Bybelbeginsels toepas, is die situasie beter as wanneer niemand dit doen nie.
3 Hierdie boek het baie Bybelbeginsels bespreek wat tot gesinsgeluk bydra. Jy het waarskynlik opgemerk dat van die beginsels herhaaldelik in die boek voorkom. Waarom? Omdat hulle kragtige waarhede is wat ons almal in verskillende aspekte van die gesinslewe tot voordeel strek. ’n Gesin wat hierdie Bybelbeginsels probeer toepas, vind dat godvrugtige toegewydheid waarlik ’n ‘belofte vir die teenswoordige lewe inhou’. Laat ons weer na vier van daardie belangrike beginsels kyk.
DIE WAARDE VAN SELFBEHEERSING
4. Waarom is selfbeheersing noodsaaklik in ’n huwelik?
4 Koning Salomo het gesê: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28; 29:11). ‘Om jou gees in te hou’, om selfbeheersing aan die dag te lê, is noodsaaklik vir diegene wat ’n gelukkige huwelik wil hê. As jy toegee aan vernietigende emosies, soos woede of onsedelike wellus, sal dit skade veroorsaak wat jare duur om te herstel—indien dit enigsins herstel kan word.
5. Hoe kan ’n onvolmaakte mens selfbeheersing aankweek, en watter voordele hou dit in?
5 Geen afstammeling van Adam kan natuurlik sy onvolmaakte vlees volkome beheers nie (Romeine 7:21, 22). Hoe dit ook al sy, selfbeheersing is ’n vrug van die gees (Galasiërs 5:22, 23). God se gees sal dus selfbeheersing in ons voortbring as ons bid dat hy ons hierdie eienskap gee, as ons die gepaste raad toepas wat in die Skrif gevind word en as ons met ander assosieer wat dit aan die dag lê en diegene vermy wat dit nie doen nie (Psalm 119:100, 101, 130; Spreuke 13:20; 1 Petrus 4:7). So ’n weg sal ons help om ‘vir die hoerery te vlug’, selfs wanneer ons in versoeking kom (1 Korintiërs 6:18). Ons sal geweld verwerp en sal alkoholisme vermy of oorwin. En ons sal kalmer bly as iets ons kwaad maak of as ons voor moeilike situasies te staan kom. Mag almal—kinders inkluis—leer om hierdie noodsaaklike vrug van die gees aan te kweek.—Psalm 119:1, 2.
’N BEHOORLIKE BESKOUING VAN HOOFSKAP
6. (a) Watter volgorde van hoofskap is deur God ingestel? (b) Wat moet ’n man onthou as hy wil hê dat sy hoofskap geluk vir sy gesin moet meebring?
6 Die tweede belangrike beginsel is die erkenning van hoofskap. Paulus het die behoorlike volgorde van dinge beskryf toe hy gesê het: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; die man weer is die hoof van die vrou; God weer is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Dit beteken dat ’n man die leiding in die gesin neem, sy vrou hom lojaal ondersteun en die kinders aan hulle ouers gehoorsaam is (Efesiërs 5:22-25, 28-33; 6:1-4). Let egter daarop dat hoofskap net tot geluk lei wanneer dit behoorlik toegepas word. Mans wat met godvrugtige toegewydheid lewe, weet dat hoofskap nie diktatorskap is nie. Hulle volg Jesus, hulle Hoof, na. Alhoewel Jesus “hoof oor alles” sou word, het hy ‘gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien’ (Efesiërs 1:22; Matteus 20:28). ’n Christenman oefen hoofskap op soortgelyke wyse uit, nie om homself te bevoordeel nie, maar om na die belange van sy vrou en kinders om te sien.—1 Korintiërs 13:4, 5.
7. Watter skriftuurlike beginsels sal ’n vrou help om haar godgegewe rol in die gesin te vervul?
7 Die vrou wat op haar beurt met godvrugtige toegewydheid lewe, wedywer nie met haar man nie of probeer hom nie oorheers nie. Dit maak haar gelukkig om hom te ondersteun en met hom saam te werk. Die Bybel sê soms dat die vrou aan haar man “behoort”, wat ongetwyfeld toon dat hy haar hoof is (Genesis 20:3, NW). Deur die huwelik kom sy onder “die wet van haar man” (Romeine 7:2). Terselfdertyd noem die Bybel haar ’n “hulp” en ’n “komplement” (Genesis 2:20, NW). Sy het die eienskappe en vermoëns wat haar man kortkom, en sy gee hom die nodige ondersteuning (Spreuke 31:10-31). Die Bybel sê ook dat ’n vrou ’n “metgesel” is, iemand wat sy aan sy met haar huweliksmaat werk (Maleagi 2:14). Hierdie skriftuurlike beginsels help ’n man en ’n vrou om mekaar se posisie te verstaan en om mekaar met behoorlike respek en waardigheid te behandel.
‘WEES GOU OM TE HOOR’
8, 9. Verduidelik party van die beginsels wat almal in die gesin sal help om hulle kommunikasievermoëns te verbeter.
8 In hierdie boek is die belangrikheid van kommunikasie dikwels beklemtoon. Waarom? Omdat probleme makliker opgelos word wanneer mense met mekaar praat en werklik na mekaar luister. Die aandag is herhaaldelik gevestig op die feit dat kommunikasie soos ’n tweerigtingpad is. Die dissipel Jakobus het dit as volg uitgedruk: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat.”—Jakobus 1:19.
9 Dit is ook belangrik dat ons let op die manier waarop ons praat. Ondeurdagte woorde wat twis wek of baie krities is, is nie suksesvolle kommunikasie nie (Spreuke 15:1; 21:9; 29:11, 20). Selfs al is wat ons sê korrek, sal dit waarskynlik meer kwaad as goed doen indien dit op ’n hardvogtige, trotse of ongevoelige manier gesê word. Ons spraak moet aangenaam wees, “smaaklik gemaak met sout” (Kolossense 4:6). Ons woorde moet soos “goue appels op versierde silwerborde” wees (Spreuke 25:11). Gesinne wat leer om goed te kommunikeer, het al ver gevorder op die weg na geluk.
DIE BELANGRIKE ROL VAN LIEFDE
10. Watter soort liefde is belangrik in die huwelik?
10 Die woord “liefde” kom herhaalde male regdeur hierdie boek voor. Onthou jy die soort liefde waarna daar hoofsaaklik verwys is? Dit is waar dat romantiese liefde (Grieks, eʹros) ’n belangrike rol in die huwelik speel, en in suksesvolle huwelike neem innige toegeneentheid en vriendskap (Grieks, fi·liʹa) tussen ’n man en ’n vrou toe. Maar die liefde wat deur die Griekse woord a·gaʹpe weergegee word, is selfs belangriker. Dit is die liefde wat ons vir Jehovah, vir Jesus en vir ons naaste aankweek (Matteus 22:37-39). Dit is die liefde wat Jehovah aan die mensdom betoon (Johannes 3:16). Hoe wonderlik is dit tog dat ons dieselfde soort liefde aan ons huweliksmaat en kinders kan betoon!—1 Johannes 4:19.
11. Hoe is liefde vir ’n huwelik bevorderlik?
11 In die huwelik is hierdie verhewe liefde waarlik “’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Dit bind ’n egpaar saam, met die gevolg dat hulle wil doen wat vir mekaar en vir hulle kinders die beste is. Wanneer gesinne voor moeilike situasies te staan kom, help liefde hulle om dinge op ’n verenigde wyse te doen. Namate ’n egpaar ouer word, help liefde hulle om mekaar te ondersteun en te bly waardeer. “Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie. . . . Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:4-8.
12. Waarom versterk ’n egpaar se liefde vir God hulle huwelik?
12 Die huweliksband is veral sterk wanneer dit nie net deur die liefde tussen huweliksmaats saamgeheg word nie, maar hoofsaaklik deur liefde vir Jehovah (Prediker 4:9-12). Waarom? Wel, die apostel Johannes het geskryf: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou” (1 Johannes 5:3). Gevolglik moet ’n egpaar nie bloot hulle kinders godvrugtige toegewydheid leer omdat hulle hulle kinders baie liefhet nie, maar omdat dit ’n bevel van Jehovah is (Deuteronomium 6:6, 7). Hulle moet nie net onsedelikheid vermy omdat hulle mekaar liefhet nie, maar hoofsaaklik omdat hulle Jehovah liefhet, wat “hoereerders en egbrekers [sal] oordeel” (Hebreërs 13:4). Selfs as een huweliksmaat ernstige probleme in ’n huwelik veroorsaak, sal liefde vir Jehovah die ander maat beweeg om Bybelbeginsels te bly volg. Gesinne is voorwaar gelukkig as liefde vir mekaar versterk word deur liefde vir Jehovah!
DIE GESIN WAT GOD SE WIL DOEN
13. Hoe sal vasbeslotenheid om God se wil te doen persone help om hulle oë gerig te hou op die dinge wat werklik belangrik is?
13 ’n Christen se hele lewe draai om die uitvoering van God se wil (Psalm 143:10). Dit is wat godvrugtige toegewydheid werklik beteken. As gesinne God se wil doen, help dit hulle om hulle oë gerig te hou op die dinge wat werklik belangrik is (Filippense 1:9, 10). Jesus het byvoorbeeld gewaarsku: “Ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak: ’n man teen sy vader, en ’n dogter teen haar moeder, en ’n jong vrou teen haar skoonmoeder. Ja, ’n mens se eie huisgenote sal sy vyande wees” (Matteus 10:35, 36). Soos Jesus gewaarsku het, is baie van sy volgelinge al deur gesinslede vervolg. Wat ’n droewige, hartseer situasie tog! Maar ons familiebande moenie vir ons van groter belang wees as ons liefde vir Jehovah God en vir Jesus Christus nie (Matteus 10:37-39). As ’n mens ondanks familieteenstand volhard, verander die teenstanders dalk wanneer hulle die goeie gevolge van godvrugtige toegewydheid sien (1 Korintiërs 7:12-16; 1 Petrus 3:1, 2). Selfs al gebeur dit nie, hou dit geen blywende voordeel in as ons weens teenstand ophou om God te dien nie.
14. Hoe sal ’n begeerte om God se wil te doen ouers help om in hulle kinders se belange op te tree?
14 As ouers God se wil doen, help dit hulle om regte besluite te neem. In party gemeenskappe is ouers geneig om kinders as ’n belegging te beskou, en hulle maak op hulle kinders staat om op hulle oudag vir hulle te sorg. Hoewel dit reg en gepas is dat volwasse kinders vir hulle bejaarde ouers sorg, moet hierdie beskouing nie daartoe lei dat ouers hulle kinders beïnvloed om ’n materialistiese lewensweg te volg nie. Ouers doen hulle kinders nie ’n guns as hulle hulle grootmaak om materiële besittings belangriker te ag as geestelike dinge nie.—1 Timoteus 6:9.
15. Hoe was Timoteus se moeder, Eunice, ’n uitstekende voorbeeld van ’n ouer wat God se wil gedoen het?
15 Eunice, die moeder van Paulus se jong vriend Timoteus, is ’n goeie voorbeeld in hierdie verband (2 Timoteus 1:5). Hoewel sy met ’n ongelowige man getroud was, het Eunice, tesame met Timoteus se grootmoeder Loïs, Timoteus met welslae grootgemaak om godvrugtige toegewydheid na te streef (2 Timoteus 3:14, 15). Toe Timoteus oud genoeg was, het Eunice hom toegelaat om die huis te verlaat en die Koninkrykspredikingswerk as Paulus se sendelingmetgesel te begin doen (Handelinge 16:1-5). Hoe verheug moes sy tog gewees het toe haar seun ’n uitstaande sendeling geword het! Sy godvrugtige toegewydheid as ’n volwassene het getoon dat hy vroeg in sy lewe goeie opleiding ontvang het. Eunice het ongetwyfeld tevredenheid en vreugde geput uit die verslae van Timoteus se getroue bediening, al het sy hom waarskynlik gemis.—Filippense 2:19, 20.
DIE GESIN EN JOU TOEKOMS
16. Watter gepaste besorgdheid het Jesus as seun getoon, maar wat was sy hoofdoel?
16 Jesus is in ’n godvrugtige gesin grootgemaak, en as ’n volwassene het hy die gepaste besorgdheid van ’n seun teenoor sy moeder getoon (Lukas 2:51, 52; Johannes 19:26). Maar Jesus se hoofdoel was om God se wil te volbring, en vir hom het dit ingesluit om vir mense die weg te baan om ewige lewe te geniet. Dit het hy gedoen toe hy sy volmaakte menselewe as ’n losprys vir die sondige mensdom opgeoffer het.—Markus 10:45; Johannes 5:28, 29.
17. Watter glorieryke vooruitsigte het Jesus se getroue lewensweg vir diegene moontlik gemaak wat God se wil doen?
17 Ná Jesus se dood het Jehovah hom tot hemelse lewe opgewek en aan hom groot gesag gegee; hy het hom uiteindelik as Koning in die hemelse Koninkryk gekroon (Matteus 28:18; Romeine 14:9; Openbaring 11:15). Jesus se offerande het dit moontlik gemaak vir party mense om gekies te word om saam met hom in daardie Koninkryk te regeer. Dit het ook die weg gebaan vir die res van die regskape mensdom om volmaakte lewe op ’n aarde te geniet wat tot paradysagtige toestande herstel sal word (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 4; 21:3-5; 22:1-4). Een van die grootste voorregte wat ons vandag het, is om hierdie wonderlike goeie nuus aan ons naaste te vertel.—Matteus 24:14.
18. Waaraan word gesinne en individue herinner en watter aansporing ontvang hulle?
18 Soos die apostel Paulus getoon het, hou ’n lewe van godvrugtige toegewydheid die belofte in dat mense daardie seëninge in die “toekomstige” lewe kan beërf. Dit is gewis die beste manier om geluk te vind! Onthou, “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Jy moet dus, hetsy jy ’n kind of ’n ouer is, ’n getroude man of vrou, ’n ongetroude volwassene met of sonder kinders, daarna streef om God se wil te doen. Selfs wanneer jy onder druk verkeer of voor uiters moeilike probleme te staan kom, moet jy nooit vergeet dat jy ’n kneg van die lewende God is nie. Mag jou dade Jehovah dus verbly (Spreuke 27:11). En mag jou gedrag nou aan jou geluk verskaf en ewige lewe in die toekomstige nuwe wêreld meebring!
-