Het jy geweet?
Is dit betekenisvol dat die apostel Petrus by ’n leerlooier tuisgegaan het voordat hy aangesê is om na Kornelius toe te gaan?
▪ Die verslag in Handelinge sê dat Petrus “’n hele paar dae in Joppe gebly [het] by ’n sekere Simon, ’n leerlooier”, wat “’n huis by die see” gehad het (Handelinge 9:43; 10:6). Die werk van ’n leerlooier was uit ’n Joodse standpunt onrein en vernederend. Die Talmoed het leerlooiers op ’n laer vlak geplaas as mense wat mis bymekaargemaak het. Simon se werk het hom in voortdurende kontak met dierkarkasse gebring, wat beteken het dat hy altyd seremonieel onrein sou wees (Levitikus 5:2; 11:39). Volgens verskillende bronne oor die onderwerp het Simon heel moontlik seewater in sy werk gebruik, en sy werkswinkel was waarskynlik in die buitewyke van die dorp geleë omdat leerlooiery “’n onwelriekende proses” was.
Ten spyte hiervan was Petrus klaarblyklik heeltemal bereid om by Simon tuis te gaan. Dit toon dat Petrus moontlik geleer het om heersende Joodse vooroordele teenoor mense wat as onrein beskou is, te verwerp, net soos Jesus voor hom sulke vooroordele verwerp het.—Matteus 9:11; Lukas 7:36-50.
Wat beteken Jesus se woorde “u het dit self gesê”?
▪ Toe hy deur Kajafas, die Joodse hoëpriester, beveel is om openlik te sê of hy die Christus, die Seun van God is, het Jesus geantwoord: “U het dit self gesê” (Matteus 26:63, 64). Wat het hy bedoel?
Jesus het nie Kajafas se vraag probeer ontwyk nie. Die uitdrukking “u het dit self gesê” was blykbaar ’n algemene Joodse idioom wat bevestig het dat ’n stelling waar is. Die Jerusalem-Talmoed, ’n Joodse godsdiensgeskrif wat in die vierde eeu HJ saamgestel is, vertel byvoorbeeld van ’n Joodse man wat, toe hy gevra is of ’n rabbi gesterf het, geantwoord het: “U het dit gesê.” Dit is verstaan as ’n bevestiging dat die rabbi werklik dood was.
Jesus het die hoëpriester se gesag erken om hom onder eed te stel om te sê wat die feite van die saak is. Wat meer is, as Jesus stilgebly het, kon dit vertolk word as ’n ontkenning dat hy die Christus is. Jesus se woorde: “U het dit self gesê”, was dus ’n bevestigende antwoord aan die hoëpriester. In Markus se parallelle verslag het Jesus, toe hy direk deur Kajafas beveel is om te sê of Hy die Messias is, moedig geantwoord: “Ek is.”—Markus 14:62; sien ook Matteus 26:25 en Markus 15:2.
[Prent op bladsy 18]
’n Leerlooiery in Fes, Marokko