-
God se naam—Die gebruik en betekenis daarvanWat leer die Bybel werklik?
-
-
as hulle nooit geleer word dat sy naam Jehovah is nie? En as mense God se naam nie gebruik nie, ken hulle ook nie die wonderlike betekenis daarvan nie. Wat beteken God se naam?
God het self aan sy getroue kneg Moses verduidelik wat sy naam beteken. Toe Moses oor God se naam gevra het, het Jehovah geantwoord: “Ek sal word wat ek sal word” (Eksodus 3:14). Rotherham se vertaling gee hierdie woorde soos volg weer: “Ek sal word wat ek ook al wil.” Jehovah kan dus word wat ook al nodig is om sy voornemens te vervul.
Sê nou jy kon enigiets word wat jy wil. Wat sou jy vir jou vriende doen? As een van hulle ernstig siek word, sou jy ’n goeie dokter kon word en hom gesond maak. As ’n ander een ’n finansiële verlies ly, sou jy ’n ryk weldoener kon word en hom help. Maar jy is natuurlik beperk met betrekking tot wat jy kan word. Ons is almal. Wanneer jy die Bybel bestudeer, sal jy verbaas wees om te sien hoe Jehovah enigiets word wat nodig is om sy voornemens te vervul. En dit is vir hom ’n plesier om sy krag te gebruik ten behoewe van diegene wat hom liefhet (2 Kronieke 16:9). Mense wat Jehovah se naam nie ken nie, weet nie van hierdie pragtige fasette van sy persoonlikheid nie.
Dit is duidelik dat die naam Jehovah in die Bybel hoort. Om die betekenis daarvan te ken en dit vryelik in ons aanbidding te gebruik, is kragtige hulpmiddele om nader aan ons hemelse Vader, Jehovah, te kom.a
-
-
Hoe Daniël se profesie die koms van die Messias voorspelWat leer die Bybel werklik?
-
-
AANHANGSEL
Hoe Daniël se profesie die koms van die Messias voorspel
DIE profeet Daniël het meer as 500 jaar voor die geboorte van Jesus gelewe. Jehovah het nietemin aan Daniël inligting gegee wat dit moontlik gemaak het om vas te stel presies wanneer Jesus gesalf, of aangestel, sou word as die Messias, of Christus. Daar is vir Daniël gesê: “Jy moet weet en die insig hê dat daar vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou tot op Messias die Leier sewe weke sal wees, ook twee-en-sestig weke.”—Daniël 9:25.
Om die tyd van die Messias se koms te bepaal, moet ons eers uitvind wanneer die tydperk wat na die Messias sou lei, begin het. Volgens die profesie strek hierdie tydperk “vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou”. Wanneer het hierdie “uitgang van die woord” plaasgevind? Volgens die Bybelskrywer Nehemia het die woord om die mure van Jerusalem te herbou, “in die twintigste jaar van koning Artasasta” uitgegaan (Nehemia 2:1, 5-8). Geskiedkundiges bevestig dat die jaar 474 v.G.J. die eerste volle jaar van Artasasta se heerskappy was. Die 20ste jaar van sy heerskappy was dus 455 v.G.J. Nou het ons die beginpunt van die tydperk in Daniël se Messiaanse profesie, dit wil sê 455 v.G.J.
Daniël dui aan hoe lank die tydperk sou wees wat sou lei tot die koms van “Messias die Leier”. Die profesie meld “sewe weke . . . , ook twee-en-sestig weke”—altesaam 69 weke. Hoe lank is hierdie tydperk? Etlike Bybelvertalings noem dat hierdie weke nie sewe dae lank is nie, maar dat dit weke van jare is. Dit wil sê, elke week verteenwoordig sewe jaar. Die eertydse Jode was bekend met hierdie konsep van weke van jare, of eenhede van sewe jaar. Hulle het byvoorbeeld elke sewende jaar ’n Sabbatsjaar gehou (Eksodus 23:10, 11). Die profetiese 69 weke is dus 69 eenhede van 7 jaar elk, of altesaam 483 jaar.
Nou moet ons net tel. As ons vanaf 455 v.G.J. tel, bring 483 jaar ons by die jaar 29 G.J. Dit was presies die jaar toe Jesus gedoop is en die Messias geword het! (Lukas 3:1, 2, 21, 22).a Is dit nie ’n merkwaardige vervulling van Bybelprofesie nie?
a Vanaf 455 v.G.J. tot 1 v.G.J. is 454 jaar. Vanaf 1 v.G.J. tot 1 G.J. is een jaar (daar was geen jaar nul nie). En vanaf 1 G.J. tot 29 G.J. is 28 jaar. As ons dié drie getalle bymekaartel, kry ons altesaam 483 jaar. Jesus is in 33 G.J., gedurende die 70ste week van jare, in die dood “uitgeroei” (Daniël 9:24, 26). Sien Gee ag op Daniël se profesie!, Hoofstuk 11, en Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsye 899-901. Albei word deur Jehovah se Getuies uitgegee.
-
-
Jesus Christus—die beloofde MessiasWat leer die Bybel werklik?
-
-
AANHANGSEL
Jesus Christus—Die beloofde Messias
OM ONS te help om die Messias te identifiseer, het Jehovah God baie Bybelprofete geïnspireer om besonderhede oor die geboorte, die bediening en die dood van hierdie beloofde Verlosser te voorsien. Al hierdie Bybelprofesieë is in Jesus Christus vervul. Hulle is verbasend akkuraat en bevat baie besonderhede. Kom ons kyk ter toeligting hiervan na ’n paar profesieë wat gebeure voorspel het wat met die Messias se geboorte en kinderjare verband hou.
Die profeet Jesaja het voorspel dat die Messias ’n nakomeling van koning Dawid sou wees (Jesaja 9:7). Jesus is dan ook in Dawid se geslagslyn gebore.—Matteus 1:1, 6-17.
Miga, ’n ander profeet van God, het voorspel dat hierdie kind uiteindelik ’n heerser sou wees en dat hy in “Betlehem Efrata” gebore sou word (Miga 5:2). Toe Jesus gebore is, was daar twee dorpe in Israel met die naam Betlehem. Die een was naby Nasaret in die noorde van die land en die ander een naby Jerusalem in Juda. Betlehem naby Jerusalem is vroeër Efrata genoem. Jesus is in daardie dorp gebore, net soos die profesie voorspel het!—Matteus 2:1.
’n Ander Bybelprofesie het voorspel dat die Seun van God “uit Egipte” geroep sou word. Die kind Jesus is na Egipte geneem. Hy is ná die dood van Herodes teruggebring, waardeur die profesie vervul is.—Hosea 11:1; Matteus 2:15.
Die tekste onder die hofie “Profesie” in die “Profesieë aangaande die Messias” bevat besonderhede oor die Messias. Vergelyk dit asseblief met die tekste wat onder die hofie “Vervulling” aangegee word. As jy dit doen, sal dit jou geloof in die waarheid van God se Woord verder versterk.
Terwyl jy hierdie tekste ondersoek, moet jy onthou dat dié wat profeties is, honderde jare voor Jesus se geboorte opgeteken is. Jesus het gesê: ‘Al die dinge wat in die wet van Moses en in die Profete en Psalms oor my geskrywe staan, moet vervul word’ (Lukas 24:44). Soos jy in jou eie Bybel kan sien, is hulle wel vervul—tot in die fynste besonderhede!
-
-
Die waarheid omtrent die Vader, die Seun en die heilige geesWat leer die Bybel werklik?
-
-
AANHANGSEL
Die waarheid omtrent die Vader, die Seun en die heilige gees
MENSE wat in die Drie-eenheid glo, sê dat God uit drie persone bestaan—die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Elkeen van hierdie drie persone is glo gelyk aan die ander, almagtig en sonder ’n begin. Die Drie-eenheidsleer sê dus die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God, en tog is daar net een God.
-