Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Laat niks jou van Jehovah vervreem nie
    Die Wagtoring — 2013 | Januarie 15
    • Laat niks jou van Jehovah vervreem nie

      “Kies . . . vandag vir julle wie julle sal dien.”—JOS. 24:15.

      HOE SAL JY ANTWOORD?

      • Hoe kan jy sekulêre werk in sy plek hou?

      • Hoe kan jy gebalanseerd wees wat ontspanning en vermaak betref?

      • Hoe kan jy jou droefheid die hoof bied as ’n gesinslid Jehovah verlaat?

      1-3. (a) Waarom is Josua ’n goeie voorbeeld van iemand wat die regte keuse in die lewe geneem het? (b) Wat moet ons voor oë hou wanneer ons voor besluite te staan kom?

      “KIES” is ’n kragtige woord. Iemand wat ’n keuse het, het opsies en ’n mate van beheer oor die weg wat hy in sy lewe sal volg. Ter toeligting: Stel jou voor dat ’n man wat op ’n pad loop, skielik voor ’n vurk in die pad te staan kom. Watter pad sal hy kies? As die man weet waarheen hy op pad is, sal een pad hom waarskynlik nader bring aan sy bestemming, terwyl die ander pad hom verder daarvandaan sal neem.

      2 In die Bybel is daar baie voorbeelde van mense wat voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom het. Byvoorbeeld, Kain moes besluit of hy uiting aan sy woede sou gee of dit sou beheers (Gen. 4:6, 7). Josua moes kies of hy die ware God sou dien of valse gode sou aanbid (Jos. 24:15). Josua se doelwit was om na aan Jehovah te bly, en daarom het hy ’n weg gekies wat hom in daardie rigting geneem het. Kain het nie hierdie doelwit gehad nie, en hy het dus ’n weg gekies wat hom verder van Jehovah geneem het.

      3 Soms sal ons dalk voor ’n kruispad te staan kom. As dit gebeur, moet jy jou bestemming, of doelwit, voor oë hou—om Jehovah in alles wat jy doen, te verheerlik en om enigiets te vermy wat sal veroorsaak dat jy jou van hom terugtrek. (Lees Hebreërs 3:12.) In hierdie en die volgende artikel sal ons sewe aspekte van die lewe ondersoek waarin ons nie moet toelaat dat ons besluite ons van Jehovah vervreem nie.

      WERK EN LOOPBAAN

      4. Waarom is dit belangrik om ’n bestaan te maak?

      4 Christene is onder verpligting om hulle en hulle gesinne te onderhou. Die Bybel toon dat iemand wat nie vir sy huisgesin wil sorg nie, erger as ’n ongelowige is (2 Tess. 3:10; 1 Tim. 5:8, vtn. in NW). Sekulêre werk is natuurlik ’n belangrike deel van die lewe, maar as jy nie versigtig is nie, kan jou werk jou van Jehovah vervreem. Hoe?

      5. Watter faktore is belangrik wanneer ons ’n werksaanbod oorweeg?

      5 Gestel jy soek werk. As jy in ’n land woon waar werk skaars is, sal jy dalk in die versoeking kom om die eerste werksaanbod—enige aanbod—te aanvaar. Maar sê nou die aard van die werk is in stryd met Bybelbeginsels? Sê nou die werksure of die reistyd werk toe en terug sal inbreuk maak op jou Christelike bedrywighede of jou tyd met jou gesin? Moet jy die aanbod in elk geval aanvaar omdat jy redeneer dat ’n werk wat nie geskik is nie, beter is as geen werk nie? Onthou: As jy die verkeerde pad kies, kan dit jou van Jehovah vervreem (Heb. 2:1). Hoe kan jy wyse besluite neem, hetsy jy werk soek of jou huidige werk weer in oënskou neem?

      6, 7. (a) Watter doelwitte kan ’n persoon in verband met sekulêre werk hê? (b) Watter doelwit sal jou nader aan Jehovah bring, en waarom?

      6 Soos vroeër gemeld is, moet jy jou bestemming in gedagte hou. Vra jou af: ‘Waarom werk ek nou eintlik?’ As jy sekulêre werk beskou as ’n middel tot ’n doel—om jou en jou gesin in Jehovah se diens te onderhou—sal Jehovah jou pogings seën (Matt. 6:33). Dit is nie asof Jehovah nie ’n oplossing kan vind as jy jou werk verloor of daar ’n onverwagte ekonomiese insinking is nie (Jes. 59:1). Hy “weet . . . hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos”.—2 Pet. 2:9.

      7 Maar sê nou jou doel is bloot om ryk te word? Dalk sal jy dit regkry. Selfs al doen jy dit, moet jy egter in gedagte hou dat sulke “sukses” teen ’n prys kom—’n prys wat jy nie kan bekostig nie. (Lees 1 Timoteus 6:9, 10.) As jy te veel waarde heg aan rykdom of ’n loopbaan, sal dit jou net van Jehovah vervreem.

      8, 9. Wat moet ouers in gedagte hou in verband met hulle gesindheid teenoor sekulêre werk? Verduidelik.

      8 As jy ’n ouer is, moet jy dink aan die uitwerking wat jou voorbeeld op jou kinders het. Wat dink hulle is vir jou die belangrikste—jou loopbaan of jou vriendskap met Jehovah? Sal hulle, as hulle sien dat status, aansien en rykdom die belangrikste in jou lewe is, jou navolg deur ook so ’n rampspoedige weg in te slaan? Sal hulle dalk in ’n mate vir jou as ouer respek verloor? ’n Jong Christen sê: “Vir so lank as wat ek kan onthou, is my pa behep met sy werk. Eers het dit gelyk asof hy so hard werk omdat hy wou hê dat ons gesin net die beste moet hê. Hy wou goed vir ons sorg. Maar in onlangse jare het iets verander. Hy werk en werk, en dan bring hy luukshede huis toe in plaas van noodsaaklikhede. Gevolglik staan ons bekend as die gesin wat baie geld het, eerder as die gesin wat ander in geestelike strewes aanmoedig. Ek sal enige tyd my pa se geestelike ondersteuning bo sy geld kies.”

      9 Ouers, julle moet julle nie van Jehovah vervreem deur te veel klem op julle loopbaan te lê nie. Toon deur middel van julle voorbeeld aan julle kinders dat julle werklik glo dat die grootste rykdom wat ons kan besit, geestelik is, nie materieel nie.—Matt. 5:3.

      10. Wat kan ’n jongmens in gedagte hou wanneer hy of sy ’n beroep wil kies?

      10 Hoe kan jy die regte pad kies as jy ’n jongmens is wat moet besluit watter loopbaan om te volg? Soos ons reeds bespreek het, moet jy weet waarheen jy in die lewe op pad is. Sal die beroep wat jy oorweeg en die opleiding wat jy daarvoor moet ontvang, jou toelaat om Koninkryksbelange in voller mate na te streef, of sal dit jou van Jehovah vervreem? (2 Tim. 4:10). Is dit jou doelwit om die lewenswyse na te volg van mense wie se geluk kom en gaan afhangende van hoeveel geld hulle in die bank het of wat die waarde van hulle aandeleportefeulje is? Of sal jy kies om dieselfde vertroue as Dawid te hê? Hy het geskryf: “Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie” (Ps. 37:25). Onthou: Die een pad sal jou van Jehovah vervreem, terwyl die ander pad jou na die beste lewe moontlik sal lei. (Lees Spreuke 10:22; Maleagi 3:10.) Watter pad sal jy kies?a

      ONTSPANNNING EN VERMAAK

      11. Wat erken die Bybel in verband met ontspanning en vermaak, maar wat moet ons in gedagte hou?

      11 Die Bybel sê nie dat dit verkeerd is om pret te hê of dat ontspanning en vermaak ’n vermorsing van tyd is nie. Paulus het aan Timoteus geskryf dat liggaamlike oefening voordelig kan wees (1 Tim. 4:8). Die Bybel sê selfs dat daar “’n tyd [is] om te lag” en “’n tyd [is] om rond te huppel”, en dit moedig ons aan om genoeg rus te kry (Pred. 3:4; 4:6). Maar as jy nie versigtig is nie, kan ontspanning en vermaak jou van Jehovah vervreem. Hoe? Die gevaar hou verband met die soort ontspanning en vermaak wat jy kies en hoeveel tyd jy daaraan bestee.

      Die regte soort en die regte hoeveelheid ontspanning is verkwikkend

      12. Watter faktore moet jy in gedagte hou wanneer jy ontspanning en vermaak kies?

      12 Kom ons bespreek eers die soort ontspanning en vermaak. Dit is wel moontlik om heilsame vorme van ontspanning en goeie vermaak te vind. Maar baie van wat beskikbaar is, verheerlik dinge wat God haat, insluitende geweld, spiritisme en ongeoorloofde seks. Daarom moet jy die soort ontspanning en vermaak wat jy kies, noukeurig ondersoek. Watter uitwerking het dit op jou? Wakker dit ’n gees van geweld, strawwe mededinging of nasionalisme in jou aan? (Spr. 3:31). Kos dit te veel geld? Kan dit ander laat struikel? (Rom. 14:21). Met watter soort mense bring jou keuse van ontspanning en vermaak jou in aanraking? (Spr. 13:20). Wek dit by jou ’n begeerte om verkeerde dinge te doen?—Jak. 1:14, 15.

      13, 14. Wat moet jy in gedagte hou in verband met die hoeveelheid tyd wat jy aan ontspanningsbedrywighede bestee?

      13 Dink ook aan die hoeveelheid tyd wat jy aan ontspanning en vermaak bestee. Vra jou af: ‘Bestee ek soveel tyd aan ontspanning dat ek min tyd vir geestelike bedrywighede oorhet?’ As jy kies om te veel tyd aan ontspanning en vermaak te bestee, sal jy vind dat jou vrye tyd nie so verkwikkend is soos wat dit kon gewees het nie. Trouens, diegene wat ontspanning in sy plek hou, geniet dit selfs meer. Waarom? Hulle weet dat hulle eers “die belangriker dinge” gedoen het, en daarom ontspan hulle sonder om skuldig te voel.—Lees Filippense 1:10, 11.

      14 Hoewel dit dalk aanloklik lyk om baie tyd aan ontspanningsbedrywighede te bestee, kan dit jou van Jehovah vervreem as jy hierdie pad volg. Kim, ’n 20-jarige suster, het dit uit ondervinding geleer. “Ek het na al die partytjies gegaan”, sê sy. “Daar was elke naweek ’n groot geleentheid—Vrydag, Saterdag en Sondag. Maar nou besef ek dat daar soveel belangriker dinge is om te doen. As ’n pionier staan ek byvoorbeeld sesuur die oggend op vir velddiens, en dit beteken dat ek nie tot een- of tweeuur in die oggend kan kuier nie. Ek weet dat nie alle gesellighede sleg is nie, maar dit kan ’n groot afleiding wees. Soos enigiets anders, moet dit in sy plek gehou word.”

      15. Hoe kan ouers hulle kinders help om verkwikkende ontspanning te geniet?

      15 Dit is ouers se verantwoordelikheid om in hulle materiële, geestelike en emosionele behoeftes en dié van hulle kinders te voorsien. Dit sluit ontspanning in. As jy ’n ouer is, moet jy nie ’n pretbederwer wees wat alle ontspanningsbedrywighede as sleg beskou nie. Terselfdertyd moet jy teen slegte invloede waak (1 Kor. 5:6). Met ’n bietjie dinkwerk, kan jy ontspanning en vermaak vind wat vir jou gesin waarlik verkwikkend is.b So sal jy en jou kinders ’n pad kies wat julle nader aan Jehovah sal bring.

      GESINSVERHOUDINGS

      16, 17. In watter hartseer situasie bevind baie ouers hulle, en hoe weet ons dat Jehovah hulle pyn verstaan?

      16 Die band tussen ’n ouer en ’n kind is so sterk dat Jehovah hierdie verhouding gebruik het om sy liefde vir sy volk toe te lig (Jes. 49:15). Dit is dus normaal om diep bedroef te wees wanneer ’n geliefde gesinslid Jehovah verlaat. “Ek was verpletter”, sê ’n suster wie se dogter uitgesit is. “Ek het gewonder: ‘Hoekom het sy Jehovah verlaat?’ Ek het skuldig gevoel en ek het myself blameer.”

      17 Jehovah verstaan jou pyn. Hy het ook “gekrenk gevoel in sy hart” toe die eerste lid van sy mensegesin, en later die meeste mense wat voor die Vloed gelewe het, in opstand gekom het (Gen. 6:5, 6). Vir diegene wat nog nooit so ’n verlies ervaar het nie, kan dit moeilik wees om te verstaan hoe verpletterend dit kan wees. Nogtans sal dit onverstandig wees om toe te laat dat die verkeerde weg wat ’n uitgesette gesinslid ingeslaan het, jou van Jehovah vervreem. Hoe kan jy dan die diepe droefheid verwerk wat ’n mens ondervind wanneer ’n gesinslid Jehovah verlaat?

      18. Waarom moet ouers hulleself nie blameer as ’n kind Jehovah verlaat nie?

      18 Moenie jouself blameer vir wat gebeur het nie. Jehovah gee mense ’n keuse, en elke toegewyde en gedoopte gesinslid moet “sy eie vrag [van verantwoordelikheid] dra” (Gal. 6:5). Op die ou end hou Jehovah die sondaar verantwoordelik vir sy of haar keuse—nie vir jou nie (Eseg. 18:20). Moet ook nie ander blameer nie. Respekteer Jehovah se reëling om dissipline te gee. Weerstaan die Duiwel—nie die herders wat die gemeente probeer beskerm nie.—1 Pet. 5:8, 9.

      Dit is nie verkeerd om te hoop dat ’n geliefde tot Jehovah sal terugkeer nie

      19, 20. (a) Wat kan die ouers van uitgesette kinders doen om hulle droefheid die hoof te bied? (b) Watter hoop koester sulke ouers tereg?

      19 As jy egter kies om gegriefd te wees teenoor Jehovah, sal jy jou van hom vervreem. Wat jou geliefde gesinslid in werklikheid moet sien, is jou vasbeslotenheid om Jehovah bo alle ander dinge te stel—insluitende die gesinsband. Om die situasie die hoof te bied, moet jy dus seker maak dat jy jou geestelikheid handhaaf. Moet jou nie van jou getroue Christenbroers en -susters afsonder nie (Spr. 18:1). Stort jou hart voor Jehovah uit in gebed (Ps. 62:7, 8). Moenie verskonings soek om met ’n uitgesette gesinslid te assosieer, byvoorbeeld deur e-posse te stuur, nie (1 Kor. 5:11). Wees verdiep in geestelike bedrywighede (1 Kor. 15:58). Die suster wat hierbo aangehaal is, sê: “Ek weet dat ek in Jehovah se diens besig moet bly en myself geestelik sterk moet hou sodat ek my dogter sal kan help wanneer sy tot Jehovah terugkeer.”

      20 Die Bybel sê: “Die liefde . . . hoop alles” (1 Kor. 13:4, 7). Dit is nie verkeerd om die hoop te koester dat jou geliefde sal terugkeer nie. Elke jaar is daar baie oortreders wat berou toon en na Jehovah se organisasie terugkeer. Jehovah hou nie hulle sonde teen hulle nie. Trouens, hy is “vergewensgesind”.—Ps. 86:5.

      KIES WYSLIK

      21, 22. Wat is jy vasbeslote om te doen wanneer dit by die gebruik van wilsvryheid kom?

      21 Jehovah het sy menseskepping wilsvryheid gegee. (Lees Deuteronomium 30:19, 20.) Maar dit gaan gepaard met ’n ernstige verantwoordelikheid. Elke Christen moet hom afvra: ‘Watter pad volg ek? Het ek toegelaat dat my werk of loopbaan, ontspanning en vermaak of gesinsverhoudings my van Jehovah vervreem?’

      22 Jehovah se liefde vir sy volk is konstant. Die enigste manier waarop ons van Jehovah vervreemd kan raak, is as ons kies om ’n verkeerde pad te volg (Rom. 8:38, 39). Maar dit hoef nie te gebeur nie! Wees vasbeslote om nie toe te laat dat enigiets jou van Jehovah vervreem nie. Die volgende artikel sal nog vier aspekte bespreek waarin jy jou vasbeslotenheid kan toon om dit te doen.

      a Vir meer inligting oor hoe om ’n loopbaan te kies, sien hoofstuk 38 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2.

      b Vir wenke, sien bladsye 17-19 in die Ontwaak! van November 2011.

  • Hou aan om nader aan Jehovah te kom
    Die Wagtoring — 2013 | Januarie 15
    • Hou aan om nader aan Jehovah te kom

      “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—JAK. 4:8.

      KAN JY VERDUIDELIK?

      • Hoe kan ons die regte beskouing van tegnologie en gesondheid behou?

      • Hoe kan ons die regte beskouing van geld en trots behou?

      • Hoe kan ons na aan Jehovah bly?

      1, 2. (a) Wat is Satan se “planne”? (b) Wat sal ons help om nader aan God te kom?

      JEHOVAH GOD het mense geskep met die behoefte om nader aan hom te kom. Maar Satan wil hê dat ons soos hy moet dink—dat ons Jehovah nie nodig het nie. Dit is ’n leuen wat Satan bevorder vandat Eva in die tuin van Eden daarmee bedrieg is (Gen. 3:4-6). Deur die geskiedenis heen het ’n groot deel van die mensdom ook hierdie fout begaan.

      2 Gelukkig hoef ons nie in Satan se strik te trap nie. “Ons is nie onkundig omtrent sy planne nie” (2 Kor. 2:11). Satan probeer ons van Jehovah vervreem deur ons te kry om verkeerde besluite te neem. Maar soos die vorige artikel getoon het, kan ons die regte besluite in verband met ons loopbaan, vermaak en gesin neem. Hierdie artikel sal toon hoe dit ons kan help om ‘nader aan God te kom’ as ons tegnologie, gesondheid, geld en trots in die regte plek hou.—Jak. 4:8.

      TEGNOLOGIE

      3. Lig toe hoe tegnologie ten goede of ten kwade gebruik kan word.

      3 Gevorderde elektroniese toestelle is nou regoor die wêreld algemeen beskikbaar. As dit reg gebruik word, kan sulke uitvindings baie nuttig wees. As dit verkeerd gebruik word, kan dit tussen ons en ons hemelse Vader kom. Dink byvoorbeeld aan rekenaars. Die tydskrif wat jy nou lees, is met behulp van rekenaars geskryf en uitgegee. ’n Rekenaar kan doeltreffend vir navorsing en kommunikasie gebruik word en kan soms ’n bron van verkwikkende vermaak wees. Maar ons kan met rekenaartegnologie behep raak. Bemarkers oortuig mense op ’n slim manier dat hulle die nuutste produkte moet hê. Een jong man wou so graag ’n sekere tabletrekenaar hê dat hy stilletjies een van sy niere verkoop het sodat hy dit kon bekostig. Wat ’n kortsigtige opoffering tog!

      4. Wat het een Christen gedoen om sy oormatige rekenaargebruik onder beheer te kry?

      4 Dit is selfs tragieser om jou hegte verhouding met Jehovah prys te gee omdat jy tegnologie misbruik of oormatig gebruik. “Ek weet dat die Bybel sê dat ons ‘die geleë tyd moet uitkoop’ vir geestelike dinge”, sê Jon, ’n Christen in sy laat twintigerjare.a “Maar wanneer dit by rekenaars kom, is ek my eie vyand.” Jon was dikwels tot laat in die nag nog aanlyn. “Hoe moeër ek was, hoe moeiliker was dit vir my om op te hou klets of na kort video’s te kyk—en nie altyd heilsame video’s nie”, het hy gesê. Om hom te help om hierdie slegte gewoonte af te skaf, het Jon sy rekenaar gestel om vanself af te skakel wanneer dit vir hom tyd was om te gaan slaap.—Lees Efesiërs 5:15, 16.

      Ouers, help julle kinders om tegnologie verstandig te gebruik

      5, 6. (a) Watter verantwoordelikhede het ouers teenoor hulle kinders? (b) Hoe kan ouers seker maak dat hulle kinders goeie assosiasie het?

      5 Ouers, julle hoef nie elke beweging van julle kinders te beheer nie, maar julle moet hulle rekenaargebruik monitor. Moenie toelaat dat hulle blootgestel word aan onsedelikheid, gewelddadige speletjies, spiritisme en slegte assosiasie op die Internet net omdat jy hulle besig wil hou of hulle uit die pad wil kry nie. As jy dit doen, kan hulle tot die gevolgtrekking kom: ‘Aangesien Pa en Ma nie omgee nie, is dit seker nie verkeerd nie.’ As ouers is dit julle verantwoordelikheid om julle kinders—insluitende tieners—te beskerm teen enigiets wat hulle van Jehovah kan vervreem. Selfs diere beskerm hulle kleintjies teen gevaar. Stel jou net voor wat ’n berin sal doen as iemand haar welpies bedreig!—Vergelyk Hosea 13:8.

      6 Help jou kinders om heilsame assosiasie te reël met ander voorbeeldige Christene, jonk en oud. En onthou: Jou kinders het tyd saam met jou nodig! Maak dus tyd om te lag, te speel, te werk en saam ‘nader aan God te kom’.b

      GESONDHEID

      7. Waarom wil ons almal gesond bly?

      7 “Hoe voel jy?” Hierdie algemene vraag weerspieël ’n wrede werklikheid. Omdat ons eerste ouers toegelaat het dat Satan hulle van Jehovah vervreem, word ons almal siek. Siekte dien Satan se doel, want wanneer ons siek is, is dit vir ons moeiliker om Jehovah te dien. En as ons doodgaan, kan ons hom glad nie dien nie (Ps. 115:17). Dit is dus net natuurlik dat ons alles in ons vermoë wil doen om gesond te bly.c En ons behoort besorg te wees oor ons broers se gesondheid en welsyn.

      8, 9. (a) Hoe kan ons uiterstes vermy wanneer dit by gesondheid kom? (b) Watter voordele hou dit in om vreugde aan te kweek?

      8 Dit is egter belangrik om uiterstes te vermy. Party beveel sekere diëte, behandelings of produkte ywerig aan—selfs yweriger as wat hulle die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig. Hulle glo dalk opreg dat hulle ander help. Hoe dit ook al sy, dit is nie gepas om die tyd voor of ná vergaderinge by die Koninkryksaal of by byeenkomste te gebruik om gesondheids- of skoonheidsprodukte aan te beveel nie. Waarom nie?

      9 Ons vergader om geestelike sake te bespreek en om ons vreugde, ’n produk van God se heilige gees, te vergroot (Gal. 5:22). As ons by hierdie geleenthede gesondheidsraad of -produkte aanbeveel—hetsy iemand ons daarvoor vra of nie—kan dit afbreuk doen aan die geestelike doel van die geleentheid en ander van hulle vreugde beroof (Rom. 14:17). Elke persoon moet hulle eie besluite in verband met gesondheidsake neem. Wat meer is, niemand het ’n oplossing vir alle siekte nie. Selfs die beste dokters word oud en siek en sterf uiteindelik. En om ons uitermate te bekommer oor ons gesondheid, kan nie ons lewe verleng nie (Luk. 12:25). Aan die ander kant is “’n vreugdevolle hart . . . ’n goeie geneesmiddel”.—Spr. 17:22.

      10. (a) Watter eienskappe is vir Jehovah mooi? (b) Wanneer sal ons die allerbeste gesondheid geniet?

      10 Dit is ook gepas om besorg te wees oor ons voorkoms. Maar ons hoef nie te hard te probeer om elke spoor van veroudering te verwyder nie. Hierdie tekens kan bewys lewer van volwassenheid, waardigheid en innerlike skoonheid. Die Bybel sê byvoorbeeld: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spr. 16:31). Dit is hoe Jehovah ons sien, en ons moet ons deur sy oë probeer sien. (Lees 1 Petrus 3:3, 4.) Sal dit dan verstandig wees om onnodige en moontlik gevaarlike chirurgiese prosedures of mediese behandeling te ondergaan bloot om ons aantrekliker te maak? “Die vreugde van Jehovah” is ’n bron van ware skoonheid wat van binne af uitstraal, ongeag ons ouderdom of gesondheid (Neh. 8:10). Slegs in die nuwe wêreld sal ons heeltemal gesond wees en ons jeugdige skoonheid terugkry (Job 33:25; Jes. 33:24). Tot dan sal praktiese wysheid en geloof ons help om na aan Jehovah te bly terwyl ons die beste maak van ons huidige omstandighede.—1 Tim. 4:8.

      GELD

      11. Hoe kan geld ’n strik word?

      11 Geld is nie ’n euwel nie, en dit is ook nie verkeerd om op eerlike wyse sake te doen nie (Pred. 7:12; Luk. 19:12, 13). Maar as ons ’n “liefde vir geld” in ons laat ontwikkel, sal dit ons beslis van Jehovah vervreem (1 Tim. 6:9, 10). “Die sorge van hierdie stelsel van dinge”, dit wil sê om ons uitermate oor die lewensbenodigdhede te bekommer, kan ons geestelik verstik. Dieselfde geld vir “die bedrieglike krag van rykdom”, die wanopvatting dat rykdom blywende geluk en veiligheid meebring (Matt. 13:22). Jesus het dit duidelik gemaak dat “niemand” God sowel as rykdom met welslae kan dien nie.—Matt. 6:24.

      12. Watter soorte finansiële strikke kom vandag algemeen voor, en hoe kan ons dit vermy?

      12 Die verkeerde beskouing van geld kan tot verkeerde dade lei (Spr. 28:20). Party wat verlok is deur beloftes om vinnig en maklik geld te maak, het loterykaartjies gekoop of by veelvlakkige bemarkingskemas betrokke geraak en selfs ander gemeentelede daarby betrek. Ander is geflous deur beloftes van beleggingsopbrengste wat onrealisties hoog is. Moenie toelaat dat gierigheid jou ’n slagoffer van bedrog laat word nie. Gebruik gesonde verstand. As ’n aanbod te goed klink om te glo, is dit waarskynlik so.

      13. Hoe verskil Jehovah se beskouing van geld van die wêreld s’n?

      13 Jehovah seën ons gebalanseerde pogings om die lewensbenodigdhede te verkry wanneer ons “die koninkryk en sy regverdigheid” eerste stel (Matt. 6:33; Ef. 4:28). Hy wil nie hê dat ons tydens vergaderinge aan die slaap moet raak omdat ons oorwerk is of dat ons ons in die Koninkryksaal oor geld moet sit en bekommer nie. Tog glo baie mense in die wêreld om ons dat hulle hulle daarop moet toespits om geld te maak as hulle ’n veilige toekoms wil hê en later in die lewe wil aftree. Hulle plaas dikwels druk op hulle kinders om dieselfde materialistiese doelwit na te jaag. Jesus het getoon dat sulke denke onredelik is. (Lees Lukas 12:15-21.) Dit herinner ons moontlik aan Gehasi, wat gedink het dat hy gierig kon wees en terselfdertyd ’n goeie verhouding met Jehovah kon behou.—2 Kon. 5:20-27.

      14, 15. Waarom moet ons nie op die finansiële stelsel vertrou as ’n bron van sekuriteit nie? Gee ’n voorbeeld.

      14 Volgens berig het arende al versuip wanneer hulle nie ’n vis wou laat gaan wat te swaar was om in hulle kloue weg te dra nie. Kan iets soortgelyks met ’n Christen gebeur? “Ek is gewoonlik baie spaarsaam”, verduidelik ’n ouer man met die naam Alex. “As ek te veel sjampoe uitgooi, gooi ek weer ’n bietjie in die bottel terug.” Tog het Alex op die aandelemark begin spekuleer omdat hy gedink het dat hy kort voor lank uit sy werk sal kan bedank en dan kan begin pionier. Hy het al hoe meer tyd daaraan bestee om verskeie aanbiedings en markverslae te bestudeer. Hy het sy spaargeld en geld wat hy by makelaars geleen het, gebruik om aandele te koop wat markontleders voorspel het vinnig in waarde sou toeneem. Maar die aandelepryse het skerp gedaal. “Ek was vasbeslote om my geld terug te kry”, vertel Alex. “Ek het gedink dat die aandelepryse sou styg as ek net ’n bietjie wag.”

      15 Alex kon maande lank aan niks anders dink nie. Dit was vir hom moeilik om op geestelike dinge te konsentreer, en hy het gesukkel om te slaap. Die aandelepryse het egter nooit gestyg nie. Alex het sy spaargeld verloor en moes sy huis verkoop. “Ek het baie pyn vir my gesin veroorsaak”, erken hy. Maar hy het ’n belangrike les geleer. “Nou weet ek dat enigiemand wat sy vertroue stel in Satan se stelsel, diep teleurgestel sal word” (Spr. 11:28). Ja, as ons ons hoop vestig op ons spaargeld, beleggings of vermoë om geld te verdien in hierdie stelsel, beteken dit dat ons ons hoop vestig op “die god van hierdie stelsel”, Satan (2 Kor. 4:4; 1 Tim. 6:17). Sedertdien het Alex sy lewe “ter wille van die goeie nuus” vereenvoudig. Hy sê dat dit hom en sy gesin gelukkiger gemaak het en nader aan Jehovah laat kom het.—Lees Markus 10:29, 30.

      TROTS

      16. Hoe verskil goeie trots van slegte trots?

      16 Dit kan goed wees om op die regte dinge trots te wees. Ons moet byvoorbeeld altyd trots voel om ’n Getuie van Jehovah te wees (Jer. 9:24). ’n Gesonde selfbeeld help ons om goeie besluite te maak en om nie ons sedelike standaarde te verlaag nie. Maar as ons te veel waarde heg aan ons eie beskouings of posisie, kan dit ons van Jehovah vervreem.—Ps. 138:6; Rom. 12:3.

      Pleks van uitermate besorg te wees oor ’n posisie in die gemeente, moet jy eerder jou werk in die bediening geniet!

      17, 18. (a) Gee Bybelvoorbeelde van nederige sowel as trotse mense. (b) Hoe het een broer voorkom dat trots hom van Jehovah vervreem?

      17 In die Bybel is daar voorbeelde van trotse mense sowel as nederige mense. Koning Dawid het nederig op Jehovah vertrou vir leiding, en Jehovah het hom geseën (Ps. 131:1-3). Maar Jehovah het die trotse konings Nebukadnesar en Belsasar verneder (Dan. 4:30-37; 5:22-30). Vandag ontstaan daar ook situasies wat ons nederigheid op die proef stel. Ryan, ’n 32-jarige bedieningskneg, het na ’n nuwe gemeente getrek. “Ek het verwag om gou as ’n ouer man aanbeveel te word”, vertel Ryan, “maar ’n jaar het verbygegaan, en niks het gebeur nie.” Sou Ryan kwaad of verbitterd word en voel dat die ouere manne nie die gepaste respek aan hom betoon nie? Sou hy ophou om vergaderinge by te woon en toelaat dat trots hom van Jehovah en Sy volk vervreem? Wat sou jy gedoen het?

      18 “Ek het alles gelees wat ek in ons publikasies oor uitgestelde verwagting kon vind”, sê Ryan (Spr. 13:12). “Ek het begin besef dat ek geduld en nederigheid moet aankweek. Ek moes toelaat dat Jehovah my oplei.” Ryan het opgehou om op homself te fokus en het hom eerder daarop toegelê om ander te dien—in die gemeente en in die veld. Kort voor lank het hy ’n hele paar progressiewe Bybelstudies gehad. “Toe ek ’n jaar en ’n half later as ’n ouer man aangestel is, was dit vir my ’n verrassing”, sê hy. “Ek het my bediening soveel geniet dat ek my nie meer daaroor bekommer het nie.”—Lees Psalm 37:3, 4.

      BLY NA AAN JEHOVAH!

      19, 20. (a) Hoe kan ons seker maak dat ons daaglikse strewes ons nie van Jehovah sal vervreem nie? (b) Watter voorbeelde van mense wat na aan Jehovah gebly het, kan ons navolg?

      19 Daar is ’n gepaste plek in ons lewe vir al die dinge wat in hierdie en die vorige artikel bespreek is. Ons is trots om Jehovah se knegte te wees. ’n Gelukkige gesin en goeie gesondheid is van Jehovah se grootste gawes. Ons weet dat sekulêre werk en geld ons kan help om in ons behoeftes te voorsien. Ons weet ook dat ontspanning ons kan verkwik en dat tegnologie nuttig kan wees. Maar as ons te veel tyd aan hierdie dinge bestee of dit najaag op die verkeerde tyd of op ’n manier wat met ons aanbidding inmeng, kan dit ons van Jehovah vervreem.

      Laat niks jou van Jehovah vervreem nie!

      20 Satan wil natuurlik hê dat dit moet gebeur. Nogtans kan jy verhoed dat jy en jou gesin in so ’n rampspoedige situasie beland! (Spr. 22:3). Kom nader aan Jehovah, en bly na aan hom. Daar is baie Bybelvoorbeelde wat ons hiermee kan help. Henog en Noag het “met die ware God gewandel” (Gen. 5:22; 6:9). Moses “het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Heb. 11:27). Jesus het altyd God se ondersteuning gehad omdat hy altyd gedoen het wat sy hemelse Vader behaag (Joh. 8:29). Volg sulke voorbeelde na. “Wees altyd bly. Bid onophoudelik. Betuig dank in verband met alles” (1 Tess. 5:16-18). En laat niks jou van Jehovah vervreem nie!

      a Van die name is verander.

      b Sien “Hoe om verantwoordelike kinders groot te maak” in die Ontwaak! van Oktober 2011.

      c Sien “Vyf sleutels tot beter gesondheid” in die Ontwaak! van Maart 2011.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel