-
Pasop vir die Duiwel se strikke!Die Wagtoring — 2012 | Augustus 15
-
-
Pasop vir die Duiwel se strikke!
“Kom . . . uit die strik van die Duiwel.”—2 TIM. 2:26.
HOE SAL JY ANTWOORD?
Watter selfondersoek is nodig as jy geneig is om oormatig krities teenoor ander te wees?
Hoe kan die voorbeelde van Pilatus en Petrus jou help om nie voor vrees en druk te swig nie?
Hoe kan jy oordrewe skuldgevoelens vermy?
1, 2. Watter strikke van die Duiwel sal ons in hierdie artikel bespreek?
DIE Duiwel maak jag op Jehovah se knegte. Sy oogmerk is nie noodwendig om hulle te vernietig, soos ’n grootwildjagter sy prooi doodmaak nie. Die Duiwel se vernaamste oogmerk is eerder om sy prooi lewend te vang en die persoon vir sy doeleindes te gebruik.—Lees 2 Timoteus 2:24-26.
2 Om prooi lewend te vang, gebruik ’n jagter moontlik die een of ander strik. Hy probeer die dier dalk in die oopte uitlok waar hy ’n vangriem kan gebruik. Of hy gebruik miskien ’n versteekte strik wat deur ’n niksvermoedende dier afgetrap word. Die Duiwel gebruik soortgelyke strikke om God se knegte lewend te vang. As ons nie gevang wil word nie, moet ons wakker wees en ag slaan op waarskuwingstekens wat aandui dat een van Satan se strikke, of lokvalle, naby is. Hierdie artikel sal bespreek hoe ons kan waak teen drie van die strikke waarmee die Duiwel al ’n mate van sukses behaal het. Dit is (1) onbeheerste spraak, (2) vrees en druk en (3) oordrewe skuldgevoelens. Die volgende artikel sal nog twee strikke, of lokvalle, van Satan bespreek.
BLUS DIE VUUR VAN ONBEHEERSTE SPRAAK
3, 4. Wat kan dit tot gevolg hê as ons nie ons tong beheers nie? Gee ’n voorbeeld.
3 Om diere uit ’n skuilplek te dryf, steek ’n jagter dalk ’n deel van die bos aan die brand en vang hy die diere terwyl hulle probeer wegkom. In figuurlike sin sal die Duiwel die Christengemeente graag aan die brand wil steek. As hy hierin slaag, kan hy die gemeentelede uit hierdie veilige hawe dryf, reg in sy kloue in. Hoe kan ons onwetend met hom saamwerk en sodoende deur hom verstrik word?
4 Die dissipel Jakobus het die tong met ’n vuur vergelyk. (Lees Jakobus 3:6-8.) As ons nie ons tong beheers nie, kan ons ’n figuurlike bosbrand in die gemeente stig. Hoe kan dit gebeur? Beskou die volgende scenario: By ’n gemeentelike vergadering word daar aangekondig dat ’n sekere suster as ’n gewone pionier aangestel is. Ná die vergadering bespreek twee verkondigers hierdie aankondiging. Die een sê hoe bly sy is en hoop dat alles goed sal gaan met die nuwe pionier. Die ander bevraagteken die pionier se beweegredes en gee te kenne dat sy net aansien in die gemeente nastreef. Watter een van hierdie twee verkondigers wil jy as ’n vriendin hê? Dit is nie moeilik om te sien watter een se spraak meer geneig sal wees om ’n brand in die gemeente te stig nie.
5. Watter selfondersoek moet ons doen as ons die vuur van onbeheerste spraak wil blus?
5 Hoe kan ons die vuur van onbeheerste spraak blus? Jesus het gesê: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond” (Matt. 12:34). Die eerste stap is dus om ons hart te ondersoek. Sorg ons dat die slegte gevoelens wat verwoestende spraak aanvuur, nie by ons posvat nie? Wanneer ons byvoorbeeld hoor dat ’n broer die een of ander diensvoorreg nastreef, glo ons geredelik dat sy beweegredes suiwer is, of dink ons dat hy deur eiebelang aangedryf word? As ons geneig is om sinies te wees, is dit goed om te onthou dat die Duiwel die beweegredes van God se getroue kneg Job bevraagteken het (Job 1:9-11). In plaas van agterdogtig teenoor ons broer te wees, moet ons eerder ontleed waarom ons krities teenoor hom is. Het ons werklik goeie rede om so te wees? Of is ons hart vergiftig deur die liefdelose gees wat gedurende hierdie laaste dae so algemeen is?—2 Tim. 3:1-4.
6, 7. (a) Wat is party redes waarom ons dalk krities teenoor ander is? (b) Hoe moet ons reageer as iemand sleg praat van ons?
6 Kom ons kyk na nog ’n paar redes waarom ons dalk krities teenoor ander is. Een rede is miskien dat ons ons eie prestasies opvallender wil maak. Ons probeer as ’t ware om uit te staan deur ander af te druk. Of ons probeer dalk verskoning soek vir ons versuim om positief op te tree. Hetsy ons deur trots, afguns of onsekerheid aangedryf word, die gevolg is verwoestend.
7 Dalk voel ons geregverdig wanneer ons krities van iemand praat. Miskien was ons al die slagoffer van sy of haar onbeheerste spraak. As dit die geval is, is vergelding nie die antwoord nie. Dít gooi net olie op die vuur en is in ooreenstemming met die Duiwel se wil, nie God s’n nie (2 Tim. 2:26). Ons moet Jesus in hierdie verband navolg. Toe hy uitgeskel is, “het hy nie terug uitgeskel nie”. Hy het hom eerder “bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel” (1 Pet. 2:21-23). Jesus was vol vertroue dat Jehovah op Sý manier en tyd na sake sou omsien. Ons moet dieselfde vertroue in God hê. Wanneer ons ons spraak gebruik om te genees, help ons om die “verenigende band van vrede” in ons gemeente te bewaar.—Lees Efesiërs 4:1-3.
ONTSNAP UIT DIE VANGRIEM VAN VREES EN DRUK
8, 9. Waarom het Pilatus Jesus veroordeel?
8 ’n Dier wat in ’n strik gevang is, kan nie meer vryelik beweeg nie. So ook verloor ’n persoon wat voor vrees en verwante druk swig, ten minste ’n mate van beheer oor sy lewe. (Lees Spreuke 29:25.) Kom ons bespreek die voorbeelde van twee heeltemal verskillende mans wat voor druk en vrees geswig het en kyk wat ons uit hulle ondervinding kan leer.
9 Die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het geweet dat Jesus ’n onskuldige man is en wou hom blykbaar nie leed aandoen nie. Trouens, Pilatus het gesê dat Jesus “niks gedoen [het] wat die dood verdien nie”. Nietemin het Pilatus hom ter dood veroordeel. Waarom? Omdat Pilatus voor die druk van die oproerige skare geswig het (Luk. 23:15, 21-25). “As u hierdie man vrylaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie”, het daardie teenstanders uitgeroep en sodoende druk uitgeoefen om hulle sin te kry (Joh. 19:12). Pilatus was dalk bang dat hy sy posisie—of moontlik sy lewe—sou verloor as hy vir Christus opkom. Hy het hom dus laat oorhaal om die Duiwel se wil te doen.
10. Wat het veroorsaak dat Petrus Christus verloën het?
10 Die apostel Petrus was een van Jesus se intiemste metgeselle. Hy het in die openbaar verklaar dat Jesus die Messias is (Matt. 16:16). Petrus het lojaal gebly toe ander dissipels nie die betekenis van Jesus se woorde begryp het nie en Hom verlaat het (Joh. 6:66-69). En toe vyande Jesus in hegtenis kom neem het, het Petrus ’n swaard gebruik om sy Heer te verdedig (Joh. 18:10, 11). Maar later het Petrus voor vrees geswig en gesê dat hy Jesus Christus nie eens ken nie. Die apostel is ’n kort rukkie deur mensevrees verstrik en het toegelaat dat dit hom verhinder om moedig op te tree.—Matt. 26:74, 75.
11. Met watter negatiewe invloede het ons dalk te kampe?
11 As Christene moet ons druk weerstaan om dinge te doen wat God sal mishaag. Werkgewers of ander probeer ons dalk dwing om oneerlik te wees of probeer miskien om ons te kry om ons aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak. Leerlinge het miskien te kampe met portuurdruk om oneerlik te wees in eksamens, na pornografie te kyk, te rook, dwelms te gebruik, alkohol te misbruik of hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak. Wat kan ons dus help om die strik van vrees en van druk om te doen wat Jehovah mishaag, te vermy?
12. Watter lesse kan ons by Pilatus en Petrus leer?
12 Kom ons kyk wat ons uit die voorbeelde van Pilatus en Petrus kan leer. Pilatus het min kennis omtrent Christus gehad. Nietemin het hy geweet dat Jesus onskuldig is en nie ’n gewone mens is nie. Maar Pilatus het nie nederigheid of liefde vir die ware God gehad nie. Die Duiwel het hom maklik lewend gevang. Petrus het juiste kennis sowel as liefde vir God gehad. Maar hy was by tye nie beskeie nie, het vreesbevange geword en het voor druk geswig. Voor Jesus se inhegtenisname het Petrus gespog: “Selfs al struikel al die ander, tog sal ek nie” (Mark. 14:29). Die apostel sou beter voorbereid gewees het vir die toetse wat voorgelê het as hy dieselfde beskouing gehad het as die psalmis wat sy vertroue in God gestel het en gesing het: “Jehovah is aan my kant; ek sal nie vrees nie. Wat kan die mens aan my doen?” (Ps. 118:6). Op die laaste aand van Sy aardse lewe het Jesus Petrus en twee ander apostels saam met hom diep in die tuin van Getsemane ingeneem. Maar in plaas van wakker te bly, het Petrus en sy metgeselle aan die slaap geraak. Jesus het hulle wakker gemaak en gesê: “Manne, hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Mark. 14:38). Maar Petrus het weer aan die slaap geraak en later voor vrees en druk geswig.
13. Hoe kan ons druk weerstaan om iets verkeerds te doen?
13 Die voorbeelde van Pilatus en Petrus kan ons nog ’n noodsaaklike les leer: Om druk suksesvol te weerstaan, het ons ’n kombinasie van elemente nodig soos juiste kennis, nederigheid, beskeidenheid, liefde vir God en vrees vir Jehovah, nie mense nie. As ons geloof op juiste kennis gegrond is, sal ons moedig en met oortuiging oor ons opvattings praat. Dit sal ons help om druk te weerstaan en mensevrees te bowe te kom. Ons moet natuurlik nooit ons eie krag oorskat nie. Ons moet eerder nederig erken dat ons God se krag nodig het om druk te weerstaan. Ons moet vir Jehovah se gees bid en toelaat dat liefde vir hom ons beweeg om sy naam hoog te hou en sy standaarde te handhaaf. Wat meer is, ons moet ons vir druk voorberei voordat ons voor ’n toets te staan kom. Voorbereiding tesame met gebed kan byvoorbeeld ons kinders help om op die regte wyse te reageer wanneer hulle portuurs hulle probeer kry om iets verkeerds te doen.—2 Kor. 13:7.a
VERMY DIE STRIK WAT VERBRYSEL—OORDREWE SKULDGEVOELENS
14. Tot watter slotsom wil die Duiwel hê moet ons kom in verband met foute wat ons in die verlede begaan het?
14 Soms word ’n strik vir diere gestel deur ’n swaar stomp of klip bo ’n paadjie te hang waarlangs die prooi dikwels loop. ’n Niksvermoedende dier trap die strik af sodat die stomp of klip val en die slagoffer verbrysel. Oordrewe skuldgevoelens kan met daardie swaar, verbryselende voorwerp vergelyk word. Wanneer ons dink aan ’n fout wat ons in die verlede begaan het, voel ons dalk “erg verbryseld”. (Lees Psalm 38:3-5, 8.) Satan wil hê dat ons tot die slotsom moet kom dat ons glad nie Jehovah se barmhartigheid verdien of Sy vereistes kan nakom nie.
15, 16. Hoe kan jy die strik vermy om aan oordrewe skuldgevoelens toe te gee?
15 Hoe kan jy hierdie strik wat verbrysel, vermy? As jy by ernstige sonde betrokke geraak het, moet jy nou stappe doen om jou vriendskap met Jehovah te herstel. Kom in aanraking met die ouer manne, en vra hulle om hulp (Jak. 5:14-16). Doen wat jy kan om die oortreding reg te stel (2 Kor. 7:11). As jy dissipline ontvang, moet jy nie mismoedig word nie. Dissipline is ’n duidelike teken dat Jehovah jou liefhet (Heb. 12:6). Wees vasbeslote om nie die stappe wat tot die sonde gelei het, te herhaal nie, en tree op in ooreenstemming met hierdie voorneme. Nadat jy berou getoon en omgedraai het, moet jy geloof hê dat die losprysoffer van Jesus Christus werklik jou oortredings kan bedek.—1 Joh. 4:9, 14.
16 Party mense hou aan om skuldgevoelens te koester oor sondes waarvoor hulle reeds vergewe is. As dit met jou die geval is, moet jy onthou dat Jehovah Petrus en die ander apostels daarvoor vergewe het dat hulle Sy geliefde Seun in sy grootste uur van nood verlaat het. Jehovah het die man vergewe wat weens skandelike onsedelikheid uit die gemeente in Korinte gesit is, maar wat later berou getoon het (1 Kor. 5:1-5; 2 Kor. 2:6-8). God se Woord praat van growwe sondaars wat berou getoon het en deur God vergewe is.—2 Kron. 33:2, 10-13; 1 Kor. 6:9-11.
17. Wat kan die losprys vir ons doen?
17 Jehovah sal jou oortredings van die verlede vergewe en vergeet as jy waarlik berouvol is en sy barmhartigheid aanvaar. Moet nooit dink dat Jesus se losprysoffer nie jou sondes kan bedek nie. As jy dit doen, sal jy ’n slagoffer van een van Satan se strikke word. Ondanks wat die Duiwel wil hê jy moet glo, kan die losprys die sondes bedek van almal wat in sonde verval het en berou getoon het (Spr. 24:16). Geloof in die losprys kan die las van oordrewe skuldgevoelens van jou skouers verwyder en kan jou die krag gee om God met jou hele hart, verstand en siel te dien.—Matt. 22:37.
ONS IS NIE ONKUNDIG OMTRENT SATAN SE PLANNE NIE
18. Hoe kan ons die Duiwel se strikke vermy?
18 Satan gee nie om in watter strik ons beland nie, solank ons deur hom gevang word. Aangesien ons nie onkundig is omtrent Satan se planne nie, kan ons verhoed dat die Duiwel die oorhand oor ons kry (2 Kor. 2:10, 11). Ons sal nie in sy strikke, of lokvalle, gevang word as ons bid vir wysheid om ons beproewinge die hoof te bied nie. “As een van julle dan wysheid kortkom,” het Jakobus geskryf, “laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5). Ons moet in ooreenstemming met ons gebede optree deur gereeld persoonlike studie te doen en deur God se Woord toe te pas. Die Bybelstudiehulpe wat deur die “getroue en verstandige slaaf”-klas voorsien word, werp lig op die strikke wat deur die Duiwel gestel word en help ons om dit te vermy.
19, 20. Waarom moet ons haat wat sleg is?
19 Gebed en Bybelstudie wek in ons ’n liefde vir wat goed is. Maar dit is ewe belangrik dat ons leer om te haat wat sleg is (Ps. 97:10). As ons peins oor die gevolge van ’n strewe na selfsugtige begeertes, kan dit ons help om sulke begeertes te vermy (Jak. 1:14, 15). Wanneer ons leer om te haat wat sleg is en waarlik lief is vir wat goed is, is die lokaas wat Satan in sy strikke plaas, vir ons afstootlik; dit trek ons glad nie aan nie.
20 Hoe dankbaar is ons tog dat God ons help sodat Satan nie die oorhand oor ons kry nie! Deur middel van Sy gees, Woord en organisasie verlos Jehovah ons “van die bose” (Matt. 6:13). In die volgende artikel sal ons leer hoe om nog twee strikke te vermy wat die Duiwel al met welslae gebruik het om God se knegte lewend te vang.
-
-
Staan vas en vermy Satan se strikke!Die Wagtoring — 2012 | Augustus 15
-
-
Staan vas en vermy Satan se strikke!
“[Staan vas] teen die sette van die Duiwel.”—EF. 6:11.
HOE SAL JY ANTWOORD?
Hoe kan ’n kneg van Jehovah dit vermy om in die strik van materialisme te trap?
Wat kan ’n getroude Christen help om nie in die kuil van egbreuk te val nie?
Waarom meen jy dat dit voordelig is om ferm standpunt in te neem teen materialisme en geslagsonsedelikheid?
1, 2. (a) Waarom het Satan nie medelye vir die gesalfdes en die “ander skape” nie? (b) Watter strikke van Satan sal in hierdie artikel bespreek word?
SATAN DIE DUIWEL het geen medelye vir mense nie, veral nie vir dié wat Jehovah dien nie. Trouens, Satan voer oorlog teen die gesalfde oorblyfsel (Op. 12:17). Hierdie standvastige Christene neem die voortou met die hedendaagse Koninkrykspredikingswerk en het Satan as die heerser van hierdie wêreld ontmasker. Die Duiwel het ook geen liefde vir die “ander skape”, wat die gesalfdes ondersteun en die vooruitsig op ewige lewe het nie—’n vooruitsig wat Satan nie meer het nie (Joh. 10:16). Geen wonder dat hy toornig is nie! Of ons die hemelse hoop of die aardse hoop het, Satan stel nie die minste in ons welsyn belang nie. Sy oogmerk is om ons sy slagoffers te maak.—1 Pet. 5:8.
2 Om sy oogmerk te bereik, stel Satan verskillende strikke, of lokvalle. Aangesien hy “die verstande van die ongelowiges verblind het”, neem hulle nie die goeie nuus aan nie en kan hulle nie hierdie strikke sien nie. Maar die Duiwel verstrik ook party wat wel die Koninkryksboodskap aangeneem het (2 Kor. 4:3, 4). Die vorige artikel het getoon hoe ons drie van Satan se strikke kan vermy: (1) onbeheerste spraak, (2) vrees en druk en (3) oordrewe skuldgevoelens. Kom ons bespreek nou hoe ons kan vasstaan teen twee ander sataniese strikke—materialisme en die versoeking om egbreuk te pleeg.
MATERIALISME—DIE STRIK WAT VERSTIK
3, 4. Hoe kan die sorge van hierdie stelsel van dinge tot materialisme lei?
3 In een van sy illustrasies het Jesus gepraat van saad wat tussen dorings gesaai word. Hy het daarop gewys dat ’n persoon moontlik die woord hoor, ‘maar dat die sorge van hierdie stelsel van dinge en die bedrieglike krag van rykdom die woord verstik en dat hy onvrugbaar word’ (Matt. 13:22). Ja, materialisme is een van die strikke wat ons vyand Satan gebruik.
4 ’n Kombinasie van twee faktore verstik die woord. Een faktor is “die sorge van hierdie stelsel van dinge”. In hierdie ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, is daar baie dinge wat jou angstig kan maak (2 Tim. 3:1). As gevolg van die hoë lewenskoste en toename in werkloosheid sukkel jy dalk om kop bo water te hou. Jy is miskien ook besorg oor die toekoms en wonder: ‘Sal my inkomste genoeg wees wanneer ek aftree?’ Weens hierdie sorge het party rykdom begin najaag omdat hulle dink dat geld veiligheid sal verseker.
5. Hoe kan die “krag van rykdom” bedrieglik wees?
5 Jesus het die ander faktor gemeld—“die bedrieglike krag van rykdom”. Hierdie element tesame met besorgdheid kan die woord verstik. Die Bybel erken dat “geld as ’n beskerming dien” (Pred. 7:12). Maar dit is nie verstandig om rykdom na te jaag nie. Baie het gevind dat hulle in hulle strewe na rykdom al hoe meer deur materialisme verstrik word. Party het selfs ’n slaaf van rykdom geword.—Matt. 6:24.
6, 7. (a) Hoe kan materialisme ’n gevaar word by ons sekulêre werk? (b) Watter faktore moet ’n Christen oorweeg wanneer hy die geleentheid gebied word om oortyd te werk?
6 Die begeerte na rykdom begin moontlik heel onskuldig. Beskou byvoorbeeld hierdie scenario. Jou werkgewer kom na jou toe en sê: “Ek het goeie nuus! Die maatskappy het ’n groot kontrak gekry. Dit sal beteken dat jy oor die volgende paar maande heelwat oortyd moet werk. Maar ek verseker jou dat die geld dit beslis vir jou die moeite werd sal maak.” Hoe sal jy op so ’n aanbod reageer? Om materieel vir jou gesin te sorg, is natuurlik ’n ernstige verantwoordelikheid, maar dit is nie jou enigste verantwoordelikheid nie (1 Tim. 5:8). Daar is etlike ander faktore wat jy in ag moet neem. Hoeveel oortyd sal dit beteken? Sal jou sekulêre werk inbreuk maak op jou geestelike bedrywighede, onder andere gemeentelike vergaderinge en jou aand vir Gesinsaanbidding?
7 Watter faktor sal die grootste invloed op jou besluit uitoefen—watter uitwerking die oortyd op jou bankrekening sal hê of watter uitwerking dit moontlik op jou geestelikheid sal hê? Sal die begeerte om meer geld te maak, veroorsaak dat jy Koninkryksbelange op die agtergrond skuif? Kan jy sien watter uitwerking materialisme op jou sal hê as jy jou en jou gesin se geestelike gesondheid sou verwaarloos? As jy jou nou in hierdie situasie bevind, hoe kan jy dan vasstaan en verhoed dat jy deur materialisme verstik word?—Lees 1 Timoteus 6:9, 10.
8. Watter voorbeelde in die Bybel kan ons help om ons lewenswyse te ondersoek?
8 As jy nie deur materialisme verstik wil word nie, moet jy van tyd tot tyd jou lewenswyse ondersoek. Jy wil nooit soos Esau wees, wat deur sy dade getoon het dat hy geestelike dinge verag nie! (Gen. 25:34; Heb. 12:16). En jy moet beslis nie soos die ryk man wees wat genooi is om sy besittings te verkoop, vir die armes te gee en Jesus te volg nie. In plaas van dit te doen, het die man “bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (Matt. 19:21, 22). Daardie man is deur rykdom verstrik en het gevolglik ’n groot voorreg verbeur—om die grootste man wat nog geleef het, te volg! Pasop dat jy nie die voorreg verbeur om ’n dissipel van Jesus Christus te wees nie.
9, 10. Wat sal jy sê is die skriftuurlike beskouing van materiële dinge?
9 Om oordrewe besorgdheid oor materiële dinge teë te werk, moet jy ag slaan op Jesus se vermaning: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.”—Matt. 6:31, 32; Luk. 21:34, 35.
10 Moenie ’n slagoffer van die bedrieglike krag van rykdom word nie, maar probeer eerder om dieselfde beskouing te hê as die Bybelskrywer Agur, wat gesê het: “Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het” (Spr. 30:8, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Dit is duidelik dat Agur bewus was van die beskermende waarde van geld asook die bedrieglike krag van rykdom. Jy moet besef dat die sorge van hierdie stelsel en die bedrieglike krag van rykdom tot geestelike ondergang kan lei. Oordrewe kommer oor materiële dinge kan al jou tyd en energie in beslag neem sodat jy min of geen begeerte het om Koninkryksbelange na te streef nie. Neem jou dus voor om nie in Satan se strik van materialisme gevang te word nie!—Lees Hebreërs 13:5.
EGBREUK—’N GOED VERSTEEKTE KUIL
11, 12. Hoe kan ’n Christen hom of haar by die werksplek aan egbreuk skuldig maak?
11 Jagters wat ’n sterk dier wil vang, grawe soms ’n kuil op ’n pad waarlangs die prooi dikwels loop. Die kuil word gewoonlik met ’n dun laag stokkies en grond bedek. Een van Satan se doeltreffendste versoekings is soos hierdie strik. Dit is die sonde van onsedelikheid (Spr. 22:14; 23:27). ’n Aantal Christene het in hierdie kuil geval deur toe te laat dat hulle in situasies beland waarin dit baie maklik is om ’n mens se beginsels prys te gee. Party getroude Christene het hulle aan egbreuk skuldig gemaak nadat hulle ’n onvanpaste romantiese verhouding aangeknoop het.
12 ’n Onvanpaste romantiese verhouding kan by jou werksplek ontwikkel. Trouens, ’n sekulêre studie het getoon dat meer as die helfte van owerspelige vroue en bykans 3 uit 4 owerspelige mans ongeoorloofde geslagsomgang met ’n werksmaat gehad het. Vereis jou sekulêre werk dat jy met lede van die teenoorgestelde geslag assosieer? Indien wel, watter soort verhouding het jy met hulle? Stel jy grense sodat dit professioneel bly en nie iets meers word nie? Byvoorbeeld, ná herhaalde informele gesprekke met ’n medewerker praat ’n Christensuster miskien met hom oor persoonlike sake en vertel sy hom dalk selfs van haar huweliksprobleme. Of nadat ’n Christenman vriende gemaak het met ’n vrou saam met wie hy werk, redeneer hy dalk: “Sy stel my mening op prys en luister werklik wanneer ek met haar praat. En sy waardeer my. Ek wens my vrou het my so behandel!” Kan jy sien hoe Christene in sulke situasies gevaar kan loop om egbreuk te pleeg?
13. Hoe kan ’n onvanpaste romantiese verhouding in die gemeente ontwikkel?
13 ’n Onvanpaste romantiese verhouding kan in die gemeente ontwikkel. Beskou hierdie werklike voorbeeld. Daniel en sy vrou, Sarah,a was gewone pioniers. Daniel was ook, soos hy dit stel, “’n ouer man wat nooit nee gesê het nie”. Hy het elke voorreg gretig aanvaar. In sy bediening het Daniel Bybelstudies met vyf jong mans gehou—van wie drie later gedoop is. Hierdie pas gedoopte broers het baie hulp nodig gehad. Wanneer Daniel besig was met al sy teokratiese toewysings, het Sarah dikwels hierdie hulp voorsien. Kort voor lank het hierdie patroon ontwikkel: Daniel se voormalige Bybelstudente het emosionele ondersteuning nodig gehad, en hulle het dit by Sarah gekry. Sy het aandag nodig gehad, en sy het dit by Daniel se Bybelstudente gekry. ’n Dodelik strik is gestel. “Omdat my vrou maande lank van haarself gegee het, het dit haar geestelik en emosioneel uitgeput”, sê Daniel. “Dit, tesame met die feit dat ek haar verwaarloos het, het rampspoedige gevolge gehad. My vrou het egbreuk gepleeg met een van my voormalige studente. Sy het reg onder my neus geestelik swak geword, en ek was te besorg oor al my voorregte om dit selfs agter te kom.” Hoe kan jy so ’n tragedie vermy?
14, 15. Watter faktore kan getroude Christene help om die kuil van egbreuk te vermy?
14 Om die kuil van egbreuk te vermy, moet jy nadink oor die betekenis van ’n huweliksverbintenis. Jesus het gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matt. 19:6). Moet nooit dink dat jou teokratiese voorregte belangriker is as jou huweliksmaat nie. En as jy dikwels weens onbelangrike bedrywighede weg is van jou maat, moet jy besef dat dit ’n aanduiding kan wees dat julle huwelik verswak het en dat dit tot versoeking en moontlik tot ernstige sonde kan lei.
15 Maar gestel jy is ’n ouer man; wat van die kudde? Die apostel Petrus het geskryf: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig” (1 Pet. 5:2). Gemeentelede wat onder jou sorg is, moet beslis nie geïgnoreer word nie. Maar jy moenie jou rol as ’n herder vervul ten koste van jou rol as ’n eggenoot nie. Dit sou sinloos—selfs gevaarlik—wees om al jou aandag daaraan te skenk om die gemeente te voed terwyl jou maat by die huis “honger ly”. Daniel sê: “Die lewe behels baie meer as om só besig te wees om na voorregte om te sien dat jy jou gesin verwaarloos.”
16, 17. (a) Watter praktiese stappe kan getroude Christene by die werksplek doen om ’n duidelike boodskap uit te stuur dat hulle nie vir ’n romantiese verhouding beskikbaar is nie? (b) Gee ’n voorbeeld van gedrukte materiaal wat Christene kan help om egbreuk te vermy.
16 Baie nuttige raad het al in Die Wagtoring en Ontwaak! verskyn om getroude Christene te help om nie in die strik van egbreuk te trap nie. Die Wagtoring van 15 September 2006 het byvoorbeeld hierdie raad gegee: “Wees versigtig vir situasies by die werksplek en elders wat tot intimiteit kan lei. Om byvoorbeeld ekstra ure in noue kontak met iemand van die teenoorgestelde geslag saam te werk, kan tot versoeking aanleiding gee. As ’n getroude man of vrou moet jy duidelik deur jou spraak en gedrag toon dat jy eenvoudig nie beskikbaar is nie. As iemand wat godvrugtige toegewydheid nastreef, sal jy beslis nie ongepaste aandag wil uitlok deur te flankeer of deur onbeskeie kleredrag en persoonsversorging nie . . . As jy foto’s van jou huweliksmaat en jou kinders by die werk het, sal dit vir jou en vir ander ’n sigbare herinnering wees dat hulle jou prioriteit is. Wees vasbeslote om nooit romantiese toenadering aan te moedig—of selfs te duld nie.”
17 Die artikel “Huwelikstrou—Wat beteken dit werklik?” in die Ontwaak! van April 2009 het gewaarsku teen seksuele fantasieë oor iemand anders as jou huweliksmaat. Die artikel het getoon dat seksuele fantasieë die moontlikheid sal vergroot dat jy egbreuk pleeg (Jak. 1:14, 15). As jy getroud is, sal dit verstandig wees as jy en jou huweliksmaat hierdie inligting van tyd tot tyd saam deurgaan. Die huwelik is ’n reëling wat deur Jehovah ingestel is, en dit is heilig. Om tyd opsy te sit om met jou maat oor julle huwelik te praat, is ’n goeie manier om te toon dat jy heilige dinge waardeer.—Gen. 2:21-24.
18, 19. (a) Wat is die gevolge van egbreuk? (b) Watter voordele bring huwelikstrou mee?
18 As jy in die versoeking kom om ’n onvanpaste romantiese verhouding aan te knoop, moet jy peins oor die skadelike gevolge van hoerery en egbreuk (Spr. 7:22, 23; Gal. 6:7). Diegene wat hulle aan onsedelikheid skuldig maak, mishaag Jehovah en maak hulle maat en hulleself seer. (Lees Maleagi 2:13, 14.) Dink in teenstelling hiermee aan die voordele wat diegene geniet wat kuis gedrag handhaaf. Hulle het nie net die hoop om vir ewig te lewe nie, maar geniet nou ook die beste lewe, insluitende ’n skoon gewete.—Lees Spreuke 3:1, 2.
19 Die psalmis het gesing: “Oorvloedige vrede behoort aan dié wat u [God se] wet liefhet, en vir hulle is daar geen struikelblok nie” (Ps. 119:165). Wees dus lief vir die waarheid, en ‘let streng op hoe jy in hierdie bose dae wandel, dat dit nie as ’n onwyse is nie, maar as ’n wyse’ (Ef. 5:15, 16). Die paaie wat ons bewandel, is vol strikke wat Satan stel om ware aanbidders te verstrik. Maar ons is goed toegerus om onsself te beskerm. Jehovah het ons gegee wat ons nodig het om ‘vas te staan’ en ‘al die brandende pyle van die bose te blus’!—Ef. 6:11, 16.
-