Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Ons het almal vertroosting nodig
    Die Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 5
    • VOORBLADONDERWERP | WAAR KAN JY VERTROOSTING VIND?

      Ons Het Almal Vertroosting Nodig

      Onthou jy toe jy as ’n jong kind geval het? Miskien het jy ’n snytjie op jou hand gekry of jou knie nerfaf geval. Kan jy onthou hoe jou ma jou getroos het? Dalk het sy die seerplek skoongemaak en toe ’n pleister opgeplak. Jy het gehuil, maar sy het gerusstellend met jou gepraat en haar arms liefdevol om jou gesit, en dit het jou gou beter laat voel. Op daardie stadium in jou lewe was iemand wat jou kon troos, altyd naby.

      Maar die lewe word ingewikkelder namate ons ouer word. Die probleme word groter, en dit raak al hoe moeiliker om vertroosting te vind. Ongelukkig kan volwassenes se probleme selde opgelos word met ’n pleister en ’n ma se drukkie. Kyk na ’n paar voorbeelde.

      • Dalk het jy die traumatiese ondervinding gehad om jou werk te verloor. Julian sê dat dit ’n skok was toe hy afgedank is en dat dit hom wanhopig laat voel het. ‘Hoe sal ek vir my gesin sorg?’ het hy gewonder. ‘Waarom dink die maatskappy dat ek niks werd is nie nadat ek soveel jare hard gewerk het vir hulle?’

      • Miskien is jy verpletter omdat jou huwelik verbrokkel het. “Toe my man my skielik 18 maande gelede verlaat het, het dit my baie seergemaak. My hart was gebreek”, verduidelik Raquel. “Die pyn was fisies sowel as emosioneel. Dit het my bang gemaak.”

      • Jy het dalk ’n ernstige gesondheidsprobleem en dit lyk nie of jy gaan beter word nie. Soms voel jy dalk soos die aartsvader Job, wat gesê het: “Tot onbepaalde tyd sal ek nie wil lewe nie” (Job 7:16). Miskien voel jy soos Luis, ’n man in sy 80’s, wat erken het: “Soms voel dit asof ek net wag om dood te gaan.”

      • Of moontlik is dit die dood van ’n geliefde wat jou na vertroosting laat smag. “Toe my seun in ’n tragiese vliegongeluk gesterf het, kon ek dit eers nie glo nie”, verduidelik Robert. “Toe het die pyn gekom. Die Bybel gee ’n beskrywing van hierdie soort pyn—dit voel asof ’n lang swaard jou deurboor.”—Lukas 2:35.

      Robert, Luis, Raquel en Julian het vertroosting gevind, selfs in hierdie moeilike omstandighede. Hulle het die beste Persoon gevind wat dit kan bied​—⁠God die Almagtige. Hoe bied hy vertroosting? Sal hy jou ook kan vertroos?

  • Hoe God ons vertroos
    Die Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 5
    • VOORBLADONDERWERP | WAAR KAN JY VERTROOSTING VIND?

      Hoe God Ons Vertroos

      Die apostel Paulus beskryf Jehovaha as “die God van alle vertroosting, . . . wat ons in al ons verdrukking vertroos” (2 Korintiërs 1:3, 4). Die Bybel verseker ons dus dat daar geen persoon is wat nie deur God gehelp kan word nie en dat geen tragedie so groot is dat ons hemelse Vader ons nie kan vertroos nie.

      Ons moet natuurlik iets doen as ons wil hê dat God ons moet vertroos. Hoe kan ’n dokter ons help as ons nie ’n afspraak maak om hom te besoek nie? Die profeet Amos vra: “Sal twee saamloop tensy hulle mekaar volgens afspraak ontmoet het?” (Amos 3:3). Die Skrif spoor ons dus aan: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.

      Hoe kan ons seker wees dat God nader aan ons sal kom? Eerstens, hy sê herhaaldelik dat hy ons wil help. (Sien die bygaande venster.) En tweedens, ons het die getuienis van mense wat al deur God vertroos is—werklike mense uit die verlede sowel as mense wat nou lewe.

      Soos baie mense wat vandag God se hulp nodig het, het koning Dawid ook goed geweet hoe dit voel om tragedies deur te maak. “Hoor die stem van my dringende versoeke wanneer ek tot u om hulp roep”, het hy Jehovah eenkeer gesmeek. Het God gereageer? Ja. Dawid het bygevoeg: “Ek is gehelp, sodat my hart jubel.”—Psalm 28:2, 7.

      JESUS SE ROL OM AL DIE TREURENDES TE VERTROOS

      Dit was God se wil dat Jesus ander vertroos. Van die take wat God Jesus gegee het, was “om die gebrokenes van hart te verbind” en “om al die treurendes te vertroos” (Jesaja 61:1, 2). Soos voorspel is, het Jesus spesiale belangstelling getoon in mense “wat swoeg en swaar belaai is”.—Matteus 11:28-30.

      Jesus het mense vertroos deur hulle wyse raad te gee, deur hulle liefdevol te behandel en in sommige gevalle selfs deur hulle siektes te genees. Eendag het ’n melaatse Jesus gesmeek: “As u net wil, kan u my rein maak.” Jesus het innig jammer vir hom gevoel en gesê: “Ek wil. Word gereinig” (Markus 1:40, 41). En die melaatse is genees.

      Vandag is die Seun van God nie op die aarde om ons persoonlik te vertroos nie. Maar sy Vader, Jehovah, “die God van alle vertroosting”, help nog steeds diegene wat deur moeilike tye gaan (2 Korintiërs 1:3). Kyk na vier dinge wat God gebruik om mense te vertroos.

      • Die Bybel. “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Romeine 15:4.

      • God se heilige gees. Nie lank ná Jesus se dood nie het die hele Christengemeente ’n tydperk van vrede ingegaan. Waarom? “Dit [het] in die vrees van Jehovah en in die vertroosting van die heilige gees gewandel” (Handelinge 9:31). Die heilige gees, God se werkende krag, is baie kragtig. God kan dit gebruik om enigiemand in enige situasie te vertroos.

      • Gebed. “Moet julle oor niks kwel nie”, sê die Bybel vir ons. “Maar laat julle versoeke . . . by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns . . . bewaak.”—Filippense 4:6, 7.

      • Mede-Christene kan ons in ’n moeilike situasie vertroos omdat hulle ware vriende is. Die apostel Paulus het sy medegelowiges beskryf as “’n versterkende hulp” in tye van “nood en verdrukking”.—Kolossense 4:11; 1 Tessalonisense 3:7.

      Maar jy wonder dalk hoe God vertroosting deur middel van hierdie dinge voorsien. Kom ons kyk na die ondervindinge van mense wat die probleme ondervind het wat in die eerste artikel gemeld is. Soos hulle kan jy uitvind dat God nog steeds hierdie bemoedigende belofte nakom: “Soos ’n man wat voortdurend deur sy moeder vertroos word, so sal ek julle voortdurend vertroos.”​—⁠Jesaja 66:⁠13.

      a Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.

      Hoe ons weet dat God ons wil vertroos

      • “U, o Jehovah, het my gehelp en vertroos.”—Psalm 86:17.

      • “‘Vertroos, vertroos my volk’, sê julle God.”—Jesaja 40:1.

      • “Só het Jehovah gesê: . . . ‘Soos ’n man wat voortdurend deur sy moeder vertroos word, so sal ek julle voortdurend vertroos.’”—Jesaja 66:12, 13.

      • “Gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”—Matteus 5:4.

      • “Julle [moet] al julle sorge op hom werp, want hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:7.

  • Vertroosting in moeilike tye
    Die Wagtoring (Publieke uitgawe) — 2016 | Nr. 5
    • VOORBLADONDERWERP | WAAR KAN JY VERTROOSTING VIND?

      Vertroosting in moeilike tye

      Mense kom voor allerhande probleme te staan. Ons kan nie elke probleem hier bespreek nie, maar kom ons kyk van naderby na die vier voorbeelde wat ons reeds genoem het. Let op hoe mense met verskillende probleme deur God vertroos is.

      WERKLOOSHEID

      [Prent op bladsy 6]

      “Ek het geleer om enige werk te aanvaar, en ons het ontslae geraak van alle onnodige uitgawes.”—Jonathan

      “Ek en my vrou het op dieselfde tyd ons werk verloor”, vertel Seth.a “Ons het twee jaar lank die pot aan die kook gehou met die hulp van familielede en ’n paar los werkies. Dit het my vrou, Priscilla, neerslagtig laat word en my laat voel dat ek niks werd is nie.

      “Wat het ons gedurende hierdie tyd gehelp? Priscilla het voortdurend gedink aan Jesus se woorde in Matteus 6:34. Hy het gesê dat ons ons nie moet kwel oor môre nie, want elke dag het sy eie sorge. En haar hartgrondige gebede het haar die krag gegee om voort te gaan. Psalm 55:22 het my vertroos. Soos die psalmis het ek my las op Jehovah gewerp, en ek het gevind dat hy my onderskraag het. Hoewel ek nou ’n werk het, hou ons ons lewe eenvoudig, in ooreenstemming met Jesus se raad in Matteus 6:20-22. Ons het ook nader aan God en nader aan mekaar gekom.”

      “Toe ons klein familiebesigheid bankrot gespeel het, was ek baie bekommerd oor die toekoms”, erken Jonathan. “Weens ’n ekonomiese krisis was 20 jaar se harde werk daarmee heen. Ek en my vrou het oor geld begin stry. Ons was te bang om iets met ’n kredietkaart te koop, ingeval die transaksie nie sou deurgaan nie.

      “Maar God se Woord en sy gees het ons gehelp om goeie besluite te neem. Ek het geleer om enige werk te aanvaar, en ons het ontslae geraak van alle onnodige uitgawes. As Jehovah se Getuies het ons ook ondersteuning van medegelowiges ontvang. Hulle het ons gehelp om ons gevoel van eiewaarde te behou en het hulp verleen toe dit werklik moeilik gegaan het.”

      DIE VERBROKKELING VAN ’N HUWELIK

      “Toe my man my skielik verlaat het, het ek seergemaak en kwaad gevoel”, vertel Raquel. “En ’n verskriklike hartseer het oor my gekom. Maar ek het nader aan God gekom, en hy het my vertroos. Ek het elke dag gebid, en die vrede van God het my hart beskerm. Dit het gevoel asof hy my gebroke hart genees het.

      “Sy Woord, die Bybel, het my gehelp om gevoelens van woede en gegriefdheid te oorkom. Ek het die woorde van die apostel Paulus in Romeine 12:21 ter harte geneem: ‘Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.’

      [Prent op bladsy 7]

      “[Ek het besef] dat daar ’n tyd is om iets ‘as verlore op te gee’. . . . Ek het nou nuwe doelwitte in die lewe.”—Raquel

      “’n Wyse raadgewer het my gehelp om te sien dat ek moet aanbeweeg. Hy het Prediker 3:6 vir my gewys en het vriendelik vir my gesê dat daar ’n tyd is om iets ‘as verlore op te gee’. Dit was reguit raad, maar ek het dit nodig gehad. Ek het nou nuwe doelwitte in die lewe.”

      “Wanneer jou huwelik verbrokkel, het jy ondersteuning nodig”, sê Elizabeth. “Ek het ’n dierbare vriendin wat my dag ná dag ondersteun het. Sy het saam met my gehuil, my vertroos en my geliefd laat voel, nie verworpe nie. Ek is daarvan oortuig dat Jehovah haar gebruik om my emosionele wonde te genees.”

      SIEKTE OF BEJAARDHEID

      [Prent op bladsy 7]

      “Nadat ek tot God gebid het, voel ek hoe sy gees my krag gee.”—Luis

      Luis, wat in die eerste artikel van hierdie reeks aangehaal is, het ’n ernstige hartkwaal en het al twee keer by die dood omgedraai. Hy is nou 16 uur per dag op suurstof. “Ek bid voortdurend tot Jehovah”, sê hy. “En nadat ek tot God gebid het, voel ek hoe sy gees my krag gee. Gebed gee my die moed om voort te gaan omdat ek geloof in God het en weet dat hy vir my omgee.”

      “Ek wil so baie dinge doen, maar ek kan nie”, verduidelik Petra, wat in haar 80’s is. Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat my krag al hoe minder word. Ek voel uitgeput en kan nie sonder medikasie klaarkom nie. Ek dink dikwels aan hoe Jesus sy Vader gevra het om ’n sekere beproewing te laat verbygaan as dit moontlik was. Maar Jehovah het Jesus krag gegee, en hy versterk my ook. Gebed is my daaglikse terapie. Ek voel baie beter nadat ek met God gepraat het.”—Matteus 26:39.

      Julian, wat al byna 30 jaar aan veelvuldige sklerose ly, voel ook so. “Ek het ’n sakeman se stoel vir ’n rolstoel verruil”, sê hy. “Maar my lewe is die moeite werd omdat ek dit gebruik om ander te dien. Om van jouself te gee, kan ’n mens se lyding verlig, en Jehovah kom sy belofte na om ons te versterk wanneer ons dit nodig het. Soos die apostel Paulus kan ek waarlik sê: ‘Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.’”—Filippense 4:13.

      DIE DOOD VAN ’N GELIEFDE

      “Toe my pa in ’n ongeluk dood is, kon ek dit eers nie glo nie”, vertel Antonio. “Dit het so onregverdig gevoel—hy was net ’n onskuldige voetganger. Maar daar was niks wat ek kon doen nie. Hy was vyf dae lank in ’n koma voordat hy gesterf het. Ek het dit reggekry om nie voor my ma te huil nie, maar ek kon die trane nie keer wanneer ek alleen was nie. ‘Hoekom? Hoekom?’ het ek bly vra.

      “Gedurende daardie verskriklike tyd het ek Jehovah bly vra om my te help om my emosies te beheers en om my gemoedsrus te gee. En ek het uiteindelik kalmer gevoel. Ek het daaraan gedink dat die Bybel toon dat ‘onvoorsiene gebeurtenisse’ enigeen van ons kan tref. Aangesien God nie kan lieg nie, is ek seker dat ek my pa weer in die opstanding sal sien.”—Prediker 9:11; Johannes 11:25; Titus 1:2.

      [Prent op bladsy 6]

      “Hoewel ons seun in ’n vliegongeluk gesterf het, het ons nog steeds baie aangename herinneringe aan die tye wat ons saam geniet het.”​​—⁠Robert

      Robert, wat in die eerste artikel genoem is, het ook so gevoel. Hy sê: “Ek en my vrou het die gemoedsrus ondervind waarvan Filippense 4:6, 7 praat. Ons gebede tot Jehovah het ons gehelp om dit te verkry. Hierdie innerlike vrede het ons gehelp om met verslaggewers te praat oor die opstandingshoop. Hoewel ons seun in ’n vliegongeluk gesterf het, het ons nog steeds baie aangename herinneringe aan die tye wat ons saam geniet het. Ons probeer om daarop te konsentreer.

      “Wanneer mede-Getuies vir ons gesê het dat hulle op die televisie gesien het hoe ons kalm oor ons geloof praat, het ons vir hulle gesê dat dit danksy al hulle gebede ten behoewe van ons was. Ek glo waarlik dat Jehovah ons deur middel van al hulle vertroostende boodskappe ondersteun het.”

      Soos al hierdie voorbeelde toon, kan God mense vertroos, maak nie saak met watter probleme of uitdagings hulle te kampe het nie. Wat van jou? Ongeag met watter probleme jy te kampe het, jy kan vertroosting vind wat jou deur moeilike tye sal help.b Vra Jehovah gerus vir hulp. Hy is “die God van alle vertroosting”.—2 Korintiërs 1:3.

      a Van die name in hierdie artikel is verander.

      b As jy graag nader aan God wil kom en sy vertroosting wil ontvang, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom of aan die naaste takkantoor skryf.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel