Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb08 bl. 66-255
  • Rusland

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Rusland
  • 2008 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • MOEDIGE GETUIENISWERK ONDER DIE GEESTELIKES IN MOSKOU
  • ‘GEEN GEREEDHEID VIR DIE WAARHEID IN RUSLAND NIE’
  • ’N “DAG VAN KLEIN DINGE” BEGIN
  • ‘BAIE SIELE SMAG NA GOD’
  • ’N PREDIKINGSREIS VAN TWEE MAANDE WORD VERLENG
  • DIE BYBELSTUDENTE EN DIE BOLSJEWISTE
  • ‘STUUR VIR MY IETS VAN ALLES’
  • GETUIENISWERK ONDER RUSSE IN ANDER LANDE
  • DIE SITUASIE VERANDER
  • DIE BEHOEFTE AAN GOEIE VERTALING
  • RADIO-UITSENDINGS
  • ’N VERANDERING VIND PLAAS
  • GEREED OM VAS TE STAAN
  • “LAAT HULLE ELKEEN NA SY PLEK GAAN”
  • BAIE WERK LÊ VOOR
  • BRIEWE WORD OOR DIE HEINING GEGOOI
  • ‘INLIGTING MOET VERSTREK WORD’
  • POGINGS OM REGISTRASIE TE VERKRY
  • ‘JOU JEHOVAH SAL JOU NIE HIERUIT BEVRY NIE’
  • GERED DEUR CHRISTELIKE NEUTRALITEIT
  • VERBAN NA SIBERIË
  • “NET DIE TEENOORGESTELDE VAN WAT VERWAG IS”
  • ‘ONS SOU JULLE ALMAL GESKIET HET’
  • GETUIES IN MEER AS 50 KAMPE
  • BESKULDIG DAT HULLE HULLE DOGTER SE OOR AFGESKEUR HET
  • “ONS WAS TROTS OP ONS KINDERS”
  • OUERS HET ’N GOEIE VOORBEELD GESTEL
  • DIE BYBEL WORD AS ANTI-SOWJET BESKOU
  • SAADJIES VAN WAARHEID WORD IN MOSKOU GESAAI
  • LESINGS HET PARTY GEHELP OM DIE WAARHEID TE LEER
  • DIE PREDIKER SAL ALTYD TERUGKOM
  • MONITERING NIE ALTYD SUKSESVOL NIE
  • DIE KGB INFILTREER DIE ORGANISASIE
  • ’N HOFSAAK WAT WYE PUBLISITEIT GENIET HET
  • ALGEHELE CHAOS IN DIE HOF
  • “HIERDIE BRIEF HET ONS HARTE VERBLY!”
  • VREUGDEVOL HERENIG IN AANBIDDING
  • HELENDE GEESTELIKE VOEDSEL
  • DIE SKAPE HOOR DIE STEM VAN HULLE HERDER
  • KOSBARE STUKKIES FILM
  • ONDERGRONDSE DRUKKERYE IN SIBERIË
  • DUPLISERING VAN LEKTUUR IN MOSKOU
  • “LAAT ARMAGEDDON KOM!”
  • “IS DAAR ENIGE JONADABS HIER?”
  • ‘KAN MET ANDER OOR DIE WEG KOM’
  • HOË BLOMPLANTE BIED GOEIE SKUILING
  • “EK HET GENOEG GEHAD VAN JOU!”
  • “JULLE TYD HET AANGEBREEK”
  • ‘JULLE HET “HEILIGE WATER”’
  • ‘ONS SAL IN GROEPE NA JULLE TOE KOM’
  • “DIE OPSIGTERS HET ONS DOPGEHOU, EN EK HET HULLE DOPGEHOU”
  • SPINNERAK-WAGTORINGS
  • ’N GESPREK MET DIE PROKUREUR-GENERAAL
  • “JULLE HET ’N PLESIEROORD VIR DIE GETUIES GESKEP”
  • KONINKRYKSLIEDERE BY ’N MAKSIMUMSEKURITEITSKAMP
  • HY WAS IN “’N ANDER LAND”
  • “NOU PREEK HULLE WEER”
  • ’N OFFISIER HERKEN SY BYBEL
  • DIE GEDENKMAAL WORD GEHOU
  • DIE GEDENKMAAL IN ’N VROUEKAMP
  • ‘ONS HET STYF TEEN MEKAAR GESTAAN’
  • “HY SAL DIT IN 50 STUKKIES VERDEEL!”
  • BONUSSE VIR GOEIE GEDRAG
  • ’N GETUIENIS AGTER GLAS
  • ‘GAAN TERUG WERK TOE’
  • “EK STEEK AL VAN 1947 AF LEKTUUR WEG”
  • PERESTROIKA—’N TYD VAN VERANDERING
  • ’N HARTLIKE ONTVANGS IN MOSKOU
  • “WATTER VREUGDE, WATTER VRYHEID!”
  • ’N GROOT DEUR WAT TOT BEDRYWIGHEID LEI
  • ORGANISERING VAN DIE WERK
  • ONTSAGLIKE AFSTANDE
  • ONVERGEETLIKE STREEKBYEENKOMSTE
  • ROTSE, SKILDE EN SWAARDE
  • WAARNEMERS TYDENS STUDIES
  • HAAR GEBED IS VERHOOR
  • GEESTELIKE VOEDSEL WORD IN 11 TYDSONES AFGELEWER
  • DIE GROEI SKEP ’N BEHOEFTE
  • ‘EK IS GOD VIR DIE PASIËNT’
  • JEHOVAH “BESPOEDIG” DIE OES
  • BYBELSTUDIES MET GROEPE VAN VYFTIG
  • SAMEKOMSTE ONDANKS TEENSTAND
  • ’N BYEENKOMS “ONDER DIE STERRE”
  • DOWES LOOF JEHOVAH
  • DIE GOEIE NUUS IN ELKE TAAL
  • PIONIERS ONTVANG OPLEIDING
  • JONGMENSE VERHEERLIK JEHOVAH
  • OP SOEK NA “BEGEERLIKE DINGE” IN SACHA
  • DIE GOEIE NUUS OP SACHALIN
  • DIE DEUR GAAN OOP ONDANKS BAIE TEENSTANDERS
  • GOD SE NAAM IS GROOT IN RUSLAND
2008 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb08 bl. 66-255

Rusland

“VAN die opgang van die son af, ja, tot sy ondergang sal my naam groot wees onder die nasies” (Mal. 1:11). Ons sien vandag in Rusland hoe hierdie verstommende profesie wat ongeveer 2 450 jaar gelede deur Jehovah uitgespreek is, bewaarheid word. Wanneer die son oor Jehovah se lojale knegte in die westelike stad Kaliningrad ondergaan, kom dit alreeds, 11 tydsones na die ooste, op oor die verkondigers op die Tsjoektsji-skiereiland, wat deur die Beringstraat van Alaska geskei word. Ja, die son gaan nooit onder oor die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk in Rusland nie. Die onvermoeide werk van moedige broers en susters gedurende die Sowjet-era is ryklik geseën. Soos ons sal sien, het hulle wrede vervolging die hoof gebied en só die weg gebaan vir die meer as 150 000 verkondigers wat vandag in Rusland dien.

Rusland, wat amptelik die “Russiese Federasie” genoem word, is nie ’n land met net een nasie of een volk nie. Soos die naam aandui, is dit ’n federasie van nasies, ’n mosaïek van stamme, tale en volke, wat elkeen sy unieke kultuur het. Ons verhaal begin in hierdie ontsaglike etniese, taalkundige en godsdienstige mosaïek, nie die demokratiese Rusland van vandag nie, maar die Russiese Ryk van meer as honderd jaar gelede, wat destyds deur ’n tsaar regeer is.

MOEDIGE GETUIENISWERK ONDER DIE GEESTELIKES IN MOSKOU

Gedurende ’n tyd van godsdienstige herlewing het Semjon Kozlitski, ’n baie godsdienstige man wat aan ’n Russies-Ortodokse kweekskool gegradueer het, vir Charles Taze Russell ontmoet, wat toesig gehou het oor die werk van die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Nina Loeppo, Semjon se kleindogter, het verduidelik: “My oupa het in 1891 na die Verenigde State gereis en broer Russell ontmoet. Hy het ’n foto van die twee van hulle gehad en altyd van sy broer Russell gepraat.” In die laat 1800’s het broer Russell en sy metgeselle die leiding geneem in die werk om ware aanbidding te herstel deur die kragtige waarhede van die Bybel te verkondig. Hierdie werk het onder andere behels dat die valse leerstellings van die Christendom se kerke blootgelê en hulle geestelikeklas aan die kaak gestel word. Bybelwaarheid, sowel as die ywer vir ware aanbidding wat broer Russell en sy metgeselle aan die dag gelê het, het Semjon beweeg om moedig vir die geestelikes in Moskou te preek. Wat was die gevolg?

“Hy is onmiddellik sonder verhoor in boeie na Siberië verban omdat hy na bewering die aartsbiskop van Moskou beledig het”, het Nina geskryf, “en só het die woord van God Siberië in 1891 bereik.” Semjon Kozlitski is uiteindelik verskuif na die deel van Siberië wat nou by die hedendaagse Kazakstan ingelyf is. Daar het hy tot sy dood in 1935 die woord van God ywerig bly verkondig.

‘GEEN GEREEDHEID VIR DIE WAARHEID IN RUSLAND NIE’

In die jaar dat Semjon Kozlitski verban is, het broer Russell Rusland vir die eerste keer besoek. Sy woorde in verband met hierdie besoek, naamlik “ons het geen geleentheid of gereedheid vir die waarheid in Rusland gesien nie”, word dikwels aangehaal. Het hy bedoel dat die mense daar nie na die waarheid wou luister nie? Nee. Die outokratiese regime het mense verhinder om die waarheid hoor.

Broer Russell het in Zion’s Watch Tower van 1 Maart 1892 uitgewei oor hierdie situasie en geskryf: “In Rusland het die regering ’n ontsettende sterk houvas op elkeen in die ryk, en die vreemdeling in hulle poorte word altyd met agterdog bejeën. Hy moet sy paspoort toon by elke hotel en treinstasie voordat hy ’n stad of dorp binnegaan of verlaat. Die hoteleienaar neem jou paspoort en gee dit vir die polisiehoof, wat dit hou totdat jy gereed is om te vertrek, sodat daar maklik vasgestel kan word presies wanneer enige vreemdeling die land binnegekom of verlaat het. Amptenare en gesaghebbendes toon kille beleefdheid, ’n aanduiding dat jou teenwoordigheid bloot geduld word, en enige boeke of dokumente in jou besit word deeglik ondersoek om seker te maak dat niks daarin bedoel is om hulle idees te ondermyn nie.”

Dit lyk miskien of die verkondiging van die goeie nuus onder sulke toestande min sukses sou hê. Maar niks kon voorkom dat die saadjies van waarheid in Rusland ontkiem nie.

’N “DAG VAN KLEIN DINGE” BEGIN

Reeds in 1887 het Zion’s Watch Tower gemeld dat nommers van dié tydskrif na verskillende plekke, “selfs Rusland”, gepos is. In 1904 het ’n brief van ’n groepie Bybelstudente in Rusland gemeld dat hulle Bybellektuur ontvang het, hoewel nie sonder probleme nie. Die brief het verduidelik: “Die lektuur het aandag getrek en is amper nie deurgelaat” deur regeringsensors nie. Hierdie groepie was so dankbaar om die lektuur te ontvang dat hulle gesê het: “Dit is soos goud hier—dit is baie moeilik om in die hande te kry.” Hulle het getoon dat hulle besef wat die doel van die lektuur is en geskryf: “Mag die Here ons nou sy seën gee, asook die geleentheid om hierdie lektuur te versprei.”

Ja, die verkondiging van die goeie nuus in Rusland het in alle erns begin, en ware aanbidding het ’n klein maar betekenisvolle vastrapplek gekry. Dit was ’n klein begin. Maar soos die profeet Sagaria geskryf het: “Wie het die dag van klein dinge verag?”—Sag. 4:10.

In die daaropvolgende jare het ywerige broers in Duitsland lektuur na Rusland gestuur. Baie van hierdie lektuur was in Duits, en talle Duitssprekende mense het die waarheid aangeneem. In 1907 het lede van ’n Duitse Baptistekerk in Rusland eksemplare van die boekreeks Millennial Dawn ontvang, wat aan hulle gepos is. Toe 15 van hierdie mense ’n standpunt vir ware aanbidding ingeneem het, het die kerk hulle geëkskommunikeer. Later het die predikant wat hulle teëgestaan het, geloof begin stel in die waarhede wat in die Millennial Dawn uiteengesit is.

In 1911 het die werk op ’n ongewone manier ’n hupstoot gekry—deur middel van ’n wittebroodsreis. Ná hulle troue het die Herkendells, ’n jong paartjie van Duitsland, ’n predikingsreis na Rusland onderneem om Duitssprekende mense te help. Tot die Herkendells se vreugde het hulle afgesonderde groepe Koninkryksverkondigers gevind en hulle geestelik gehelp.

Vroeër het ’n leser in Rusland geskryf: “Die lektuur uit Duitsland is vir my so kosbaar soos wat die hemelse manna vir die kinders van Israel was. . . . Hoe jammer is ons tog dat die lektuur nie in Russies is nie! Ek maak van elke geleentheid gebruik om verskillende items in Russies te vertaal.” So het vertaling begin; nog baie meer sou volg.

‘BAIE SIELE SMAG NA GOD’

In 1911 het R. H. Oleszynski, ’n Poolse broer in Warskou, Pole, waarvan ’n deel destyds by die Russiese Ryk ingelyf was, gereël dat die traktaat Waar is die dode? in Russies gedruk word. In ’n brief aan broer Russell het hy geskryf: “Ek sluit ’n eksemplaar in . . . Hulle het drie-en-sewentig roebels vir tienduisend eksemplare gevra . . . Daar is baie probleme, maar daar is ook baie siele wat na God smag.” Hierdie traktate, sowel as ander lektuur, is onder Russiessprekende mense versprei, wat dit na Rusland geneem het. ’n Belangrike mylpaal is dus in hierdie nuwe taalveld bereik. Kort daarna is ook ander lektuur—traktate, brosjures en boekies—gedruk. Met verloop van tyd sou selfs ambisieuser vertaalpogings aangewend word.

In 1912 het broer Russell Finland besoek, wat destyds deel van die Russiese Ryk was. Kaarlo Harteva het volmag ontvang om namens die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in Finland op te tree. Op 25 September 1913 het die tsaar se verteenwoordiger, die Russiese Rykskonsul in New York, ’n regeringseël op die volmag aangebring en dit onderteken.

’N PREDIKINGSREIS VAN TWEE MAANDE WORD VERLENG

Kort voordat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, het Joseph F. Rutherford as verteenwoordiger van die organisasie uit Brooklyn vertrek op ’n reis na etlike lande. Op hierdie reis het hy ’n Bybelstudent met die naam Dojczman in die Poolse stad Lodz ontmoet. Kort daarna het broer Dojczman en sy gesin op ’n predikingsreis deur Rusland vertrek wat twee maande sou duur. Die uitbreek van die oorlog het egter hulle reis verleng.

Ná baie ontberinge het die Dojczmans hulle in ’n dorpie aan die oewer van die Wolgarivier bevind. Teen 1918 het hulle besluit om na Pole terug te keer, maar ’n pokke-epidemie het hulle verhoed om dit te doen. Daarna is die grense gesluit omdat burgeroorlog uitgebreek het. Drie van die kinders het gedurende hierdie jare gesterf—een aan pokke, een aan longontsteking en een weens ander oorsake.

Daar was wydverspreide honger en paniek. Mense het op straat van honger gesterf. In die chaos wat gevolg het, is talle mense, veral buitelanders, daarvan beskuldig dat hulle by “vyandelike” aangeleenthede betrokke is en is hulle sonder verhoor summier tereggestel. Eendag het ’n man, vergesel van ’n gewapende soldaat, by die Dojczmans se huis ingebars.

“Hy’s ’n vyand, gryp hom!” het die man geskreeu.

“Waarom?” het die soldaat gevra. “Wat het hy gedoen?”

Die man wou dinge so bewerk dat hy broer Dojczman nie hoef te betaal vir timmerwerk wat hy gedoen het nie. Nadat die soldaat na albei kante van die saak geluister het, het hy besef dat die man slegte beweegredes het en het hy hom uit die huis gegooi. Toe het die soldaat vir broer Dojczman gesê dat hy ’n bespreking onthou wat hulle oor Bybelonderwerpe gehad het. Daardie bespreking het waarskynlik gehelp om broer Dojczman en sy gesin se lewens te red. In 1921 het die Kommunistiese regering die militêre opstand onderdruk, en die burgeroorlog het geëindig. Die Dojczmans was kort daarna op pad huis toe na Pole.

DIE BYBELSTUDENTE EN DIE BOLSJEWISTE

Die geringe kontak wat die broers in Rusland met dié op ander plekke gehad het, is deur die Eerste Wêreldoorlog beëindig. Soos Christus se broers regoor die wêreld, was dié in Rusland waarskynlik ook onseker oor presies wat Christus se kroning as koning sou beteken. Min het hulle geweet dat hulle land weldra betrokke sou wees by van die merkwaardigste gebeure van die 20ste eeu, waarvan talle Bybelprofesieë vervul het.

Teen die einde van 1917 het die Russiese Revolusie die 370 jaar lange heerskappy van die tsaars tot ’n einde gebring. Onbewus van die teenwoordigheid van die Here Jesus Christus, het Rusland se nuwe heersers, die Bolsjewiste, ambisieuse planne gehad om ’n nuwe menslike regeringsvorm tot stand te bring, een wat van alle vorige vorme sou verskil. Binne ’n paar jaar het die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke, of die USSR, dus vorm aangeneem. Dit sou uiteindelik byna ’n sesde van die aarde se landmassa insluit.

Dit is opmerkenswaardig dat Wladimir Lenin, die eerste leier van die Sowjetunie, ’n paar jaar voor die Russiese Revolusie gesê het: “Elkeen moet volkome vry wees, nie net om die godsdiens van sy keuse te bely nie, maar ook om sy godsdiens te verkondig of om van godsdiens te verander. Geen beampte behoort die reg te hê om iemand selfs oor sy godsdiens te vra nie: dit is vir elkeen ’n gewetensaak, en niemand het die reg om daarmee in te meng nie.”

In party dele van die land het hierdie amptelike beginsels van die Sosiaal-Demokratiese Party opregte persone toegelaat om Bybelwaarhede aan ander bekend te maak. Maar oor die algemeen was die nuwe Staat van die begin af ateïsties en het dit ’n vyandige standpunt teenoor godsdiens ingeneem en dit “die opium van die volk” genoem. Een van die eerste dinge wat die Bolsjewiste gedoen het, was om ’n verordening uit te vaardig wat Kerk en Staat geskei het. Onderrigting deur godsdiensorganisasies is onwettig verklaar, en kerkeiendom is genasionaliseer.

Hoe sou hierdie nuwe regering daardie verspreide groepe Bybelstudente beskou, wie se trou aan God se Koninkryk behoort het? ’n Bybelstudent wat ’n ruk ná die revolusie van 1917 uit Siberië geskryf het, het hierdie somber prentjie geskilder: “Julle is waarskynlik bewus van die situasie hier in Rusland. Ons het ’n Sowjetregering wat op Kommunistiese beginsels gegrond is. ’n Mens kan weliswaar tekens van die bekende strewe na geregtigheid sien, maar alles wat met God verband hou, word verwerp.”

Teen 1923 het teenstand teen die Bybelstudente toegeneem. Die broers het geskryf: “Hierdie brief word geskryf om julle in te lig oor wat in Rusland gebeur. . . . Ons het die noodsaaklikhede, voedsel, klere, . . . maar ons het geestelike voedsel dringend nodig. Die boeke wat aan ons gestuur is, is deur die regering gekonfiskeer. Ons smeek julle dus om uittreksels uit al die lektuur wat julle in Russies het, in briefvorm vir ons te stuur . . . Talle smag na die Woord van Waarheid. Vyf persone het onlangs hulle toewyding deur waterdoop getoon, en vyftien Baptiste het ook by ons aangesluit.”

The Watch Tower van 15 Desember 1923 het gesê: “Die Genootskap wend ’n poging aan om die lektuur in Rusland in te kry en sal deur die Here se genade voortgaan om dit te doen.” Teen 1925 was Die Wagtoring in Russies beskikbaar. Dit het onmiddellik ’n uitwerking op die getuieniswerk in Rusland gehad. ’n Lidmaat van ’n Evangelistegroep het byvoorbeeld gesukkel om die leerstelling van die helse vuur met ’n God van liefde te versoen. Toe hy hierdie vraag met medegelowiges bespreek het, het hulle gebid dat God hom van sulke gedagtes moet red. Later is hy en sy vrou ’n paar nommers van Die Wagtoring gegee, en hulle het dadelik die waarheid herken. Hy het geskryf om nog lektuur te vra en gesê: “Ons wag vir manna van oor die see.” Ander broers in Rusland het ook gereeld die ontvangs van sulke “manna” bevestig en die broers in die Verenigde State bedank vir die Christelike liefde wat hulle toon deur sulke geloofversterkende lektuur te publiseer.

‘STUUR VIR MY IETS VAN ALLES’

’n Roerende brief uit Siberië het in The Watch Tower van September 1925 verskyn. ’n Onderwyser uit die arbeidersklas het vertel dat hy en sy gesin in 1909 van die suide van Rusland na Siberië getrek het. Hy het geskryf dat hy die publikasies met diepe vreugde gelees het en het bygevoeg: “My innige wens is om selfs dieper in die heilige waarhede van God gelei te word sodat ek beter en met groter krag teen die duisternis kan stry.” Hy het die brief afgesluit deur nog lektuur te vra en geskryf: “Stuur asseblief vir my iets van alles.”

Die redakteur se antwoord is in dieselfde nommer gepubliseer. “Ons probeer al ’n ruk lank om lektuur na Rusland te stuur, maar al ons pogings word deur die teenstand van die Russiese regering verydel. Hierdie brief, sowel as ander soortgelykes, is soos die versoek uit Masedonië: ‘Kom oor . . . en help ons’ (Hand. 16:9). Ons sal kom sodra die geleentheid hom voordoen en as dit die Here se wil is.”

Die Wagtoring en ander publikasies sou inderdaad kragtige instrumente word om die goeie nuus “as ’n getuienis” in Russies te verkondig! (Matt. 24:14). Teen 2006 het die aantal eksemplare van publikasies wat Jehovah se Getuies in Russies gepubliseer het, 691 243 952 bereik, die hoogste syfer van al die tale buiten Engels, Portugees en Spaans. Jehovah het die pogings van sy Getuies om die Koninkryk te verkondig, ryklik geseën.

GETUIENISWERK ONDER RUSSE IN ANDER LANDE

Toe die Bolsjewiste aan die bewind gekom het en ’n Kommunistiese Staat geskep is, het baie Russe na ander lande geïmmigreer. Die Wagtoring en ander publikasies in Russies is buite die Sowjetunie gedruk. Die Sowjetregering kon dus nie inmeng met die vloei van geestelike voedsel na ander lande nie. Teen die laat 1920’s het Russiese publikasies mense regoor die aarde bereik, en briewe van waardering is ontvang van Russiese mense in lande soos Australië, Finland, Frankryk, Letland, Paraguay, Pole, die Verenigde State en Uruguay.

Later het die broers Christelike vergaderinge en die predikingswerk in Russies op party van hierdie plekke georganiseer. In die Verenigde State is Bybellesings in Russies gereeld oor radiostasies uitgesaai. Russiese gemeentes is gevorm, soos die een in Brownsville, Pennsilvanië, en streekbyeenkomste is georganiseer. In Mei 1925 het die broers byvoorbeeld ’n driedaagse Russiese streekbyeenkoms in Carnegie, Pennsilvanië, gehou. Dit is deur 250 bygewoon, en 29 is gedoop.

DIE SITUASIE VERANDER

Ná Lenin se dood het die regering sy aanval teen alle godsdienste verskerp. In 1926 is die Vereniging van Strydende Godloses gevorm—’n naam wat die organisasie se doelwitte gepas beskryf het. Die immerteenwoordige ateïstiese propaganda was bedoel om geloof in God met wortel en tak uit die verstand en hart van die mense uit te roei. In ’n kort rukkie het die gees van ateïsme dwarsdeur die Sowjetunie se uitgestrekte ryk versprei. ’n Bybelstudent in Rusland het in ’n brief aan die wêreldhoofkwartier gesê: “Die jeug absorbeer hierdie gees, wat dit ongetwyfeld baie moeilik maak om die waarheid te leer.”

Die Vereniging van Strydende Godloses het ateïstiese lektuur gepubliseer, insluitende ’n tydskrif wat Antireligioznik genoem is. In 1928 het die tydskrif gesê: “Woronezj-oblast is vol sektes.”a Dit het onder andere melding gemaak van 48 “Studente van die Heilige Skrif” wie se “leiers Zintsjenko en Mitrofan Bowin” was. Dit is opmerkenswaardig dat The Watch Tower van September 1926 ’n brief van ’n Michail Zintsjenko uit Rusland bevat het. Hy het geskryf: “Die mense honger na geestelike voedsel. . . . Ons het baie min lektuur. Broer Troempi en ander vertaal en kopieer lektuur in Russies, en dit is hoe ons mekaar geestelik voed en onderskraag. Ons dra die groete van al ons Russiese broers oor.”

In September 1926 het broer Troempi geskryf dat die hoop bestaan dat die owerheid die broers sou toelaat om lektuur in Russies te ontvang. Hy het die broers by die Brooklynse Bethel gevra om traktate, boekies, boeke en Wagtoring-bundels via die kantoor in Maagdenburg, Duitsland, te stuur. In reaksie op hierdie versoek het broer Rutherford George Young na Moskou gestuur. Hy het op 28 Augustus 1928 daar aangekom. In een van sy briewe het broer Young geskryf: “Ek het ’n paar interessante ondervindinge gehad, maar ek weet nie hoe lank ek toegelaat sal word om hier te bly nie.” Hoewel hy daarin geslaag het om ’n hooggeplaaste amptenaar in Moskou te spreek, kon hy net ’n visum verkry wat tot 4 Oktober 1928 geldig was.

Intussen was dit nie duidelik wat die nuutgevormde Sowjetstaat se gesindheid teenoor godsdiens was nie. Etlike regeringsdokumente het die hoop uitgespreek dat godsdiensgroepe in die Sowjetarbeidsmag opgeneem sou word. In die daaropvolgende jare het hierdie hoop ’n beleid geword. Dit is belangrik om te verstaan dat die Sowjetregering Jehovah se volk nie wou doodmaak nie; hulle wou verstande en harte wen. Hulle het probeer om God se volk te oortuig om soos die res te wees, om hulle te dwing om net aan die Staat lojaal te wees. Hulle wou allermins hê dat mense hulle lojaliteit aan Jehovah moes gee.

Ná broer Young se vertrek het die Russiese broers voortgegaan om God se Koninkryk ywerig te verkondig. Danjil Staroechin is aangestel om die Koninkrykspredikingswerk in Rusland te organiseer. Om hierdie werk te bevorder en die broers aan te moedig, het broer Staroechin Moskou, Koersk, Woronezj en ander stede in Rusland sowel as die Oekraïne besoek. Saam met ander broers het hy vir Baptiste by hulle plekke van aanbidding gepreek en die waarheid oor Jesus Christus en God se Koninkryk verduidelik. In Januarie 1929 het die broers in Rusland gereël om ’n kerkgebou in Koersk vir 200 dollar per jaar te huur sodat hulle openlik vergaderinge kon hou.

Later daardie jaar het die broers by die Brooklynse Bethel toestemming gevra van die USSR se Volkskommissariaat van Handel om ’n klein besending Bybellektuur in die Sowjetunie in te voer. Die besending het bestaan uit 800 eksemplare elk van die boeke Die harp van God en Verlossing sowel as 2 400 boekies. Minder as twee maande later het die besending teruggekom met die stempel: “Teruggestuur as verbode kragtens die Administrasie van Gedrukte Materiaal.” Maar die broers het nie moed opgegee nie. Party het gemeen dat die publikasies teruggestuur is omdat dit in ’n ouer Russiese alfabet gedruk is. Van toe af het die broers seker gemaak dat alle Russiese lektuur akkuraat vertaal en volgens die jongste verwikkelinge in die taal gedruk word.

DIE BEHOEFTE AAN GOEIE VERTALING

Van 1929 af het etlike nommers van Die Wagtoring aankondigings bevat oor die behoefte aan bekwame vertalers met ’n kennis van Engels sowel as Russies. Die Russiese Wagtoring van Maart 1930 het byvoorbeeld hierdie aankondiging bevat: “’n Bekwame, toegewyde broer met ’n kennis van Engels en wat vlot is in Russies, word benodig om uit Engels in Russies te vertaal.”

Jehovah het die behoefte gesien, en vertalers is in verskeie lande gevind. Een van hierdie vertalers was Aleksandr Forstman, wat alreeds in 1931 artikels wat in Russies vertaal is, via die Deense takkantoor in Kopenhagen na die wêreldhoofkwartier gestuur het. Broer Forstman was ’n geesdriftige vertaler wat in Letland gewoon het. Omdat hy ’n goeie geleerdheid gehad het en vlot was in Engels sowel as Russies, kon hy Bybellektuur vinnig vertaal. Hy het aanvanklik net ’n paar uur per week aan vertaling bestee, aangesien hy sekulêre werk gedoen het om sy ongelowige vrou en sy kind te onderhou. In Desember 1932 het broer Forstman ’n voltydse vertaler geword. Gedurende die tyd dat hy vertaling gedoen het, het hy traktate, boekies en boeke vertaal. Hy is in 1942 oorlede.

Die broers wou baie graag goeie Russiese vertalings van die publikasies beskikbaar stel, want hulle het geglo dat die Koninkrykswerk weldra in Rusland wetlik erken sou word. William Dey, die opsiener van die Noord-Europese Kantoor het in ’n brief aan broer Rutherford geskryf: “Wanneer die beperkings in Rusland opgehef word, wat sekerlik binnekort sal gebeur, sal dit help om ’n goeie vertaling van ons publikasies te hê om vir die bevolking van 180 miljoen aan te bied.”

RADIO-UITSENDINGS

Die radio was nog ’n manier waarop die goeie nuus dwarsoor Rusland se ontsaglike gebied versprei is. The Watch Tower van Februarie 1929 het hierdie aankondiging bevat: “Russiese lesings sal oor die radio aangebied word.” Programme is elke tweede en vierde Sondag van die maand vanuit Estland na die Sowjetunie uitgesaai.

Broer Wallace Baxter, die Estlandse takopsiener, het later vertel: “Ná lang beraadslaging is ’n kontrak vir ’n jaar in 1929 onderteken. Kort nadat uitsendings in Russies begin het, het ons uitgevind dat mense in Leningrad daarna luister. Die reaksie van die Sowjetregime was baie dieselfde as dié van die geestelikes in Estland. Beide groepe het mense gewaarsku om nie na die Koninkryksboodskap te luister nie.” In 1931 is uitsendings in Russies op ’n gerieflike tyd vir luisteraars uitgesaai, van 17:30 tot 18:30 op mediumgolf. In Junie 1934 is die uitsendings ná drie en ’n half jaar stopgesit. In ’n brief van die Estlandse takkantoor het die broers verduidelik waarom ’n verbod op die uitsendings geplaas is: “Die geestelikes het vir die [Estlandse] regering gesê dat ons radiolesings nie in die belang van die Staat is nie, aangesien dit soos Kommunistiese en anargistiese propaganda is.”

’N VERANDERING VIND PLAAS

In 1935 het die broers by die Brooklynse Bethel Anton Koerber na die Sowjetunie gestuur, in die hoop dat hy ’n takkantoor daar sou kon open. Hulle wou ’n drukpers van Duitsland af, waar Adolf Hitler kort tevore aan die bewind gekom het, na die USSR stuur. Hoewel hierdie plan nie uitgevoer is nie, het broer Koerber wel met etlike broers in Rusland vergader.

Die Koninkrykspredikingswerk in Rusland het ’n paar jaar lank geleidelik vooruitgegaan. Bybellektuur is onder toesig van die Lettiese takkantoor in Russies vertaal. Maar dit was moeilik om die lektuur wat gedruk is, in die land in te voer. Gevolglik is ’n groot hoeveelheid lektuur geberg.

Voor die begin van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 was daar min Getuies. Gevolglik het die Sowjetregering min of geen aandag aan hulle geskenk nie. Dit sou weldra verander. Kort nadat Nazi-Duitsland Pole in 1939 binnegeval het, het die Sowjetunie die laaste 4 van sy 15 republieke—Estland, Letland, Litaue en Moldowa—geannekseer. Duisende Getuies het hulle skielik binne die grense van die Sowjetunie bevind—’n nasie wat kort voor lank ter wille van sy eie voortbestaan in ’n hewige oorlog gewikkel sou wees. Dit sou vir miljoene ’n tyd van lyding en ontbering wees. Vir Jehovah se Getuies sou dit ’n tyd wees om hulle lojaliteit aan God onder die juk van wrede onderdrukking te toon.

GEREED OM VAS TE STAAN

In Junie 1941 het Duitsland ’n grootskaalse aanval teen die Sowjetunie geloods, wat Josef Stalin, die Sowjetleier, heeltemal onverhoeds betrap het. Teen die einde van die jaar het Duitse troepe die buitewyke van Moskou bereik, en dit het gelyk of die val van die Sowjetunie op hande is.

Stalin het ’n desperate poging aangewend om die nasie te mobiliseer vir wat die Russe die Groot Patriotiese Oorlog genoem het. Stalin het besef dat hy toegewings aan die kerk moes maak om die volk se steun vir die oorlogspoging te wen, aangesien miljoene nog godsdienstig was. In September 1943 het Stalin drie hooggeplaaste verteenwoordigers van die Russies-Ortodokse Kerk openlik by die Kremlin ontvang. Dit het gehelp om die kloof tussen Kerk en Staat te oorbrug en het honderde kerke vir die publiek oopgestel.

Soos Jehovah se Getuies in Duitsland het die broers in Rusland gedurende die oorlog heeltemal neutraal gebly. Hulle was gereed om die gevolge te dra en was vasbeslote om die gebod van hulle Here te onderhou (Matt. 22:37-39). Tussen 1940 en 1945 is meer as duisend Getuies van die Oekraïne, Moldowa en die Baltiese republieke na strafkampe in die hartjie van Rusland gestuur omdat hulle hulle neutraliteit gehandhaaf het.

Wasili Saftsjoek vertel: “Ek is in 1941 op die ouderdom van 14 in die Oekraïne gedoop. Gedurende die oorlog is byna al die bedrywige broers na tronke en kampe in die hartjie van Rusland gestuur. Maar Jehovah se werk het nie tot stilstand gekom nie. Getroue susters en tieners soos ek het verantwoordelikhede in die gemeente en in die bediening op ons geneem. In ons dorpie was een broer, ’n invalide, nog vry. Hy het vir my gesê: ‘Wasili, ons het jou hulp nodig. Ons het ’n baie belangrike werk om te doen, en ons het nie genoeg mans nie.’ Ek kon die trane nie keer toe ek sien hoe besorg hierdie sieklike broer oor Jehovah se werk is nie. Ek het met vreugde ingestem om alles te doen wat gedoen moes word. Ons het ‘drukkerye’ in kelders gehad waar ons ons kosbare geestelike voedsel gedupliseer het, wat ons aangestuur het sodat dit onder die broers versprei kon word, veral dié wat opgesluit was.”

Ondanks die onselfsugtige, liefdevolle werk van hierdie susters en tieners was al die geestelike voedsel wat gedruk is, nog steeds nie genoeg nie. Een oplossing is gebied deur Poolse broers wat uit Rusland geëmigreer het en rapporte na die kantoor in Pole kon bring. Oekraïnse en Russiese broers wat in die teenoorgestelde rigting gereis het, het geestelike voedsel, wasplate, ink en ander hulpmiddels vir gebruik in Rusland saamgeneem.

“LAAT HULLE ELKEEN NA SY PLEK GAAN”

In 1946 is party broers wat in Pole gewoon het, gedwing om na die Sowjet-Oekraïne te trek. Iwan Pasjkofski vertel: “Die broers het die takkantoor in Lodz gevra wat hulle in hierdie situasie moet doen. Die antwoord wat hulle ontvang het, het Rigters 7:7 aangehaal, wat sê: ‘Laat hulle elkeen na sy plek gaan.’ Baie jare later het ek verstaan hoe Jehovah in sy wysheid die predikingswerk in hierdie moeilike gebiede gerig het. Ons ‘plek’ was waar Jehovah ons ook al gestuur het. Ons het tot die besef gekom dat dit belangrik is om bevele van die owerheid te gehoorsaam. Ons het ons dus begin voorberei vir die trek na ’n ateïstiese land.

“Ons het eers met 18 doopkandidate, wat na ’n broer se huis gebring is, vergader en hulle vir doop voorberei. Ons het ook lektuur in Russies en Oekraïns bymekaargemaak en dit só probeer verpak dat dit nie maklik gesien sou word as ons besittings deursoek word nie. Kort daarna, met dagbreek, is ons dorpie deur soldate van die Poolse leër omsingel wat ons beveel het om gereed te maak om te vertrek. Ons is toegelaat om ’n maand se kos en noodsaaklike huishoudelike artikels saam te neem. Ons is na die treinstasie vergesel. Só het die Sowjet-Oekraïne ons ‘plek’ geword.

“Toe ons by ons bestemming aankom, is ons deur mense en lede van die plaaslike owerheid omring. Omdat ons dadelik ’n getuienis wou gee, het ons moedig vir hulle gesê dat ons Jehovah se Getuies is. Die volgende dag het ons ’n onverwagte besoek van die sekretaris van die plaaslike landboukomitee ontvang. Hy het gesê dat sy pa na Amerika geïmmigreer het en vir hom lektuur stuur wat deur Jehovah se Getuies gepubliseer word. Hoe bly was ons tog om dit te hoor! Dit was veral wonderlik dat hy vir ons lektuur aangebied het. Toe hy en sy gesin ons vergaderinge begin bywoon, het ons besef dat daar baie van Jehovah se ‘begeerlike dinge’ in hierdie land is (Hag. 2:7). Die hele gesin het weldra Jehovah se Getuies geword en baie jare lank getrou gedien.”

BAIE WERK LÊ VOOR

Gedurende en ná die Tweede Wêreldoorlog is die werk in Rusland onder uiters moeilike toestande gedoen. In ’n brief van die Poolse takkantoor aan die hoofkwartier, gedateer 10 April 1947, is daar berig: “Godsdiensverteenwoordigers intimideer hulle lidmate deur te sê dat tien jaar dwangarbeid en ballingskap hulle voorland is as hulle ’n Wagtoring of ’n traktaat van Jehovah se Getuies aanvaar. Die inwoners van die land lewe dus in vrees en bewing, en die mense smag na die lig.”

Die 1947 Yearbook het gesê: “Die getuies het geen gedrukte lektuur en geen Wagtoring in die aantreklike gedrukte vorm tot hulle beskikking nie. . . . In baie gevalle word dit nog moeisaam met die hand oorgeskryf en in dié vorm aan ander beskikbaar gemaak . . . Ons koeriers word soms in hegtenis geneem en in die tronk gegooi as Die Wagtoring by hulle gevind word.”

Regina Kriwokoelskaja sê: “Dit het vir my gevoel asof die hele land met doringdraad omhein is en dat ons gevangenes is, al was ons nie in die tronk nie. Ons mans, wat God ywerig gedien het, het die grootste deel van hulle lewe in tronke en kampe deurgebring. Ons as vroue moes baie verduur: Ons het almal slapelose nagte gehad, is deur die Russiese Geheime Polisie (KGB) dopgehou en aan sielkundige druk onderwerp, was werkloos en het ander beproewinge deurgemaak. Die owerheid het op verskillende maniere probeer om ons van die weg van die waarheid te laat afwyk (Jes. 30:21). Daar het geen twyfel by ons bestaan dat Satan die situasie gebruik het om die Koninkrykspredikingswerk te probeer stopsit nie. Maar Jehovah het nie sy volk verlaat nie—sy hulp was baie duidelik.

“Bybellektuur, wat met groot moeite in die land ingesmokkel is, het ons ‘krag wat bo die normale is’, gegee, asook wysheid om die situasie die hoof te bied (2 Kor. 4:7). Jehovah het sy volk gelei, en ten spyte van hewige teenstand van die Staat het nuwelinge hulle voortdurend by sy organisasie gevoeg. Dit was verbasend dat hulle sommer van die begin af bereid was om ontberinge saam met Jehovah se volk te verduur. Slegs Jehovah se gees kon dit gedoen het.”

BRIEWE WORD OOR DIE HEINING GEGOOI

In 1944 is Pjotr, wat later met Regina getroud is, na ’n kamp in Gorki-oblast gestuur omdat hy sy Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Dit het geensins sy ywer vir die predikingswerk gedemp nie. Pjotr het briewe geskryf, wat elkeen ’n kort verduideliking van ’n Bybellering bevat het. Dan het hy elke brief in ’n koevert gesit, dit met lyn aan ’n klip vasgebind en dit oor die hoë doringdraadheining gegooi. Pjotr het gehoop dat iemand die briewe sou lees, en eendag het iemand wel—’n meisie met die naam Lidia Boelatowa. Pjotr het haar gesien en haar saggies nader geroep. Hy het haar gevra of sy meer omtrent die Bybel wil leer. Lidia het gehou van die idee, en hulle het gereël om weer te ontmoet. Daarna het sy gereeld nog van daardie kosbare briewe kom optel.

Lidia het ’n ywerige suster en verkondiger van die goeie nuus geword wat weldra Bybelstudies met Maria Smirnowa en Olga Sewrioegina begin hou het. Hulle het Jehovah ook begin dien. Om die susters geestelik te onderskraag, het die broers vanuit die kamp geestelike voedsel aan hierdie groepie begin voorsien. Vir hierdie doel het Pjotr ’n klein koffer met ’n dubbele boom gemaak, wat hy vol tydskrifte kon pak. Hy het gereël dat mense wat nie Getuies en ook nie gevangenes was nie, die koffer in en uit die kamp neem. Hulle het dit na die adres van een van die susters geneem.

Dit was nie lank nie of die susters het die predikingswerk in hulle gebied georganiseer. Die polisie het dit opgemerk en ’n agent gestuur om op hulle te spioeneer, ’n algemene gebruik gedurende daardie tyd. Die agent, ’n onderwyseres, het voorgegee dat sy in die waarheid belangstel en het die vertroue van die susters gewen. Aangesien hulle onervare was in hierdie opsig, het hulle met graagte Bybelwaarhede aan hulle nuwe “suster” meegedeel en later vir haar vertel hoe hulle die lektuur kry. Die volgende keer toe die koffer uitgedra is, is Pjotr opgesluit en tot nog 25 jaar gevangenskap gevonnis. Die drie susters het ook elkeen ’n vonnis van 25 jaar gekry.

‘INLIGTING MOET VERSTREK WORD’

Die Sowjetregering het sy hewige teenstand teen die bedrywighede van Jehovah se Getuies gedurende en ná die oorlogsjare voortgesit. In Maart 1947 het die broers in Pole berig dat ’n hooggeplaaste amptenaar in een van die westelike gebiede van die Sowjetunie gesê het dat daar teen die einde van daardie lente nie ’n enkele Getuie van Jehovah in dié gebied gevind sou word nie. Hulle brief het gesê: “Terwyl ons besig was om hierdie brief te skryf, het ons die tyding ontvang dat 100 broers en susters op één dag in hegtenis geneem is.” ’n Ander brief het oor die broers in die kampe gesê: “Hulle handhaaf hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah op ’n wonderlike wyse. Baie het al hulle lewe verloor, en die broers wag, net soos dié in die konsentrasiekampe gewag het, op Jehovah se verlossing.”

Getuies is ook in hegtenis geneem omdat hulle gepreek het en omdat hulle geweier het om te stem. Verantwoordelike broers het in 1947 geskryf: “Ons kry die indruk dat die hoogste owerheid in Rusland nie werklik bewus is van wat met ons broers gebeur nie, maar dat dit geensins hulle oogmerk is om hulle uit te roei nie. Hulle het egter nie die nodige verduideliking en inligting nie, en dit moet aan [die owerheid] verstrek word.”

POGINGS OM REGISTRASIE TE VERKRY

Die Poolse takkantoor het weldra aan die hand gedoen dat twee Russiese broers tesame met ’n ervare regsgeleerde die nodige dokumente opstel om die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die Sowjetunie te laat registreer. ’n Brief uit Pole aan die broers in Rusland het gesê: “Die goeie nuus van die Koninkryk moet oral verkondig word, ook in Rusland (Markus 13:10).” Die brief het afgesluit met hierdie woorde: “Wees geduldig. Jehovah sal julle trane in vreugdegeroep verander.—Psalm 126:2-6.”

In Augustus 1949 het Mikola Pjatocha, Michailo Tsjoemak en Ilja Babijtsjoek ’n aansoek om registrasie ingedien. Die regering het ingestem om Jehovah se Getuies te erken, maar net onder sekere voorwaardes. Die broers is onder andere gevra om die name te verstrek van al Jehovah se Getuies wat in die gebied van die Sowjetunie woon. Dit was iets waartoe die broers nie kon instem nie. Hoewel die werk voortgegaan en die aantal verkondigers bly toeneem het, is baie broers steeds opgesluit.

‘JOU JEHOVAH SAL JOU NIE HIERUIT BEVRY NIE’

Pjotr Kriwokoelski onthou nog die somer van 1945 en sê: “Nadat die broers verhoor is, is hulle na verskillende kampe gestuur. In die kamp waar ek was, het baie gevangenes opregte belangstelling in die waarheid getoon. Een van hierdie gevangenes, ’n geestelike, het gou besef dat wat hy hoor, die waarheid is, en hy het hom aan Jehovah se kant geskaar.

“Toestande was nietemin haglik. Ek is eenkeer in ’n baie klein sel gesit wat skaars groot genoeg was om in regop te staan. Dit is die gogganes genoem omdat dit gewemel het van weeluise—so baie dat hulle waarskynlik al die bloed uit ’n menseliggaam sou kon gesuig het. Die bewaarder het voor die sel gestaan en vir my gesê: ‘Jou Jehovah sal jou nie hieruit bevry nie.’ My daaglikse rantsoen was [300 gram] brood en ’n beker water. Daar was geen lug nie; gevolglik het ek teen die deurtjie geleun en lug deur ’n fyn kraak gretig ingeasem. Ek het gevoel hoe die weeluise bloed uit my suig. Gedurende my tien dae in die gogganes het ek Jehovah herhaaldelik gevra om my die krag te gee om te volhard (Jer. 15:15). Toe die deure oopgemaak is, het ek flou geword en in ’n ander sel wakker geword.

“Daarna het die strafkamphof my tot tien jaar in ’n maksimumsekuriteitskamp gevonnis vir ‘opstoking en progaganda teen Sowjetgesag’. Dit was in daardie kamp onmoontlik om pos te stuur of te ontvang. Die gevangenes daar was meestal gevonnis vir geweldsmisdade, soos moord. Daar is vir my gesê dat hierdie mense enigiets aan my sou doen wat hulle beveel word as ek nie my geloof verloën nie. Ek het net [36 kilogram] geweeg en kon skaars loop. Maar selfs daar het ek opregtes van hart gevind wat die waarheid gunstig gesind was.

“Toe ek eenkeer tussen ’n paar struike gelê en bid het, het ’n bejaarde man na my toe gekom. Hy het gevra: ‘Wat het jy gedoen dat jy in hierdie hel beland het?’ Toe hy hoor dat ek een van Jehovah se Getuies is, het hy langs my kom sit, my omhels en my gesoen. Toe het hy gesê: ‘Ou seun, ek wil al so lank meer omtrent die Bybel weet! Sal jy my asseblief leer?’ Ek was verheug. Ek het tevore ’n paar ou flenters van die Evangelies in my verslete klere toegewerk en het dit dus dadelik uitgehaal. Sy oë het vol trane geskiet. Ons het daardie aand lank gesels. Hy het vir my gesê dat hy in die kamp se eetsaal werk en vir my kos sou gee. Só het ons vriende geword. Hy het geestelik gegroei, en ek het liggaamlik sterker geword. Ek was seker dat hierdie reëling aan Jehovah te danke was. Ná ’n paar maande is hy vrygelaat, en ek is na ’n ander kamp in Gorki-oblast geneem.

“Toestande was daar baie beter. Maar ek was veral bly dat ek Bybelstudies met vier gevangenes kon hou. In 1952 het die kampopsigters lektuur by ons gevind. Gedurende die ondervraging voor die verhoor is ek in ’n lugdigte kis gesit, en wanneer ek begin versmoor het, het hulle die kis oopgemaak sodat ek ’n bietjie lug kon inasem en dit dan weer toegemaak. Hulle wou hê dat ek my geloof moes verloën. Ons is almal skuldig bevind. Toe ons vonnisse uitgespreek is, het nie een van my Bybelstudente paniekbevange geraak nie. Ek was baie bly hieroor! Hulle is al vier tot 25 jaar in die kampe gevonnis. Ek is ’n strawwer vonnis opgelê, maar dit is verander tot nog 25 jaar in ’n maksimumsekuriteitskamp en 10 jaar ballingskap. Toe ons die vertrek verlaat het, het ons stilgestaan om Jehovah te dank dat hy ons onderskraag het. Die wagte was verstom en het gewonder waaroor ons bly is. Ons is geskei en na verskillende kampe gestuur. Ek is na ’n maksimumsekuriteitskamp in Workoeta gestuur.”

GERED DEUR CHRISTELIKE NEUTRALITEIT

Die kamplewe was baie swaar. Talle gevangenes wat nie Getuies was nie, het selfmoord gepleeg. Iwan Krilof vertel: “Nadat ek uit die maksimumsekuriteitskamp vrygelaat is, het ek verskeie steenkoolmyne besoek waar ons broers en susters dwangarbeid moes verrig. Ons het met hulle kontak gemaak, en diegene wat in staat was om van ons tydskrifte met die hand oor te skryf, het hierdie afskrifte onder die ander versprei. Die Getuies het in elke kamp gepreek, en baie mense het belangstelling getoon. Nadat hulle vrygelaat is, is party van hulle in die Workoetarivier gedoop.

“Ons het gedurig te staan gekom voor toetse van ons geloof in Jehovah en sy Koninkryk. By een geleentheid in 1948 het ’n aantal gevangenes in ’n kamp in Workoeta ’n opstand georganiseer. Die opstandelinge het vir die ander gevangenes gesê dat die opstand die suksesvolste sal wees as hulle in groepe georganiseer is, byvoorbeeld volgens nasionaliteit of godsdiens. Op daardie stadium was daar 15 Getuies in die kamp. Ons het vir die opstandelinge gesê dat Jehovah se Getuies Christene is en dat ons nie aan so iets kan deelneem nie. Ons het verduidelik dat die vroeë Christene nie aan opstande teen die Romeine deelgeneem het nie. Dit het talle natuurlik verbaas, maar ons het standvastig gebly.”

Die opstand het tragiese gevolge gehad. Gewapende soldate het die opstand onderdruk en die opstandelinge na ’n ander barak geneem. Toe het hulle petrol teen die barak uitgegooi en dit aan die brand gesteek. Byna almal daarin het omgekom. Die soldate het niks aan die broers gedoen nie.

“In Desember 1948 het ek in een kamp agt broers ontmoet wat tot 25 jaar gevangenskap gevonnis is”, sê Iwan verder. “Dit was ’n bitter koue winter, en die werk in die myne was swaar. Maar ek kon vertroue en sterk hoop in daardie broers se oë sien. Hulle positiewe uitkyk het selfs die gevangenes wat nie Jehovah se Getuies was nie, bemoedig.”

VERBAN NA SIBERIË

Ondanks wrede teenstand van die owerheid het die Getuies ywerig voortgegaan om die goeie nuus van Jehovah se Koninkryk te verkondig. Dit het die sentrale regering in Moskou geïrriteer. Dit het veral die KGB geïrriteer. ’n Memorandum van die KGB aan Stalin, gedateer 19 Februarie 1951, het gelui: “Om enige verdere anti-Sowjetbedrywighede van die ondergrondse Jehoviste te onderdruk, ag die MGB [Ministerie van Staatsveiligheid, later die KGB] van die USSR dit nodig om diegene wat bekend is as Jehoviste, saam met hulle gesinne na die Irkoetsk- en die Tomsk-oblast te verban.” Die KGB het geweet wie Getuies is, en hulle het Stalin se toestemming gevra om 8 576 mense uit ses republieke van die Sowjetunie na Siberië te verban. Hierdie toestemming is gegee.

Magdalina Belosjitskaja vertel: “Op Sondag 8 April 1951 het ’n harde gehamer teen die deur ons twee-uur die oggend wakker gemaak. My ma het opgespring en deur toe gehardloop. ’n Offisier het voor ons gestaan. ‘Julle word na Siberië verban omdat julle in God glo’, het hy ons amptelik meegedeel. ‘Julle het twee uur om julle goed te pak. Julle kan enigiets in die vertrek saamneem. Maar graan en meel word nie toegelaat nie. Meubels, houtartikels en naaimasjiene mag ook nie saamgeneem word nie. Julle mag niks buite die huis saamneem nie. Bring julle beddegoed, klere en koffers, en kom uit.’

“Ons het vroeër in ons publikasies gelees dat daar nog baie werk in die ooste gedoen moes word. Nou het ons besef dat die tyd aangebreek het om daardie werk te doen.

“Nie een van ons het gekla of gehuil nie. Die offisier was verbaas en het gesê: ‘Julle het nie ’n enkele traan gestort nie.’ Ons het vir hom gesê dat ons dit al sedert 1948 verwag. Ons het toestemming gevra om ten minste een lewendige hoender saam te neem vir die reis, maar hy het geweier. Die offisiere het ons pluimvee onder hulle verdeel. Hulle het die hoenders daar voor ons oë uitgedeel—een het vyf geneem, ’n ander ses, en iemand anders het drie of vier gekry. Toe daar net twee hoenders in die hok oor was, het die offisier beveel dat hulle geslag en vir ons gegee word.

“My agt maande oue dogtertjie het in ’n houtwiegie gelê. Ons het gevra of ons die wiegie kon saamneem, maar die offisier het beveel dat dit uitmekaargehaal word. Toe het hy vir ons net die deel gegee waarin die baba kan lê.

“Ons bure het spoedig uitgevind dat ons verban word. Iemand het ’n sakkie beskuit gebring, en toe die wa waarin ons weggeneem is, wegtrek, het hy die sakkie in die wa gegooi. Die soldaat wat ons bewaak het, het dit gesien en die sakkie weer uitgegooi. Daar was ses van ons—ek, my ma, my twee broers, my man en ons agt maande oue dogtertjie. Buite die dorpie is ons in ’n motor gebondel en na die streeksentrum geneem, waar ons dokumente ingevul is. Toe is ons met ’n vragmotor na die stasie geneem.

“Dit was Sondag, ’n pragtige sonnige dag. Die stasie was vol mense—dié wat verban is en dié wat kom kyk het. Ons vragmotor het reg langs ’n spoorwegwa stilgehou waarin daar reeds van ons broers was. Toe die trein vol was, het die soldate seker gemaak dat almal daar is deur elkeen se van uit te roep. Daar was 52 mense in ons spoorwegwa. Voordat ons vertrek het, het dié wat ons kom afsien het, begin huil en selfs hardop gesnik. Dit was verbasend, aangesien ons nie eens geweet het wie party van daardie mense was nie. Maar hulle het geweet dat ons Jehovah se Getuies is en dat ons na Siberië verban word. Die stoomenjin het ’n harde fluit gegee. Toe het ons broers ’n lied in Oekraïns begin sing: ‘Mag die liefde van Christus met julle wees. Ons gee heerlikheid aan Jesus Christus en sal weer in sy Koninkryk ontmoet.’ Die meeste van ons was vol hoop en geloof dat Jehovah ons nie sou verlaat nie. Ons het ’n hele paar verse gesing. Dit was so roerend dat party van die soldate begin huil het. Toe het die trein vertrek.”

“NET DIE TEENOORGESTELDE VAN WAT VERWAG IS”

Dr. N. S. Gordienko, ’n professor aan die Herzen-universiteit in St. Petersburg, het in sy boek vertel wat die vervolgers bereik het. Hy het geskryf: “Die resultate was net die teenoorgestelde van wat verwag is; hulle wou die organisasie van Jehovah se Getuies in die USSR verswak, maar hulle het dit in werklikheid net versterk. In nuwe nedersettings waar niemand nog hulle godsdiensbelydenis gehoor het nie, het Jehovah se Getuies die plaaslike mense ‘besmet’ met hulle geloof en hulle lojaliteit daaraan.”

Baie Getuies het hulle gou by hulle nuwe omstandighede aangepas. Klein gemeentes is georganiseer, en gebied is toegewys. Nikolai Kalibaba sê: “Daar was ’n tyd in Siberië toe ons wel van huis tot huis gepreek het of, om meer presies te wees, van die een huis tot die volgende, so twee of drie huise verder. Maar dit was gevaarlik. Hoe het ons dit gedoen? Ná die eerste besoek het ons probeer om ongeveer ’n maand later ’n herbesoek te doen. Ons het begin deur mense te vra: ‘Verkoop jy dalk hoenders, bokke of koeie?’ Dan het ons die gesprek geleidelik in die rigting van die Koninkryk gestuur. Ná ’n ruk het die KGB dit uitgevind, en ’n artikel is kort daarna in die koerant gepubliseer wat die plaaslike bevolking gewaarsku het om nie met Jehovah se Getuies te praat nie. Die artikel het gesê dat die Getuies van huis tot huis gaan en mense vir bokke, koeie en hoenders vra—maar wat ons eintlik wou gehad het, is skape!”

Gawriil Liwi vertel: “Die broers het aan die bediening probeer deelneem al het die KGB hulle fyn dopgehou. Weens die gesindheid van die mense in die Sowjetunie het hulle onmiddellik die polisie ontbied as hulle vermoed het dat iemand met hulle oor ’n godsdienstige onderwerp probeer praat. Ons het nietemin aangehou preek, hoewel daar aanvanklik geen sigbare resultate was nie. Maar die waarheid het mettertyd party van die plaaslike mense begin verander. Een van hulle was ’n Russiese man wat straf gedrink het. Toe hy die waarheid geleer het, het hy sy lewe in ooreenstemming met Bybelbeginsels gebring en ’n bedrywige Getuie geword. Later het ’n KGB-offisier hom ontbied en gevra: ‘Saam met wie bring jy jou tyd deur? Daardie Getuies is almal Oekraïners.’

“Die broer het geantwoord: ‘Toe ek ’n dronklap en op my slegste was, het jy jou nie aan my gesteur nie. Noudat ek ’n normale persoon en ’n goeie burger is, besluit jy jy hou nie daarvan nie. Baie Oekraïners verlaat Siberië, maar hulle sal plaaslike Siberiërs agterlaat wat deur God geleer word hoe om te lewe.’”

Ná ’n paar jaar het ’n amptenaar in Irkoetsk aan Moskou geskryf: “Etlike plaaslike werkers het gesê dat al hierdie mense [Jehovah se Getuies] na een gebied êrens in die noorde gestuur moet word sodat hulle afgesny sal wees van alle kontak met die bevolking en heropgevoed kan word.” Nie Siberië of Moskou het geweet hoe om Jehovah se Getuies stil te maak nie.

‘ONS SOU JULLE ALMAL GESKIET HET’

Vroeg in 1957 het die owerheid ’n nuwe veldtog teen Jehovah se Getuies georganiseer. Die broers is agtervolg, en huise is deursoek. Wiktor Goetsjmidt vertel: “Toe ek eenkeer van die bediening af tuisgekom het, was die hele woonstel omgekeer. Die KGB het lektuur gesoek. Hulle het my in hegtenis geneem en my twee maande lank ondervra. Joelia, ons jongste dogter, was 11 maande oud, en ons oudste dogter was 2 jaar oud.

“Gedurende die ondervraging het die inspekteur vir my gesê: ‘Is jy nie ’n Duitser nie?’ Die woord ‘Duitser’ was destyds vir baie mense sinoniem met ‘Fascis’. Duitsers is gehaat.

“‘Ek is nie nasionalisties nie’, het ek gesê, ‘maar as jy van die Duitsers praat wat deur die Nazi’s in die konsentrasiekampe aangehou is, dan is ek trots op daardie Duitsers! Hulle is Bibelforscher genoem, en nou word hulle Jehovah se Getuies genoem. Ek is trots daarop dat geen Getuie al ooit ’n koeël uit ’n masjiengeweer of ’n kanon gevuur het nie. Op daardie Duitsers is ek trots!’

“Die inspekteur het stilgebly; gevolglik het ek verder gesê: ‘Ek is daarvan oortuig dat nie een van Jehovah se Getuies aan enige van die opstande deelgeneem het nie. Selfs wanneer daar ’n verbod op die bedrywighede van Jehovah se Getuies is, hou hulle aan om God te aanbid. Terselfdertyd erken en gehoorsaam die Getuies die wettige owerheid mits hulle wette nie die hoër wette van ons Skepper skend nie.’

“Die inspekteur het my skielik in die rede geval en gesê: ‘Ons het nog geen ander groep so goed bestudeer soos ons die Getuies en hulle bedrywighede bestudeer het nie. As enigiets in die verslae teen julle gevind is, al was dit dat net een druppel bloed vergiet is, sou ons julle almal geskiet het.’

“Ek het toe gedink: ‘Regoor die wêreld het ons broers die moed om Jehovah te dien, en dié voorbeeld het ons lewens in die Sowjetunie gered. Miskien sal ons diens aan God hier ons broers elders op die een of ander manier help.’ Hierdie gedagte het my verder versterk om vas te hou aan Jehovah se weë.”

GETUIES IN MEER AS 50 KAMPE

Die neutrale standpunt en ywerige bediening van Jehovah se Getuies in die Sowjetunie het vir die regering ’n irritasie gebly (Mark. 13:10; Joh. 17:16). Ons broers se standvastigheid het hulle dikwels lang, onregverdige tronkvonnisse besorg.

By 199 streekbyeenkomste wat van Junie 1956 tot Februarie 1957 gehou is, het 462 936 byeenkomsgangers regoor die wêreld ’n petisie eenparig aangeneem, waarvan kopieë aan die Ministersraad van die Sowjetunie in Moskou gestuur is. Die petisie het onder andere gesê: “Daar is Jehovah se Getuies in meer as 50 kampe van Europese Rusland tot in Siberië en noordwaarts tot by die Noordelike Yssee, selfs op die Noordpooleiland Nowaja Zemlja . . . In Amerika en ander Westerse lande word Jehovah se Getuies Kommuniste genoem, en in lande onder Kommunistiese bewind, imperialiste . . . Kommunistiese regerings het hulle al daarvan beskuldig dat hulle ‘imperialistiese spioene’ is, hulle as sodanig verhoor en hulle vonnisse van tot 20 jaar tronkstraf opgelê. Maar hulle het nog nooit aan enige ondermynende bedrywighede deelgeneem nie.” Ongelukkig het die petisie die situasie van Jehovah se Getuies in die Sowjetunie nie juis verbeter nie.

Dit was besonder moeilik vir gesinne van Jehovah se Getuies in Rusland om hulle kinders groot te maak. Wladimir Sosnin van Moskou, wat drie seuns gedurende daardie tyd grootgemaak het, sê: “Dit was verpligtend om ’n Sowjetskool by te woon. Onderwysers en ander skoliere het druk op ons kinders uitgeoefen om by kinderorganisasies aan te sluit wat op die Kommunistiese ideologie ingestel was. Ons wou hê dat ons kinders die nodige opvoeding moet kry, en ons het hulle met hulle skoolwerk gehelp. Dit was vir ons as ouers nie maklik om liefde vir Jehovah in ons kinders se harte aan te wakker nie. Die skole was deurdrenk met idees omtrent die bevordering van sosialisme en Kommunisme. As ouers moes ons buitengewone geduld en deursettingsvermoë aan die dag lê.”

BESKULDIG DAT HULLE HULLE DOGTER SE OOR AFGESKEUR HET

Semjon en Daria Kostiljef het drie kinders in Siberië grootgemaak. Semjon vertel: “Jehovah se Getuies is destyds as fanatici beskou. In 1961 is Alla, ons tweede dogter, graad een toe. Terwyl sy eendag saam met die ander kinders gespeel het, het een van hulle per ongeluk Alla se oor beseer. Toe die onderwyseres haar die volgende dag vra wat gebeur het, het Alla stilgebly, want sy wou nie haar klasmaat verklik nie. Die onderwyseres het geweet dat Alla deur Getuie-ouers grootgemaak word en het tot die slotsom gekom dat ons haar geslaan het om haar te dwing om volgens Bybelbeginsels te lewe. Die skool het die saak by ’n staatsaanklaer aangegee. Die maatskappy waar ek gewerk het, het ook hierby betrokke geraak. Die ondersoek het ongeveer ’n jaar lank voortgeduur totdat ons uiteindelik gedagvaar is om in Oktober 1962 in die hof te verskyn.

“Die Kultuurpaleis het gedurende die twee weke voor die verhoor ’n banier vertoon wat gesê het: ‘Verhoor van gevaarlike Jehovistesekte begin eersdaags.’ Ek en my vrou is daarvan beskuldig dat ons ons kinders volgens die Bybel grootmaak. Ons is ook van wreedheid aangekla. Die hof het aangevoer dat ons ons dogter gedwing het om te bid en dat ons haar oor met die rand van ’n emmer afgeskeur het! Alla was die enigste getuie, maar sy is weggestuur na ’n weeshuis in Kirensk, ’n stad ongeveer 700 kilometer noord van Irkoetsk, waar ons gewoon het.

“Die saal was vol aktiviste van die jeugbond. Toe die hof vir beraadslaging verdaag het, het die skare ’n opskudding veroorsaak. Ons is rondgestamp en uitgejou, en iemand het daarop aangedring dat ons ons ‘Sowjet’-klere uittrek. Almal het uitgeroep dat ons doodgemaak moet word, en iemand wou ons sommer daar en dan van kant maak. Die skare het al hoe woedender geword, en die regters het nog steeds nie uitgekom nie. Die beraadslaging het ’n uur geduur. Toe die skare vorentoe dring, het ’n Getuiesuster en haar ongelowige man tussen ons en die mense gaan staan en hulle gesmeek om ons nie leed aan te doen nie. Hulle het probeer verduidelik dat al die aantygings teen ons vals is en het ons letterlik uit die hande van die skare bevry.

“Uiteindelik het ’n regter saam met die assessore van die volkshof verskyn en vir ons ons vonnis voorgelees: verlies van ouerlike regte. Ek is onder bewaking gestel en vir twee jaar na ’n korrektiewe strafkamp gestuur. Ons oudste dogter is ook na ’n weeshuis gestuur nadat daar vir haar gesê is dat haar ouers lede van ’n gevaarlike sekte is en ’n nadelige invloed op haar opvoeding het.

“Ons seun is by Daria gelos, aangesien hy net drie jaar oud was. Nadat ek my vonnis uitgedien het, het ek teruggekeer huis toe. Soos vroeër kon ons net informeel getuig.”

“ONS WAS TROTS OP ONS KINDERS”

“Alla het die weeshuis verlaat toe sy 13 geword het en huis toe gekom om by ons te woon. Hoe verheug was ons tog toe sy haar aan Jehovah toegewy het en in 1969 gedoop is! Om en by hierdie tyd is ’n reeks lesings oor godsdiens by die Kultuurpaleis in ons stad gehou. Ons het besluit om te gaan luister wat hulle hierdie keer sou sê. Soos altyd was Jehovah se Getuies die vernaamste groep onder bespreking. Een van die sprekers het ’n Wagtoring omhoog gehou en gesê: ‘Dit is ’n skadelike en gevaarlike tydskrif wat die eenheid van ons Staat ondermyn.’ Toe het hy ’n voorbeeld gegee: ‘Die lede van hierdie sekte dwing hulle kinders om dié tydskrifte te lees en om te bid. In een gesin wou ’n dogtertjie nie die tydskrif lees nie, en daarom het haar pa haar oor afgeskeur.’ Alla was verbaas, want sy het daar met albei haar ore na die lesing gesit en luister. Sy het egter niks gesê nie, want sy was bang dat sy weer van haar ouers geskei sou word.

“Toe Boris, ons seun, 13 geword het, het hy hom aan Jehovah toegewy en is hy gedoop. By een geleentheid het hy saam met ’n paar Getuies van sy ouderdom straatgetuieniswerk gedoen, al was daar op dié stadium nog ’n verbod op ons bedrywighede. Hulle het geen Bybel of Bybelpublikasies by hulle gehad nie. Skielik het ’n motor by hulle stilgehou, en die seuns is almal na die burgermagstasie geneem. Toe die burgersoldate hulle ondervra en deursoek het, het hulle niks gevind nie behalwe ’n paar Bybeltekste wat op papier neergeskryf was. Die seuns is toegelaat om huis toe te gaan. Toe Boris by die huis kom, het hy trots vir ons vertel hoe hy en die ander broers ter wille van Jehovah se naam vervolg is. Ons was trots op ons kinders, aangesien Jehovah hulle gedurende ’n tyd van toetsing onderskraag het. Ná hierdie voorval is ek en Daria etlike kere deur die KGB ontbied. Een offisier het gesê: ‘Hierdie kinders behoort na ’n jeugstrafkolonie gestuur te word. Dis jammer dat hulle nog nie 14 jaar oud is nie.’ Ons is beboet vir ons seun se predikingsbedrywighede.

“Vandag woon ek by my seun en kleinkinders wat ook in die waarheid wandel. My oudste dogter woon in Oesbekistan, en hoewel sy Jehovah nog nie dien nie, respekteer sy ons en die Bybel en besoek sy ons dikwels. Daria is in 2001 oorlede en het Jehovah tot die einde toe getrou gedien. Terwyl ek nog die krag het, gaan preek ek saam met die gemeente in afgeleë gebiede, waar ons na mense met ‘die regte gesindheid vir die ewige lewe’ soek (Hand. 13:48). Ek glo dat Jehovah binnekort die begeerte wat elkeen van ons koester, soos opgeteken in Jesaja 65:23, sal vervul.”

OUERS HET ’N GOEIE VOORBEELD GESTEL

Wladislaf Apanjoek dien by die Russiese Bethel. Hy onthou hoe sy ouers liefde vir God van kleins af by hom en sy broer en susters ingeskerp het: “Ons ouers is in 1951 uit die Oekraïne na Siberië verban. Hulle het ons geleer om ons eie besluite te neem terwyl ons Jehovah probeer behaag. Ek het dit werklik waardeer dat ons ouers altyd, sonder om verleë te voel, voor ons oor hulle eie tekortkominge kon praat. Wanneer hulle foute gemaak het, het hulle dit nie weggesteek nie. Dit was duidelik dat hulle Jehovah baie liefgehad het. My ouers was dikwels opgeruimd, veral wanneer hulle geestelike onderwerpe met ons bespreek het. Ons kon sien dat hulle werklik daarvan hou om oor Jehovah te peins en te praat. Dit het ons beweeg om ook oor waarhede omtrent Jehovah te peins. Ons het ons voorgestel hoe mense in die nuwe wêreld sal lewe wanneer alles wonderlik sal wees en daar geen siekte of oorloë meer sal wees nie.

“Toe ek in graad drie was, is my hele klas genooi om by ’n Sowjetjeugorganisasie aan te sluit wat die Pioniers genoem is. Vir die meeste kinders in die Sowjetunie was dit ’n groot eer om by die Pioniers aan te sluit. My klasmaats het gretig op hierdie dag gewag. Elkeen van ons moes ’n formele eed uitskryf dat hy of sy gereed is om aan te sluit by die Sowjet-Pioniers, die toekomstige bouers van Kommunisme. Ek het geweier. Die onderwyseres het my hiervoor gestraf deur my in die klaskamer te laat agterbly. ‘Jy mag nie uitkom voordat jy die eed geskryf het nie’, het sy gesê. ’n Paar uur later het van my klasmaats aan die venster geklop en gesê dat ek saam met hulle moet kom speel. Ek het in die klaskamer gebly, vasbeslote om niks te skryf nie. Laat die middag het ’n ander onderwyseres daar aangekom. Toe sy my daar in die klaskamer sien, het sy my uiteindelik huis toe laat gaan. Dit was my eerste oorwinning. Ek was trots dat ek iets kon doen wat Jehovah se hart sou bly maak (Spr. 27:11). Toe ek by die huis kom, het ek my ouers alles vertel wat gebeur het. Hulle was verheug, en my pa het gesê: ‘Mooi so, my seun!’”

DIE BYBEL WORD AS ANTI-SOWJET BESKOU

Die broers is soms hof toe geneem bloot omdat hulle ’n Bybel besit het. Nadezjda Wisjnjak sê: “Ek en my man was nog nie Jehovah se Getuies nie, maar die waarheid het reeds ons hart diep geraak. Op ’n dag het die polisie na my werk toe gekom en my in my werksklere weggeneem. Hulle het ook vir Pjotr, my man, by die werk gaan haal. Voordat hulle dit gedoen het, is ons huis deursoek, en die polisie het ’n Bybel en die boekie Na Armageddon—God se nuwe wêreld gevind. Pjotr het nie gedink dat hulle my in hegtenis sou neem nie, want ek was sewe maande swanger.

“Ons is daarvan beskuldig dat ons teen die Sowjetowerheid optree. Ons het vir hulle gesê dat ons in die Bybel glo, wat ’n baie hoër gesag is as die Sowjetowerheid.

“‘Die Bybel is God se Woord, en daarom wil ons volgens die beginsels daarin lewe’, het ek gesê.

“Ons het net twee weke voordat ek geboorte moes gee, in die hof verskyn. Die regter het toegelaat dat die verhoor van tyd tot tyd onderbreek word sodat ek ’n rukkie buite kon gaan stap, saam met ’n gewapende soldaat. Terwyl ons eenkeer buite gestap het, het hy my gevra wat ek gedoen het. Ek het ’n wonderlike geleentheid gehad om vir hom te getuig.

“Die regter het gesê dat die Bybel en die lektuur wat by ons gekonfiskeer is, ‘anti-Sowjet’ is. Ek was bly dat nie net ek en my man daarvan beskuldig is dat ons anti-Sowjet is nie, maar ook ons lektuur en selfs die Bybel! Ons is gevra waar ons met Jehovah se Getuies kennis gemaak het. Toe ons sê dat dit in ’n strafkamp in Workoeta was, het die regter woedend uitgeroep: ‘Kyk wat gaan in ons kampe aan!’ Ons is skuldig bevind en is albei tot tien jaar in korrektiewe strafkampe gevonnis.

“Pjotr is na ’n kamp in Mordowië, in Sentraal-Rusland, gestuur. Ek is in alleenopsluiting geplaas. In Maart 1958 het ek aan ons seun geboorte gegee. Gedurende hierdie moeilike tye was Jehovah my beste vriend en helper. My ma het ons seun geneem en vir hom gesorg. Ek is na ’n strafkamp in Kemerowo, Siberië, geneem.

“Ná agt jaar is ek vrygelaat voordat ek my hele vonnis uitgedien het. Ek onthou dat die opsigteres in die barak kliphard gesê het dat ek nooit enige ‘anti-Sowjetopmerkings’ gemaak het nie en dat ons lektuur uitsluitlik godsdienstig is. Ek is in 1966 ná my vrylating gedoop.”

Bybels en Bybellektuur was baie kosbaar in die tronke en kampe. In 1958 het die broers in ’n kamp in Mordowië gereeld vergaderinge gehou. Om te voorkom dat die kampopsigters hulle onverhoeds betrap, is etlike broers aangewys om binne roepafstand van mekaar wag te staan terwyl een groep Die Wagtoring studeer. As ’n opsigter verskyn het, het die naaste broer “iemand kom” gesê vir die broer wat naaste aan hom wag gestaan het, en so is dit dan herhaal totdat die groep wat saam vergader het, dit gehoor het. Hulle het dan uiteengegaan, en die tydskrif is weggesteek. Maar die opsigters het dikwels uit die niet verskyn.

Toe die broers eenkeer onverhoeds betrap is, het Boris Kriltsof besluit om die opsigters se aandag af te trek en die tydskrif te red. Hy het ’n boek gegryp en uit die barak gehardloop. Die opsigters het hom agternagesit, maar toe hulle hom uiteindelik ’n ruk later vang, het hulle gesien dat die boek in sy hand ’n bundel van Lenin is. Hoewel hy sewe dae in alleenopsluiting geplaas is, was hy bly dat die tydskrif veilig was.

SAADJIES VAN WAARHEID WORD IN MOSKOU GESAAI

Die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk in Moskou het met ’n klein groepie begin. Boris Kriltsof was een van die eerste paar verkondigers wat ywerig in die land se hoofstad gepreek het. Hy vertel: “Ek was ’n bestuurder in die boubedryf. Ek en ’n groep broers en susters het informeel probeer getuig. Toe die KGB uitvind wat ek doen, het hulle my woonstel in April 1957 deursoek en Bybellektuur gevind, waarna ek onmiddellik in hegtenis geneem is. Gedurende die ondervraging het die inspekteur vir my gesê dat Jehovah se Getuies die gevaarlikste mense in die Staat is. Hy het gesê: ‘As ons julle uitlos, sal baie Sowjetburgers by julle aansluit. Daarom beskou ons julle as ’n groot bedreiging vir ons Staat.’

“‘Die Bybel leer ons om wetsgehoorsame burgers te wees’, het ek gesê. ‘Dit sê ook dat ons moet aanhou om eers die Koninkryk en God se regverdigheid te soek. Ware Christene het nog nooit probeer om die bewind van enige land oor te neem nie.’

“‘Waar het jy die lektuur gekry wat ons gedurende die soektog gevind het?’ het die ondersoekbeampte gevra.

“‘Wat is fout met die lektuur?’ het ek gevra. ‘Dit bespreek Bybelprofesieë en nie enige politieke kwessies nie.’

“‘Ja, maar dit word in die buiteland gedruk’, het hy geantwoord.

“Ek is na ’n maksimumsekuriteitsgevangenis in die stad Wladimir gestuur. Ek is noukeurig deursoek, maar tot my verbasing kon ek vier nommers van Die Wagtoring, wat met die hand op dun papier oorgeskryf is, in die kamp inneem. Dit was duidelik dat Jehovah my gehelp het. In my sel het ek nog afskrifte van al vier nommers gemaak. Ek het geweet dat daar ook ander Getuies in die kamp is, en hulle was al sewe jaar lank sonder enige geestelike voedsel. Ek het hierdie tydskrifte aangestuur deur middel van ’n suster wat die trappe moes was.

“Daar het egter ’n verklikker met die broers geassosieer, en hy het vir die tronkbewaarders gesê dat iemand Bybellektuur versprei. Hulle het dadelik almal begin deursoek en al die lektuur weggeneem. Hulle het weldra by my gekom en lektuur in my matras gevind. Ek is vir 85 dae in alleenopsluiting geplaas. Jehovah het nietemin voortgegaan om, soos tevore, vir ons te sorg.”

LESINGS HET PARTY GEHELP OM DIE WAARHEID TE LEER

Lesings is gebruik om ’n ideologiese oorlog teen Jehovah se Getuies in die Sowjetunie te voer. Wiktor Goetsjmidt sê: “Sprekers wat lesings ter bevordering van ateïsme gehou het, het ons kamp gereeld besoek. Die broers het altyd vrae gevra. Soms kon die sprekers nie die eenvoudigste vrae beantwoord nie. Die saal was gewoonlik vol, en almal het baie aandagtig geluister. Mense het uit hulle eie gekom omdat hulle nuuskierig was oor wat Jehovah se Getuies aan die einde van die lesing sou sê.

“Eenkeer het ’n spreker wat voorheen ’n priester in die Russies-Ortodokse Kerk was, die kamp besoek. Almal het geweet dat hy sy geloof verloën het terwyl hy in ’n kamp was en dat hy ’n ateïs geword het.

“‘Was jy ’n ateïs voordat jy tronk toe gegaan het, of het jy agterna ’n ateïs geword?’ het een van die broers aan die einde van die lesing gevra.

“‘Dink ’n bietjie daaraan’, het die spreker geantwoord. ‘’n Man het na die buitenste ruimte gereis, maar hy het God nie daar gesien nie.’

“‘Het jy, toe jy ’n priester was, werklik gedink dat God mense van net bietjie meer as 200 kilometer bo die aarde se oppervlak sou dophou?’ het die broer gevra. Die spreker het glad nie geantwoord nie. Hierdie besprekings het baie gevangenes iets gegee om oor na te dink, en party het agterna die Bybel saam met ons begin studeer.

“By een van hierdie lesings het ’n suster toestemming gevra om iets te sê. ‘Sê maar; jy is waarskynlik een van Jehovah se Getuies’, het die spreker gesê.

“‘Wat sal jy iemand noem wat in ’n veld staan en uitroep: “Ek sal jou doodmaak!” terwyl daar niemand in die omgewing is nie?’ het die suster gevra.

“‘Wel, ’n mens kan hom nouliks intelligent noem’, het die spreker geantwoord.

“‘As God nie bestaan nie, waarom dan teen hom veg? As hy nie bestaan nie, is daar mos niemand om teen te veg nie.’ Die gehoor het uitgebars van die lag.”

DIE PREDIKER SAL ALTYD TERUGKOM

Lesings oor die Sowjetideologie is natuurlik nie net in die kampe gehou nie. Dit is hoofsaaklik gereël vir die publiek in groot stede. Ervare sprekers het dorpe en stede besoek, veral waar daar baie Getuies was, soos Workoeta, Inta, Oechta en Siktiwkar. Broer Goetsjmidt sê: “In 1957 het ’n spreker eenkeer na die Kultuurpaleis vir die myners van Inta gekom, waar 300 mense vergader het. Hy het verduidelik wat Jehovah se Getuies glo en hoe hulle preek. Nadat hy ’n akkurate beskrywing gegee het van ons predikingsmetode, wat bestaan het uit besprekings gedurende 15 besoeke, het hy verder gesê: ‘As jy nie duidelik daarteen beswaar maak nie, sal die prediker altyd terugkom. As jy ná die tweede besoek nog steeds nie daarteen beswaar maak nie, sal die derde besoek volg.’

“In twee uur het hy ses sodanige besoeke woord vir woord volgens ons metode beskryf, en hy het al die tekste wat gebruik word, van sy aantekeninge afgelees. My vrou, Polina, het vir my in ’n brief hiervan vertel terwyl ek ’n vonnis in ’n kamp uitgedien het, en sy het beskryf hoe die broers wat die lesing bygewoon het, skaars hulle ore kon glo. Ná hierdie lesing het die koerant negatiewe kommentare oor die Getuies gepubliseer, maar dit het wel ’n volledige beskrywing van die Koninkryk bevat. Verder is die hele lesing oor die radio uitgesaai. As gevolg hiervan het duisende stadsbewoners gehoor hoe Jehovah se Getuies preek en waaroor hulle preek.

“In 1962 het daar ’n spreker van Moskou gekom om ’n lesing oor Jehovah se Getuies te hou. Nadat hy hulle hedendaagse geskiedenis bespreek het, het hy gesê: ‘Elke maand ontvang Brooklyn miljoene dollars in die vorm van vrywillige bydraes om die Getuies se bedrywighede in verskeie lande te bevorder. Maar nie een van die leiers besit selfs ’n klerekas nie. Hulle eet almal saam in die eetsaal, die huishoudster sowel as die president, en daar is geen verskil tussen hulle nie. Hulle almal noem mekaar broer en suster, soos ons mekaar kameraad noem.’

“Vir ’n paar oomblikke het daar stilte in die saal geheers. Toe het hy bygevoeg: ‘Maar ons sal nie hulle ideologie aanneem nie, ongeag hoe goed dit klink, want ons wil al hierdie dinge sonder God teweegbring, met ons eie hande en verstand.’

“Dit was vir ons baie bemoedigend, want vir die eerste keer het ons die waarheid omtrent Jehovah se Getuies van die owerheid self gehoor. Hierdie lesings het ook baie ander mense die geleentheid gegee om die waarheid omtrent Jehovah se Getuies van die owerheid te hoor. Maar mense moes self sien hoe Bybelleringe kan help om hulle lewe te verbeter.”

MONITERING NIE ALTYD SUKSESVOL NIE

Dit was baie jare lank ’n algemene gebruik van die KGB om telefoongesprekke af te luister, briewe te onderskep en die broers op ander maniere dop te hou. Die KGB het soms stilletjies afluisterapparate aangebring in die huise van broers wat die leiding in die gemeente geneem het. Grigori Siwoelski, wat 25 jaar lank gedurende die verbod as ’n streekopsiener gedien het, vertel hoe hy in 1958 so ’n apparaat op die solder gevind het: “Ons het in Toeloen, Siberië, op die boonste verdieping van ’n tweeverdiepinggebou in die buitewyke van die dorp gewoon. Toe ek eenkeer tuiskom, het ek gehoor hoe iemand op die solder van die gebou besig is om te boor. Ek het besef dat die KGB ’n afluisterapparaat in die solder aanbring sodat hulle ons kan afluister—een van hulle welbekende metodes. Die meeste van die lektuur was op die solder sowel as onder die dakoorhang versteek.

“Toe ons gesin die aand bymekaar was, het ek vir hulle gesê wat ek vermoed, en ons het ooreenkom om vir eers nie by die huis oor gemeentelike sake te praat nie. Ons het die radio aangeskakel, die klank harder gestel en dit die hele week só gelos. Aan die einde van die week het ek en ’n broer opgeklim na die solder en ’n kabel gevind wat aan die afluisterapparaat geheg was. Die kabel het tussen twee rye planke geloop, om die dakoorhang en uit na die stad in die rigting van die KGB-kantore. Daar het geen twyfel bestaan dat hulle alles opgeneem het nie, maar dié keer het hulle net radioprogramme gekry.”

DIE KGB INFILTREER DIE ORGANISASIE

Die KGB het gesien dat openlike vervolging nie die Getuies se ywer kon demp nie. Hulle het dus met lis en bedrog saadjies van wantroue onder die broers begin saai teen dié wat aangestel is om die leiding te neem asook teen die organisasie as ’n geheel. Een van die KGB se strategieë was om ervare agente in die gemeentes te plant.

Etlike agente het daarin geslaag om in opsienersposisies in die organisasie aangestel te word. Hierdie valse broers het alles moontlik gedoen om die predikingsbedrywighede te vertraag deur ’n atmosfeer van vrees en onsekerheid te skep waarin agterdog kon groei teen die broers wat die leiding geneem het. Hulle het ook persoonlik Bybellektuur teruggehou van die broers en dit aan die KGB oorhandig. Volgens een verslag het twee agente wat van 1957 tot 1959 gewerk het, alleen meer as 500 eksemplare van Die Wagtoring sowel as ander lektuur aan die KGB oorhandig.

In die middel-1950’s het party broers vertroue in die Landskomitee begin verloor. ’n Menigte gerugte het die ronde gedoen dat party lede van die Landskomitee in werklikheid met die KGB saamwerk en getroue broers verraai, insluitende dié wat die lektuur dupliseer. Iwan Pasjkofski vertel: “In April 1959 is ’n nuwe Landskomitee aangestel, en ek was een van die lede. Ons was vasbeslote om die waarheid te verdedig, ongeag die Duiwel se pogings om die broederskap te ontwrig. Die moeilikste tydperk in die geskiedenis van Jehovah se Getuies in die USSR het begin.”

Toe die agterdog begin toeneem het, het party broers opgehou om gemeentelike rapporte aan die Landskomitee te stuur. Die verkondigers in die gemeentes was nog steeds bedrywig in die bediening en het hulle rapporte gereeld ingegee, maar die meeste van hulle het nie geweet dat die rapporte nie meer aan die Landskomitee gestuur word nie. Teen 1958 was ’n hele paar duisend verkondigers deur verskeie groepe broers van die Landskomitee afgesny. In Irkoetsk en Tomsk en later in ander Russiese stede het die groepe broers wat hulle van die organisasie afgesonder het, bly toeneem. In Maart 1958 het dié wat hulle afgesonder het, hulle eie “landskomitee” georganiseer in die hoop dat dit deur al die gemeentes erken sou word.

Die Bestuursliggaam het alle middele tot hulle beskikking aangewend om die broers in die Sowjetunie te help om hulle eenheid in Jehovah se aanbidding te herwin. Alfred Rütimann, wat in Switserland gewoon het, was die takbestuurder van die Noord-Europese Kantoor, wat destyds toesig gehou het oor die werk in die Sowjetunie. In 1959 het hy ’n brief aan die broers in Rusland gestuur wat verduidelik het dat Jehovah net diegene sou seën wat eenheid nastreef en die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Party van die broers wat hulle afgesonder het, het dit aanvaar en pogings begin aanwend om vertroue in die Landskomitee te herstel. Maar dit het jare geneem voordat vertroue ten volle herstel was. Deur hierdie hele tyd heen het die Landskomitee Bybellektuur deur middel van koeriers voorsien. Hoewel dié wat hulle afgesonder het, die lektuur bestudeer het, het hulle nog steeds nie hulle velddiensrapporte ingestuur nie.

Die KGB het voortgegaan om saadjies van wantroue onder die broers te saai. Party is doelbewus nie in hegtenis geneem nie, terwyl ander tronk toe gestuur is. Die broers oor die algemeen het dus die indruk gekry dat die Getuies wat vry is, met die KGB saamwerk. Baie het oordrewe agterdogtig en krities teenoor die verantwoordelike broers geraak.

’N HOFSAAK WAT WYE PUBLISITEIT GENIET HET

’n Verslag wat deur ’n regeringsamptenaar van Irkoetsk na Moskou gestuur is, het gesê: “[Jehovah se Getuies in Irkoetsk-oblast] het grootskaalse ondergrondse bedrywighede ontwikkel. Gedurende die tweede helfte van 1959 het KGB-agentskappe vyf ondergrondse drukkerye ontdek.” Hierdie drukkerye was in die Siberiese dorpe Zima en Toeloen, asook in die dorpies Kitoi, Oktiabr’ski en Zalari. Ná die ontdekking van die drukkerye is dié wat daarby betrokke was, in hegtenis geneem.

Vier broers wat aanvanklik in hegtenis geneem is, het skriftelike verklarings oor die drukwerk afgelê. Ondervraers het hierdie broers op slinkse wyse daartoe gedwing. Toe het die KGB hierdie verklarings verdraai en in plaaslike koerante gepubliseer. Die vier broers is vrygelaat, en agt ander is in hegtenis geneem. Hulle saak sou in April 1960 in Toeloen verhoor word. Die KGB het reëlings getref sodat die hofsaak wye publisiteit en groot aandag sou geniet. Hulle was van plan om die vier broers wat vrygelaat is, as getuies vir die staat te gebruik. Baie in die gemeentes het die indruk gekry dat hierdie broers met die KGB saamgewerk het.

Die KGB was ook van plan om hierdie vertoonverhoor te gebruik om die geloof te vernietig van enige Getuies wat dit bywoon en om die plaaslike bevolking teen hulle te laat draai. Om dié rede het die KGB voor die verhoor toere gereël van ’n kelder waar die broers etlike jare lank lektuur gedruk het. Dit was nie lank nie of gerugte aangaande die bedrywighede van ’n ondergrondse “sekte” het in die dorp die ronde gedoen. Toe die dag van die verhoor aanbreek, was die saal volgepak met meer as 300 mense, insluitende koerant- en TV-verslaggewers, waarvan party selfs van Moskou gekom het. Daar was ook baie van Jehovah se Getuies teenwoordig.

ALGEHELE CHAOS IN DIE HOF

Die KGB se planne het egter skielik en onverwags begin skeef loop. Die broers wat die verklarings afgelê het, het hulle fout besef. Die dag voor die verhoor het hulle almal vas besluit om alles in hulle vermoë te doen om heerlikheid aan Jehovah te gee. Gedurende die verhoor het hulle getuig dat hulle bedrieg is en dat hulle verklarings verdraai is. Toe het hulle verklaar: “Ons is bereid om langs ons broers in die beskuldigdebank te sit.” Daar was algehele chaos in die hof.

Wat meer is, die broers wat tereggestaan het, het daarin geslaag om onder kruisverhoor antwoorde te gee wat ander nie geïnkrimineer het nie. Toe die regter byvoorbeeld vir Grigori Timtsjoek vra wie die drukkery in sy huis opgerig het, het hy geantwoord: “Ek het dit opgerig.” Toe hy gevra is wie die lektuur gedruk het, het hy geantwoord: “Ek het dit gedruk.” Toe hy gevra is wie die lektuur versprei het, het hy geantwoord: “Ek het dit versprei.” Toe hy gevra is wie die papier gekoop en afgelewer het, het hy weer eens geantwoord: “Ek het dit ook gedoen.” Daarop het die aanklaer gevra: “Wie is jy dan? Is jy jou eie bestuurder, voorsiener en werker?”

“HIERDIE BRIEF HET ONS HARTE VERBLY!”

Met dié dat daar toe geen getuies vir die staat was nie, het die aanklaer die broers daarvan beskuldig dat hulle met buitelanders saamsweer. Hy het ’n brief van Nathan H. Knorr van die Brooklynse Bethel as getuienis voorgelê. Michail Sawitski, een van die broers wat die verhoor bygewoon het, sê: “Die aanklaer het ’n brief van broer Knorr aan die broers in die Sowjetunie wat deur die KGB onderskep is, kliphard begin voorlees. Vir al die Getuies in die saal was dit ’n wonderlike geskenk van Jehovah. Hierdie brief het ons harte verbly! Ons het wyse raad uit die Bybel gehoor, asook aanmoediging om ons medegelowiges liefdevol te dien en om onder beproewing getrou te bly. Verder is Jehovah se Getuies aangespoor om in alles op God te vertrou, hom vir wysheid en leiding te vra en ook om ten nouste met aangestelde broers saam te werk. Die aanklaer het die brief van begin tot einde gelees. Ons het met gespanne aandag geluister. Dit het vir ons gevoel of ons ’n streekbyeenkoms bywoon!” Hoewel die hof die broers verskeie vonnisse opgelê het, het dié wat daar teenwoordig was, vasbeslote gebly om Jehovah te dien.

VREUGDEVOL HERENIG IN AANBIDDING

Dit het vir die KGB gelyk of hulle daarin geslaag het om die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die Sowjetunie stop te sit, en daarom het hulle hulle gereedgemaak om die Getuies die nekslag toe te dien. In 1960 is meer as 450 broers onverwags saam in ’n kamp in Mordowië opgesluit. Dit het diegene ingesluit wat die leiding geneem het onder albei groepe broers—dié wat hulle van die organisasie afgesonder het en dié wat dit nie gedoen het nie. Die KGB het gedink dat dit ’n finale skeuring in die organisasie sou meebring. ’n Neerhalende artikel is in die strafkamp se koerant gepubliseer wat verduidelik het wie na verwagting met wie sou twis. Maar die broers het die weg tot eenheid gevind deur voordeel te trek uit die feit dat hulle saam was.

Iof Andronik vertel: “Die verantwoordelike broers het ’n beroep gedoen op elke Getuie, insluitende dié wat hulle afgesonder het, om eenheid na te streef. Hulle het spesiale aandag gewy aan ’n artikel met die titel ‘Eenheid van alle mense van welwillendheid belowe’ in die Russiese uitgawe van Die Wagtoring van 1 September 1961. Die artikel het beginsels en voorbeelde gemeld wat getoon het hoe Jehovah sy volk in die ou tyd gelei het. Dit het ook bespreek waarom dit belangrik is dat almal vrede en eenheid in die Christengemeente nastreef. Deur die artikel noukeurig te bestudeer, het talle besef hoe waardevol teokratiese eenheid is en gunstig gereageer.”

HELENDE GEESTELIKE VOEDSEL

Hierdie artikel in Die Wagtoring het ook die Getuies buite die tronk gehelp om hulle eenheid te herwin. Die broers wat aangestel is om die leiding te neem, het gebid en dit saam gelees. Die artikel het gesê dat broer Rutherford weens swak gesondheid sy laaste toespraak by ’n streekbyeenkoms in Augustus 1941 gehou het. Hy het die broers aangespoor om na aan Jehovah se organisasie te bly en om nie ’n menseleier te volg nie en gesê: ‘Elke keer wanneer iets gevorm word en begin groei, sê mense dat daar ’n man, ’n leier, is wat baie volgelinge het. As julle wat hier is, glo dat ek net een van die Here se knegte is en dat ons in eenheid skouer aan skouer werk terwyl ons God en Christus dien, sê Ja.’ Die kragtige en duidelike antwoord was ’n eenparige “Ja!”

Michail Sawitski vertel: “Die Getuies in die Sowjetunie het in dié tyd hierdie eenheid uiters nodig gehad. Ons was baie dankbaar teenoor Jehovah dat hy ons met liefde en geduld geestelik onderskraag het. Een broer wat hom van die organisasie afgesonder het, het my dadelik vir die tydskrif gevra en gesê: ‘Gee dit vir my sodat ons dit vir die broers in Bratsk en ander plekke kan lees.’ Ek het vir hom gesê dat ons net een eksemplaar van hierdie tydskrif het. Maar hy het my verseker dat hy dit ’n week later sou teruggee. Hy het toe ook die tydskrif teruggegee en daarmee saam baie gemeentes se diensrapporte wat ’n lang tydperk gedek het. Honderde broers en susters het tot die verenigde gesin van Jehovah se aanbidders teruggekeer.”

Iwan Pasjkofski, wat meer as drie dekades lank ’n lid van die Landskomitee was, vertel: “Deur middel van ’n broer uit die buiteland het ons broer Knorr gevra om al die broers in ons land te versoek om verenig te word en hulle aan teokratiese orde te onderwerp. Broer Knorr het ingestem, en in 1962 het ons 25 eksemplare van sy brief in twee tale ontvang, Engels en Russies. Hierdie brief het talle werklik wakker geskud.”

DIE SKAPE HOOR DIE STEM VAN HULLE HERDER

Die Landskomitee het hulle ingespan om die broers te verenig. Onder die omstandighede was dit glad nie ’n maklike taak nie. Teen die somer van 1962 is ’n hele streek met die organisasie herenig. Geestelik volwasse broers is aangestel om op ’n spesiale komitee te dien. Jehovah het die pogings van hierdie broers geseën en hulle “wysheid van bo” gegee (Jak. 3:17). Aleksei Gaboerjak, wat van 1986 tot 1995 as kringopsiener gedien het, vertel: “Ons het in 1965 in Oesol’je-Sibirskoje met die Landskomitee vergader. Die komitee het ons gevra om al die broers en susters te vind wat weens ballingskap, gevangenskap en verdeeldheid verstrooi is en om hulle met die gemeentes te herenig. Ons is die adresse van party gegee by wie ons kon begin. My gebied het die Tomsk- en die Kemerowo-oblast sowel as die stede Nowokoeznetsk en Nowosibirsk ingesluit. Ander broers is na ander gebiede gestuur. Ons taak was om gemeentes en groepe te organiseer sowel as om verantwoordelike broers in die gemeentes aan te stel en op te lei. Daarbenewens moes ons ’n afleweringsroete vir die lektuur uitwerk en gemeentelike vergaderinge organiseer onder die toestande wat deur die verbod geskep is. Binne ’n kort rukkie het ons 84 broers en susters besoek wat kontak met die organisasie verloor het. Hoe bly was ons tog dat Jehovah se ‘skape’ weer eens die stem van die Goeie Herder gehoor het en hom saam met sy volk dien!”—Joh. 10:16.

Baie van dié wat hulle afgesonder het, is weldra met die Landskomitee herenig en het hulle velddiensrapporte begin instuur. Teen 1971 is meer as 4 500 verkondigers met Jehovah se organisasie herenig. Teen die middeltagtigerjare was die predikingswerk nog steeds aan die gang ondanks die volgehoue verbod, en nuwelinge het in die gemeentes ingekom.

KOSBARE STUKKIES FILM

Die duplisering van geestelike voedsel het altyd baie groot inspanning geverg van die versigtige maar moedige broers wat in die Sowjetunie gewoon het. Maar hoe het die geestelike voedsel hulle in die eerste plek bereik?

Een van die algemeenste maniere was deur middel van mikrofilm. In ’n naburige land het die broers ons tydskrifte, boeke en brosjures, wat hoofsaaklik in Russies en Oekraïns maar ook in ’n aantal ander tale gepubliseer is, gefotografeer. Dit is met groot sorg bladsy vir bladsy gedoen met behulp van ’n mikrofilmkamera met ’n filmrol wat 30 meter lank was. Elke publikasie is oor en oor gefotografeer om veelvoudige eksemplare te lewer ten einde verspreiding te vergemaklik. Oor die jare heen is geestelike voedsel dus op baie kilometers mikrofilm vasgelê. Stroke mikrofilm, wat in lengtes van ongeveer 20 sentimeter gesny is vir maklike hantering, was dan gereed om deur ’n koerier na die Sowjetunie geneem te word.

ONDERGRONDSE DRUKKERYE IN SIBERIË

Dit was moeilik om Bybellektuur te dupliseer, maar Jehovah het die werk geseën. Tussen 1949 en 1950 alleen het die broers 47 165 eksemplare van verskillende publikasies gedupliseer en aan die gemeentes gestuur. Verder het die Landskomitee berig dat daar gedurende dieselfde tydperk, ondanks hewige teenstand, 31 488 vergaderinge in die land gehou is.

Die vraag na lektuur het voortdurend toegeneem, en dit het ’n behoefte aan nuwe drukkerye geskep. Stach Sawitski sê: “In 1955 is ’n ondergrondse drukkery in ons huis georganiseer. Aangesien my pa nie een van Jehovah se Getuies was nie, moes ons sy toestemming kry. Dit het ons omtrent twee maande geneem om ’n vertrek van ongeveer [twee meter by vier meter] onder ons stoep uit te grawe. Gedurende hierdie tyd het ons sowat [30 kubieke meter] grond uitgegrawe. Ons moes hierdie grond uitdra en êrens daarvan ontslae raak sodat niemand snuf in die neus sou kry nie. Toe ons [een en ’n half meter] diep gegrawe het, het ons ysgrond bereik. Terwyl ons by ons sekulêre werk was, het my ma dus die veryste grond laat smelt deur ’n klein vuurtjie daarop te maak met droë hout, sodat dit nie die bure se aandag sou trek nie. Later het ons planke gebruik om ’n vloer en ’n plafon aan te bring in die vertrek wat ons uitgegrawe het. Toe die plek klaar was, het ’n egpaar ingetrek. Hulle moes in hierdie ondergrondse vertrek werk en woon. My ma het vir hulle gekook, hulle wasgoed gewas en vir hulle gesorg. Hierdie drukkery was tot in 1959 in gebruik.

“In 1957 het die broer wat oor die duplisering van lektuur toesig gehou het, my gevra: ‘Kan jy in die drukkery werk? Ons moet ten minste 200 tydskrifte per maand lewer.’ Ek het aanvanklik 200 tydskrifte gedruk, toe 500. Maar die vraag na lektuur het voortdurend toegeneem. Die werk moes snags gedoen word, want as ballinge het ons gedurende die dag produksiewerk onder ’n toesighouer gedoen en net een dag per week vry gehad.

“Wanneer ek van die werk af tuisgekom het, het ek afgegaan na die drukkery. Ek het byna nooit geslaap nie, want as ’n mens iets begin druk het, kon jy nie ophou totdat dit klaar was nie. Die ink sou droog word, en daarom was dit onmoontlik om die werk te onderbreek en later daarmee voort te gaan. Soms moes ek 500 bladsye druk en dit dan nagaan en klein verbeteringe met ’n naald aanbring sodat die teks duidelik sou wees. Die ventilasie was swak; gevolglik was dit moeilik om die bladsye droog te kry wanneer dit van die pers af gekom het.

“Ek het die gedrukte tydskrifte in die nag afgelewer in die dorp Toeloen, [20 kilometer] van die huis af. Ek het nie geweet presies waarheen dit daarna sou gaan nie, maar ek het geweet dat hierdie lektuur deur Getuies in Krasnojarsk, Bratsk, Oesol’je-Sibirskoje en ander stede en dorpe gebruik word.

“In 1959 het die broers wat die leiding geneem het, my gevra om ’n nuwe drukkery in Toeloen, langs die spoorwegstasie, te help bou. Weer eens het ek die bekende take verrig, soos om grond uit te grawe en ligte aan te bring, wat ek in die eerste drukkery gedoen het. Jehovah het ons wysheid gegee. Toe het ’n gesin ingetrek en ongeveer ’n jaar lank daar gewerk. Die KGB het uiteindelik die drukkery ontdek. Die plaaslike koerant het berig dat ‘die liginstallasie op so ’n wyse gedoen is dat selfs ervare elektrisiëns gesukkel het om uit te vind hoe dit werk’.

“Benewens ons gesin het net ’n paar broers geweet dat ek in die drukkery werk. Aangesien niemand my ooit saans gesien het nie, was die broers en susters in die gemeente bekommerd oor my geestelikheid. Hulle het na ons huis toe gekom om my te besoek en my aan te moedig, maar ek was nooit daar nie. Ja, gedurende daardie tye toe ons so fyn dopgehou is, kon die drukkery net onder die strengste geheimhouding bedryf word.”

DUPLISERING VAN LEKTUUR IN MOSKOU

Die owerheid het goed geweet dat die Getuies Bybels en Bybellektuur dringend nodig gehad het. Herhaalde versoeke van die Bestuursliggaam om toestemming te kry vir die druk of invoer van Bybellektuur, is verwerp of geïgnoreer. Aangesien daar so ’n tekort aan lektuur was, het die broers voortdurend maniere gesoek om lektuur in verskillende dele van die land, insluitende Moskou, te dupliseer om die gemeentes en groepe van geestelike voedsel te voorsien.

Stepan Lewitski is in 1957 tot tien jaar gevangenskap gevonnis omdat hy in besit was van ’n enkele nommer van Die Wagtoring, wat onder ’n tafeldoek op die eetkamertafel ontdek is. Stepan vertel: “Ná drie en ’n half jaar het die Hooggeregshof my vonnis ter syde gestel. Voordat ek vrygelaat is, het die broers aanbeveel dat ek my êrens naby Moskou moet gaan vestig om die predikingswerk te doen en aan ander geestelike bedrywighede deel te neem. Ek het blyplek in ’n gebied twee uur van Moskou af gevind en in die verskillende dele van die hoofstad begin preek. Jehovah het hierdie pogings geseën, en ná ’n paar jaar is ’n groep broers en susters in Moskou georganiseer. In 1970 is ek aangestel om op ’n kring te dien wat Moskou, Leningrad (nou St. Petersburg), Gorki (nou Nizjni Nowgorod), Orel en Toela ingesluit het. Ek moes toesien dat die gemeentes lektuur kry.

“Ek was seker dat dit Jehovah se wil is dat Moskou en ander dele van Rusland genoeg Bybellektuur kry. Ek het in gebed vir Jehovah gesê dat ek gewillig is om meer in hierdie opsig te doen. Kort daarna het ek kennis gemaak met ’n vaardige beroepsdrukker wat konneksies met etlike drukkerye in Moskou gehad het. Ek het hom terloops gevra of dit moontlik is om ’n kleinformaatboek deur een van die drukkerye in Moskou te laat druk.

“‘Watter boek?’ het hy gevra.

“Van die Verlore Paradys tot die Herwonne Paradys”, het ek senuweeagtig geantwoord.

“’n Goeie vriend van hom het in ’n drukkery gewerk. Die vriend was ’n Kommunis en ’n leier van ’n partyorganisasie. Hy het ingestem om vir kontant ’n klein hoeveelheid van die boeke te druk. Hoe wonderlik was dit tog vir die broers om hierdie Bybelstudiehulp in hulle hande vas te hou!

“Dit was baie gevaarlik, vir my en vir die drukker, om ons lektuur op hierdie manier te druk. Sodra ’n klompie boeke gedruk is, gewoonlik snags, moes dit vinnig uit die drukkery geneem word sonder dat iemand iets agterkom. Jehovah het die reëling geseën, en baie Bybellektuur is in hierdie drukkery gedruk, onder meer die boeke “Die waarheid sal julle vrymaak”, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe en selfs die liedereboek! Dit was inderdaad vir ons voedsel op die regte tyd (Matt. 24:45). Ons kon hierdie drukkery nege jaar lank gebruik.

“Maar eendag het die opsigter van die drukkery onverwags in die drukkery ingekom terwyl een van ons publikasies gedruk is. Die drukker het gou die pers verstel en eksemplare van ’n gesondheidstydskrif begin druk. Maar in sy haas het hy per ongeluk ses bladsye van ons publikasie in die tydskrif gesit, en die opsigter het ’n pasgedrukte eksemplaar na haar kantoor geneem. Toe sy die tydskrif lees, was sy baie verbaas om materiaal te vind wat beslis nie in daardie tydskrif gehoort het nie. Sy het die drukker ontbied en gevra hoe hierdie materiaal in die tydskrif beland het. Hierna het die KGB die saak ondersoek. Toe die drukker met ’n lang vonnis gedreig is, het hy hulle alles vertel wat hy geweet het. Gevolglik het die KGB gou van my bedrywighede te wete gekom, aangesien ek welbekend was by hulle as die enigste Getuie van Jehovah in Moskou. Ek is tot vyf en ’n half jaar gevangenskap gevonnis.” Die drukker is ’n vonnis van drie jaar opgelê.

“LAAT ARMAGEDDON KOM!”

Baie broers en susters het lang tye in tronkselle deurgebring. Grigori Gatilof was 15 jaar lank in die tronk. Hy vertel: “My laaste tronk het ’n romantiese naam gehad: Dit is Die Wit Swaan genoem. Dit was in ’n skilderagtige gebied in die Kaukasus geleë, bo-op een van vyf berge waartussen die vakansiedorp Piatigorsk uitgesprei lê. In hierdie tronk het ek die geleentheid gehad om ’n jaar lank die waarheid aan verskeie mense bekend te maak. My sel was ’n wonderlike ‘gebied’ om in te preek, en dit was nie eens vir my nodig om êrens heen te gaan nie. Die tronkbewaarders het nuwe mense na die sel gebring en hulle ná ’n paar dae weggeneem, maar ek het altyd daar gebly. Hulle het my net ’n paar keer na ’n ander sel geneem. Ek het vir almal ’n deeglike getuienis oor Jehovah se Koninkryk probeer gee. Baie mense het vrae oor Armageddon gehad. Party gevangenes was verbaas dat iemand so lank in die tronk sou bly vir sy geloof. ‘Waarom verloën jy nie jou geloof en gaan huis toe nie?’ het medegevangenes en soms selfs die bewaarders gevra. Ek was bly wanneer een van hulle opregte belangstelling in die waarheid getoon het. Eenkeer het ek gesien dat iemand op die mure van ’n sel geskryf het: ‘Laat Armageddon kom!’ Hoewel die tronklewe op sigself nie aangenaam was nie, was ek bly dat ek oor die waarheid kon praat.”

“IS DAAR ENIGE JONADABS HIER?”

Baie Christensusters wat ywerig in Jehovah se diens was, het ook tyd in die kampe deurgebring (Ps. 68:11). Zinaida Kozirewa vertel hoe die susters liefde betoon het teenoor mekaar en teenoor gevangenes wat nie Getuies was nie: “In 1959, minder as ’n jaar nadat ek gedoop is, is ek, Wera Michailowa en Lioedmila Jefstafjewa na ’n kamp in Kemerowo, Siberië, geneem. Daar was 550 gevangenes in die kamp. ’n Hele paar vroue het by die ingang gestaan toe ons daar aankom.

“‘Is daar enige Jonadabs hier?’ het hulle gevra.

“Ons het besef dat hulle ons dierbare susters is. Hulle het gou vir ons kos gegee en ons begin uitvra. Hulle het hartlikheid en innige liefde uitgestraal, iets wat ek nooit in my eie familie ervaar het nie. Omdat ons nuut was in die kamp, het hierdie susters ons onderskraag (Matt. 28:20). Dit was gou vir ons duidelik dat die geestelike voedingsprogram hier baie goed georganiseerd was.

“Ons het ’n ware gesin geword. Dit was veral aangenaam gedurende die somer wanneer ons hooi gemaak het. Die kampbestuur was nie bang dat ons sou vlug of die kampreëls sou verbreek nie. Net een soldaat het oor 20 of 25 susters wag gehou, alhoewel ons in werklikheid oor hom gewaak het! Wanneer iemand nader gekom het, het ons hom wakker gemaak sodat hy nie gestraf sou word omdat hy slaap terwyl hy aan diens is nie. Terwyl hy geslaap het, het ons gedurende ons rustye geestelike onderwerpe bespreek. Dit was ’n goeie reëling vir hom sowel as vir ons.

“Laat in 1959 is ek en party van die susters na ’n hoësekuriteitskamp gestuur. Ons is in ’n koue sel gesit met ’n venster waarin daar geen ruite was nie. Ons het snags op planke geslaap en bedags gewerk. Die owerheid het ons die taak gegee om groente te sorteer, en hulle het ons gedrag dopgehou. Ná ’n kort rukkie, toe hulle oortuig was dat ons nie soos die ander gevangenes steel nie, het hulle vir ons hooi gebring om op te slaap en ruite in die venster gesit. Ons was ’n jaar lank daar, waarna al die susters na ’n minimumsekuriteitskamp in Irkoetsk gestuur is.

“In hierdie kamp was daar ongeveer 120 susters. Ons was ’n jaar en drie maande daar. Die eerste winter was bitter koud, en dit het erg gesneeu. Ons het harde fisiese werk by die saagmeule verrig. Die opsigters het ons dikwels deursoek vir lektuur. Dit het gelyk of dit hulle enigste tydverdryf was. Ons het toe al die kuns geleer om ons lektuur weg te steek, soms te goed. Eenkeer het ek en Wera stukkies papier met die dagteks daarop so goed weggesteek dat ons dit nie in ons eie werkbaadjies kon vind nie. Maar ’n opsigter het dit gevind, en ek en Wera is vir vyf dae in alleenopsluiting geplaas. Buite was dit meer as 40 grade onder vriespunt, en die mure van die onverhitte sel was vol yskristalle.

“Daar was smal betonlyste in die sel wat net breed genoeg was om op te sit. Wanneer ons baie koud gekry het, het ons met ons bene teen die muur en ons rûe teen mekaar gesit en so aan die slaap geraak. Wanneer ons skielik wakker geskrik het, het ons opgespring uit vrees dat ons in ons slaap sou doodvries. Ons is ’n glas warm water en [300 gram] swart brood per dag gegee. Nietemin was ons heel gelukkig, aangesien Jehovah ons ‘krag wat bo die normale is’, gegee het (2 Kor. 4:7). Toe ons toegelaat is om na die barak terug te keer, was die susters baie goed vir ons. Hulle het warm kos gereed gehad en water verhit sodat ons kon was.”

‘KAN MET ANDER OOR DIE WEG KOM’

Zinaida vertel verder: “Dit was moeilik om in hierdie kamp te preek, want daar was min gevangenes en almal het die Getuies geken. Die beginsel in 1 Petrus 3:1 was op hierdie situasie van toepassing. Predikingswerk sonder woorde het ons dit genoem. Ons het ons barak skoon en netjies gehou en was vriendelik en liefdevol teenoor mekaar (Joh. 13:34, 35). Ons was ook op goeie voet met mense wat nie Getuies was nie. Ons het ons probeer gedra op die manier wat God se Woord ons leer en het ander se behoeftes in ag geneem. Soms het ons mense wat nie Getuies was nie, op verskillende maniere gehelp. Een suster het byvoorbeeld graag ander gevangenes met wiskundige berekeninge gehelp. Baie mense het besef dat Jehovah se Getuies anders is as mense van ander gelowe.

“In 1962 is ons van die kamp in Irkoetsk na een in Mordowië verskuif. Ook hier het ons probeer om ’n netjiese voorkoms te behou en goeie persoonlike higiëne te handhaaf. Ons beddens was altyd skoon en netjies opgemaak. Daar was ongeveer 50 gevangenes in ons barak, meestal susters. Net die susters het die barak skoongemaak, aangesien die ander gevangenes nie daarvan gehou het om sulke werk te doen nie. Die vloere van die barak was altyd gewas en met sand geskuur, en ons het die nodige skoonmaakmiddels by die kampbestuur gekry. Die nonne wat saam met ons in die barak was, het geweier om skoon te maak, en die geleerde vroue wou dit ook nie doen nie; ons lewensomstandighede het dus grootliks van ons eie pogings afgehang. Wanneer een van die susters vrygelaat is, is daar in die verslag oor haar karakter gemeld dat sy ‘aanpasbaar is en met ander oor die weg kan kom’.”

HOË BLOMPLANTE BIED GOEIE SKUILING

“Eenkeer”, sê Zinaida, “het ’n hele paar susters huis toe geskryf en gevra vir saad van plante wat groot blomme dra. Ons het vir die bestuur gesê dat ons mooi blomme wil plant en gevra of vrugbare, swart grond daarvoor na die kamp toe gebring kan word. Tot ons verbasing het hulle geesdriftig ingestem. Ons het blomme in beddings al langs die barak geplant en lang paadjies met blomme aan weerskante gemaak. Dit was nie lank nie of die blomme in die kamp het welig gegroei: langsteelrose, baardangeliere en ander pragtige en, nog belangriker, hoë blomplante. In die middelste blombedding was daar lieflike dahlias asook gousblomme in verskillende kleure wat welig gegroei het. Ons het daar gestap, die Bybel agter die blomme bestudeer en lektuur in die welige roosstruike weggesteek.

“Ons het vergaderinge gehou terwyl ons gestap het. Ons het ons in groepe van vyf georganiseer. Elke suster het vooraf een van vyf paragrawe uit ’n Bybelpublikasie gememoriseer. Dan het ons, ná ’n openingsgebed, een vir een ons paragrawe opgesê en dit bespreek. Ná die slotgebed het ons verder gestap. Ons Wagtorings was in die vorm van miniatuurboekies [soos die een op die foto op bladsy 161]. Ons het elke dag iets bestudeer, veral die dagteks, en paragrawe vir ons vergaderinge opgesê, wat ons drie keer per week gehou het. Ons het ook hele hoofstukke van die Bybel uit die kop probeer leer en dit vir mekaar opgesê om ons te versterk. Gevolglik was ons nie uitermate besorg as die owerheid ons lektuur gedurende ’n soektog gekonfiskeer het nie.

“Die kampbestuur het deur middel van die ander gevangenes probeer uitvind hoe ons bedrywighede in die kamp georganiseer word, maar baie gevangenes was ons gunstig gesind. Saam met ons in dieselfde barak was Olga Iwinskaja, die metgesel van die beroemde digter en skrywer Boris Pasternak, wat die Nobelprys vir letterkunde ontvang het. Sy was ’n skrywer, en aangesien sy ons gunstig gesind was, was sy baie bly om te sien hoe goed georganiseerd die Getuies is. Jehovah het ons wysheid gegee, in die besonder sodat ons geestelike voedsel kon hê.”—Jak. 3:17.

“EK HET GENOEG GEHAD VAN JOU!”

“Die lektuur het op verskillende maniere by ons uitgekom”, vertel Zinaida verder. “Dit was dikwels duidelik dat Jehovah self toesig gehou het oor die proses, soos hy ons belowe het: ‘Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie’ (Heb. 13:5). Soms het hy die oë van die wagte eenvoudig verblind. Toe ons werkgroep eenkeer in die winter by die kamp se hek ingegaan het, het die wagte ons soos gewoonlik deursoek deur ons al ons klere te laat uittrek. Ek het laaste ingekom, met nuwe lektuur wat ek onder twee langbroeke weggesteek het.

“Omdat dit koud was, het ek net soveel lae gehad soos ’n ui! Eers het die opsigteres my winterjas deursoek, toe ’n moulose gekwilte baadjie daaronder. Ek het besluit om die proses uit te rek in die hoop dat sy sou moeg word daarvoor. Ek het eers een trui stadig uitgetrek en toe nog een. Terwyl sy dit noukeurig deursoek het, het ek etlike tjalies stadig afgehaal, toe ’n onderbaadjie stadig uitgetrek, toe een hemp en nog een. Twee langbroeke en my viltstewels het oorgebly. Ek het een stewel stadig uitgetrek en toe die ander een en toe net so stadig die boonste broek begin uittrek. Ek het toe gedink: ‘Wat moet ek nou doen? As sy vir my sê om die onderste broek uit te trek, sal ek moet hardloop en die lektuur vir die susters moet gooi.’ Ek het skaars die eerste broek uitgetrek toe die opsigteres geïrriteerd geskreeu het: ‘Ek het genoeg gehad van jou! Gee pad hier!’ Ek het vinnig aangetrek en by die kamp ingehardloop.

“Waar het ons die lektuur gekry? Die broers het dit op ’n afgesproke plek gelos, en ons het beurte geneem om dit te gaan haal en in die kamp in te bring. Wanneer die lektuur dan in die kamp was, het ons dit weggesteek op ’n veilige plek, wat ons van tyd tot tyd verander het. Ons het ook voortdurend lektuur met die hand oorgeskryf en die kopieë weggesteek. Ons het onder komberse gewerk in die lig van ’n straatlig wat deur die venster geskyn het; ons het die lig deur ’n klein opening in die komberse ingelaat. Ons het ons altyd besig gehou sodat ons nie ’n enkele minuut verkwis nie. Selfs wanneer ons eetsaal toe gegaan het, het elkeen van ons ’n stukkie papier met ’n teks daarop by ons gehad.”

“JULLE TYD HET AANGEBREEK”

In 1965 het die Sowjetregering onverwags ’n spesiale bevel uitgevaardig wat alle Getuies bevry het wat tussen 1949 en 1951 na Siberië verban is. Die meeste broers en susters is egter nie toegelaat om terug te keer na waar hulle vroeër gewoon het nie. Diegene wat nie in Siberië wou bly nie, het besluit om na ’n gebied te trek waar hulp in die bediening nodig was.

Magdalina Belosjitskaja sê: “Ons het byna 15 jaar lank in ballingskap in Siberië gewoon. In die winter het die temperatuur soms tot [-60 grade Celsius] gedaal, en die somer het swerms steekvlieë en muskiete gebring wat selfs ons oë nie ontsien het nie. Met Jehovah se hulp het ons alles oorleef. Maar hoe wonderlik was dit tog dat ons die saadjies van waarheid in daardie koue Siberiese gebiede kon saai! Ons het 15 jaar lank elke maand ’n verklaring by die toesighouer se kantoor onderteken dat ons nie uit ons plek van ballingskap sou probeer vlug nie. Die toesighouer het soms by ons huis kom oornag. Gedurende daardie tye was hy besonder vriendelik teenoor ons en het hy baie vrae oor die Bybel gevra en oor wat nodig is om volgens die leringe daarin te lewe. Hy het gevra wat ons beweeg het om hierdie lewenswyse te kies terwyl ons geweet het dat ons daarvoor vervolg sou word. Ons het hom eenkeer gevra of daar enige hoop is dat ons uit die kamp vrygelaat sal word. Hy het sy handpalm oopgemaak en gevra: ‘Is daar enige hoop dat hare hier sal groei?’

“‘Nee’, het ek geantwoord.

“‘Dis hoeveel hoop daar vir julle is’, het hy voortgegaan. Toe het hy, nadat hy ’n rukkie gedink het, bygevoeg: ‘Dis te sê, as julle God nie op die een of ander manier optree of ’n wonderwerk vir julle teweegbring nie.’

“Een somersdag in 1965 het ek na die stasie gegaan om ’n brief te pos. Die toesighouer het my van ver af gesien en uitgeroep: ‘Magdalina, waarheen gaan jy sonder toestemming?’

“‘Ek gaan nêrens nie, wel, nog nie’, het ek gesê. ‘Ek het ’n brief kom pos.’ Toe het hy na my toe gekom en gesê: ‘Julle sal vandag vrygelaat word. Julle tyd het aangebreek.’ Hy het my toe ’n betekenisvolle blik gegee asof hy wou sê: ‘God het julle bevry!’ Ek kon dit nie glo nie!

“Ons is toegelaat om na enige plek in die Sowjetunie te gaan behalwe na waar ons vroeër gewoon het. Dit was asof ons Jehovah se stem hoor sê het: ‘Gaan uitmekaar en preek. Die tye vereis dit, en dit sal nie sloer nie; gaan dus uitmekaar.’ As ons toegelaat was om terug te keer huis toe, sou baie van ons weer in die dorpe wou gaan woon het waarvandaan ons gekom het. Maar aangesien dit nie toegelaat is nie, het almal na ’n nuwe plek getrek. Ons gesin het besluit om in die Kaukasus te gaan woon.”

Duisende Getuies was regoor die Sowjetunie versprei. By ’n staatskongres daardie selfde jaar het ’n beampte verbysterd gevra: “Kan enigiemand vir my sê hoe hierdie Jehovistesekte in ons nuwe stad beland het, wat so pas deur jong vrywilligers gebou is? ’n Nuwe, skoon stad en skielik verskyn hierdie Jehovistesekte!” Die owerheid het eenvoudig nie geweet wat om met die Getuies te doen nie. Niemand kan God se belofte om die aarde met “die kennis van Jehovah” te vul, dwarsboom nie.—Jes. 11:9.

‘JULLE HET “HEILIGE WATER”’

Die Getuies is weens hulle predikingswerk na strafkampe gestuur. Nikolai Kalibaba, wat baie jare in hierdie kampe was, vertel: “Vier van ons is na ’n strafkamp in die dorpie Wichorewka, Irkoetsk-oblast, gestuur, waar ongeveer 70 broers aangehou is. Daar was geen drinkwater nie; die enigste waterpyp was met die rioolstelsel verbind, en daarom was dit gevaarlik om die water te drink. Die kos was ook oneetbaar, maar Jehovah het ons gehelp. By hierdie kamp wou niemand behalwe die Getuies ooit werk nie. Ons was goeie werkers. Die bestuur het dit gou besef, en ons is gestuur om in ander kampsones te werk. Ons kon drinkwater in emmers terugbring. Baie gevangenes het na ons toe gekom en gesê: ‘Ons het gehoor dat julle “heilige water” het. Gee ons ten minste ’n halwe glas.’ Ons het natuurlik die water gedeel.

“Onder die gevangenes was daar mense met goeie harte. Party van hulle was vroeër diewe en ander misdadigers. Hulle het die waarheid geleer en Jehovah se Getuies geword. Ander was blykbaar teen die waarheid gekant en het ons openlik teëgestaan. Maar eenkeer toe ’n spreker na ons kamp gekom het om ’n lesing teen Jehovah se Getuies te hou, het hierdie mense ons verdedig en gesê dat die lesing laster teen die Getuies bevat.”

‘ONS SAL IN GROEPE NA JULLE TOE KOM’

Die broers het Jehovah om wysheid gevra en altyd gedink aan hoe hulle hulle omstandighede kon gebruik om Koninkryksbelange te bevorder. Nikolai vertel verder: “Ons het gehoor dat ons weldra na ’n ander kamp nie ver van Moskou af nie, in Mordowië, verskuif sou word. Voor ons vertrek het iets interessants gebeur. Tot ons verbasing het sekere offisiere en opsigters wat Jehovah se Getuies etlike jare lank bewaak het, na ons toe gekom en gesê: ‘Ons wil julle vra om julle liedere te sing en vir ons meer van julle opvattings te vertel. Ons sal in groepe van 10 tot 20, of miskien meer, na julle toe kom.’

“Hulle was bang vir wat met ons en hulle kon gebeur en het gesê dat hulle wagte sal organiseer om wag te staan by die plek waar ons sal vergader. Ons het gesê dat ons ook ons eie wagte sal uitsit, aangesien ons meer ervaring in hierdie opsig het. Hulle wagte het dieselfde gedoen as ons s’n: Soldate het tussen die waghuis en ons vergaderplek ’n ent van mekaar af gestaan. Kan jy jou dit voorstel? ’n Groep Getuies het liedere vir ’n groep offisiere en opsigters gesing, waarna ’n broer ’n kort toespraak oor ’n Bybelonderwerp gehou het. Dit was asof ons by ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies was! Só het ons etlike vergaderinge met groepe belangstellendes gehou. Ons het gesien hoe Jehovah nie net vir ons sorg nie, maar ook vir hierdie opregte mense.

“Ons het baie tydskrifte uit hierdie kamp na die kamp in Mordowië geneem”, sê Nikolai. “Baie Getuies is daar aangehou. Die broers het vir my ’n koffer met dubbele kante gegee waarin lektuur gesit kon word. Alles is gedoen sodat die koffer nie onnodig aandag sou trek wanneer die opsigters ons deursoek nie. By die Mordowiese kamp is ons baie deeglik deursoek. Een opsigter het my koffer gevat en uitgeroep: ‘Dis baie swaar! Daar moet ’n skat hierin wees!’ Skielik het hy my koffer en ander goed eenkant gesit en die besittings van ander begin deursoek. Ná die deursoeking het ’n ander opsigter gesê: ‘Vat jou goed en loop!’ My koffer is nie deursoek nie; ek het dus ’n broodnodige voorraad vars geestelike voedsel in die barak ingeneem.

“Ek het ook meer as een keer handgeskrewe traktate in my stewels rondgedra. Aangesien ek groot voete het, was daar altyd plek vir baie velle papier in my stewels. Ek het dit onder die binnesool gesit en die stewels goed met ghries besmeer. Hierdie ghries was baie glibberig en het gestink; gevolglik het die opsigters ver van my stewels af gebly.”

“DIE OPSIGTERS HET ONS DOPGEHOU, EN EK HET HULLE DOPGEHOU”

Nikolai vertel verder: “In die Mordowiese kamp het die broers my aangestel om toesig te hou oor die duplisering van Bybellektuur. Een van my verantwoordelikhede was om die opsigters dop te hou sodat diegene wat die lektuur oorgeskryf het, tyd kon hê om alles weg te steek. Die opsigters het ons dopgehou, en ek het hulle dopgehou. Party opsigters was vasbeslote om ons op heterdaad te betrap en het onverwags en dikwels in die barak ingekom. Hulle was die moeilikste om dop te hou. Ander het een keer per dag in die barak ingekom. Hulle was verdraagsamer en het ons nie probleme gegee nie.

“Gedurende hierdie tye het ons afskrifte gemaak van die oorspronklike publikasies, wat op veilige plekke weggesteek is. Etlike oorspronklikes is in die stoof gehou, selfs in die stoof in die kampbestuurder se kantoor. Die broers wat vir hom skoongemaak het, het ’n spesiale afskorting in die stoof gemaak, en ons het die kosbare oorspronklike eksemplare van baie Wagtorings daar gehou. Ongeag hoe deeglik die opsigters ons deursoek het, die oorspronklikes was altyd veilig in die bestuurder se kantoor.”

Die broers het baie bedrewe daarin geraak om lektuur weg te steek. ’n Vensterbank was ’n gunstelingplek. Die broers het selfs geleer om lektuur in ’n buisie tandepasta weg te steek. Net twee of drie broers het geweet waar die oorspronklikes gehou word. Wanneer dit nodig was, het een van hulle die oorspronklike gaan haal en dit weer teruggesit nadat hy ’n handgeskrewe afskrif daarvan gemaak het. Sodoende het die oorspronklikes altyd op ’n veilige plek gebly. Die meeste broers het dit as ’n voorreg beskou om met die duplisering te help, al kon dit 15 dae in alleenopsluiting beteken. Wiktor Goetsjmidt vertel: “Van tien jaar in die kampe het ek omtrent drie in alleenopsluiting deurgebring.”

SPINNERAK-WAGTORINGS

Dit het vir die broers gelyk of die kampbestuur ’n spesiale stelsel ontwikkel het om Bybellektuur by die Getuies te soek en te konfiskeer. Party offisiere was besonder ywerig hierin. Iwan Klimko vertel: “Eenkeer in Mordowië se Kamp 19 het soldate met honde die broers weggelei van die kampgebied en hulle deeglik deursoek. Elke Getuie is kaal uitgetrek; selfs die lappe wat hulle om hulle voete gedra het, is verwyder. Maar die broers het ’n paar handgeskrewe bladsye aan hulle voetsole vasgeplak, wat nie ontdek is nie. Hulle het ook miniatuurboekies gemaak wat tussen hulle vingers gepas het. Wanneer die wagte almal beveel het om hulle hande op te lig, het die boekies tussen die vingers gebly, en weer eens het party daarvan behoue gebly.”

Daar was ander maniere waarop die geestelike voedsel beskerm is. Aleksei Nepotsjatof sê: “Party broers kon skryf in wat spinnerakskrif genoem is. ’n Penpunt is skerp gemaak om baie fyn te kan skryf, sodat drie of vier reëls tussen twee horisontale lyne op geruite papier geskryf kon word. Vyf of ses kopieë van Die Wagtoring wat in hierdie fyn skrif oorgeskryf is, kon in ’n vuurhoutjiedosie pas. Om so fyn te skryf, het baie goeie oë en groot inspanning geverg. Nadat al die ligte afgeskakel is en al die ander gaan slaap het, het hierdie broers hulle skryfwerk onder ’n kombers gedoen. Die enigste lig het gekom van ’n baie flou gloeilamp by die ingang van die barak. As iemand hierdie werk ’n paar maande lank gedoen het, het dit sy oë beskadig. Soms het ’n wag dit opgemerk, en as hy ons gunstig gesind was, het hy gesê: ‘Jy skryf en skryf—wanneer gaan jy slaap?’”

Broer Klimko vertel: “Eenkeer het ons ’n klomp lektuur en selfs die Bybel verloor. Dit was alles in ’n broer se kunsbeen versteek. Nadat die wagte die broer gedwing het om die been te verwyder, het hulle dit fyn en flenters gebreek. Hulle het foto’s geneem van die bladsye wat oral gelê het en dit in die kampkoerant gepubliseer. Dit was egter voordelig omdat dit weer eens vir baie getoon het dat Jehovah se Getuies uitsluitlik by godsdiensbedrywighede betrokke is. Ná hierdie ontdekking het die selfvoldane kampbestuurder vir die broers gesê: ‘Dis nou Armageddon vir julle!’ Maar teen die volgende dag het iemand vir hom gaan vertel dat Jehovah se Getuies soos gewoonlik vergader, liedere sing en lees.”

’N GESPREK MET DIE PROKUREUR-GENERAAL

Teen die einde van 1961 het die prokureur-generaal van die Russiese Sosialistiese Federatiewe Sowjetrepubliek die kamp in Mordowië kom inspekteer. Terwyl hy deur die kamp geloop het, het hy in die barak ingegaan waar die Getuies gebly het. Die prokureur-generaal het die broers toegelaat om ’n paar vrae te vra. Wiktor Goetsjmidt vertel: “Ek het gevra: ‘Dink u dat die godsdiens van Jehovah se Getuies gevaarlik is vir die Sowjetgemeenskap?’

“‘Nee, ek dink nie so nie’, het die prokureur-generaal gesê. Maar later in die gesprek het hy laat uitglip: ‘In 1959 alleen is daar ’n som van vyfmiljoen roebel aan Irkoetsk-oblast beskikbaar gestel om die Getuies te ondersoek.’

“Hiermee het hy bedoel dat die owerheid goed weet wie ons is, aangesien vyfmiljoen roebel van die staat se straffonds daaraan bestee is om duidelikheid te kry oor wie Jehovah se Getuies is. Dit was ’n ontsaglike som geld. Destyds kon jy ’n goeie motor of ’n mooi huis met vyfduisend roebel koop. Die owerheid in Moskou het ongetwyfeld geweet dat Jehovah se Getuies nie gevaarlike mense is nie.

“Die prokureur-generaal het verder gesê: ‘As ons vir die Sowjetvolk sê om met die Getuies te maak wat hulle wil, sal hulle julle geheel en al uitwis.’ Hy het bedoel dat die Sowjetgemeenskap die Getuies vyandiggesind was. Hierdie woorde het getoon dat miljoene mense deur ateïstiese en ideologiese propaganda beïnvloed is.

“Ons het toe geantwoord: ‘Julle sal sien wat die ware toedrag van sake is wanneer die Getuies byeenkomste van Moskou tot by Wladiwostok hou.’

“‘Miskien sal ’n halfmiljoen mense hulle by julle skaar, maar die ander sal nog aan ons kant wees’, het hy gesê.

“Ons gesprek met die prokureur-generaal het op daardie noot geëindig. Hy was amper reg. Vandag woon meer as 700 000 mense die vergaderinge van Jehovah se Getuies oral in die lande van die voormalige Sowjetunie by. Daar luister mense na die suiwer woorde van Bybelwaarheid eerder as na propaganda.”

“JULLE HET ’N PLESIEROORD VIR DIE GETUIES GESKEP”

Wiktor vertel verder: “Die kampbestuur het vir die prokureur-generaal al die blomme en bome gewys wat die Getuies aangeplant het, asook die pakkies wat hulle ontvang het en in hulle barak hou sonder dat enigiemand dit steel. Hy het met openlike verbasing na alles gekyk. Ons het egter later uitgevind dat hierdie man die kampbestuur beveel het om van al die blomme en bome ontslae te raak. Hy het vir die kampbestuurder gesê: ‘Julle het ’n plesieroord vir die Getuies geskep in plaas van ’n strafkamp.’ Hy het die Getuies ook verbied om pakkies te ontvang en het die kosstalletjie gesluit waar die Getuies toegelaat is om ekstra kos te koop.

“Maar tot die broers se vreugde het die bestuurder nie al die bevele uitgevoer nie. Die susters is byvoorbeeld toegelaat om soos vroeër blomme te kweek. In die herfs het hulle die blomme gepluk en groot ruikers gemaak wat hulle vir werknemers in die kamp en hulle kinders gegee het. Dit was veral lekker om te sien hoe die kinders hulle ouers by die hekhuisie ontmoet, hulle blomme kry en met stralende gesigte skool toe hardloop. Hulle was lief vir die Getuies.”

Wiktor vertel: “Eendag, aan die begin van 1964, het ’n opsigter wie se broer vir die KGB gewerk het, vir ons gesê dat ’n groot staatsveldtog teen Jehovah se Getuies georganiseer word. Maar later in daardie jaar is Nikita Chroesjtsjof skielik van sy pligte as staatshoof onthef, en die vlaag van vervolging het bedaar.”

KONINKRYKSLIEDERE BY ’N MAKSIMUMSEKURITEITSKAMP

In die 1960’s het ’n maksimumsekuriteitskamp in Mordowië gevangenes toegelaat om net een keer per jaar pakkies te ontvang, en dan slegs as ’n ‘spesiale beloning’. Almal is gedurig deursoek. As iemand gevang is met ’n Bybelteks op ’n stukkie papier, is hy of sy vir tien dae in alleenopsluiting geplaas. By hierdie kamp het die gevangenes ook minder kos gekry as by ander soorte kampe. Die werk was ook veeleisender by maksimumsekuriteitskampe; die Getuies moes die stompe van yslike bome uitgrawe. Aleksei Nepotsjatof sê: “Ons was dikwels op die randjie van algehele fisiese uitputting. Maar ons het waaksaam gebly en nie tou opgegooi nie. Een manier waarop die broers positief gebly het, was deur Koninkryksliedere te sing. Ons het ’n meerstemmige mannekoor gevorm wat selfs sonder vrouestemme onbeskryflik mooi gesing het. Hierdie liedere het nie net die Getuies opgebeur nie, maar selfs die offisiere, wat die broers gevra het om gedurende werksure te sing. Terwyl ons eenkeer besig was om bome af te kap, het die konvooi-opsigter na ons toe gekom en gesê: ‘Sing ’n paar liedere. Hierdie versoek kom van die divisie-offisier self!’

“Daardie offisier het die broers dikwels Koninkryksliedere hoor sing. Dit was ’n baie tydige versoek, aangesien ons op die randjie van algehele uitputting was. Ons het Jehovah vreugdevol met ons stemme begin verheerlik. Wanneer ons in die kamp gesing het, het die offisiere se vrouens gewoonlik uit die nabygeleë huise gekom, op hulle stoep gestaan en ’n lang ruk geluister. Hulle het veral gehou van die woorde van lied 6, ‘Laat die aarde heerlikheid gee’, uit ’n ou liedereboek. Die lied het pragtige woorde en ’n wonderlike melodie gehad.”

HY WAS IN “’N ANDER LAND”

Selfs in die mees onverwagte situasies was dit duidelik watter soort mense Jehovah se Getuies werklik is. Wiktor Goetsjmidt vertel: “Terwyl ons aan die einde van ’n werkweek in die tuin gesit het, is duur elektriese toestelle na die kamp gebring waar ons aangehou is. Die vragmotorbestuurder wat dit afgelewer het, was nie ons geestelike broer nie, maar ’n gevangene van ons kamp, en die aankoopbestuurder wat saam met hom was, was van ’n ander kamp. Aangesien die pakhuis gesluit en die pakhuisman met vakansie was, is die Getuies gevra om die toestelle in ontvangs te neem en dit af te laai.

“Ons het die toestelle afgelaai en dit langs die pakhuis opmekaar gestapel, nie ver van ons broers se barak nie. Die aankoopbestuurder was baie senuweeagtig oor hierdie nie-amptelike aflewering sonder ’n getekende ontvangsbewys van die pakhuisman. Maar die vragmotorbestuurder het hom verseker: ‘Moenie bang wees nie. Niemand hier sal aan iets raak nie. Jy is nou in “’n ander land”. Vergeet wat buite die kamp gebeur. Hier kan jy jou horlosie afhaal en dit op enige plek los, en jy sal dit môre op dieselfde plek vind.’ Die aankoopbestuurder het volgehou dat hy nie goedere ter waarde van ’n halfmiljoen roebel sommer net daar kan los sonder ’n getekende ontvangsbewys nie.

“Kort daarna het mans van die kampbestuur daar aangekom en geëis dat die vragmotor die kamp verlaat. Een van hulle het vir die aankoopbestuurder gesê om die faktuur daar te los en dit die volgende dag te kom haal. Hy is teësinnig daar weg. Die volgende oggend het hy teruggekom en gevra om die kamp binne te kom om die faktuur geteken te kry, maar dit was reeds geteken en die wag het dit vir hom gegee.

“Later het die wag vir ons gesê dat die aankoopbestuurder net nie die kamp wou verlaat nie. Hy het ’n halfuur lank gestaan en staar na die hek en die dokumente, omgedraai om te vertrek en teruggedraai en weer na die hek gestaar. Dit was waarskynlik die eerste keer in sy lewe dat hy so iets gesien het. Waardevolle goedere is afgelewer en die faktuur is in sy afwesigheid geteken, en alles het op ’n eerlike wyse geskied. Maar die interessantste is dat dit by ’n maksimumsekuriteitskamp gebeur het waar gevangenes wat as ‘besonder gevaarlike oortreders’ bestempel is, hulle vonnis uitgedien het. Ja, ongeag hoeveel propaganda teen die Getuies versprei is, alle waarnemers kon tydens sulke voorvalle duidelik sien watter soort mense Jehovah se Getuies werklik is.”

“NOU PREEK HULLE WEER”

In 1960, ’n paar dae nadat die broers hulle almal saam in die Mordowiese kamp bevind het, is meer as honderd Getuies gekies om na Kamp 10, ’n spesiale gevangenis in die nabygeleë dorpie Oedarni, verskuif te word. Dit was ’n “eksperimentele” gevangenis vir die heropvoeding van Getuies. Daar het die gevangenes gestreepte uniforms gedra net soos dié van die gevangenes in Nazi-konsentrasiekampe. Benewens ander soorte werk moes die Getuies yslike boomstompe in die bos uitgrawe. Hulle moes elke dag ten minste 11-12 stompe per persoon uitgrawe. Maar soms kon ’n hele werkgroep van broers, al het hulle die hele dag saamgewerk, nie eens ’n enkele reuse-eikestomp uitgrawe nie. Hulle het dikwels Koninkryksliedere gesing om mekaar aan te moedig. Wanneer die kampbestuurder hulle hoor sing het, het hy soms geskreeu: “Julle Getuies sal vanaand geen kos kry nie, en dit sal julle laat ophou sing. Ek sal julle leer om te werk!” Een broer van hierdie kamp vertel: “Maar Jehovah het ons onderskraag. Ondanks die moeilike omstandighede was ons geestelik wakker. Ons het ons altyd opgebeur met die positiewe gedagte dat ons aan Jehovah se kant is in die geskil oor universele soewereiniteit.”—Spr. 27:11.

Benewens etlike “opvoeders” vir die hele gevangenis het elke sel ook sy eie opvoeder gehad, ’n militêre offisier wat ten minste ’n kaptein was. Die oogmerk van hierdie offisiere was om die Getuies hulle geloof te laat verloën. Enigiemand wat toegee, dit wil sê sy geloof verloën, sou vrygelaat word. Die opvoeders het elke maand ’n verslag oor die karakter van elke Getuie geskryf, wat deur etlike gevangenispersoneellede onderteken is. Maar van elke Getuie moes hulle elke keer skryf: “Reageer nie op heropvoedingsmaatreëls nie; bly standvastig in sy oortuigings.” Iwan Klimko het gesê: “Ek het ses jaar van my vonnis van tien jaar in hierdie gevangenis uitgedien en is saam met ander broers as ‘’n besonder gevaarlike gewoonte-oortreder’ geklassifiseer. Volgens wat die offisiere vir ons gesê het, het die owerheid opsetlik buitengewoon moeilike toestande vir die Getuies geskep om hulle gedrag waar te neem.”

Iof Andronik, wat vyf jaar in hierdie gevangenis was, het eenkeer vir die kampbevelvoerder gevra: “Hoe lank sal ons in hierdie gevangenis wees?” Die bevelvoerder het na die bos gewys en gesê: “Totdat julle almal soontoe uitgedra is.” Iof vertel: “Hulle het ons weggehou van ander om te voorkom dat ons preek. Hulle het ons fyn dopgehou. As selfs net een van ons na ’n ander deel van die kamp moes gaan, is ons altyd deur ’n opsigter vergesel. Etlike jare later, toe ons na ’n minimumsekuriteitskamp verskuif is, het party gevangenes wat nie Getuies was nie, vir die kampbestuur gesê: ‘Jehovah se Getuies het geseëvier. Julle het hulle afgesonderd gehou, maar nou preek hulle weer.’”

’N OFFISIER HERKEN SY BYBEL

Dit was baie moeilik om lektuur in Kamp 10 in te bring, wat nog te sê ’n Bybel. Die broers het gedink dat dit byna onmoontlik sou wees om God se Woord in die gevangenis in te bring. ’n Broer wat ’n paar jaar in hierdie gevangenis was, sê: “Vir Jehovah is niks onmoontlik nie. God het ons gebede verhoor. Ons het gevra vir ten minste een Bybel vir die honderd Getuies in hierdie gevangenis, en ons het twee gekry!” (Matt. 19:26). Hoe het dit gebeur?

’n Kolonel is as ’n gevangenisopvoeder gewerf. Maar hoe kon iemand sonder enige Bybelkennis die Getuies “opvoed”? Hy het op die een of ander manier ’n Bybel in die hande gekry wat uitmekaargeval het, en voordat hy met vakansie gegaan het, het hy ’n bejaarde Baptistegevangene gevra om dit te herbind, nadat hy die opsigters aangesê het om dit nie by hom te konfiskeer nie. Die Baptis het by die Getuies gespog dat hy ’n Bybel gekry het, en hy het ingestem dat hulle dit kon leen om daarna te kyk. Toe die broers hierdie waardevolle skat in die hande kry, het hulle dit gou uitmekaargehaal en die bladsye onder al die Getuiegevangenes verdeel om afskrifte daarvan te maak. Gedurende die volgende paar dae was al die Getuies druk besig om dit in hulle selle met die hand oor te skryf. Twee afskrifte is van elke bladsy gemaak. Een van die broers vertel: “Toe al die bladsye bymekaargemaak is, was daar drie Bybels! Die kolonel het sy herbonde Bybel ontvang, en ons het ons twee kopieë gekry. Ons het een kopie vir lees gebruik, en die ander een is in die ‘kluis’ gesit, pype waardeur hoogspanningskabels geloop het. Ons het spesiale wegsteekplekke in hierdie pype gemaak. Aangesien die opsigters bang was om selfs naby die pype te kom, het niemand ooit daar gesoek nie. Die hoë spanning was ’n betroubare wag vir ons biblioteek.”

Maar gedurende een soektog het die kolonel op ’n bladsy van die handgeskrewe Bybel afgekom. Toe hy besef wat gebeur het, was hy bitter teleurgesteld en het hy uitgeroep: “Dit is deel van die Bybel wat ék in die kamp ingebring het!”

DIE GEDENKMAAL WORD GEHOU

Die broers het elke jaar die Gedenkmaal in die kampe probeer hou. Gedurende al die jare dat hulle in een kamp in Mordowië was, het nie een van die broers hierdie geleentheid misgeloop nie. Die kampbestuur het natuurlik probeer keer dat dit gehou word. Hulle het geweet wat die datum van die Gedenkmaal is en het gewoonlik op daardie dag al die kampeenhede gewaarsku om baie waaksaam te wees. Maar teen die aand was die meeste wagte al moeg om die broers so fyn dop te hou, aangesien niemand geweet het waar of presies wanneer die Gedenkmaal gehou gaan word nie.

Die broers het altyd ’n poging aangewend om wyn en ongesuurde brood in die hande te kry. Eenkeer het ’n groep wagte wat spesifiek oor die gevangenes moes wag hou, die embleme op die dag van die Gedenkmaal in ’n laai gevind en dit gekonfiskeer. Later is hierdie groep deur ’n ander groep wagte afgelos, en ’n broer wat die kantoor van die eenheid se bevelvoerder skoongemaak het, kon die embleme terugkry en dit ongemerk vir die broers gee. Daardie aand het die broers gedurende die skof van die derde groep wagte die Gedenkmaal met die embleme gehou. Die embleme was werklik belangrik, aangesien een van die broers daarvan gebruik het.

DIE GEDENKMAAL IN ’N VROUEKAMP

Ander kampe het soortgelyke probleme ondervind. Walentina Garnofskaja onthou hoe uiters moeilik dit was om die Gedenkmaal in ’n vrouekamp in Kemerowo te hou. Sy sê: “Daar was ongeveer 180 susters in hierdie kamp. Ons is verbied om saam te vergader. Oor ’n tydperk van tien jaar kon ons die Gedenkmaal net twee maal hou. Ons het eenkeer besluit om die Gedenkmaal te hou in een van die kantore wat ek moes skoonmaak. Die susters het stilletjies daar begin vergader deur een vir een soontoe te kom oor ’n tydperk van ’n paar uur voordat die Gedenkmaal sou begin. Nagenoeg 80 susters het daarin geslaag om te kom. Ons het die ongesuurde brood en droë rooiwyn op die lessenaar gesit.

“Ons het besluit om sonder die lied te begin; ’n suster het derhalwe die openingsgebed gedoen, en alles het op ’n waardige en vreugdevolle manier begin. Maar toe het ons onverwags ’n lawaai en uitroepe gehoor en besef dat die opsigters ons soek. Skielik het ons die eenheid se bevelvoerder deur die venster sien kyk, hoewel die venster hoog van die grond af was. Terselfdertyd was daar ’n gehamer teen die deur, en iemand het geëis dat ons dit oopmaak. Die opsigters het ingebars en die suster wat die toespraak gehou het, gegryp en haar na alleenopsluiting weggelei. ’n Ander suster het moedig haar plek ingeneem om die toespraak voort te sit, maar hulle het haar ook gegryp. Onmiddellik ná haar het ’n derde suster die toespraak probeer voortsit; gevolglik het hulle ons almal gedwing om na ’n ander vertrek te gaan en ons met alleenopsluiting gedreig. Daar het ons die Gedenkmaal met ’n lied en ’n gebed afgesluit.

“Toe ons na die barak terugkeer, het die ander gevangenes ons begroet met die woorde: ‘Toe julle almal skielik verdwyn, het ons gedink dat Armageddon gekom het en dat God julle hemel toe gevat het en ons hier gelos het om vernietig te word!’ Hierdie gevangenes was reeds ’n paar jaar saam met ons sonder om die waarheid aan te neem. Maar hierna het party van hulle begin luister.”

‘ONS HET STYF TEEN MEKAAR GESTAAN’

In een kamp in Workoeta was daar baie Getuies van die Oekraïne, Moldowa, die Baltiese lande en ander republieke van die Sowjetunie. Iwan Klimko vertel: “Dit was die winter van 1948. Hoewel ons nie Bybellektuur gehad het nie, het ons dinge wat ons uit ou tydskrifte kon onthou, op klein stukkies papier neergeskryf en dit vir die opsigters weggesteek. Maar hulle het geweet dat ons hierdie stukkies papier het. Lang, moeisame deursoekings het op ons gewag. Op koue winterdae is ons gedwing om buitentoe te gaan en in rye van vyf te staan. Ons is dikwels oor en oor getel. Hulle het blykbaar verwag dat ons daardie stukkies papier sou oorhandig eerder as om in die ysige koue te staan. Terwyl ons oor en oor getel is, het ons styf teen mekaar gestaan en ’n Bybelonderwerp bespreek. Ons gedagtes was altyd besig met geestelike sake. Jehovah het ons gehelp om ons onkreukbaarheid teenoor hom te handhaaf. ’n Ruk later het die broers selfs daarin geslaag om ’n Bybel in die kamp in te bring. Ons het dit in ’n paar dele verdeel sodat die hele Bybel nie gedurende ’n soektog gekonfiskeer sou word nie.

“Van die wagte het besef dat ’n gevangenekamp geen plek vir Jehovah se Getuies is nie. Hierdie goedhartige mense het ons gehelp waar hulle ook al kon. Party het eenvoudig ‘anderpad gekyk’ wanneer een van ons ’n pakkie ontvang het. Gewoonlik het elke pakkie ’n versteekte bladsy of twee van Die Wagtoring bevat. Hierdie bladsye, wat hoogstens ’n paar onse geweeg het, was waardevoller as kos wat ponde geweeg het. In elke kamp het die Getuies altyd fisies gebrek gely, maar geestelik was ons baie ryk.”—Jes. 65:13, 14.

“HY SAL DIT IN 50 STUKKIES VERDEEL!”

Die broers het elke week Bybelstudies gehou met diegene wat in die waarheid belanggestel het. Etlike gevangenes—selfs dié wat nie in die Bybel belanggestel het nie—het uitgevind dat Bybelstudies ná sewe-uur in die aand in die barak gehou word, en hulle het probeer om nie geraas te maak nie. Iof Andronik vertel: “Dit was duidelik dat Jehovah vir ons gesorg het en sy werk bevorder het. Ons het ook Christelike liefde aan mekaar probeer betoon deur Bybelbeginsels toe te pas. Ons het byvoorbeeld die kos in pakkies wat aan ons gestuur is, met mekaar gedeel, iets wat ongewoon was in die kampe.

“In een kamp was Mikola Piatocha verantwoordelik vir die verspreiding van kos onder die broers. ’n KGB-offisier het eenkeer gesê: ‘Gee Mikola ’n lekker, en hy sal dit in 50 stukkies verdeel!’ Dit is hoe die broers was. Ons het alles gedeel wat in die kamp ingekom het, of dit nou fisiese of geestelike voedsel was. Dit het ons gehelp en was ’n goeie getuienis vir opregtes wat gunstig kon reageer.”—Matt. 28:19, 20; Joh. 13:34, 35.

BONUSSE VIR GOEIE GEDRAG

Kampwerknemers wat in een kamp regstreeks met Jehovah se Getuies gewerk het, het ’n bonus van tot 30 persent van hulle salaris ontvang. Waarom? Wiktor Goetsjmidt verduidelik: “’n Voormalige kassier in die kamp het my hiervan vertel. Sy het gesê dat die kampwerknemers in kampe waar daar baie van ons broers was, aangesê is om nie hulle humeur te verloor of te vloek nie en om altyd taktvol en beleef te wees. Vir hierdie goeie gedrag sou hulle ’n groter salaris kry. Dit is doelbewus gedoen om vir almal te wys dat Jehovah se Getuies nie die enigstes is wat ’n voorbeeldige lewe lei nie en dat daar geen verskil tussen hulle en ander mense is nie. Die werknemers is dus vir hulle goeie gedrag betaal. Daar was baie wat in die kamp gewerk het—mediese personeel, arbeiders, boekhouers, opsigters—altesaam sowat honderd mense. Niemand wou die geleentheid laat verbygaan om ekstra geld te verdien nie.

“Eendag het ’n broer wat buite die kamp gewerk het, ’n afdelingsopsigter hard hoor vloek. Die volgende dag het die broer hom in die kamp teëgekom en gesê: ‘Iemand in die waghuis moes jou baie kwaad gemaak het. Jy het so hard gevloek!’ Die man het erken: ‘Nee, dis net dat alles in die loop van die dag in my opgebou het. Ek het dus buite die kamp gaan stoom afblaas.’ Ja, dit was vir mense ’n las om hulle soos Jehovah se Getuies te gedra.”

’N GETUIENIS AGTER GLAS

Die broers het geleenthede aangegryp om vir ander te getuig, en soms is hulle pogings ryklik beloon. Nikolai Goetsoeljak vertel: “Ons het dikwels kos by die kamp se kiosk gekry. Elke keer as dit my beurt was om kos te gaan haal, het ek ’n paar woorde oor ’n Bybelonderwerp probeer sê. Die vrou wat die kos uitgedeel het, het altyd aandagtig geluister, en eenkeer het sy my gevra om vir haar iets te lees. Drie dae later het ’n offisier my na die hek ontbied. Hy het my en ’n ander Getuie aangesê om glas in ’n venster in die kampbevelvoerder se huis te gaan sit.

“Soldate het my en die broer na die stad vergesel. Toe ons by die huis kom, het die vrou wat by die kiosk werk, die deur oopgemaak. Dit was die kampbevelvoerder se vrou! Een soldaat het binne gestaan, en twee het buite in die straat langs die venster gestaan. Die vrou het vir ons tee gemaak en ons gevra om vir haar meer van die Bybel te vertel. Daardie dag het ons glas in haar venster gesit en vir haar ’n deeglike getuienis gegee. Aan die einde van ons gesprek het sy gesê: ‘Moenie bang wees vir my nie. My ouers was godvresende mense, net soos julle.’ Sy het ons lektuur in die geheim gelees, sonder die medewete van haar man, wat die Getuies gehaat het.”

‘GAAN TERUG WERK TOE’

Party gesaghebbendes was die Getuies gunstig gesind en het vir hulle opgekom. In die 1970’s in Bratsk, Irkoetsk-oblast, het die Kommunistiese party se buro van die plaaslike saagmeule besluit om al sy werknemers af te dank wat Jehovah se Getuies is. Daar is vir die broers gesê: “Aangesien julle nie van die Sowjetregering hou nie, sal dit nie vir julle sorg nie. Aangesien julle wel van Jehovah hou, kan hy vir julle sorg.” Die broers wat afgedank is, het besluit dat dit die beste sou wees om openlik te preek, en daarom het hulle van huis tot huis begin gaan. By een huis het ’n vrou die deur oopgemaak, en die broers het gesê wie hulle is en kortliks die doel van hulle besoek verduidelik. ’n Manstem het uit die kombuis gekom: “Met wie praat jy? Laat hulle inkom.” Toe die broers ingaan, het die man gevra: “Waarom is julle nie by die werk nie? Dit is ’n werksdag.” Die broers het verduidelik waarom hulle sonder werk is.

Die man was ’n staatsaanklaer wat vir middagete huis toe gekom het. Hy was verontwaardig en het die saagmeule gebel om uit te vind of dit waar is dat die buro al Jehovah se Getuies afgedank het. Nadat hy bevestiging hiervan gekry het, het die aanklaer gesê: “Op grond waarvan? Besef julle nie dat julle die wet verbreek het nie? Julle het geen reg gehad om dit te doen nie! Ek beveel julle om al die Getuies terug te neem en om hulle vergoeding te betaal vir die drie maande waartydens hulle weens julle besluit nie kon werk nie.” Die aanklaer het die telefoon neergesit, na die broers gedraai en gesê: “Gaan môre terug werk toe en bly daar werk.”

“EK STEEK AL VAN 1947 AF LEKTUUR WEG”

Teen die 1970’s was die broers al vaardig daarin om lektuur te vervaardig, te versprei en weg te steek. Maar partykeer het situasies ontstaan waarin hulle vinnig moes dink. Grigori Siwoelski vertel: “Ons huis is eenkeer in 1976 deursoek. Die vorige aand het ek rapporte en adresse van die broers sommer onder ’n laaikas ingedruk. Gedurende die soektog het die KGB baie selfversekerd gelyk, asof hulle presies geweet het waar om te soek en waarvoor om te soek. Een van die KGB-agente het vir my gesê: ‘Bring vir my ’n tang en ’n skroewedraaier—ons gaan die bank uitmekaarhaal.’ Ek het gebid en doodluiters geantwoord:

“‘As julle ons huis onverwags kom deursoek het, soos julle met die huise van ander Getuies gedoen het, sou julle iets hier gevind het. Maar vandag is dit te laat. Julle sal niks vind nie.’

“‘En wat sou ons gevind het?’ het die agent gevra.

“‘Wagtoring- en Ontwaak!-tydskrifte. Maar vandag sal julle niks vind nie.’

“Ek het die gereedskap vir hulle gegee en gesê: ‘Nadat julle die bank deursoek het, sal julle dit weer moet regmaak sodat dit presies lyk soos dit nou lyk.’

“Hulle het ’n minuut lank besluiteloos rondgestaan. Ek kon hulle onsekerheid sien en het na een van hulle, ’n jong man, gedraai en gesê: ‘Ek neem aan jy soek maar nog net so drie jaar na die lektuur van Jehovah se Getuies. Maar ek steek al van 1947 af lektuur weg. Julle hoef nie julle tyd hier te mors nie; die lektuur is op ’n veilige plek.’

“Tot my verbasing het hulle vertrek. Die rapporte en adresse van die broers was so maklik om by te kom dat enigiemand dit kon gekry het.”

PERESTROIKA—’N TYD VAN VERANDERING

Die perestroika wat in 1985 aangekondig is, het nie onmiddellik die verwagte resultate gelewer nie. In party gebiede is die Getuies nog net soos vroeër gevonnis en tronk toe gestuur. Nietemin het die Duitse takkantoor in 1988 aan die wêreldhoofkwartier geskryf: “Aan die begin van die diensjaar het die owerheid aangedui dat hulle bereid is om die [broers in die USSR] meer vryheid te gee, wat vergaderinge en moontlik lektuur betref, as hulle hulle plaaslik sal laat registreer. Hulle kon die Gedenkmaal op die meeste plekke sonder enige steurnis hou. Hulle meen dat die owerheid se gesindheid teenoor hulle drasties verander het.”

Later het aangestelde broers die Duitse takkantoor voorsien van die posadresse van broers wat bereid was om pakkies met geestelike voedsel te ontvang. Hulle sou dit dan vir die ouer manne gee, wat sou sorg dat almal geestelik hierby sou baat vind. Teen Februarie 1990 was daar ongeveer 1 600 sulke privaat adresse waarheen geestelike voedsel een keer per maand gestuur is.

In 1989 was etlike duisende Getuies van die Sowjetunie in staat om die spesiale streekbyeenkoms in Pole by te woon. Jefdokia, ’n Getuie van die stad Naberezjnje Tsjelni, vertel: “Ons het vurig tot Jehovah gebid dat ons ons eerste ware streekbyeenkoms sou kon bywoon. Toe die bestuurder van die besigheid waar ek gewerk het, hoor dat ek uit die land wou gaan, het hy uitgeroep: ‘Wat! Kyk jy nie televisie nie? Die grens is gesluit, en hulle laat niemand deur nie!’

“Vol vertroue het ek geantwoord: ‘Die grens sal oopgemaak word.’ Dit is presies wat gebeur het. By die doeanebeheerpunt by Brest is net Jehovah se Getuies deurgelaat. Ons is nie eens deursoek nie en is almal beleefd behandel. Een persoon wat nie ’n Getuie was nie, het probeer voorgee dat hy ’n byeenkomsganger is en het saam met ons probeer deurglip. Maar die doeanebeamptes het dit gou agtergekom en hom aangehou. Hoe het hulle geweet? Die byeenkomsgangers het almal breed geglimlag en het net klein tasse by hulle gehad.”

’N HARTLIKE ONTVANGS IN MOSKOU

Veertig jaar het verloop sedert Jehovah se Getuies in 1949 by Moskou aansoek gedoen het om hulle bedrywighede te laat registreer. Die broers kon destyds nie met ’n goeie gewete aan die eise van Stalin se regering voldoen nie. Maar op 26 Februarie 1990 het die voorsitter van die Komitee van Godsdienssake in Moskou ’n afvaardiging van Jehovah se Getuies te woord gestaan. Die vergadering is ook deur twee ondervoorsitters en drie ander kollegas bygewoon. Die afvaardiging van Jehovah se Getuies het uit 15 persone bestaan: 11 broers van Rusland en ander republieke van die Sowjetunie, Milton Henschel en Theodore Jaracz van Brooklyn sowel as Willi Pohl en Nikita Karlstroem van die Duitse tak.

Die voorsitter het die vergadering begin met die woorde: “Ons is baie bly om met Jehovah se Getuies te vergader. Ek het al baie van julle gehoor, maar dit is die eerste keer dat ek julle ontmoet. Ons is oop vir bespreking in die gees van glasnost (openheid).” Die broers het hulle begeerte uitgespreek om die bedrywighede van Jehovah se Getuies in die Sowjetunie te laat registreer. Die voorsitter het verder gesê: “Dis goed om dit te hoor, en die tyd is gepas. Dit sal binnekort lente wees, ’n tyd om te saai. Ons kan dus goeie resultate en goeie vrugte verwag.”

Toe die voorsitter die broers vra om hulle voor te stel, was dit duidelik dat Jehovah se Getuies regoor die land gevind kon word, van Kaliningrad tot die Verre-Ooste. Een kringopsiener het gesê: “Ek verteenwoordig vier gemeentes in die Irkoetsk-oblast. Maar ek sien ook om na die Verre-Ooste, die Chabarowsk- en die Krasnojarsk-kraib en die Nowosibirsk- en die Omsk-oblast.” Die voorsitter het uitgeroep: “Jy het ’n ontsaglike gebied; dis groter as dié van baie nasies!”

’n Ondervoorsitter het gesê: “Ons moet beter vertroud raak met julle opvattings, aangesien ons party daarvan nie verstaan nie. In een van julle boeke sê dit byvoorbeeld dat God die aarde sal reinig en alle hedendaagse regerings sal verwyder. Ons kan dit nie verstaan nie.” Broer Pohl het geantwoord: “Jehovah se Getuies neem nie deel aan enige vorm van geweld nie. Wanneer ’n boek dit sê, verwys dit na spesifieke Bybelprofesieë. Jehovah se Getuies preek oor God se Koninkryk en die ewige lewe op ’n paradysaarde.”

“Daar is niks fout daarmee nie”, het die ondervoorsitter gesê.

Aan die einde van die bespreking het die voorsitter gesê: “Ons is baie bly dat ons met julle vergader het. Julle moet so gou moontlik geregistreer word.”

In Maart 1991 is Jehovah se Getuies in Rusland amptelik erken. Rusland het op daardie stadium ’n bevolking van meer as 150 miljoen gehad, en daar was 15 987 Koninkryksverkondigers. Die broers en susters in Rusland het nou verdere onderrigting van Jehovah nodig gehad.—Matt. 24:45; 28:19, 20.

“WATTER VREUGDE, WATTER VRYHEID!”

Omdat Finland naby Rusland is, het die Bestuursliggaam die Finse tak gevra om te help met die reëlings vir die internasionale byeenkoms in St. Petersburg, Rusland, wat van 26-28 Junie 1992 gehou is. Hoe het die broers daaroor gevoel om ’n byeenkoms in vryheid te hê nadat hulle meer as vyf dekades lank onder ’n verbod gelewe het? Een broer vertel: “Daar was duisende van ons by die stadion. Die trane het sonder ophou gevloei. Watter vreugde, watter vryheid! Ons het nooit eens kon droom dat ons sulke vryheid in hierdie stelsel van dinge sou geniet nie. Maar Jehovah het dit moontlik gemaak. Ons het gedink aan hoe vyf van ons in ’n afsonderingsel gelê het in ’n kamp omring deur ’n hoë heining en hoe vier van ons beurte geneem het om die vyfde een warm te hou. Die stadion was omring deur ’n hoë muur. Maar ons wou so lank moontlik daar bly. Dit was ’n onbeskryflike gevoel.

“Ons oë was die hele byeenkoms vol trane. Ons het gehuil van vreugde oor hierdie wonderwerk. Hoewel ons reeds oor die 70 jaar oud was, het ons in die stadion rondgedartel asof ons vlerke gehad het. Ons het 50 jaar lank vir hierdie vryheid gewag. Eers het Jehovah toegelaat dat ons na Siberië verban word, toe het ons in tronke en kampe beland. Maar nou was ons by die stadion! Jehovah is magtiger as enigiemand anders. Ons het vir mekaar gestaan en kyk en hard gehuil. Nie een van ons kon glo dat dit werklik gebeur nie. ’n Paar jong broers het om ons kom staan en gevra: ‘Is alles reg? Het iemand julle seergemaak?’ Ons kon egter nie antwoord nie, want ons het te hard gehuil. Maar toe het een van ons deur die trane heen gesê: ‘Ons huil van vreugde!’ Ons het vir hulle vertel hoe ons Jehovah jare lank onder die verbod gedien het. En nou kon ons eenvoudig nie glo dat Jehovah alles so vinnig verander het nie.”

Ná hierdie heuglike byeenkoms is die Finse tak gevra om 15 spesiale pioniers na Rusland te stuur. Op 1 Julie 1992 het Hannu en Eija Tanninen, ’n ywerige egpaar uit Finland, in hulle toewysing in St. Petersburg aangekom. In die begin was hulle grootste uitdaging om die taal te leer. Ná hulle eerste taalles het hulle in velddiens uitgegaan en mense ’n tuisbybelstudie aangebied. Hannu vertel: “In die vroeë 1990’s wou byna almal in die stad die Bybel studeer. Gedurende straatwerk het mense graag hulle adres vir ons gegee. Al die mense wou lektuur hê. As jy op die straat ’n tydskrif of traktaat vir een persoon gegee het, het tien ander wat dit gesien het, ook lektuur kom vra. Mense het die lektuur nie net aanvaar nie, maar het dit dikwels onmiddellik op die straat of op die moltrein begin lees.”

Van Oktober 1992 af het daar ook baie spesiale pioniers van Pole gekom. Die eerste groep het ongetroude susters ingesluit. Kort daarna het ’n tweede groep van Pole gekom, en hulle is na St. Petersburg gestuur. Ná ’n jaar is ’n groep Poolse pioniers na Moskou gestuur. In latere jare is meer as 170 vrywilligers van Pole, hoofsaaklik broers wat aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, aangestel om in Rusland te dien.

’N GROOT DEUR WAT TOT BEDRYWIGHEID LEI

Ná daardie internasionale byeenkoms in St. Petersburg het die Bestuursliggaam die broers toestemming gegee om ’n geskikte stuk grond (sewe hektaar) met ’n paar ou geboue daarop in die dorpie Solnetsjnoje, naby die stad, te koop. Die tyd het aangebreek om ’n Bethel vir Rusland te bou. Die Finse tak is gevra om met die bouprojek te help. In September 1992 het die eerste groep vrywilligers van Finland na Solnetsjnoje gekom. Aulis Bergdahl, een van die broers in die groep wat later ’n lid van die Takkomitee geword het, vertel: “Ek en my vrou, Eva Lisa, het die uitnodiging om ’n Bethel in Rusland te help bou, met vreugde aangeneem. Dit was vir ons duidelik dat Jehovah die werk rig. Ons broers regoor die wêreld het die projek ondersteun.”

Alf Cederlöf, die bouopsiener uit Finland, en sy vrou, Marja-Leena, was ’n bron van aanmoediging vir al die broers op die bouprojek. Die lede van die Finse Takkomitee was ook baie aanmoedigend. Broers van die Brooklyn-hoofkwartier het Solnetsjnoje gedurende die bouprojek besoek. Aulis vertel: “In 1993 het Milton Henschel ons ná die internasionale byeenkoms in Moskou besoek. Sy toesprake vir die vrywilligers op die projek sowel as sy privaat gesprekke met hulle was baie aanmoedigend.”

Ongeveer 700 vrywilligers—van Skandinawië, Europa, Amerika, Australië, Rusland en die ander voormalige Sowjetrepublieke—het met die Bethelbouwerk gehelp. Hulle het uit verskillende kulture en agtergronde gekom en het verskillende werksmetodes gehad. Maar die werk is gedoen, soos Sagaria 4:6 sê, “‘nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees’, het Jehovah van die leërs gesê”. Jehovah het inderdaad hierdie “huis” gebou (Ps. 127:1). Die Russiese broers het gewillig aangebied om met die Koninkrykswerk te help. Die meeste was jonk en nuut in die waarheid, maar baie van hulle het reeds begin pionier. Hulle was gretig om te leer hoe om vinnig en goed te bou en hoe om dinge op ’n teokratiese manier te organiseer.

ORGANISERING VAN DIE WERK

Teen die einde van 1993 het die lede van die Russiese Landskomitee in Solnetsjnoje aangekom. Dié wat genooi is, was Iwan Pasjkofski, Dmitri Liwi, Wasili Kalin, Aleksei Werzjbitski, Anatoli Pribitkof en Dmitri Fedoenisjin. Michail Sawitski het omtrent ’n jaar later by hulle aangesluit. Die Bestuursliggaam het Horst Henschel van die Duitse tak aangewys om die broers te help om die werk te organiseer.

Die reisende werk was een van die eerste dinge wat georganiseer moes word. Vyf kringe is aanvanklik in die land gevorm, twee in St. Petersburg en drie in Moskou en omgewing. Die eerste vyf voltydse kringopsieners was Artur Bauer, Pawel Bugajski en Roy Öster in Moskou en Krzysztof Popławski en Hannu Tanninen in St. Petersburg. Later is Roman Skiba ook as ’n kringopsiener aangestel. Matthew Kelly van die Verenigde State, wat in 1992 aan die Bedieningsopleidingskool gegradueer het, is ook as ’n deeltydse streekopsiener aangestel.

Hannu Tanninen vertel hoe die eerste kringbesoeke in die vroeë 1990’s verloop het: “Ek het ’n brief oor die komende besoek aan ’n gemeente in Petrozawodsk, Karelië, gestuur. Die brief het uiteengesit hoe die vergaderinge gedurende daardie week gehou moes word. Toe ek en my vrou vir die besoek daar aankom, het ’n ouer man ons by die stasie ontmoet, en ons is na sy huis toe. Hy het vir my die brief gewys en gesê: ‘Ons het hierdie brief van jou ontvang, maar aangesien ons dit nie verstaan het nie, het ons besluit om niks te doen nie en te wag totdat jy kom en alles verduidelik.’

“Met die eerste kringbesoek aan Moermansk was daar 385 verkondigers wat meer as 1 000 Bybelstudies gehou het. Maar eintlik het baie meer mense die Bybel gestudeer, aangesien baie studies met groepe belangstellendes gehou is. Een pioniersuster het byvoorbeeld 13 Bybelstudies gehad, maar meer as 50 mense het hierdie studies bygewoon!

“Ons tweede toewysing was in die Wolgograd- en die Rostof-oblast. In Wolgograd was daar net vier gemeentes vir meer as ’n miljoen mense. Die broers was gretig om te leer hoe om vergaderinge en Bybelstudies te hou en hoe om die predikingswerk van huis tot huis te doen. Ons moes gedurende elke besoek nuwe gemeentes stig. Vir die kringopsiener se verslag het ons getel hoeveel sedert die laaste besoek gedoop is. In elke gemeente is 50, 60 of 80 mense tussen die besoeke gedoop, en in een selfs meer as 100! Gevolglik is 16 nuwe gemeentes in net drie jaar in die stad gestig.”

In Januarie 1996 is ’n Takkomitee in Rusland aangestel. Terselfdertyd is die eerste voltydse streekopsieners aangestel. Onder hulle was Roman Skiba (Siberië en die Verre-Ooste), Roy Öster (Belo-Rusland, Moskou en St. Petersburg tot by die Oeralgebergte), Hannu Tanninen (Kaukasië tot by die Wolgarivier) en Artur Bauer (Kazakstan en Sentraal-Asië). Al die streekopsieners het destyds benewens hulle streek ook ’n klein kring bedien.

ONTSAGLIKE AFSTANDE

Roman Skiba was een van die eerste spesiale pioniers wat vroeg in 1993 uit Pole in Rusland aangekom het. Hy vertel: “In Oktober 1993 is ek aangestel om in die kringwerk te dien. My eerste kring het gemeentes in suidelike St. Petersburg, Pskof-oblast en die hele Belo-Rusland ingesluit. Dit was nietemin nie die grootste kring in Rusland nie. Ek moes egter gou daaraan gewoond raak om ontsaglike afstande af te lê. In November 1995 is ek na ’n kring in die Oeralgebergte gestuur en as ’n waarnemende streekopsiener aangestel. Die gebied wat ek bedien het, het die Oeralgebergte, die hele Siberië en die Verre-Ooste ingesluit. Een broer het uitgewerk dat 38 lande so groot soos Pole in hierdie streek sou kon pas! Daar was agt tydsones! Ongeveer twee jaar later het die tak my gevra om ’n groep in Oelan-Bator, die hoofstad van Mongolië, te besoek.”

Broer Skiba vertel verder: “Ek moes eenkeer twee vlugte neem om van Noril’sk, noord van die Noordpoolsirkel, na Jekaterinburg te gaan—die eerste vlug was van Noril’sk na Nowosibirsk en toe na Jekaterinburg. Dit was ’n reis wat ek nie maklik sal vergeet nie, want dit het gevoel of dit vir ewig duur. Die vlug van Noril’sk af het eers ná ’n vertraging van 12 uur vertrek; gevolglik het ek en my vrou, Lioedmila, ’n dag by die lughawe deurgebring. Gelukkig het ons geleer om ons persoonlike studie gedurende ons reise te doen.

“Soms was ons, ten spyte van al ons pogings, laat vir die besoek aan die gemeente. Ons moes eenkeer met ’n motor op ongeteerde bergpaadjies ry om by ’n gemeente in die bergdorpie Oest’-Kan in Altai te kom. Ongelukkig het die motor op pad soontoe gebreek, en ons was nie net te laat vir my om die gemeentelike verslae na te gaan nie, maar ons was ook twee uur laat vir die vergadering. Ons was teleurgesteld en het gedink dat almal waarskynlik al weg is. Hoe verbaas was ons tog dat 175 mense in die gehuurde saal gewag het, al was daar minder as 40 verkondigers! Ons vertraging het dit blykbaar vir baie belangstellendes van ander bergdorpies moontlik gemaak om by die vergadering uit te kom.”c

ONVERGEETLIKE STREEKBYEENKOMSTE

Streekbyeenkomste is vir die eerste keer in ’n paar groot stede gehou, waar die broers geen vorige ondervinding in die organisering van ’n streekbyeenkoms gehad het nie. In 1996 het die broers in Jekaterinburg ’n geskikte stadion gekies om die streekbyeenkoms te hou. Roman Skiba vertel: “Gras het op die paviljoen gegroei, en in die stadion was daar [twee meter] hoë berkebome. Die streekbyeenkoms sou oor net drie weke gehou word, en daar was net drie gemeentes in die stad en sy voorstede. Gelukkig was die stadionbestuurder bereid om met ons saam te werk, al kon hy nie sien hoe dit moontlik sou wees om die streekbyeenkoms in daardie stadion te hou nie. Die broers het aan die werk gespring, en teen die vasgestelde datum het die stadion geskitter. Die bestuurder kon sy oë nie glo nie!” Uit dankbaarheid het die bestuurder die broers toegelaat om die Pionierdiensskool in een van die stadion se geboue te hou. ’n Broer vertel: “Ná die streekbyeenkoms is die stadion weer vir sportgeleenthede gebruik, wat ’n bron van inkomste vir die stad was.”

Soms was aanpasbaarheid en volharding nodig om kring- en streekbyeenkomste te hou. In 1999 kon die broers nie ’n stadion in Wladikawkaz huur vir ’n kringbyeenkoms wat na verwagting deur 5 000 mense bygewoon sou word nie. Die broers het dus dadelik ’n gewysigde kringbyeenkomsprogram begin beplan. ’n Verkorte eendagprogram is vyf keer in Wladikawkaz in ’n gehuurde bioskoop gehou. Daarna is die volledige tweedaagse kringbyeenkomsprogram oor die naweek op twee plekke ongeveer twee kilometer van mekaar af in die stad Nal’tsjik gehou. Die byeenkoms by die een saal het twee uur later as die ander een begin om die sprekers van die eerste byeenkoms tyd te gee om na die tweede byeenkoms geneem te word. Dit het vir party van die reisende opsieners gevoel asof hulle stem sou ingee voordat die byeenkomste klaar is. Een broer het later uitgewerk dat hy daardie week 35 toesprake gehou het! Alles het goed verloop tot laat Saterdagoggend toe die program in die een saal onderbreek is. Mans in uniform het met ’n hond in die saal ingekom en aangekondig dat almal die gebou onmiddellik om tegniese redes moet ontruim. Die broers en susters het soos gewoonlik kalm gebly en die saal verlaat, en hulle het toe buite die gebou hulle middagete geëet en met mekaar geassosieer. Blykbaar het ’n godsiensfanatikus die owerheid gebel en vir hulle gesê dat daar ’n bom in die gebou is. Die saal is deursoek en niks is gevind nie; gevolglik is die broers toegelaat om die byeenkoms voort te sit. Nadat die program ’n bietjie aangepas is, het die byeenkoms suksesvol afgeloop, en almal kon by die program baat vind.

ROTSE, SKILDE EN SWAARDE

Die saadjies van waarheid is vinnig deur die hele land versprei. Eija Tanninen vertel: “In 1998 het ons klaargemaak vir die 15 uur lange treinreis van een streekbyeenkoms na ’n ander. Die broers het gevra of ons ’n klomp toneelrekwisiete vir die streekbyeenkoms se drama kon saamneem. Dit was ietwat van ’n waagstuk, want ons het geweet dat treinkondukteurs gewoonlik nie gehou het van mense met baie bagasie nie. Maar met die broers se hulp het ons ewe kordaat rotse, skilde, swaarde en sakke vol kostuums na ons vierpersoonskompartement gedra. Daar het ons met al ons goed gesit saam met twee ander passasiers wat die kompartement met ons gedeel het.

“Toe die kondukteur ons kaartjies kom kontroleer, het sy gevra waarom ons so baie bagasie het. Ons het verduidelik dat dit toneelrekwisiete is vir ’n drama wat by die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies gehou sou word. Sy was baie vriendelik en het vir ons gesê dat sy ’n ruk tevore ’n openbare toespraak bygewoon het wat my man gehou het toe ons ’n gemeente in haar tuisdorp besoek het. Ons het gevoel dat Jehovah ons help.”

WAARNEMERS TYDENS STUDIES

Die susters kon baie by mekaar leer. Eija vertel: “Ek kan my net voorstel hoeveel geduld en nederigheid dit van ons susters geverg het toe ons ons bediening in Rusland begin het, want ek kon nie die taal goed praat nie. Dit het my diep geraak om te sien hoe gretig die susters was om te leer hoe om Bybelstudies te hou. Baie van hulle was nuut in die waarheid, en party van hulle het tydens die verbod gedien toe onderrigting van Jehovah se organisasie hulle nie altyd kon bereik nie.

“Ons het van 1995 tot 1996 in die dorp Wolzjski gedien. Wanneer ’n suster my genooi het om saam met haar na ’n Bybelstudie te gaan, het ’n hele paar ander susters dikwels gevra of hulle kon saamgaan. Ek het aanvanklik gewonder waarom hulle dit doen, maar toe het hulle verduidelik dat hulle wou sien en leer hoe om Bybelstudies te hou. Ek het vir hulle gesê dat hulle kon kom as die Bybelstudent nie omgee nie en nie skaam sou voel in hulle teenwoordigheid nie. Gewoonlik het ses tot tien susters saamgekom, want hulle het gemeen dat dit die Bybelstudent nie sou pla nie, en dit het ook nie. Ná ’n paar maande het ek gesien hoe baie Bybelstudente op hulle beurt hulle eie Bybelstudies met belangstellendes begin. Wolzjski het destyds twee gemeentes gehad. Tien jaar later was daar 11 gemeentes.”

HAAR GEBED IS VERHOOR

Dit was duidelik dat teokratiese onderrigting nie net die broers en susters wat nuut was in die waarheid, tot voordeel gestrek het nie, maar ook dié wat Jehovah jare lank tydens die verbod gedien het. Hannu Tanninen vertel: “Ons het dikwels in verskillende situasies die leiding van die engele ervaar en gebeure gesien wat ’n diep indruk op ons gemaak het. In 1994 het ons by ’n nuwe gemeente in Nowgorod aangekom, wat nou ook Weliki Nowgorod genoem word, en die broers het ons na die woonstel geneem waar ons die week sou bly. In die woonstel was ’n besoeker met die naam Maria, ’n bejaarde suster wat spesiaal vir die geleentheid ongeveer [50 kilometer] gereis het. Sy was al 50 jaar lank in die waarheid en wou een van die eerste kringopsieners ontmoet wat ná die verbod gedien het. Ons het haar gevra om vir ons te vertel hoe sy die waarheid geleer het. Sy het vir ons vertel dat sy op 17-jarige ouderdom in ’n konsentrasiekamp in Duitsland beland het en Jehovah se Getuies daar ontmoet het. Sy het die waarheid aangeneem en is in die kamp deur ’n gesalfde suster gedoop. Maria is uiteindelik vrygelaat, en sy het na Rusland teruggekeer om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Ná ’n ruk is sy weens haar predikingsbedrywighede in hegtenis geneem en opgesluit. Sy was baie jare lank in Sowjetstrafkampe.

“Aan die einde van haar verhaal het dit ons diep geroer om hierdie nederige suster te hoor sê dat sy oor die afgelope paar weke tot Jehovah gebid het om vir haar te toon of daar iets met haar aanbidding skort. Later daardie aand het ek vir haar gemeld dat die artikel “Vrae van lesers” in Die Wagtoring ’n hele ruk tevore ’n sekere saak bespreek het. Dit het gesê dat doop slegs geldig is as dit deur ’n Christenbroer uitgevoer word. Maria was baie dankbaar. Sy het gevoel dat haar gebede verhoor is. Sy was dus bly om in die bad gedoop te word. Vyftig jaar het verloop sedert sy haar in 1944 toegewy het.”

GEESTELIKE VOEDSEL WORD IN 11 TYDSONES AFGELEWER

Sedert die begin van 1991 is lektuur uit Duitsland of Finland in pakkies na Rusland gepos. In Julie 1993 het die eerste vragmotor uit Duitsland met 20 ton lektuur in Solnetsjnoje aangekom. Vragmotors het lektuur van die Russiese tak af in Moskou, Belo-Rusland en Kazakstan begin aflewer. Dit het uitdagings gebied. Die broers moes byvoorbeeld 5 000 kilometer in een rigting aflê om lektuur in Kazakstan af te lewer. Daar was vertragings by die grense, en gedurende die winter het die vragmotors in die sneeu vasgeval.

Solnetsjnoje ontvang tans ongeveer 200 ton lektuur elke maand. Bethelbestuurders gebruik elke geleentheid om vir grenswagte of doeanebeamptes te getuig. Party van hulle geniet dit om Bybellektuur te lees. Toe ’n polisieman gedurende ’n inspeksie besef dat die Bethelvragmotor aan ’n godsdiensorganisasie behoort, het hy luidkeels teen godsdiens in die algemeen begin uitvaar. Hy het vertel hoe ’n priester, wat hy weens ’n ernstige verkeersoortreding voorgekeer het, hom gevloek het. Die broers het vir hom verduidelik hoe God mense behandel en wat sy voorneme vir die aarde en die mens is. Die polisieman het sy stemtoon verander en vriendeliker geword. Hy het selfs vrae begin vra, en die broers het dus hulle Bybels uitgehaal en ’n opbouende gesprek met hom gevoer. Dit het die polisieman so beïndruk dat hy gesê het: “Ek sal die Getuies soek sodat ek hierdie gesprek kan voortsit.”

Van 1995 tot 2001 was die Japannese tak verantwoordelik vir die aflewering van lektuur aan gemeentes in Wladiwostok, in die Verre-Ooste. Van daar af het broers lektuur per skip na gemeentes in Kamtsjatka gestuur. Die broers in Wladiwostok het die kapteins van party van die skepe wat na Kamtsjatka gevaar het, leer ken. Een kaptein het ingestem om ons lektuur gratis in sy kajuit te vervoer en het selfs die lektuur op sy skip help laai. “Ek is nou wel nie ’n gelowige nie”, het hy vir die broers verduidelik, “maar ek wil iets goeds doen. Ek hou van julle, en ek hou van hoe georganiseerd julle is. Wanneer ek by die afleweringspunt kom, hoef ek nie lank te wag voordat die lektuur afgelaai word nie. Julle mense is soos voëls; hulle sak op die lektuurbokse toe en verwyder dit vinnig.”

DIE GROEI SKEP ’N BEHOEFTE

Die Russiese uitgawe van Die Wagtoring was jare lank ’n maandelikse tydskrif met 16 bladsye en ietwat groter as wat tans die geval is. Al die studieartikels is in Russies vertaal en aan die broers in die Sowjetunie beskikbaar gestel, maar dit het lank ná die Engels verskyn. Studieartikels is ses maande tot twee jaar later gepubliseer, en die sekondêre artikels het selfs nog later verskyn. Die Russiese uitgawe van Die Wagtoring is sedert 1981 as ’n maandelikse tydskrif met 24 bladsye uitgegee, en sedert 1985 as ’n halfmaandelikse tydskrif. Die nommer van 1 Junie 1990 was die eerste volkleurtydskrif met 32 bladsye wat gelyktydig met die Engels verskyn het.

Tanja, een van die vertalers, vertel: “Noudat ons terugkyk, weet ons dat baie van wat ons destyds vertaal en gedruk het, nie voldoen het aan die vereistes vir ’n natuurlike en maklik verstaanbare vertaling nie. Maar dit was die beste wat ons onder die omstandighede kon doen. En dit was die voedsel wat mense wat geestelik honger gely het, nodig gehad het.”

Toe die verbod op die werk in die lande van die voormalige Sowjetunie opgehef is, kon ons lektuur wyd en syd versprei word. Russiese vertalers wat in Duitsland gewerk het, was gretig om hulp te ontvang. Twee nuwe verwikkelinge het daartoe bygedra dat die gehalte van vertaling verbeter het. Eerstens, tot hulle groot vreugde kon etlike broers en susters van Rusland en die Oekraïne na die Duitse tak gaan om as vertalers opgelei te word. Vyf van hulle het op 27 September 1991 daar aangekom, en ander het later by hulle aangesluit. Dit was die begin van ’n herstrukturering van die Russiese vertaalspan. Dit het nie sonder probleme geskied nie. Hulle ‘hout en klip’ het nie dadelik in “goud” verander nie, maar het deur al die stadiums gegaan wat in Jesaja 60:17 gemeld word.

Tweedens, die Russiese vertalers het begin baat vind by die werk van die Vertaaldiensteafdeling wat kort tevore gestig is. ’n Seminaar vir vertalers is by die Duitse tak gehou omstreeks die tyd toe die eerste broers en susters van Rusland in Selters, Duitsland, aangekom het.

Ideaal gesproke moet vertaling gedoen word in die land waar die betrokke taal gepraat word. Dit was dus opwindend toe die Russiese vertaalspan die Duitse tak in Januarie 1994 verlaat het om in die Bethel te gaan woon wat destyds in Solnetsjnoje in aanbou was.

Dit was natuurlik vir hulle moeilik om afskeid te neem van dié wat dekades lank stilweg vir hulle broers agter die Ystergordyn vertaal het maar wie se omstandighede hulle nie toegelaat het om saam met die ander Russiese vertalers te vertrek nie. Die groep van 17 broers en susters, tesame met 2 ander broers wat as spesiale pioniers sou dien, het Selters op Sondag 23 Januarie 1994 met baie trane en omhelsings verlaat.

‘EK IS GOD VIR DIE PASIËNT’

Dokters en mediese personeel in Rusland se beskouing van die godsdiensopvattings van hulle pasiënte is dekades lank beïnvloed deur hulle eie ateïstiese opvoeding en die wydverspreide gebruik van bloed in die mediese veld in die Sowjetunie. Wanneer Getuies mediese sorg nodig gehad het en gevra het dat dit sonder bloed gedoen word, was hulle dokters dus verbysterd of selfs onbeskof.

Dikwels het die dokters selfs gesê: “Hier is ek God vir die pasiënt!” As die pasiënt nie saamgestem het met wat die dokter sê nie, kon hy onmiddellik uit die hospitaal ontslaan word. Die Getuies se Bybelse standpunt oor bloedoortappings is ook dikwels deur teenstanders gebruik in pogings om ’n verbod op ons bedrywighede in Rusland te plaas.

In 1995 het die Hospitaalinligtingsafdeling in die Russiese tak begin funksioneer om mediese deskundiges te voorsien van juiste inligting oor die standpunt van Jehovah se Getuies. Etlike seminare is gehou waartydens ouer manne van meer as 60 Hospitaalskakelkomitees geleer het hoe om dokters en mediese deskundiges van die nodige inligting te voorsien sowel as hoe om dokters te vind wat Getuiepasiënte sonder bloed sou behandel.

In 1998 het Russiese geneeshere en hulle buitelandse kollegas ’n internasionale konferensie in Moskou gehou met die tema “Alternatiewe vir oortappings tydens chirurgie”, die eerste van sy soort in Rusland. Meer as 500 dokters van baie gebiede in Rusland het die konferensie bygewoon. Tussen 1998 en 2002 het Russiese dokters genoeg ondervinding opgedoen om tientalle van hierdie konferensies in verskeie groot stede in Rusland te hou. Hierdie konferensies het goeie resultate opgelewer.

Dr. A. I. Worobiof, ’n voormalige minister van gesondheid en hoofhematoloog van die Russiese Federasie, het in ’n amptelike brief aan regsgeleerdes wat die regte van Getuiepasiënte verdedig het, gesê dat “die sterftesyfer onder moeders wat geboorte gee in ons land met 34 persent afgeneem het” omdat dokters hulle benadering tot bloedoortappings weer in oënskou geneem het. Dr. Worobiof het toe gesê: “Vroeër het ons mediese stelsel ’n sterftesyfer gerapporteer wat agt keer hoër was as dié onder moeders wat in Europa geboorte gegee het, aangesien vroedvroue hier die moeders onnodige bloedoortappings gegee het.”

In 2001 het die Departement van Gesondheid van die Russiese Federasie ’n reeks instruksies aan mediese instellings regoor die land gestuur. Volgens die instruksies moet die dokter ’n pasiënt se weiering van bloedoortappings om godsdiensredes respekteer. In 2002 het die Russiese Departement van Gesondheid Instruksies oor die gebruik van bloedkomponente vrygestel. Hierdie regulasies bepaal dat ’n bloedoortapping net gegee mag word nadat die pasiënt skriftelik daartoe ingestem het. Dit meld ook dat alternatiewe behandelingsmetodes gevolg moet word wanneer pasiënte om godsdiensredes ’n oortapping van bloedkomponente weier.

Baie dokters het hulle gesindheid teenoor die gebruik van bloed verander nadat hulle saam met verteenwoordigers van die Hospitaalinligtingsafdeling gewerk het. ’n Chirurg het vir hulle gesê: “Ek het by [Getuie]pasiënte en by julle verneem dat julle bloedoortappings nie bloot weens ’n gier weier nie, maar weens ’n gebod in die Bybel. Ek het besluit om te kyk of dit so is. Ek het al die Bybelverwysings in die materiaal wat julle vir my gegee het, gelees. Ná verdere oorweging het ek tot die slotsom gekom dat julle standpunt werklik op die Bybel gegrond is. Maar waarom swyg ons priesters hieroor? Wanneer die onderwerp ter sprake kom, sê ek nou vir ander dokters dat die Getuies die mense is wat die Bybel volg.” Vandag bied meer as 2 000 dokters in Rusland bloedlose mediese behandeling aan Getuiepasiënte.

DIEN VREUGDEVOL IN HULLE TOEWYSING

Arno en Sonja Tüngler, wat aan die Gileaduitbreidingskool in Duitsland gegradueer het, het sedert Oktober 1993 in verskillende Russiese stede gedien. Hoe het Jehovah se werk gevorder in die gebiede waar hulle gedien het? Luister terwyl hulle hulle ondervindinge vertel.

Arno: “Ons het in ons toewysing in Moskou aangekom. Ná ’n paar weke het ons ons eerste toesprake op die Teokratiese Bedieningskool gehou. Ná ses weke in Rusland het ek my eerste byeenkomstoespraak gehou. Ons het gedien in ’n gemeente met ongeveer 140 gedoopte verkondigers, en die gemeente se gebied was so groot soos ’n kring in Duitsland! Ons eerste gebied was naby ons pionierhuis. Hoe opwindend was dit tog om die eerste Getuies te wees wat daar van deur tot deur gepreek het!”

Sonja: “Hoewel ons skaars Russies kon praat, het ons soms alleen straatgetuieniswerk gedoen en met mense gepraat en vir hulle traktate en lektuur gegee. Die plaaslike broers en susters het ons grootliks ondersteun, en dit was maklik om reëlings met hulle te tref om velddiens te doen. Hulle was baie liefdevol en geduldig en het ons in ons gebroke Russies laat praat. Die huisbewoners was ook baie geduldig. Die Sowjetunie het in duie gestort, en mense het baie belanggestel in godsdiens.”

Arno: “Die feit dat ons aan die deur-tot-deur-bediening deelgeneem en Bybelstudies gehou het, het ons baie gehelp om Russies te leer. Teen ons vierde maand in Rusland, Januarie 1994, het ons reeds 22 Bybelstudies gehou; ons het dus baie geleenthede gehad om die alledaagse Russies van die mense te hoor en te praat.

“’n Verstommende aantal mense is destyds by kring- en streekbyeenkomste gedoop; dit was soms 10 persent of meer van die bywoningsyfer. Nie al die gemeentes het genoeg verantwoordelike broers gehad om as ouer manne en bedieningsknegte te dien nie. Een ouer man het selfs as die presiderende opsiener van vyf gemeentes gedien! Hy het my gevra om die Gedenkmaaltoespraak vir een van hierdie gemeentes te hou. Dit is deur 804 mense bygewoon, en hulle moes die saal onmiddellik ná die toespraak verlaat, aangesien ’n ander gemeente daar moes vergader. Die spreker vir die tweede toespraak was egter in ’n motorongeluk betrokke op pad na die saal toe en sou nie betyds kon opdaag nie; daarom moes ek die toespraak weer hou. Hierdie keer was die bywoningsyfer 796! Die Gedenkmaalbywoningsyfer vir net twee gemeentes was dus 1 600, wat aandui watter ontsaglike belangstelling mense destyds in die waarheid getoon het.”

JEHOVAH “BESPOEDIG” DIE OES

In sy Woord het Jehovah belowe dat hy die insameling van sy “begeerlike dinge” sou “bespoedig” (Jes. 60:22; Hag. 2:7). In 1980 was daar 65 verkondigers in St. Petersburg wat met die stadsbewoners oor Bybelonderwerpe probeer praat het ten spyte daarvan dat die KGB hulle fyn dopgehou het. Teen 1990 het meer as 170 Getuies in verskillende dele van die stad informele straatgetuieniswerk gedoen. In Maart 1991 is die bedrywighede van die Getuies in Rusland geregistreer, en kort voor lank was vyf gemeentes bedrywig in die stad. Die internasionale byeenkoms in 1992 in St. Petersburg, sowel as ander teokratiese geleenthede, het vinnige groei tot gevolg gehad. In 2006 was meer as 70 gemeentes bedrywig in St. Petersburg.

In 1995 was daar net een gemeente in Astrakan, nie ver van die Kazakstan-grens af nie. Die gemeente het geen ouer manne of bedieningsknegte gehad nie. Die broers het nietemin ’n kringbyeenkoms sowel as ’n spesiale byeenkomsdag gehou. Die toesprake op die program is gelewer deur ouer manne wat meer as 700 kilometer van Kabardino-Balkarië af gereis het. Hierdie broers het nie vooraf geweet hoeveel by hierdie byeenkomste gedoop gaan word nie. Roman Skiba vertel: “Ek en ’n ander ouer man het twee weke voordat ’n byeenkoms gehou sou word, daar aangekom sodat ons saam met die gemeente velddiens kon doen en die vrae kon hersien met dié wat gedoop wou word. Maar op die ou end was daar absoluut geen tyd vir ons om in die bediening uit te gaan nie. Al ons tyd is in beslag geneem deur besprekings met 20 doopkandidate!”

In 1999 het die broers in Jekaterinburg ’n paar handelaars van ’n mark na die Gedenkmaal genooi. Die handelaars het gevra of hulle ook hulle vriende kan nooi. Hoe verbaas was die Getuies tog toe ongeveer 100 mense by die saal opdaag! Hoewel die gehuurde saal groot was, moes party staan.

BYBELSTUDIES MET GROEPE VAN VYFTIG

Die predikingswerk in Iwanowo-oblast, nie ver van Moskou af nie, het teen die einde van 1991 begin toe Pawel en Anastasia Dimof na hierdie gebied getrek het. ’n Moeilike taak het voorgelê—hulle moes die predikingswerk doen in ’n gebied met meer as ’n miljoen inwoners. Waar sou hulle begin? Hulle het op ’n eenvoudige en doeltreffende metode besluit: ’n lektuurstalletjie. Hulle het ’n stalletjie op die hoofplein van die stad opgeslaan en brosjures, tydskrifte en boeke uitgestal. Verbygangers het daar gestop, en baie van hulle het opregte belangstelling getoon. Almal wat in die waarheid belanggestel het, is na ’n Bybelstudievergadering genooi. Hierdie vergaderinge kon nouliks tuisbybelstudies genoem word, aangesien hulle in gehuurde sale gehou is en tot 50 mense dit bygewoon het. Die studies was soos vergaderinge en is in twee dele gehou. Eers is die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe bespreek, en daarna is ’n artikel uit Die Wagtoring gestudeer. Studies is drie keer per week gehou en was elk drie uur lank. Drie sulke studievergaderinge is in verskillende dele van die stad gehou. Pawel het altyd op sy rapport geskryf dat hy drie Bybelstudies hou. Toe daar vir hom gevra is waarom hy so min studies hou terwyl die meeste verkondigers 10 tot 20 hou, het dit aan die lig gekom dat ongeveer 50 belangstellendes elke studie bywoon! Dit was duidelik dat Jehovah hierdie reëling geseën het, want baie van die mense wat die studies bygewoon het, het die begeerte uitgespreek om die goeie nuus aan ander bekend te maak. Ná een studie het Pawel aangekondig dat diegene wat verkondigers wou word, kan agterbly. Niemand het geloop nie, en almal het verkondigers geword. Die aantal lektuurstalletjies in die stad het toegeneem, en weldra was daar baie stalletjies vol lektuur op die stadspleine en in parke.

Dit was nou tyd om met ’n ander vorm van diens te begin, die deur-tot-deur-bediening. Maar hoe was dit moontlik om te begin, aangesien byna nie een van die verkondigers al ooit aan hierdie vorm van diens deelgeneem het nie? Diegene wat wou leer hoe om van huis tot huis te getuig, het saam met die Dimofs in die bediening uitgegaan. Daar was dikwels baie verkondigers wat wou leer. Soms het tien verkondigers op een slag saam met Pawel na ’n deur gegaan! Verbasend genoeg het dit nie die huisbewoners geïntimideer nie, en hulle het graag met die groep gepraat. Party het selfs die hele groep in hulle woonstel ingenooi.

Nuwe verkondigers was weldra gretig om ook buite die stad Iwanowo te gaan preek, en daarom is reëlings getref om na ander stede in Iwanowo-oblast te gaan. Groepe van 50 het op die trein geklim, en die verkondigers het op pad na die stad begin preek en het dan by hulle aankoms in pare verdeel. Hulle het in woonstelblokke gewerk en mense genooi na ’n vergadering wat daardie aand gehou sou word. By die vergadering het die broers video’s vertoon wat deur Jehovah se Getuies gemaak is. Hulle het ook ’n toespraak gehou. Ná die vergadering is almal wat dit bygewoon het, ’n tuisbybelstudie aangebied, en dié wat wou studeer, het hulle adres vir die broers gegee. Danksy hierdie bedrywighede is daar in etlike stede in Iwanowo-oblast tot vyf gemeentes gestig.

In 1994 was daar in Iwanowo alleen 125 verkondigers, en 1 008 mense het die Gedenkmaal bygewoon. Gedurende dieselfde jaar is 62 persone van Iwanowo by die streekbyeenkoms gedoop. ’n Nuwe gemeente is in een dag gevorm! Daar is tans 1 800 Koninkryksverkondigers in Iwanowo-oblast besig met die Here se werk.

SAMEKOMSTE ONDANKS TEENSTAND

In etlike stede was dit moeilik om toestemming te kry om die stadions vir streekbyeenkomste te gebruik. Byvoorbeeld, in Nowosibirsk het teenstanders wat deur geestelikes ondersteun is, gereël dat ’n ry protesteerders voor die ingang staan van die stadion waar die byeenkoms gehou is. Een van die plakkate van hierdie teenstanders het gesê: “Pas op vir Jehovah se Getuies.” Maar die protesteerders het nie opgemerk dat die laaste twee letters van die eerste woord op die plakkaat geklad was nie, sodat die plakkaat eintlik gesê het: “Sorg vir Jehovah se Getuies.”

In 1998 is pogings om ’n kringbyeenkoms in Omsk te hou, teëgestaan. Onder druk van teenstanders het die plaaslike owerheid die bestuurder van die saal op die nippertjie gedwing om die huurooreenkoms met die Getuies te kanselleer. Etlike honderde mense wat vir die byeenkoms opgedaag het, het langs die saal vergader. Die bevreesde bestuurder, wat bekommerd was oor sy veiligheid en dié van die saal, het die broers begin soebat om vir die mense te sê om nie gewelddadig te word nie. Die broers het hom gekalmeer en vir hom gesê dat niemand daar ’n hand teen enigiemand sou lig nie. Die byeenkomsgangers het rustig foto’s van mekaar geneem ter herinnering aan die geleentheid en toe uitmekaargegaan. Dit het die bestuurder oortuig dat Jehovah se Getuies vredeliewende mense is. Twee weke later is die byeenkoms in ’n ander saal gehou. Die teenstanders het te laat van die byeenkoms te wete gekom om dit stop te sit en het eers teen die einde van die program daar opgedaag.

’N BYEENKOMS “ONDER DIE STERRE”

Van 22 tot 24 Augustus 2003 sou een van ’n paar gebaretaal-streekbyeenkomste in die stad Stawropol’ in Kaukasië gehou word. Byeenkomsgangers het van 70 stede in Rusland gekom. Daar was egter ’n sterk moontlikheid dat die byeenkoms gekanselleer sou word as gevolg van hewige teenstand van die stadsbestuur. Die dag voor die byeenkoms het die bestuurder van die saal dan ook die huurooreenkoms gekanselleer. Maar op Vrydag 22 Augustus het die broers ’n ooreenkoms met die bestuur van ’n sirkus aangegaan om hulle arena vir die byeenkoms te gebruik.

Die program het drie-uur die middag begin, maar kort ná die pouse is die gebou se elektrisiteit skielik afgesny. Die byeenkomsgangers het geduldig bly sit, en toe die elektrisiteit ’n uur later herstel is, het die program voortgegaan en halftien die aand geëindig.

Die tweede dag van die byeenkoms het begin met ’n kragonderbreking halftien die oggend. Kort daarna is die water afgesluit. Hoe sou die broers die byeenkoms sonder water of ligte kon voortsit? Om tien voor elf het die Byeenkomskomitee besluit om al die deure van die arena oop te maak, aangesien dit ’n helder, sonnige dag was. Die broers was vindingryk en het groot spieëls buite in die straat gesit om die sonlig tot in die saal en op die spreker te laat weerkaats. Hoewel die gehoor toe die spreker kon sien, was dit gou duidelik dat die helder lig dit vir die spreker moeilik gemaak het om sy aantekeninge te sien! Die broers het toe ander spieëls gebruik om die sonlig te laat val op ’n groot bol met spieëltjies wat van die koepeldak af gehang het. Die sirkusarena was vol flikkerende liggies, en die spreker en almal in die gehoor kon toe op die program konsentreer. Dit het ’n unieke streekbyeenkoms “onder die sterre” geword. Dit is hoe die byeenkomsgangers die liggies beskryf het wat oor die donker sirkusarena geflikker het.

Die burgemeester en etlike amptenare het weldra by die arena aangekom. Hulle was verbaas dat die Getuies voortgegaan het met hulle byeenkoms. Hulle was bowenal beïndruk deur die gedrag van die byeenkomsgangers. Nie een van hulle het geprotesteer of gekla nie, en almal se oë was op die verhoog gevestig. Die polisiehoof, wat vroeër aggressief was teenoor die Getuies, was so geraak deur wat hy gesien het, dat hy gesê het: “In my hart en siel is ek met julle, maar ons lewe in ’n wêreld wat nie van julle hou nie.”

Die amptenare het vertrek, en die kragtoevoer tot die arena is kort daarna herstel. Hoewel die eerste twee dae van die byeenkoms laat geëindig het, het die byeenkomsgangers tot die slotgebed gebly. Ondanks die teenstand het die bywoningsyfer elke dag toegeneem, van 494 op Vrydag tot 535 op Saterdag en 611 op Sondag! In die slotgebed is spesiale dank teenoor Jehovah uitgespreek dat hy hulle toegelaat het om hierdie wonderlike byeenkoms te hou. Die byeenkomsgangers het vreugdevol uitmekaargegaan, met groter vasbeslotenheid om hulle hemelse Vader te dien en sy naam te loof.

DOWES LOOF JEHOVAH

Daar was heelparty dowes onder die duisende byeenkomsgangers van die Sowjetunie wat die spesiale streekbyeenkoms in Pole in 1990 bygewoon het. Nadat hierdie eerste “saaiers” geestelike bemoediging by die streekbyeenkoms ontvang het, het hulle intensiewe pogings aangewend om te preek. Daar kon reeds in 1992 gesê word dat hierdie deel van die veld ook ryp is vir die oes en dat ‘die oes groot sou wees’ (Matt. 9:37). Die eerste gebaretaalgemeente is in 1997 gestig, en daar was talle gebaretaalgroepe dwarsdeur die land. ’n Gebaretaalkring is in 2002 gevorm—die grootste geografiese kring in die wêreld. In 2006 was die verhouding van verkondigers tot die bevolking onder die land se dowes 1 tot 300, terwyl dit onder die horende bevolking 1 tot 1 000 was.

Goeie vertalings van ons publikasies in gebaretaal was nodig. In 1997 het die Russiese tak met vertaling in gebaretaal begin. Jefdokia, een van die dowe susters op die gebaretaal-vertaalspan, sê: “Vir my is dit ’n besondere voorreg om by Bethel te dien en ons publikasies in gebaretaal te vertaal. In die wêreld vertrou mense nie dowe persone nie, en hulle word as minderwaardig beskou. Maar dit is heeltemal anders in God se organisasie. Eerstens sien ek dat Jehovah ons as dowes vertrou om die waarheid in ons taal oor te dra. Tweedens het ons vrymoedigheid onder Jehovah se volk en is ons opreg bly om deel van so ’n groot gesin te wees.”

DIE GOEIE NUUS IN ELKE TAAL

Hoewel Russies die vernaamste handels- en onderwystaal in die Sowjetunie was, is ongeveer 150 ander tale gepraat. In 1991, nadat die Sowjetunie in 15 lande versplinter het, is belangstelling in die waarheid aangewakker onder baie mense wat hierdie tale praat, veral in die nuwe onafhanklike lande. In ooreenstemming met Openbaring 14:6 is ’n intensiewe poging aangewend om mense van “elke nasie en stam en taal en volk” in hierdie ontsaglike gebied te bereik. Gevolglik was dit nodig om Die Wagtoring in 14 nuwe tale vir die gebied onder die Russiese tak te druk ten einde tienduisende nuwe dissipels van geestelike voedsel te voorsien. Om die verspreiding van die goeie nuus te bevorder, hou die Russiese takkantoor toesig oor die vertaling van lektuur in meer as 40 tale, sodat Bybelwaarheid harte gouer en dieper as ooit tevore kan raak.

Die meeste van hierdie tale word in die Russiese Federasie gepraat. Byvoorbeeld, ’n mens kan Osseties op die strate van Beslan en Wladikawkaz hoor; Boerjaties, wat verwant is aan Mongools, in die gebied rondom die Baikalmeer; Jakoeties, ’n Altaïes-Turkse taal, onder rendierherders en ander inwoners van die Verre-Ooste; en sowat 30 ander tale in Kaukasië. Naas Russies is Tataars die grootste taalgroep in Rusland—dit word deur meer as vyfmiljoen gepraat, veral in die gebied wat bekend staan as Tatarstan.

Mense wat Tataars praat, is dikwels bereid om Tataarse lektuur te lees, maar min sal Russiese lektuur neem. Gedurende die kampanje met Koninkryksnuus Nr. 35 het ’n vrou wat op die platteland woon, ’n eksemplaar van die Koninkryksnuus ontvang en ’n brief geskryf waarin sy ’n Vereis-brosjure in Tataars gevra het. ’n Suster het vir haar ’n brosjure en ’n brief gestuur, en die vrou het geesdriftig gereageer met ’n brief van agt bladsye. Sy het weldra die Bybel begin studeer met behulp van Tataarse publikasies. ’n Man wat die Gee God om-brosjure in Tataars ontvang het, het gesê dat dit hom gehelp het om die wêreldsituasie in ’n ander lig te sien. Hierdie resultate sou nie moontlik gewees het sonder Tataarse lektuur nie.

’n Vrou wat Mari praat, het Koninkryksnuus Nr. 35 ontvang. Nadat sy dit gelees het, wou sy meer weet, maar daar was geen Getuies waar sy op die platteland gewoon het nie. Gedurende ’n besoek aan die stad het sy met een van Jehovah se Getuies in aanraking gekom en die Kennis-boek en ander lektuur in Russies gekry. Nadat sy dit op haar eie bestudeer het, het sy in haar omgewing begin preek, en dit was nie lank nie of sy het met ’n groep belangstellendes gestudeer. Toe het sy te hore gekom van ’n spesiale byeenkomsdag in Izjewsk en het daarheen gereis in die hoop dat sy gedoop kon word. Maar by die byeenkoms het sy uitgevind dat diegene wat gedoop wil word, ’n deeglike studie van die Bybel moet maak, en die broers het reëlings getref om haar geestelik te help. Dit alles het gebeur omdat sy die Koninkryksnuus in haar eie taal gelees het.

In Wladikawkaz was daar net een Ossetiese gemeente, en by kring- en streekbyeenkomste is nie een van die toesprake in Osseties getolk nie. In 2002 is toesprake egter vir die eerste keer getolk. Die Ossetiese broers was verheug! Selfs dié wat Russies goed verstaan het, het gesê dat dit hulle hart geraak het om die Bybelboodskap in hulle moedertaal te hoor. Dit het bygedra tot die geestelike groei van die gemeente en het baie Ossetiërs tot die waarheid aangetrek. In 2006 is ’n kring in Ossetië georganiseer, en kringbyeenkomste is vir die eerste keer in Osseties gehou.

Gedurende ’n besoek van reisende opsieners aan ’n groep in die afgeleë dorpie Aktasj, Altai, het ongeveer 30 mense in ’n woonstel vergader, hoewel die groep self net uit ’n paar verkondigers bestaan het. Almal het na die openbare toespraak geluister, maar gedurende die streekopsiener se dienstoespraak het omtrent die helfte van die gehoor huis toe gegaan. Ná die vergadering het die streekopsiener die plaaslike broers gevra waarom so baie uitgeloop het. ’n Bejaarde Altaïese vrou het in gebroke Russies geantwoord: “Julle doen ’n belangrike werk, maar ek het byna niks verstaan nie!” Gedurende die volgende kringbesoek is die toesprake getolk, en almal het gebly om die hele program te geniet.

Daar is baie studente van ander lande in die stad Woronezj. In 2000 het ’n Chineessprekende bedieningskneg ’n paar informele Chinese taalklasse georganiseer. Baie Getuies het op die behoefte gereageer en vir Chinese studente begin getuig. Chinees is ’n baie moeilike taal, maar die broers het nie moed opgegee nie. In Februarie 2004 is die eerste Chinese boekstudie in die stad georganiseer. Die eerste Chinese Bybelstudent is daardie April gedoop, en twee maande later is nog een gedoop. Nou word die boekstudie gereeld deur groepe belangstellendes bygewoon, en ongeveer 15 Bybelstudies word in Chinees gehou. Namate die goeie nuus alle dele van hierdie ontsaglike veld bereik, gaan die Russiese tak voort om gehoor te gee aan versoeke vir meer lektuur in meer tale.

PIONIERS ONTVANG OPLEIDING

Die Pionierdiensskool word nou al ’n hele paar jaar in Rusland gehou. Elke klas bestaan oor die algemeen uit 20 tot 30 plaaslike pioniers wat nie ver hoef te reis om die skool by te woon nie. Dit was egter nie die geval toe die skool in Rusland begin het nie. Roman Skiba vertel: “Die Pionierdiensskool wat ek die beste onthou, is die een wat in 1996 in Jekaterinburg gehou is. Meer as 40 broers en susters het dit bygewoon. Baie moes honderde [kilometers] en party [byna 1 000 kilometer] reis om die skool by te woon.”

Swetlana dien al sedert 1997 as ’n gewone pionier in die gebaretaalveld. In Januarie 2000 het sy die pionierskool in gebaretaal bygewoon. Ná die skool het Swetlana vertel hoe die skool haar gehelp het om die gehalte van haar bediening te verbeter en om te verstaan wat dit beteken om ’n Christen in die gesin en in die gemeente te wees. Sy sê: “Ek het groter liefde vir ander ontwikkel. Ek het ook besef hoe belangrik dit is om met die broers en susters saam te werk, en nou aanvaar ek geredelik raad. Die gehalte van my Bybelstudies het ook aansienlik verbeter vandat ek illustrasies in my onderrigting begin gebruik het.”

Aljona dien as ’n pionier in Chabarowsk, ’n stad in die Verre-Ooste, en help dowes om die waarheid te leer. Om haar beter van haar taak te kwyt, wou Aljona die Pionierdiensskool in gebaretaal bywoon. Watter probleme moes sy te bowe kom? Aljona sê: “Die naaste pionierskool in gebaretaal is in Moskou gehou, wat [9 000 kilometer] van Chabarowsk af is. Om die skool by te woon, moes ek agt dae met die trein soontoe reis en weer dieselfde aantal dae om terug te kom huis toe.” Maar sy was glad nie spyt daaroor nie!

Behalwe skole om dié in die gebaretaalveld te help, is honderde Pionierdiensskole tussen 1996 en 2006 in Rusland gehou. Die opleiding van pioniers het regstreeks bygedra tot die groei in die predikingswerk sowel as in die gemeentes. Marcin, wat tans as ’n kringopsiener dien, vertel: “Ek is in 1995 as ’n spesiale pionier in die Koentsëwo-gemeente in Moskou aangestel. Toe ek die openbare toespraak en die Wagtoring-studie bywoon, het dit soos ’n kringbyeenkoms gelyk! Daar was ongeveer 400 mense in die saal. Die gemeente het destyds 300 verkondigers gehad. Skaars tien jaar later was daar tien nuwe gemeentes wat uit daardie oorspronklike gemeente ontstaan het!

“Terwyl ek gedurende 1996 en 1997 as ’n kringopsiener gedien het, het ek verbasende groei in die kring gesien. Ek het ’n gemeente in die dorp Wolzjski, Wolgograd-oblast, besoek en ses maande later daarheen teruggekeer. Gedurende dié tyd het hierdie gemeente toegeneem met 75 nuwe verkondigers. Dit was soos ’n heeltemal nuwe gemeente! Dit is moeilik om die gees van hierdie nuwe, ywerige verkondigers te beskryf. Die velddiensvergaderinge, wat in ’n woonstel in ’n veelverdiepinggebou gehou is, is gereeld deur tot 80 mense bygewoon. Baie het op die trap en in die trapportale gestaan omdat daar geen plek vir hulle in die woonstel was nie.”

JONGMENSE VERHEERLIK JEHOVAH

Baie jongmense toon belangstelling in die Koninkryksboodskap ondanks teenstand van hulle ouers. ’n Twintigjarige suster vertel: “In 1995, toe ek nege jaar oud was, het Jehovah se Getuies vir my ouers getuig, maar hulle het nie die waarheid aangeneem nie. Ek wou egter meer van God weet. Gelukkig het ’n vriendin wat ook ’n klasmaat was, die Bybel begin studeer, en ek het bygesit tydens haar studies. Toe my ouers dit uitvind, het hulle my verbied om met die Getuies te assosieer. Hulle het my soms alleen in die woonstel toegesluit sodat ek nie na die studie toe kon gaan nie. So het dit gegaan totdat ek 18 geword het. Ek het die huis verlaat om in ’n ander stad verder te studeer en het die Getuies daar gevind. Hoe bly was ek tog om my Bybelstudie te hervat! Ek het Jehovah met my hele hart liefgekry en is by ’n streekbyeenkoms in 2005 gedoop. Ná my doop het ek onmiddellik hulppionierdiens begin doen. My ouers is nou gunstig gesind teenoor dit wat al van kleins af vir my so kosbaar is.”

’n Ander suster vertel: “In 1997, toe ek 15 jaar oud was, het die Getuies vir my ’n Ontwaak! aangebied. Ek het baie gehou van die naam en die inhoud van die tydskrif, en ek wou dit gereeld ontvang. Toe my pa uitvind dat ek hierdie tydskrif lees, het hy die Getuies verbied om na ons huis toe te kom. ’n Ruk later het my niggie die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer, en vroeg in 2002 het ek die vergaderinge by die Koninkryksaal saam met haar begin bywoon. Daar het ek gehoor dat Jehovah se Getuies as sendelinge dien, en ek het ’n brandende begeerte ontwikkel om ander te help om van God te leer. Maar my niggie het verduidelik dat ek eers moet ophou rook, my lewe in ooreenstemming met God se wil moet bring en een van God se knegte moet word. Ek het hierdie raad gevolg, en ek is ses maande later gedoop en het dadelik hulppionierdiens begin doen. Ek is bly dat ek ’n ware doel in die lewe gekry het.”

OP SOEK NA “BEGEERLIKE DINGE” IN SACHA

Een kring sluit Amoer-oblast en die hele gebied van Sacha in. Gedurende die 2005-diensjaar is daar vir die eerste keer ’n kringbyeenkoms en ’n spesiale byeenkomsdag in Jakoetsk, die hoofstad van Sacha, gehou. Dit was veral aangenaam om mense van die inheemse bevolking hierdie byeenkomste te sien bywoon.

Die kring is in vyf dele verdeel om dit vir die broers gerieflik te maak, en elke deel het sy eie byeenkoms gehou. Reisende opsieners moes 24 uur per trein, 15 uur per motor en 3 uur per vliegtuig reis om van een byeenkoms na ’n ander te gaan.

Die winters in hierdie gebied is bitter koud, met temperature van minus 50 grade Celsius of laer. Ten spyte hiervan preek die plaaslike verkondigers nie net in woonstelblokke nie, maar ook van huis tot huis.

Twee groepe verkondigers is vroeg in 2005 gevorm. Een groep is in die dorpie Chajir, in die binneland, 80 kilometer van die kus van die Laptef-see af, bokant die Noordpoolsirkel. Die dorpie het ’n bevolking van 500, van wie 4 Getuies is. In 2004 is die Gedenkmaal wat in hierdie dorpie gehou is, deur 76 mense bygewoon. Om die groep in hierdie dorpie te besoek, moet die kringopsiener eers ongeveer 900 kilometer per vliegtuig en dan meer as 450 kilometer per motor oor sneeubedekte paaie reis.

Die ander groep is in die afgeleë dorpie Oest’-Nera gevorm, 100 kilometer van die dorpie Oimjakon af. Wintertemperature in hierdie gebied daal soms tot minus 60 grade Celsius. Om die kringbyeenkoms verlede jaar by te woon, het verkondigers van hierdie groep met twee motors gereis. Hulle moes ongeveer 2 000 kilometer in een rigting reis, grotendeels deur verlate, onbewoonde gebied in temperature van minus 50 grade Celsius.

’n Kringopsiener het ’n interessante ondervinding vertel wat op ’n hoogte van 4 000 meter plaasgevind het. “Gedurende die kampanje met die brosjure Hou aan waak! is ’n reeks byeenkomste in ons kring gehou. Ek en die streekopsiener het na die volgende byeenkoms gevlieg. Ons het ongelukkig nie meer van hierdie brosjures gehad nie, en daarom het ons die brosjure Wat vereis God van ons? vir die lugwaardin aangebied. Sy het gesê dat sy alreeds Bybellektuur ontvang het, en tot ons verbasing het sy vir ons die brosjure Hou aan waak! gewys. Hoe bly was ons tog dat ons broers so bedrywig was! Gedurende ons gesprek het die medevlieënier verbygeloop. Hy het belangstelling getoon en aan die gesprek begin deelneem, en ons het byna die res van die vlug gesels. Hy het die gesprek geniet en het ’n hele paar tydskrifte geneem om vir die bemanning in die stuurkajuit te gee.”

DIE GOEIE NUUS OP SACHALIN

Die Getuies het in die laat 1970’s vir die eerste keer op Sachalin aangekom, ’n eiland bokant Hokkaido, die noordelikste eiland van Japan. Broers van Wladiwostok wat oor die predikingswerk in die gebied toesig gehou het, het Sergei Sagin aangespoor om sy bediening uit te brei en na die eiland te verhuis om vir die eilandbewoners te getuig. Terwyl Sergei by die hawe gewerk het, het hy gesprekke oor Bybelonderwerpe met die ander werkers probeer aanknoop. Hy het weldra etlike Bybelstudies gehou. Hoewel Sergei later die eiland moes verlaat, het die saadjies van waarheid uiteindelik vrug gedra.

Die streekbyeenkomste van 1989 en 1990 in Pole het baie Getuies in Rusland beweeg om hulle bediening uit te brei en te verhuis na plekke waar hulp nodig was. In 1990 het Sergei en Galina Awerin van Chabarowsk, in die Verre-Ooste, na Korsakof, op Sachalin, verhuis. ’n Paar maande later het twee pioniers en ’n klompie verkondigers na Joezjno-Sachalinsk verhuis, waar daar net een Getuie was.

Pawel Siwoelski, die seun van die Pawel Siwoelski wat vroeër genoem is, was een van die twee pioniers en dien nou by Bethel. Hy vertel: “Toe ons in Joezjno-Sachalinsk aangekom het, het ek en ’n broer in ’n hotel gebly, aangesien ons nie onmiddellik ’n blyplek kon vind nie. Ons het langs die hotel van deur tot deur begin preek, en gedurende ons gesprekke het ons mense gevra of enigiemand blyplek het wat ons kon huur. Ons het mense ontmoet wat gevra het waar hulle verdere Bybelbesprekings kon hê, maar ons moes vir hulle sê dat ons in ’n hotel bly en dat ons hulle sou nooi sodra ons ’n blyplek gevind het. Ons het vurig tot Jehovah gebid om ons te help om werk en blyplek te kry. Jehovah het ons gebede verhoor. Dit was nie lank nie of ons het werk en ’n woonstel gehad. ’n Huisbewoner het ons genooi om in haar woonstel te kom bly. Sy het ons geen huur gevra nie en selfs vir ons gekook, wat ons gehelp het om meer tyd in die bediening deur te bring. Jehovah het vir ons getoon dat hy met ons is. Ons het weldra baie Bybelstudies gehou en het boekstudiegroepe georganiseer. Twee maande later het ons ’n huis gehuur en die vergaderinge daar gehou.”

Namate die gemeente gegroei het, het talle nuwe verkondigers begin pionier. Hulle het die pioniergees aan die dag gelê en na ander dele van die eiland getrek om die waarheid aan die mense te verkondig. Jehovah het die ywerige bediening van hierdie vinnig groeiende gemeente ryklik geseën, en drie jaar later, in 1993, was daar al agt nuwe gemeentes wat uit die oorspronklike gemeente ontstaan het!

Met verloop van tyd het baie verkondigers die eiland verlaat weens ekonomiese probleme en ook om hulle bediening uit te brei. Soos vroeër het hierdie pogings groei meegebring. Nou staan daar ’n mooi Koninkryksaal in die middel van die dorp Joezjno-Sachalinsk, en die eiland het nege gemeentes en vier groepe, wat een kring uitmaak.

DIE DEUR GAAN OOP ONDANKS BAIE TEENSTANDERS

Die apostel Paulus het in die eerste eeu gesê: “’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei, is vir my oopgemaak, maar daar is baie teenstanders” (1 Kor. 16:9). Tweeduisend jaar later het die teenstanders nie verminder nie. Van 1995 tot 1998 het die kantoor van die staatsaanklaer in Moskou vier keer ’n strafsaak teen die Getuies aanhangig gemaak. Jehovah se Getuies is daarvan beskuldig dat hulle mense tot godsdiensonverdraagsaamheid aanhits, gesinne verwoes, aan bedrywighede teen die Staat deelneem en inbreuk maak op die regte van ander burgers. Toe hierdie aanklagte nie bewys kon word nie, is ’n siviele saak in 1998 teen die Getuies aanhangig gemaak, gebaseer op dieselfde ongegronde aanklagte.

Ongeveer ’n jaar later het die Departement van Justisie die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland herregistreer en sodoende erken dat nie Jehovah se Getuies of hulle lektuur enigiets bevorder wat mense tot godsdienshaat aanhits, gesinne verwoes of op menseregte inbreuk maak nie. Nietemin het die staatsaanklaer se kantoor weer dieselfde aanklagte ingebring!

Party professors van godsdiensstudie besef dat Jehovah se Getuies hulle opvattings uitsluitlik op die Bybel baseer. Dr. N. S. Gordienko, professor van godsdiensstudie aan die Russiese Staats- Opvoedkundige Universiteit van Herzen in St. Petersburg, sê: “Wanneer die deskundiges Jehovah se Getuies weens hulle leringe aankla, besef hulle nie dat hulle in werklikheid aanklagte teen die Bybel inbring nie.”

Die Stadshof van Moskou het nietemin beslis dat die Moskouse gemeenskap van Jehovah se Getuies hulle wetlike status ontneem moet word. Dit verhinder egter nie ons broers om die Bybelgebod te vervul om die goeie nuus aan ander te verkondig nie. Jehovah se Getuies is daarvan oortuig dat die mense van Moskou self oor hulle godsdiensopvattings moet besluit. Om hierdie reg te beperk, sal ’n skending wees van die vryhede van elke inwoner van Moskou. Getuies in Moskou sal dus voortgaan om Jesus Christus se gebod te gehoorsaam om te preek en dissipels te maak (Matt. 28:19, 20). Die Europese Hof van Menseregte hersien tans die beslissing van die Stadshof van Moskou.

Toe die hofsaak in verband met die poging om die Moskouse gemeenskap van Jehovah se Getuies te ontbind, in September 1998 begin het, was daar 43 gemeentes van Jehovah se Getuies in Moskou. Agt jaar later was daar 93! Jehovah het sy volk belowe: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie” (Jes. 54:17). In 2007 het Jehovah se Getuies hulle streekbyeenkoms by Moskou se Loezjniki-stadion gehou, waar die Olimpiese Spele eens gehou is. Hierdie streekbyeenkoms is deur 29 040 bygewoon, en 655 is gedoop.

GOD SE NAAM IS GROOT IN RUSLAND

Soos opgeteken in Maleagi 1:11, het Jehovah God gesê: “Van die opgang van die son af, ja, tot sy ondergang sal my naam groot wees onder die nasies.” Met elke nuwe sonsopgang is daar die moontlikheid dat nog ’n skaapgeaarde persoon in hierdie ontsaglike land gevind sal word. Gedurende die vorige diensjaar alleen is meer as seweduisend in Rusland gedoop. Dit is ’n onbetwisbare bewys dat die “Tsaar van Tsare”, soos Jesus Christus in die Russiese Bybel genoem word, met sy onderdane is terwyl hulle hierdie werk doen.—Matt. 24:14; Op. 19:16.

“Jehovah se dag [sal] soos ’n dief kom”, het die apostel Petrus gesê (2 Pet. 3:10). Daarom is Jehovah se knegte in Rusland vasbeslote om die oorblywende tyd te gebruik om mense met die regte gesindheid in elke nasie, stam, taal en volk te soek.

[Voetnoot]

a ’n Oblast is ’n provinsie.

b ’n Krai is ’n gebied, provinsie of streek.

c Sien die artikel “Die Altaiërs—’n Volk wat ons leer liefkry het” in die Ontwaak! van 22 Junie 1999.

[Lokteks op bladsy 110]

“As enigiets in die verslae teen julle gevind is, al was dit dat net een druppel bloed vergiet is, sou ons julle almal geskiet het”

[Lokteks op bladsy 128]

“As ons julle uitlos, sal baie Sowjetburgers by julle aansluit. Daarom beskou ons julle as ’n groot bedreiging vir ons Staat”

[Lokteks op bladsy 219]

“Julle mense is soos voëls; hulle sak op die lektuurbokse toe en verwyder dit vinnig”

[Venster/Prent op bladsy 69]

Watter soort plek is Siberië?

Wat kom in jou gedagtes op wanneer jy aan Siberië dink? Stel jy jou ’n onherbergsame, woeste wildernis met bitter koue winters voor? Sien jy in jou verbeelding ’n bleek landskap, ’n plek van ballingskap vir mense wat met die Sowjetregering gebots het? Dan is jy reg, maar dit is net ’n deel van die prentjie.

Siberië is ’n uitgestrekte gebied, wat groter is as Kanada, die wêreld se tweede grootste land. Siberië beslaan vandag ’n oppervlakte van meer as 13 miljoen vierkante kilometer, wat strek van die Oeralgebergte tot die Stille Oseaan in die ooste en van Mongolië en China tot die Noordelike Yssee. Die land is ryk aan natuurlike hulpbronne—hout, olie en gas. In Siberië sal jy bergreekse, vlaktes, moerasse, mere en groot riviere vind.

Siberië was ongeveer ’n eeu en ’n half lank ’n plek van gevangenskap, dwangarbeid en ballingskap. Gedurende die 1930’s en 1940’s het Josef Stalin miljoene gestuur om daar in kampe te werk. In 1949 en 1951 is ongeveer 9 000 Getuies van Jehovah van Moldowa, die Baltiese republieke en die Oekraïne na Siberië verban.

[Venster/Prente op bladsy 72, 73]

Oorsig

Land

Die wêreld se grootste land, Rusland, strek 7 700 kilometer van oos na wes en 3 000 kilometer van noord na suid en beslaan ’n oppervlak van altesaam 17 075 400 vierkante kilometer. Rusland, wat ’n verstommende 11 tydsones insluit, strek byna halfpad om die Noordelike Halfrond. Die hoogste berg en die langste rivier in Europa asook die wêreld se diepste meer word in Rusland gevind.

Bevolking

Russe maak 80 persent van die bevolking uit. Maar meer as 70 ander etniese groepe woon in Rusland. Party van hierdie groepe bestaan uit net ’n paar duisend mense en ander uit meer as ’n miljoen.

Taal

Russies is die amptelike taal en word deur feitlik alle burgers gepraat. Daarbenewens word meer as 100 ander tale gepraat, waarvan party die moedertaal van byna ’n miljoen mense is.

Ekonomie

Rusland is een van die wêreld se grootste produsente van olie en aardgas. Ander vername nywerhede is bosbou, mynbou en die vervaardiging van allerhande produkte.

Voedsel

Voedsame disse van vleis, vis, kool of dikmelkkaas word saam met rogbrood, aartappels en bokwiet geëet. Russiese etes is ryk aan vette en koolhidrate om die nodige energie te verskaf om die lang, koue winters te verduur. ’n Tipiese ete kan bestaan uit pelmeni (vleiskluitjies) in sop of met suurroom daaroor of uit pirosjki (pasteitjies) met ’n kool-, vleis-, kaas- of aartappelvulsel. Gewilde soppe is borsjt, of beetsop, en sjtsji, of koolsop.

Klimaat

Die somers is warm, en die winters is donker en koud. Lente en herfs gaan vinnig verby; die ander twee seisoene is dus oorheersend.

(Kaarte van Rusland is op bladsye 116 en 167)

[Prente]

Die Kremlin

Die berg El’broes, Kabardino-Balkaria

Bruinbeer, Kamtsjatka-skiereiland

[Venster op bladsy 92, 93]

’n Stryd om verstande en harte

Die Sowjetregering wou die Getuies nie uitroei nie. Sy doelwit was om hulle tot die Sowjet-ideologie te bekeer, hetsy deur oorreding of deur geweld. Om dit te doen, het die regering die KGB gebruik—’n intelligensie- en binnelandse veiligheidsorganisasie. Hier is ’n paar van die metodes wat die KGB gebruik het.

Deursoeking van huise: Die huise van Getuies is deursoek, selfs in die nag. Party gesinne was verplig om te trek omdat hulle huis so dikwels deursoek is.

Monitering: Hulle het onder andere telefoongesprekke afgeluister, pos onderskep en meeluisterapparate in die broers se huise aangebring.

Boetes en die ontwrigting van vergaderinge: Regoor die land het die plaaslike owerhede die plekke dopgehou waar die broers vergaderinge gehou het. Almal teenwoordig is beboet. Die boete het dikwels die helfte of meer van die gemiddelde maandelikse salaris beloop.

Omkopery en afpersing: Die KGB het party Getuies woonstelle in die middel van Moskou en ook motors in ruil vir hulle samewerking belowe. In baie gevalle is daar vir die broers gesê dat hulle lang vonnisse in strafkampe opgelê sou word as hulle weier om hulle samewerking te gee.

Propaganda: Rolprente, die televisie en koerante het die Getuies uitgebeeld as mense wat ’n gevaar vir die samelewing inhou. In lesings wat in tronke en werkkampe gehou is, is die broers daarvan beskuldig dat hulle die Bybel as ’n dekmantel vir politieke werwing gebruik. Propaganda het tot diskriminasie gelei; onderwysers het Getuieskoliere laer punte gegee, en werkgewers het ons broers voordele of vakansies ontsê waarop hulle geregtig was.

Infiltrasie: KGB-agente, wat voorgegee het dat hulle in die Koninkryksboodskap belangstel, het gestudeer en hulle laat doop. Party het selfs daarin geslaag om verantwoordelike posisies in die organisasie te verkry. Hulle doelwit was om die predikingswerk stop te sit deur agterdog en verdeeldheid onder die Getuies te saai.

Ballingskap: Getuies is na afgeleë dele van die land gestuur. Daar moes die broers sukkel om ’n bestaan te maak deur 12 uur per dag swaar fisiese werk te verrig. Gedurende die winter moes hulle die snerpende koue die hoof bied; gedurende die somer, muskiete en perdevlieë.

Konfiskering en skeiding: Eiendom, huise en besittings is gekonfiskeer. Kinders is soms van hulle Getuie-ouers weggeneem.

Bespotting en mishandeling: Talle Getuies, insluitende vroue, is aan beledigings en bespotting onderwerp. Party is op buitengewoon wrede wyse geslaan.

Gevangenskap: Die doel daarvan was om die Getuies te dwing om hulle geloof te verloën of om hulle van hulle broers af te sonder.

Strafkampe: Die Getuies was op die randjie van algehele fisiese uitputting in hierdie kampe. Hulle moes dikwels die stompe van ontsaglike bome uitgrawe. Die broers het ook in steenkoolmyne gewerk, paaie gebou en spoorlyne aangelê. Kampwerkers was afgesonder van hulle gesinne en het in barakke gewoon.

[Venster/Prent op bladsy 96, 97]

Ek is twee keer ter dood veroordeel

PJOTR KRIWOKOELSKI

GEBORE 1922

GEDOOP 1956

PROFIEL Hy het aan ’n kweekskool gestudeer voordat hy die waarheid geleer het. Hy het 22 jaar in tronke en kampe deurgebring en is in 1998 oorlede.

IN 1940 het Poolse Getuies die predikingswerk begin doen waar ek in die Oekraïne gewoon het. Kornei, ’n gesalfde broer, het my besoek. Ons het die hele nag lank gepraat, en ek was oortuig dat wat hy my vertel het, die waarheid omtrent God is.

In 1942 was die Duitse leër in aantog, en die Sowjetmagte het teruggetrek uit die gebied waar ek gewoon het. Anargie het geheers. Oekraïnse nasionaliste het daarop aangedring dat ek by hulle aansluit in hulle stryd teen die Duitsers sowel as die Sowjets. Toe ek weier, het hulle my geslaan tot ek my bewussyn verloor het, en toe het hulle my in die straat gegooi. Daardie selfde nag het hulle my kom haal en my na ’n massateregstellingsplek geneem. Daar het hulle my weer gevra of ek die Oekraïnse volk sou dien. Ek het ferm en hard vir hulle gesê: “Ek sal Jehovah God alleen dien!” Daarop het hulle my ter dood veroordeel. Toe een van die soldate die bevel gee om my te skiet, het ’n ander een die vuurwapen gegryp en geskreeu: “Moenie skiet nie! Hy kan nog nuttig wees.” ’n Ander man was woedend en het my begin slaan. Hy het belowe dat hy my persoonlik oor ’n week sou skiet, maar ’n paar dae later is hy self doodgemaak.

In Maart 1944 het die Sowjetleër na ons gebied teruggekeer, en die soldate het al die mans weggeneem, ook vir my. Hierdie keer was dit die Sowjetleër wat soldate nodig gehad het. By hulle vergaderplek het ek Kornei teëgekom, die broer by wie ek aanvanklik die waarheid geleer het. Daar was 70 ander Getuies daar. Ons het eenkant gestaan en mekaar aangemoedig. ’n Offisier het na ons toe gekom en gevra waarom ons nie by die ander staan nie. Kornei het verduidelik dat ons Christene is en nie die wapen kon opneem nie. Hulle het hom onmiddellik weggeneem en vir ons gesê dat hy geskiet gaan word. Ons het hom nooit weer gesien nie. Hulle het ons begin dreig en gesê dat ons almal soos hy geskiet sal word, en toe het hulle ons een vir een gevra of ons by hulle leër sou aansluit. Toe ek weier, het drie soldate en ’n offisier my na die woud geneem. Die bevelvoerder het die vonnis van die krygsraad gelees: “Teregstelling deur ’n vuurpeloton weens weiering om ’n uniform te dra of die wapen op te neem.” Ek het vurig tot Jehovah gebid en toe gewonder of my diens vir hom aanneemlik sou wees, aangesien ek nog nie die geleentheid gehad het om gedoop te word nie. Skielik het ek die bevel gehoor: “Skiet die vyand!” Maar die soldate het in die lug geskiet. Toe het die offisier my begin slaan. Ek is tot tien jaar tronkstraf gevonnis en het in een van die strafkampe in Gorki-oblast beland, in die hartjie van Rusland.

Ek is in 1956 vrygelaat en is later getroud met Regina, ’n getroue Getuie. Ons was ses maande getroud toe ek onverwags in hegtenis geneem en tot tien jaar gevangenskap gevonnis is.

Nadat ek uiteindelik vrygelaat is, het ’n amptenaar vir my gesê: “Daar is nie plek vir jou op Sowjetgrond nie.” Hy was verkeerd. Hoe wonderlik is dit tog om te weet dat die aarde aan Jehovah behoort en dat hy besluit wie vir ewig daarop sal lewe!—Ps. 37:18.

[Venster/Prent op bladsy 104, 105]

“Meisies, is daar enige Getuies van Jehovah onder julle?”

JEFGENIA RIBAK

GEBORE 1928

GEDOOP 1946

PROFIEL Sy is in die Oekraïne gebore en onder dwang na Duitsland geneem, waar sy die waarheid geleer het. Sy dien Jehovah nog steeds getrou in Rusland.

EEN Sondag het ek pragtige sang deur my venster gehoor. Dit was Jehovah se Getuies wat gesing het. Kort voor lank het ek hulle vergaderinge bygewoon. Ek kon nie verstaan waarom Duitsers ander Duitsers weens hulle geloof vervolg nie. My Oekraïnse vriende saam met wie ek na Duitsland geneem is, het my begin haat omdat ek met Duitsers assosieer. Eenkeer het een van hulle op my geskreeu en my deur die gesig geklap. My voormalige vriendinne het begin lag.

Nadat ek in 1945 my vryheid verkry het, het ek teruggekeer na die Oekraïne. My oupa het gesê: “Jou ma het van haar verstand af geraak. Sy het haar ikone weggegooi, en sy het nou ’n ander God.” Toe ons alleen was, het my ma haar Bybel uitgehaal en daaruit gelees dat God afgodediens haat. Toe het sy vir my gesê dat sy die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon. Ek het haar omhels en met trane in my oë saggies gesê: “Liefste Mamma, ek is ook een van Jehovah se Getuies!” Ons het albei gehuil van vreugde.

My ma was baie ywerig in die bediening. Omdat byna al die broers in kampe was, is sy as die groepkneg aangestel. Haar ywer het my ook aangespoor.

In 1950 is ek weens godsdiensbedrywighede in hegtenis geneem, en die hof het my tot tien jaar gevangenskap in ’n kamp gevonnis. Ek en vier ander susters is na die dorp Oesol’je-Sibirskoje, in Siberië, geneem. Van April 1951 af het ons gehelp om ’n spoorlyn aan te lê. Ons het swaar dwarslêers op ons skouers gedra—twee van ons het een dwarslêer gedra. Ons het spoorstawe wat tien meter lank was en elk 320 kilogram geweeg het, met ons eie hande beweeg en gelê. Ons het baie moeg geword. Toe ons eenkeer uitgeput van die werk af op pad huis toe was, het ’n trein vol gevangenes langs ons tot stilstand gekom. ’n Man wat by die venster uitgekyk het, het gevra: “Meisies, is daar enige Getuies van Jehovah onder julle?” Ons moegheid het verdwyn. “Hier is vyf susters!” het ons uitgeroep. Die gevangenes was ons dierbare broers en susters wat uit die Oekraïne verban is. Terwyl die trein stilgestaan het, het hulle ons opgewonde vertel wat gebeur het en hoe hulle verban is. Toe het die kinders vir ons gedigte opgesê wat die broers self geskryf het. Selfs die soldate het ons nie gesteur nie, en ons kon met mekaar assosieer en mekaar aanmoedig.

Van Oesol’je-Sibirskoje is ons na ’n groot kamp naby Angarsk verskuif. Daar was 22 susters. Hulle het reeds alles georganiseer, selfs gebied om in te preek. Dit het ons gehelp om geestelik aan die lewe te bly.

[Venster/Prent op bladsy 108, 109]

Ek is ’n hele paar keer na die “vyfde hoek” gestuur

NIKOLAI KALIBABA

GEBORE 1935

GEDOOP 1957

PROFIEL In 1949 is hy na Koergan-oblast, Siberië, verban.

DIT het vir ons gevoel of elke Getuie in die Sowjetunie dopgehou word. Die lewe was nie maklik nie, maar Jehovah het ons wysheid gegee. In April 1959 is ek weens godsdiensbedrywighede in hegtenis geneem. Omdat ek nie enige van die broers wou verraai nie, het ek besluit om alles te ontken. Die ondervraer het na foto’s van broers gewys en my gevra wie hulle is. Ek het gesê dat ek niemand kan uitken nie. Toe het hy vir my ’n foto van my vleeslike broer gewys en gevra: “Is dit jou broer?” Ek het geantwoord: “Ek weet nie of dit hy is of nie. Ek kan nie sê nie.” Daarna het die ondervraer vir my ’n foto van myself gewys en gevra: “Is dit jy?” Ek het gesê: “Dit lyk soos ek, maar ek kan nie sê of dit ek is of nie.”

Ek is meer as twee maande lank in ’n sel opgesluit. Elke oggend het ek opgestaan en Jehovah gedank vir sy liefderyke goedhartigheid. Dan het ek aan ’n Bybelteks gedink, waarna ek die teks met myself bespreek het. Daarna het ek ’n Koninkrykslied stilswyend gesing, aangesien dit verbode was om in die sel te sing. Hierna het ek ’n Bybelonderwerp hersien.

Daar was reeds baie Getuies in die kamp waarheen ek gestuur is. Die reëls in die kamp was baie streng, en ons is nie toegelaat om te praat nie. Die broers is baie dikwels na die afsonderingselle of, soos hulle dit genoem het, die vyfde hoek gestuur. Ek is ’n hele paar keer na die vyfde hoek gestuur. Gevangenes is daar net 200 gram brood per dag gegee. Ek het op ’n plank geslaap wat met ’n dik laag yster bedek was. Van die vensterruite was gebreek, en daar was baie muskiete. Ek het my stewels as ’n kussing gebruik.

Elke broer het gewoonlik sy eie wegsteekplek vir lektuur uitgedink. Ek het besluit om lektuur in die besem te versteek waarmee ek die vloer gevee het. Wanneer die opsigter lektuur kom soek het, het hy nie eens daaraan gedink om in die besem te kyk nie, hoewel hy oral gesoek het. Ons het ook lektuur in die mure versteek. Ek het geleer om Jehovah se organisasie te vertrou. Jehovah sien en weet alles en help elkeen van sy getroue knegte. Jehovah het my altyd gehelp.

Selfs voordat ons gesin in 1949 verban is, het my pa gesê dat Jehovah dinge so kan reël dat mense in afgeleë Siberië die waarheid sal hoor. Ons het gewonder: ‘Hoe sal dit ooit gebeur?’ Wel, die owerheid self het dit vir duisende opregte mense in Siberië moontlik gemaak om die waarheid te leer ken.

Toe daar veranderinge in die land kom, het die broers die geleentheid gretig aangegryp om in 1989 na Pole te reis vir die internasionale byeenkoms. Dit was onvergeetlike dae. Ná die slotgebed het ons bly staan, en ons het lank hande geklap. Watter emosies het ons tog ervaar! Deur al die jare heen het ek gewoond geraak aan verskillende ontberinge en probleme, maar ons het selde trane in ons oë gehad. Toe ons van ons dierbare broers in Pole afskeid neem, het die trane vryelik gevloei, en niemand kon—of wou—dit keer nie.

[Venster/Prent op bladsy 112, 113]

Alles ter wille van die goeie nuus

PJOTR PARTSEI

GEBORE 1926

GEDOOP 1946

PROFIEL Pjotr het Jehovah se Getuies in 1943 ontmoet, en hy was in twee Nazi-konsentrasiekampe en ’n strafkamp in Rusland. Hy het later gedurende die verbod as ’n kringopsiener gedien.

NADAT ek die grondleerstellings van die Bybel in Nazi-Duitsland geleer het, het ek onmiddellik vir my kennisse daarvan begin vertel, en baie het ware aanbidding saam met my begin beoefen. In 1943 het ’n priester my by die Gestapo aangegee, wat my in hegtenis geneem en van ondermynende bedrywighede onder die jeug beskuldig het. Ek het weldra in die Maidanek-uitwissingskamp in Pole beland. Assosiasie onder die broers en susters was baie kosbaar. In die kamp het ons selfs meer vasbeslote geword om te preek. Baie mense daar het belangstelling in die waarheid getoon, en ons het maniere gesoek om van Jehovah se Koninkryk te getuig. Ek is eenkeer 25 hale met ’n dubbelriemsweep gegee. Ek het opgestaan en hard in Duits gesê: “Danke schön!” (“Baie dankie!”) Een Duitser het uitgeroep: “Kyk hoe taai is die jong knaap! Ons slaan hom, en hy bedank ons!” My rug was pimpel en pers van al die houe.

Ons het harde arbeid verrig en was heeltemal uitgeput. Dié wat gesterf het, is in die krematorium veras, wat dag en nag aan die gang gehou is. Ek het gedink dat ék weldra in die oond sou beland. Dit het gelyk of ek nooit die kamp lewend sou verlaat nie. Ek is gered toe ek ’n besering opgedoen het. Almal wat redelik gesond was, is gedwing om te werk, en die res is na ander kampe gestuur. Twee weke later is ek na die konsentrasiekamp by Ravensbrück gestuur.

Teen die einde van die oorlog het ek gerugte gehoor dat die Duitsers ons almal binnekort gaan skiet. Toe vind ons uit dat die wagte gevlug het. Toe die gevangenes besef dat hulle nou vry is, het almal die hasepad gekies. Ek het na Oostenryk gegaan, waar ek gevra is om by die leër aan te sluit. Ek het dadelik geweier en gesê dat ek tyd in konsentrasiekampe deurgebring het weens my godsdiensoortuigings. Ek is toegelaat om terug te keer huis toe na die Oekraïne, wat destyds deel van die Sowjetunie was. In 1949 is ek getroud met Jekaterina, wat my getroue lewensmaat geword het. In 1958 is ek in hegtenis geneem en na ’n strafkamp in Mordowië gestuur.

Ná my vrylating het ek gehelp om Bybellektuur te druk. In 1986 het ons eenkeer die hele nag gewerk om 1 200 bladsye te druk. Ons het dit op die vloer, die beddens, oral waar ons kon, gepak. Toe het daar onverwags ’n KGB-agent opgedaag, “net om te gesels”, soos hy dit gestel het. Jekaterina het gevra waar hy wou gesels, sonder om daaraan te dink dat hy dalk in die huis sou wou inkom. Maar gelukkig wou hy in ons buitekombuis met ons praat. As hy in die huis ingekom het, sou hy ons in hegtenis geneem het.

Tot vandag toe doen ons ons bes om ons toewyding na te leef en om alles ter wille van die goeie nuus te doen. Ons 6 kinders, 23 kleinkinders en 2 agterkleinkinders dien Jehovah getrou, en ons is dankbaar teenoor Jehovah dat ons kinders voortgaan om in die waarheid te wandel.

[Venster op bladsy 122]

Alleenopsluiting

In die Sowjetstrafstelsel was alleenopsluiting ’n algemene vorm van straf vir oortredings soos die weiering om vrywillig van godsdienslektuur afstand te doen. Gevangenes is verslete katoenklere gegee en in ’n sel opgesluit.

Stel jou ’n tipiese sel voor. Dit was klein—omtrent drie meter by drie meter. Dit was donker, klam, vuil en verskriklik koud, veral in die winter. Die betonmure was grof. ’n Klein venstertjie het diep in die muur gesit wat een meter dik was. Party van die glasruite was stukkend. ’n Elektriese lamp het ’n bietjie lig voorsien; dit was in ’n holte in die muur en was bedek met ’n ysterplaat met klein gaatjies. Die enigste plek om te sit benewens die betonvloer, was ’n smal, uitgeboude “bankie” aan die muur. ’n Mens kon nie lank hierop sit nie. Jou been- en rugspiere het gou moeg geraak en gepyn, en die growwe muur het jou rug seergemaak.

Saans het die wagte ’n lae houtkis ingestoot waarop jy kon slaap. Dit is met metaalstroke versterk. Jy kon op die planke en metaal lê, maar die koue het jou wakker gehou. Daar was geen komberse nie. Gevangenes in alleenopsluiting het oor die algemeen 300 gram brood een keer per dag en waterige sop een keer elke drie dae gekry.

Die latrine, wat eintlik maar net ’n pyp in die vloer was, het ’n vreeslike stank afgegee. Party selle het waaiers gehad wat die stank van die rioolpype in die sel ingewaai het. Die opsigters het soms hierdie waaier aangeskakel om die gevangene te demoraliseer en hom verder te straf.

[Venster/Prent op bladsy 124, 125]

Mordowië se Kamp #1

Tussen 1959 en 1966 was daar meer as 450 broers in hierdie kamp, wat plek gehad het vir altesaam 600 gevangenes. Hierdie kamp, een van 19 strafkampe in die Mordowiese gebied, was omhein met ’n elektriese doringdraadheining wat byna drie meter hoog was. Om hierdie heining was daar nog 13 doringdraadheinings. Die grond rondom die kampgebied is gereeld omgeploeg sodat enigiemand wat ontsnap, spore sou agterlaat.

Deur die Getuies heeltemal van die buitewêreld af te sny, het die owerheid hulle fisies en sielkundig probeer oormeester. Die broers het nietemin daarin geslaag om teokratiese bedrywighede in die kamp te organiseer.

Die kamp self het ’n kring met sy eie kringopsiener geword. Die kring het uit vier gemeentes bestaan, wat 28 boekstudiegroepe gehad het. Die broers het besluit om sewe vergaderinge per week te hou sodat almal geestelik sterk sou bly. Hulle het aanvanklik net een Bybel gehad, en daarom het hulle ’n rooster opgestel om die Bybel as gemeentes te lees. By die eerste geleentheid het die broers die Bybel begin dupliseer. Afsonderlike notaboeke het elkeen ’n boek van die Bybel bevat wat met die hand oorgeskryf is, en die oorspronklike is sorgvuldig op ’n veilige plek weggesteek. Só kon die broers die Bybelleesrooster volg. Daar is ook ’n Wagtoring-studie georganiseer. Susters wat hulle mans kom besoek het, het miniatuureksemplare van die tydskrif in die kamp ingebring deur dit in hulle mond of in die hakke van hulle skoene te sit of dun velletjies papier in hulle hare in te vleg. Baie broers het tussen een en 15 dae lank in alleenopsluiting beland omdat hulle lektuur met die hand oorgeskryf het.

Die selle was in ’n afgesonderde deel weg van die ander gevangenes. Die wagte het doodseker gemaak dat die Getuies niks lees terwyl hulle daar is nie. Ander broers het nietemin maniere uitgedink om hulle van geestelike voedsel te voorsien. ’n Broer het op die dak van ’n gebou geklim wat uitgekyk het op die binneplaas waar dié wat in alleenopsluiting was, toegelaat is om rond te stap. Hy het stukkies papier gehad waarop Bybeltekste geskryf was en wat opgefrommel is in bolletjies van een sentimeter in deursnee. Hy het dan die bolletjie in die een end van ’n lang pyp gesit en die bolletjie in die rigting geblaas van die Getuie wat onder in die binneplaas rondstap. Die Getuie het gebuk, kwansuis om sy skoenveters vas te maak, en die geestelike voedsel ongemerk opgetel.

Vir ontbyt en aandete is die gevangenes dun pap gemeng met ’n bietjie katoenolie gegee. Middagete het uit waterige borsjt of ander sop en ’n eenvoudige hoofdis bestaan. Die brood wat die gevangenes geëet het, het soos die vilt gelyk waarmee stewels gemaak is! Iwan Mikitkof vertel: “Ek was sewe jaar in hierdie kamp, en ons het byna altyd maagkrampe gehad.”

Die broers het standvastig in die geloof gebly. Afsondering kon nie die geestelike balans van God se lojale knegte versteur nie, en hulle het voortgegaan om geloof aan die dag te lê, asook liefde vir God en hulle naaste.—Matt. 22:37-39.

[Venster/Prent op bladsy 131, 132]

Sy het gevra: “Waarom huil jy?”

POLINA GOETSJMIDT

GEBORE 1922

GEDOOP 1962

PROFIEL Sy het later met Wiktor Goetsjmidt getrou. Terwyl Polina in die tronk was, het sy opgemerk hoe goedhartig Jehovah se Getuies is.

EK HET vas geglo in die Kommunistiese ideaal en het dit voorgestaan. Maar die Kommuniste het my in Mei 1944 in hegtenis geneem en na ’n strafkamp in Workoeta gestuur. Ek was drie jaar lank daar sonder om te weet waarom ek in hegtenis geneem is. Ek het aanvanklik geglo dat dit ’n fout is en het gewag om vrygelaat te word. In plaas daarvan is ek tot tien jaar gevangenskap in ’n kamp gevonnis omdat ek glo anti-Sowjetopmerkings gemaak het.

Omdat ek ’n mediese agtergrond gehad het, het ek gedurende my eerste paar jaar van gevangenskap in die kamphospitaal gewerk. In 1949 is ek na Inta verskuif, na ’n kamp vir politieke gevangenes. Hier was die kampregime baie strenger. ’n Atmosfeer van gegriefdheid, onbeskoftheid, onsedelikheid, lusteloosheid en wanhoop het onder die gevangenes geheers. Gerugte dat almal in die kamp weldra geskiet of tot lewenslange gevangenisstraf veroordeel sou word, het die reeds gespanne situasie selfs vererger. Die stres het veroorsaak dat ’n aantal gevangenes van hulle verstand af geraak het. Die gevangenes het mekaar gewantrou en gehaat, aangesien daar baie verklikkers in die kamp was. Mense het hulle eenkant gehou en hulle so goed moontlik by die situasie aangepas. Selfsug en gierigheid was algemeen.

Een groep van ongeveer 40 vroulike gevangenes was opvallend anders as die res. Hulle was altyd bymekaar en was verbasend mooi, netjies, goedhartig en vriendelik. Die meeste van hulle was jong vroue, en daar was selfs ’n paar dogtertjies. Ek het uitgevind dat hulle gelowiges is, Jehovah se Getuies. Die gevangenes het hulle verskillend behandel. Party was gemeen en vyandiggesind. Ander het hulle gedrag bewonder, veral hulle liefde vir mekaar. Wanneer een van die Getuies byvoorbeeld siek geword het, het die ander beurte geneem om by haar bed te waak. Dit was werklik uitsonderlik in die kamp.

Ek was verbaas dat hierdie groep uit soveel nasionaliteite bestaan het en tog vriendelik teenoor mekaar was. Teen dié tyd het ek alle belangstelling in die lewe verloor. Toe ek eenkeer baie neerslagtig gevoel het, het ek gaan sit en huil. Een van die meisies het na my toe gekom en gevra: “Polina, waarom huil jy?”

“Ek wil nie meer lewe nie”, het ek geantwoord.

Die meisie, Lidia Nikoelina, het my begin troos. Sy het vir my vertel wat die doel van die lewe is, hoe God al die mensdom se probleme gaan oplos en van baie ander dinge. In Julie 1954 is ek vrygelaat. Teen dié tyd het ek baie by Jehovah se Getuies geleer en was ek verheug om een van hulle te word.

[Venster/Prent op bladsy 140, 141]

Van militêre ingenieur tot verkondiger van die goeie nuus

WLADIMIR NIKOLAEFSKI

GEBORE 1907

GEDOOP 1955

PROFIEL Hy is 256 keer na verskillende kampe en tronke verskuif. Hy is in 1999 oorlede.

EK HET in 1932 aan Moskou se Instituut vir Kommunikasie-ingenieurswese gegradueer. Tot 1941 het ek as ingenieur en hoofargitek in ’n instituut in Moskou gewerk. Ek het spesiale toestelle vir oorlogskepe ontwerp. Gedurende die oorlog is ek in hegtenis geneem en uiteindelik na ’n kamp gestuur in die sentrale deel van Kazakstan, in die dorpie Kengir.

’n Groep Getuies van Jehovah daar het my aandag getrek. Hulle was anders as die ander gevangenes. Daar was ongeveer 80 van hulle onder nagenoeg 14 000 gevangenes in drie kampafdelings. Die verskil tussen die Getuies en die ander was veral opvallend gedurende die Kengiropstand van 1954. Jehovah se Getuies het nie aan die opstand deelgeneem nie en het selfs geweier om daarvoor voor te berei. Hulle was verbasend kalm en het hulle standpunt aan die ander gevangenes probeer verduidelik. Ek was so beïndruk deur hulle gedrag dat ek hulle oor hulle opvattings uitgevra het. ’n Ruk later het ek my lewe aan Jehovah toegewy. Die Getuies se geloof is in die kamp op die proef gestel, veral toe die opstand deur gewapende magte met tenks onderdruk is.

Ek is eenkeer ingelig dat twee generaals van Moskou gekom het spesifiek om met my te praat. Een van hulle het vir my gesê: “Wladimir, dis nou genoeg. Jy is ’n militêre ingenieur en ’n argitek. Jou land het jou nodig. Ons wil hê dat jy moet terugkeer na die werk wat jy gedoen het. Jy kan dit tog sekerlik nie geniet om tussen ongeleerde mense te wees nie!”

“Ek het niks om oor te spog nie”, het ek geantwoord. “Al die mens se talente kom van God. Diegene wat aan hom gehoorsaam is, sal die Duisendjarige Heerskappy van Christus se Koninkryk geniet, waar mense in die ware sin van die woord volmaak en geleerd sal wees.”

Ek was baie bly dat ek die geleentheid gehad het om met daardie generaals oor die waarheid te praat. Hulle het my ’n hele paar keer gesoebat om na my vorige werk terug te keer. Ek het hulle egter gevra om my nie meer lastig te val nie, maar om my in die kamp te los saam met my geestelike broers, vir wie ek baie lief was.

In 1955 is my vonnis ter syde gestel. Ek het by ’n argiteksfirma begin werk wat nie aan die leër verbonde was nie. Danksy my pogings om saadjies van waarheid oorvloedig te saai, het ek ’n Bybelstudie met die gesin van een van die ingenieurs begin. Kort voor lank het hy en sy hele gesin Getuies van Jehovah en ywerige verkondigers geword. Maar die KGB het my dopgehou, en toe hulle eenkeer my woonstel deursoek het, het hulle Bybellektuur gevind. Die hof het my tot 25 jaar gevangenskap gevonnis, en ek is na ’n Siberiese strafkamp in die stad Krasnojarsk gestuur. Ek is baie kere na verskillende kampe en tronke verskuif. Ek het eenkeer uitgewerk dat ek gedurende my leeftyd 256 keer verskuif is.

[Venster/Prent op bladsy 147, 148]

Ons het groot koffers nodig gehad

NADEZJDA JAROSJ

GEBORE 1926

GEDOOP 1957

PROFIEL Sy het die waarheid in die Ravensbrück-konsentrasiekamp geleer. Toe sy na die Sowjetunie teruggekeer het, het sy baie jare lank as ’n lektuurkoerier gedien. Sy woon nou in Kaukasië.

TOE ek in 1943 in die konsentrasiekamp aangekom het, het ek alle belangstelling in die lewe verloor. Ek het so gevoel totdat ek Jehovah se Getuies ontmoet het. Wat ’n vreugde was dit tog om na die Oekraïne terug te keer met die vaste hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe! Ek het vir Getuiesusters begin skryf sodat ek geestelik sterk kon bly. Maar die KGB het my briewe onderskep, en kort voor lank is ek tot 15 jaar in ’n strafkamp gevonnis.

In November 1947 is ek na ’n kamp in Kolyma gestuur, waar ek my vonnis uitgedien het sonder om ooit ’n ander Getuie te sien. Jehovah het my gehelp om te preek. Jefdokia, een van die gevangenes, het belangstelling in die Bybel getoon. Ons het vriende geword en mekaar onderskraag, geestelik sowel as emosioneel. Ek het bitter min Bybelkennis gehad, maar wat ek geleer het, was genoeg vir my om my onkreukbaarheid teenoor Jehovah te handhaaf.

Vroeg in 1957, ’n jaar nadat ek vrygelaat is, het ek na Soejeticha, Irkoetsk-oblast, getrek. Die broers het my hartlik ontvang en was gasvry. Hulle het my gehelp om werk en ’n woonstel te kry. Maar wat my die gelukkigste gemaak het, was dat ek gevra is om aan teokratiese bedrywighede deel te neem. Aangesien ek nog nie gedoop was nie, is ek in ’n groot bad water gedoop. Toe was ek gereed om verantwoordelikhede in Jehovah se organisasie te vervul. My verantwoordelikhede het die aflewering van Bybellektuur en korrespondensie ingesluit.

Die lektuur moes dwarsoor Siberië, Sentraal-Rusland en in die weste van die Oekraïne afgelewer word. Alles moes noukeurig beplan word. Om lektuur in die weste van die Oekraïne af te lewer, het ons groot koffers nodig gehad. Eenkeer, op Jaroslawl’-stasie in Moskou, het die slot van een van die koffers gebreek, en al die lektuur het uitgeval. Ek het kalm gebly en gebid terwyl ek die lektuur bedaard opgetel het. Ek het op ’n manier alles ingebondel en gou die stasie verlaat. Gelukkig het niemand enige aandag aan my geskenk nie.

By ’n ander geleentheid het ek twee koffers vol lektuur van die Oekraïne via Moskou na Siberië geneem. Ek het een van die koffers onder die onderste bank van die treinkompartement gesit. Kort daarna het twee manlike passasiers—KGB-agente—in die kompartement ingekom. Hulle het onder andere oor die Getuies gepraat en gesê dat hulle “lektuur versprei en mense teen die Sowjetregering opstook”. Ek het probeer kalm bly sodat ek nie agterdog sou wek nie. Veral aangesien hulle as ’t ware op die lektuur gesit het!

Of ek lektuur afgelewer of ander toewysings uitgevoer het, ek was daarop voorbereid om te enige tyd in hegtenis geneem te word. Daar was baie situasies wat my geleer het om in alles op Jehovah te vertrou.

[Venster/Prent op bladsy 158, 159]

“Jou mense is heeltemal anders”

ZINAIDA KOZIREWA

GEBORE 1919

GEDOOP 1958

PROFIEL Sy het baie jare in verskillende kampe deurgebring en is in 2002 oorlede.

VAN kleins af wou ek God baie graag dien. In 1942 het my vriendin, wat oor my besorg was, my na haar Russies-Ortodokse kerk geneem sodat ek, soos sy dit gestel het, “nie in die hel sal beland nie”. Toe die priester egter hoor dat ek Osseties is, het hy geweier om my te doop. Maar nadat my vriendin vir hom geld gegee het, het hy van gedagte verander en die seremonie uitgevoer. In my soeke na die waarheid het ek met Adventiste, Pinkstergroepe en Baptiste geassosieer. As gevolg hiervan het die owerheid my tot dwangarbeid gevonnis. In die strafkamp het ek die Getuies ontmoet en gou die waarheid herken. Ná my vrylating in 1952 het ek teruggekeer huis toe en die goeie nuus begin verkondig.

Vroeg een oggend in Desember 1958 het ek ’n harde geklop aan die deur gehoor. Soldate het by ons huis ingebars en dit deursoek terwyl twee van hulle in ’n hoek oor my wag gestaan het. My pa het wakker geword en was baie bevrees dat iets met sy gesin, veral sy seuns, sou gebeur. My ouers het vyf seuns gehad, en ek was die enigste dogter. Toe my pa sien hoe die soldate al die vertrekke en die solder deursoek, het hy geraai dat dit as gevolg van my geloof is. Hy het ’n geweer gegryp en geskreeu: “Amerikaanse spioen!” Hy het my probeer skiet, maar die soldate het die geweer by hom gegryp. Ek kon nie glo dat my eie pa my wou skiet nie. Ná die soektog het hulle my in ’n toe vragmotor weggeneem, maar ek was bly dat ek nog gelewe het. Ek is tot tien jaar tronkstraf gevonnis vir my godsdiensbedrywighede.

Ek is in Desember 1965 vrygelaat voordat ek my vonnis uitgedien het. My ouers was bly om my te sien, maar my pa wou nie hê dat ek in die huis moet bly nie. Eienaardig genoeg het die KGB-werkers my pa egter gedwing om my by sy huis te registreer en my selfs gehelp om ’n werk te kry. My pa was my nog net so vyandiggesind soos vroeër, maar ná verloop van tyd het sy gesindheid begin verander. Hy het die broers en susters ontmoet wanneer hulle my kom besoek het. My vleeslike broers het nie gewerk nie, het gedrink en was aggressief. My pa het eenkeer gesê: “Ek kan sien jou mense is heeltemal anders as wat ek gedink het. Ek wil vir jou jou eie kamer gee, sodat julle julle vergaderinge daar kan hou.” Ek kon dit nie glo nie! My pa het vir my ’n groot kamer gegee en gesê: “Moenie bang wees nie. Terwyl julle almal bymekaar is, sal ek wag staan, en niemand sal inkom nie.” Dit is presies wat gebeur het, want almal het geweet hoe onversetlik my pa was.

Onder my eie dak en onder die beskerming van Jehovah en my pa het ons dus ons Christelike vergaderinge gehou. Tot 30 mense het dit bygewoon, aangesien daar destyds soveel Getuies in Ossetië was. Dit was vir my heerlik om by die venster uit te kyk en my ouers in die straat te sien sit terwyl hulle wag hou. Vandag is daar ongeveer 2 600 ywerige verkondigers in Ossetië wat Jehovah se Koninkryk bekend maak.—Jes. 60:22.

[Venster/Prent op bladsy 162, 163]

Ek was die enigste Getuie oor in die kamp

KONSTANTIN SKRIPTSJOEK

GEBORE 1922

GEDOOP 1956

PROFIEL Hy het die waarheid in 1953 in ’n strafkamp geleer en is in 1956 daar gedoop. As een van Jehovah se Getuies was hy 25 jaar sonder onderbreking in gevangenskap. Hy is in 2003 oorlede.

EK HET vroeg in 1953 ’n broer met die naam Wasili in ’n tronksel ontmoet. Hy het gesê dat hy daar beland het weens sy geloof in God. Ek kon nie verstaan hoe iemand weens sy godsdiensoortuigings in die tronk gesit kon word nie. Dit het my so gekwel dat ek nie kon slaap nie. Die volgende dag het hy dit aan my verduidelik. Ek het mettertyd oortuig geraak dat die Bybel ’n boek is wat van God af kom.

Ek is in 1956 gedoop. Teen die einde van daardie jaar het die opsigters gedurende ’n soektog baie Bybellektuur by ons gevind. Die ondersoek het byna ’n jaar geduur, en in 1958 het die hof my tot 23 jaar gevonnis vir godsdiensbedrywighede. Teen daardie tyd was ek reeds vyf en ’n half jaar lank in die kampe. Ek het die hele tydperk, 28 jaar en 6 maande, uitgedien sonder om een keer vryheid te smaak.

In April 1962 het die hof verklaar dat ek “’n besonder gevaarlike oortreder” is, en ek is na ’n maksimumsekuriteitskamp verskuif, waar ek 11 jaar lank was. Daar was baie dinge wat hierdie soort kamp “spesiaal” gemaak het. Die voedseltoelae per persoon was byvoorbeeld 11 kopeks per dag, minder as wat ’n brood destyds gekos het. Ek is oor die 1,9 meter lank en het net 59 kilogram geweeg. My vel het verskrompel en afgedop.

Omdat ek ’n goeie bouer was, is ek dikwels gestuur om herstelwerk in die beamptes se woonstelle te doen. Niemand was vir my bang nie, en die inwoners het ook nie eens hulle besittings in die woonstelle weggesteek nie. Toe die vrou van een beampte uitvind dat ek aan hulle woonstel sou werk, het sy nie haar sesjarige seuntjie kindertuin toe geneem nie. Dit was ’n interessante toneel: ’n “besonder gevaarlike oortreder” wat die hele dag alleen in ’n woonstel saam met ’n sesjarige kind gelaat word! Dit was duidelik dat niemand geglo het dat ek ’n misdadiger is nie, wat nog te sê ’n “besonder gevaarlike” een.

Met verloop van tyd is al die broers in ons kamp vrygelaat. In 1974 was ek die enigste Getuie wat oor was in die kamp. Ek het nog sewe jaar daar gebly totdat ek in Augustus 1981 vrygelaat is. Jehovah het voortgegaan om my geestelik te onderskraag. Hoe? Gedurende daardie sewe jaar het ek Die Wagtoring in briewe ontvang. ’n Broer het hierdie briewe, met artikels wat netjies met die hand uit ’n nuwe nommer oorgeskryf is, gereeld aan my gestuur. Elke keer wanneer die kampsensor vir my die brief gegee het, was dit reeds oopgemaak. Ons het albei geweet presies wat die inhoud van die brief is. Tot vandag toe is ek nie seker wat hom beweeg het om so ’n risiko te loop nie, maar ek is bly dat hy die hele sewe jaar daar gewerk het. Ek is bowenal dankbaar teenoor Jehovah. Ek het gedurende al daardie jare geleer om op Jehovah te vertrou, en hy het my krag gegee.—1 Pet. 5:7.

[Venster/Prent op bladsy 168, 169]

Ná die oorlog het ek na Rusland teruggekeer

ALEKSEI NEPOTSJATOF

GEBORE 1921

GEDOOP 1956

PROFIEL Hy het die waarheid in 1943 in die Buchenwald-konsentrasiekamp geleer en was 19 jaar in gevangenskap in Rusland. Hy het meer as 30 jaar lank as ’n gewone pionier gedien, die grootste deel hiervan terwyl daar ’n verbod op die werk was.

OP DIE ouderdom van 20 is Aleksei na die Auschwitz-konsentrasiekamp in Nazi-Duitsland gestuur. Later is hy na die Buchenwald-kamp verskuif, waar hy die waarheid geleer het. Kort voor sy vrylating het twee gesalfde Getuies vir hom gesê: “Aleksei, dit sal goed wees as jy ná die oorlog na Rusland terugkeer. Dit is ’n ontsaglike land waar daar ’n groot behoefte aan oeswerkers is. Die situasie daar is moeilik; wees dus gereed vir allerhande beproewinge. Ons sal bid vir jou en vir dié wat sal luister.”

Die Britte het Aleksei in 1945 bevry. Hy het na Rusland teruggekeer, waar hy onmiddellik tot tien jaar gevangenskap gevonnis is omdat hy geweier het om te stem. Hy skryf: “Aanvanklik was ek die enigste Getuie in die tronk. Ek het Jehovah gevra om my te help om skape te vind, en kort voor lank was daar 13 van ons! Ons het geen Bybellektuur gedurende hierdie hele tyd gehad nie. Ons het tekste afgeskryf uit boeke wat ons by die tronkbiblioteek uitgeneem het.”

Aleksei het sy vonnis van tien jaar uitgedien. Toe hy vrygelaat is, het hy na ’n gebied gegaan waar hy geweet het baie mense in Jesus glo. Hy sê: “Die mense was geestelik honger. Hulle het dag en nag na my toe gekom; hulle het hulle kinders saamgebring. Hulle het alles wat hulle gehoor het, in die Bybel nagegaan.”

Gedurende die volgende paar jaar het Aleksei meer as 70 mense gehelp om tot doop te vorder. Een van hulle was Maria, wat sy vrou geword het. Hy vertel: “Die KGB het my gesoek. Ek is in hegtenis geneem en tot 25 jaar gevangenskap gevonnis. Toe het hulle Maria in hegtenis geneem. Voor die verhoor het Maria sewe maande in alleenopsluiting deurgebring. Die ondersoekbeampte het gesê dat hy haar onmiddellik sou vrylaat as sy Jehovah verloën. Maria het geweier. Die hof het haar tot sewe jaar in strafkampe gevonnis. ’n Geestelike suster het ons babadogtertjie geneem en vir haar gesorg.”

Aleksei en Maria is vrygelaat voordat hulle hulle vonnis uitgedien het. Hulle het hulle in Twer’-oblast gaan vestig. Daar was die owerheid en die plaaslike mense sterk gekant teen hulle, en een van die bure het hulle huis aan die brand gesteek. In die daaropvolgende jare is hulle gedwing om dikwels te trek; maar op elke nuwe plek het hulle nuwe dissipels gemaak.

Aleksei sê: “Gedurende ons jare van gevangenskap kon ons nie God se Woord lees nie. Van toe af is dit ons doelwit om die Bybel elke dag te lees. Ek en Maria het die Bybel nou al meer as 40 keer deurgelees. Dit is God se Woord wat ons krag en ywer in die bediening gee.”

Aleksei was altesaam 4 jaar in Nazi-konsentrasiekampe en 19 jaar in Russiese tronke en kampe. Gedurende sy 30 jaar in die pionierdiens het hy en sy vrou tientalle mense gehelp om Jehovah te leer ken en lief te kry.

[Venster/Prent op bladsy 177, 178]

Die soldaat was reg

REGINA KOEKOESJKINA

GEBORE 1914

GEDOOP 1947

PROFIEL Hoewel sy baie jare lank nie kontak met ’n gemeente gehad het nie, het sy getrou voortgegaan om die goeie nuus te verkondig.

IN 1947 het ’n Getuie by die mark met my gepraat. Daardie aand het ek haar by haar huis besoek, en ons het ure lank gesels. Ek het dadelik besluit dat ek, soos sy, Jehovah ywerig sal dien! Ek het vir haar gesê: “Jy preek, en ek sal ook.”

In 1949 is ek in L’viv, in die Oekraïne, in hegtenis geneem omdat ek gepreek het, en ek is van my man en twee dogtertjies weggeneem. Die sogenaamde troika, ’n hofsitting agter geslote deure waarby drie regters betrokke is, het my tot teregstelling deur ’n vuurpeloton gevonnis. Toe een van die drie regters, ’n vrou, my vonnis aflees, het sy bygevoeg: “Aangesien jy twee kinders het, het ons besluit om die doodsvonnis tot 25 jaar gevangenskap te versag.”

Ek is na ’n tronksel geneem waarin daar net mans was. Hulle het reeds geweet dat ek een van Jehovah se Getuies is. Toe hulle hoor dat ek tot 25 jaar gevonnis is, was hulle verbaas dat ek so kalm is. Terwyl ek uit die tronk gelei is, het ’n jong soldaat vir my ’n kospakkie gegee en vriendelik gesê: “Moenie bang wees nie; alles sal goed verloop.”

Tot 1953 het ek my vonnis in ’n kamp in Noord-Rusland uitgedien. Daar was baie susters van verskillende republieke van die Sowjetunie in die kamp. Ons het mekaar so liefgehad soos ’n familie.

Ons het probeer om deur ons gedrag ’n goeie getuienis aan ander te gee in die hoop dat dit hulle sou beweeg om God te dien. Ons moes lang ure harde werk verrig. Ek is uit die kamp vrygelaat voordat ek my vonnis uitgedien het, maar toe het ek ’n ander soort afsondering beleef. Ek het meer as vyf jaar lank geen kontak met ’n gemeente gehad nie. Dit was baie moeiliker as gevangenskap. Ondanks hierdie omstandighede was ek altyd bewus van Jehovah se onderskraging en onveranderlike liefde. Ek het die Bybel baie gelees en gepeins oor wat ek gelees het, en dit het my geestelik versterk.

Jehovah het my op ’n buitengewone wyse gehelp om met die Getuies in aanraking te kom. In die koerant Sowjet-Rusland het ek ’n negatiewe artikel gelees oor ons broers in Ossetië, in die suidweste van Rusland. Die artikel het gesê dat die bedrywighede van Jehovah se Getuies teen die Sowjetgemeenskap gemik is. Die artikel het die vanne van broers en susters verstrek en hulle adresse gepubliseer. Ek was so bly! Ek het vir hulle geskryf en gesê dat ek hulle wou ontmoet. Toe ons wel ontmoet het, het die broers my grootliks ondersteun en gesê dat Jehovah toegelaat het dat hierdie artikel gepubliseer word sodat ek met sy volk in aanraking kon kom.

Ek is nou 92 jaar oud. Ja, daardie vriendelike soldaat was reg. Ondanks ontberinge het alles gedurende my hele lewe goed verloop.

[Venster/Prent op bladsy 188, 189]

Ons het ons “tentpenne” so stewig moontlik gemaak

DMITRI LIWI

GEBORE 1921

GEDOOP 1943

PROFIEL Hy het meer as 20 jaar lank op die Russiese Landskomitee gedien en dien nou as ’n ouer man in ’n gemeente in Siberië.

DIT was 1944, ses maande voor die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Ek het weens my Christelike neutraliteit in ’n hof voor ’n militêre regter gestaan. Ek is gevonnis tot teregstelling voor ’n vuurpeloton, maar die vonnis is versag tot tien jaar gevangenskap in korrektiewe strafkampe.

In Januarie 1945 is ek na ’n kamp in Noord-Rusland in die dorp Petsjora, in die Republiek Komi, gestuur. Onder die honderde ander gevangenes in die kamp was tien van ons broers. Ongelukkig is die enigste Wagtoring wat ek gehad het, gekonfiskeer, en ons het dus geen geestelike voedsel gehad nie. Ek was fisies so uitgeput dat ek glad nie kon werk nie. Toe ons in die badhuis gewas het, het ’n broer vir my gesê dat ek soos ’n geraamte lyk. Ja, ek het so sleg gelyk dat ek na ’n mediese kolonie in Workoeta geneem is.

Ná ’n ruk het ek ’n bietjie sterker geword, en ek is gestuur om in die sandgroef te werk. Binne ’n maand het ek weer soos ’n geraamte gelyk. Die dokter het gedink dat ek my kos vir tabak verruil, maar ek het vir hom gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is en nie rook nie. Ek was meer as twee jaar in hierdie kamp. Hoewel ek die enigste Getuie was, was daar altyd mense wat graag na die waarheid geluister het, en party het gunstig gereageer op die goeie nuus.

Eenkeer het my familie vir my ’n handgeskrewe kopie van Die Wagtoring gestuur. Hoe het ek dit gekry, aangesien elke pakkie baie deeglik deur die opsigter deursoek is? Die bladsye is twee keer gevou, onder in ’n blik met ’n dubbele boom gesit en met ’n dik laag vet bedek. Die tronkopsigter het ’n gat in die blik gesteek, en toe hy niks verdags vind nie, het hy dit vir my gegee. Hierdie bron van “lewende water” het my ’n ruk lank goed aan die gang gehou.—Joh. 4:10.

In Oktober 1949 is ek vrygelaat voordat ek my vonnis uitgedien het, en in November het ek teruggekeer huis toe na die Oekraïne. Ons het gehoor dat ’n paar broers na Moskou gegaan het om ons bedrywighede te laat registreer, maar die owerheid was blykbaar nie bereid om Jehovah se Getuies in die Sowjetunie wetlik te erken nie.

Ons is die nag van 8 April 1951 saam met ander gesinne van Jehovah se Getuies in spoorwegwaens gelaai en na Siberië gestuur. Twee weke later was ons diep in die hartjie van Siberië, in die dorpie Chazan in Irkoetsk-oblast.

Die teks in Jesaja 45:2: “Verleng jou tenttoue en maak jou tentpenne sterk”, het ons hart geraak. Dit het gelyk of ons hierdie profesie vervul. Wie van ons sou vrywillig na Siberië verhuis het? Ek het gedink dat ons ons tentpenne so stewig moontlik moet maak. Ek het dus meer as 55 jaar lank in Siberië gewoon.

[Venster/Prent op bladsy 191, 192]

Ek het nooit my eie blyplek gehad nie

WALENTINA GARNOFSKAJA

GEBORE 1924

GEDOOP 1967

PROFIEL Sy was 21 jaar lank in tronke en

kampe, waarvan 18 voor haar doop was. Voordat sy in 2001 oorlede is, het Walentina 44 mense gehelp om die waarheid te leer ken.

EK EN my ma het in westelike Belo-Rusland gewoon. Ek het Jehovah se Getuies in Februarie 1945 ontmoet. ’n Broer het net drie keer na ons huis toe gekom en vir ons dinge uit die Bybel gewys. Hoewel ek hom nooit weer gesien het nie, het ek vir bure en kennisse begin getuig. Die owerheid het my in hegtenis geneem, en ek is gevonnis tot agt jaar in die kampe. Hulle het my na Oeljanowsk-oblast gestuur.

In die kamp het ek ander gevangenes dopgehou en na hulle gesprekke geluister in die hoop dat ek een van Jehovah se Getuies daar sou ontmoet. In 1948 het ek ’n vroulike gevangene oor God se Koninkryk hoor praat. Haar naam was Asja. Ek was verheug om met haar oor geestelike onderwerpe te praat. Kort daarna is nog drie susters na die kamp gebring. Ons het min lektuur gehad, en daarom het ons so dikwels as wat ons kon met mekaar probeer assosieer.

In 1953 is ek vrygelaat, maar drie en ’n half jaar later is ek skuldig bevind omdat ek gepreek het, en ek is ’n vonnis van tien jaar opgelê. In 1957 is ek na die kamp in Kemerowo verskuif, waar daar ongeveer 180 susters was. Ons was nooit sonder Bybellektuur nie. In die winter het ons lektuur in die sneeu weggesteek, en in die somer in die gras en in die grond. Gedurende soektogte het ek manuskripte in albei hande weggesteek, ’n groot tjalie oor my skouers gesit en albei punte van die tjalie met my hande vasgehou. Wanneer ek van een kamp na ’n ander verskuif is, het ek ’n pet gedra wat ek self gemaak het en etlike nommers van Die Wagtoring daarin gesit.

Uiteindelik is ek na ’n kamp in Mordowië gestuur. Dáár was ’n Bybel, wat op ’n veilige plek versteek is. Ons kon net daarna kyk in die teenwoordigheid van die suster wat daarvoor verantwoordelik was om dit veilig te bewaar. Die enigste ander keer dat ek ’n Bybel gesien het, was in die hande van die broer wat destyds in 1945 vir my die eerste keer van die waarheid vertel het.

Toe ek in 1967 vrygelaat is, het ek na Angren, Oesbekistan, getrek. Hier kon ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop simboliseer. Ek het vir die eerste keer sedert daardie eerste besoek broers ontmoet. Ek was immers net in vrouestrafkampe. Al die broers en susters in die gemeente was ywerig in die bediening, en ek het hulle gou liefgekry. In Januarie 1969 is agt broers en vyf susters van ons gemeente in hegtenis geneem omdat hulle gepreek het, en ek was een van hulle. Ek is as ’n “besonder gevaarlike oortreder” tot drie jaar gevonnis. Ek is dikwels in alleenopsluiting geplaas omdat ek gepreek het.

Ek het onder ’n kombers Bybelstudies met belangstellendes gehou. Ons is verbied om met mekaar te praat wanneer ons gestap het. As ons betrap is dat ons praat, is ons met alleenopsluiting gestraf. Ons het net lektuur gebruik wat met die hand oorgeskryf is, waarvan ons voortdurend kopieë gemaak het.

Ek het nooit my eie blyplek gehad nie. Al my besittings was in een koffer, maar ek was gelukkig en tevrede om Jehovah te dien.

[Venster/Prent op bladsy 200, 201]

Geestelik versterk deur ’n ondervraer

PAWEL SIWOELSKI

GEBORE 1933

GEDOOP 1948

PROFIEL Hy is herhaaldelik aan ideologiese heropvoeding onderwerp en dien nou as ’n ouer man in ’n gemeente in Rusland.

EK IS in 1958 in hegtenis geneem weens godsdiensbedrywighede. Die offisier wat my na die trein vergesel het, het gesê: “Kyk vir oulaas na jou vrou, want jy sal haar nooit weer sien nie.”

In Irkoetsk is ek in ’n spesiale sel gesit wat net groot genoeg was om in te staan. Hierna was ek voor my verhoor ses maande lank in alleenopsluiting. Gedurende ondervragings wat in die nag gehou is, het die ondervraers alles moontlik gedoen om my geloof in die Bybel en my vertroue in God se organisasie te ondermyn. Ek is daarvan beskuldig dat ek aan die onwettige bedrywighede van Jehovah se Getuies deelneem. Geweld is soms gebruik, hoewel die vernaamste metode gewoonlik ideologiese breinspoeling was. Ek het Jehovah gesmeek om my die krag te gee om standvastig te bly. Hy was altyd met my.

Gedurende ’n roetine-ondervraging het die ondervraer my in sy kantoor laat ingaan en gesê: “Nou sal ons vir jou wys wat jou organisasie doen. Dan kan jy sien of dit God se werk is of nie!”

Hy het stip na my gekyk en verder gesê: “Julle streekbyeenkoms in New York is vanjaar deur 253 000 mense in twee stadions bygewoon. As jy aan die omvang van hierdie geleentheid dink, weet jy dat dit onmoontlik was om dit sonder die steun van die CIA te doen. Die byeenkoms het agt dae geduur. Afgevaardigdes uit verskillende lande het dit bygewoon; hulle het per vliegtuig, trein, skip en met ander vervoermiddele gereis. Sou dit alles moontlik gewees het sonder die hulp van die owerheid? Wie kan betaal vir ’n byeenkoms wat agt dae lank in hierdie ontsaglike stadions gehou word?”

Die ondervraer het ’n klomp foto’s op die lessenaar oopgesprei. In een het ek gesien hoe vreugdevolle afgevaardigdes in kleurvolle tradisionele drag mekaar omhels. Op ’n ander foto het broer Knorr ’n toespraak gehou, en nog ander was van die doop en broer Knorr wat vir pasgedooptes die boek “Laat u wil geskied op aarde” gee. Ons het nie hierdie boek ontvang nie, maar ons het later in Die Wagtoring daarvan gelees. Die ondervraer het my vierkantig in die oë gekyk en gesê: “Wat bespreek hierdie boek? Die koning van die noorde en wat op hom wag. Hoe kon Jehovah se Getuies dit op hulle eie georganiseer het? Ons weet dat die Amerikaanse leër hierdie geleenthede bywoon om uit julle voorbeeld te leer hoe om militêre maneuvers te organiseer. Ons weet ook dat ’n miljoenêr ’n groot som geskenk het sodat hierdie byeenkoms gehou kon word. Miljoenêrs gee nie sommer net geld weg nie!”

Die ondervraer het geen idee gehad hoe ek op daardie oomblik gevoel het nie. Dit was vir my asof ek die byeenkoms bywoon sonder dat ek ooit die gevangenis verlaat het. Ek het gevoel hoe my krag hernieu word. Ek het so iets baie nodig gehad! En Jehovah het my op ’n spesiale manier ryklik geseën. Ek was gereed om verder te volhard.

[Venster/Prent op bladsy 214, 215]

Die bioskoop was vol Getuies van Jehovah

WENERA GRIGORJEWA

GEBORE 1936

GEDOOP 1994

PROFIEL Sy was ’n aktrise in die 1960’s en het ’n rol gespeel in ’n Sowjetse propagandafilm. Sy dien sedert 1995 as ’n gewone pionier in St. Petersburg.

IN 1960, aan die begin van my loopbaan as ’n aktrise, is ek die hoofrol in die dokumentêre film God se Getuies gegee, wat in Sowjetse bioskope vrygestel is. Die film het gehandel oor “die skrikwekkende sekte van Jehovah se Getuies”, wat verantwoordelik was vir die dood van die heldin, Tanja, wie se rol ek gespeel het. Volgens die draaiboek hardloop Tanja in die nag van die “sekte” af weg en beland sy sonder ’n jas in ’n sneeustorm. Sy verdwyn in die sneeu, waarna ’n sombere stem sê: “Dit was die einde van Tanja Weselowa.” Ek het gehou van die storie en geëerd gevoel om deel te wees van die stryd teen Jehovah se Getuies, hoewel ek niks van hulle geweet het behalwe wat die storie gesê het nie.

Die film is in die bioskope en klubs van baie stede in die Sowjetunie vertoon. Ek het elke première bygewoon en ná die filmvertoning op die verhoog verskyn. Mense in die Sowjetunie het destyds alles wat hulle in films gesien het, blindweg geglo. Wanneer ek dus op die verhoog verskyn het, het almal ’n sug van verligting geslaak en gesê: “Sy lewe!” Dan het ek beskryf hoe die film gemaak is en hoe die regisseur en die spesiale-effekte-span die sneeustorm geskep het, waarin ek skynbaar oor ’n krans geval het en met sneeu bedek is.

By een geleentheid was die bioskoop in Wisjni Wolotsjek, Kalinin-oblast (nou Twer’-oblast), stampvol, maar die aand het ’n bietjie anders as gewoonlik verloop. Ná die film het ’n bejaarde man my vrae gevra wat net oor godsdiens gehandel het, en ek het die ateïstiese beskouing oor die oorsprong van lewe op aarde voorgestaan. Niemand het enigiets oor die film gesê nie. Ek het gou van die verhoog af geglip en die organiseerder van die geleentheid gaan vra: “Met wie het ek so pas gepraat?”

“Dit is die hoof van die Jehovasgetuie-sekte. Die bioskoop is vol Getuies en niemand anders nie”, het hy gesê. So het ek, sonder dat ek dit besef het, met Jehovah se Getuies kennis gemaak. Daarna wou ek die Bybel lees, maar ek kon nie een in die hande kry nie. Ek het met ’n Poolse man getrou en het saam met hom na Pole verhuis. In 1977 het twee susters aan ons deur geklop, en ek het kort daarna die Bybel saam met hulle begin studeer. Ek het hierdie boek leer liefkry, en ons het vriende geword met die Getuies. In 1985 het my pa siek geword, en ek en my man is Leningrad toe (nou St. Petersburg) om by hom te wees. Ek het tot Jehovah gebid om my te help om daar met Jehovah se Getuies in aanraking te kom.

Uiteindelik het ek een van Jehovah se Getuies geword. Ek dien nou al 12 jaar lank as ’n gewone pionier, en Zdzisław, my man, is ’n bedieningskneg in ’n gemeente in St. Petersburg.

Ek weet uit eie ondervinding dat die rolprentbedryf baie mense kan mislei “deur middel van listigheid in die versinning van dwaling” (Ef. 4:14). Toe ek in daardie Sowjetse propagandafilm gespeel het, het ek geen idee gehad dat ek 30 jaar later een van Jehovah se Getuies sou wees nie.

[Venster op bladsy 237]

Die Nuwe Wêreld-vertaling in Russies

Jehovah se Getuies het meer as ’n eeu lank goed gebruik gemaak van verskillende Russiese Bybelvertalings. Een is die sinodale vertaling. Ondanks die vertaling se argaïese taal en die feit dat die goddelike naam selde daarin gebruik word, het dit derduisende Russiese lesers gehelp om God se voorneme te verstaan. Die Makarios-vertaling, wat God se naam ongeveer 3 000 keer gebruik, was ook nuttig. Maar namate die Russiese Getuies toegeneem het, het die behoefte aan ’n juiste, duidelike, moderne Bybelvertaling ook toegeneem.

Die Bestuursliggaam het gereël dat die Nuwe Wêreld-vertaling in Russies vertaal word. Die Russiese tak het meer as ’n dekade lank aan hierdie groot vertaalprojek gewerk.

In 2001 is die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte in Russies vrygestel. In 2007 is die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Russies vrygestel, tot die groot vreugde van Russiese lesers regoor die wêreld. Lede van die Bestuursliggaam het die nuwe vrystelling aangekondig: Theodore Jaracz in St. Petersburg en Stephen Lett in Moskou. Dawerende applous het gevolg. Dit is onmiddellik met groot geesdrif ontvang. “Hoe duidelik, verstaanbaar en lewendig is die taal tog!” het een suster geskryf. “Dit is nou selfs lekkerder om die Heilige Skrif te lees.” Baie het hulle waardering teenoor die organisasie uitgespreek met kommentare soos: “Wat ’n kosbare gawe van Jehovah!” en “Ons wil vir julle baie dankie sê.” Die vrystelling van die Russiese Nuwe Wêreld-vertaling is ongetwyfeld ’n mylpaal vir Russiese liefhebbers van die waarheid in alle wêrelddele.

[Venster/Prent op bladsy 244, 245]

Ons probleme is in een dag opgelos

IWAN EN NATALIA SLAWA

GEBORE 1966 en 1969 onderskeidelik

GEDOOP 1989

PROFIEL Hulle het as pioniers gaan dien

waar hulp nodig was. Iwan dien nou op die Russiese Takkomitee.

EK EN Natalia het in die vroeë 1990’s van die Oekraïne na Rusland verhuis. In Belgorod-oblast, wat ’n bevolking van byna een en ’n halfmiljoen gehad het, was daar nie eens tien verkondigers nie. Een ding was seker—dit was ’n gebied waar ‘die oes groot was, maar die werkers min’.—Matt. 9:37.

Ons is kort tevore getroud en moes werk vind om ons te onderhou. Die ekonomiese toestand in die land het egter versleg, en baie mense het hulle werk verloor. Om die mense te help om basiese voedselprodukte te bekom, het die regering koepons, of kaartjies, uitgereik, wat by die werksplek uitgedeel is. Omdat ons nie werk gehad het nie, het ons nie koepons gehad nie. Ons moes dus baie betaal vir voedsel by die mark. Ons het ook gesukkel om blyplek te kry en moes in ’n hotel bly. Nadat ons vir 20 dae se verblyf betaal het, het ons byna geen geld oorgehad nie. Ons het elke dag tot Jehovah gebid om ons te help om werk en ’n goedkoop blyplek te vind. Gedurende hierdie hele tyd het ons ywerig gepreek en na opregtes van hart gesoek. Die laaste dag van ons verblyf in die hotel het aangebreek. Met die geld wat ons oorgehad het, het ons ’n broodrolletjie en ’n houer melk gekoop. Toe ons daardie aand gaan slaap, het ons Jehovah weer gesmeek om ons te help om werk en ’n blyplek te vind, want die volgende oggend moes ons die kamer ontruim.

Die volgende oggend het die telefoon ons wakker gelui. Tot ons verbasing het die hotelbestuurder gesê dat my neef vir my in die voorportaal wag. My neef het vir my geld gegee en gesê dat hy kort tevore ’n groot bonus gekry het en dit met my wou deel. Maar dit was nie al nie. ’n Paar minute later het ’n broer ons gebel en gesê dat hy ’n goedkoop woonstel vir ons gevind het. Daarbenewens het ons dieselfde dag werk gekry as terreinopsigters by ’n kleuterskool. Ons probleme is dus in een dag opgelos. Ons het geld, ’n blyplek en ’n werk gehad. Daar was hoegenaamd geen twyfel dat Jehovah ons gebede verhoor het nie.

In 1991 het 55 mense die Gedenkmaal in Belgorod bygewoon; ’n jaar later het 150 dit bygewoon. Die volgende jaar was daar 354. In 2006 het die stad ses gemeentes gehad en was daar meer as 2 200 verkondigers in Belgorod-oblast.

[Venster op bladsy 250]

Onlangse wetlike verwikkelinge

Ons reg om sonder inmenging van die regering te aanbid, is in Januarie 2007 bevestig toe die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ’n eenparige beslissing in ons guns gegee het, wat gesê het dat die “gesamentlike bestudering en bespreking van godsdiensgeskrifte deur lidmate van die godsdiensgroep Jehovah se Getuies ’n erkende manier is waarop hulle hulle godsdiens beoefen wanneer hulle aanbid en onderrig”.

Hoewel hulle bedrywighede in die stad Moskou in 2004 amptelik beperk is, gaan ons broers voort om openlik vir aanbidding te vergader en om soveel moontlik in die predikingswerk te doen. In 2007 was die broers verheug dat hulle die Gedenkmaal en streekbyeenkomste in Moskou sonder inmenging kon hou, soos ook op die meeste ander plekke in Rusland.

Hoewel daar nog steeds wetlike uitdagings is, gaan ons broers moedig voort om enige teenstand teë te werk. Byvoorbeeld, ’n nuwe aansoek is by die EHMR ingedien in verband met die Ljoeblino-polisiedepartement se ontwrigting van die Gedenkmaal in Moskou op 12 April 2006. Die polisie het 14 broers aangehou en hulle regsgeleerde met ’n mes gedreig. Hoewel ’n plaaslike hof gedeeltelik ten gunste van ons broers beslis het, is die beslissing nietig verklaar, en hulle het die appèlsaak verloor. ’n Klag is ook in Julie 2007 ingedien teen verskillende regeringsamptenare wat besig is met ’n uitgerekte en ongegronde ondersoek na ons godsdiensbedrywighede in St. Petersburg.

[Tabel/Grafiek op bladsy 228-230]

TYDKAART Rusland

1890

1891 Semjon Kozlitski word weens sy moedige predikingswerk na die oostelike deel van die Russiese Ryk verban.

1904 Die Duitse tak ontvang briewe van Rusland waarin waardering vir Bybelpublikasies uitgespreek word.

1910

1913 Die Russiese regering erken die kantoor van die Bybelstudente in Finland, wat destyds deel van die Russiese Ryk was.

1923 Die Wagtoringgenootskap begin baie briewe ontvang met versoeke dat Bybellektuur na Rusland gestuur word.

1928 In Moskou lê George Young ’n versoek voor dat die bedrywighede van die Bybelstudente in Rusland gewettig moet word. Die owerheid weier om sy visum te hernieu.

1929 ’n Kontrak met ’n radiostasie in Tallinn, Estland, word onderteken. Bybellesings word uitgesaai en in Leningrad en ander stede gehoor.

1930

1939-40 Die USSR annekseer die westelike Oekraïne, Moldowa en die Baltiese republieke. Dít bring duisende van Jehovah se Getuies binne die land se grense.

1944 Honderde Getuies word na tronke en strafkampe regoor Rusland gestuur.

1949 Jehovah se Getuies word uit Moldowa na Siberië en die Verre-Ooste verban.

1950

1951 Meer as 8 500 Getuies van die westelike Oekraïne, Belo-Rusland, Letland, Litaue en Estland word na Siberië verban.

1956/57 Byeenkomsgangers van 199 streekbyeenkomste regoor die wêreld rig ’n versoekskrif tot die Sowjetregering om godsdiensvryheid toe te staan.

Late 1950’s Honderde Getuies word in ’n spesiale strafkamp in Mordowië in streng afsondering geplaas.

1965 Die Sowjetregering vaardig ’n spesiale bevel uit oor die opheffing van hervestigingsbeperkings. Getuies wat na Siberië verban is, gaan vestig hulle regoor die land.

1970

1989-90 Lede van die Bestuursliggaam vergader vir die eerste keer met broers in Rusland. Getuies van die USSR reis na Pole vir spesiale streekbyeenkomste.

1990

1991 Op 27 Maart ontvang Jehovah se Getuies wetlike erkenning in Rusland.

1992/93 Internasionale byeenkomste word in St. Petersburg en Moskou gehou.

1997 Die Russiese tak in die dorpie Solnetsjnoje, naby St. Petersburg, word toegewy.

1999 Die eerste Byeenkomssaal in Rusland, in St. Petersburg, word toegewy.

2000

2003 Die uitbreiding van die tak word voltooi.

2007 Meer as 2 100 gemeentes en afgesonderde groepe verkondigers is bedrywig in Rusland.

[Grafiek]

(Sien publikasie)

Aantal verkondigers

Aantal pioniers

Aantal verkondigers

Aantal pioniers

Aantal verkondigers in die 15 lande van die voormalige USSR

360,000

300,000

240,000

180,000

120,000

60,000

40,000

20,000

1890 1910 1930 1950 1970 1990 1990 2000

[Diagram/Kaart op bladsy 218]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Ander takke het gehelp om lektuur regoor die land te vervoer

DUITSLAND FINLAND

↓ ↓

Solnetsjnoje

↓ ↓ ↓ ↓

BELO-RUSLAND KAMTSJATKA MOSKOU RUSLAND

JAPAN

↓

Wladiwostok

↓

KAZAKSTAN

[Kaarte op bladsy 116, 117]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NOORDPOOLSIRKEL

NOORDELIKE YSSEE

Noordpool

Barents-see

Kara-see

Laptef-see

Oos-Siberiese See

Tsjoektsji- see

Beringstraat

SWEDE

NOORWEË

DENEMARKE

KOPENHAGEN

DUITSLAND

POLE

Lodz

WARSKOU

Baltiese See

FINLAND

Kaliningrad

ESTLAND

LITAUE

LETLAND

BELO- RUSLAND

Brest

OEKRAÏNE

L’viv

MOLDOWA

Kaspiese See

KAZAKSTAN

ASTANA

Kengir

OESBEKISTAN

TASJKENT

Angren

CHINA

MONGOLIË

OELAN-BATOR

CHINA

Japanse See

JAPAN

TOKIO

Hokkaido

See van Ochotsk

Beringsee

Rusland

Petrozawodsk

St. Petersburg

Solnetsjnoje

Kaliningrad

Nowgorod

Wisjni Wolotsjek

MOSKOU

Toela

Orel

Koersk

Woronezj

Oedarni

Wladimir

Iwanowo

Nizjni Nowgorod

Siktiwkar

Oechta

Petsjora

Inta

Nowaja Zemlja

Workoeta

OERALGEB.

SIBERIË

Jekaterinburg

Naberezjnje Tsjelni

Izjewsk

Saratof

Wolzjski

Stawropol’

Piatigorsk

Berg El’broes

Nal’tsjik

Nartkala

Beslan

Wladikawkaz

KAUKASUSGEB.

Astrakan

Wolgarivier

Tomsk

Nowosibirsk

Kemerowo

Krasnojarsk

Nowokoeznetsk

Oest’-Kan

Aktasj

Birjoesinsk

Oktiabr’ski

Bratsk

Wichorewka

Toeloen

Sentraal-Chazan

Zima

Zalari

Oesol’je-Sibirskoje

Kitoi

Angarsk

Irkoetsk

Baikalmeer

Kirensk

Chabarowsk

Wladiwostok

Korsakof

Joezjno-Sachalinsk

Sachalin

Jakoetsk

Oimjakon

Oest’-Nera

Kamtsjatka

Tsjoektsji- skiereiland

Kolymarivier

Chajir

Noril’sk

[Kaart op bladsy 167]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Kaspiese see

Baltiese see

Barents-see

Kara-see

NOORDELIKE YSSEE

Noordpool

Laptef-see

Oos-Siberiese

Tsjoektsji-see

Beringstraat

See van Ochotsk

Japanse see

KAZAKSTAN

CHINA

MONGOLIË

MOERMANSK

PSKOF

TWER’

MOSKOU

BELGOROD

VORONEZJ

ROSTOF

KABARDINO-BALKARIË

ALANIË

IWANOWO

NIZJEGOROD

MORDOWIË

OELJANOWSK

WOLGOGRAD

TATARSTAN

PERM’

REP. KOMI

OERALGEB.

SIBERIË

SWERDLOWSK

TSJELJABINSK

KOERGAN

TJOEMEN’

OMSK

TOMSK

NOWOSIBIRSK

ALTAI

REP. ALTAI

KEMEROWO

REP. CHAKASSIË

KRASNOJARSK

REP. TOEWA

BOERJATIË

TSJITA

REPUBLIEK SACHA

AMOER

CHABAROWSK

PRIMORSKI-KRAI

SACHALIN

KAMTSJATKA

[Prent op bladsy 66]

Sonsopkoms oor die Tsjoektsji-skiereiland

[Prente op bladsy 68]

Hierdie teken, in Kazak en Russies, wys na die Siberiese dorpie Boechtarma, waar Semjon Kozlitski in ballingskap was

[Prente op bladsy 71]

Die Herkendells het gedurende hulle wittebrood Duitse mense in Rusland gehelp

[Prente op bladsy 74]

Die volmag wat aan Kaarlo Harteva (regs) gegee is waarop die Russiese Rykskonsul in New York ’n regeringseël aangebring het

[Prent op bladsy 80]

In Mei 1925 is hierdie Russiese streekbyeenkoms in Carnegie, Pennsilvanië, deur 250 bygewoon, en 29 is gedoop

[Prent op bladsy 81]

Hierdie tydskrif het gesê: “Woronezj-oblast is vol sektes”

[Prent op bladsy 82]

George Young

[Prente op bladsy 84]

Aleksandr Forstman het byna tien jaar lank traktate, boekies en boeke in Russies vertaal

[Prent op bladsy 90]

Regina en Pjotr Kriwokoelski, 1997

[Prente op bladsy 95]

Olga Sewrioegina het danksy Pjotr se ‘klipbriewe’ ’n kneg van Jehovah geword

[Prent op bladsy 100]

Iwan Krilof

[Prente op bladsy 101]

Getuies wat verban is, het vir hulle huise in Siberië gebou

[Prent op bladsy 102]

Magdalina Belosjitskaja en haar familie is na Siberië verban

[Prent op bladsy 110]

Wiktor Goetsjmidt

[Prent op bladsy 115]

Alla in 1964

[Prent op bladsy 118]

Semjon Kostiljef vandag

[Prent op bladsy 120]

Wladislaf Apanjoek se Bybelopleiding het hom gehelp om toetse van geloof te verduur

[Prente op bladsy 121]

Die polisie het hierdie boekie, “Na Armageddon—God se nuwe wêreld”, in die huis van Nadezjda Wisjnjak gevind

[Prent op bladsy 126]

Boris Kriltsof

[Prent op bladsy 129]

Wiktor Goetsjmidt saam met sy suster (bo), dogters en vrou, Polina, ongeveer ’n maand voordat hy in 1957 in hegtenis geneem is

[Prent op bladsy 134]

Iwan Pasjkofski

[Prent op bladsy 136]

In 1959 het die tydskrif “Krokodil” ’n foto gepubliseer van hierdie lektuur wat in ’n hooimied gevind is

[Prent op bladsy 139]

Onder hierdie huis was een van die drukkerye wat die KGB in 1959 ontdek het

[Prent op bladsy 142]

Aleksei Gaboerjak het gehelp om dié wat verstrooi was, te herenig

[Prente op bladsy 150]

Tuisgemaakte druktoerusting

Rotasiepers

Papierpers

Afkantmasjien

Krammasjien

[Prent op bladsy 151]

Stepan Lewitski, ’n trembestuurder, het ’n drukker moedig genader

[Prent op bladsy 153]

Grigori Gatilof het vir ander in sy tronksel gepreek

[Prente op bladsy 157]

Hoë blomplante het geskikte skuiling vir Bybelstudie en -besprekings verskaf

[Prent op bladsy 161]

Werklike grootte van ’n “Wagtoring” wat in die vorm van ’n miniatuurboekie gemaak is

[Prent op bladsy 164]

“Bevel van die Presidium van die Opperste Sowjet van die USSR”

[Prent op bladsy 170]

Broers het “skatte” in koffers met dubbele kante of in die sole van hulle stewels weggesteek

[Prent op bladsy 170]

Iwan Klimko

[Prent op bladsy 175]

Vyf of ses kopieë van “Die Wagtoring” wat in spinnerakskrif oorgeskryf is, kon in ’n vuurhoutjiedosie pas

[Prent op bladsy 184, 185]

Gedurende al die jare dat hulle in een kamp in Mordowië was, het nie een van die broers die Gedenkmaal misgeloop nie

[Prent op bladsy 194]

Nikolai Goetsoeljak het informeel getuig vir die vrou van ’n kampbevelvoerder

[Prente op bladsy 199]

Internasionale byeenkomste

In 1989 het Russiese byeenkomsgangers die drie internasionale byeenkomste in Pole bygewoon

Warskou

Chorzow

Poznan

[Prent op bladsy 202]

Ná ontvangs van die amptelike registrasie, van links na regs: Theodore Jaracz, Michael Dasewitsj, Dmitri Liwi, Milton Henschel, ’n beampte van die Departement van Justisie, Anani Grogoel, Aleksei Werzjbitski en Willi Pohl

[Prente op bladsy 205]

Milton Henschel hou in 1992 ’n toespraak by die “Ligdraers”- internasionale byeenkoms in die Kirof- stadion, St. Petersburg

[Prent op bladsy 206]

Eiendom is in Solnetsjnoje, Rusland, gekoop

[Prent op bladsy 207]

Aulis en Eva Lisa Bergdahl was onder die eerste groep vrywilligers wat in Solnetsjnoje aangekom het

[Prent op bladsy 208]

Hannu en Eija Tanninen het ’n toewysing in St. Petersburg ontvang

[Prent op bladsy 210]

Roman Skiba en sy vrou, Lioedmila, het groot afstande in die streekwerk afgelê

[Prent op bladsy 220]

Broers met lektuur by die dok in Wladiwostok

[Prent op bladsy 224]

Arno en Sonja Tüngler het baie voorregte in hulle toewysing in Rusland geniet

[Prent op bladsy 226, 227]

’n Gemeentelike vergadering in die woud naby St. Petersburg, 1989

[Prent op bladsy 238]

Die Russiese takkantoor hou toesig oor die vertaling van lektuur in meer as 40 tale

[Prent op bladsy 243]

Die eerste Pionierdiensskool wat in St. Petersburg gehou is, Junie 1996

[Prente op bladsy 246]

Die predikingswerk in Rusland

In die velde van Perm’-oblast en Nartkala

Op die strate van St. Petersburg

Van huis tot huis in Jakoetsk

In die markte van Saratof

[Prente op bladsy 252, 253]

Russiese tak

Lugfoto van woongeboue en omliggende landskap

[Prent op bladsy 254]

Die streekbyeenkoms in 2006 in Moskou is deur 23 537 bygewoon

[Prent op bladsy 254]

Loezjniki-stadion

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel