‘Sy werke volg met hom’
OM 8:50 vm. op Donderdag 28 Julie 1994 het George D. Gangas sy aardse loopbaan voltooi. Hy was 98 jaar oud. George Gangas, een van die gesalfdes, was sedert 15 Oktober 1971 ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies.
Almal wat broer Gangas persoonlik geken het, was bewus van sy liefde vir geregtigheid en haat vir goddeloosheid. Hulle kan goed onthou hoe hy Satan herhaaldelik beskryf het as ’n verfoeilike, afgryslike, bose, gemene en veragtelike leuenaar. Daarenteen het hy van Jehovah gepraat as ’n liefdevolle, goedhartige, medelydende, tere en besorgde Vader. Baie onthou ook hoe hy daarvan gehou het om Bybelvrae te vra. In enige gesprek sou hy sonder uitsondering vrae gestel het—party eenvoudig, sommige ’n bietjie moeiliker. Hy het Bybelwaarheid inderdaad liefgehad.
Broer Gangas is op 15 Julie 1921 gedoop. Hy het sy loopbaan in die voltydse predikingsbediening (pionierdiens) in Maart 1928 begin. Hy was dus altesaam 66 jaar in die voltydse diens. Hy het op 31 Oktober 1928 ’n lid van die hoofkwartierpersoneel van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap in Brooklyn geword.
Sy lewensverhaal het in The Watchtower van 15 Oktober 1966 verskyn. Dit beskryf ’n waarlik geestelike man van God. In daardie artikel het hy op hartroerende wyse gesê: “Ek is lief vir die lewe en ek wil graag hê my broers moet die lewe verkry. Ek beskou, soos die apostel Paulus, alle ander dinge as ‘verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus’.”—Filippense 3:8, NW.
Broer Gangas het deur sy dade getoon dat hy die lewe werklik liefgehad het, en hy het sy “kennis van Christus Jesus” ywerig met ander gedeel. Hy sal gemis word, maar hoe verheug is ons tog dat hy nou sy hemelse beloning ontvang het! Nou ‘sal hy rus van sy arbeid, want sy werke volg met hom’.—Openbaring 14:13, New International Version.
[Prente op bladsy 31]