Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Onderwerp jou aan Jehovah deur toewyding
    Die Wagtoring – 1985 | Junie 1
    • Onderwerp jou aan Jehovah deur toewyding

      “ONS weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê.” Met daardie verklaring het die apostel Johannes ’n waarheid gestaaf wat vir die meeste mense onwelkom is, naamlik dat die hele wêreld in die mag van “die Bose”, Satan, lê. Maar Satan “kry geen houvas” op diegene wat uit die ware God, Jehovah, is nie. Die hele mensdom moet derhalwe òf onder Satan se heerskappy òf onder Jehovah se heerskappy wees. Dit is ’n persoonlike keuse. Aan wie sal jy jou onderwerp? Aan Satan of aan Jehovah?​—Johannes 5:18-20; ook NAV.

      Nou meer as ooit tevore is die tyd dat elkeen van ons moet kies (Lukas 21:31, 32). Jesus het getoon dat ’n persoon nie neutraal kan wees of op die draad kan sit nie. Hy het gesê: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi” (Mattheüs 12:30). Hoe kan ons seker wees dat ons saam met Christus versamel? So baie verdeelde en uiteenlopende godsdienste beweer dat hulle Christelik, “gered” en “weer gebore” is dat hierdie uitdrukkings feitlik sinloos geword het (Mattheüs 19:16-26; Johannes 3:3; 10:9). Die riglyn is: Glo en verkondig ons wat Jesus geglo en verkondig het? As ’n Jood het hy homself beslis nie probeer verheerlik deur ’n geheimsinnige Drie-eenheidsleerstelling te leer nie (Johannes 14:28; 17:1-5). Maar hy het ’n duidelike boodskap oor God se Koninkryk verkondig. Jesus was bewus van sy sending en het gesê: “Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.”​—Lukas 4:43.

      “Laat dit nou toe”

      Voordat Jesus begin het met sy openbare bediening om God se Koninkryk te verkondig, het hy ’n lewensbelangrike stap gedoen wat dien as ’n voorbeeld vir almal wat hulle, soos hy, aan sy Vader wil onderwerp. Mattheüs se verslag vertel ons: “Toe het Jesus van Galilea na die Jordaan, na Johannes gekom om deur hom gedoop te word.” Toe Johannes protesteer dat hy die een is wat gedoop moet word, was Jesus se antwoord: “Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul.”​—Mattheüs 3:13-15.

      Aangesien Jesus die voorbeeld in “alle geregtigheid” gestel het deur in die Jordaan ondergedompel te word, kon hy sy dissipels later beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28: 19, 20). Hierdie stap van doop identifiseer onder meer diegene wat onderworpenheid aan die ware God, Jehovah, in plaas van onderworpenheid aan Satan gekies het. Gedurende die afgelope diensjaar (September 1983-Augustus 1984) het feitlik 180 000 mense wêreldwyd hulle keuse deur waterdoop aangedui. Hulle het getoon dat hulle Jehovah se soewereiniteit bo die van Satan verkies.​—Spreuke 27:11.

      Besluit gegrond op kennis

      Derduisende oorweeg dit eweneens vanjaar om gedoop te word gedurende die “Handhawers van onkreukbaarheid”-Byeenkoms wat op talle plekke oor die hele wêreld gehou sal word. Voor hulle hierdie stadium van doop bereik, het al die kandidate die Bybel se vernaamste leerstellings en riglyne vir Christelike gedrag noukeurig saam met gemeentelike ouere manne hersien om seker te maak dat hulle werklik reg is om gedoop te word. Die besluit om gedoop te word, is derhalwe geensins ’n skielike, emosionele reaksie nie. Elkeen het eerder self ‘beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is’ en wil hom aan daardie wil onderwerp.​—Romeine 12:2.

      Aan die einde van die byeenkomsdooptoespraak sal die doopkandidate met diepe begrip en grondige waardering twee eenvoudige vrae kan beantwoord wat sal bevestig dat hulle besef watter implikasies dit inhou om Christus se voorbeeld te volg. Die eerste vraag is:

      Het jy, op grond van die offerande van Jesus Christus, berou oor jou sondes en het jy jou aan Jehovah toegewy om sy wil te doen?

      Die tweede is:

      Begryp jy dat jou toewyding en doop jou identifiseer as een van Jehovah se Getuies in samewerking met God se geesgerigte organisasie?

      Hulle bevestigende antwoorde op hierdie vrae toon dat kandidate die regte hartstoestand het om Christendoop te ondergaan.

      Regte dekorum

      Vrae word soms geopper oor die regte drag vir dopelinge. Watter soort baaikostuum ook al gedra word, dit moet beslis beskeie wees. Dit is vandag belangrik daar mode-ontwerpers oënskynlik seksualiteit wil beklemtoon en feitlik algehele naaktheid wil bereik. Nog ’n faktor wat in ag geneem moet word, is dat sekere baaikostuums beskeie lyk wanneer dit droog is, maar nie meer beskeie is wanneer dit nat is nie. Niemand wat gedoop word, sal ’n oorsaak vir steuring of struikeling by so ’n ernstige geleentheid soos doop wil wees nie.​—Filippense 1:10.

      In die verlede het party tot die uiterste gegaan om duur geskenke en groot partytjies vir pasgedooptes te gee. Doop is ’n geleentheid vir groot vreugde wat gedeel kan word, maar miskien is ’n woord van waarskuwing hier gepas. Die Bybel sê: “Die einde van ’n saak is beter as sy begin” (Prediker 7:8). Doop is ’n begin​—die begin van die Christenwedloop vir redding tot lewe. Daar is beslis nog geen sprake van ’n lang lewe van getrouheid nie. Waarom dan die pasbekeerdes onnodig belangrik laat voel?​—Vergelyk 1 Timotheüs 3:6.

      Wat het volgens die Bybelverslag plaasgevind nadat 3 000 op Pinkster 33 G.J. gedoop is? “Hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.” Hulle het hulle toegelê op geestelike dinge en gasvryheid aan mekaar betoon (Handelinge 2:41, 42). Doop is ’n tyd vir bepeinsing en nugtere denke. Dit verskaf ons vreugde om te sien hoe ons Bybelstudente hierdie noodsaaklike stap doen. En ons dekorum by die doopplek moet vir toeskouers toon dat ’n lewensbelangrike besluit geneem is​—om ons te onderwerp aan God as die Soewereine Heer en om, as ’n getuie vir Jehovah, geen deel te wees van die wêreld wat “in die mag van die Bose lê” nie.​—1 Johannes 5:19; Mattheüs 4:10.

      [Lokteks op bladsy 30]

      Sedert Junie 1984 is daar rondom die wêreld altesaam 808 “Koninkryksvermeerdering”-Byeenkomste van Jehovah se Getuies gehou. Die totale opkoms was 5 002 684, waarvan 63 556 gedoop is.

  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring – 1985 | Junie 1
    • Vrae van lesers

      ▪ Is daar dinge wat ons nie in gebed tot Jehovah moet sê nie?

      Ja, daar is. Ons moet nie dinge in ons gebede sê wat te familiêr klink en ander (in openbare gebede) laat dink dat ons oneerbiedig is nie. Dit is nie gepas om uitdrukkings soos “Goeie middag, Jehovah” en “Dra ons liefde aan Jesus oor” te gebruik nie, of om snaakse kommentare of selfs grappe in ons gebede te maak nie. Waarom nie?

      Eerstens, wanneer sulke uitdrukkings in openbare gebed gebruik word, sal hulle luisteraars waarskynlik skok of aanstoot gee (Romeine 14:21). Maar daar is ’n diepliggende rede waarom sulke uitdrukkings selfs in ons persoonlike gebede vermy moet word. Hierdie is uitdrukings wat ons in ons gesprekke met ons portuurs gebruik. Wanneer hulle in gebed gebruik word, dui dit op ’n gebrek aan ontsag en eerbied, en hulle skep die indruk dat die een wat so bid sy algehele nietigheid in vergelyking met Jehovah vergeet het.​—Genesis 18:27; vergelyk Lukas 18:9-14.

      Christene word inderdaad aangespoor om ’n intieme verhouding met Jehovah aan te kweek. Ons het hom lief, en hy is ons hemelse Vader (Mattheüs 6:9; 22:37). Trouens, party mense kan sy vriende genoem word (Jakobus 2:23). Daarbenewens word ons genooi om met vrymoedigheid tot Jehovah te spreek en ons diepste gedagtes en intiemste probleme met hom te bespreek.​—Psalm 55:2,3; Filippense 4:6; Hebreërs 4:16; 1 Johannes3:21, 22.

      Jehovah vereis nietemin ’n goeie gesindheid van diegene wat hom nader. Hy het gesê: “Op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jesaja 66:2). Opregtheid van hart is ook ’n vereiste. “Bekeer julle tot My met julle hele hart”, het Jehovah vir sy volk gesê (Joel 2:12, 13). Ons het geen aanspraak op verdienstelikheid voor hom, geen rede om aanmatigend te wees, geen reg om te eis nie.

      Die Bybel bied verdere raad vir diegene wat tot Jehovah bid: “Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.” “Hy vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.” (Job 37:24; Psalm 145:19; kyk ook Psalm 39:6, 13.) Hoewel Jehovah altyd bereid is om na ons gebede te luister, moet die manier waarop ons hom aanspreek dus bewys lewer van ons besef van ons eie onwaardigheid, sowel as van ons groot respek vir hom. Enige ander benadering sou dui op vermetelheid, ’n gebrek aan nederigheid of ’n gebrek aan erns.

      Kinders gebruik soms baie familiêre uitdrukkings in hulle gebede wat selfs hulle ouers laat glimlag. Sulke uitdrukkings is ’n innemende blyk van kinderlike onskuld en toon hoe werklik Jehovah vir hulle is. Maar volwassenes met hulle groter besef van wat daarby betrokke is, moet sulke ligsinnigheid vermy. Hulle moet Jehovah met opregtheid, eerbied, nederigheid, waardigheid en erns nader.​—1 Korinthiërs 13:11.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel