ROODEKRANS—DIE LAASTE JAAR! Moet teen Desember 1986 voltooi wees
Die Roodekransprojek gaan met rasse skrede vooruit. Daarbenewens het dit nou uiters dringend geword. Onlangs het die Krugersdorpse munisipaliteit ons versoek toegestaan om die tydelike huisvesting op Roodekrans tot Desember 1986 toe te laat. “Maar”, het hulle gewaarsku, “geen verdere verlenging sal toegestaan word nie!” Ons MOET dus hierdie groot projek teen volgende Desember voltooi!
Dit is al ’n hele ruk lank ons doelwit, maar nou het dit dringend geword. Nadat ons ons programme noukeurig nagegaan het, is ons oortuig daarvan dat ons dit sal kan bereik. Trouens, ons het die program vervroeg en ons beoog om die konstruksie teen Oktober 1986 te voltooi. Dit gee ons twee maande om die afwerking te doen.
Tot Desember 1986 lê daar vir ons ’n ontsaglike taak voor. Die kantoorblok van vier verdiepings is nog in ’n vroeë stadium, en ons is net oor halfpad met die woongebou. Paaie van altesaam drie kilometer moet ook nog gebou word, tuine moet aangelê word, honderde bome moet aangeplant word en talle ander dingetjies moet gedoen word. Ons sal miskien nie alles teen volgende Desember voltooi nie, maar as dit Jehovah se wil is, sal die bouwerk en die paaie teen daardie tyd klaar wees.
Om hierdie reusetaak te voltooi, het ons dringend meer hulp nodig. Ons sit derhalwe ons behoeftes en hoe julle kan help hieronder uiteen.
MEER BROERS NODIG
Die verskillende afdelings het bereken dat ons nog honderd broers nodig het om ons doelwitte te bereik. Ons sal natuurlik ook jong broers moet vervang wat weens hulle neutrale standpunt tot ses jaar detensie gevonnis sal word. Dit behels harde, fisiese werk en ons verkies derhalwe broers (manne). Geleenthede vir egpare is beperk, maar hulle kan nogtans aansoek doen. Ons kan ongelukkig nie nog gesinne huisves nie.
Die eerste twee dele van die woongebou is voltooi. Dit gee ons dus nou meer huisvesting en derhalwe kan ons nog broers nooi. Ons kan ook nog Swart broers huisves en nooi julle, veral ryp, ongetroude manne, om ons ’n jaar lank met die projek te kom help. Aangesien ons huidige groot eetsaal in die skuur te klein word, is ons nou besig om reëlings te tref om weer ons ou eetsaal te gebruik. Sodoende sal ons meer as 600 persone van sitplek kan voorsien vir ons oggendgodsdiens en maaltye.
Al wat ons nou van die broers verlang, is om ons ’n jaar lank te kom help. Oor ’n jaar sal ons klaar wees met die konstruksiewerk en dan sal ons net tuine moet aanlê, tydelike geboue moet afbreek, ens. Kan julle ons ’n jaar lank kom help?
Aangesien daar nog net een jaar oor is, nooi ons broers (nie susters nie) ook om hulle volgende vakansie, of ten minste ’n gedeelte daarvan, op Roodekrans deur te bring om ons met hierdie eindstadium te help. Ons het veral broers nodig wat harde, fisiese werk kan doen. Kan julle julle volgende vakansie by ons deurbring? Indien nie julle hele vakansie nie, kan julle drie weke, twee weke of selfs een week by ons deurbring?
Weens beperkte huisvesting kan ons vrywilligers nie vir minder as een week aanvaar nie. Gesinne moet asseblief goed hieroor nadink. As Julle ’n opoffering kan maak en die vader of ander mans in die gesin ons ’n paar weke kan kom help, sal dit van onskatbare waarde wees. Soos Paulus geskryf het: “God het ’n welbehae aan sulke offers” (Hebr. 13:16). Maar let asseblief daarop dat niemand na Roodekrans moet kom om te bly tensy daar vooraf reëlings vir huisvesting getref is nie.
Daar is waarskynlik talle ambagsmanne wat ons graag by Roodekrans wil kom help, maar dit nie op ’n permanente basis kan doen nie. Kan julle nou reëlings tref om ons voor die einde van die projek vir ten minste ’n paar weke te kom help? Indien wel, moet julle jul aansoekvorm asseblief nou invul en ons laat weet wanneer julle volgende jaar na Roodekrans kan kom. Ons het veral messelaars, pleisteraars, skrynwerkers, elektrisiëns en broers wat vloer- en muurteëls goed kan lê, nodig.
HULP VAN GEMEENTES
By ’n onlangse vergadering met boukoördineerders van gemeentes wat ons gereeld help, het ons besluit dat ons nou elke Saterdag moet werk. Tot dusver het ons net op die eerste en derde Saterdag gewerk. Nou sal ons party gemeentes nooi om ook op die tweede en Vierde Saterdag te kom sodat die projek vinniger kan vorder. Al die gemeentes het ingestem om elke tweede maand te help in plaas van elke derde maand soos in die verlede.
Ons wil die broers aanspoor om hierdie saak goed te oorweeg. Talle het die Roodekransprojek op Saterdae getrou ondersteun. Julle was vir ons ’n ware seën.
Julle het ons baie gehelp. Ander het tot dusver nie hierdie spesiale voorreg gesmaak nie. Maar die tyd raak min! Hou in gedagte dat ons, uit ’n teokratiese oogpunt, die belangrikste gebou in Suider-Afrika bou. Hou ook die ywer en geesdrif in gedagte van diegene wat Nehemia in die bou van die mure van Jerusalem ondersteun het. Nadat Nehemia hulle aangespoor het, het hulle gesê: “Ons sal ons klaarmaak en bou! En hulle het hulle hande sterk gemaak vir die goeie werk” (Neh. 2:18). Ons spoor julle almal aan om ‘julle hande sterk te maak’ vir hierdie “goeie werk”.
Party gemeentes in vergeleë plekke, soos Bloemfontein, Kaapstad en Durban, het bus- of motorgroepe gereël en ons op Roodekrans kom help. Ons stel dit hoog op prys. Weens die lang afstande kon party net twee dae of selfs minder bly, en hulle het gewens dat hulle meer kon doen. Hulle het nogtans ’n groot hoeveelheid werk verrig. Party van hierdie gemeentes beplan nou om ’n bus vol broers vir ’n week of minstens vier of vyf dae te stuur. As julle gemeente ’n busgroep kan stuur om ons ’n paar dae of ’n week te help, sal ons dit baie waardeer. Laat ons asseblief vroegtydig weet wanneer ons sulke groepe kan verwag.
ONS DOELWITTE
Sorgvuldige beplanning is noodsaaklik as ons ons doelwit van voltooiing teen Desember 1986 wil bereik. Ons het ’n spesiale vergadering op 9 Augustus 1985 gehou om ons program aan die plaasgesin te verduidelik. Die gesin het die uitdaging geesdriftig aanvaar en is vasbeslote om die doelwit te bereik. Om ons vooruitgang te kontroleer, het ons tussendoelwitte vir elke drie maande gestel. Ons eerste doelwit was om ’n sekere deel van die gebou teen 30 September 1985 te voltooi. Die broers het baie hard gewerk en talle het elke week etlike aande oortyd gewerk. Hulle was vasbeslote om hulle doel te bereik. Hoe bly was ons tog om die plaasgesin op 30 September te kon meedeel dat ons ons doel bereik het! ’n Spesiale maaltyd is voorberei om waardering vir hulle harde werk te toon. Dit was ’n uiters vreugdevolle geleentheid.
Ons volgende tussendoelwit is vir die einde van hierdie maand (Desember) gestel, en terwyl julle hierdie byvoegsel lees, werk die broers ywerig om dit te bereik. Die meeste van julle sal die streekbyeenkoms in Johannesburg bywoon, en ons hoop dat julle voor of na die byeenkoms sal kan kom kyk hoe ons gevorder het. Julle sal hartlik welkom wees. Voor en na die byeenkoms sal daar elke dag, Maandag tot Saterdag, toere wees, maar daar sal geen toere gedurende die vier dae van die byeenkoms wees nie. Daar sal toere van 8-11 vm. en weer van 2-4 nm. wees.
ONS VOORREG OM TE HELP
Die bespoediging van die bouprojek beteken ook ekstra onkoste. Ons sal vir meer broers moet sorg, en dit kos baie. Kan jy jou voorstel wat dit kos om 550 persone drie maal per dag te voed en vir elkeen dieselfde maandelikse toelae (vir vervoer en die nodige persoonlike items) as vir die Bethelgesin te gee? Om die groot kantoorblok te bou en die ontsaglike woongebou te voltooi, sal boonop baie kos.
Talle van julle het bydraes gestuur of geld aan die Genootskap geleen om hierdie onkoste te help dek. Julle ruimhartige ondersteuning word hoog op prys gestel en is regtig prysenswaardig. Baie van julle het groot opofferings gemaak en ons dank Jehovah vir die goeie gees wat sy volk openbaar.
Ons sal nietemin, met die oog op die ontsaglike onkoste in verband met die bouprojek, steeds die hulp van elke broer en suster in Suid-Afrika nodig hê. Party het op verskillende maniere probeer om ’n bietjie ekstra geld te maak om Roodekrans te ondersteun. Ons waardeer wat die broers gedoen het. Dit is egter belangrik dat elkeen hom in sy hart moet voorneem in watter mate hy Roodekrans sal ondersteun. Die apostel Paulus toon dat daar bereidwilligheid moet wees, gewilligheid om ’n opoffering te maak, daar dit Jehovah behaag. Hy sê: “Want as die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie.” (2 Kor. 8:12; kyk ook 2 Korinthiërs 9:7.) Die grootste hulp het gekom van diegene wat op ’n gereelde maandelikse basis ’n opoffering maak ter ondersteuning van hierdie groot bouprojek, wat so baie vir die toekomstige Koninkrykswerk in Suider-Afrika beteken. Let asseblief daarop dat geld wat in die bussie vir die Roodekransbouprojek gegooi word nie vir enigiets anders gebruik moet word nie, maar vir hierdie doel aan die Genootskap gestuur moet word.
MOENIE HIERDIE GELEENTHEID MISLOOP NIE
Van nou af tot Desember 1986 sal ons besigste tydperk wees. Elkeen by Roodekrans gaan hom kragtig inspan. Daar is nie net in Suid-Afrika groot belangstelling in ons projek nie, maar ook in baie ander lande. Talle bid tot Jehovah ten behoewe daarvan. Laat ons almal saam bid om Jehovah se rykste seën sodat ons dit betyds kan voltooi.—2 Kor. 1:11; Spr. 15:29.
Broers, dink asseblief goed na oor wat hierdie nuwe Bethelkompleks behels. Die ou Bethel is nou gans te klein. Maar die Koninkrykswerk, die noodsaaklikste, dringendste werk wat ooit in die mensegeskiedenis gedoen is, bereik nou ’n klimaks. Dit groei en daar is steeds talle opregte persone wat gevind moet word. Die huidige onrus en oproerigheid maak mense meer bewus van die enigste hoop vir die toekoms—die roemryke Koninkryk van God.
Deur Jehovah se onverdiende goedheid sal hierdie nuwe gebou ’n noodsaaklike rol in teokratiese uitbreiding speel. ’n Groot hoeveelheid Bybels, boeke, brosjures, tydskrifte en traktate sal daarvandaan na die veld uitgaan, sowel as tienduisende eksemplare van Ons Koninkryksbediening en briewe om julle te leer en te help om hierdie groot werk te doen. Dit sal ’n sentrum van Koninkryksregering wees. En die voorkoms daarvan, soos ons reeds kan sien, sal indrukwekkend en waardig wees, in ’n pragtige omgewing wat Jehovah se organisasie waardig is.
Om dit fisies en finansieël te ondersteun, is ’n voorreg wat geluk bring. Soos Jesus gesê het: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Hand. 20:35). Moenie hierdie geleentheid misloop om ’n deel aan hierdie noodsaaklike Koninkryksonderneming te hê nie. Dit sal jou nie net gelukkig maak nie, maar dit sal ook die hart van ons hemelse Vader, Jehovah, verbly.
[Picture on page 3]
Projek in sy geheel
[Picture on page 4-5]
Nog nie begin nie
In beginstadium
Werk aan die gang
Voltooi
DRUKKERY
DIENSGEBOU
WOONGEBOU
KONINKRYKSAAL
WOONGEBOU
KANTOORBLOK
SKUUR
WOONGEBOU(20 KAMERS)
[Picture on page 6]
Woongedeelte in aanhou
Agterkant van drukkery
Fondasies van kantoorblok
Vooraansig van drukkery en diensgebou