Die eer om Jehovah se naam te dra
1 Wat ’n eer is dit tog om die naam Jehovah se Getuies te dra! Ons is bly dat ons Jehovah ken en dat hy ons erken as individue wat eerbied vir sy naam toon en sy wette gehoorsaam. Is ons nie trots daarop om onder die betreklik min persone op aarde te wees wat hulle aan die kant van die Grootste Persoon in die heelal geskaar het nie?
2 Om God se naam op waardige wyse te dra, moet ons toon dat ons duidelik verstaan wat daardie naam behels. Ons erken Jehovah byvoorbeeld as die Groot Voornemer. Wat hy sê, gebeur (Jes. 55:11). Die Bybel toon dat sy voornemens nog altyd vervul is. Gevolglik kan ons verseker wees dat sy voornemens vir die toekoms verwesenlik sal word. Ons toon ons vertroue as ons ons lewe gebruik ter ondersteuning van sy reëlings. Dit bevestig ons geloof en verseker ons van sy seën.—Matt. 7:21.
3 As ons Jehovah se naam dra, beteken dit ook dat ons sy hoedanighede erken en liefhet. Wanneer ons sy naam hoor, dink ons aan sy barmhartigheid, genade, lankmoedigheid en trou (Ex. 34:6). Hy is by uitstek ’n God van liefde. Jesus het gesê dat hy Jehovah se naam aan sy volgelinge bekend gemaak het. Hoekom? Sodat hulle God se liefde kon ervaar (Joh. 17:26). As ons Sy naam op waardige wyse wil dra, behels dit dus dat ons Jesus navolg en sy hoedanighede in ons lewe openbaar.—Joh. 13:35.
GEVOLGE AS ONS SY NAAM WAARDIG DRA
4 As ons Jehovah heelhartig dien, merk ander positiewe gevolge op. Hulle sien ons as ’n gelukkige, onverskrokke volk wat in alle lande in ware aanbidding verenig is. Ons is vry van verslawende dwelms en onsedelike gebruike. Ons gesinne en huwelike is meestal gelukkig omdat ons Skriftuurlike beginsels toepas. Talle werkgewers verkies om Jehovah se Getuies in diens te neem omdat hulle eerlik is en nie steel, kul of lieg nie. Talle het ons in die openbaar geprys omdat ons anders as ander in die wêreld is. (Kyk wAF83 15/8 bl. 30; wAF83 15/12 bl. 7; gAF82 8/2 bl. 14.) Ons Christelike gedrag trek opregte mense na Jehovah.
5 Maar die grootste bewys van ons eerbied vir Jehovah se naam is ons verkondiging van die goeie nuus van sy Koninkryk. Bemoedigende verslae van dwarsoor die wêreld toon dat God se volk ywerig deelneem aan hierdie predikingswerk. Al hoe meer streef na hulp- en gewone pionierdiens. Het jy al die vreugde van sulke diens gesmaak? Indien nie, kan jy dit dalk die een of ander tyd volgende jaar doen? Wat ’n goeie geleentheid verskaf dit tog om met meer mense oor God se naam en voorneme te praat.
6 Moenie ontmoedig voel as jou omtandighede verhinder dat jy soveel doen as ander wat fisies sterker is en minder verantwoordelikhede het nie, Jehovah se naam word geëer wanneer elke persoon sy bes doen met wat hy het. Heelhartigheid in die predikingswerk toon dat ons God se liefde waardeer en dat ons hom graag wil eer.
7 Die publikasies van die Genootskap is ’n geweldige hulp om Jehovah se naam bekend te maak. Vanaf die einde van Maart tot die einde van Oktober het ons meer as 100 000 ouer publikasies op die spesiale aanbod teen 50c uitgestuur! Ons wil julle prys vir julle goeie ondersteuning om hierdie ouer publikasies uit te kry, Desember is die laaste maand dat ons die ouer publikasies teen 50c sal aanbied. Doen julle bes om die voorraad wat julle in die gemeente oor het uit te kry.
8 Diegene wat enige van die ouer publikasies verkry, kan meer oor Jehovah leer en sal hopelik ook eindelik die eer hê om Jehovah se naam te dra.—Rom. 10:13.