Akkurate rapportering van ons velddiens
1 Progressiewe verslae oor die wêreldwye uitbreiding van ware aanbidding was deur die jare heen ’n bron van bemoediging vir Jehovah se volk. Vandat Jesus die eerste keer vir sy dissipels gesê het dat die goeie nuus in die hele wêreld verkondig moet word, was ware Christene uiters besorg om te weet hoe dit gedoen sou word.—Matt. 28:19; Mark. 13:10; Hand. 1:8.
2 Vroeë navolgers van Jesus Christus het belanggestel in verslae oor die vooruitgang van die predikingswerk (Mark. 6:30). Jehovah se hedendaagse organisasie probeer eweneens om akkurate verslae te hou van die werk wat ter vervulling van Mattheüs 24:14 gedoen word. Hier in Suid-Afrika en in aangrensende lande wat onder hierdie tak ressorteer, het ons ’n probleem met die rapporte wat aan die Genootskap gestuur word. Volgens die verslae van ons reisende opsieners doen baie van ons broers en susters elke week velddiens, maar hulle laat of na om hulle bedrywighede aan die einde van die maand deur hulle studiehouer te rapporteer, of die rapporte word nie deur die studiehouers ingesamel en aan die sekretaris oorhandig sodat hy dit kan saamstel en betyds aan die Genootskap kan stuur nie.
3 Om hierdie probleem te bowe te kom, stel ons voor dat elke verkondiger ’n akkurate verslag van sy persoonlike velddiensbedrywigheid hou deur dit op die S-4, op die kalender of in ’n dagboek neer te skryf en dan onverwyld aan die einde van die maand die ure bymekaartel en die velddiens- en Studierapporte aan die studiehouer oorhandig. In afgesonderde groepe moet verkondigers hierdie rapporte gee aan die persoon wat die leiding neem. Die sekretaris of persoon wat die leiding in afgesonderde groepe neem, sal al die rapporte nagaan om te sien wie nog nie hulle rapporte ingegee het nie. Dit is die boekstudiehouer se verantwoordelikheid in gemeentes om al die rapporte in te samel. Die boekstudiehouer moet met diegene wat nog nie rapporte ingegee het nie in aanraking kom om laat rapporte in te samel en dit sonder versuim aan die sekretaris oorhandig.
4 Sekretarisse moet die name van die wat die vorige maand nie gerapporteer het nie aan die studiehouer gee. Die studiehouer sal dan dadelik besondere aandag en hulp gee aan iemand wat nie gerapporteer het nie en vasstel of die verkondiger bloot nagelaat het om te rapporteer of nie aan die dissipelmaakwerk deelgeneem het nie. As die rapport nie die vorige maand ingegee is nie, sal die studiehouer die laat rapport vir die sekretaris gee, wat hierdie verkondiger die volgende maand twee maal in sy rapport aan die Genootskap sal tel. As die verkondiger daarenteen een maand nie velddiens gedoen het nie, sal die studiehouer vroeg die volgende maand hulp probeer verleen deur miskien self saam met die ongereelde verkondiger velddiens te doen of te reël dat ’n bekwame verkondiger dit doen om die ongereelde verkondigers sodoende op te lei en te bemoedig. Gemeentes en afgesonderde groepe moet daarna streef om elke maand honderd persent deelname te hê en te handhaaf.
5 Elke studiehouer moet van die sekretaris ’n lys ontvang van almal in sy groep. Ons moet almal probeer om elke week aan die velddiens deel te neem en dan aan die einde van elke maand dadelik ons rapporte aan die studiehouer oorhandig. As toegewyde knegte van God het ons ’n dringende werk om te doen. Stel ons nie almal daarin belang om te sien dat die werk deeglik gedoen word voor die einde kom nie? Jehovah sal natuurlik sorg dat die werk voltooi word, maar sal ons gereeld daaraan deelneem en sal ons sy goedkeurende glimlag ontvang? Sal ons hoor wanneer hy sê: “Mooi so”? Mag ons almal as Jehovah se toegewyde knegte heelhartig in ons bediening wees.—Kol. 3:23.