Jongmense—Julle aandeel in ’n gelukkige, verenigde gesin
“Ek was ’n ware seun vir my vader, teer en die enigste voor my moeder.”—SPREUKE 4:3, NW.
1, 2. Watter probleem bestaan in sommige Christenhuise?
HOE verkwikkend is dit tog om jou vrese uit te stort aan iemand wat vir jou omgee, wat jou gevoelens probeer verstaan en wat begrypende raad gee! En wanneer dit jou ouer is, is jy inderdaad geseënd. Maar hoe heg is die band tussen jou en jou ouers?
2 Twee tieners met Christenouers het geskryf: “Ons vernaamste probleem is kommunikasie. Ons kan eenvoudig nie met ons ouers praat nie. Ons is albei baie, baie lief vir ons ouers, maar ons kan nie lekker kommunikeer nie. Ek bid gedurig oor die saak, maar ek kry nie ’n oplossing nie.” Waarom is daar soms selfs in Christenhuise ’n gebrek aan sinvolle kommunikasie? Is daar ’n uitweg uit so ’n moeilike situasie?
Waarom ’n kommunikasiegaping?
3, 4. Noem ’n paar redes vir gebrek aan kommunikasie tussen ouers en kinders.
3 Die tieners wat ons pas aangehaal het, het met hulle ouers verskil oor hulle keuse van vermaak en vriende. Meningsverskille, gepaard met die gevoel dat jou sienswyse geïgnoreer word, kan kommunikasie verydel. Maar waarom ontstaan hierdie meningsverskille? Spreuke 20:29 meld een moontlike rede. Dit lui: “Die sieraad van die jongmanne is hulle krag, en die versiersel van grysaards is grys hare.” Omdat jeugdige “krag” nie getemper is deur die roue werklikheid van jarelange ondervinding nie, kan julle as jongmense gevare oor die hoof sien en dink dat ‘niks verkeerd kan loop nie’. Maar julle ouers weet beter omdat hulle deur die jare heen wysheid verkry het—of selfs uit bittere ondervinding geleer het. Hoewel hulle julle gevoelens verstaan, is hulle miskien bewus van verskuilde gevare wat julle nie raaksien nie.—Spreuke 29:15.
4 Ander kere kan daar ’n gebrek aan kommunikasie wees omdat jy dit moeilik vind om oor sekere pynlike emosies te praat. Daar is dalk leed in jou hart weens botsings met ander of weens jou eie tekortkominge. Jy reageer moontlik soos Job, wat gevoel het dat sy eie broers, sy vertroude vriende, ja, selfs sy eie gesin, hom verstoot het (Job 19:13-19). In sommige gevalle ontstaan daar ’n gaping omdat ’n ouer “sy oor toestop” wanneer ’n kind delikate gevoelens probeer onthul (Spreuke 21:13). Een tienderjarige meisie het gekla: “Ek het baie seer gehad, ek het baie gehuil en pa het gesê: ‘Dit help nie om te huil nie’; daarom het ek my gevoelens opgekrop. Ek het nooit trane gestort as hy naby was nie, en daar was glad geen kommunikasie nie.”
5. Wat is die eerste stap ter bevordering van sinvolle kommunikasie?
5 Nogtans is daar, ongeag jou ouers se gesindheid, baie wat jy kan doen om die kommunikasie te verbeter! Begin deur jou verhouding met jou ouers eerlik te evalueer. Die nasie Israel het byvoorbeeld voorgegee dat hulle na aan hulle hemelse Vader was, en het gesê: “My Vader, die vertroude Vriend van my jeug is U!” Maar in werklikheid het daar ’n gespanne verhouding bestaan weens hulle opstandige dade (Jeremia 3:4, 5). Is jou ouers werklik ‘vertroude vriende’? Doen jy altemit dinge, selfs onopsetlik, wat die kommunikasie belemmer? Kan jy sê soos Salomo gesê het: “Ek was ’n ware seun vir my vader [en my moeder]”? (Spreuke 4:3, NW). Wat kan jy doen om nader aan hulle te kom?
“Liefde en trou”
6. (a) Watter eienskappe sal, volgens Spreuke 3:3, ’n jong persoon help om ‘genade te vind in die oë van God en die mense’? (b) Hoe kan ’n mens hierdie eienskappe ‘om jou hals bind’?
6 Wyse koning Salomo het nagedink oor wat nodig is vir ’n jong persoon om “genade [te] vind en ’n goeie insig in die oë van God en die mense [waaronder sy ouers]”. Sy antwoord? “My seun, . . . laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart” (Spreuke 3:1-4). Liefde en trou sal jou nader aan jou ouers bring. Maar hierdie eienskappe moet ’n wesenlike deel van jou persoonlikheid word, iets wat jy ‘om jou hals bind en op jou hart skryf’. In Bybeltye is ’n seëlring dikwels met ’n bandjie om die nek gehang (Genesis 38:18). Hierdie ring was van onskatbare waarde omdat geen dokument daarsonder bekragtig kon word nie. Die draer van die ring het dit nooit vergeet nie en is gedurig aan die groot waarde daarvan herinner. Net so moet liefde en trou altyd voor oë gehou word, en hulle waarde moet nooit vergeet word nie. Maar hoe kan jy hierdie eienskappe aan die dag lê?
7. Hoe kan liefde betoon word om kommunikasie te verbeter?
7 Volgens die betekenis van die oorspronklike Hebreeuse woord beteken “liefde” eintlik “lojale liefde” en dui dit op ’n persoonlike verbintenis in ’n verhouding. Is jy lojaal aan jou ouers en daartoe verbind om emosioneel na aan hulle te bly? In Sagaria 7:9, 10 word liefde aan barmhartigheid en medelye gekoppel. Het jy medelye met jou ouers vanweë die druk waarmee hulle te kampe het? Die liefde van sommige mense “is soos ’n môrewolk en soos ’n dou wat vroeg weer verdwyn” (Hosea 6:4). Verdwyn jou liefde in die hitte van ’n argument of wanneer jy nie jou sin kry nie? Hou jy ‘die wet van liefderyke goedheid op jou tong’ wanneer jy ontsteld is? Lojaliteit en medelye is onontbeerlik vir kommunikasie.—Spreuke 31:26, NW.
8. Hoe kan ’n jong persoon trou aan die dag lê?
8 “Trou” lei tot intimiteit, omdat vertroue noodsaaklik is in enige hegte verhouding. Moenie soos die “valse mense” wees wat hulle ware persoonlikheid weggesteek het nie (Psalm 26:4). Jy kan dalk in die versoeking kom om as ’t ware twee lewens te lei—een wanneer jy by jou Christenouers is en ’n ander wanneer jy onder hulle oë uit is. So ’n weg kan tot ’n tragedie lei, veral wanneer ’n ernstige probleem opduik en jy nie toegerus is om dit alleen op te los nie. Dink ook aan die verbrokkeling van vertroue wanneer ’n weg van bedrog ontdek word. “My ouers weet baie meer as wat ek dink hulle weet”, het een jong Christen gesê. “As ek iets vir hulle probeer wegsteek, flous ek net myself en probeer ek Jehovah kul.” Ja, wees vasbeslote om innerlike waarheidliewendheid aan te kweek. Maar toon ’n mens trou bloot deur ‘valse’ woorde en dade te vermy?—Spreuke 4:20, 24; 10:9.
‘Praat reg uit die hart’
9. Watter probleem het twee tienderjariges te bowe gekom, en wat was die resultaat?
9 Sommige jongmense is nie eerlik teenoor hulle ouers wat hulle gevoelens betref nie. Een van die tienderjariges wat in paragraaf 2 gemeld word, het byvoorbeeld erken: “Om die vrede te bewaar, het ons begin sê wat ons geweet het ons ouers wil hoor, maar ons het ons ware gevoelens ingehou.” Hierdie tieners het hulp gaan soek. ’n Ouere man het hulle aangespoor om na hulle ouers te gaan en die jongman Elihu na te volg, wat gesê het: “Ek praat reg uit my hart” (Job 33:3, Beck). Nadat hulle inniglik gebid het, het hulle eindelik hulle harte aan hulle ouers blootgelê en hulle bitterheid verduidelik. (Vergelyk Spreuke 12:18.) Hoewel dit hom verstom het dat sy kinders so voel, het die vader teenoor hulle erken dat hy te ver gegaan het. Hy was bly dat hulle gepraat het. Die dogter het afgesluit: “Ons gesinsituasie verbeter stadig maar seker. Eers toe ons vryeliker begin kommunikeer het, kon ons die redes vir hulle reëls sien. Hulle het opgehou om uit die hoogte met ons te praat asof ons babas is. Ons het mekaar baie beter begin verstaan.”
10, 11. (a) Wat kan, volgens Spreuke 27:19, tot die hegtheid van ’n Christengesin bydra? (b) Hoe kan jongmense hierdie vers toepas?
10 Openhartigheid teenoor jou ouers lei tot hartgrondige kommunikasie. Wanneer jy kalm en eerbiedig praat, kan jou ouers aanvoel wat in jou hart is (Spreuke 29:11, NW). Jy sien ook eienskappe in hulle harte. Hierdie openhartige en simpatieke dialoog help jou om jou eie hart beter te ken. Spreuke 27:19 sê: “Soos in die water aangesig teenoor aangesig is, so is die hart van die mens teenoor die mens.”a Net soos jy jou spieëlbeeld in ’n poel stil water sien, so kan hartgrondige kommunikasie met jou ouers jou laat besef dat hulle emosies en beweegredes nie juis van joune verskil nie. Hierdie gesprekvoering lei tot wedersydse begrip en geneentheid, wat noodsaaklik is vir ’n hegte gesin.
11 Wees dus gewillig om met jou ouers te praat, selfs oor pynlike sake. Gee uiting aan jou vrese en terugslae sowel as jou vreugdes en welslae. Praat oor jou doelwitte in die lewe en jou gebede. Weerstaan die neiging om ‘jou af te skei’ (Spreuke 18:1). Probeer om gereeld private tyd met een van jou ouers deur te bring, sodat jy sulke intieme gevoelens kan uitdruk. Party jongmense het gevind dat hulle dit tussen besoeke deur kan doen terwyl hulle saam met een van hulle ouers aan die predikingswerk deelneem, terwyl hulle lang ente saam gaan stap of selfs wanneer hulle sekere vorme van gesinsvermaak geniet.
12. Watter werklikhede moet jongmense onder die oë sien?
12 Hoewel jou pogings om sinvolle kommunikasie te bevorder gewoonlik goeie vrugte sal afwerp, moet jy onthou dat nòg jy nòg jou ouers volmaak is. Ouers kan soms onbillik optree, ongevoelig wees vir die gevoelens van ander of ’n slegte voorbeeld stel. Hulle kan selfs ongelowig wees en jou nie altyd volgens Bybelbeginsels behandel nie. Sommige van julle woon miskien in ’n eenouerhuis of in ’n stiefgesin, wat altwee unieke probleme het. Hoe geheg jy ook al aan jou ouers is, daar sal tye kom wanneer jy emosioneel verlate voel. Hoe kan jy sulke moeilike omstandighede getrou verduur?
Leer om ‘die juk in jou jeug te dra’
13. Waarom klink Jeremia se woorde in Klaagliedere 3:27 vreemd?
13 Toe Jehovah Jeremia as profeet aangestel het, het hy uitgeroep: “Ek kan nie praat nie, want ek is jonk”! Maar Jehovah het hom gerusgestel en versterk. Weens sy lyding, vrese en terugslae wou hy soms tou opgooi, en hy het eenmaal gesê: “Vervloek is die dag waarop ek gebore is”! (Jeremia 1:6, 19; 20:7-9, 11, 14). Later het hy geskryf: “Dit is goed vir ’n man dat hy die juk in sy jeug dra” (Klaagliedere 3:27). Maar hoe kan dit dan voordelig wees om ’n juk van swaarkry te dra? Die voorbeeld van Josef lig dit goed toe.
14, 15. (a) Wat was Josef se ondervinding as jongman? (b) Hoe is hy ‘deur die woord van Jehovah gelouter’?
14 Op 17-jarige leeftyd het Josef in ’n droom ’n goddelike belofte ontvang dat hy ’n vername posisie sou beklee. Maar, helaas, sy jaloerse broers het hom as slaaf verkoop! Hy het in Egipte beland en is later met kettings in ’n kerker opgesluit op ’n valse aanklag van poging tot verkragting (Genesis 37:2, 4-11, 28; 39:20). Hierdie voorbeeldige jongman en erfgenaam van ’n wonderlike belofte was tussen grys tronkmure ingekluister. As vreemdeling in ’n vreemde land was hy sonder vriend wat met hom kon simpatiseer of vir hom ’n goeie woordjie kon doen.
15 “Hulle het [Josef se] voete in boeie geknel, hy self het in die ysters gekom, tot op die tyd dat sy woord uitgekom het, die woord van die HERE hom beproef verklaar [“gelouter”, NW] het” (Psalm 105:17-19). Josef het 13 jaar lank as slaaf en gevangene gely voordat Jehovah se belofte uitgekom het. Deur hierdie ondervinding is hy gelouter. Hoewel Jehovah nie sy moeilikhede veroorsaak het nie, het hy dit met ’n doel toegelaat. Sou Josef sy hoop in “die woord van die HERE” behou terwyl hy die vuurproef deurgemaak het? Sou hy sy goeie eienskappe tot volle ontwikkeling bring en die nodige geduld, nederigheid, geestelike krag en vasbeslotenheid aankweek om ’n moeilike taak te volbring? Wel, Josef het soos goud uit die smeltkroes gekom—suiwerder en selfs kosbaarder vir God, wat hom daarna op wonderlike maniere gebruik het.—Genesis 41:14, 38-41, 46; 42:6, 9.
16. Hoe moet ’n jong persoon moeilike omstandighede beskou?
16 Josef sowel as Jeremia het sonder eie toedoen gely. Hulle het reeds godvrugtige eienskappe aangekweek. Maar hulle is selfs verder gelouter namate hulle moeilike omstandighede verduur het. Hoeveel te meer het jongmense wat ’n fout begaan het sulke loutering nodig! Tugtiging, wat moeilik kan wees om te aanvaar, lewer geregtigheid as jy daardeur geoefen word (Hebreërs 12:5-7, 11). Hierdie oefening kan innerlike sterkte voortbring soos dié van getemperde staal. Soos Jehovah ‘met Josef was en goedertierenheid aan hom bewys het’, so sal hy jou krag bo die normale gee en jou volharding ryklik beloon.—Genesis 39:21; 2 Korinthiërs 4:7, NW.
17. Watter uitwerking het moeilike omstandighede op een jong meisie gehad? Wat leer jy hieruit?
17 Beskou die voorbeeld van ’n jong meisie wat gemeen het dat haar nuwe stiefvader onredelik streng is en hom nie steur aan haar gevoelens oor die dood van haar geliefde vader nie. Sy het dit oorweeg om weg te loop, maar omdat sy besef het dat dit net meer probleme sal veroorsaak, het sy gebly—en die situasie verduur. Nou, byna 13 jaar later, sê sy: “Die dissipline van my stiefvader het my ’n beter mens gemaak. Toe ek alleen saam met my moeder gewoon het, was ek bedorwe en opstandig. Ek wou altyd my sin hê. Ek het geleer om ander in ag te neem. Jehovah het ook my baie gebede verhoor vir krag om my vader se dood te verwerk en om nader aan my stiefvader te kom.” Ja, as jy leer om onder moeilike omstandighede te volhard, sal dit jou nader aan Jehovah bring. Dan kan hy jou Vriend word, ‘jou vertroue van jou jeug af’.—Psalm 71:5.
18. (a) Wat sal ’n jong persoon se lewensloop bepaal? (b) Waarom moet jongmense hulle ouers kosbaar ag?
18 Moet nooit vergeet dat jou huislike omstandighede alleen nie jou waarde as persoon of jou lewensloop bepaal nie. Die Bybel sê eerder: “Die seun [of, dogter] laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is” (Spreuke 20:11). Jou regte handelwyse sal jou gelief maak by God en sal betekenis en waarde aan jou lewe gee. Geen gesin is volmaak nie, maar soek na die positiewe eienskappe in jou gesin. Dink aan die opofferings wat jou ouers gemaak het om jou van kos, klere, onderdak, mediese sorg en so meer te voorsien. Moet hulle nie met ondankbaarheid vergeld nie, maar “eer jou vader en jou moeder”. Ag hulle kosbaar, van groot waarde.—Efesiërs 6:1-3; Spreuke 16:20, NW; 17:13.
19. Watter beloninge spruit uit hartgrondige gehoorsaamheid aan ouers?
19 Sinvolle kommunikasie met jou ouers sal jou liefde vir hulle versterk. Gehoorsaamheid sal dan uit die hart kom. “My seun [of, dogter], vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar”, vermaan die wyse vader, wat dan op die beloninge wys, “want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.”—Spreuke 3:1, 2.
[Voetnote]
a Kommentator A. Cohen sê oor hierdie vers: “In die hart van ons vriend sien ons ’n weerspieëling van ons eie karakter. . . . Dit is deur die openhartige en simpatieke verkeer tussen vriende dat ons onsself werklik leer ken en besef wat in ons is” (Proverbs, The Soncino Press). Die Bybelvertaling deur W. F. Beck sê ten dele: “Jy kan jouself dus weerspieël sien in die hart van ’n ander mens.”
Do You Remember?
◻ Hoe kan ’n kommunikasiegaping ontstaan?
◻ Hoe kan ’n jong persoon liefde betoon?
◻ In watter opsigte sal trou gesinskommunikasie verbeter?
◻ Watter voordele hou dit vir ’n jong persoon in om die juk van swaarkry te dra?
[Prent op bladsy 18]
Soos die juk van swaarkry Josef se persoonlikheid gelouter het, so sal jou persoonlikheid gelouter word indien jy as jong persoon moeilike omstandighede verduur