Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • ce hfst. 1 bl. 6-13
  • Lewe—Hoe het dit begin?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewe—Hoe het dit begin?
  • Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verskillende standpunte
  • Die wetenskap nie die geskilpunt nie
  • Enkele lewensbelangrike vrae
  • Waarom aanvaar baie evolusie?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Meningsverskille oor evolusie—Waarom?
    Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
  • Jongmense vra—Skepping of evolusie—Deel 2
    Jongmense vra
  • Evolusie staan tereg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?
ce hfst. 1 bl. 6-13

Hoofstuk 1

Lewe—Hoe het dit begin?

1. Hoe verbreid is lewe op die planeet Aarde?

ONS word omring deur lewe. Dit blyk uit die gezoem van insekte, die sang van voëls, die geritsel van diertjies in die ruigtes. Dit bestaan in die ysige poolgebiede en in dorre woestyne. Dit kom van die see se sonbestraalde oppervlak tot by sy donkerste dieptes voor. Hoog in die atmosfeer dryf klein organismes rond. Onder ons voete is ontelbare biljoene mikroörganismes in die grond aan die werk om dit vrugbaar te maak vir groen plante wat ander lewensvorme onderhou.

2. Met watter vrae worstel baie mense al lank?

2 Die aarde is met so ’n mag der menigte uiteenlopende lewensvorme gevul dat dit die verstand te bowe gaan. Hoe het dit alles begin? Hoe het hierdie planeet van ons en al sy bewoners in aansyn gekom? Meer bepaald, hoe het die mensdom tot stand gekom? Het ons uit aapagtige diere geëvolueer? Of is ons geskep? Hoe het ons nou eintlik hier gekom? En wat impliseer die antwoord vir die toekoms? Sulke vrae word al lank gestel, en vir baie is hulle nog steeds onbeantwoord.

3. Hoe voel sommige oor hierdie vrae, maar waarom is hulle vir almal belangrik?

3 Jy meen moontlik dat hierdie vrae jou nie werklik raak nie. Jy dink dalk: ‘Dit maak nie saak hoe ek hier gekom het nie—ek is hier. En ek sal waarskynlik 60, 70 of moontlik 80 jaar lewe—wie weet? Maar of ons geskep is of geëvolueer het, dit verander nou niks aan my situasie nie.’ Inteendeel, dit kan baie verander—hoe lank jy lewe, hoe jy lewe, die toestande waaronder jy lewe. Hoe so? Omdat ons hele gesindheid teenoor die lewe en die toekoms beïnvloed word deur ons beskouing van die oorsprong van lewe. En die wyse waarop lewe in aansyn gekom het, sal bepaald die toekomstige verloop van die geskiedenis en ons plek daarin raak.

Verskillende standpunte

4. Hoe voel baie oor die vooruitsigte vir lewe op aarde?

4 Talle wat die evolusieteorie aanneem, meen dat die lewe altyd uit felle mededinging sal bestaan en dat tweedrag, haat, oorloë en die dood daarmee gepaard sal gaan. Sommige meen selfs dat die mens homself in die nabye toekoms kan vernietig. ’n Vooraanstaande wetenskaplike het gesê: “Ons het moontlik nog net ’n paar dekades oor voor die Oordeelsdag. . . . die ontwikkeling van kernwapens en hulle lewerstelsels sal vroeër of later tot ’n wêreldramp lei.”⁠1 Selfs al sou dit nie gou gebeur nie, glo talle dat wanneer ’n persoon sterf hy vir ewig nie meer bestaan nie. Ander meen dat alle lewe op aarde eendag gaan eindig. Hulle bespiegel dat die son ’n rooi reusester sal word, en dat wanneer dit gebeur, “die oseane sal kook, die atmosfeer in die ruimte in sal verdamp en ’n ramp van die grootste denkbare omvang ons planeet sal tref”.⁠2

5. (a) Hoe beskou die voorstanders van die “skeppingsleer” die aarde? (b) Tot watter vrae gee hierdie standpunt aanleiding?

5 Hierdie gevolgtrekkings word verwerp deur die voorstanders van die “skeppingsleer”. Maar hulle vertolking van die skeppingsverhaal in Genesis het hulle laat beweer dat die aarde slegs 6 000 jaar oud is en dat die ses “dae” waarin die skepping volgens Genesis plaasgevind het elk slegs 24 uur lank was. Maar is so ’n gedagte ’n juiste voorstelling van wat die Bybel sê? Is die aarde, en al die lewensvorme daarop, in slegs ses letterlike dae geskep? Of is daar ’n redelike alternatief?

6. Waarop moet ons ons gevolgtrekkings oor die oorsprong van lewe op aarde baseer, en hoe het Darwin die onderwerp oopgelaat?

6 Wanneer vrae oor die oorsprong van lewe op aarde bespreek word, laat talle hulle deur die heersende mening of deur emosie lei. Om dit te voorkom en akkurate gevolgtrekkings te maak, moet ons die getuienis onbevooroordeeld beskou. Dit is interessant om ook daarop te let dat selfs evolusie se bekendste voorstander, Charles Darwin, te kenne gegee het dat hy bewus is van die beperkings van sy teorie. In die slot van The Origin of Species het hy geskryf oor die grootsheid van die “beskouing van lewe, met sy verskillende vermoëns, wat oorspronklik deur die Skepper in ’n paar vorme of in een geblaas is”,⁠3 en aldus laat blyk dat die saak van oorsprong nog nie uitgemaak was nie.

Die wetenskap nie die geskilpunt nie

7. Watter verduideliking word oor die wetenskap en ons respek daarvoor verstrek?

7 Voordat ons verder gaan, sal ’n verduideliking nuttig wees: Wetenskaplike prestasies is nie hier die punt waarom dit gaan nie. Elke goed ingeligte persoon is bewus van die verbasende prestasies van wetenskaplikes op talle terreine. Wetenskaplike studie het ons kennis van die heelal en van die aarde en van lewende dinge dramaties verbreed. Studies van die menseliggaam het gelei tot beter maniere om kwale en beserings te behandel. Vinnige vooruitgang in die elektronika het die rekenaareeu ingelui, en dit verander ons lewens. Wetenskaplikes het verstommende prestasies behaal, selfs mense na die maan gestuur en teruggebring. Dit is niks minder as reg dat ons die vaardighede respekteer wat soveel bygedra het tot ons kennis van die wêreld om ons, van die infinitesimale tot die astronomiese nie.

8. Hoe word die term evolusie in hierdie boek gebruik, en wat word met skepping bedoel?

8 Dit sal ook nuttig wees om hier enkele definisies op te helder: Evolusie, soos dit in hierdie boek gebruik word, slaan op organiese evolusie—die teorie dat die eerste lewende organisme uit lewelose materie ontwikkel het. Namate dit voortgeplant het, het dit na bewering in verskillende soorte lewende dinge verander en uiteindelik alle lewensvorme wat ooit op die aarde bestaan het, mense inkluis, voortgebring. En daar word geglo dat dit sonder intelligente leiding of bonatuurlike inmenging geskied het. Skepping is andersyds die gevolgtrekking dat die verskyning van lewende dinge slegs verklaar kan word deur die bestaan van ’n almagtige God wat die heelal en al die basiese lewensvorme op die aarde ontwerp en gemaak het.

Enkele lewensbelangrike vrae

9. Wat voer diegene wat evolusie aanneem oor die skepping aan, maar watter vrae kan oor evolusie sowel as die skepping ontstaan?

9 Dit spreek vanself dat daar diepgaande verskille tussen die evolusieteorie en die skeppingsverhaal in Genesis is. Diegene wat evolusie aanneem, voer aan dat die skepping onwetenskaplik is. Daar kan egter in alle billikheid gevra word: Is evolusie self waarlik wetenskaplik? Is Genesis andersyds net nog ’n antieke skeppingsmite, soos baie beweer? Of strook dit met die ontdekkings van die hedendaagse wetenskap? En wat van ander vrae wat so baie kwel: As daar ’n almagtige Skepper is, waarom is daar dan soveel oorlog, hongersnood en siekte wat miljoene ontydig laat sterf? Waarom sou hy soveel lyding toelaat? En as daar ’n Skepper is, openbaar hy wat die toekoms inhou?

10. (a) Wat is die doel van hierdie boek, en wat is die uitgewers se hoop? (b) Waarom is dit so belangrik om hierdie sake te oorweeg?

10 Dit is die doel van hierdie boek om sulke vrae en verwante kwessies te ondersoek. Die uitgewers hoop dat jy die inhoud daarvan onbevooroordeeld sal beskou. Waarom is dit so belangrik? Omdat hierdie informasie vir jou waardevoller kan wees as wat jy dalk op die oomblik besef.

[Lokteks op bladsy 7]

Het lewe geëvolueer of is dit geskep?

[Lokteks op bladsy 8]

Ons hele gesindheid teenoor die lewe en die toekoms word beïnvloed deur ons beskouing van die oorsprong van lewe

[Lokteks op bladsy 10]

Diegene wat aan evolusie glo, voer aan dat die skepping onwetenskaplik is; maar is dit billik om te sê dat die evolusieteorie self waarlik wetenskaplik is?

[Venster/Prent op bladsy 12, 13]

Dinge om oor na te dink

Ons wêreld is vol wonderlike dinge:

Groot dinge: ’n Ondergaande son wat die westelike hemel met ’n kleuregloed vul. ’n Nagtelike hemelruim, besaai met sterre. ’n Woud vol toringhoë bome, met ligstrale wat plek-plek deurbreek. Ruwe bergreekse met sneeubedekte pieke wat in die son glinster. Onstuimige oseane met golwe wat deur die wind voortgedryf word. Hierdie dinge vervul ons met vreugde en ontsag.

Klein dingetjies: ’n Sangvoëltjie wat hoog bokant die Atlantiese Oseaan in die rigting van Afrika vlieg op pad na Suid-Amerika. Op ’n hoogte van meer as 6 000 meter vind hy ’n heersende wind wat hom na Suid-Amerika sal waai. Gelei deur sy trekinstink volg hy sy koers etlike dae lank oor ’n afstand van 3 800 kilometer—20 gram moed in vere gehul. Ons word met bewondering vervul.

Vindingryke dinge: Vlermuise wat sonar gebruik. Palings wat elektrisiteit opwek. Meeue wat seewater ontsout. Wespe wat papier maak. Termiete wat lugversorgers installeer. Seekatte wat met straalaandrywing beweeg. Voëls wat weef of woonstelle bou. Miere wat tuinwerk of naaldwerk doen, of lewende hawe aanhou. Vuurvliegies met ingeboude flikkerligte. Ons verwonder ons aan sulke vindingrykheid.

Eenvoudige dinge: Wanneer die dood nader kom, is dit die klein dingetjies wat ons dikwels raaksien, dinge wat ons so dikwels as vanselfsprekend aangeneem het: ’n Glimlag. Die aanraking van ’n hand. ’n Vriendelike woord. ’n Blommetjie. Die sang van ’n voël. Die warmte van die son.

Wanneer ons nadink oor sulke groot dinge wat asemrowend is, klein dingetjies wat ons bewondering afdwing, vindingryke dinge wat ons bekoor, eenvoudige dinge wat ons te laat waardeer—waaraan skryf ons dit toe? Hoe kan sulke dinge verklaar word? Waar kom hulle vandaan?

[Volbladillustrasie op bladsy 6]

[Prent op bladsy 9]

Net 6 000 jaar oud?

[Prent op bladsy 11]

Dit is reg om die wetenskaplike vaardighede wat in so ’n groot mate tot ons kennis bygedra het, te respekteer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel