Die waarde van sang in ware aanbidding
KAN jy jou ’n wêreld sonder sang voorstel? Om nooit weer die gelukkige sang van kinders of die soet stem van die nagtegaal of die klokvoël te hoor nie? Om nie meer die aansteeklike laggie van die ekster of die hees gelag van ’n kookaburra te hoor nie? Gelukkig sal dit nooit gebeur nie. Maar so ’n gedagte vestig die aandag op een van God se talle gawes aan die mens: die gawe van sang.
Jehovah ’n God van sang
Waarom verskaf sang ons vreugde en genot? Eerstens, Jehovah self geniet en skep behae in sy skepsele se lofliedere. Kan jy jou die geleentheid voorstel toe al die engele gejuig het van blydskap oor die heerlikheid van Jehovah se aardse skepping? Of stel jou voor dat jy op die noordelike herfsaand van Jesus se mensegeboorte in verrukking tussen die herders staan en jou verheug oor die klank van ’n groot leërskare engele wat sing: “Eer aan God in die hoogste hemele.”—Lukas 2:13, 14; Job 38:7.
Een manier waarop Jehovah getoon het dat hy ’n God van sang is, was deur sang ’n deel van ware aanbidding in Israel te maak. Later het God weer eens die noue verband tussen sang en ware aanbidding geopenbaar in die Openbaringgesig wat aan die apostel Johannes gegee is. In een profetiese gesig sing ’n ontsaglike koor—altesaam 144 000—’n pragtige nuwe lied voor die troon van God.—Openbaring 14:3.
Sang in voorchristelike tye
God se majesteit en ontsagwekkende dade het ook sy aardse knegte beweeg om ’n lied aan te hef. Dink hoe moes sang die Israeliete kort na hulle wonderdadige bevryding uit Egiptiese slawerny geroer het. Moses en sy mede-Israeliete is in hulle harte ontroer toe hulle die oorwinningslied gesing het oor wat Jehovah aan Farao en sy leër gedoen het.—Exodus 15:1-21.
Later in Israel se geskiedenis het die belangrike dag aangebreek toe die verbondsark, onder koning Dawid se leiding, in die tent geplaas moes word wat spesiaal daarvoor opgerig is. Wat ’n geskiedkundige gebeurtenis! Nie net uitsonderlike sang nie, maar ook aangrypende orkesbegeleiding het die luisterrykheid van die dag vergroot.—1 Kronieke 16:4-36.
Dawid se liefde vir musiek en sy vaardigheid met die harp het sy gretigheid om musiek en sang in ware aanbidding te bevorder, laat toeneem. In Psalm 33:1, 3 (NW) hoor ons sy vurige pleidooi dat aanbidders van Jehovah met hulle hele hart hardop voor God moet sing: “Hef ’n vreugdegeroep aan, o julle regverdiges, vanweë Jehovah . . . Doen julle bes met snarespel onder gejuig.”
Sang in Christelike tye
In die tyd van die vroeë Christene het sang ook ’n vername rol in ware aanbidding gespeel. Jesus en sy apostels het na die aandmaal net voor Jesus se dood saam gesing (Markus 14:26). In die tronk het Paulus en Silas hardop gesing sodat almal kon hoor (Handelinge 16:25). Soos Dawid, was die apostel Paulus geesdriftig oor die gebruik van sang. Hy het medegelowiges herhaaldelik aangespoor om lofliedere voor Jehovah te sing.—Efesiërs 5:18, 19; Kolossense 3:16.
Sang speel ook vandag ’n belangrike rol in Christelike aanbidding. In 1905 is die boek Hymns of the Millennial Dawn gepubliseer. Die titelblad beskryf die 333 liedere daarin as “’n Puik versameling psalms en gesange en geestelike liedere om God se volk te help om met melodieë in hulle hart voor die Here te sing.”
Toe, in 1928, is ’n hersiene liedereboek met 337 liedere voorsien. Die titel daarvan was Songs of Praise te Jehovah, en die voorwoord het gesê: “Hierdie liedere strook met die goddelike waarhede wat nou verstaan word.” Maar namate die jare verstryk en die lig van die waarheid toegeneem het, het dit duidelik geword dat party van hierdie liedere beïnvloed is deur denke wat van valse godsdiens oorgehou is. En namate die openbare predikingswerk meer na vore gekom het, was Koninkryksliedere wat die verkondiging van die goeie nuus aanmoedig, nodig.—Mattheüs 24:14; Hebreërs 13:15.
In 1944 is Koninkryksdiens-liedereboek met 62 Koninkryksliedere voorsien. Twee dekades later, in 1966, is die boek “Sing en begelei julself met musiek in julle hart” bekend gestel. Dit het 119 Koninkryksliedere bevat wat elke aspek van Christelike lewe en aanbidding gedek het, waaronder getuienis aan ander en lof aan Jehovah God en Christus Jesus.
Byna twee dekades het verstryk, waartydens die lig van die waarheid steeds toegeneem het (Spreuke 4:18). Die behoefte aan ’n ander liedereboek het weer eens ontstaan. Daarom is die liedereboek met die titel Sing lofliedere voor Jehovah in 1984 uitgereik. Dit bevat 225 Koninkryksliedere, met woorde en melodieë wat almal deur toegewyde knegte van Jehovah in alle dele van die aarde gekomponeer is.
Benut teokratiese sang ten volle
Die illustrasie op die dubbelspreidingskutblad agter in hierdie jongste liedereboek spoor ons aan om teokratiese sang ten volle by Christenvergaderinge te benut. Opgeleide tempelsangers wat daar uitgebeeld word, sing duidelik hartlik en uit volle bors voor God.—1 Kronieke 25:7.
Ons kan net so by ons Christenvergaderinge sing deur ons mond oop te maak en hartlik voor Jehovah te sing. Maar ons doen dit nie almal nie. Miskien veroorsaak trots dat ons nie die vreugde smaak om sonder verleentheid voor Jehovah te sing nie, ongeag watter soort stem ons het. Ons is miskien te besorg oor die indruk wat ons wek by diegene wat naby ons staan. Moses het ’n soortgelyke probleem gehad—nie met sang nie, maar met spraak. Die antwoord wat Jehovah hom gegee het, kan ons help as ons geneig is om halfhartig te sing weens ’n gebrek aan sangvermoë. Jehovah het vir Moses gevra: “Wie het vir die mens die mond gemaak? . . . Is dit nie Ek, [Jehovah], nie?” (Exodus 4:11). Jehovah sal beslis graag luister wanneer ons die vermoë wat hy, in watter mate ook al, aan ons gegee het, gebruik om hardop tot sy eer te sing!
Dink ook hoe Paulus en Silas hardop gesing het terwyl hulle in die tronk was. Hulle het nie verleë gevoel nie, en hulle het geen musiekbegeleiding gehad, nie eens ’n liedereboek waaruit hulle kon sing nie. Stel jou die geleentheid voor: “En omtrent middernag het Paulus en Silas gebid en lofliedere tot eer van God gesing; en die gevangenes het na hulle geluister” (Handelinge 16:25). Was dit omdat Paulus of Silas geoefende sangstemme gehad het? Nie noodwendig nie. Vir hulle was dit hoofsaak om hardop en hartlik te sing! Wat is vir ons die belangrikste wanneer ons lofliedere sing?
Ons kan almal verbeter
Die musikus Dawid se raad is hier gepas: “Doen julle bes met snarespel onder gejuig” (Psalm 33:3, NW). Dit is wat Jehovah van al sy knegte verwag—niks meer, niks minder as dat ons ‘ons bes doen’ nie. As ons dit doen, kan ons verwag dat Jehovah ons pogings sal seën, en tot ons vreugde—en soms tot ons verbasing—sal ons waarskynlik verbeter.a
Hier is ’n paar praktiese wenke wat jou kan help om jou sangvermoë te verbeter: Probeer om dikwels na die nuwer Koninkryksmelodieë te luister deur, waar moontlik, die musiekkassette of -plate te gebruik. Party het dit nuttig sowel as aangenaam gevind om die liedere tuis of by klein gesellighede saam met medegelowiges te sing. By gemeentevergaderinge is dit belangrik dat musiekbegeleiding hard genoeg gespeel word sodat almal wat sing dit kan hoor. Dit maak dit makliker om die wysie te volg en gee dié wat sing meer vertroue. Die persoon wat ’n lied aankondig, moet die tema daarvan, en miskien selfs die gepastheid daarvan, meld en nie net die nommer nie.
Ouers, spoor julle julle kinders aan om Koninkryksliedere geesdriftig en hartlik te sing? Gesinne wat hulle kinders aangespoor het om hartlik en met begrip te sing, het dikwels gevind dat dit ’n goeie hulpmiddel is om geestelike groei te bevorder.
Talle voordele
Ons kan talle voordele geniet as ons hardop en hartlik sing. Ons persoonlike betrokkenheid by openbare aanbidding word sterker. Diegene wat naby ons staan, word aangespoor om harder te sing wanneer hulle hoor dat ons onbeskroomd sing. Die hele gemeente vind ook daarby baat, want luider sang is aansteeklik!
Sterk sang lewer ook ’n goeie getuienis vir diegene wat vergaderinge die eerste keer bywoon. Net soos Paulus en Silas se sang daardie ander gevangenes ongetwyfeld beïndruk het, beïndruk ons goeie sang verbygangers by ons Koninkryksaal, sowel as bure. Dit het selfs daartoe gelei dat party hoorders die waarheid verder wou ondersoek.
Ons beter sang sal bowenal groter lof bring aan Jehovah, die Bron van musiek en sang, die een wat meer as alle ander verdien om met sang geloof te word.
[Voetnoot]
a Party van die nuwe liedere is miskien aanvanklik vir ons ’n bietjie moeilik om te sing, maar wanneer ons hulle leer ken, sal hulle dalk ons gunstelingliedere word. Toe die vorige liedereboek uitgekom het, was lied 88, “Wandel in onkreukbaarheid”, byvoorbeeld in een land nie gewild nie, maar later het dit die gunstelinglied geword.