Doen die noodsaaklike dinge om God te behaag
1 Dit is vir ons van die allergrootste belang om ons Skepper te behaag, want “[Jehovah] het ’n welgevalle in die wat Hom vrees” (Ps. 147: 11, vgl. NW). Ons begeerte is om, soos Henog, die ware God te behaag (Hebr. 11:5). Daar is sommige noodsaaklike dinge wat ons moet doen. Dit sluit in dat ons ons ‘onthou van bloed’, ooreenkomstig die goddelike bevel wat in Handelinge 15:28, 29 opgeteken is. Soos julle sal onthou, is hierdie saak onlangs by ons “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkomste bespreek.
2 As ons, veral in ’n noodgeval, in ’n hospitaal opgeneem word, kan dit ’n situasie skep wat ons geloof en onkreukbaarheid swaar kan beproef. Ons moet daarop voorberei wees sodat moontlike probleme tot ’n minimum beperk kan word. Dit is byvoorbeeld lewensbelangrik dat jy altyd ’n nuwe “Medical Document” wat behoorlik ingevul en geteken is by jou dra. Nog ’n baie belangrike voorsorgmaatreël is om seker te wees dat jou dokter, indien moontlik, vooraf ingelig is omtrent jou standpunt ten opsigte van die bloedkwessie, ’n standpunt wat nie onderhandelbaar is nie.
PRAAT MET JOU DOKTER
3 Berigte toon dat sommige versuim het om met hulle dokter te praat voor ’n noodtoestand opgeduik het. Hoewel hulle hul dokter moontlik in kennis gestel het dat hulle van Jehovah se Getuies is, het hulle hul posisie ten opsigte van die gebruik van bloed nie duidelik uiteengesit nie, en hulle het nie vasgestel of hy hulle wense sal eerbiedig nie. As jy nie persoonlik met jou dokter oor sulke sake gepraat het nie, moet jy dit doen wanneer jy hom volgende keer besoek. As dit lyk asof jy jou dokter nie binne afsienbare tyd sal besoek nie, beveel ons aan dat jy ’n poging aanwend om so gou moontlik ’n afspraak met hom te maak.
4 By die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms is praktiese wenke gegee oor dinge wat met jou dokter bespreek moet word, asook die wyse waarop dit gedoen moet word. Daar is beklemtoon hoe belangrik dit is om eerbied vir dokters se posisie te toon en nie vyandig te wees of ’n meerderwaardige gesindheid te openbaar nie. So ’n negatiewe benadering sal onverstandig en selfverydelend wees. Ons is dalk, in vergelyking met ons dokter, kenners van God se Woord, maar ons moet hom die nodige eer gee as ’n deskundige ten opsigte van mediese sake ( 1 Pet. 2:17). Moet asseblief nie dieëtkundige en ander nie-mediese behandelings met dokters teen die agtergrond van ons standpunt ten opsigte van bloed bespreek nie. Jou persoonlike beskouings oor sulke sake kan dalk veroorsaak dat hulle die feit uit die oog verloor dat jou posisie ten opsigte van die gebruik van bloed hoofsaaklik ’n Skriftuurlike standpunt is.
WAT OM TE SÊ
5 As jy nog nie met jou dokter gepraat het nie, kan jy hom met jou volgende besoek vertel dat jy kortliks ’n baie belangrike saak met hom wil bespreek voordat jy enige mediese rede vir jou besoek meld. Dek dan die volgende agt punte wat by die “Vertrou op Jehovah”-Streekbyeenkoms uiteengesit is: (1) Jy waardeer sy vaardigheid en jou goeie verhouding met hom as jou dokter. (2) Hy moet kennis dra van jou fundamentele oortuiging. (3) Om godsdiensredes kan jy glad nie ’n bloedoortapping aanvaar nie, selfs nie in ’n noodtoestand nie. (4) Jy besef dat dit sake kan bemoeilik, maar jy kan hierdie etiese standpunt nie wysig nie. Jy hoop dat hy jou die beste behandeling binne hierdie beperking sal gee, soos talle ander geneeshere doen. (5) Dit is ook van toepassing op enige ander dokter wat hy dalk inroep om jou te behandel. (6) Jy sal enige bykomende risiko aanvaar en vrywaringsvorms onderteken, en jy versoek dat jou standpunt in kantoor- en hospitaalverslae aangeteken word. (7) Gee hom ’n eksemplaar van die artikel wat in Ontwaak! van 22 Oktober 1982, bladsye 14-16, uit ’n mediese tydskrif oorgedruk is. (8) Jy waardeer die geleentheid om hierdie saak te verduidelik, wat nou en in die toekoms vir jou so belangrik is. Hierdie agt punte moet kortliks, op ’n nie-stryerige, ernstige en waarderende manier gestel word. Julle gemeente sal reeds eksemplare van die herdruk van die mediese artikel ontvang het.
6 Die ondervinding het getoon dat sulke pogings om vooraf ’n goeie verhouding met dokters op te bou en hulle duidelik van jou standpunt in kennis te stel baie nuttig is wanneer ’n noodtoestand opduik. As jou vasbeslote standpunt op ’n redelike en eerbiedige manier gestel word, is die kanse groter dat jou dokter begrip sal toon en sy samewerking sal gee. Dit sal Jehovah behaag en Sy voortdurende seën tot gevolg hê as ons Sy bevele nakom.