Vervul jou bediening ten volle
1 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels . . . , en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt. 28: 19). Ware dissipels van Jesus neem vandag geesdriftig deel aan hierdie lewensreddende werk. Soos in die geval van die apostel Paulus kan daar van talle gesê word dat hulle “as ’n drankoffer uitgegiet” word (Filip. 2: 17). Hulle geloofversterkende voorbeeld spoor ons almal aan om ons bediening ten volle te vervul.—2 Tim. 4:5, vgl. NW; Hebr. 13:7.
2 Maar ywerige pogings om vir elkeen in die gebied te getuig, word soms belemmer omdat soveel nie tuis is wanneer ons hulle besoek nie. Party gemeentes het ook gebiedstoewysings wat nogal groot is. Dit maak dit vir hulle moeilik om die gebied dikwels te dek, na al die belangstellendes terug te gaan of terug te keer om diegene te vind wat nie tuis was nie. Wat kan jy doen om jou bediening in groter mate te vervul? Het jy jou pogings probeer toespits op daardie gedeeltes van julle gebied wat meer produktief is? Probeer om dit ’n paar keer in die jaar deeglik deur te werk, terwyl julle seker maak dat al die toegewese gebied ten minste een keer per jaar gedek word.
BEHOORLIKE GEBRUIK VAN HUIS-TOT-HUISVERSLAE
3 Dit is noodsaaklik dat ons ’n goeie huis-tot-huisverslag hou en dit agterna gebruik. Hoe kan ons ons bediening ten volle vervul as ons nie teruggaan na waar niemand tuis was nie? Kan ons regtig se dat ons ons gebied deeglik dek as ons nie teruggaan na belangstellendes wat ons reeds gevind het en probeer om Bybelstudies met hulle te begin nie? Die antwoorde op hierdie vrae benadruk dat dit nodig is om die huis-tot-huisverslag behoorlik te gebruik. Dit is die beste om twee verslae te hou, een vir belangstellendes wat gevind is en die ander vir adresse waar niemand tuis was nie.
4 Sommige verkondigers het dit prakties gevind om weer terug te gaan na waar mense nie tuis was nie voordat hulle die gebied verlaat. As ’n mens ’n uur of twee na die aanvanklike besoek teruggaan, kan dit moontlik daartoe lei dat iemand tuis gevind word en dat ons lektuur by hulle laat of selfs ’n Bybelstudie begin. In die geval van gemeentes met min gebied word die hoeveelheid beskikbare gebied uitgebrei en verseker dit beter dekking daarvan as ons na die eerste uur of twee teruggaan om hierdie mense te vind.
5 Verkondigers wat nie gou kan teruggaan nie, kan die lys adresse waar mense nie tuis was nie aan hulle studiehouer gee om aan ander verkondigers uit te deel. Dit kan gerieflik gereël word waar gemeentes middeweekse, naweek- en aandgetuienisgroepe het. Party verkondigers sal natuurlik hulle huis-tot-huisverslae wil hou en ’n paar besoeke doen wanneer hulle heen en weer gaan van die skool, werk of wanneer hulle inkopies doen of terwyl hulle besig is om na ander noodsaaklike dinge om te sien. Een gemeente wat die broers aangemoedig het om dit te doen, het goeie resultate gehad en baie belangstelling gevind in ’n gedeelte van hulle gebied wat voorheen onproduktief was.
6 Ons bediening het talle fasette. Daar is heelwat dinge wat ons moet doen. Maar ’n belangrike doelwit van ons werk is om ‘die woord te verkondig’ (2 Tim. 4:2). Daardie “woord” sal diegene wat daarna luister tot voordeel strek (Sef. 2:2, 3). Mense in ons toegewese gebied moet steeds die geleentheid gebied word om ‘die Naam van Jehovah aan te roep’ (Rom. 10: 11-13). Laat ons ons kragtig inspan en elke geleentheid aangryp om ons bediening ten volle te vervul.