Evolusie
Definisie: Organiese evolusie is die teorie dat die eerste lewende organisme uit lewelose materie ontwikkel het. Toe, namate dit voortgeplant het, het dit glo in verskillende soorte lewende dinge verander totdat dit eindelik alle vorme van plante- en dierelewe wat al ooit op hierdie aarde bestaan het, voortgebring het. Daar word gesê dat dit alles plaasgevind het sonder die bonatuurlike tussenkoms van ’n Skepper. Sommige mense probeer om geloof in God met evolusie te versoen deur te sê dat God deur middel van evolusie geskep het, dat hy die eerste primitiewe lewensvorme gemaak het en dat hoër lewensvorme, die mens inkluis, deur middel van evolusie voortgebring is. Nie ’n Bybelleerstelling nie.
Is evolusie werklik wetenskaplik?
Die “wetenskaplike metode” is soos volg: Neem waar wat gebeur; vorm op grond van hierdie waarnemings ’n teorie oor wat moontlik waar is; beproef die teorie deur verdere waarnemings en deur eksperimente; en kyk of die voorspellings wat op die teorie gebaseer is, bewaarheid word. Is dit die metode wat gevolg word deur diegene wat aan evolusie glo en dit verkondig?
Sterrekundige Robert Jastrow sê: “Tot hulle ergernis het [wetenskaplikes] geen duidelike antwoord nie, want chemici het nog nooit daarin geslaag om die natuur se eksperimente oor die skepping van lewe uit lewelose materie na te doen nie. Wetenskaplikes weet nie hoe dit gebeur het nie.”—The Enchanted Loom: Mind in the Universe (New York, 1981), bl. 19.
Evolusionis Loren Eiseley het erken: “Nadat hy die teoloog berispe het omdat hy op mite en wonderwerk vertrou, bevind die wetenskap hom in die onbenydenswaardige posisie waar hy sy eie mitologie moet skep: naamlik, die aanname dat dit wat niemand, na veel inspanning, kon bewys vandag plaasvind nie in der waarheid in die oertyd plaasgevind het.”—The Immense Journey (New York, 1957), bl. 199.
New Scientist berig: “Al hoe meer wetenskaplikes, in die besonder ’n toenemende getal evolusioniste . . . voer aan dat die Darwinistiese evolusieteorie glad geen eg wetenskaplike teorie is nie. . . . Baie van die kritici het die hoogste intellektuele getuigskrifte.”—25 Junie 1981, bl. 828.
Fisikus H. S. Lipson het gesê: “Die enigste aanneemlike verklaring is die skepping. Ek weet dat dit vir fisici, net soos ook vir my, ’n vervloeking is, maar ons moet nie ’n teorie waarvan ons nie hou nie verwerp as die eksperimentele getuienis dit staaf nie.” (Ons kursiveer.)—Physics Bulletin, 1980, Dl. 31, bl. 138.
Is die voorstanders van evolusie dit met mekaar eens? Hoe laat die volgende feite jou voel oor wat hulle leer?
Die inleiding tot die honderdjarige uitgawe van Darwin se Origin of Species (Londen, 1956) sê: “Soos ons weet, bestaan daar groot meningsverskil onder bioloë, nie alleen oor die oorsake van evolusie nie, maar selfs oor die proses self. Hierdie meningsverskil bestaan omdat die getuienis onbevredigend is en geen definitiewe gevolgtrekking toelaat nie. Dit is gevolglik net reg om die aandag van die nie-wetenskaplike publiek op die meningsverskille oor evolusie te vestig.”—Deur W. R. Thompson, destydse hoof van die Statebond-Instituut vir Biologiese Beheer, Ottawa, Kanada.
“’n Eeu na Darwin se dood het ons nog steeds nie die vaagste, bewysbare of selfs aanneemlike idee van hoe evolusie werklik plaasgevind het nie—en in die laaste jare het dit tot ’n buitengewone reeks botsings oor die hele kwessie aanleiding gegee. . . . ’n Toestand van feitlik openlike oorlog bestaan onder die evolusioniste self, terwyl elke soort [evolusionistiese] sekte op die een of ander nuwe modifikasie aandring.”—C. Booker (’n skrywer vir Londen se Times), The Star, (Johannesburg), 20 April 1982, bl. 19.
Die wetenskaptydskrif Discover het gesê: “Evolusie . . . word nie slegs deur fundamentalistiese Christene aangeval nie, maar word ook deur agtenswaardige wetenskaplikes bevraagteken. Onder paleontoloë, wetenskaplikes wat die fossielverslag bestudeer, bestaan daar al hoe meer meningsverskil.”—Oktober 1980, bl. 88.
Watter beskouing word deur die fossielverslag gesteun?
Darwin het erken: “Indien talle spesies . . . skielik in aansyn gekom het, sou die feit dodelik wees vir die evolusieteorie” (The Origin of Species, New York, 1902, Deel Twee, bl. 83). Toon die getuienis dat “talle spesies” tegelyk in aansyn gekom het, of dui dit op geleidelike ontwikkeling, soos evolusie beweer?
Is genoeg fossiele gevind om ’n betroubare gevolgtrekking te maak?
Wetenskaplike Porter Kier van die Smithsonian-instituut sê: “Daar is honderdmiljoen fossiele, almal gekatalogiseer en geïdentifiseer, in museums rondom die wêreld” (New Scientist, 15 Januarie 1981, bl. 129). A Guide to Earth History voeg by: “Met behulp van fossiele kan paleontoloë ons nou ’n uitstekende beeld van die lewe in vergange eeue gee.”—(New York, 1956), Richard Carrington, Mentor-uitgawe, bl. 48.
Wat toon die fossielverslag in werklikheid?
Die Bulletin van Chicago se Veldmuseum van Natuurhistorie het op die volgende gewys: “Darwin se [evolusie]teorie is nog altyd ten nouste gekoppel aan fossielgetuienis, en die meeste mense neem waarskynlik aan dat fossiele ’n baie belangrike deel uitmaak van die algemene argument ten gunste van darwinistiese vertolkings van die geskiedenis van lewe. Ongelukkig is dit nie heeltemal waar nie. . . . Die geologiese verslag het nie destyds ’n fyn gegradeerde ketting van stadige en progressiewe evolusie opgelewer nie, en het dit nog steeds nie opgelewer nie.”—Januarie 1979, Dl. 50, nr. 1, bl. 22, 23.
A view of life sê: “Vanaf die bodem van die Kambriese tydperk en gedurende ongeveer 10 miljoen jaar het al die hoofgroepe ongewerweldes wat skelette nagelaat het hulle verskyning gemaak in die skouspelagtigste vermeerdering van verskeidenheid wat ooit op ons planeet aangeteken is.”—(Kalifornië, 1981), Salvador E. Luria, Stephen Jay Gould, Sam Singer, bl. 649.
Paleontoloog Alfred Romer het geskryf: “Hieronder [Kambriese tydperk] is daar dik sedimentlae waarin ’n mens kon verwag om die voorsate van die Kambriese vorme te vind. Maar ons vind hulle nie daar nie; hierdie ouer lae bevat feitlik geen teken van lewe nie, en daar kan redelikerwys gesê word dat die algemene beeld strook met die gedagte van ’n direkte skepping aan die begin van Kambriese tye.”—Natural History, Oktober 1959, bl. 467.
Dierkundige Harold Coffin sê: “Indien progressiewe evolusie van eenvoudige tot ingewikkelde lewensvorme korrek is, moet die voorouers van hierdie ten volle ontwikkelde lewende skepsele in die Kambriese laag aangetref word; maar hulle is nie gevind nie, en wetenskaplikes erken dat die kans gering is dat hulle ooit gevind sal word. Op grond van hierdie feite alleen, op grond van wat inderdaad in die aarde gevind is, pas die teorie van ’n skielike skeppingsdaad waarin die vernaamste lewensvorme tot stand gekom het, die beste.”—Liberty, September/Oktober 1975, bl. 12.
Carl Sagan het openlik in sy boek Cosmos erken: “Die fossielgetuienis kan strook met die gedagte van ’n Groot Ontwerper.”—(New York, 1980), bl. 29.
Het die evolusieproses moontlik plaasgevind as gevolg van mutasies, dit wil sê, skielike, drastiese veranderinge in gene?
Science Digest sê: “Evolusionistiese revisioniste meen dat mutasies in belangrike, regulerende gene dalk net die genetiese hamerbore kan wees wat hulle kwantumsprongteorie vereis.” Maar die tydskrif haal ook Britse dierkundige Colin Patterson soos volg aan: “Bespiegeling is vry. Ons weet niks van hierdie regulerende hoofgene af nie” (Februarie 1982, bl. 92). Met ander woorde, daar is geen getuienis om die teorie te staaf nie.
The Encyclopedia Americana erken: “Dit is moeilik om die feit dat die meeste mutasies vir die organisme skadelik is te versoen met die beskouing dat mutasie die bron van grondstowwe vir evolusie is. Die mutante wat in biologie-leerboeke geïllustreer word, is inderdaad ’n versameling fratse en wangedrogte, en mutasie is skynbaar ’n destruktiewe eerder as ’n konstruktiewe proses.”—(1977), Dl. 10, bl. 742.
Wat van daardie “aapmense” wat in skoolboeke, ensiklopedieë en museums uitgebeeld word?
“Die vlees en hare van sulke rekonstruksies moet voorsien word deur van die verbeelding gebruik te maak. . . . Velkleur; die kleur, vorm en verspreiding van die hare; die gestalte; en die gelaatstrekke—van hierdie eienskappe van enige prehistoriese mens weet ons hoegenaamd niks.”—The Biology of Race (New York, 1971), James C. King, bl. 135, 151.
“Die oorgrote meerderheid kunstenaarsvoorstellings is meer op verbeelding as op getuienis gebaseer. . . . Kunstenaars moet iets tussen ’n aap en ’n mens skep; hoe ouer die onderwerp glo is, des te aapagtiger maak hulle dit.”—Science Digest, April 1981, bl. 41.
“Net soos ons stadigaan leer dat die primitiewe mense nie noodwendig barbare was nie, so moet ons tot die besef kom dat die vroeë mense van die Ystyd nie redelose diere of half-ape of kretins was nie. Vandaar die onbeskryflike dwaasheid van alle pogings om die Neanderdal- of selfs die Peking-mens te probeer rekonstrueer.”—Man, God and Magic (New York, 1961), Ivar Lissner, bl. 304.
Maar bied leerboeke evolusie nie as ’n feit aan nie?
“Talle wetenskaplikes swig voor die versoeking om dogmaties te wees, . . . die kwessie oor die oorsprong van die spesies is al herhaaldelik as ’n uitgemaakte saak aangebied. Niks is verder van die waarheid af nie. . . . Maar die neiging om dogmaties te wees, bestaan voort, en dit bevorder nie die saak van die wetenskap nie.”—The Guardian, Londen, Engeland, 4 Desember 1980, bl. 15.
Maar is dit redelik om te glo dat alles op hierdie aarde in ses dae geskape is?
Daar is sommige godsdiensgroepe wat leer dat God alles in ses dae van 24 uur geskape het. Maar dit is nie wat die Bybel sê nie.
Genesis 1:3-31 vertel hoe God die aarde, wat toe reeds bestaan het, as ’n woonplek vir die mens voorberei het. Dit sê dat dit in ’n tydperk van ses dae gedoen is, maar dit sê nie dat hierdie dae 24 uur lank was nie. Dit is nie buitengewoon dat ’n persoon van sy “oupa se dag” praat wanneer hy daardie persoon se hele lewe bedoel nie. So ook gebruik die Bybel dikwels die woord “dag” om ’n lang tydperk te beskryf. (Vergelyk 2 Petrus 3:8.) Die ‘dae’ van Genesis hoofstuk 1 kan dus redelikerwys duisende jare lank wees.
Kyk bladsy 383 vir nadere besonderhede.
As iemand sê—
‘Ek glo in evolusie’
Jy kan antwoord: ‘Glo u dat God ’n aandeel daarin gehad het, of meen u dat die ontwikkeling van lewe uit die staanspoor aan blote toeval toegeskryf moet word? (Gaan dan voort op grond van wat die persoon sê.)’
Of jy kan sê: ‘Dit sou nie realisties wees om iets te verwerp wat deeglik as ’n wetenskaplike feit bewys is nie, nie waar nie? . . . Ek het hier etlike kommentare van wetenskaplikes hieroor wat baie interessant is. (Gebruik materiaal op bladsye 125, 126, onder die tussenhofie “Is evolusie werklik wetenskaplik?” of op bladsye 126, 127, onder “Is die voorstanders van evolusie dit met mekaar eens? . . . ”)’
’n Ander moontlikheid: ‘Wanneer daar gegronde getuienis is wat iets bewys, is dit wat ons almal moet glo, nie waar nie? . . . Ek onthou dat my skoolleerboeke prente van fossiele bevat het wat bedoel was om evolusie te steun. Maar sedertdien het ek baie interessante kommentare van wetenskaplikes oor die fossielverslag gelees. Ek het ’n paar van hulle hier. (Gebruik materiaal op bladsye 127, 128, onder die tussenhofie “Watter beskouing word deur die fossielverslag gesteun?”)’
Nog ’n wenk: ‘Het ek reg wanneer ek sê dat u ’n persoon is wat daarvan hou om die werklikheid onder die oë te sien? . . . Ek ook.’ Dan kan jy byvoeg: ‘As ek in die veld loop en afkom op hout en klippe wat ’n huis vorm, moet dit vir my duidelik wees dat iemand voor my daar was en dit gebou het, nie waar nie? . . . Maar sou dit nou logies wees as ek die gevolgtrekking gemaak het dat die blomme wat langs die huis groei die gevolg van blote toeval is? As dit is hoe ek die saak beskou, moet ek hulle van naderby beskou en op die ingewikkelde ontwerp let, want ek weet dat dit ’n grondwaarheid is dat waar daar ontwerp is, daar ’n ontwerper moet wees. Dit is wat die Bybel ons in Hebreërs 3:4 meedeel.’
Of jy kan antwoord (in die geval van ’n ouer persoon): ‘Een van die basiese gedagtes in evolusie is dat dit verantwoordelik is vir die mens se vooruitgang, sy ontwikkeling tot wat hy vandag is, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘U is ’n individu wat al geruime tyd leef. Onthou u hoe dinge was toe u ’n kind was? Was daar destyds soveel misdadigheid soos vandag? . . . Moes u altyd die deur gesluit gehou het? . . . Sou u sê dat die mense destyds meer besorg was oor hulle bure en oor bejaardes as wat vandag die geval is? . . . Hoewel daar dus groot vooruitgang op tegniese terreine was, lyk dit asof mense sommige van die belangrikste eienskappe verloor. Waarom?’ (2) ‘Ek vind dat hierdie realiteite wat ons albei waargeneem het, ooreenkom met wat hier in die Bybel in Romeine 5:12 geskryf staan. . . . Daar is dus ’n afwaartse neiging.’ (3) ‘Maar die Bybel toon hoe dit gaan verander (Dan. 2:44; Openb. 21:3, 4).’
‘Ek glo dat God die mens deur middel van evolusie geskape het’
Jy kan antwoord: ‘Ek het al met ander gesels wat ook so dink. Het ek reg wanneer ek die gevolgtrekking maak dat u ’n persoon met sterk geloof in God is? . . . U geloof is dus in werklikheid ’n oorwegende faktor in u lewe; u probeer om dit as ’n riglyn te gebruik om ander dinge te beoordeel, nie waar nie? . . . Dit is ook hoe ek sake beskou.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Ek weet dat indien die dinge wat ek glo werklik die waarheid is, dit nie sal bots met bewese wetenskaplike feite nie. Ek weet terselfdertyd dat dit dwaas van my sal wees om te ignoreer wat God se Woord sê, want God weet baie meer van sy werke af as enige van ons. Ek is beïndruk deur wat die Bybel, God se geïnspireerde Woord, hier in Genesis 1:21 sê. (Beklemtoon “volgens hulle soorte”.)’ (2) ‘In Genesis 2:7 leer ons dan dat God die mens geformeer het, nie uit vroeëre diere nie, maar uit die stof.’ (3) ‘En in vers 21, 22 vind ons dat Eva nie uit ’n dier gemaak is nie, maar met een van Adam se ribbebene as aanvangsmateriaal.’
Of jy kan sê: ‘(Nadat ’n gemeenskaplike grondslag gevind is, soos hierbo . . . ) Party sê dat die Bybel se verwysing na Adam bloot ’n sinnebeeldige voorstelling was. Maar tot watter gevolgtrekking lei dit as dit die geval is?’ (1) ‘Wel, let op wat dit hier in Romeine 5:19 sê: “Soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens [Adam] baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één [Jesus Christus] baie tot regverdiges gestel word.” Eerste Korinthiërs 15:22 sê eweneens: “Soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.” Maar as daar nooit werklik “een mens” genaamd Adam was nie, dan het daardie mens nooit gesondig nie. As hy nie gesondig en sonde as erfenis aan al sy afstammelinge nagelaat het nie, dan was dit nie vir Christus nodig om werklik sy lewe vir die mensdom af te lê nie. As Christus nie werklik sy lewe vir ons afgelê het nie, dan is daar geen hoop op lewe na ons huidige paar jaar nie. Dit sou beteken dat die Christelike godsdiens geen sin het nie.’ (2) ‘Maar die hoogste morele beginsels wat daar bestaan, word in die Christelike godsdiens vervat. Is dit moontlik dat die allerbeste leerstellings ten opsigte van waarheid en eerlikheid kan ontstaan by iets wat basies vals is?’ (Kyk ook bladsye 31-34, onder “Adam en Eva”.)
‘Maar hooggeleerde mense glo dit’
Jy kan antwoord: ‘Dit is waar. Maar ek het agtergekom dat selfs diegene wat sê dat hulle daaraan glo heftig kan verskil met ander wat in evolusie glo. (Haal voorbeelde aan uit materiaal op bladsye 126, 127.) Ons moet dus persoonlik die getuienis ondersoek om te sien wat ons moet glo—evolusie of die skepping.’
Of jy kan sê: ‘Dit is waar. Maar ek het agtergekom dat daar ander hooggeleerde mense is wat dit nie glo nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Waarom die verskil? Hulle is almal vertroud met dieselfde getuienis. Speel beweegrede dalk ’n rol? Moontlik.’ (2) ‘Hoe kan ’n mens besluit wie jy moet glo? Wel, as ons die groep in sy geheel beskou (en nie individue kritiseer nie), watter groep meen u dan sal eerliker wees—diegene wat glo dat die mens deur God geskep is en gevolglik aanspreeklik teenoor hom voel, of diegene wat sê dat hulle die produk van toeval is en dus slegs teenoor hulself aanspreeklik is?’ (3) ‘Ons moet dus persoonlik die getuienis ondersoek om te sien of die skepping of evolusie die bevredigendste antwoorde oor die ontstaan van lewe verstrek.’