Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 9/15 bl. 16-21
  • Jehovah ontbloot sy swaard!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah ontbloot sy swaard!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Voorspellings van Jerusalem se oordeel
  • Jehovah die Stryder
  • Jerusalem word beskuldig
  • Die straf word verdien
  • Skynheiliges is verbysterd
  • Glanspunte uitdie boek Esegiël—I
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bybelboek nommer 26—Esegiël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Luister—Jehovah se wag spreek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • “Die einde het nou vir [julle] aangebreek”
    Rein aanbidding van Jehovah – Uiteindelik herstel!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 9/15 bl. 16-21

Jehovah ontbloot sy swaard!

“Alle vlees sal weet dat Ek, die HERE, my swaard uit sy skede getrek het.”—ESEGIËL 21:5.

1. Teen wie het Jehovah sy swaard in Juda en Israel gebruik?

JEHOVAH se swaard boesem tereg vrees by sy vyande in. Maar het oortreders in die koninkryke van Juda en Israel werklik geweet wat gebeur het toe hy dit teen hulle gebruik het? Ja, hulle is tot die besef gebring dat Jehovah sy simboliese swaard uit die skede getrek het.—Esra 9:6-9; Nehemia 1:8; 9:26-30.

2. Wat het Jehovah oor sy “swaard” gesê, en watter vrae laat dit ontstaan?

2 Deur, sy profeet en wag Esegiël het God gesê: “Alle vlees sal weet dat Ek, [Jehovah], my swaard uit sy skede getrek het” (Esegiël 21:5, vgl. NW). Was daardie woorde net in die ou tyd van toepassing? Of is hulle vir ons van betekenis?

Voorspellings van Jerusalem se oordeel

3. Wat het Esegiël bannelinge in Babilonië vertel, en watter hedendaagse parallel het dit?

3 Jehovah se strydwa het weer beweeg, en Esegiël het ook van ligging verander. Dit was asof God se strydwaägtige hemelse organisasie na ’n waarnemingspos bo die Olyfberg beweeg het. Jesus het daarvandaan die vernietiging voorspel wat in 70 G.J. oor Jerusalem gekom het, ’n verwoesting wat profeties van die Christendom se einde was (Markus 13:1-20). Esegiël self is in ’n gesig van die Kebarrivier af weggevoer, maar deur God se gees is hy nou teruggebring na sy huis van ballingskap in Babilonië. Daar het hy ander ballinge alles vertel ‘wat Jehovah hom laat sien het’. God se gesalfde “wag” en hulle medegetuies verkondig vandag eweneens alles wat aan hulle geopenbaar is deur die Een wat op die hemelse strydwa ry.—Esegiël 11:22-25.

4. Hoe het Joodse bannelinge op Esegiël se simboliese dade gereageer?

4 Deur simboliese dade het Esegiël vir Joodse ballinge getoon dat ’n nasionale ramp ophande was. (Lees Esegiël 12:1-7.) Die profeet het “goed wat vir ’n ballingskap nodig is”, gedra om te wys hoe min artikels gevangenes op hulle skouers kan dra. Afgryslike dinge sou weldra in beleerde Jerusalem plaasvind. Hoewel baie mense sulke waarskuwings nie ernstig opgeneem het nie, moes Esegiël vir die mense sê: ‘Daar sal geen uitstel meer wees nie.’ Daar is vandag ook minagting vir goddelike waarskuwings en profesieë, maar ons kan baie doen om waarheidsoekers te help om hulle vertroue in die vervulling daarvan te stel.—Esegiël 12:8-28.

5. Watter veroordelings was gepas, aangesien ‘die dag van Jehovah’ ophande was?

5 Diegene wat nie na Jehovah se wag geluister het nie, moes weet dat hulle God se “swaard” sou voel. Diegene wat verantwoordelik was vir misvattinge oor die veiligheid van Jerusalem en Juda is derhalwe veroordeel. Valse profete is met vernielsugtige jakkalse vergelyk, en daar is getoon dat leuenaars die wankelende mure van die volk gekalk oftewel die vergeefse projekte goedgepraat het. Valse profetesse is ook veroordeel. ‘Die dag van Jehovah’ was ophande, en sy gesig was gerig teen diegene wat hulle ‘van hom afgewend het’, dit wil sê, ‘hulle daaraan toegewy het om God nie te volg nie’. As ons aan Jehovah toegewy is, sal ons ons sekerlik nooit van sy heilige diens wil afwend nie.—Esegiël 13:1-14:11.

6. Kon enige mens die weerspannige volk van Juda red, en wat leer dit ons?

6 Wie kon die weerspannige volk van Juda red? Nie eens regverdige Noag, Daniël en Job kon hulle red toe God sy oordele aan die land voltrek het nie. As ons gered wil word, moet ons ons persoonlike verantwoordelikheid voor God aanvaar en sy wil doen.—Esegiël 14:12-23; Romeine 14:12.

7. Waarmee is Juda vergelyk, maar wat sou God met die getroues oprig?

7 As gevolg van haar ontroue inwoners is Juda vergelyk met ’n wilde wingerdstok sonder goeie vrugte en wat net vir die vuur geskik is (Esegiël 15:1-8). Sy is ook vergelyk met ’n vondeling wat deur God uit Egipte gered en versorg is tot sy ’n volwasse vrou was. Jehovah het haar tot vrou geneem, maar sy het haar tot valse gode gewend en sou weens haar geestelike owerspel vernietig word. Maar met getroues sou God “’n ewige verbond oprig”—die nuwe verbond met geestelike Israel.—Esegiël 16:1-63; Jeremia 31:31-34; Galasiërs 6:16.

8. (a) Waarmee is Babilon en Egipte vergelyk? (b) Hoe moet Sedekia se verbreking van sy eed ons raak?

8 Vervolgens is die heersers van Babilon en Egipte met groot arende vergelyk. Een het die top van ’n sederboom afgebreek deur koning Jojagin af te sit en hom deur Sedekia te vervang. Hoewel Sedekia ’n eed van getrouheid aan Nebukadnesar gesweer het, het hy dit verbreek en militêre hulp by Egipte se heerser, die ander groot arend, gesoek. As Sedekia hom op God se naam beroep het toe hy sy eed gesweer het, het die verbreking daarvan Jehovah smaad aangedoen. Die blote gedagte om God smaad aan te doen, behoort ons daarvan te weerhou om ooit ons woord te verbreek. Ons is inderdaad bevoorreg om as Jehovah se Getuies die goddelike naam te dra!—Esegiël 17:1-21.

9, 10. (a) Watter profesie is in Esegiël 17:22-24 opgeteken, maar wat moet ons doen as ons by die vervulling daarvan wil baat vind? (b) Wie is verantwoordelik vir die gevolge van ons gedrag?

9 ’n Bemoedigende Messiaanse profesie volg dan. (Lees Esegiël 17:22-24.) Hier is ‘’n teer lootjie’ die Messiaanse Koning, Jesus Christus. Hy is deur Jehovah op die hemelse berg Sion geplant en sou “’n heerlike seder” word, ’n bron van beskerming en seën wanneer hy oor die aarde heers (Openbaring 14:1). Dit kan ons inderdaad laat moed skep.

10 As ons egter wil baat vind by die vervulling van die Messiaanse profesie, moet ons ’n goeie verhouding met Jehovah behou. Esegiël se medebannelinge het blykbaar gedink dat hulle ’n goeie posisie voor God het en het hulle voorvaders vir hulle lyding blameer. Maar die profeet het daarop gewys dat elke persoon verantwoordelik is vir die gevolge van sy eie gedrag. (Esegiël 18:1-29; vergelyk Jeremia 31:28-30.) Daarna het ’n beroep gevolg. (Lees Esegiël 18:30-32.) Ja, Jehovah is barmhartig teenoor die berouvolles en het geen behae in enigiemand se dood nie. Daarom sê God: ‘Bekeer julle en lewe.’—Vergelyk 2 Petrus 3:9.

11. Waarmee is Juda se heersers vergelyk, en wat sou met haar gebeur wanneer sy deur Jehovah se “swaard” getref word?

11 In ’n klaaglied oor Juda se val is sy heersers met jong leeus vergelyk. Koning Joahas het as banneling in Egipte gesterf, Jojakim is deur Nebukadnesar gevange geneem en Jojagin is as banneling na Babilon weggevoer. Nebukadnesar het Sedekia toe op Juda se troon geplaas, maar hy het in opstand gekom. Uiteindelik is Sedekia, soos ’n leeu in ’n hok, as gevangene na Babilon geneem. Ooreenkomstig die profetiese klaaglied het Juda in 607 v.G.J. ’n verdorwe wingerdstok geword, met “geen sterk tak . . . daarin as septer om te heers nie”. Hy is deur Jehovah se “swaard” getref!—Esegiël 19:1-14; Jeremia 39:1-7.

12. (a) Aan watter oortredings het Esegiël se tydgenote hulle, soos hulle voorouers, skuldig gemaak? (b) Waarom het die volk gevra of Esegiël nie spreekwoorde gebruik nie, en watter waarskuwing hou dit vir ons in?

12 Toe “manne uit die oudstes van Israel” Esegiël genader het, het hy God se boodskap gespreek. Hy het daarop gewys dat hoewel Jehovah die Israeliete uit Egipte verlos het en Sy Wet aan hulle gegee het, hulle dit verwerp en afgodediens beoefen het. Aangesien Esegiël se tydgenote hulle aan soortgelyke oortredings skuldig gemaak het, sou God met hulle in die gerig tree. Omdat hulle blykbaar skepties was en nie omdat hulle nie verstaan het wat Esegiël bedoel het nie, het die volk gevra: “Spreek hy nie altyd in gelykenisse [“spreekwoorde”, NW] nie?” Hulle sou weldra agterkom dat daar niks bloot spreekwoordeliks omtrent die profeet se boodskap was nie. Dit moet ons waarsku om nooit skepties te staan teenoor die vervulling van Skriftuurlike waarskuwings nie.—Esegiël 20:1-49.

Jehovah die Stryder

13. Waarop dui God se “swaard”, en tot watter besef sou “alle vlees” gebring word wanneer daardie swaard gebruik word?

13 In die sewende jaar van die ballingskap (teen 10 Ab 611 v.G.J.) was daar minder as twee en ’n half jaar oor voor ‘die stryd in die dag van Jehovah’ teen Juda en Jerusalem sou begin (Esegiël 13:5; 20:1). Let op wat Jehovah die Stryder toe deur Esegiël gesê het. (Lees Esegiël 21:1-5.) God se “swaard” dui op die aardse werktuig wat hy sou gebruik, maar dit kan sy hemelse, strydwaagtige organisasie insluit. “Regverdige” en “goddelose” inwoners van Juda en Israel, sowel as nasies wat God se volk vyandig gesind was, sou deur die skerpte van God se “swaard” geslaan word. Ja, “alle vlees” sou tot die besef gebring word dat Jehovah teen hulle stry.

14. (a) Waarop vestig Jehovah se gesalfde getuies, soos Esegiël, die aandag? (b) Wat toon dat die Christendom se heersers nie God se “swaard” sal vryspring nie?

14 Soos Esegiël vestig Jehovah se gesalfde getuies vandag die aandag op die “swaard” wat God sal gebruik teen lede van die Christendom, waarvan die ryk die teenbeeldige “land Israel” is. Binnekort sal daardie “swaard” teen “alle vlees, van die suide tot die noorde”, teen alle beoefenaars van valse godsdiens, gebruik word. Selfversekerde persone van Esegiël se dag het geen rede gehad om bly te wees en tot die slotsom te kom dat Jehovah se “swaard” nie onder hulle ‘’n slagting sou aanrig’ nie. Daardie “swaard” het die koninklike septer van die koninkryk van Juda verwerp, net soos dit elke ander “boom” (NW), of septer, verwerp het. Die Christendom se heersers sal dan sekerlik nie deur God se teregstellingswerktuig gespaar word nie.—Esegiël 21:6-17.

15. Watter voorval met betrekking tot Nebukadnesar wys dat niemand Jehovah se “swaard” kan afwend nie?

15 Esegiël se profesie toon verder dat niemand, met inbegrip van die demone, Jehovah se “swaard” kan afwend nie. (Lees Esegiël 21:18-22.) Hoewel koning Nebukadnesar van demonistiese waarseery gebruik sou maak, sou Jehovah sorg dat die Babiloniëse heerser teen Jerusalem optrek, nie teen die swakker Ammonitiese hoofstad Rabba nie. Nebukadnesar sou uit ’n houer ’n pyl kies wat vir Jerusalem gemerk is. Hy sou terafim, of huisgode (waarskynlik beeldjies in die vorm van mense), gebruik en sou na aanduidings in die lewer van ’n doodgemaakte dier soek. Ondanks waarsêery sou hy egter die pad kies wat na die Judese hoofstad lei en dit beleer. Nebukadnesar het weliswaar ’n verbond met koning Sedekia gesluit. Maar as gevolg van hulle verbreking van die eed sou Sedekia en ander Jode “met die hand gegryp word” en as gevangenes na Babilon geneem word.—Esegiël 21:23, 24.

16. (a) Wat het ter vervulling van Esegiël 21:25-27 gebeur? (b) Wanneer het die Heidense Tye begin, en met watter gebeurtenis het dit geëindig?

16 Deur te rebelleer, het Sedekia homself dodelik gewond. (Lees Esegiël 21:25-27.) Toe Juda se koning onttroon is, is die koninklike tulband en die kroon verwyder (2 Konings 25:1-7). Die ‘hoë’ koninkryk van Juda is “na onder” gebring toe dit in 607 v.G.J. vernietig is. So is die lae heidense koninkryke “na bo” gebring en is hulle in beheer van die aarde gelaat sonder ingryping deur ’n tipiese koninkryk van God (Deuteronomium 28:13, 15, 36, 43, 44). So het “die tye van die nasies”—die Heidense Tye—begin wat in 1914 geëindig het toe God koningskap aan Jesus Christus gegee het, ‘die een wat daarop reg het’ (Lukas 21:20-24; Psalm 110:1, 2; Daniël 4:15-28; 7:13, 14). Met Jesus op ’n hemelse troon kan die heidense nasies nie vertrap wat deur eertydse Jerusalem gesimboliseer is nie, die Koninkryk van Dawid se wettige erfgenaam.—Hebreërs 12:22.

17. Watter ‘leuen’ het Ammonitiese profete verkondig?

17 Ammonitiese profete het gesê dat Ammon se hoofstad, Rabba, vernietiging deur Nebukadnesar se swaard sou vryspring. Maar dit was ‘’n leuen’, want die hele land van Ammon sou verwoes word. In ons dag het God bepaal dat die vernietiging van die nasies dié van die Christendom sal volg, net soos Rabba ná Jerusalem vernietig is.—Esegiël 21:28-32; Openbaring 16:14-16.

Jerusalem word beskuldig

18. Weens watter sondes het Esegiël Jerusalem veroordeel, en hoe behoort ons hierop te reageer?

18 Esegiël het weer eens Jehovah se woord gespreek en Jerusalem veroordeel vir sondes soos bloedvergieting, afgodediens, losbandigheid, bedrog en omdat sy God vergeet het. Haar bloedskuldige vorste het mag misbruik in die mate dat geregtelike moord gepleeg is, en kwaadsprekers het van vyande ontslae geraak deur hulle valslik te beskuldig. Weens sulke oortredings sou Jerusalem se inwoners verstrooi word. Hierdie kennis moet ons voorneme versterk om magsmisbruik, losbandigheid, laster en ander growwe sondes te vermy.—Esegiël 22:1-16.

19. Hoe sou die volk van Juda gesmelt word, en waarom was hulle uitwissing geregverdig?

19 Jehovah sou ook die volk van Juda in ’n smeltoond smelt. Dit was nie om hulle in ’n louteringsproses te suiwer nie, maar om hulle in sy vurige toorn te smelt (Esegiël 22:17-22). Die sameswerende profete, wettelose priesters, gierige vorste en onregverdige mense het hierdie oordeel gewis verdien. Almal is veroordeel. Aangesien niemand onder hulle geregtigheid nagestreef het nie, sou God hulle met die vuur van sy grimmigheid uitwis.—Esegiël 22:23-31.

Die straf word verdien

20. Op watter simboliese vroue sou God se woede uitgegiet word, en watter besonderhede kan jy oor hulle identiteit verskaf?

20 Die uitgieting van God se woede is vervolgens uitgebeeld as oordeel wat voltrek word aan twee simboliese vroue wat aan geestelike owerspel skuldig is. Een was Ohola, die tienstammeryk van Israel met Samaria as haar hoofstad. Sy was “die grootste” (“die oudste”, NW) omdat sy bestaan het uit die meeste stamme van Israel, met inbegrip van dié wat van Jakob se oudste seuns, Ruben en Simeon, afgestam het. Haar suster was Oholiba, die tweestammeryk van Juda met Jerusalem as haar hoofstad. Ohola beteken “Haar tent”. Oholiba beteken “My tent is in haar”, wat gepas is aangesien God se tent, of tempel, in Juda was.—Esegiël 23:1-4.

21. Waarin het Ohola veiligheid gesoek, en watter waarskuwing hou dit vir ons in?

21 Ohola (Israel) het tot niet gegaan toe sy in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verslaan is. Wat het sy gedoen? (Lees Esegiël 23:5-7.) Ohola was ontrou en het veiligheid in politieke bondgenootskappe gesoek, maar dit het daartoe gelei dat sy die valse aanbidding van haar bondgenote aanvaar het, sodat ‘sy haar met hulle drekgode verontreinig het’. Ohola se geestelike owerspel moet vir ons ’n waarskuwing wees sodat ons waak teen wêreldse verbintenisse wat ons geloof kan vernietig.—Jakobus 4:4; 1 Johannes 2:15-17.

22. Wat doen die Christendom, soos Ohola en Oholiba, maar wat sal met haar gebeur?

22 Omdat Oholiba (Juda) ’n sondiger weg as haar suster bewandel het, is sy in 607 v.G.J. as ’n volk deur die Babiloniërs verslaan. Haar kinders het deur die swaard geval of is as gevangenes weggevoer, en sy het in die skande geraak onder die nasies. Soos Ohola en Oholiba, maak die Christendom haar aan geestelike owerspel skuldig, ’n sonde in die oë van die God wat sy beweer sy aanbid. Protestantisme, met haar talle denominasies, het haar selfs in groter mate met die handels- en politieke magte van die wêreld verontreinig as haar ouer suster, Rooms-Katolisisme. Jehovah sal derhalwe sorg dat die hele Christendom vernietig word. Dan sal mense weet dat hy die Soewereine Heer Jehovah is. Dit sal ons sterk in ons besluit om onbehoorlike wêreldse verbintenisse te vermy as ons onthou dat die Christendom se metgeselle haar binnekort gaan aanval en God se oordeel aan haar as ’n vername deel van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gaan voltrek.—Esegiël 23:8-49; Openbaring 17:1-6, 15-18.

Skynheiliges is verbysterd

23. Hoe is Jerusalem voorgestel in God se boodskap aan Esegiël aan die einde van Desember van 609 v.G.J., en wat sou met haar gebeur?

23 Op die einste dag aan die einde van Desember toe Nebukadnesar sy 18 maand lange beleëring van Jerusalem begin het (10 Tebet 609 v.G.J.) het God Esegiël nog ’n aanskoulike boodskap gegee. Daarin is beleerde Jerusalem voorgestel as ’n pot waarin die stad se inwoners ‘gekook’ sou word. Growwe onsedelikheid het “roes” in daardie simboliese pot veroorsaak. Die oortreders sou “stuk vir stuk” uit Jerusalem gebring word, en haar weë sou nie eindig totdat sy vernietig is nie. Jehovah het Jerusalem volgens haar goddelose dade geoordeel, en sy moes vernietig word, net soos die Christendom vernietig moet word.—Esegiël 24:1-14.

24. (a) Waarom het Esegiël geen verdriet getoon toe sy vrou gesterf het nie? (b) Hoe sal die Christendom reageer wanneer Jehovah se “swaard” op haar neerkom, en wat sal sy weet?

24 Daarna moes Esegiël op ’n buitengewone manier optree. (Lees Esegiël 24:15-18.) Waarom moes die profeet geen verdriet toon toe sy vrou gesterf het nie? Om te toon hoe verbysterd die Jode oor die vernietiging van Jerusalem, haar inwoners en die tempel sou wees. Esegiël het reeds genoeg oor sulke sake gesê en sou nie weer God se boodskap spreek totdat hy tyding van Jerusalem se ondergang ontvang het nie. Die Christendom en haar skynheilige godsdiensyweraars sal insgelyks verbysterd wees ten tyde van hulle vernietiging. En na die “groot verdrukking” begin het, sal wat die gesalfde wagklas reeds oor haar einde gesê het genoeg wees (Mattheüs 24:21). Maar wanneer God se “swaard” op die Christendom neerkom, sal sulke verbysterde godsdiensyweraars en ander ‘moet weet dat hy Jehovah is’.—Esegiël 24:19-27, vgl. NW.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Wat het gebeur toe Jehovah sy “swaard” teen Juda en Israel gebruik het?

◻ Hoe moet ons geraak word deur Sedekia se verbreking van sy eed aan Nebukadnesar?

◻ Waarop dui God se “swaard”?

◻ Watter voorval met betrekking tot Nebukadnesar toon dat niemand Jehovah se “swaard” kan afwend nie?

◻ Wat het ter vervulling van Esegiël 21:25-27 gebeur?

◻ Wat is voorafgeskadu deur die feit dat Esegiël nie verdriet getoon het toe sy vrou gesterf het nie?

[Prent op bladsy 18]

Watter profesie het vervulling begin ondergaan toe koning Sedekia sy eed aan Nebukadnesar verbreek het en gevange geneem is?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel