Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 9/15 bl. 22-27
  • “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Profesieë teen ander
  • Die wag se plig
  • Jehovah se ‘een herder’
  • ’n “Tuin van Eden”!
  • Eenheid herstel
  • Gog val aan!
  • Aanskou Jehovah se heiligdom!
  • Dan sal hulle weet!
  • Glanspunte uit die boek Esegiël—II
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Bybelboek nommer 26—Esegiël
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Luister—Jehovah se wag spreek!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Glanspunte uitdie boek Esegiël—I
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 9/15 bl. 22-27

“Hulle sal moet weet dat ek Jehovah is”

“Ek sal my heilige naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is.”—ESEGIËL 39:7, NW.

1, 2. Hoe weet ons dat Jehovah nie vir altyd die ontheiliging van sy heilige naam sal duld nie?

DIE eertydse Israeliete het Jehovah se heilige naam ontheilig. Die boek Esegiël toon dit duidelik. Maar die mense van die Christendom ontheilig ook die naam van die God wat hulle beweer hulle aanbid.

2 Sal die Universele Soewerein die ontheiliging van sy naam vir altyd duld? Nee, want hy het gesê: “Ek sal my heilige naam nie meer laat ontheilig nie; en die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is.” (Esegiël 39:7, NW; kyk ook Esegiël 38:23, NW.) Wat sal dit beteken? En watter lesse kan ons uit latere hoofstukke in die boek Esegiël leer?

Profesieë teen ander

3. (a) Hoe het ander nasies op Juda se lyding gereageer? (b) Weens watter gees is Tirus se “koning” verwyder, en hoe moet dit ons raak?

3 Na Jerusalem se vernietiging is Ammon veroordeel omdat hy blydskap oor Juda se lyding getoon het en Moab omdat hy ’n minagtende houding teenoor Juda ingeneem het. Edom is skuldig bevind aan kwaadwilligheid, en die Filistyne se wraaksug sou God se “grimmige strawwe” meebring (Esegiël 25:1-17; Spreuke 24:17, 18). Omdat die stad Tirus oor Jerusalem se onheil gejuig het, sou hy deur Nebukadnesar, oftewel Nebukadresar (wat nader aan die Babiloniëse spelling is), verower word (Esegiël 26:1-21). Die stad was soos ’n skip wat gewis sou sink (Esegiël 27:1-36). Tirus se “koning” (blykbaar sy lyn van heersers) is verwyder weens ’n trotse gees soos dié van Satan (Esegiël 28:1-26). Ons moet dus gewis sondige hoogmoed vermy wat ons Jehovah se naam kan laat ontheilig.—Psalm 138:6; Spreuke 21:4.

4. Wat het vir Farao en Egipte voorgelê?

4 Esegiël het voorspel dat Egipte 40 jaar lank verlate sou wees. Sy rykdom sou Nebukadresar se loon wees vir militêre diens wat hy gelewer het in die voltrekking van Jehovah se oordeel aan Tirus (Esegiël 29:1-21). Wanneer God gesorg het dat die Egiptenaars verstrooi is, ‘sou hulle weet dat hy Jehovah is’ (Esegiël 30:1-26). Trotse Farao, wat Egipte verteenwoordig het, is vergelyk met ’n statige seder wat afgekap sou word (Esegiël 31:1-18). Laastelik het Esegiël klaagliedere oor Farao en die neerdaling van Egipte na Sjeool aangehef.—Esegiël 32:1-32.

Die wag se plig

5. (a) Slegs onder watter omstandighede keur God ’n geestelike wag goed? (b) Wat beteken dit om ‘in die insettinge van die lewe te wandel’?

5 Esegiël is aan sy plig as ’n wag herinner (Esegiël 33:1-7). God keur ’n geestelike wag natuurlik slegs goed as hy sy plig doen en die goddelose waarsku. (Lees Esegiël 33:8, 9.) Soos Esegiël verkondig die gesalfde “wag” dus moedig goddelike waarskuwings. Aangesien God geen behae het in die dood van goddeloses nie, sal hy nie hulle vorige dade teen hulle hou as hulle ag slaan op waarskuwings en ‘in die insettinge van die lewe wandel’ nie. Om in daardie insettinge te wandel, het in Esegiël se dag gehoorsaamheid aan die Wet beteken, maar nou beteken dit dat ’n mens Christus se losprys moet aanvaar en sy volgeling moet wees (1 Petrus 2:21). Daar skort niks met die manier waarop God mense straf of beloon nie, en behoud deur die “groot verdrukking” heen hang van gehoorsaamheid aan sy insettinge af.—Esegiël 33:10-20; Mattheüs 24:21.

6. Hoe is talle vandag soos die Joodse bannelinge van Esegiël se tyd?

6 Na aan die einde van 607 v.G.J. het ’n vlugteling berig dat Jerusalem vernietig is, en Esegiël het weer Jehovah se boodskap gespreek (Esegiël 33:21-29). Hoe het die bannelinge gereageer? (Lees Esegiël 33:30-33.) Vandag is talle soos die Joodse bannelinge vir wie Esegiël ’n sanger van “’n minnelied” was. Wanneer die gesalfdes en hulle medegetuies van huis tot huis gaan, klink die Koninkryksboodskap vir hierdie mense mooi, maar hulle aanvaar dit nie. Vir hulle is dit soos ’n aangename minnelied, maar hulle wy hulle nie aan Jehovah toe nie, en hulle sal nie die “groot verdrukking” oorleef nie.

Jehovah se ‘een herder’

7. Watter dade van Jehovah in ons tyd kom ooreen met sy optrede teenoor sy skape in Esegiël se dag?

7 In ’n boodskap wat Esegiël ná Jerusalem se val ontvang het, het Jehovah die ontheiligers van Sy heilige naam, die goewermentele “herders van Israel”, veroordeel. Hoe goed pas daardie woorde tog nie die heersers van die Christendom nie! (Lees Esegiël 34:1-6.) Anders as die Goeie Herder, Jesus Christus, maak die Christendom se politieke heersers hulleself materieel vet deur die “skape” uit te buit (Johannes 10:9-15). Maar soos God sy skape verlos het deur selfsugtige herders hulle heerskappy te ontneem toe Juda verwoes is, sal hy weer sy skape verlos deur die Christendom se heersers hulle gesag gedurende die “groot verdrukking” te ontneem (Openbaring 16:14-16; 19:11-21). Jehovah het liefde vir sy “skape” getoon toe hy hulle in 537 v.G.J. uit Babilon bevry het, net soos hy daardie eienskap aan die dag gelê het toe hy die Grotere Kores, Jesus Christus, gebruik het om die oorblyfsel van geestelike Israel in 1919 G.J. uit gevangenskap aan Babilon die Grote te bevry.—Esegiël 34:7-14.

8. Wat sal Jehovah doen as ’n ‘vet skaap’ die kudde verdruk, en hoe moet Christenonderherders die skape behandel?

8 God versorg sy skape liefdevol. (Lees Esegiël 34:15, 16.) As ’n ‘vet skaap’ vandag God se kudde verdruk, sal Jehovah hom nou met uitsetting voed en in die “groot verdrukking” met vernietiging. In 1914 het Jehovah ‘een herder’, Jesus Christus, oor die gesalfde oorblyfsel aangestel. Sedert 1935 rig hy die insameling van ’n “groot menigte” “ander skape”, wat vandag saam met gesalfde ‘skape van Jehovah se weide’ dien. Soos God en Christus moet Christenonderherders al hierdie skape liefdevol behandel.—Esegiël 34:17-31; Openbaring 7:9; Johannes 10:16; Psalm 23:1-4; Handelinge 20:28-30.

’n “Tuin van Eden”!

9. Wat het Jehovah gedoen, aangesien hy besluit het dat die land van Juda en Israel ’n sabbat moes hou?

9 Dink weer aan die verlate land van Juda en Israel. Aangesien God bepaal het dat dit ’n sabbat moes hou deur 70 jaar onbewoon te wees, het hy daadwerklik gekeer dat Edom en ander nasies daardie gebied beset (2 Kronieke 36:19-21; Daniël 9:2). Trouens, Edom en sy bergland Seïr was ook verlate, soos voorspel, daar dit in 602-601 v.G.J. deur die Babiloniërs onderwerp is.—Esegiël 35:1–36:5; Jeremia 25:15-26.

10. Na watter ontwikkelinge in ons dag het die herstel van ’n oorblyfsel in Juda in 537 v.G.J. heengewys?

10 Die herstel van ’n oorblyfsel in Juda in 537 v.G.J. het heengewys na opwindende ontwikkelinge in ons dag. Van 1919 af is die “berge van Israel”, of die geestelike staat van Jehovah se gesalfde getuies, herbevolk met ’n geestelik verlewendigde oorblyfsel (Esegiël 36:6-15). God het hulle van godsdienstige onreinheid gereinig en in hulle “’n nuwe gees” gegee wat hulle in staat gestel het om die vrugte van sy heilige gees voort te bring (Galasiërs 5:22). En sodat Jehovah se naam nie deur wêreldlinge ontheilig sou word omdat hy sy volk gedissiplineer het nie, het hy die oorblyfsel ryklik geseën.—Esegiël 36:16-32.

11. Wat het God, in harmonie met Esegiël 36:33-36, met die geestelike staat van die gesalfde oorblyfsel gedoen?

11 Na ’n oorblyfsel na Juda teruggekeer het, is daardie verwoeste land in ’n vrugbare “tuin van Eden” omgeskep. (Lees Esegiël 36:33-36.) Sedert 1919 het Jehovah insgelyks die eens verwoeste staat van die gesalfde oorblyfsel in ’n vrugbare geestelike paradys omgeskep, wat nou deur die “groot menigte” gedeel word. Aangesien hierdie geestelike paradys met heilige mense bevolk is, moet elke toegewyde Christen hom daarop toelê om dit rein te hou.—Esegiël 36:37, 38.

Eenheid herstel

12. Hoe is die verlewendiging van die eertydse Joodse nasie in Esegiël 37:1-14 toegelig, en watter hedendaagse parallel het dit gehad?

12 In Babiloniëse gevangenskap was die Jode feitlik ’n dooie nasie, soos blote bene op ’n stuk land. (Esegiël 37:1-4). Maar wat het Esegiël vervolgens gesien? (Lees Esegiël 37:5-10.) Daardie bene is opnuut bedek met senings, vlees en vel, en hulle is met die asem van die lewe verlewendig (Esegiël 37:11-14). God het die Joodse nasie opgewek toe 42 360 mense uit alle stamme van Israel en sowat 7 500 nie-Israeliete hulle geleentheid aangegryp het om Juda te herbevolk, Jerusalem en sy tempel te herbou en ware aanbidding in hulle tuisland te herstel (Esra 1:1-4; 2:64, 65). In 1918 het die vervolgde oorblyfsel van geestelike Israel eweneens soos daardie droë bene geword—dood ten opsigte van hulle openbare getuieniswerk. Maar in 1919 het Jehovah hulle as Koninkryksverkondigers verlewendig (Openbaring 11:7-12). Hierdie parallel moet ons vertroue versterk dat hierdie gesalfdes en hulle medegetuies die aardse organisasie uitmaak wat Jehovah vandag gebruik.—Kyk die 1975 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 87-125.

13. Hoe is die herstel van organisatoriese eenheid onder Jehovah se eertydse volk in Esegiël 37:15-20 toegelig, en watter parallel was daar hiervan?

13 Hoe is die herstel van organisatoriese eenheid onder Jehovah se eertydse volk toegelig? (Lees Esegiël 37:15-20.) Daar is ’n hedendaagse parallel vir die samevoeging van die twee stukke hout (een gemerk vir die tweestammeryk van Juda, die ander vir die tienstammeryk Israel). Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het ambisieuse manne probeer om die eenheid van God se knegte te verbreek, maar in 1919 is getroue gesalfdes onder Christus, hulle “een Koning” en “een herder”, verenig. Daarbenewens is die lede van die “groot menigte”, soos die meer as 7 500 nie-Israeliete wat na Juda teruggekeer het, nou met die gesalfde oorblyfsel verenig. Wat ’n vreugde is dit tog om in die geestelike paradys te wees en Jehovah eensgesind onder ons “een Koning” te dien!—Esegiël 37:21-28.

Gog val aan!

14. Wie is Gog van Magog, en wat gaan hy doen? (Esegiël 38:1-17)

14 ’n Dramatiese gebeurtenis is toe voorspel. In die hoop om God se naam te ontheilig en Sy volk te vernietig, sal Gog van Magog ’n aanval doen op die oorblyfsel van geestelike Israel, wat Jehovah se “vrou”, of hemelse organisasie, verteenwoordig (Openbaring 12:1-17). Gog is “die owerste van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel. Hy het die naam Gog gekry nadat hy ná die oprigting van die Koninkryk in 1914 uit die hemel gewerp is (Johannes 12:31). “Die land Magog” is die plek waartoe Gog en sy demone in die omgewing van die aarde beperk is. Na antigodsdienstige magte die Christendom en die res van Babilon die Grote vernietig het, sal Jehovah Gog teen die skynbaar onbeskermde oorblyfsel van geestelike Israel en hulle toegewyde medegetuies bring.—Esegiël 38:1-17; Openbaring 17:12-14.

15. Wat sal gebeur wanneer Gog Jehovah se Getuies aanval?

15 Wat sal gebeur wanneer Gog Jehovah se Getuies aanval? (Lees Esegiël 38:18-23.) Jehovah sal sy volk red! Sy wapens sal stromende wolkbreuke, groot haelstene, verwoestende vuur en onkeerbare pessiekte wees. In hulle verwarring sal Gog se magte hulle swaarde teen mekaar gebruik. Maar voor God hulle uitwis, ‘sal hulle moet weet dat hy Jehovah is’.

16. (a) Wat sal met “die land Magog” gebeur? (b) Hoe moet ons geraak word deur kennis van gebeure wat in verband met Gog voorspel is?

16 Wanneer Satan en sy demone in die afgrond gewerp word, sal “die land Magog”, hulle verlaagde plek by die aarde, vir ewig uit die weg geruim wees (Openbaring 20:1-3). Gog se oorlogstoerusting sal so ekstensief wees dat dit tyd sal verg om daarvan ontslae te raak. Voëls en diere sal hulle knuppeldik vreet aan die onbegrawe lyke van Gog se skare. Hoe moet hierdie kennis ons raak? Die wete dat Gog se aanval ophande is, maar dat Jehovah Sy volk sal red, moet ons geloof versterk en ons bly mask dat sulke gebeure sal uitloop op die heiliging van God se lank verontheiligte naam!—Esegiël 39:1-29.

Aanskou Jehovah se heiligdom!

17. (a) Watter gesig is Esegiël in 593 v.G.J. gegee? (b) Wat bewys die bestaan van die visioenêre tempel?

17 In 593 v.G.J., die 14de jaar na die vernietiging van die tempel in Jerusalem, is Esegiël ’n gesig gegee oor ’n nuwe heiligdom vir Jehovah se aanbidding. Dit is deur die profeet se engelegids gemeet en was ontsaglik groot (Esegiël 40:1–48:35). Hierdie tempel het “die ware tabernakel wat die Here opgerig het”, voorgestel, en dit het “die afbeeldinge van die dinge in die hemel” gehad. Jesus Christus het in 33 G.J. in die Allerheiligste daarvan, “die hemel self”, ingegaan om die waarde van sy losprysoffer vir God aan te bied (Hebreërs 8:2; 9:23, 24). Die visioenêre tempel bewys dat Gog se aanval ware aanbidding nie sal uitwis nie. Wat ’n vertroosting is dit tog vir liefhebbers van Jehovah se naam!

18. Wat is enkele van die opgetekende kenmerke van die visioenêre tempel?

18 Die tempel het baie kenmerke gehad. Daar was byvoorbeeld ses poorte in sy buite- en binnemure (Esegiël 40:6-35). Daar was dertig eetvertrekke (waarskynlik vir mense om gemeenskapsoffers te eet) in die buitenste voorhof (40:17, vgl. NW). Die brandofferaltaar was in die binneste voorhof (43:13-17). ’n Houtaltaar, blykbaar om reukwerk op te brand, was in die tempel se eerste vertrek (41:21, 22). Die Allerheiligste was 20 vierkante el, en die muur om die tempel was 500 roede (1 600 meter) aan elke kant. Wat ’n grootse huis vol van God se heerlikheid!—Esegiël 41:4; 42:16-20; 43:1-7.

19. Hoe moet die besonderhede van die tempel en die feit dat die wat daar gedien het aan God se standaarde moes voldoen ons raak?

19 Die talle besonderhede van die tempel, offerandes, offers en feeste moet ons die nodigheid op die hart druk om instruksies van God se organisasie noukeurig te volg, in die besef dat geen moeite ontsien moet word om Jehovah en sy aanbidding te verhef nie (Esegiël 45:13-25; 46:12-20). Diegene wat by die tempel gedien het, moes aan God se hoë standaarde voldoen, en hulle moes mense “die onderskeid leer tussen wat heilig en onheilig is” (Esegiël 44:15, 16, 23). Dit moet ons beweeg om as Jehovah se volk heilig te bly.—Efesiërs 1:3, 4.

20. (a) Wat simboliseer die water wat uit die visioenêre tempel gevloei het? (b) Watter uitwerking sal hierdie simboliese water hê?

20 Uit die tempel het ’n stroom gevloei wat die soutwater van die Dooie See gesond, of soet, gemaak het sodat dit gewemel het van vis (Esegiël 47:1-11). Hierdie water simboliseer God se voorsiening vir ewige lewe, met inbegrip van Jesus se offerande, wat oorgenoeg is vir oorlewendes van Gog se aanval en ander, onder meer die wat opgewek word (Johannes 5:28, 29; 1 Johannes 2:2; Openbaring 22:1, 2). Die Dooie See stel die toestand voor waarin die mensdom verkeer—veroordeling tot erfsonde en die dood asook Satan se heerskappy. Soos die talryke visse in die versoete waters van die Dooie See sal die vrygekoopte mensdom onder die gesonde omstandighede van die Messiaanse bewind floreer.

21. Wat sal die gehoorsame mensdom volgens Esegiël 47:12 in die nuwe wêreld geniet?

21 Genesing word ook geassosieer met bome wat langs die visioenêre stroom groei. (Lees Esegiël 47:12.) In die nuwe wêreld sal die gehoorsame mensdom volmaakte fisiese en geestelike gesondheid geniet. En waarom nie? Blare van die visioenêre vrugtebome het standhoudende genesende eienskappe. Watter seëninge is dit tog nie vir diegene wat Jehovah ken en dien nie!

Dan sal hulle weet!

22. Wat dui aan dat God mense in die Paradys sal plaas waar hy wil?

22 Deur vandag met Jehovah se organisasie saam te werk, kan ons eienskappe aankweek wat ons inskiklik sal maak wanneer God mense in die aardse Paradys plaas waar hy wil. Dat daar so ’n aanwysing van mense sal wees, word aangedui deur die feit dat stamtoewysings noord en suid van ’n administratiewe strook gemaak is, soos Esegiël in sy gesig gesien het. Daardie driedelige “offergawe” van land het ’n gedeelte ingesluit vir die nie-priesterlike Leviete en ’n priesterlike deel wat die visioenêre tempel bevat het. In die middel van die suidelike deel was ’n stad met werkers uit al die stamme onder ’n kollektiewe “vors”, die Messias se vorstelike verteenwoordigers in die “nuwe aarde”.—Esegiël 47:13–48:34; 2 Petrus 3:13; Psalm 45:17.

23. Wat moet ons nou doen om ’n deel te wees van die vrygekoopte mensdom wat in die Paradys sal lewe?

23 Vanaf sy troon in sy hemelse heiligdom sal God die simboliese stad seën wat Esegiël gesien het. (Lees Esegiël 48:35, vgl. “NW”.) Daardie aardse administrasiesetel sal Jehovah-Sjamma, of “[Jehovah self] is daar”, genoem word. As jy voortgaan om volgehoue liefde vir God te toon, kan jy ’n deel wees van die vrygekoopte mensdom wat in die Paradys sal lewe wanneer niemand op aarde in geestelike duisternis sal verkeer nie, maar almal sal weet dat Jehovah die een lewende en ware God is (Habakuk 2:14). Sorg dat jy nie gedwing word om God se naam teen jou sin te erken wanneer die goddeloses vernietig word nie. Beoefen geloof en toon dat jy hoop om onder die oorlewendes te wees wanneer hy die woorde vervul: “Die nasies sal moet weet dat ek Jehovah is.”—Esegiël 36:23, NW.

Wat sou jy sê?

◻ Slegs onder watter omstandighede keur Jehovah ’n geestelike wag goed?

◻ Hoe behandel Jehovah sy skape, en hoe moet Christenherders hulle behandel?

◻ Hoe is die verlewendiging van die Joodse nasie toegelig? (Esegiël 37:1-14). Wat is die hedendaagse parallel hiervan?

◻ Wie is Gog van Magog, en wat sal gebeur wanneer hy Jehovah se Getuies aanval?

◻ Wat simboliseer die water wat uit die visioenêre tempel vloei?

[Kaart/Prent op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Die heilige offergawe en stamtoewysings

DIE GROOT SEE

INGANG NA HAMAT

DAN

ASER

NAFTALI

MANASSE

EFRAIM

RUBEN

JUDA

DIE VORS

Heilige Offergawe

En-Eglaim

BENJAMIN

SIMEON

En-gedi

ISSASKAR

SEBULON

Tamar

GAD

Meribat-Kades

Soutsee

Jordaanrivier

See van Galilea

[Prent op bladsy 23]

Jehovah versorg sy skape liefdevol, soos eertydse herders gedoen het. Christenherders moet God se kudde derhalwe liefdevol behandel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel