Nuwe publikasies help ons om ons in godvrugtige toegewydheid te oefen
1 Nadat ons verlede jaar se streekbyeenkoms bygewoon het, is ons baie meer bewus daarvan dat ons ons met godvrugtige toegewydheid as ons doel moet oefen (1 Tim. 4:7, NW). Ons word gehelp om in ware aanbidding nader aan Jehovah te kom as ons nadink oor al die inligting wat op die program aangebied is en daarna strewe om dit daagliks in ons lewe toe te pas.
2 Maar as ons die skat van kennis in die drie nuwe publikasies wat ons by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms ontvang het stelselmatig ons eie maak, sal dit ons besonder baie help om ons in godvrugtige toegewydheid te oefen. Het jy hierdie nuwe publikasies al gelees?
’N NUWE BROSJURE
3 Die oortuigende skriftuurlike argumente in die brosjure Moet jy aan die Drie-eenheid glo? help ons nie net om te bewys dat die Drie-eenheid ’n valse leerstelling is wat verwerp moet word nie, maar ook om die waarheid aangaande God, sy Seun en die heilige gees aan ander te verduidelik.
4 Ons Bybelse standpunt is dat “daar vir ons maar een God, die Vader, [is]” (1 Kor. 8:6). Hierdie nuwe brosjure sal ons help om die onjuistheid van die heidense Drie-eenheidsleer aan die kaak te stel terwyl ons alle sagmoediges aanspoor om hul daarvan te vergewis ‘dat God waaragtig is al sou elke mens ’n leuenaar bevind word’.—Rom. 3:4, NW.
ANTWOORDE OP JONGMENSE SE VRAE
5 Ons sal nie gou die reguit byeenkomstoespraak en die spesiale reëling vergeet toe die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk vrygestel is nie. Hoewel dit vir jongmense geskryf is, is ouers, veral vaders, aangespoor om die boek te gebruik om hulle kinders op te lei en ‘in die tug en vermaning van die Here op te voed’.—Ef. 6:4.
6 Ouers sowel as kinders moet deeglik vertroud raak met hierdie uiters belangrike informasie wat Jehovah se organisasie voorsien het om jongmense te help om hulle voortdurend in godvrugtige toegewydheid te oefen. Die byeenkomstoespraak het getoon dat dit tydens gesinsbesprekings gedoen kan word. As julle nog nie van die inligting in die Jongmense vra-boek gedurende julle weeklikse gesinstudie gebruik het nie, kan julle gerus hierdie week begin om hierdie puik voorsiening van Jehovah te gebruik.
GOD SE WOORD—NIE DIE MENS S’N NIE
7 Die nuwe boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n, wat op die tweede dag vrygestel is, is geskryf om opregtes van hart te help verstaan dat die Bybel geïnspireer is en dat dit ‘die waarheid bevat wat met godvrugtige toegewydheid ooreenkom’ (Tit. 1:1, NW). Wat ’n seën sal hierdie nuwe boek tog nie in ons werk wees nie! Maar as ons die boek suksesvol in die veld wil gebruik, moet ons vertroud raak met die leermetodes daarvan en die aandag op spesifieke gedagtes in die boek kan vestig wanneer ons dit in die velddiens gebruik.
8 Hoe dankbaar is ons almal tog teenoor Jehovah vir die oorvloed tydige geestelike voedsel wat ons by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms ontvang het! Laat ons vasbeslote wees om opregte waardering te toon deur hierdie hulpmiddels ywerig te gebruik terwyl ons godvrugtige toegewydheid nastreef. Dit sal insluit dat ons hierdie publikasies gebruik om ander te help sodat hulle aanbidders van ons een God en Vader, Jehovah, kan word.
9 Gedurende Februarie sal ons ons daarop toelê om party van ons ouer publikasies te versprei. Ons aanbod vir die maand is ’n verskeidenheid sakformaatboeke wat voor 1980 uitgegee is teen ’n bydrae van R1,00 (Engels: Die boek Survival Into a New Earth teen ’n bydrae van R2,50). Mag ons elke geleentheid aangryp om ander gedurende Februarie te help om godvrugtige toegewydheid as hulle doel na te streef.