Die wêreldwye verkondiging van goeie nuus
GOD se Koninkryk heers! Dit is die heel beste nuus. Dit is waarom meer as 3 700 000 Getuies van Jehovah in 1989 die “goeie nuus” wat deur Jesus voorspel is en die “blye tyding” wat deur die engel in Johannes se visioen aangekondig is met geesdrif dwarsdeur die wêreld verkondig het (Mattheüs 24:14, NW; Openbaring 14:6, NW). Dit is soos die apostel Paulus gesê het: “Oor die hele aarde het hulle stem uitgegaan en tot by die eindes van die wêreld hulle woorde” (Romeine 10:18). En mense uit bykans elke nasie en stam en taal en volk het met blydskap gereageer op hulle uitroep: “Vrees God en gee Hom heerlikheid”!—Openbaring 14:7.
Geen lewensversekering meer nie
Een van daardie persone was ’n man in Engeland wat sy bestaan gemaak het uit die onsekerheid van die lewe. Ken was ’n versekeringsagent, en toe hy besoek afgelê het by ’n huis waar Getuies van Jehovah gewoon het, het hulle hom gevra: “Sal jy daarvan hou om in ’n wêreld te lewe waar lewensversekering onnodig sal wees?” Wat het hulle bedoel? Dat baie dinge wat die lewe nou so onseker maak, onder meer siekte en die dood, volgens die Bybel onder God se Koninkryk nie meer sal bestaan nie.
Is so iets moontlik? Ja, God self het dit belowe. Die Bybel sê byvoorbeeld: “God self sal by hulle [die mensdom] wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). Wat sal so ’n verandering kan teweegbring? God se Koninkryk. Volgens God se Woord sal dit binnekort “al daardie [hedendaagse politieke] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”.—Daniël 2:44.
Gedurende hulle wêreldwye predikingskampanje het Jehovah se Getuies dergelike tekste onder die aandag van honderdmiljoene mense gebring. Talle mense het, soos Ken, besef dat dit nie net wensdenkery is nie. Die bewyse is onomstootlik. Hierdie goddelike beloftes is betroubaar en gaan binnekort vervul word.
’n Veranderde stel waardes
Diegene wat na Jehovah se Getuies luister wanneer hulle die woorde van die vreugdevolle verklaring van die engel tot hulle eie maak, besef dat meer as net geloof in die Bybel se beloftes nodig is as ’n mens God wil eer en hom heerlikheid wil gee. Dit verander hulle hele beskouing en verlig baie van die frustrasies van die lewe.
Rafael en sy vrou het gevind dat dit waar is. Hulle woon in Argentinië, en toe hulle meer as 40 jaar gelede getroud is, het hulle dit hul hoofdoel in die lewe gemaak om hard te werk en te spaar vir ’n veilige toekoms. Maar 21 jaar daarna was al wat hulle vir hulle harde werk kon wys ’n klein huisie wat voortdurend aandag nodig gehad het. Hulle het nie enigsins veiliger gevoel as kort na hulle troue nie.
Toe hoor hulle die goeie nuus by Jehovah se Getuies en leer hulle van ’n beter soort rykdom en ’n beter soort veiligheid. Jesus het in sy Bergpredikasie hiervan gepraat toe hy gesê het: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie; maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.”—Mattheüs 6:19, 20.
Hoewel die Bybel ons nie leer om onprakties te wees wat materiële rykdom betref nie, maan dit ons wel om nie ons hoop op sulke dinge te stel nie (Prediker 7:12). Ons moet eerder werk om geestelike rykdom te verkry deur die Bybel te bestudeer, van God se wil te leer en die uitvoering van daardie wil die belangrikste in ons lewe te maak (Mattheüs 6:33). Rafael en sy vrou het hierdie geestelike rykdom begin opgaar, en nou voel hulle waarlik ryk, nie weens hulle finansiële situasie nie, maar weens hulle verhouding met God (Openbaring 3:17, 18). Die boodskap van God se Koninkryk was vir hulle baie goeie nuus.
’n Huwelik gered
Die goeie nuus is ’n ware krag ten goede. John, wat in Engeland woon, het byvoorbeeld nie in die Bybel belanggestel nie, maar sy vrou en kinders het. Hulle het dus vergaderinge van Jehovah se Getuies begin bywoon terwyl John saam met sy vriende gaan drink het. Hy het gevolglik straf begin drink en rook en het hom later aan onsedelikheid skuldig gemaak. Eindelik het hy sy vrou verlaat en met ’n ander vrou begin saamlewe.
’n Egskeidingsaak is aanhangig gemaak. Maar John was verbaas om te sien dat sy vrou—wat Christelike gedrag uit haar studie van die goeie nuus geleer het—hom nog steeds bedagsaam behandel het. John kon dit nie kleinkry nie. Drie weke voor die egskeiding afgehandel is, het die Christelike gedrag van John se vrou vrugte afgewerp. Hy het ware berou oor sy gedrag uitgespreek, en daar is nie voortgegaan met die skeisaak nie. John het toe self die goeie nuus ondersoek en die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer. Nou is hy ook ’n Christen en, saam met sy vrou, vertel hy ander van die goeie nuus van die Koninkryk.
In hierdie dae wanneer gesinne verbrokkel, het baie die hulp nodig wat die Bybel se goeie nuus bied. Een van Jehovah se Getuies in Peru het in die vliegtuig langs ’n leërkolonel gesit. Hulle het begin gesels en die kolonel het oor sy gesinsprobleme begin praat, onder andere die feit dat sy vrou aan dwelms verslaaf was en op die punt gestaan het om hom vir ’n jonger man te verlaat. Die Getuie het hom taktvol gewys dat die Bybel goeie, betroubare raad oor gesinsake gee en dat dit ook hom gehelp het om probleme in sy gesin op te los.—Efesiërs 5:21–6:4.
Die kolonel het die Getuie bedank vir sy vertroostende woorde en op Die Wagtoring en Ontwaak! ingeteken sodat hy meer van die goeie nuus kon leer. Toe die Getuie van die vliegtuig afgeklim het, het ’n jong paar hulle gehaas om hom in te haal en gevra om met hom te praat. “Ons het reg voor jou gesit”, het hulle gesê, “en ons het jou gesprek met die man gehoor. Ons wil ook graag op daardie tydskrifte inteken.” Hulle wou ook van die goeie nuus leer wat lewens kan verbeter.
’n Veranderde lewe
Daarbenewens verander die Bybel se goeie nuus mense. Die apostel Paulus het gesê: “Die woord van God is lewend en kragtig” (Hebreërs 4:12). Dit was die geval met ’n jong man in Macedonië, Griekeland. Hy was verbaas toe hy leer dat God se naam, volgens die Bybel, Jehovah is. Hy het dus ’n vriend gevra om hom so gou moontlik met Jehovah se Getuies in kontak te bring. Twee besprekings met die Getuies is gereël, waarvan elkeen ongeveer vier uur geduur het. Die jong man het toe ’n gereelde studie van die Bybel begin, en die eerste een het tot twee-uur die oggend geduur!
Na daardie eerste studie het die jong man sy lewe gou na Bybelse standaarde geskik. Hy het vergaderinge vir aanbidding saam met Jehovah se Getuies bygewoon en het die Skepper baie liefgekry. En Jehovah het hom gevolglik geseën. Gedurende die eerste week van sy Bybelstudie het hy sy lang hare laat sny. Die tweede week het hy opgehou om na kroeë en disko’s te gaan om opwindende maats te soek. Die derde week het hy sy laaste sigaret weggegooi. Nadat hy twee maande lank gestudeer het, het hy begin om saam met die Getuies die goeie nuus van die Koninkryk aan ander te vertel. Ja, hy was bly dat Jehovah se Getuies die goeie nuus na sy deel van die aarde gebring het.
Die goeie nuus in die tronk
Selfs tronktralies kan die goeie nuus nie keer nie. In Spanje dien ’n jong man genaamd José ’n lang vonnis uit weens gewapende roof en ander misdade. Maar Jehovah se Getuies kon hom van die goeie nuus vertel, en die Bybel se boodskap het sy beskouing heeltemal verander. Jehovah het hom ‘krag gegee’.—Filippense 4:13.
José sê dat hy heel moontlik die res van sy lewe in hierdie stelsel van dinge agter tralies sal deurbring weens sy vroeëre gedrag. Maar hy is gedoop en is nou ’n Christen. Sy vrou ondersteun hom ten volle en sy probeer om hulle seuntjie Christelik groot te maak. Intussen verkondig José die goeie nuus aan medegevangenes, mense wat moeilik bereikbaar is vir diegene wat nie in die tronk is nie. Nou is sy selmaat ook ’n gedoopte Christen.
Hierdie is maar ’n paar voorbeelde wat die resultate van die wêreldwye predikingskampanje van Jehovah se Getuies toon. Die goeie nuus wat deur die onsigbare engel bekend gemaak word, is inderdaad deur Jehovah se Getuies oorgedra “as blye tyding . . . aan die bewoners van die aarde en aan elke nasie en stam en taal en volk”.
Dit is die heel beste nuus en dit is die mensdom se enigste hoop. Ons spoor jou aan om daarop ag te slaan. Soos Ken en John in Engeland, soos Rafael en sy vrou in Argentinië, soos José in Spanje en soos talle ander, verenig ons ons stemme met dié van die engel en spoor ons almal aan met die woorde: “Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.”—Openbaring 14:7.