Bybelboek nommer 51—Kolossense
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Rome
Geskrif voltooi: ca. 60–61 G.J.
1. Waar was die dorp Kolosse geleë?
TWEE mans het Efese agtergelaat en ooswaarts deur Klein-Asië al langs die Meanderrivier (Menderesrivier) gereis. Toe hulle die takrivier genaamd Likos in die land Frigië bereik, het hulle in ’n suidoostelike rigting geswaai om die rivier stroom-op deur die vallei tussen die berge te volg. Voor hulle was ’n pragtige gesig: vrugbare groen weivelde met groot troppe skape. (Wolprodukte was ’n vername bron van inkomste vir hierdie streek.a) Hoër op in die vallei het die reisigers aan hulle regterkant die ryk stad Laodicea, die sentrum van Romeinse bestuur vir die distrik, gesien. Aan hulle linkerkant, oorkant die rivier, het Hiërapolis gelê, bekend vir sy tempels en warmbronne. Daar was Christengemeentes in albei hierdie stede, asook in die dorpie Kolosse, omtrent sestien kilometer hoër op in die vallei.
2. (a) Wie was die twee gesante wat deur Paulus na Kolosse gestuur is? (b) Wat is bekend oor die gemeente in Kolosse?
2 Kolosse was die reisigers se bestemming. Hulle was albei Christene. Ten minste een van hulle het die streek goed geken, aangesien hy van Kolosse was. Sy naam was Onesimus, en hy was ’n slaaf wat op pad terug was na sy meester, ’n lid van die gemeente aldaar. Onesimus se metgesel was Tichikus, ’n vryman, en albei was gesante van die apostel Paulus wat ’n brief van hom by hulle gehad het. Die brief was gerig aan die “gelowige broeders in Christus wat in Kolosse is”. Sover ons weet, het Paulus Kolosse nooit besoek nie. Die gemeente, wat hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan het, is waarskynlik deur Epafras gestig, wat onder hulle gearbei het en wat nou by Paulus in Rome was.—Kol. 1:2, 7; 4:12.
3. Wat onthul die brief Kolossense self oor die skrywer, asook oor wanneer en waar dit geskryf is?
3 Die apostel Paulus was die skrywer van hierdie brief, soos hy in die eerste en laaste woorde daarvan sê (1:1; 4:18). In sy slot meld hy ook dat hy dit vanuit die gevangenis skryf. Dit sou ten tyde van sy eerste gevangenskap in Rome in 59-61 G.J. gewees het, toe hy ’n aantal bemoedigende briewe geskryf het, waarvan die brief aan die Kolossense saam met een aan Filemon gestuur is (Kol. 4:7-9; Fil. 10, 23). Dit is vermoedelik omtrent dieselfde tyd as die brief aan die Efesiërs geskryf, aangesien baie gedagtes en uitdrukkings dieselfde is.
4. Wat getuig van die egtheid van Kolossense?
4 Daar is geen rede om die egtheid van die brief aan die Kolossense te betwyfel nie. Die feit dat dit saam met ander Pauliniese briewe in die Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46) van omstreeks 200 G.J. voorkom, toon dat die vroeë Christene dit as een van Paulus se briewe aanvaar het. Dieselfde vroeë gesaghebbendes wat getuig van die egtheid van Paulus se ander briewe getuig ook van die egtheid van hierdie brief.
5. (a) Wat het Paulus beweeg om aan die Kolossense te skryf? (b) Wat word in die brief benadruk?
5 Wat het Paulus beweeg om ’n brief aan die Kolossense te skryf? In die eerste plek het Onesimus na Kolosse teruggekeer. Epafras het kort tevore by Paulus aangesluit, en sy berig oor toestande in Kolosse het ongetwyfeld nog ’n rede vir die brief verskaf (Kol. 1:7, 8; 4:12). ’n Sekere gevaar het die Christengemeente aldaar bedreig. Die godsdienste van daardie tyd was aan die ontbind en nuwe godsdienste is voortdurend gevorm deur dele van die oues saam te smelt. Daar was heidense filosofieë in verband met asketisme, spiritisme en afgodiese bygelowe, en dít, tesame met die Joodse onthouding van voedselsoorte en inagneming van dae, het dalk party in die gemeente beïnvloed. Wat ook al die probleem was, dit was blykbaar genoeg rede vir Epafras om die lang reis na Rome te onderneem om Paulus te besoek. Dat die gemeente in sy geheel egter nie in onmiddellike gevaar verkeer het nie, word aangedui deur Epafras se bemoedigende berig oor hulle liefde en standvastigheid. By die aanhoor van die berig het Paulus hom gedronge gevoel om juiste kennis en rein aanbidding kragtig te verdedig deur hierdie brief aan die gemeente in Kolosse te skryf. Dit het die godgegewe voortreflikheid van Christus in vergelyking met heidense filosofieë, die aanbidding van engele en Joodse oorleweringe benadruk.
INHOUD VAN KOLOSSENSE
6. (a) Wat bid Paulus ten behoewe van die Kolossense? (b) Wat bespreek Paulus rakende Jesus se posisie en bediening in verband met die gemeente?
6 Stel geloof in Christus, die hoof van die gemeente (1:1–2:12). Na die openingsgroete van hom en Timotheüs spreek Paulus dank uit vir die Kolossense se geloof in Christus en vir hulle liefde. Danksy Epafras se verkondiging van die goeie nuus onder hulle het hulle van God se onverdiende goedheid geleer. Sedert Paulus die berig oor hulle ontvang het, het hy nie opgehou bid nie dat hulle vervul mag word met “die [juiste] kennis van sy wil in alle wysheid en geestelike insig, sodat [hulle] waardiglik voor die Here mag wandel” en volkome kan volhard en “lankmoedigheid met blydskap” kan hê (1:9-11). Die Vader het hulle bevry en oorgebring in “die koninkryk van die Seun van sy liefde”, wat die beeld van die onsigbare God is en deur wie en vir wie alle dinge geskep is. Hy is die Hoof van die gemeente en die eersgeborene uit die dode. God het dit goedgedink om alle dinge deur Jesus se bloed weer met homself te versoen, ja, met inbegrip van die eens vervreemde Kolossense, ‘mits hulle natuurlik in die geloof vas bly’.—1:13, 23.
7. Wat verkondig Paulus, en met watter doel?
7 Paulus verheug hom daarin dat hy die lyding van die Christus kan aanvul ten behoewe van die gemeente, wie se bedienaar hy geword het. Dít was sodat hy in hulle belang ten volle die woord van God kon verkondig oor ‘die heilige geheim, waarvan dit God nou behaag het om die glorieryke rykdom aan sy heiliges bekend te maak’. ‘Ons verkondig Christus’, sê Paulus, ‘terwyl ons vermaan en in alle wysheid onderrig, om elke mens in eendrag met Christus volkome te kan aanbied.’—1:26-28.
8. Waarom stry Paulus ten behoewe van sy broers?
8 Die doel van Paulus se stryd ten behoewe van die Kolossense, die Laodicense en ander is sodat hulle vertroos en in harmonie saamgevoeg kan word in liefde, sodat hulle juiste kennis kan verkry van ‘die heilige geheim van God, naamlik Christus, in wie al die skatte van wysheid en van kennis verborge is’. Hy wil nie sien dat hulle deur oorredende argumente mislei word nie, maar hulle moet eerder voortgaan om in eendrag met Christus te wandel, “gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof”. Paulus gee nou ’n waarskuwing. “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense.”—2:2, 3, 7, 8, vgl. NW.
9. Teen watter soort aanbidding waarsku Paulus, en waarom moet die Kolossense hulle nie aan die Wet onderwerp nie?
9 Dood ten opsigte van werke van die vlees maar lewend ten opsigte van Christus (2:13–3:17). Hoewel hulle dood was in hulle oortredinge en onbesnedenheid, het God hulle saam met Christus lewend gemaak deur die handgeskrewe dokument van die Wet, wat teen die Jode was, uit te wis. ‘Laat niemand hulle dan oordeel’ met betrekking tot die Wet of die vieringe daarvan nie, wat bloot ’n skaduwee van die werklikheid, Christus, is. As hulle bowendien saam met Christus gesterf het ten opsigte van die elementêre dinge van die wêreld, waarom onderwerp hulle hulleself dan aan die verordeninge: “Raak nie, smaak nie, roer nie aan nie”, in ooreenstemming met die gebooie en leringe van mense? ’n Opsigtige selfopgelegde vorm van aanbidding, skynnederigheid en streng behandeling van die liggaam—dit het geen waarde in die bestryding van die begeertes van die vlees nie.—2:16, 21.
10. Hoe kan ’n mens die dinge daarbo bly soek en met die nuwe persoonlikheid beklee wees?
10 Paulus maan eerder: “Soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.” Dit kan gedoen word deur die ou persoonlikheid af te lê en hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee, wat deur juiste kennis geen vleeslike onderskeid tussen Jood en Griek maak nie, want “Christus is alles en in almal”. Dit beteken dat hulle hulle “as uitverkorenes van God” met innerlike ontferming, goedertierenheid, vriendelikheid, nederigheid, sagmoedigheid en lankmoedigheid beklee. Die apostel sê: “Soos [Jehovah] julle vergeef het, so moet julle ook doen. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” In woord of in daad, “doen alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom”.—3:1, 2, 11-14, 17, vgl. NW.
11. (a) Watter raad word oor die gesin en ander verhoudinge gegee? (b) Watter groete word ten slotte oorgedra?
11 Verhoudinge met ander (3:18–4:18). En wat gesinsverhoudinge betref, laat vroue aan hulle mans onderdanig wees en laat mans hulle vroue liefhê, laat kinders ouers gehoorsaam en laat vaders nie hulle kinders terg nie. Slawe moet aan hulle meesters gehoorsaam wees uit vrees vir Jehovah, en meesters moet hulle slawe regverdig behandel. Laat almal volhard in die gebed en voortgaan om in wysheid te wandel teenoor dié wat buite is. Tichikus en Onesimus sal hulle persoonlik alles oor Paulus en sy medewerkers vir die Koninkryk van God vertel. Hulle stuur groete aan Kolosse, en Paulus groet ook die broers in Laodicea, met die versoek dat hulle die briewe wat hy stuur onderling ruil. Paulus skryf ’n slotgroet met sy eie hand: “Dink aan my boeie. Die genade sy met julle!”—4:18.
WAAROM NUTTIG
12. Watter verkwikkende waarhede het Paulus se brief aan die Kolossense verskaf, en met watter nut vir die gemeente?
12 Ons kan ons voorstel hoe gou die nuus oor die aankoms van die twee broers uit Rome onder die broers in Kolosse versprei het. Hulle sou vol verwagting vergader het, moontlik in Filemon se huis, om na die voorlesing van Paulus se brief te luister (Fil. 2). Watter verkwikkende waarhede het dit tog verskaf oor Christus se presiese posisie en die nodigheid van juiste kennis! Hoe duidelik tog is die filosofieë van mense en Joodse oorleweringe aan die kaak gestel en is die vrede en die woord van die Christus verhoog! Hier was voedsel vir die verstande en harte van almal in die gemeente—opsieners, mans, vroue, vaders, kinders, meesters, slawe. Daar was sekerlik goeie raad vir Filemon en Onesimus, wat die verhouding van meester en slaaf hervat het. Watter uitstekende leiding is vir die opsieners gegee om die kudde tot die juiste leer terug te bring! Hoe het Paulus se woorde tog die Kolossense se waardering verinnig vir hulle voorreg om heelhartig te werk soos vir Jehovah! En die opbouende raad aan die Kolossense om hulle vry te maak van die verslawende gedagtes en gebruike van die wêreld is vandag nog ’n lewende boodskap vir die gemeente.—Kol. 1:9-11, 17, 18; 2:8; 3:15, 16, 18-25; 4:1.
13. Wat maan Paulus met betrekking tot aangename woorde, gebed en Christelike omgang?
13 Uitstekende raad word in Kolossense 4:6 vir die Christenbedienaar gegee: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.” Aangename woorde van waarheid sal vir opregtes van hart aantreklik wees en vir hulle blywende voordele tot gevolg hê. Verder sal die waaksame gebed van die Christen, wat uit ’n waarderende hart gedoen word, ryk seëninge van Jehovah meebring: “Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging.” En watter vreugde en opbouende verkwikking bring Christelike omgang tog mee! “Leer en vermaan mekaar”, sê Paulus, “en sing in julle hart . . . tot eer van die Here” (4:2; 3:16). Jy sal nog baie ander juwele van gesonde, praktiese onderrig vind wanneer jy die brief aan die Kolossense deurvors.
14. (a) Watter werklikheid word in Kolossense benadruk? (b) Hoe word die Koninkrykshoop beklemtoon?
14 Oor die vieringe van die Wet sê die brief: “Daardie dinge is ’n skaduwee van die toekomende dinge, maar die werklikheid behoort aan die Christus” (2:17, NW). Dit is hierdie werklikheid van die Christus wat in Kolossense benadruk word. Die brief praat dikwels van die glorieryke hoop wat in die hemele weggelê is vir diegene wat in eendrag met Christus is (1:5, 27; 3:4). Hulle kan baie dankbaar wees dat die Vader hulle reeds uit die mag van die duisternis verlos het en hulle oorgebring het “in die koninkryk van die Seun van sy liefde”. Daardeur het hulle in onderworpenheid gekom aan Hom wat “die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping [is]; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte”. Hý is hoogs bekwaam om in regverdigheid in die Koninkryk van God te regeer. Derhalwe vermaan Paulus die gesalfde Christene: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.”—1:12-16; 3:1.
[Voetnoot]
a The New Westminster Dictionary of the Bible, 1970, bladsy 181.