Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 11/15 bl. 24-25
  • Juwele uit Lukas se Evangelie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Juwele uit Lukas se Evangelie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Paar unieke kenmerke
  • Hartroerende gebeure
  • Uit ’n geneesheer se pen
  • Insig in gebruike
  • Lesse in nederigheid
  • Bybelboek nommer 42—Lukas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Lukas—’n Geliefde medewerker
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Wat is die Evangelie werklik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Glanspunte uit die boek Lukas
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 11/15 bl. 24-25

Juwele uit Lukas se Evangelie

JEHOVAH se Seun, Jesus Christus, is bekend vir sy barmhartigheid. Hoe gepas is dit dan dat die Evangelieskrywer Lukas barmhartigheid, genade en meegevoel beklemtoon! Hy het ’n waarlik verblydende verslag oor Jesus se lewe op aarde vir Jode sowel as nie-Jode geskryf.

Sekere aspekte van hierdie Evangelie dui aan dat ’n geleerde persoon dit geskryf het. Dit het byvoorbeeld ’n klassieke inleiding en ’n uitgebreide woordeskat. Sulke punte strook met die feit dat Lukas ’n geletterde geneesheer was (Kolossense 4:14). Hoewel hy eers na Jesus se dood ’n gelowige geword het, het hy Paulus ná sy derde sendingreis na Jerusalem vergesel. Na Paulus se gevangeneming aldaar en sy gevangenskap in Cesarea kon hierdie noukeurige navorser dus inligting versamel deur onderhoude met ooggetuies te voer en argiewe te raadpleeg (1:1-4; 3:1, 2). Sy Evangelie is moontlik te Cesarea op die een of ander tyd gedurende die apostel se twee jaar lange gevangenskap daar, omstreeks 56-58 G.J., geskryf.

’n Paar unieke kenmerke

Ten minste ses van Jesus se wonderwerke word net in Lukas se Evangelie aangetref. Hulle is: die wonderlike visvangs (5:1-6); die opwekking van die weduwee van Nain se seun (7:11-15); die genesing van ’n lam vrou (13:11-13); die genesing van die man wat die water gehad het (14:1-4); die genesing van tien melaatses (17:12-14); en die genesing van die oor van die hoëpriester se dienskneg.—22:50, 51.

Sommige van Jesus se gelykenisse word ook net in Lukas se verslag aangetref. Dit is onder meer: die twee skuldenaars (7:41-47); die barmhartige Samaritaan (10:30-35); die onvrugbare vyeboom (13:6-9); die groot maaltyd (14:16-24); die verlore seun (15:11-32); die ryk man en Lasarus (16:19-31); en die weduwee en die onregverdige regter.—18:1-8.

Hartroerende gebeure

Die geneesheer Lukas was besorg oor vroue, kinders en die bejaardes. Net hy het oor Elisabet se onvrugbaarheid, haar bevrugting en die geboorte van Johannes geskryf. Net sy Evangelie het die engel Gabriël se verskyning aan Maria gemeld. Lukas is beweeg om te sê dat Elisabet se baba in haar baarmoeder gespring het toe Maria met haar gepraat het. Net hy het van Jesus se besnydenis en sy voorstelling by die tempel vertel, waar die bejaarde Simeon en Anna Hom gesien het. En wat ons van Jesus en Johannes die Doper se kinderjare weet, is ons aan Lukas se Evangelie verskuldig.—1:1–2:52.

Toe Lukas geskryf het oor die bedroefde weduwee van Nain wat haar enigste seun aan die dood afgegee het, het hy gesê dat Jesus “innig jammer vir haar gevoel” het en toe die jong man opgewek het (7:11-15). Die verblydende gebeurtenis met Saggeüs, ’n hoof van die tollenaars, is net in Lukas se Evangelie opgeteken. Omdat hy kort was, het hy in ’n boom geklim om Jesus te sien. Wat ’n verrassing was dit tog toe Jesus gesê het dat hy in Saggeüs se huis sal bly! Lukas toon dat die besoek ’n groot seën vir die gelukkige gasheer was.—19:1-10.

Uit ’n geneesheer se pen

Hierdie Evangelie bevat baie uitdrukkings of woorde met mediese betekenisse of van mediese belang. Ander skrywers van die Christelike Griekse Skrifte gebruik hierdie woorde óf glad nie, óf nie in ’n mediese sin nie. Maar ons kan mediese taal uit ’n geneesheer se pen verwag.

Net Lukas het byvoorbeeld gesê dat Petrus se skoonma “’n hewige koors” gehad het (4:38). Hy het ook geskryf van “’n man vol van melaatsheid”! (5:12). Vir ander Evangelieskrywers was dit genoeg om net die melaatsheid te noem. Maar nie vir die geneesheer Lukas nie, wat getoon het dat die man se siekte in ’n gevorderde stadium was.

Insig in gebruike

Lukas het gesê dat Maria Jesus na sy geboorte ‘in doeke toegedraai het’ (2:7). Dit was gebruiklik om ’n pasgebore baba te was en met sout te vryf, moontlik om die vel droog en ferm te maak. Daarna is die baba amper soos ’n mummie in doeke toegedraai. Die doeke het die liggaam reguit en warm gehou, en die feit dat dit onder die ken en oor die kop gedraai is, het die kindjie moontlik geleer om deur die neus asem te haal. ’n Negentiende-eeuse verslag oor soortgelyke toedraaigebruike het ’n besoeker aan Betlehem aangehaal wat gesê het: “Ek het die mensie in my arms geneem. Sy liggaam was so styf met wit en purper linne toegedraai dat dit reguit en onbuigbaar was. Sy hande en voete was heeltemal vas, en sy kop was toegedraai met ’n sagte rooi tjalie wat in klein voutjies onder sy ken en oor sy voorkop gevou was.”

Lukas se Evangelie gee ons ook insig in eerste-eeuse begrafnisgebruike. Jesus was naby die poort van Nain toe hy gesien het dat “daar net ’n dooie uitgedra [word], die enigste seun van sy moeder [’n weduwee]”, en “’n groot menigte van die stad was by haar” (7:11, 12). Begrafnisse het gewoonlik buite ’n stad plaasgevind, en vriende van die oorledene het die liggaam na die graf vergesel. Die draagbaar was moontlik van rottang gemaak en het pale gehad wat by die hoeke uitgesteek het sodat vier mans dit op hulle skouers kon dra terwyl die lykstoet na die graf geloop het.

In nog ’n gelykenis wat deur Lukas opgeteken is, het Jesus gepraat van ’n man wat deur rowers geslaan is. ’n Barmhartige Samaritaan het “sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi” (10:34). Dit was ’n gebruiklike manier om wonde te versorg. Olyfolie sou die wonde versag en streel (Jesaja 1:6). Maar wat van wyn? The Journal of the American Medical Association het gesê: “Wyn was ’n vername geneesmiddel in Griekeland. . . . Hippokrates van Kos (460-370 v.C.) . . . het wyn op groot skaal gebruik en het dit as ’n wondsalf, ’n koelmiddel vir koors, ’n purgeermiddel en ’n urineermiddel voorgeskryf.” Jesus se illustrasie het gesinspeel op die kiemwerende en ontsmettende eienskappe van wyn, sowel as die doeltreffendheid van olyfolie om wonde te help genees. Die doel van die gelykenis is natuurlik om te toon dat ’n mens barmhartig teenoor jou naaste moet optree. Dit is hoe ons ander moet behandel.—10:36, 37.

Lesse in nederigheid

Net Lukas het ’n gelykenis vertel wat Jesus gegee het toe hy gesien het hoe gaste die beste plekke by ’n maaltyd kies. Tydens onthale het die gaste op banke gelê wat langs drie kante van ’n tafel geplaas is. Tafelbediendes het aan die vierde kant toegang tot die tafel gehad. Daar was gewoonlik drie mense op elke bank, elkeen met die gesig na die tafel terwyl hy op die linkerelmboog gerus en kos met die regterhand geneem het. Die drie posisies het getoon dat ’n persoon die voorste, middelste of agterste plek op die bank gehad het. Die een wat die agterste posisie op die derde bank gehad het, het die agterste plek by die maaltyd gehad. Jesus het gesê: ‘Wanneer jy na ’n ete genooi is, neem die agterste plek in; sodat die gasheer vir jou sal sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is’ (14:7-10). Ja, laat ons nederig wees en ander voor ons stel. Trouens, toe Jesus die gelykenis toegepas het, het hy gesê: “Elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.”—14:11.

Nog een van Jesus se gelykenisse wat nederigheid beklemtoon en net in Lukas se Evangelie aangetref word, handel oor ’n tollenaar en ’n Fariseër wat in die tempel bid. Die Fariseër het onder meer gesê: “Ek vas twee keer in die week” (18:9-14). Die Wet het net een jaarlikse vastyd vereis (Levitikus 16:29). Maar die Fariseërs het tot uiterstes gegaan wanneer hulle gevas het. Die Fariseër in die gelykenis het op die tweede dag van die week gevas omdat die gedagte vroeër bestaan het dat dit die tyd was toe Moses teen die berg Sinai opgeklim het, waar hy die twee tafels van die Getuienis ontvang het. Hy het glo op die vyfde dag van die week teen die berg afgeklim (Exodus 31:18; 32:15-20). Die Fariseër het hierdie halfweeklikse vastyd as ’n bewys van sy vroomheid gemeld. Maar hierdie gelykenis moet ons beweeg om nederig te wees, en nie selfvoldaan nie.

Hierdie juwele uit Lukas se Evangelie bewys dat dit uniek en leersaam is. Hierdie verslag help ons om roerende gebeure tydens Jesus se lewe op aarde te herleef. Ons vind ook baat by die agtergrondinligting oor sekere gebruike. Maar ons sal veral geseën word as ons sulke lesse toepas, soos dié oor genade en nederigheid, wat Lukas, die geliefde geneesheer, ons so goed in hierdie Evangelie leer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel