-
Ware Christene is KoninkrykspredikersDie Wagtoring – 1985 | Augustus 1
-
-
tydskrif en sy medeblad Ontwaak!) en is veral bekend vir hulle prediking van huis tot huis.
19. Hoe word besluite geneem oor die predikingsmetodes wat Jehovah se Getuies vandag gebruik?
19 Die basiese vorme van die bediening wat nou deur Jehovah se Getuies gebruik word, was goed gevestig in die eerste eeu. Bowendien is dit gepas dat die hedendaagse Bestuursliggaam van gesalfde Christene besluit watter predikingsmetodes vandag geskik is. Sulke besluite kan deels op “die wysheid en praktiese ondervinding” van hierdie manne gegrond wees. Maar bowenal neem hulle besluite soos die eerste-eeuse, Christelike bestuursliggaam dit gedoen het. Daar word gebid om die leiding van God en sy heilige gees, en Skriftuurlike presedente word gevolg wanneer daar bepaal word watter predikingsmetodes in hierdie “laaste dae” die geskikste is.—2 Timotheüs 3:1; Handelinge 15:23, 28.
20. (a) Waarom kan ons seker wees dat die predikingsmetodes van Jehovah se Getuies goddelike goedkeuring geniet? (b) Watter beskouing moet al Jehovah se knegte van die Koninkryksprediking hê?
20 Dit is duidelik dat die predikingsmetodes wat Jehovah se Getuies gebruik aan goddelike bestiering te danke is, want God het hierdie metodes met groot voorspoed en seëninge bekroon (Spreuke 10:22). ’n Menigte skaar hulle aan die kant van ware aanbidding en sluit by die oorblyfsel van Jesus se gesalfde volgelinge aan as deel van die enigste organisasie wat Jehovah se heilige naam eer en onbevrees die goeie nuus van die opgerigte hemelse Koninkryk verkondig. Mag al Jehovah se knegte dan aanhou om hulle in te span in die werk om dissipels te maak terwyl hierdie stelsel sy einde nader. Dit moet ons getrou doen, want ware Christene is onteenseglik Koninkrykspredikers.
-
-
Onderrig met vaardigheid en ywerDie Wagtoring – 1985 | Augustus 1
-
-
Onderrig met vaardigheid en ywer
“Gaan dan heen, maak dissiples van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—MATTHEÜS 28: 19.
1. Wat word in Spreuke 22:29 aangemoedig, en hoe so?
JEHOVAH SE WOORD moedig vaardigheid en vlyt aan. Dit sê byvoorbeeld: “Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie” (Spreuke 22:29). Dit is natuurlik geen vernedering om vir “geringes” te werk nie. Maar die vaardige vakman se voortreflike werk sal nie verborge bly nie. Die nuus oor sy vaardigheid kan selfs die ore van ’n koning bereik, wat heel moontlik sy dienste sal wil bekom!
2. (a) Wat is nodig om vaardig te word in ’n beroep? (b) Waarom is dit so belangrik dat ’n Christenbedienaar ’n bekwame onderrigter moet wees?
2 Kennis en vaardigheid is in elke beroep nodig. ’n Man kan ’n studie maak van timmerwerk en kan ook heelwat leer deur bedrewe ambagsmanne dop te hou. Maar om self vaardig te word, moet hy sy kennis in die praktyk toepas. ’n Chirurg het opleiding nodig. Maar om bekwaam te word, moet hy sy kennis in die operasiesaal gebruik. En in daardie beroep is vaardigheid uiters noodsaaklik, want bekwaamheid kan dikwels vir die pasiënt die verskil tussen lewe en dood beteken. Bedrewenheid as ’n bedienaar is egter van veel groter belang. Waarom? Omdat die bedienaar se onderrigvermoë bes moontlik mense se reaksie op die goeie nuus sal beïnvloed. En hulle reaksie kan weer vir hulle die verskil tussen die ewige lewe en die ewige dood beteken.—Deuteronomium 30:19, 20; Johannes 17:3.
3. Wat verg dit om dissipels te maak?
3 Die opdrag wat Jesus Christus sy volgelinge gegee het, behels onderrigting. Hy het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:19, 20). Dit verg natuurlik vaardigheid om aan die opregtes alles te leer wat Jesus beveel het.
4. (a) Met watter gesindheid moet vaardige onderrigting gepaard gaan? (b) Hoe het Apollos baat gevind by sy omgang met Aquila en Priscilla?
4 Sulke vaardige onderrigting moet met ywer gepaard gaan. Ja, Christene moet “ywerig in goeie werke” wees, en dit sluit beslis geestelike onderrigting in die bediening en in die gemeente in (Titus 2:14). As bekwame onderrigters het Aquila en Priscilla in Efese vir “[Apollos] by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê”. Dit het Apollos baie gehelp, want later in Achaje het hy “die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is” (Handelinge 18: 24-28). Dit is duidelik dat Apollos met sowel vaardigheid as ywer onderrig het.
‘Let op die leer’
5. Waarom moet ons, volgens 1 Timoteus 4:16, met vaardigheid en ywer onderrig?
5 Die apostel Paulus het vir sy Christenmetgesel Timotheüs gesê: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor” (1 Timotheüs 4:16). Aangesien die redding van sowel leraar as leerling op die spel staan, moet sulke onderrig gewis met vaardigheid en ywer gegee word.
6. Hoe kan jy gekonfyt raak in die hantering van die Skrif, en watter gepaste vrae kan jy jou afvra?
6 Timmermanne en chirurge moet beslis op hulleself let. Hulle moet hulle gereedskap of instrumente behendig kan gebruik. Dieselfde geld vir die Christenbedienaar, wie se hoofwerktuig ‘die swaard van die gees, die woord van God’, is (Efesiërs 6:17). Hoe kan jy gekonfyt raak in die hantering van die Skrif? Immers deur gereelde studie en gebruik. Het jy al die Bybel van voor tot agter deurgelees en tyd daaraan afgestaan om oor die uitmuntende raad na te dink? Lees jy dit daagliks? Gebruik jy dit gereeld in die veldbediening? Maak jy ten volle gebruik van die ryk, geestelike voedsel wat Jehovah deur “die getroue en verstandige dienskneg” verskaf?—Mattheüs 24:45-47.
7. Watter wenke word gegee in verband met tyd vir studie, en hoe kan die noodsaaklikheid van studie uit die Skrif getoon word?
7 Moenie nalaat om tyd af te sonder vir ’n studie van God se Woord en Christelike publikasies nie. Dit sal jou verstand vul met heilsame inligting wat jou sal help en wat gebruik kan word om opregte navraers te beantwoord (1 Petrus 3:15; Kolossense 4:6). Tye vir studie en bepeinsing wissel van gesin tot gesin en van persoon tot persoon. Sommige vind dit nuttig om aan die einde van die dag te studeer. Ander kan vroeg in die oggend beter konsentreer. Nog ander vind dat die middel van die dag vir hulle die geskikste is. Wat ook al die geval, gereeldheid en ywer is van die allergrootste belang. Josua en die konings van Israel moes God se Woord daagliks lees.—Josua 1:7, 8; Deuteronomium 17:18-20.
Lê jou daarop toe om ’n beter onderrigter te word
8. Hoe kan die gebruik van idee-assosiasie jou onderrigvermoë verbeter?
8 Dit kos inspanning om ’n mens se onderrigvermoë te verbeter. Een manier om jou bekwaamheid as onderrigter te verhoog, is deur ideë-assosiasie te gebruik wanneer jy die Bybel of Christelike publikasies bestudeer. Assosieer nuwe gedagtes met dié wat jy reeds ken. Dit sal jou help om inligting in jou verstand te orden sodat jy sake goed kan verduidelik wanneer jy ander leer. Jy het ongetwyfeld in die verlede al assosiasie gebruik wanneer jy studeer. Byvoorbeeld: jy het voorheen miskien nie besef dat Christene relatief onderdanig aan goewermentele “magte” moet wees nie. Maar nou weet jy dat gehoorsaamheid aan God die voorrang moet geniet (Romeine 13:1-8; Markus 12:17; Handelinge 5:29). Jy verstaan dit omdat jy nuwe gedagtes met bekende feite geassosieer het.
9. Lig toe hoe jy jou ’n Bybelse gebeurtenis voor die gees kan roep.
9 Nog ’n manier waarop jy jou onderrigvermoë kan verbeter, is deur jou die gebeurtenisse wat in die Bybel opgeteken is voor die gees te roep. Doen dit gerus nou met Rigters 7:19-22. Onder die sluier van die nag omsingel Gideon en 300 man ’n Midianitiese laer, waar wagte pas uitgesit is. Meteens hoor jy Gideon se 100 man op hulle ramshorings blaas, en jy sien hoe hulle die groot waterkruike wat hulle gedra het stukkend slaan. Die ander 200 Israeliete volg hulle voorbeeld. En terwyl hulle almal hulle brandende fakkels omhoog hou, hoor jy hulle skreeu: “Die swaard van [Jehovah] en van Gideon!” Terwyl die verskrikte Midianiete op die vlug slaan, hou Gideon se drie afdelings aan om op hulle horings te blaas, en Jehovah bewerk dit dat die vlugtende vyande mekaar met die swaard uitroei. Omdat jy jou hierdie gebeurtenis voor die gees geroep het, sal jy dit ongetwyfeld goed onthou en kan gebruik wanneer jy ander leer. Een les hieruit is seer sekerlik dat Jehovah sy volk sonder ’n groot mensekrygsmag kan verlos.—Psalm 94:14.
10. Hoe kan jy die illustrasie in Rigters 9:8-15 gebruik wanneer jy onderrig gee?
10 Goeie illustrasies, waaronder die in die Skrif, kan ook jou vaardigheid as onderrigter verbeter. Beskou byvoorbeeld Rigters 9:8-15. Gideon se seun Jotam het vertel van ’n tyd toe die bome gegaan het om ’n koning oor hulle te salf. Die olyfboom, die vyeboom en die wingerdstok het die koningskap van die hand gewys, maar die nietige steekdoring het dit gretig aanvaar. Die nuttige plante het verdienstelike mense afgebeeld wat nie koning wou wees oor hulle mede-Israeliete nie. Die steekdoring, wat net vir vuurmaakhout deug, het andersyds die koningskap van hoogmoedige, moorddadige Abimeleg afgebeeld, wat ander wou oorheers maar ’n roemlose einde gehad het ter vervulling van Jotam se profesie (Rigters 9:50-57). Hierdie illustrasie kan gebruik word om te toon hoe belangrik dit is dat ons reg handel en nederig is, nie hoogmoedig nie.—Psalm 18:27, 28; 1 Petrus 5:5.
11. (a) Wat word beklemtoon deur Jesus se illustrasie in Mattheüs 13:45, 46? (b) Wat dui die aard van hierdie illustrasie aan in verband met die illustrasies wat deur Christenonderrigters gebruik word?
11 Die Groot Onderwyser, Jesus Christus, is goed bekend vir sy puik illustrasies. Beskou byvoorbeeld sy woorde: “Die koninkryk van die hemele [is] soos ’n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit” (Mattheüs 13:45, 46). So het Jesus die kosbaarheid van die Koninkryk toegelig en getoon dat iemand wat die regte waarde daaraan heg bereid sal wees om van enigiets afstand te doen om dit te verkry. Daar was niks ingewikkelds omtrent daardie illustrasie nie, en Christenonderrigters kan gerus daardie maatstaf in gedagte hou wanneer hulle illustrasies as ’n leermiddel gebruik.
Vergaderinge kan ons vaardigheid verhoog
12. Hoe kan die bywoning van openbare toesprake jou help om jou onderrigvermoë te verbeter
12 Christelike vergaderinge help baie om van Jehovah se knegte vaardige en ywerige onderrigters te maak. Soos Jesus se Bergpredikasie toon, is openbare toesprake ’n baie goeie manier om geestelike onderrigting te verskaf (Mattheüs 5:1-7:29). Om hierdie rede tel openbare toesprake vandag onder die vergaderinge van Jehovah se Getuies. Woon jy dit gereeld by? Luister jy aandagtig? Volg jy in jou Bybel wanneer die spreker tekste lees? Is dit jou gewoonte om aantekeninge te maak? Dit is maniere waarop jy jou onderrigvermoë kan verbeter, en die goeie Skriftuurlike onderrigting behoort jou vaardigheid en jou ywer as ’n dissipelmaker te verhoog.
13, 14. (a) Wanneer het die werk om dissipels te maak besondere betekenis onder Jehovah se knegte aangeneem? (b) Watter vrae kan met vrug oor die Wagtoringstudie en die Gemeentelike Boekstudie gestel word?
13 Die werk om dissipels te maak het besondere betekenis onder Jehovah se knegte aangeneem met die oproep om ‘die Koning en Koninkryk te adverteer’, ’n oproep wat vir die eerste keer in 1922 by hulle byeenkoms in Cedar Point, Ohio, gehoor is. Dit was ook die jaar waarin groepstudies van The Watch Tower georganiseer is. Hierdie tydskrif het gewis Bybelonderrigting en Koninkryksprediking op die voorgrond gehou, soos blyk uit sy naam: Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Is jy ’n flukse leser van God se Woord met Die Wagtoring as hulpmiddel? Neem jy aktief aan die weeklikse Wagtoring-studie deel?
14 Die weeklikse Gemeentelike Boekstudie bied ook geleenthede om jou vermoë as ’n onderrigter van die goeie nuus te verbeter. Stel jy gedagtes in jou eie woorde wanneer jy by hierdie kleiner vergaderinge, sowel as by die Wagtoringstudie, vrae beantwoord? Weerspieël jou kommentare wat jy in jou hart glo?
15. Wat is die doel van die Diensvergadering, en hoe word riglyne daarvoor gegee?
15 Voor 1922 was dit die gebruik onder Jehovah se knegte om in die middel van die week ’n Gebeds-, Lof- en Getuienisvergadering te hou. By daardie geleentheid is liedere gesing, getuienisse gegee en gebede gedoen. Maar met die groter klem op Koninkryksverkondiging van huis tot huis het hierdie vergadering mettertyd ontwikkel tot die Diensvergadering, waar die predikingswerk beklemtoon word. Die Bulletin was hier van besondere waarde, daar dit velddiensinstruksies en getuienisse vir gebruik in die bediening bevat het. Vandag verskaf Ons Koninkryksbediening soortgelyke hulp, sowel as riglyne vir weeklikse “Vergaderinge om ons te help dissipels maak”. Neem jy gereeld aan hierdie vergaderinge deel? Pas jy die raad toe wat gegee word om jou te help om met vaardigheid en ywer te onderrig?
16. Wat is die doel van die Teokratiese Bedieningskool, soos van sy stigting af uiteengesit?
16 In 1943 is die Teokratiese Bedieningskool in die gemeentes van Jehovah se Getuies ingestel om vaardige onderrigting te bevorder. Aangaande die skool se hoofdoel het die eerste handleiding gesê: “Hierdie kursus word nie aangebied om jou tyd in die velddiens te verminder nie, maar is bedoel om jou bekwamer te maak daarin. Om dit duideliker te stel, die doel van hierdie ‘Kursus in die Teokratiese Bediening’ is om alle ‘getroue manne’, die wat Gods Woord gehoor en geglo het, op te lei sodat hulle ‘bekwaam sal wees om ook ander te leer’ deur van huis tot huis te gaan, deur herbesoeke te doen, deur modelstudies en boekstudies te hou en, kortom, deur aan elke faset van die Koninkryksdiens deel te neem. Die doel is om iedereen ’n bekwamer Teokratiese bedienaar te maak, tot eer van die Here se naam; dat hy beter toegerus kan wees om die hoop wat in hom is in die openbaar bekend te maak; dat hy ‘bekwaam sal wees om te onderrig, een wat die kwaad verdra en in sagmoedigheid teregwys’ (2 Tim. 2:24, 25). Laat niemand hierdie vernaamste doel van die kursus uit die oog verloor nie” (Course in Theocratic Ministry, bladsy 4). Dit is steeds die hoofdoel van die Teokratiese Bedieningskool. Pas jy die uitstekende inligting oor onderrigting, voorlesing, die spreekkuns en dies meer toe wat in hierdie skool se handleidings verskyn?a Is jy ’n ingeskrewe student? Aanvaar jy jou toewysings op die skoolprogram met dankbaarheid, en voer jy hulle getrou uit? Hierdie voorsiening van Jehovah deur sy organisasie kan help om van jou ’n vaardige en ywerige bedienaar te maak.
Opleiding met die oog op ywerige onderrigting
17. Watter geestelike voorsiening het Jehovah gemaak vir diegene wat sy heilige waarheid aan ander leer?
17 Jehovah maak oorvloedige geestelike voorsiening vir die wat bevoorreg is om sy heilige waarheid aan ander te leer. Hy voorsien onder meer Bybellektuur, weeklikse vergaderinge en groter byeenkomste. Sulke puik voorsienings stel sy toegewyde Getuies in staat om vaardige en ywerige onderrigters te word.
18. Watter reëlings kan ouere manne, na aanleiding van die voorbeeld van Jesus en Paulus, tref om vandag die veldbediening te bevorder?
18 Maar wat moet ons doen as ons aangestelde ouere manne of ervare getuies van Jehovah is? Dan behoort naasteliefde ons te beweeg om nuwe en minder ervare Christene te help om vaardiger en yweriger onderrigters te word. Dit is sekerlik gepas, want Jesus het nie die 70 dissipels uitgestuur alvorens hy hulle instruksies vir hulle bediening gegee het nie (Lukas 10:1-24). Paulus het die opsieners van Efese ‘in die openbaar en in hulle huise’ onderrig, en dit beteken dat hy hulle ook opgelei het om vir ongelowiges te getuig wanneer hulle in die veldbediening van huis tot huis gaan (Handelinge 20: 20, 21). Vandag lei ouere manne, pioniers en ander eweneens met graagte hulle mede-Getuies in die veldbediening op. Voel jy die behoefte aan sulke opleiding? Vra dan gerus daarvoor, en aanvaar dit. Is jy ’n ouere man? Doen dan alles in jou vermoë om ander in die bediening te help terwyl jy self ywerig die toon aangee in die velddiens.
Hou aan om jou vaardigheid te verbeter
19. Waarom moet ons oor ons bediening bid?
19 Chirurge, timmermanne en ander kan vaardiger word deur volgehoue studie en die toepassing van verkreë kennis. Dieselfde geld vir Christenbedienaars. Hoe belangrik is dit dus dat elke toegewyde getuie van Jehovah hom voortdurend daarop toelê om ’n vaardiger onderrigter van die goeie nuus te word! En aangesien dit Jehovah se werk is, moet ons dit ’n saak van ernstige gebed maak. As ons God se hulp en leiding soek, kan ons daarvan seker wees dat hy ons ywerige bediening sal seën. Soos die apostel Johannes gesê het: “Wat ons ook al bid, ontvang ons van [Jehovah God], omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom.”—1 Johannes 3:22.
20. Wat moet ons vaste voorneme as Jehovah se Getuies wees namate hierdie stelsel sy einde nader?
20 Mag ons ons dan ywerig inspan in die bediening namate hierdie goddelose stelsel sy einde nader. Mag ons ‘let op onsself en op die leer’, tot ons eie redding en die redding van almal wat op die Koninkryksboodskap ag slaan. Ja, laat ons alles in die stryd werp om met vaardigheid en ywer te onderrig.
[Voetnote]
a Kyk byvoorbeeld Teokratiese Bedieningskool-Handleiding en Qualified to Be Ministers (hersiene uitgawe), wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is.
Wat sou jy sê?
◻ Wat benewens prediking is nodig om dissipels te maak?
◻ Waarom is dit so belangrik om ‘op die leer te let’?
◻ Wat is sommige maniere waarop jy jou onderrigvermoë kan verbeter?
◻ Hoe kan Christelike vergaderinge ons help om vaardige en ywerige onderrigters van God se Woord te wees?
◻ Wat kan ouere manne en ander ervare Getuies in verband met die veldbediening doen?
[Prent op bladsy 17]
Jy kan ’n beter onderrigter word as jy jou Bybelgebeurtenisse voor die gees roep
[Prent op bladsy 19]
Die Teokratiese Bedieningskoolinstrukteur help studente om vaardig te word in Koninkryksdiens
-