’n Christelike beskouing van rykdom
HET jy onlangs die apostel Paulus se brief aan Timotheüs, veral hoofstuk 1Ti 6:6-19, gelees? Dit toon die ewewig in die rol wat rykdom in die lewens van Christene moet speel. Timotheüs het destyds in die fabelagtig ryk stad Efese gewoon. Christene wat in daardie groot handelsentrum gewoon het, moes veg teen die neiging om wêreldse rykdom as die belangrike saak te beskou. Daardie verse vermaan kortliks: Wees vergenoeg met wat jy het, en moenie probeer om ryk te wees nie; rykes, moenie julle hoop op materiële dinge stel nie. Almal moet eerder ryk wees in goeie werke en almal moet vrygewig wees.
’n Ongebalanseerde beskouing van rykdom laat mense oorhel tot hebsug. Hebsug word die wig wat stadig maar seker ’n Christen se greep op die gesonde leerstellings van Christus kan oopbreek. Wanneer hy dan van die helder denke van die waarheid geskei is, val hy in die een stormagtige botsing na die ander saam met persone binne en buite die gemeente. Hierdie pad lei net tot “afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak.”—1 Timotheüs 6:3-5, NAV.
Dit is hoe dit gaan met diegene wat hulle Christelike kontakte uitbuit vir persoonlike “geldelike wins”. Hulle mis die ware rykdom wat slegs deur godsvrug verskaf kan word, die “belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe”. Paulus se raad aan almal is gevolglik om “vergenoeg” te wees met “voedsel en klere”.—1 Timotheüs 4:8; 6:8.
Wil jy ryk wees?
Wanneer die rykes hulleself verhoog, voel ander dikwels minderwaardig, en dit kan aanvanklik aanleiding gee tot jaloesie en later tot ’n sterk, skraapsugtige begeerte na rykdom of ten minste die dinge wat rykdom kan koop. Of hulle jaloesie kan hulle verkeerdelik laat dink dat hulle daarop geregtig is om die rykes en hulle rykdom uit te buit deur hulle te pla vir geld maar deur jakkalsdraaie te loop wanneer hulle moet betaal. Gelukkig gee 1 Timotheüs 6:6-16 goeie raad oor hoe en waarom Christene die vernietigende begeerte om ryk te wees, moet vermy.
◻6:6-8—Vergenoegdheid word selde deur rykdom verskaf, maar dit gaan altyd gepaard met godsvrug. Waarom ander se besittings begeer? Dit is slegs tydelik, want ons het niks in die wêreld ingebring nie, en ons sal niks daaruit neem nie.
◻6:9—Dit is nie noodwendig die rykes nie, maar diegene “wat ryk wil word” wat soos ’n onnosel dier na die aanloklike lokaas gryp, in ’n strik verstrengel raak en oorweldig word deur “skadelike begeerlikhede” wat mense in ondergang laat “wegsink” (letterlik, na die bodem trek).
◻6:10—Allerhande slegte dinge spruit voort uit die “geldgierigheid”. Vir geld het mense die reg verdraai, gesteel, hul liggame verkoop, moord gepleeg, ander verraai en gelieg. Niks goeds spruit ooit uit hierdie soort liefde voort nie. Waarom nie? Omdat dit in die kwaad gewortel is. Omdat die meeste wortels nie sigbaar is nie, onderskat onbehoedsame Christene die geweldige krag ten kwade in “geldgierigheid” en dit is bloot deur geld te “begeer”—nie die besit van geld nie—dat sommige “afgedwaal [het] van die geloof”. Die gevolg is ’n persoon wat ‘met emosionele, fisiese en geestelike smarte deurboor is’ omdat hy probeer het om rykdom te bekom en te behou. Rykdom alleen verskaf nooit geluk nie.
◻6:11-16—In plaas daarvan om rykdom na te jaag, vlug verstandige Christene van hebsug af weg. Die veilige afstand kan nooit groot genoeg wees nie. Hulle wy hulle kragte aan die verkryging van deugde soos “geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid” sodat hulle kan “gryp na die ewige lewe” en “onbevlek [en] onberispelik” kan wees voor Jehovah, Christus en medegelowiges.
Is jy ryk?
Sommige van die eerste-eeuse Christene was ryk. Hulle het hulle fortuin geërf of dit op ’n onberispelike manier deur middel van besigheid gekry. Lidia van Filippi het byvoorbeeld kleurstof of gekleurde materiaal verkoop. Aangesien purperkleurstof en klere wat purper gekleur was duur was, was Lidia waarskynlik redelik ryk. Hoe het sy haar rykdom gebruik? Lidia was nie windmakerig nie. Sy het nederig haar besittings gebruik om ware Christelike gasvryheid te betoon en om die verkondiging van die goeie nuus te bevorder. Gelukkig is daar vandag ook persone met dieselfde voortreflike gees.—Handelinge 16:14, 15, 40.
Eerste Timotheüs 6:17-19 bevat goeie raad vir diegene wat Lidia se voorbeeld wil navolg.
◻6:17—In plaas daarvan om met rykdom te pronk, word die rykes vermaan om nederig te wees—om nie te dink dat hulle beter as arm mense is nie. Hulle lewenswyse moet vir almal toon dat hulle ware vertroue nie op rykdom gestel is nie, maar eerder in God geanker is. Sodoende plaas hulle geen regmatige struikelblok voor diegene wat nie ryk is nie; hulle wek nie hebsug deur afguns nie. Hulle moet ook nie vergeet dat materiële besittings en rykdom onbestendig is en gevolglik vinniger as sneeu onder die warm son kan wegsmelt nie.
◻6:18, 19—Gebruik en geniet jou rykdom om jouself en ander te help om Jehovah te dien, is Paulus se raad. Die rykes moet hulle op alle terreine toelê om te doen wat geestelik goed is, om gewillig te wees om materiële hulp te verleen aan diegene met ware fisiese behoeftes, en om omgang te geniet met almal in die gemeente, onder meer die armste en die nederigste.
Beteken dit dat diegene wat nie ryk is nie kan aandring op gawes van hulle ryk medegelowiges af? Nee. Soos 2 Thessalonicense 3:10-12 en 1 Timotheüs 5:8 toon, is dit elke Christen wat daartoe in staat is se plig om te werk om vir sy eie huisgesin te voorsien. As ’n persoon weier om te werk, sal dit nie werklik help om vir hom geld te gee nie. Dieselfde geld vir diegene wat hulle geld dwaaslik verkwis. Meer geld sal nie werklik help nie. Maar watter seën is dit tog vir die gemeente wanneer getroue gelowiges met ’n ware behoefte vriendelik fisiese of geestelike hulp ontvang. Sodoende is alle harte daarop gestel om skatte in die hemel bymekaar te maak wat ryk dividende sal oplewer in die vorm van geestelike beloninge van Jehovah af.
Ons almal moet gevolglik nou nadink oor ons naam by God en Christus. Spreuke 11:4 herinner ons: “Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.” Waarom dan hierdie veranderende, sterwende wêreld ten volle gebruik? (1 Korinthiërs 7:29-31). Vlug vir die hebsug en sy dodelike gevolge! Ons het nie ’n onbeperkte tyd om ’n reputasie van goeie werke op te bou nie. Mag daar eindelik bevind word dat ons persone met ’n oorvloedige skat in die hemel is.—Mattheüs 6:20.
[Prent op bladsy 29]
Lidia het haar middele gebruik om gasvryheid te betoon en die goeie nuus te verkondig