Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 263-269
  • Bybelboek nommer 66—Openbaring

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 66—Openbaring
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN OPENBARING
  • WAAROM NUTTIG
  • Engeleboodskappe vir ons dag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Opwindende visioene wat ons geloof versterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Glanspunte uit die boek Openbaring—II
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Vrees God en gee Hom heerlikheid”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 263-269

Bybelboek nommer 66—Openbaring

Skrywer: Die apostel Johannes

Waar geskryf: Patmos

Geskrif voltooi: ca. 96 G.J.

1. (a) Waarmee is God se knegte dit eens wat die simbole van Openbaring betref? (b) Waarom word Openbaring tereg laaste in die Bybel geplaas?

IS DIE simbole van Openbaring bedoel om vrees aan te jaag? Allermins! Die vervulling van die profesie kan wel vrees wek by die goddeloses, maar God se getroue knegte is dit eens met die geïnspireerde inleiding en die engel se kommentaar aan die einde: “Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor.” “Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar” (Openb. 1:3; 22:7). Ofskoon Openbaring voor die vier ander geïnspireerde boeke van Johannes geskryf is, staan dit tereg aan die einde van die versameling van 66 geïnspireerde boeke waaruit ons Bybel bestaan, want dit is die Openbaring wat sy lesers ver die toekoms in voer deur ’n alomvattende visioen te gee van God se voornemens met die mensdom, en wat die grootse tema van die Bybel, die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit deur middel van die Koninkryk onder Christus, die Beloofde Saad, tot ’n glorieryke klimaks bring.

2. Langs watter kanaal het die Openbaring Johannes bereik, en waarom is die titel van die boek uiters gepas?

2 Volgens die titelvers is dit “die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het . . . en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het”. Johannes was dus bloot die skrywer en nie die bron van die stof nie. Dit beteken dat Johannes nie die openbaarder is nie, en die boek is ook nie ’n openbaring van Johannes nie (1:1). Hierdie ontsluiering van God se wonderlike toekomsvoornemens aan Sy dienskneg maak die titel van die boek besonder gepas, want die Griekse naam daarvan is A·po·kaʹlu·psis (Apokalips), wat “Onthulling” of “Ontsluiering” beteken.

3. Hoe toon Openbaring self wie die skrywer genaamd Johannes is, en hoe word dit deur vroeë historici beaam?

3 Wie was hierdie Johannes wat in die eerste hoofstuk as die skrywer van Openbaring geïdentifiseer word? Ons word meegedeel dat hy ’n dienskneg van Jesus Christus was, sowel as ’n broer en deelgenoot in verdrukking, en dat hy ’n balling op die eiland Patmos was. Hy was klaarblyklik goed bekend aan sy eerste lesers, sodat hy nie verdere bekendstelling nodig gehad het nie. Hy moet die apostel Johannes wees. Hierdie gevolgtrekking word deur die meeste geskiedskrywers uit die ou tyd beaam. Papias, wat gedurende die eerste deel van die tweede eeu G.J. geskryf het, het na bewering geglo dat die boek van apostoliese oorsprong is. En Justinus Martyr, van die tweede eeu, sê in sy “Dialoog met Tripho, ’n Jood” (LXXXI): “Daar was ’n sekere man onder ons, genaamd Johannes, een van die apostels van Christus, wat geprofeteer het deur ’n openbaring wat hom gegee is.”a Ireneus praat uitdruklik van die apostel Johannes as die skrywer, en so ook Clemens van Alexandrië en Tertullianus, wat aan die einde van die tweede en begin van die derde eeu gelewe het. Origines, ’n befaamde Bybelgeleerde van die derde eeu, het gesê: “Ek praat van hom wat teruggeleun het op Jesus se bors, Johannes, wat een Evangelie nagelaat het, . . . en hy het ook die Apokalips geskryf.”b

4. (a) Wat verklaar die verskil in styl tussen Openbaring en Johannes se ander geskrifte? (b) Wat bewys dat Openbaring ’n egte deel van die geïnspireerde Skrif is?

4 Die feit dat Johannes se ander geskrifte soveel klem op liefde lê, beteken nie dat hy nie die besonder kragtige en dinamiese Openbaring kon geskryf het nie. Dit was hy en sy broer Jakobus wat so verontwaardig geword het jeens die Samaritane van ’n sekere stad dat hulle vuur uit die hemel wou laat neerdaal. Dit is waarom hulle die bynaam “Boanerges”, of “seuns van die donder”, gekry het (Mark. 3:17; Luk. 9:54). Hierdie verskil in styl hoef geen probleem te skep nie as ons in gedagte hou dat die onderwerp in Openbaring anders is. Wat Johannes in hierdie visioene gesien het, was anders as enigiets wat hy tevore gesien het. Die opvallende harmonie van die boek met die res van die profetiese Geskrifte bewys onteenseglik dat dit ’n egte deel van God se geïnspireerde Woord is.

5. Wanneer het Johannes die Openbaring geskryf, en onder watter omstandighede?

5 Volgens die vroegste getuienis het Johannes die Openbaring omstreeks 96 G.J. geskryf, sowat 26 jaar ná die vernietiging van Jerusalem. Dit sou teen die einde van die bewind van keiser Domitianus gewees het. Ter stawing hiervan sê Ireneus in sy “Teen die Dwaalleringe” (V, xxx) aangaande die Apokalips: “Want dit is nie lank gelede gesien nie, maar byna in ons dag, teen die einde van Domitianus se regering.”c Eusebius en Hieronimus is dit albei met hierdie getuienis eens. Domitianus was die broer van Titus, die aanvoerder van die Romeinse leërs wat Jerusalem vernietig het. Hy het keiser geword by die dood van Titus, 15 jaar voor die boek Openbaring geskryf is. Hy het daarop aangedring om as god aanbid te word en het die titel Dominus et Deus noster (wat “Onse Heer en God” beteken) aangeneem. Keiseraanbidding het nie die afgodedienaars gepla nie, maar die vroeë Christene kon nie daaraan deelneem nie en het geweier om hulle geloof in hierdie saak prys te gee.d Teen die einde van Domitianus se bewind (81-96 G.J.) het die Christene gevolglik die skyf van hewige vervolging geword. Domitianus het Johannes vermoedelik na Patmos verban. Toe Domitianus in 96 G.J. vermoor is, is hy deur die meer verdraagsame keiser Nerva opgevolg, wat Johannes blykbaar vrygelaat het. Dit was tydens hierdie gevangenskap op Patmos dat Johannes die visioene ontvang het wat hy opgeteken het.

6. As wat moet ons die boek Openbaring beskou, en hoe kan dit verdeel word?

6 Ons moet besef dat die dinge wat Johannes gesien het en beveel is om aan die gemeentes te skryf nie net ’n reeks losstaande, lukraak opgetekende visioene was nie. Nee, die hele boek Openbaring gee ons van begin tot einde ’n samehangende beeld van toekomstige dinge; dit beweeg van een visioen na die ander totdat die volle onthulling van God se Koninkryksvoornemens aan die einde van die visioene bereik word. Ons moet die boek Openbaring dus as ’n geheel beskou wat uit verbandhoudende, harmoniese onderdele saamgestel is en wat ons van Johannes se tyd af ver die toekoms in voer. Na die inleiding (Openb. 1:1-9) kan die boek in 16 visioene verdeel word: (1) 1:10–3:22; (2) 4:1–5:14; (3) 6:1-17; (4) 7:1-17; (5) 8:1–9:21; (6) 10:1–11:19; (7) 12:1-17; (8) 12:18–13:18; (9) 14:1-20; (10) 15:1–16:21; (11) 17:1-18; (12) 18:1–19:10; (13) 19:11-21; (14) 20:1-10; (15) 20:11–21:8; (16) 21:9–22:5. Hierdie visioene word gevolg deur ’n aansporende slot, waarin Jehovah, Jesus, die engel en Johannes almal praat en hulle finale bydrae lewer as die hoofpersone in die kommunikasiekanaal.—22:6-21.

INHOUD VAN OPENBARING

7. Wat sê Johannes oor die oorsprong van die Openbaring, en watter dinge sê hy het hy met die lede van die sewe gemeentes gemeen?

7 Die inleiding (1:1-9). Johannes verduidelik dat die openbaring uit ’n goddelike Bron afkomstig is en deur bemiddeling van ’n engel gegee is, en hy rig hom vervolgens tot die lede van die sewe gemeentes in die distrik Asië. Jesus Christus het hulle “konings en priesters vir sy God en Vader”, Jehovah God, die Almagtige, gemaak. Johannes herinner hulle daaraan dat hy hulle deelgenoot “in die verdrukking en in die koninkryk en lydsaamheid van Jesus Christus” is, aangesien hy hom in ballingskap op Patmos bevind.—1:6, 9.

8. (a) Wat word Johannes beveel om te doen? (b) Wie sien hy tussen die kandelaars, en wat verduidelik hierdie Een?

8 Die boodskappe aan die sewe gemeentes (1:10–3:22). Wanneer die eerste visioen begin, bevind Johannes hom deur inspirasie in die dag van die Here. ’n Sterk stem soos van ’n basuin beveel hom om die dinge wat hy sien in ’n boekrol te skryf en dit aan die sewe gemeentes, in Efese, Smirna, Pergamus, Thiatire, Sardis, Filadelfia en Laodicea, te stuur. Wanneer Johannes hom omdraai na die stem toe, sien hy “Een soos die Seun van die mens” tussen sewe kandelaars, met sewe sterre in sy regterhand. Hierdie Een identifiseer homself as “die Eerste en die Laaste”, die Een wat dood was maar nou vir ewig lewe en wat die sleutels van die dood en van Hades het. Hy is derhalwe die verrese Jesus Christus. Hy verduidelik: “Die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.”—1:13, 17, 20, vgl. NW.

9. Watter lof en raad word aan die gemeentes in Efese, Smirna, Pergamus en Thiatire gegee?

9 Johannes word aangesê om aan die engel van die gemeente in Efese te skryf; hierdie gemeente het, ondanks sy arbeid, volharding en weiering om slegte mense te verdra, sy eerste liefde verlaat en moet hom bekeer en die werke van vroeër doen. Die gemeente in Smirna word meegedeel dat hy, ondanks verdrukking en armoede, inderdaad ryk is en nie hoef te vrees nie: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” Die gemeente in Pergamus, wat woon “waar die troon van die Satan is”, hou vas aan Christus se naam maar het afvalliges in sy midde, en húlle moet hulle bekeer, anders sal Christus teen hulle oorlog voer met die swaard van sy mond. In Thiatire het die gemeente ‘liefde en diens en geloof en lydsaamheid’, maar hy duld “die vrou Isebel”. Dié wat getrou en standvastig is, sal egter “mag oor die nasies” ontvang.—2:10, 13, 19, 20, 26.

10. Watter boodskappe word aan die gemeentes in Sardis, Filadelfia en Laodicea gestuur?

10 Die gemeente in Sardis het die reputasie dat hy leef, maar hy is dood omdat sy werke nie volkome voor God gevind is nie. Die oorwinnaars se name sal egter nooit uit die boek van die lewe uitgewis word nie. Die gemeente in Filadelfia het Christus se woord bewaar; daarom beloof hy om die gemeente te bewaar “in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom”. Christus sal die een wat oorwin ’n pilaar in die tempel van Sy God maak. Christus sê: “Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, . . . en my nuwe Naam.” Nadat hy homself “die begin van die skepping van God” genoem het, sê Christus vir die gemeente in Laodicea dat hulle nòg warm nòg koud is en dat hy hulle uit sy mond gaan spuug. Hoewel hulle roem oor hul rykdom, is die lede van daardie gemeente in werklikheid arm, blind en naak. Hulle het wit boklere nodig, en oogsalf om te kan sien. Christus sal inkom en ’n maaltyd hou met enigiemand wat die deur vir hom oopmaak. Aan hom wat oorwin, sal Christus gee om saam met hom op sy troon te sit, net soos hy saam met sy Vader op Sy troon gaan sit het.—3:10, 12, 14.

11. Watter luisterryke visioen sien Johannes vervolgens?

11 Die visioen van Jehovah se heiligheid en heerlikheid (4:1–5:14). Die tweede visioen voer ons mee tot voor Jehovah se luisterryke hemelse troon. Die toneel is een van verblindende skoonheid, so skitterend soos kosbare edelstene. Rondom die troon sit 24 ouderlinge met krone op hulle koppe. Vier lewende wesens skryf heiligheid aan Jehovah toe, en hy word aanbid as waardig “om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag” omdat hy die Skepper van alle dinge is.—4:11.

12. Wie alleen is waardig om die boekrol met sewe seëls oop te maak?

12 Hy “wat op die troon sit”, hou ’n boekrol met sewe seëls in sy hand. Maar wie is waardig om die rol oop te maak? Net “die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid”, is waardig! Hierdie Een, ook genoem “die Lam wat geslag is”, neem die boekrol by Jehovah.—5:1, 5, 12.

13. Met watter samegestelde visioen gaan die oopmaak van die eerste ses seëls gepaard?

13 Die Lam maak ses seëls van die boekrol oop (6:1–7:17). Die derde visioen begin nou. Die Lam maak die seëls oop. Eers gaan daar ’n ruiter op ’n wit perd uit “as ’n oorwinnaar en om te oorwin”. Dan neem die ruiter van ’n vuurrooi perd die vrede van die aarde weg, en ’n ander een op ’n swart perd rantsoeneer die graan. ’n Vaal perd word deur die Dood gery, en Hades volg kort op sy hakke. Die vyfde seël word oopgemaak, en “die wat gedood is ter wille van die woord van God” word gesien waar hulle roep om die wreking van hulle bloed (6:2, 9). By die oopmaak van die sesde seël is daar ’n groot aardbewing, word die son en die maan verduister en versoek die magtiges van die aarde die berge om op hulle te val en hulle te verberg vir Jehovah en die toorn van die Lam.

14. Wat sien Johannes vervolgens in verband met die diensknegte van God en ’n ontelbare groot menigte?

14 Hierna begin die vierde visioen. Johannes sien vier engele wat die vier winde van die aarde teëhou totdat die diensknegte van God op hulle voorhoofde verseël is. Hulle getal is 144 000. Daarna sien Johannes ’n ontelbare groot menigte uit alle nasies voor God en die Lam staan, aan wie hulle redding toeskryf terwyl hulle dag en nag in God se tempel dien. Die Lam self “sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei”.—7:17.

15. Wat volg wanneer die sewende seël oopgemaak word?

15 Die sewende seël word oopgemaak (8:1–12:17). Daar is stilte in die hemel. Dan word sewe basuine aan die sewe engele gegee. Die eerste ses basuinstote vorm die vyfde visioen.

16. (a) Wat gebeur wanneer daar agtereenvolgens op die eerste vyf basuine geblaas word, en wat is die eerste van die drie weë? (b) Wat kondig die sesde basuin aan?

16 Wanneer daar agtereenvolgens op die eerste drie basuine geblaas word, reën dit plae op die aarde, die see en die riviere sowel as die waterfonteine. Met die vierde basuin word ’n derde van die son, maan en sterre donker. By die blaas van die vyfde laat ’n ster uit die hemel ’n sprinkaanplaag vry wat diegene aanval “wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie”. Dit is “een wee”, en daar moet nog twee kom. Die sesde basuin kondig die losmaking aan van vier engele wat uitgaan om dood te maak. “Twee maal tienduisend maal tienduisend” perderuiters bring verdere rampspoed en slagting mee, maar steeds bekeer mense hulle nie van hulle bose dade nie.—9:4, 12, 16.

17. Watter gebeure bereik ’n hoogtepunt met die aankondiging dat die tweede wee verby is?

17 Wanneer die sesde visioen begin, daal ’n ander sterk engel uit die hemel neer en verklaar hy dat, ‘in die dae waarin die sewende engel hom laat hoor, die heilige geheim van God ooreenkomstig die goeie nuus volbring sal word’. Johannes ontvang ’n klein boekrol om te eet. Dit is ‘soet soos heuning’ in sy mond, maar dit maak sy maag bitter (10:7, 9, vgl. NW). Twee getuies profeteer 1 260 dae in saklinne; dan word hulle gedood deur “die dier wat uit die afgrond opkom”, en hulle lyke lê drie en ’n half dae “op die straat van die groot stad”. Die bewoners van die aarde is verheug oor hulle, maar raak verskrik wanneer God hulle weer lewendig maak. In dié uur kom daar ’n groot aardbewing. “Die tweede wee het verbygegaan.”—11:7, 8, 14.

18. Watter belangrike aankondiging word gehoor wanneer daar op die sewende basuin geblaas word, en waarvoor is dit nou die bestemde tyd?

18 Nou blaas die sewende engel op sy basuin. Hemelse stemme kondig aan: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Heer en van sy Christus geword.” Die “vier-en-twintig ouderlinge” aanbid God en dank Hom, maar die nasies word toornig. God se bestemde tyd breek aan om die dode te oordeel en om sy heiliges te beloon en “om die verderwers van die aarde te verderf”. Sy tempel gaan oop, en sy verbondsark word daarin gesien.—11:15, 16, 18, vgl. NW.

19. Watter teken en oorlog word in die hemel gesien, wat is die uitslag en hoe is die derde wee hierby betrokke?

19 Na die aankondiging dat die Koninkryk opgerig is, toon die sewende visioen onmiddellik “’n groot teken” in die hemel. Dit is ’n vrou wat geboorte gee aan “’n manlike kind . . . , wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer”. “’n Groot vuurrooi draak” staan gereed om die kind te verslind, maar die kind word na God se troon weggeruk. Migael voer oorlog teen die draak, en hy werp hierdie “ou slang wat genoem word duiwel en Satan” op die aarde neer. “Wee die bewoners van die aarde”! Die draak vervolg die vrou en gaan weg om oorlog te voer teen die oorblywende lede van haar saad.—12:1, 3, 5, 9, 12; 8:13.

20. Watter twee diere verskyn vervolgens in die visioen, en hoe beïnvloed hulle mense op die aarde?

20 Die dier uit die see (12:18–13:18). Die agtste visioen toon nou ’n dier met sewe koppe en tien horings wat uit die see opkom. Hy kry sy mag van die draak. Een van sy koppe lyk of dit dodelik gewond was, maar die wond het genees en die hele aarde het die dier bewonder. Dit uiter godslasteringe en voer oorlog teen die heiliges. Maar, kyk! Johannes sien nog ’n dier, hierdie keer een wat uit die aarde opkom. Hy het twee horings soos ’n lam, maar hy begin om soos ’n draak te praat. Hy mislei die bewoners van die aarde en sê vir hulle om ’n beeld van die eerste dier te maak. Almal word gedwing om hierdie beeld te aanbid, anders word hulle gedood. Sonder die merk of getal van die dier kan niemand koop of verkoop nie. Die getal is 666.

21. Wat sien Johannes op die berg Sion, wat bring en verkondig die engele en hoe word daar met die wynstok van die aarde afgereken?

21 Die “ewige evangelie” en verwante boodskappe (14:1-20). In blye teenstelling sien Johannes, in die negende visioen, die Lam op die berg Sion, en saam met hom is daar 144 000 met die naam van die Lam en van die Vader op hulle voorhoofde. “Hulle het ’n nuwe lied gesing voor die troon”; “dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam”. ’n Ander engel verskyn in die middel van die lug met “’n ewige evangelie om te verkondig” aan elke nasie. Die engel sê: “Vrees God en gee Hom heerlikheid.” Nog ’n engel kondig aan: “Geval, geval het Babilon die groot stad [“Babilon die Grote”, NW].” ’n Derde engel maak bekend dat dié wat die dier en sy beeld aanbid van die wyn van die grimmigheid van God sal drink. Iemand “soos ’n Menseseun” slaan sy sekel in, en ’n ander engel slaan ook sy sekel in en samel die wingerdstok van die aarde in; hy gooi dit “in die groot parskuip van die grimmigheid van God”. Wanneer die parskuip buite die stad getrap word, kom bloed uit tot aan die tooms van die perde, “duisendseshonderd stadieë ver” (ongeveer 296 kilometer).—14:3, 4, 6-8, 14, 19, 20, vgl. NW.

22. (a) Wie sien Johannes vervolgens wat Jehovah verheerlik, en waarom doen hulle dit? (b) Waar word die sewe bakke van God se grimmigheid uitgegooi, en watter wêreldskuddende gebeure volg daarop?

22 Die engele met die sewe laaste plae (15:1–16:21). Die tiende visioen begin met nog ’n blik op die hemelse hof. Diegene wat die dier oorwin het, verheerlik Jehovah, die “koning van die ewigheid”, om sy groot en wonderlike werke. Sewe engele kom uit die tempel in die hemel en ontvang sewe goue skale, of bakke, vol van die grimmigheid van God. Die eerste ses word uitgegooi op die aarde, die see en die riviere en waterfonteine, sowel as op die son, die troon van die dier en die Eufraatrivier, wat sy water laat opdroog om die weg oop te stel vir “die konings van die opgang van die son”. Demonuitinge versamel ‘die konings van die aarde en die hele wêreld vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God’ by Armageddon. Die sewende bak word in die lug uitgegooi en te midde van skrikwekkende natuurverskynsels word die groot stad in drie dele verdeel, val die stede van die nasies en ontvang Babilon ‘die beker met die wyn van die grimmigheid van God se toorn’.—15:3; 16:12, 14, 19, NW.

23. (a) Hoe word God se oordeel aan Babilon die Grote voltrek? (b) Watter aankondigings en geweeklaag gaan met haar val gepaard, en van watter vreugdevolle lof weergalm die hemel?

23 God se oordeel oor Babilon; die huwelik van die Lam (17:1–19:10). Die 11de visioen begin. Kyk! Dit is God se oordeel oor “die groot Babilon, die moeder van die hoere”, “met wie die konings van die aarde gehoereer het”. Dronk van die bloed van die heiliges ry sy op ’n skarlakenrooi dier met sewe koppe en tien horings. Hierdie dier “was en is nie en sal uit die afgrond opkom”. Sy tien horings voer oorlog teen die Lam, maar omdat hy “Here van die here en Koning van die konings” is, oorwin die Lam hulle. Die tien horings val die hoer aan en verslind haar, en met die begin van die 12de visioen verklaar ’n ander engel, wie se heerlikheid die aarde verlig: “Geval, geval het die groot Babilon.” God se volk word beveel om uit haar uit te gaan sodat hulle nie van haar plae ontvang nie. Die konings en ander magtiges van die aarde ween oor haar en sê: “Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!” Haar groot rykdom is verwoes. Soos ’n groot meulsteen wat in die see gegooi word, so word Babilon met ’n vaart neergegooi en nooit meer gevind nie. Uiteindelik is die bloed van God se heiliges gewreek! Vier maal weergalm die hemel van die uitroep: “Halleluja!”, of “loof Jah”. Loof Jah omdat hy oordeel aan die groot hoer voltrek het! Loof Jah omdat Jehovah as koning begin heers het! Wees bly en verheug want “die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak”!—17:2, 5, 8, 14; 18:2, 10; 19:1, 3, 4, 6, 7, vgl. NW.

24. (a) Hoe beslissend is die oorlog wat die Lam voer? (b) Wat gebeur gedurende die duisend jaar, en wat volg aan die einde daarvan?

24 Die Lam voer oorlog in geregtigheid (19:11–20:10). In die 13de visioen voer die “Koning van die konings en die Here van die here” hemelse leërs in regverdige oorlogvoering aan. Konings en sterkes word aas vir die voëls van die hemel, en die dier en die valse profeet word lewend gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand (19:16). Wanneer die 14de visioen begin, sê Johannes dat hy “’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand”. ‘Die draak, die ou slang wat die duiwel en die Satan is’, word gegryp en duisend jaar lank gebind. Dié wat deel het aan die eerste opstanding word ‘priesters van God en van Christus en regeer saam met hom as konings duisend jaar lank’. Daarna sal Satan losgelaat word en sal hy uitgaan om die nasies van die aarde te verlei, maar hy en almal wat hom volg, sal in die poel van vuur gewerp word.—20:1, 2, 6.

25. Watter aangrypende visioen volg nou, en wie sal die dinge beërwe wat gesien word?

25 Die oordeelsdag en die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem (20:11–22:5). Die aangrypende 15de visioen volg nou. Die dode, klein en groot, word voor God se groot wit troon geoordeel. Die dood en Hades word in die poel van vuur gewerp, wat “die tweede dood” is, en saam met hulle almal wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie. Die Nuwe Jerusalem daal uit die hemel neer, en God woon by die mense en vee elke traan van hulle oë af. Geen dood, droefheid, geween of pyn meer nie! Ja, God “maak alles nuut”, en hy bevestig sy belofte deur te sê: “Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.” Dié wat oorwin, sal hierdie dinge beërwe, maar die vreesagtiges, die ongelowiges en dié wat onsedelik is of spiritisme en afgodediens beoefen, sal nie.—20:14; 21:1, 5.

26. (a) Watter beskrywing word van die Nuwe Jerusalem gegee? (b) Watter lewensonderhoudende dinge word in die stad gesien, en waar kom die stad se lig vandaan?

26 Johannes sien nou, in die 16de en laaste visioen, “die vrou van die Lam”, die Nuwe Jerusalem, met sy 12 poorte en 12 fondamente waarop die name van die 12 apostels staan. Die stad is vierkantig, en sy luisterryke prag word voorgestel deur die jaspis, goud en pêrels daarin. Jehovah en die Lam is die tempel van hierdie stad, en hulle is ook sy lig. Net dié wat in die boek van die lewe van die Lam geskryf is, mag daarin ingaan (21:9). ’n Suiwer rivier van water van die lewe stroom uit die troon en met die breë straat van die stad langs, en weerskante is bome van die lewe, wat elke maand nuwe vrugte dra en genesende blare het. Die troon van God en van die Lam sal in die stad wees, en die slawe van God sal Sy aangesig sien. Jehovah God sal hulle “verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid”.—22:5.

27. (a) Watter versekering ontvang Johannes aangaande die profesie? (b) Met watter dringende uitnodiging en waarskuwing sluit die Openbaring af?

27 Die slot (22:6-21). Die versekering word gegee: “Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.” Almal wat die woorde van hierdie profesie bewaar, is inderdaad salig, of gelukkig! Noudat Johannes hierdie dinge gehoor en gesien het, val hy neer om die engel te aanbid, maar dié herinner hom daaraan om net God te aanbid. Die woorde van die profesie moenie verseël word nie, “want die tyd is naby”. Gelukkig is dié wat in die stad ingaan, want buite is dié wat vuil is en “elkeen wat leuens liefhet en doen”. Jesus sê dat hy self hierdie getuienis deur sy engel aan die gemeentes gestuur het, en dat hy “die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” is. “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.” En laat niemand by die woorde van hierdie profesie byvoeg of daarvan wegneem nie, anders sal sy deel weggeneem word “van die bome van die lewe en uit die heilige stad”.—22:6, 10, 15-17, 19, vgl. NW.

WAAROM NUTTIG

28. Watter voorbeelde laat ons besef dat Openbaring die verslag afrond wat in die eerste deel van die Bybel begin is?

28 Watter luisterryke slot vorm die boek Openbaring tog vir die Bybel se geïnspireerde versameling van 66 boeke! Niks is weggelaat nie. Niks hang in die lug nie. Nou sien ons duidelik die grootse finale sowel as die begin. Die laaste deel van die Bybel rond die verslag af wat in die eerste deel begin is. Soos Genesis 1:1 God se skepping van die stoflike hemel en aarde beskryf het, so beskryf Openbaring 21:1-4 ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde en die ongekende seëninge wat die mensdom sal geniet, soos ook in Jesaja 65:17, 18; 66:22; 2 Petrus 3:13 voorspel word. Net soos daar aan die eerste man gesê is dat hy gewis sou sterwe as hy ongehoorsaam is, so waarborg God dat daar vir die gehoorsames ‘geen dood meer sal wees nie’ (Gen. 2:17; Openb. 21:4). Toe die Slang vir die eerste maal as misleier van die mensdom verskyn het, het God die verbryseling van sy kop voorspel, en die Openbaring onthul hoe die ou slang, wat die Duiwel en die Satan is, op die ou end in die vernietiging gestort word (Gen. 3:1-5, 15; Openb. 20:10). Terwyl die ongehoorsame mense van die boom van die lewe in Eden verdryf is, lees ons in Openbaring van die verskyning van simboliese bome van die lewe “tot genesing van die nasies” van die gehoorsame mensdom (Gen. 3:22-24; Openb. 22:2). Net soos daar ’n rivier uit Eden uitgegaan het om die tuin nat te maak, so vloei daar ’n simboliese lewegewende en lewensonderhoudende rivier uit God se troon. Dit stem ooreen met die vroeëre visioen van Esegiël, en dit herinner ook aan Jesus se woorde oor “’n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe” (Gen. 2:10; Openb. 22:1, 2; Eseg. 47:1-12; Joh. 4:13, 14). In plaas dat hulle weggedryf word van God se teenwoordigheid, soos met die eerste man en vrou gebeur het, sal die getroue oorwinnaars sy aangesig sien (Gen. 3:24; Openb. 22:4). Dit is inderdaad nuttig om hierdie aangrypende visioene van Openbaring te ondersoek!

29. (a) Hoe bring Openbaring die profesieë oor Babilon met mekaar in verband? (b) Watter opvallende parallelle is daar tussen die visioene van die Koninkryk, sowel as dié van die diere, in Daniël en Openbaring?

29 Let ook op hoe Openbaring die profesieë oor die goddelose Babilon met mekaar in verband bring. Jesaja het die val van die letterlike Babilon, of Babel, voorsien lank voor dit gebeur het, en hy het verklaar: “Geval, geval het Babel” (Jes. 21:9). Jeremia het ook teen Babel geprofeteer (Jer. 51:6-12). Maar die Openbaring praat in simboliese taal van “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglikhede van die aarde”. Sy moet ook tot ’n val gebring word, en Johannes sien dit in ’n visioen, waarin verklaar word: “Sy het geval! Babilon die Grote het geval!” (Openb. 17:5; 18:2, NW). Onthou jy Daniël se visioen van ’n koninkryk wat deur God opgerig is en wat ander koninkryke verbrysel en self “vir ewig bestaan”? Let op hoe dit verband hou met die hemelse aankondiging in Openbaring: “Die koninkryk van die wêreld het die koninkryk van ons Heer en van sy Christus geword, en hy sal as koning regeer tot in alle ewigheid” (Dan. 2:44; Openb. 11:15, NW). En net soos Daniël se visioen iemand beskryf ‘soos die Seun van ’n mens wat met die wolke van die hemel kom om ’n ewige heerskappy en eer en koningskap te ontvang’, so identifiseer Openbaring Jesus Christus as “die Owerste oor die konings van die aarde” en as iemand wat “met die wolke” kom sodat ‘elke oog hom sal sien’ (Dan. 7:13, 14; Openb. 1:5, 7). Daar is ook sekere ooreenkomste te bespeur tussen die diere van Daniël se visioene en die diere van Openbaring (Dan. 7:1-8; Openb. 13:1-3; 17:12). Die Openbaring bied inderdaad ’n oneindige veld vir geloofversterkende studie.

30. (a) Watter volledige beeld gee Openbaring van die heiliging van Jehovah se naam deur middel van die Koninkryk? (b) Wat word in verband met heiligheid beklemtoon, en wie word daardeur geraak?

30 Wat ’n wonderlike, veelsydige visioen verskaf die Openbaring tog nie oor God se Koninkryk nie! Dit werp ’n helder lig op wat die ou profete en Jesus en sy dissipels aangaande die Koninkryk gesê het. Hier het ons die voltooide beeld van die heiliging van Jehovah se naam deur middel van die Koninkryk: “Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige.” Hy is waardig “om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag”. Ja, hy het ‘sy groot mag aangeneem en (deur Christus) as koning begin heers’. Hoe ywerig is hierdie koninklike Seun, die “Koning van die konings en die Here van die here”, tog wanneer hy die nasies slaan en “die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige”, trap! Wanneer die grootse Bybeltema van Jehovah se regverdiging sy klimaks nader, word daar beklemtoon dat almal en alles wat deel het aan sy Koninkryksvoornemens heilig moet wees. Die Lam, Jesus Christus, wat “die sleutel van Dawid het”, word heilig genoem, en so ook die engele van die hemel. Van dié wat deel het aan die eerste opstanding word gesê dat hulle “salig en heilig” is, en daar word beklemtoon dat niks wat “verontreinig en gruwelikheid en leuens doen”, sal ingaan in “die heilige Jerusalem” nie. Diegene wat deur die bloed van die Lam gekoop is as “konings en priesters vir onse God” ontvang dus kragtige aanmoediging om heilig te bly voor Jehovah. Die “groot menigte” moet eweneens ‘hulle klere was en hul klere wit maak in die bloed van die Lam’ sodat hulle heilige diens kan verrig.—Openb. 4:8, 11; 11:17; 19:15, 16; 3:7; 14:10; 20:6; 21:2, 10, 27; 22:19; 5:9, 10; 7:9, 14, 15.

31. Watter kenmerke van die Koninkryk word net in die boek Openbaring onder ons aandag gebring?

31 Die visioen van hierdie luisterryke en heilige Koninkryk van God kristalliseer in ons verstande wanneer ons na bepaalde kenmerke kyk wat net in die boek Openbaring onder ons aandag gebring word. Hier het ons die volledige visioen van die Koninkrykserfgename op die berg Sion saam met die Lam, waar hulle ’n nuwe lied sing wat net hulle kan leer. Dit is net die Openbaring wat ons die getal meedeel van dié wat van die aarde vrygekoop word om in die Koninkryk in te gaan—144 000—en dat hierdie getal verseël word uit die 12 simboliese stamme van geestelike Israel. Net die Openbaring toon dat hierdie ‘priesters en konings’, wat saam met Christus aan die eerste opstanding deel het, ook “duisend jaar lank” saam met hom sal regeer. Net die Openbaring gee ons die volledige beeld van “die heilige stad, die nuwe Jerusalem”; ons sien sy stralende heerlikheid met Jehovah en die Lam as sy tempel, sy 12 poorte en fondamente en die konings wat vir ewig daarin regeer onder die ewige lig wat Jehovah op hulle laat skyn.—14:1, 3; 7:4-8; 20:6; 21:2, 10-14, 22; 22:5.

32. (a) Hoe vat die visioen van die “nuwe hemel” en “die heilige stad, die Nuwe Jerusalem”, alles saam wat tevore aangaande die Koninkryksaad voorspel is? (b) Watter seëninge waarborg die Koninkryk vir die mensdom op aarde?

32 Daar kan voorwaar gesê word dat hierdie visioen van die “nuwe hemel” en “die heilige stad, die nuwe Jerusalem”, alles saamvat wat die Skrif van die vroegste tye af oor die Koninkryksaad voorspel het. Abraham het uitgesien na ’n saad waardeur ‘al die geslagte van die aarde hulleself gewis sou seën’ en na ‘die stad wat ware fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is’. Nou, in die Openbaringvisioen, word hierdie stad van seëninge duidelik vir ons geïdentifiseer as die “nuwe hemel”—’n nuwe regering, God se Koninkryk, wat bestaan uit die Nuwe Jerusalem (die bruid van Christus) en haar Bruidegom. Tesame vorm hulle ’n regverdige regering oor die hele aarde. Jehovah beloof die getroue mensdom dat hulle “sy volk” kan word in ’n gelukkige, sondelose, doodlose toestand soos die mens voor die opstand in Eden geniet het. En by wyse van nadruk vertel die Openbaring ons twee maal dat God ‘al die trane van hulle oë sal afvee’.—Gen. 12:3, vgl. NW; 22:15-18; Hebr. 11:10; Openb. 7:17; 21:1-4.

33. (a) Watter wonderlike geheelbeeld gee Openbaring van die vervulde goddelike voornemens? (b) Hoe blyk dit dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is’, en waarom is dit nóú die tyd om God se Woord te bestudeer en te gehoorsaam?

33 Ja, wat ’n grootse slot vir die geïnspireerde Skrif! Hoe wonderlik is hierdie dinge “wat gou moet gebeur”! (Openb. 1:1). Die naam van Jehovah, “die God van die geïnspireerde uitinge van die profete”, is geheilig (22:6, NW). Ons sien die vervulling van die profetiese geskrifte van 16 eeue en die beloning van geloofsdade wat in die loop van duisende jare verrig is! “Die ou slang” is dood, sy leërskare is verdelg en goddeloosheid bestaan nie meer nie (12:9). God se Koninkryk regeer as “’n nuwe hemel” tot sy lof. Die seëninge van ’n herstelde aarde, gevul en onderwerp ooreenkomstig Jehovah se voorneme soos dit in die eerste hoofstuk van die Bybel uiteengesit word, lê tot in die glorieryke ewigheid voor die mensdom (Gen. 1:28). Die hele Skrif is inderdaad “deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, te dissiplineer in regverdigheid”. Jehovah het dit gebruik om volkome bekwame, volledig toegeruste geloofsmanne na hierdie wonderlike dag te lei. Daarom is dit nóú die tyd om hierdie Skrif te bestudeer om jou geloof te versterk. Gehoorsaam die gebooie daarin sodat jy God se seën ontvang. Volg dit op die reguit pad wat na die ewige lewe lei. Deur dit te doen, kan jy ook met die vaste vertroue waarmee die laaste boek van die Bybel afsluit, sê: “Amen, ja kom, Here Jesus!”—2 Tim. 3:16, NW; Openb. 22:20.

34. Hoe kan ons nou weergalose vreugde geniet, en waarom?

34 Watter weergalose vreugde kan ons nou geniet deur “die koninkryk van ons Heer en van sy Christus”, die Saad, te begroet terwyl dit die ewige heiliging van die onvergelyklike naam van “Jehovah God, die Almagtige”, bewerkstellig!—Openb. 11:15, 17, NW.

[Voetnote]

a The Ante-Nicene Fathers, Dl. I, bladsy 240.

b The Ecclesiastical History, Eusebius, VI, xxv, 9, 10.

c The Ante-Nicene Fathers, Dl. I, bladsye 559-60.

d The Lives of the Caesars (Domitianus, XIII, 2).

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel