Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 270-278
  • Studie nommer 1—’n Besoek aan die Beloofde Land

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Studie nommer 1—’n Besoek aan die Beloofde Land
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ALGEMENE AFMETINGS
  • NATUURLIKE STREKE
  • A. DIE SEEKUS VAN DIE GROOT SEE
  • B-1 DIE VLAKTE VAN ASER
  • B-2 DIE KUSSTROOK VAN DOR
  • B-3 DIE WEIVELDE VAN SARON
  • B-4 DIE VLAKTE VAN FILISTEA
  • B-5 DIE SENTRALE OOS-WES-VALLEI
  • C-1 DIE HEUWELS VAN GALILEA
  • C-2 DIE HEUWELS VAN KARMEL
  • C-3 DIE HEUWELS VAN SAMARIA
  • C-4 DIE SJEFELA (LAEVELD)
  • C-5 DIE HEUWELLAND VAN JUDA
  • C-6 DIE WOESTYN VAN JUDA (JESIMON)
  • C-7 DIE NEGEB (SUIDLAND)
  • C-8 DIE WOESTYN PARAN
  • D. DIE GROOT ARABA (DIE SKEURVALLEI)
  • D-1 DIE HOELE-BEKKEN
  • D-2 DIE STREEK RONDOM DIE SEE VAN GALILEA
  • D-3 DIE JORDAANVALLEISTREEK (DIE GHOR)
  • D-4 DIE SOUTSEE (DOOIE SEE)
  • D-5 DIE ARABA (SUID VAN DIE SOUTSEE)
  • E. BERGE EN TAFELLANDE OOS VAN DIE JORDAAN
  • F. DIE LIBANONGEBERGTE
  • “’n Goeie en uitgestrekte land”
    ‘Sien die goeie land’
  • Praktiese lesse uit die Beloofde Land
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Bybelgeografie—Is dit akkuraat?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Trek deur die land”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 270-278

Studie nommer 1—’n Besoek aan die Beloofde Land

Die streke van die land, die terreingesteldheid daarvan, die berge en valleie, die riviere en mere, die klimaat, grond en die verskeidenheid plante.

1. (a) Waarom is die benaming “Beloofde Land” baie gepas? (b) Watter glorieryke vooruitsig kan ons in gedagte hou terwyl ons die aardrykskundige kenmerke van die land ondersoek?

JEHOVAH GOD het die grense van die eertydse Beloofde Land vasgestel (Ex. 23:31; Num. 34:1-12; Jos. 1:4). Party het hierdie gebied baie eeue lank Palestina genoem, ’n naam wat afgelei is van die Latynse woord Palaestina en die Griekse woord Pa·lai·stiʹne. Laasgenoemde woord is afgelei van die Hebreeuse woord Peleʹsjeth. In die Hebreeuse Geskrifte word Peleʹsjeth met “Filistea” vertaal en slaan dit net op die gebied van die Filistyne, wat vyande van God se volk was (Ex. 15:14). Maar aangesien Jehovah hierdie land aan getroue Abraham en sy nakomelinge beloof het, is die benaming “Beloofde Land”, of “Land van Belofte”, baie gepas (Gen. 15:18; Deut. 9:27, 28; Hebr. 11:9). Hierdie land is merkwaardig vanweë die verskeidenheid van sy aardrykskundige kenmerke, want baie van die besondere kenmerke en uiterstes wat in die wêreld aangetref word, kom in hierdie klein gebied voor. As Jehovah sy eertydse getuies so ’n land van belofte met al sy pragtige verskeidenheid as erfenis kon gee, dan kan hy beslis in die toekoms sy toegewyde knegte ’n lieflike, aardwye nuwewêreld-paradys met berge, valleie, riviere en mere gee waarin hulle hul kan verlustig. Kom ons skenk nou noukeurig aandag aan die aardrykskundige kenmerke van die Land van Belofte terwyl ons ’n denkbeeldige toer daardeur onderneem.a

ALGEMENE AFMETINGS

2. Hoe groot was die deel van die Beloofde Land waarin die Jode hulle gevestig het, en in watter bykomende gebied het hulle gaan woon?

2 Volgens die godgegewe grense, soos bepaal in Numeri 34:1-12, sou die land wat aan Israel beloof is ’n smal strook wees. Dit sou ongeveer 480 kilometer van noord na suid en gemiddeld 56 kilometer breed wees. Dit was eers gedurende die regerings van konings Dawid en Salomo dat die hele beloofde gebied militêr beset is, waardeur beheer oor talle onderworpe volke verkry is. Maar die gedeelte waar die Jode hulle gevestig het, word gewoonlik beskryf as die gebied van Dan tot Berseba, wat ’n afstand van sowat 240 kilometer van noord na suid was (1 Kon. 4:25). Van die berg Karmel tot by die See van Galilea is die land ongeveer 51 kilometer breed, en in die suide, waar die Mediterreense kuslyn geleidelik na die suidweste wegbuig, is dit meer as 80 kilometer van Gasa na die Dooie See. Hierdie bewoonde gebied wes van die Jordaanrivier het net sowat 15 000 vierkante kilometer beslaan. Maar die Israeliete het hulle ook in lande oos van die Jordaan gevestig (lande wat nie binne die oorspronklike beloofde grense geval het nie), sodat die totale oppervlakte van die bewoonde gebied ’n bietjie minder as 26 000 vierkante kilometer was.

NATUURLIKE STREKE

3. Gebruik die kaart “Natuurlike streke van die Beloofde Land” en die paragraaf om kortliks die gebiede wat deel van die volgende natuurlike verdelings van die land uitmaak te identifiseer: (a) die vlaktes wes van die Jordaan, (b) die bergstreke wes van die Jordaan, (c) die berge en tafellande oos van die Jordaan.

3 Ons besoek aan die Beloofde Land sal ons deur die volgende natuurlike verdelings van die land neem. Die tabel hieronder voorsien die sleutel tot die bygaande kaart, wat die grense van die gebiede wat bespreek word by benadering aangee.

Aardrykskundige streke

A. Die seekus van die Groot See.—Jos. 15:12.

B. Die vlaktes wes van die Jordaan

1. Die vlakte van Aser.—Rigt. 5:17.

2. Die kusstrook van Dor.—Jos. 12:23.

3. Die weivelde van Saron.—1 Kron. 5:16.

4. Die vlakte van Filistea.—Gen. 21:32;

Ex. 13:17.

5. Die sentrale oos-wes-vallei

a. Die vlakte van Megiddo (Esdraelon).—2 Kron. 35:22.

b. Die laagvlakte van Jisreël.—Rigt. 6:33.

C. Die bergstreke wes van die Jordaan

1. Die heuwels van Galilea.—Jos. 20:7;

Jes. 9:1, NW.

2. Die heuwels van Karmel.—1 Kon. 18:19, 20, 42.

3. Die heuwels van Samaria.—Jer. 31:5;

Amos 3:9.

4. Die Sjefela (Laeveld).—Jos. 11:2; Rigt. 1:9.

5. Die heuwelland van Juda.—Jos. 11:21.

6. Die woestyn van Juda (Jesimon).—Rigt. 1:16;

1 Sam. 23:19, NW.

7. Die Negeb (Suidland).—Gen. 12:9; Num. 21:1.

8. Die woestyn Paran.—Gen. 21:21; Num. 13:1-3.

D. Die Groot Araba (die Skeurvallei).—2 Sam. 2:29, NW;

Jer. 52:7, NW.

1. Die Hoele-bekken

2. Die streek rondom die See van Galilea.

—Matt. 14:34; Joh. 6:1.

3. Die Jordaanvalleistreek (Die Ghor).—1 Kon. 7:46;

2 Kron. 4:17; Luk. 3:3.

4. Die Soutsee (Dooie See; See van die Araba).

—Num. 34:3; Deut. 4:49, NW; Jos. 3:16.

5. Die Araba (suid van die Soutsee).

—Deut. 2:8, NW.

E. Berge en tafellande oos van die Jordaan.

—Jos. 13:9, 16, 17, 21; 20:8.

1. Die land Basan.—1 Kron. 5:11; Ps. 68:16.

2. Die land Gilead.—Jos. 22:9.

3. Die land van Ammon en die land Moab.—Jos. 13:25;

1 Kron. 19:2; Deut. 1:5.

4. Die bergplato van Edom.—Num. 21:4;

Rigt. 11:18.

F. Die Libanongebergte.—Jos. 13:5.

A. DIE SEEKUS VAN DIE GROOT SEE

4. Wat is die kenmerke en klimaat van die seekus?

4 Ons begin ons besoek in die weste en beskou eers die seekus wat hom al langs die pragtige, blou Middellandse See uitstrek. Omdat sandduine groot gebiede beslaan, is die enigste goeie natuurlike hawe suid van die berg Karmel dié by Joppe; maar noord van Karmel is daar verskeie goeie natuurlike hawens. Die Feniciërs, wat die land langs hierdie deel van die kus bewoon het, het ’n beroemde seevarende nasie geword. Die gemiddelde jaartemperatuur langs die sonnige seekus is ’n aangename 19o C, hoewel die somers baie warm is, met ’n gemiddelde dagtemperatuur van ongeveer 34o C in Gasa.

B-1 DIE VLAKTE VAN ASER

5, 6. Beskryf kortliks (a) die vlakte van Aser, (b) die kusstrook van Dor.

5 Hierdie kusvlakte strek van die berg Karmel af ongeveer 40 kilometer na die noorde. Die maksimum breedte daarvan is ongeveer 13 kilometer, en dit is ’n deel van die land wat aan die stam van Aser toegewys is (Jos. 19:24-30). Dit was ’n vrugbare, smal vlakte wat goeie opbrengste gelewer en voedsel vir Salomo se koninklike tafel voorsien het.—Gen. 49:20; 1 Kon. 4:7, 16.

B-2 DIE KUSSTROOK VAN DOR

6 Hierdie strook land grens oor ’n afstand van ongeveer 32 kilometer aan die Karmelbergreeks. Dit is net sowat vier kilometer breed. In werklikheid is dit ’n strook kusland wat tussen Karmel en die Middellandse See lê. In die suidelike deel daarvan lê die hawestad Dor, en suid dáárvan begin die sandduine. Die heuwels agter Dor het van die allerbeste voedsel vir Salomo se feesmale opgelewer. Een van Salomo se dogters was met die bestuurder van hierdie streek getroud.—1 Kon. 4:7, 11.

B-3 DIE WEIVELDE VAN SARON

7. (a) Hoe word daar profeties na Saron verwys, en waarom? (b) Waarvoor is hierdie streek in Hebreeuse tye gebruik?

7 Met die oog op die spreekwoordelike prag van die blomme wat hier groei, is dit gepas dat Saron in Jesaja se profetiese gesig van die herstelde land van Israel gemeld word (Jes. 35:2). Dit is ’n vrugbare gebied met baie water. Dit is ’n vlakte wat van 16 tot 19 kilometer in breedte wissel en ongeveer 64 kilometer vanaf die kusstrook van Dor na die suide strek. In Hebreeuse tye het eikewoude in die noordelike deel van Saron voorgekom. Baie kuddes het daar gewei nadat die graan gemaai is. Dit is waarom dit die weivelde van Saron genoem is. In koning Dawid se tyd is die koninklike kuddes in Saron gehou (1 Kron. 27:29). Vandag is daar groot sitrusboorde in hierdie gebied.

B-4 DIE VLAKTE VAN FILISTEA

8. Waar is die vlakte van Filistea, en wat is die kenmerke daarvan?

8 Hierdie stuk land lê suid van die weivelde van Saron en strek sowat 80 kilometer langs die kus af en 24 kilometer die binneland in (1 Kon. 4:21). Die sandduine langs die kus strek op party plekke tot ses kilometer die binneland in. Dit is ’n golwende vlakte waarvan die hoogte geleidelik toeneem van 30 meter tot 200 meter agter Gasa in die suide. Die grond is ryk; maar daar val nie baie reën nie en daar is altyd ’n gevaar van droogte.

B-5 DIE SENTRALE OOS-WES-VALLEI

9. (a) Uit watter twee dele bestaan die sentrale oos-wes-vallei, en van watter praktiese waarde was dit? (b) Gebruik die diagramme “Kenmerkende dwarssneë van die Beloofde Land” om die algemene topografie van hierdie gebied te beskryf.

9 Die sentrale oos-wes-vallei bestaan in werklikheid uit twee dele, die valleivlakte van Megiddo, of Esdraelon, in die weste, en die laagvlakte van Jisreël in die ooste (2 Kron. 35:22; Rigt. 6:33). Hierdie hele sentrale vallei kon gebruik word om maklik van die Jordaanskeurvallei na die Mediterreense kus te reis, en dit het ’n belangrike handelsroete geword. Die vlakte van Megiddo word deur die Kisonstroomdal gedreineer, wat deur ’n nou gaping tussen die berg Karmel en die heuwels van Galilea na die vlakte van Aser loop, en van daar na die Middellandse See. Gedurende die somermaande droog hierdie spruit feitlik heeltemal op, maar ander tye stoot dit op en word dit ’n sterk stroom.—Rigt. 5:21.

10. (a) Beskryf die laagvlakte van Jisreël. (b) Met watter Bybelse gebeure word hierdie gebied geassosieer?

10 Die laagvlakte van Jisreël se water loop in ’n suidoostelike rigting na die Jordaan af. Hierdie valleigang, die vlakte van Jisreël, is ongeveer 3,2 kilometer breed en byna 19 kilometer lank. Die vlakte begin op ’n hoogte van meer as 90 meter en daal dan geleidelik tot ongeveer 120 meter onder seespieël naby Bet-Sean. Die hele sentrale vallei is baie vrugbaar, en die Jisreël-gedeelte is een van die rykste dele van die hele land. Die naam Jisreël beteken “God sal saad saai” (Hos. 2:22, NW). Die Skrif praat van die lieflikheid en prag van hierdie gebied (Gen. 49:15). Beide Megiddo en Jisreël was van strategiese belang in die oorloë wat Israel en die omliggende nasies gevoer het, en dit was hier waar Barak, Gideon, koning Saul en Jehu geveg het.—Rigt. 5:19-21; 7:12; 1 Sam. 29:1; 31:1, 7; 2 Kon. 9:27.

C-1 DIE HEUWELS VAN GALILEA

11, 12. (a) In watter mate het Galilea met Jesus se bediening verband gehou, en wie het uit hierdie gebied gekom? (b) Kontrasteer Onder-Galilea met Bo-Galilea.

11 Dit was in die suidelike deel van die heuwels van Galilea (en rondom die See van Galilea) dat Jesus die grootste deel van sy werk verrig het om vir Jehovah se naam en Koninkryk te getuig (Matt. 4:15-17; Mark. 3:7). Die meeste van Jesus se volgelinge, met inbegrip van al 11 sy getroue apostels, het uit Galilea gekom (Hand. 2:7). Die landskap in hierdie gebied, wat soms Onder-Galilea genoem word, is waarlik ’n lus, met heuwels wat nie hoër as 600 meter is nie. Vanaf die herfs tot die lente is daar geen gebrek aan reën in hierdie aangename gebied nie, en gevolglik is dit nie ’n woestynstreek nie. In die lente is elke heuwelhang oortrek met blomme en staan die graan geil in elke vallei. Op die klein plato’s is daar ryk grond vir boerdery, en die heuwels is geskik vir die verbouing van olyfbome en wingerde. Nasaret, Kana en Nain is dorpe in hierdie gebied wat prominent in die Bybel gemeld word (Matt. 2:22, 23; Joh. 2:1; Luk. 7:11). Hierdie gebied het Jesus ’n ryk agtergrond gegee waaruit hy idees vir sy illustrasies kon put.—Matt. 6:25-32; 9:37, 38.

12 In die noordelike deel, of Bo-Galilea, bereik die heuwels ’n hoogte van heelwat meer as 1 100 meter en word hulle in werklikheid die voorheuwels van die Libanonberge. Bo-Galilea is afgeleë en winderig, en swaar reëns val in die gebied. In Bybeltye was die westelike heuwelhange dig bebos. Hierdie streek is aan die stam van Naftali toegewys.—Jos. 20:7.

C-2 DIE HEUWELS VAN KARMEL

13. (a) Wat is Karmel in werklikheid? (b) Wat meld die Bybel daaromtrent?

13 Die uitloper van die berg Karmel loop op majestueuse wyse die Middellandse See in. Karmel is in werklikheid ’n heuwelreeks, ongeveer 48 kilometer lank, wat tot 545 meter bo die see uittoring. Dit strek van die heuwels van Samaria tot by die Middellandse See, en die voorgebergte, wat die hoofrant aan die noordwestelike punt vorm, is onvergeetlik vanweë sy grasie en prag (Hoogl. 7:5). Die naam Karmel beteken “Boord”, beslis ’n passende naam vir hierdie vrugbare kaap wat bedek is met sy beroemde wingerde en vrugte- en olyfbome. Jesaja 35:2 gebruik dit as ’n simbool van die vrugbare glorie van die herstelde land Israel: ‘Die sieraad van Karmel moet aan hom gegee word.’ Dit was hier waar Elia die priesters van Baäl uitgedaag het en waar “die vuur van die HERE neergeval” het as bewys van Sy oppermag, en dit was van die top van Karmel af dat Elia die aandag op die wolkie gevestig het wat ’n groot reën geword en sodoende op wonderdadige wyse die droogte in Israel beëindig het.—1 Kon. 18:17-46.

C-3 DIE HEUWELS VAN SAMARIA

14. Watter stamme het hulle in die heuwels van Samaria gevestig, en vir watter gewasse is hierdie gebied geskik?

14 Die suidelike deel van hierdie streek is die heuwelagtigste en bereik ’n hoogte van oor die 900 meter in die ooste (1 Sam. 1:1). In hierdie streek is daar ’n groter en konstanter reënval as in Juda in die suide. Die nakomelinge van Efraim, Josef se jongste seun, het hulle in hierdie streek gevestig. Die noordelike deel van hierdie streek, wat toegewys is aan die halwe stam van Manasse, Josef se oudste seun, bestaan uit valleie en klein vlaktetjies wat deur heuwels omring word. Die heuwelagtige gebiede is nie so vrugbaar nie, maar wingerde en olyfboorde kom tog daar voor omdat talle terrasse teen die laer heuwelhange aangelê is (Jer. 31:5). Die laer liggende valleie is egter uitstekend vir die verbouing van graan en vir algemene boerdery. In Bybeltye was daar talle stede in hierdie streek. Gedurende die tyd van die noordelike koninkryk was die drie opeenvolgende hoofstede—Sigem, Tirsa en Samaria—in Manasse se gebied geleë, en later is die hele streek dieselfde naam as die hoofstad, Samaria, gegee.—1 Kon. 12:25; 15:33; 16:24.

15. (a) Hoe is Moses se seën oor Josef in die Samariastreek vervul? (b) Hoe is hierdie gebied verder gedurende Jesus se tyd geseën?

15 Die seën wat Moses oor Josef uitgespreek het, is inderdaad vervul in hierdie streek. “En van Josef het hy gesê: Geseënd deur die HERE is sy land met die kostelikste gawe van die hemel, met dou . . . en met die kostelikste voortbrengsels van die son en met die kostelikste gewasse van die mane en met die vernaamste voortbrengsel van die berge van die voortyd en met die kostelikste gawe van die ewige heuwels” (Deut. 33:13-15). Ja, dit was ’n lieflike land. Die berge was dig bebos, die valleie was produktief en mettertyd het welvarende stede met talle inwoners die streek gevul (1 Kon. 12:25; 2 Kron. 15:8). In later tye het Jesus sowel as sy dissipels in die land Samaria gepreek, en die Christelike godsdiens het baie aanhangers in daardie gebied gekry.—Joh. 4:4-10; Hand. 1:8; 8:1, 14.

C-4 DIE SJEFELA (LAEVELD)

16. (a) Wat kenmerk die Sjefela? (b) Van watter belang was hierdie gebied in Bybeltye?

16 Hoewel die naam Sjefela “Laagland” beteken, is dit in werklikheid ’n heuwelagtige gebied wat ’n hoogte van ongeveer 450 meter in die suide bereik en waardeur talle valleie van oos na wes loop (2 Kron. 26:10). Dit verrys reg oos van die kusvlakte van Filistea en moet slegs in vergelyking met die hoër heuwels van Juda verder na die ooste as ’n laagland beskou word (Jos. 12:8). Vroeër was die heuwels oortrek van wildevyebome, maar nou kom wingerde en olyfboorde daarop voor (1 Kon. 10:27). Dit het talle stede gehad. In Bybelgeskiedenis was dit die bufferstrook tussen Israel en die Filistyne of enige ander invallende leër wat Juda uit die rigting van die kusvlakte probeer binnedring het.—2 Kon. 12:17; Obad. 19.

C-5 DIE HEUWELLAND VAN JUDA

17. (a) Hoe produktief was die heuwelland van Juda in Bybeltye, en wat is die situasie vandag? (b) Waarvoor is Juda as ’n goeie plek beskou?

17 Dit is ’n hoë rotsagtige gebied wat ongeveer 80 kilometer lank en minder as 32 kilometer breed is en waarvan die hoogte van 600 tot 1 000 meter bo seespieël wissel. In Bybeltye was die gebied oortrek van woude wat timmerhout gelewer het, en veral aan die westekant was daar talle graanlande, olyfbome en wingerde teen die heuwels en in die valleie. Dit was ’n streek wat groot hoeveelhede goeie graan, olie en wyn vir Israel opgelewer het. Sedert Bybeltye is veral die gebied rondom Jerusalem kwaai ontbos en lyk dit dus kaal vergeleke met wat dit eens was. In die winter val sneeu soms in die hoër liggende sentrale dele, soos by Betlehem. In die ou tyd is Juda as ’n goeie plek vir stede en forte beskou, en in gevaarlike tye kon die mense na hierdie berge vlug vir veiligheid.—2 Kron. 27:4.

18. (a) Wanneer het Jerusalem die hoofstad van Israel en Juda geword? (b) Wat is party interessante kenmerke van die stad?

18 Jerusalem, wat ook Sion genoem is vanweë die naam van sy sitadel, het ’n besondere rol in die geskiedenis van Juda en Israel gespeel (Ps. 48:2, 3). Oorspronklik was dit die Kanaänitiese stad Jebus, met ’n hoogliggende posisie bo die plek waar die vallei van Hinnom en die Kidronvallei saamgeloop het. Nadat Dawid dit ingeneem en dit die hoofstad gemaak het, is dit na die noordweste uitgebrei, en uiteindelik het dit ook die Tyropoeon-vallei ingesluit. Die vallei van Hinnom is mettertyd Gehenna genoem. Omdat die Jode afgodsoffers daar gebring het, is dit onrein verklaar en in ’n stortplek vir vullis en die lyke van veragtelike misdadigers verander (2 Kon. 23:10; Jer. 7:31-33). Die vure daarvan het dus ’n simbool van algehele vernietiging geword (Matt. 10:28, NW; Mark. 9:47, 48, NW). Jerusalem het net ’n beperkte hoeveelheid water uit die Siloampoel, wes van die Kidronvallei, getrek, en Hiskia het hierdie waterbron beskerm deur ’n buitemuur daarom te bou sodat dit binne die stad gelê het.—Jes. 22:11; 2 Kron. 32:2-5.

C-6 DIE WOESTYN VAN JUDA (JESIMON)

19. (a) Hoe pas Jesimon die betekenis van sy naam? (b) Watter Bybelgebeure het in hierdie streek plaasgevind?

19 Jesimon is die Bybelnaam vir die wildernis van Juda. Dit beteken “Woestyn” (1 Sam. 23:19, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Hoe beskrywend en gepas is hierdie naam tog! Die woestyn bestaan uit die ruwe oostelike hange van barre kalkformasies van die Judese heuwels, wat oor ’n afstand van 24 kilometer meer as 900 meter daal tot by die Dooie See, waar daar ’n muur van oneffe kranse is. Daar is geen stede nie en min nedersettings in Jesimon. Dit was in hierdie woestyn van Juda waar Dawid skuiling gesoek het toe hy vir koning Saul gevlug het, dit was tussen hierdie woestyn en die Jordaan waar Johannes die Doper gepreek het en dit was hierdie streek waarheen Jesus gekom het toe hy 40 dae lank gevas het.b—1 Sam. 23:14; Matt. 3:1, 2; Luk. 4:1.

C-7 DIE NEGEB (SUIDLAND)

20. Beskryf die Negeb.

20 Suid van die heuwels van Juda lê die Negeb, waar die aartsvaders Abraham en Isak baie jare gewoon het (Gen. 13:1-3; 24:62). Die Bybel noem die suidelike deel van hierdie gebied ook “die woestyn Sin” (Jos. 15:1). Die halfdor Negeb strek van die omgewing van Berseba in die noorde tot by Kades-Barnea in die suide (Gen. 21:31; Num. 13:1-3, 26; 32:8). Vanaf die heuwels van Juda daal die land in ’n reeks rante wat oos-wes loop op so ’n wyse dat dit ’n natuurlike hindernis vir verkeer of invalle vanuit die suide vorm. Vanaf die heuwels in die oostelike deel van die Negeb daal die land tot dit ’n woestynvlakte in die weste vorm wat langs die seekus lê. Met die uitsondering van plekke naby party van die stroomdale is die streek in die somer so bar soos die woestyn. Water kan egter verkry word deur ’n put te grawe (Gen. 21:30, 31). Die hedendaagse staat Israel besproei en ontwikkel dele van die Negeb. “Die rivier van Egipte” het die suidwestelike grens van die Negeb gevorm en ook deel van die suidelike grens van die Beloofde Land uitgemaak.—Gen. 15:18.

C-8 DIE WOESTYN PARAN

21. Waar is Paran, en watter rol het dit in die Bybelgeskiedenis gespeel?

21 Die woestyn Paran lê suid van die Negeb en gaan geleidelik oor in die woestyn Sin. Toe die Israeliete Sinai verlaat het, het hulle onderweg na die Beloofde Land hierdie woestyn oorgesteek, en dit was uit Paran dat Moses die 12 verkenners gestuur het.—Num. 12:16–13:3.

D. DIE GROOT ARABA (DIE SKEURVALLEI)

22. Gebruik die kaart op bladsy 272, die diagramme op bladsy 273 en hierdie paragraaf om kortliks die hoofkenmerke van die Araba (Skeurvallei) en hulle verhouding tot die omliggende gebied te beskryf.

22 Die groot Skeurvallei is een van die buitengewoonste landformasies op aarde. In die Bybel word die deel wat van noord na suid deur die Beloofde Land loop “die Araba” genoem (Jos. 18:18). In 2 Samuel 2:29 (NW) word hierdie skeur in die aardkors as ’n ravyn beskryf. Die berg Hermon lê aan die noordekant daarvan (Jos. 12:1). Vanaf die voet van Hermon daal die Skeurvallei baie vinnig suidwaarts tot ongeveer 800 meter onder seespieël op die bodem van die Dooie See. Van die suidelike punt van die Dooie See strek die Araba verder suid en bereik dit ongeveer halfpad tussen die Dooie See en die Golf van Akaba ’n hoogte van meer as 200 meter bo seespieël. Daarna daal dit vinnig tot in die lou waters van die Rooi See se oostelike arm. Die bygaande dwarssneekaart toon die verhouding van die Skeurvallei tot die omliggende streke.

D-1 DIE HOELE-BEKKEN

23. Waarmee is die Hoele-streek in Bybeltye geassosieer?

23 Vanaf die voet van die berg Hermon daal die Skeurvallei vinnig meer as 490 meter tot in die Hoele-streek, wat min of meer op seespieël geleë is. Dit is ’n waterryke streek wat selfs deur die warm somermaande heen pragtig groen bly. Dit was in hierdie gebied dat die Daniete hulle in hul stad Dan gevestig het, wat van die tyd van die rigters tot die tyd van die tienstammeryk van Israel ’n sentrum van afgodsaanbidding was (Rigt. 18:29-31; 2 Kon. 10:29). Dit was by Cesarea-Filippi, ’n dorp naby eertydse Dan, dat Jesus vir sy dissipels bevestig het dat hy die Christus is, en talle meen dat dit op die nabygeleë berg Hermon was dat die transfigurasie ses dae later plaasgevind het. Vanaf Hoele daal die Skeurvallei na die See van Galilea, wat ongeveer 210 meter onder seespieël lê.—Matt. 16:13-20; 17:1-9.

D-2 DIE STREEK RONDOM DIE SEE VAN GALILEA

24. (a) By watter ander name noem die Bybel die See van Galilea? (b) Beskryf die See soos dit in Jesus se dag gelyk het.

24 Die See van Galilea en die omliggende gebied is buitengewoon mooi.c Daar is besonder groot belangstelling in daardie streek vanweë al die gebeurtenisse wat tydens Jesus se bediening daar plaasgevind het (Matt. 4:23). Die see word ook die meer Gennesaret, die Kinneretsee en die See van Tiberias genoem (Luk. 5:1; Jos. 13:27; Joh. 21:1). Dit is in werklikheid ’n hartvormige meer met ’n lengte van byna 21 kilometer en ’n maksimum breedte van ongeveer 11 kilometer en is ’n belangrike waterreservoir vir die hele land. Dit word feitlik alkant deur heuwels ingesluit. Die meer se oppervlak is ongeveer 210 meter onder seespieël, met die gevolg dat die winters aangenaam en warm en die somers baie lank en baie warm is. In Jesus se dag was dit die sentrum van ’n hoogs ontwikkelde vissery, en die florerende stede Gorasin, Betsaida, Kapernaüm en Tiberias was aan of naby die oewer van die meer geleë. Die kalmte van die meer kan vinnig deur storms versteur word (Luk. 8:23). Die klein vlakte van Gennesaret is driehoekig en lê noordwes van die meer. Die grond is ryk en lewer feitlik elke soort oes op wat in die Beloofde Land bekend is. In die lente is die heuwelhange met hulle vrolike kleure ’n lus vir die oë wat nêrens in die land Israel oortref word nie.d

D-3 DIE JORDAANVALLEISTREEK (DIE GHOR)

25. Wat is die hoofkenmerke van die Jordaanvallei?

25 Hierdie hele ravynagtige, dalende vallei word ook “die Araba” genoem (Deut. 3:17, NW). Die Arabiere verwys vandag daarna as Die Ghor, wat “Insinking” beteken. Die vallei begin by die See van Galilea en is oor die algemeen redelik breed—op party plekke het dit ’n breedte van ongeveer 19 kilometer. Die Jordaanrivier self is ongeveer 46 meter laer as die valleivlakte, en met al sy kronkels en draaie vloei die rivier altesaam 320 kilometer om die afstand van 105 kilometer na die Dooie See af te lê.e Die rivier loop deur 27 kaskades wat stroomversnellings veroorsaak en daal ongeveer 180 meter voordat dit die Dooie See bereik. Die oewers van die Benede-Jordaan is dig bebos met bome en struike, veral tamariskbome, oleanders en wilge, waartussen leeus en hul welpies in Bybeltye gehou het. Hierdie gedeelte staan vandag as die Zor bekend en word in die lente gedeeltelik oorstroom (Jer. 49:19). Aan weerskante van hierdie smal oerwoudagtige stuk land verrys die Qattara, ’n onherbergsame, kaal strook wat uit klein plato’s en verkloofde hellings bestaan wat na die vlaktes van Die Ghor self lei. Die vlaktes in die noordelike deel van Die Ghor, of Araba, is goed bewerk. Selfs in die suidelike deel, in die omgewing van die Dooie See, het die plato van die Araba, wat vandag baie dor is, na wat beweer word eens baie soorte dadels sowel as baie ander tropiese vrugte opgelewer. Jerigo was en is steeds die bekendste stad in die Jordaanvallei.—Jos. 6:2, 20; Mark. 10:46.

D-4 DIE SOUTSEE (DOOIE SEE)

26. (a) Wat is party van die merkwaardige feite oor die Dooie See? (b) Watter treffende getuienis lewer hierdie streek aangaande Jehovah se oordele?

26 Dit is een van die merkwaardigste watermassas op aarde. Dit word gepas dood genoem, want geen visse leef in dié see nie en daar is min plantegroei op sy oewers. Die Bybel noem dit die Soutsee, of die see van die Araba, aangesien dit in die Arabaskeurvallei geleë is (Gen. 14:3; Jos. 12:3, NW). Die see is min of meer 75 kilometer van noord na suid en 15 kilometer breed. Sy oppervlak is ongeveer 400 meter laer as dié van die Middellandse See, wat dit die laagste plek op aarde maak. Die noordelike deel daarvan is sowat 400 meter diep. Die see word aan weerskante deur barre heuwels en steil kranse ingesluit. Hoewel die Jordaanrivier vars water in hierdie see laat inloop, is daar geen uitloopplek vir die water nie en verminder dit slegs deur verdamping, en dít vind net so vinnig plaas as wat die water inloop. Die opgedamde water bevat ongeveer 25 persent opgeloste vaste stowwe, meestal sout, en is giftig vir visse en pynlik vir die menseoog. Besoekers aan die grootste deel van die gebied rondom die Dooie See word gewoonlik deur ’n gevoel van verlatenheid en verwoesting oorweldig. Dit is ’n plek van die dooies. Hoewel die hele streek eens “volop water” gehad het, “soos die tuin van die HERE”, is die gebied rondom die Dooie See al byna 4 000 jaar lank grotendeels “’n verlate woesteny”, wat treffende getuienis is van die onveranderlikheid van Jehovah se oordele wat aldaar aan Sodom en Gomorra voltrek is.—Gen. 13:10; 19:27-29; Sef. 2:9, NW.

D-5 DIE ARABA (SUID VAN DIE SOUTSEE)

27. Watter soort gebied is die suidelike Araba, en wie het in die ou tyd beheer daaroor uitgeoefen?

27 Die laaste deel van die Skeurvallei strek ’n verdere 160 kilometer na die suide. Hierdie streek is feitlik heeltemal woestyn. Reën is skaars, en die son skroei die aarde ongenadig. Die Bybel noem dit ook “die Araba” (Deut. 2:8, NW). Ongeveer halfpad bereik dit die hoogste punt, oor die 200 meter bo seespieël, en dan daal dit weer suidwaarts na die Golf van Akaba, die oostelike arm van die Rooi See. Dit was hier, in die hawestad Eseon-Geber, waar Salomo ’n vloot skepe gebou het (1 Kon. 9:26). Gedurende ’n groot deel van die tydperk van die konings van Juda het die koninkryk van Edom beheer oor hierdie deel van die Araba uitgeoefen.

E. BERGE EN TAFELLANDE OOS VAN DIE JORDAAN

28. Van watter landboukundige waarde was die land Basan en die land Gilead, en watter rol het hierdie streke in die Bybelgeskiedenis gespeel?

28 Die deel “oorkant die Jordaan in die ooste” rys vinnig uit die Skeurvallei op en vorm dan ’n reeks tafellande (Jos. 18:7; 13:9-12; 20:8). Noord is die land Basan (E-1), wat, tesame met die helfte van Gilead, aan die stam van Manasse gegee is (Jos. 13:29-31). Dit was beeswêreld, ’n land vir die boere, ’n vrugbare plato met ’n gemiddelde hoogte van ongeveer 600 meter bo seespieël (Ps. 22:13; Eseg. 39:18; Jes. 2:13; Sag. 11:2). In Jesus se dag het hierdie gebied baie graan uitgevoer, en vandag lewer dit steeds goeie opbrengste. Suid lê die land Gilead (E-2), waarvan die onderste helfte aan die stam van Gad toegewys is (Jos. 13:24, 25). Hierdie bergstreek, met ’n hoogte van tot 1 000 meter en sy goeie reën in die winter en swaar dou in die somer, was ook goeie veewêreld en was veral bekend vir sy balsem. Vandag is die gebied beroemd om sy besonder goeie druiwe (Num. 32:1; Gen. 37:25; Jer. 46:11). Toe Dawid vir Absalom gevlug het, het hy na die land Gilead gegaan, en in die westelike deel het Jesus in “die gebied van Dekapolis” gepreek.—2 Sam. 17:26-29; Mark. 7:31.

29. Watter lande het oos van die Jordaan in die suide gelê, en waarvoor was hulle bekend?

29 “Die land van die kinders van Ammon” (E-3) lê onmiddellik suid van Gilead, en die helfte hiervan is aan die stam van Gad gegee (Jos. 13:24, 25; Rigt. 11:12-28). Dit is ’n golwende tafelland en is die geskikste as weiding vir skape (Eseg. 25:5). Nog verder na die suide lê “die land Moab” (Deut. 1:5). Die Moabiete self was groot skaapboere, en tot vandag toe is skaapteelt die belangrikste bedryf van daardie gebied (2 Kon. 3:4). Dan, suidoos van die Dooie See, kom ons by die bergplato van Edom (E-4). Die ruïnes van sy groot handelsvestings, soos Petra, bestaan vandag nog.—Gen. 36:19-21; Obad. 1-4.

30. Wat grens in die ooste aan die tafellande?

30 Oos van hierdie heuwels en tafellande lê die uitgestrekte rotsagtige wildernis wat direkte verkeer tussen die Beloofde Land en Mesopotamië prakties onmoontlik gemaak het, sodat die karavane ’n ompad van talle kilometers na die noorde moes volg. In die suide sluit hierdie wildernis by die sandduine van die groot Arabiese woestyn aan.

F. DIE LIBANONGEBERGTE

31. (a) Wat maak die Libanongebergte uit? (b) Watter kenmerke van die Libanon is nog dieselfde as in Bybeltye?

31 Die Libanongebergte beheers die landskap van die Beloofde Land. Daar is in werklikheid twee bergreekse wat parallel loop. Die voorheuwels van die eintlike Libanonreeks strek tot in Bo-Galilea. Op baie plekke loop hierdie heuwels reg tot by die seekus. Die hoogste piek van hierdie reeks is ongeveer 3 000 meter bo seespieël. Die hoogste piek van die aangrensende Anti-Libanonreeks is die pragtige berg Hermon, wat tot 2 814 meter bo seespieël uittoring. Sy smeltende sneeu is ’n belangrike waterbron vir die Jordaanrivier en ’n bron van dou gedurende die droë periode teen die einde van die lente (Ps. 133:3). Die Libanonberge was veral bekend vir hulle reuseseders, waarvan die hout in die konstruksie van Salomo se tempel gebruik is (1 Kon. 5:6-10). Hoewel net ’n paar sederbosse vandag oorbly, is daar nog, net soos in Bybeltye, wingerde en olyf- en vrugteboorde teen die laer hange.—Hos. 14:6-8.

32. Watter akkurate beskrywing het Moses van die Land van Belofte gegee?

32 Aan die einde van ons besoek aan Jehovah se Land van Belofte, wat deur die afskrikwekkende wildernis in die ooste en die Groot See ingesluit word, kan ons ons die glorie voorstel waarmee dit in die dae van Israel beklee was. Dit was waarlik “’n buitengewoon goeie land . . . ’n land wat oorloop van melk en heuning” (Num. 14:7, 8; 13:23). Moses het met hierdie woorde daarna verwys: “Die HERE jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning; ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ’n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en die HERE jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het” (Deut. 8:7-10). Mag almal wat Jehovah liefhet hom nou insgelyks dank dat hy voornemens is om die hele aarde ’n glorieryke paradys te maak na die voorbeeld van sy eertydse Land van Belofte.—Ps. 104:10-24.

[Voetnote]

a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 332-3.

b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 335.

c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 336.

d Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 737-40.

e Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 334.

[Kaart op bladsy 272]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NATUURLIKE STREKE van die BELOOFDE LAND

(en aangrensende gebiede)

MI 0 10 20 30 40 50 60

KM 0 20 40 60 80

(Sien teenoorstaande bladsy vir dwarssneë V—V, W—W, X—X, Y—Y en Z—Z)

SLEUTEL TOT NOMMERS

MIDDELLANDSE SEE

A Seekus van die Groot See

Joppe

B-1 Vlakte van Aser

B-2 Die kusstrook van Dor

Dor

B-3 Weivelde van Saron

B-4 Vlakte van Filistea

Asdod

Askelon

Ekron

Gat

Gasa

B-5 Sentrale oos-wes-vallei (Vlakte van Megiddo, Laagvlakte

van Jisreël)

Bet-Sean

C-1 Heuwels van Galilea

Kana

Nain

Nasaret

Tirus

C-2 Heuwels van Karmel

C-3 Heuwels van Samaria

Bet-el

Jerigo

Samaria

Tirsa

Sigem

C-4 Sjefela (Laeveld)

Lagis

C-5 Die heuwelland van Juda

Betlehem

Geba

Hebron

Jerusalem

C-6 Woestyn van Juda (Jesimon)

C-7 Negeb (Suidland)

Berseba

Kades-Barnea

Rivier van Egipte

C-8 Woestyn Paran

D-1 Hoele-bekken

Dan

Cesarea-Filippi

D-2 Streek rondom die See van Galilea

Betsaida

Kapernaüm

Gorasin

See van Galilea

Tiberias

D-3 Die Jordaanvalleistreek (Die Ghor)

Jordaanrivier

D-4 Die Soutsee (Dooie See; See van die Araba)

Soutsee

D-5 Die Araba (suid van die Soutsee)

Eseon-Geber

Rooi See

E-1 Die land Basan

Damaskus

Edreï

E-2 Die land Gilead

Rabba

Ramot-Gilead

Jabbokstroomdal

E-3 Die land van Ammon en Moab

Hesbon

Kir-Hareset

Medeba

Arnonstroomdal

Seredstroomdal

E-4 Bergplato van Edom

Petra

F Libanongebergte

Sidon

Libanongebergte

Die berg Hermon

[Kaarte op bladsy 273]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

KENMERKENDE DWARSSNEË VAN DIE BELOOFDE LAND

(Sien teenoorstaande bladsy vir plekke se liggings)

Die hoogte is ongeveer 10 maal die lengtemaat

Wes-oos-dwarssnee deur Efraim (V—V)

Middellandse See

B-3 Weivelde van Saron

C-3 Heuwels van Samaria

D-3 Die Araba of Jordaanvallei (Die Ghor)

Qattara

Zor

E-2 Die land Gilead

M. 0 5 10

KM 0 8 16

Linkerkantste syfers is in METERS Regterkantste syfers is in VOET

+900 +3 000

+600 +2 000

+300 +1 000

0 (Seespieël) 0

−300 −1 000

−600 −2 000

Wes-oos-dwarssnee deur Juda (W—W)

Middellandse See

B-4 Sandduine

Vlakte van Filistea

C-4 Sjefela

C-5 Heuwelland van Juda

Jerusalem

C-6 Woestyn van Juda

D-4 Skeurvallei

E-3 Die land van Ammon en Moab

M. 0 5 10

KM 0 8 16

Linkerkantste syfers is in METERS Regterkantste syfers is in VOET

+900 +3 000

+600 +2 000

+300 +1 000

0 (Seespieël) 0

−300 −1 000

−600 −2 000

Wes-oos-dwarssnee deur Juda (X—X)

Middellandse See

B-4 Sandduine

Vlakte van Filistea

C-4 Sjefela

C-5 Heuwelland van Juda

C-6 Woestyn van Juda

D-4 Skeurvallei

Soutsee

E-3 Die land van Ammon en Moab

M. 0 5 10

KM 0 8 16

Linkerkantste syfers is in METERS Regterkantste syfers is in VOET

+900 +3 000

+600 +2 000

+300 +1 000

0 (Seespieël) 0

−300 −1 000

−600 −2 000

−900 −3 000

Suid-noord-dwarssnee al langs die berge wes van die Jordaan (Y—Y)

C-7 Negeb

C-5 Heuwelland van Juda

C-3 Heuwels van Samaria

B-5 Laagvlakte van Jisreël

C-1 Heuwels van Galilea

F

M. 0 5 10

KM 0 8 16

Linkerkantste syfers is in METERS Regterkantste syfers is in VOET

+900 +3 000

+600 +2 000

+300 +1 000

0 (Seespieël) 0

Suid-noord-dwarssnee al langs die Araba of Skeurvallei (Z—Z)

D-5

D-4 Soutsee

D-3 Die Araba of Jordaanvallei (Die Ghor)

D-2 See van Galilea

D-1 Hoele-bekken

F

M. 0 5 10

KM 0 8 16

Linkerkantste syfers is in METERS Regterkantste syfers is in VOET

+900 +3 000

+600 +2 000

+300 +1 000

0 (Seespieël) 0

−300 −1 000

−600 −2 000

−900 −3 000

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel