Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 278-284
  • Studie nommer 2—Tyd en die Heilige Skrif

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Studie nommer 2—Tyd en die Heilige Skrif
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Soortgelyke materiaal
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Jaartalle
    Redenering uit die Skrif
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 278-284

Studie nommer 2—Tyd en die Heilige Skrif

’n Beskrywing van tydsindelings in die Bybel, die kalenders wat algemeen gebruik is, absolute datums vir die Bybel en interessante feite met betrekking tot “die tydstroom”.

1, 2. Wat het Salomo aangaande tyd geskryf, en wat moet ons daarmee doen aangesien dit so gou verbysnel?

DIE mens is uiters bewus van die verloop van tyd. Met elke tik van die horlosie beweeg hy ’n tree verder in die tydstroom. Hy is inderdaad verstandig as hy sy tyd goed benut. Soos koning Salomo geskryf het: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, ’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te roei wat geplant is, ’n tyd om dood te maak en ’n tyd om gesond te maak, ’n tyd om af te breek en ’n tyd om op te bou, ’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag” (Pred. 3:1-4). Hoe vinnig gaan tyd tog verby! Die 70 jaar van die normale lewensduur is heeltemal te kort vir ’n mens om die oorvloed van kennis in te neem en al die ander goeie dinge te geniet wat Jehovah hier op aarde vir die mens voorsien het. “Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy [onbepaalde tyd] in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.”—Pred. 3:11, vgl. NW; Ps. 90:10.

2 Jehovah leef in ’n ewigheid van tyd. Dit het hom behaag om sy skepsele in die tydstroom te plaas. Die hemelse engele, selfs die opstandige Satan, is ten volle bewus van die verloop van tyd (Dan. 10:13; Openb. 12:12). Oor die mensdom is geskryf: “Tyd en lotgeval tref hulle almal” (Pred. 9:11). Gelukkig is die persoon wat God te alle tye in sy gedagtes insluit en wat God se voorsienings van “voedsel op tyd” verwelkom!—Matt. 24:45.

3. Wat het tyd en ruimte met mekaar gemeen?

3 Tyd beweeg in een rigting. Hoewel tyd universeel is, kan geen mens op aarde sê wat dit is nie. Dit is so ondeurgrondelik soos ruimte. Niemand kan verduidelik waar die tydstroom begin het of waarheen dit beweeg nie. Hierdie dinge behoort tot die onbeperkte kennis van Jehovah, wat beskryf word as die een wat “van ewigheid tot ewigheid” God is.—Ps. 90:2.

4. Wat kan oor die beweging van tyd gesê word?

4 Aan die ander kant het tyd egter sekere kenmerke wat begryp kan word. Die klaarblyklike tempo waarmee dit beweeg, kan gemeet word. Dit beweeg ook net in een rigting. Soos verkeer in ’n eenrigtingstraat, beweeg tyd meedoënloos in daardie een rigting—voorwaarts, altyd voorwaarts. Ongeag hoe vinnig tyd voorwaarts beweeg, ’n mens kan dit nooit laat terugbeweeg nie. Ons lewe in ’n kortstondige hede. Maar hierdie hede is in beweging en word voortdurend die verlede. Die proses kan nie stopgesit word nie.

5. Waarom kan daar gesê word dat die verlede gewen of verloor is?

5 Die verlede. Die verlede is verby, dit is geskiedenis, en dit kan nooit weer herhaal word nie. Enige poging om die verlede oor te hê, is so onmoontlik soos om ’n waterval opwaarts te laat tuimel of ’n pyl te laat terugskiet na die boog wat dit afgeskiet het. Ons foute het ’n stempel op die tydstroom gelaat, ’n stempel wat net Jehovah kan uitwis (Jes. 43:25). Net so het ’n persoon se goeie dade in die verlede ’n rekord gebou wat met seën van Jehovah ‘op hom sal terugkom’ (Spr. 12:14; 13:22). Die verlede is gewen of verloor. ’n Mens het hoegenaamd nie meer beheer daaroor nie. Oor die goddelose is geskryf: “Want soos gras sal hulle gou verwelk, en soos groen grasspruitjies sal hulle verdroog.”—Ps. 37:2.

6. Hoe verskil die toekoms van die verlede, en waarom moet dit vir ons van besondere belang wees?

6 Die toekoms. Die toekoms is anders. Dit beweeg altyd na ons toe. Met behulp van God se Woord kan ons hindernisse identifiseer wat voor ons opdoem en ons daarop voorberei. Ons kan vir ons “skatte bymekaarmaak in die hemel” (Matt. 6:20). Hierdie skatte sal nie deur die tydstroom weggesleur word nie. Ons sal dit altyd hê, en dit sal tot in ’n ewige, geseënde toekoms behoue bly. Ons stel belang in die verstandige benutting van tyd, aangesien dit daardie toekoms raak.—Ef. 5:15, 16.

7. Watter tydwysers het Jehovah vir die mens voorsien?

7 Tydwysers. Ons hedendaagse horlosies is tydwysers. Hulle is maatstawwe waarmee tyd gemeet word. Jehovah, die Skepper, het op soortgelyke wyse reusetydwysers in beweging gebring—die aarde wat om sy eie as draai, die maan wat om die aarde wentel, asook die son—sodat die mens vanuit sy aardse oogpunt akkuraat ingelig kan wees oor die tyd. “En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye [“seisoene”, NW], asook vir dae sowel as jare” (Gen. 1:14). Gevolglik beweeg hierdie hemelliggame as ’n menigte voorwerpe met ineenskakelende funksies in hulle volmaakte bane voort, waardeur hulle sonder ophou en onfeilbaar die eenrigtingbeweging van tyd meet.

8. Watter verskillende betekenisse het die woord “dag” in die Bybel?

8 Dag. In die Bybel word verskillende betekenisse aan die woord “dag” geheg, net soos dit in hedendaagse tye vir verskillende dinge gebruik word. Wanneer die aarde ’n volle omwenteling om sy eie as voltooi, meet dit ’n dag van 24 uur af. In hierdie sin bestaan ’n dag uit ’n daglig- en ’n nagperiode, altesaam 24 uur (Joh. 20:19). Maar hierdie dagligperiode, wat gewoonlik gemiddeld 12 uur is, word ook dag genoem. “En God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem” (Gen. 1:5). Dit gee aanleiding tot die tydsuitdrukking “nag”, die periode wat gewoonlik gemiddeld 12 uur donkerte is (Ex. 10:13). Nog ’n betekenis is wanneer die woord “dag” of “dae” betrekking het op die tydperk waartydens ’n besondere persoon gelewe het. Jesaja het byvoorbeeld sy visioen gesien “in die dae van Ussia, Jotam, Agas en Hiskia” (Jes. 1:1), en die dae van Noag en van Lot word as profeties bestempel (Luk. 17:26-30). Nog ’n voorbeeld van die buigbare of figuurlike gebruik van die woord “dag” is Petrus se woorde dat “een dag by die Here soos duisend jaar is” (2 Pet. 3:8). In die Genesisverslag is die skeppingsdag selfs ’n langer tydperk—millenniums (Gen. 2:2, 3; Ex. 20:11). Die konteks waarin die woord “dag” in die Bybel gebruik word, toon watter betekenis daaraan geheg moet word.

9. (a) Hoe het dit gekom dat die dag in 24 uur van 60 minute elk verdeel word? (b) Watter tydaanwysers word in die Hebreeuse Geskrifte gemeld?

9 Uur. Die gebruik om die dag in 24 uur te verdeel, word teruggevoer tot Egipte. Ons hedendaagse gebruik om die uur in 60 minute te verdeel, het sy oorsprong in Babiloniese wiskunde, wat ’n sestigtallige stelsel was (dit wil sê, gebaseer op die syfer 60). Die Hebreeuse Geskrifte meld geen verdeling in ure nie.a Pleks van die dag in spesifieke ure te verdeel, gebruik die Hebreeuse Geskrifte uitdrukkings soos “môre”, “middag”, “vanmiddag” en “aand” as tydaanwysers (Gen. 24:11; 43:16; Deut. 28:29; 1 Kon. 18:26). Die nag is in drie periodes verdeel wat “die nagwake” genoem is (Ps. 63:7), waarvan twee spesifiek in die Bybel gemeld word: “die middelste nagwaak” (Rigt. 7:19) en “die môrewaak”.—Ex. 14:24; 1 Sam. 11:11.

10. Hoe het die Jode in Jesus se tyd ure getel, en hoe help hierdie kennis ons om die tyd van Jesus se dood te bepaal?

10 In die Christelike Griekse Geskrifte word die “uur” egter dikwels gemeld (Joh. 12:23; Matt. 20:2-6). Ure is van die sonsopkoms, of ongeveer 6 vm., getel. Die Bybel meld “die derde uur”, wat ongeveer 9 vm. sou wees. Die “sesde uur” word aangegee as die tyd waarop duisternis oor Jerusalem gekom het toe Jesus tereggestel is. Dit sou met ons 12 middag ooreengekom het. Die verslag sê dat Jesus “omtrent die negende uur”, of ongeveer 3 nm., aan die folterpaal gesterf het.—Mark. 15:25; Luk. 23:44; Matt. 27:45, 46.b

11. Hoe oud is die “week” as ’n tydeenheid?

11 Week. Die mens het al vroeg in sy geskiedenis sy dae in siklusse van sewe begin tel. Sodoende het hy die voorbeeld van sy Skepper gevolg, wat sy ses skeppingsdae met ’n sewende periode gekroon het wat ook ’n dag genoem is. Noag het dae in siklusse van sewe getel. In Hebreeus verwys die woord “week” letterlik na ’n sewevoudige eenheid of periode.—Gen. 2:2, 3; 8:10, 12; 29:27.

12. Wat is ’n maanmaand, en hoe verskil dit van ons hedendaagse maande?

12 Maanmaande. Die Bybel praat van “maanmaande” (Ex. 2:2, NW; Deut. 21:13, NW; 33:14; Esra 6:15, NW). Ons hedendaagse maande is nie maanmaande nie, want hulle word nie aan die hand van die maan bepaal nie. Hulle is eenvoudig 12 arbitrêre verdelings van die sonjaar. ’n Maanmaand is ’n maand wat deur die nuwemaan bepaal word. Daar is vier fases van die maan, wat een maansomloop van gemiddeld 29 dae, 12 uur en 44 minute uitmaak. ’n Mens hoef net na die vorm van die maan te kyk om naastenby te kan sê watter dag van die maanmaand dit is.

13. Hoe is die Vloed akkuraat opgeteken wat tyd betref?

13 Pleks van streng by maanmaande te hou, wil dit voorkom asof Noag maande van 30 dae elk gebruik het toe hy gebeure opgeteken het. Uit die logboek wat Noag in die ark gehou het, blyk dit dat die waters van die Vloed vyf maande, of “honderd-en-vyftig dae”, die oorhand oor die aarde gehad het. Die aarde was na 12 maande en 10 dae weer droog, sodat mens en dier uit die ark kon uitgaan. Wat tyd betref, is daardie epogmakende gebeurtenisse dus akkuraat opgeteken.—Gen. 7:11, 24; 8:3, 4, 14-19.

14. (a) Hoe het Jehovah voorsiening gemaak vir die seisoene? (b) Hoe lank sal daar seisoene wees?

14 Seisoene. Toe Jehovah die aarde vir bewoning voorberei het, het hy die wyse en liefdevolle voorsiening van die seisoene gemaak (Gen. 1:14, NW). Die seisoene ontstaan omdat die aarde skuins, of teen ’n helling, lê, aangesien sy as ’n hoek van 23,5° ten opsigte van die vlak van sy baan om die son vorm. Gevolglik is eers die Suidelike Halfrond en dan, ses maande later, die Noordelike Halfrond in die rigting van die son gekantel, sodat die seisoene agtereenvolgens kom en gaan. Hierdie seisoensveranderinge maak verskeidenheid en kontraste moontlik en beheer die tye om te plant en te oes. God se Woord verseker ons dat die seisoensveranderinge en -kontraste wat deur die jaar plaasvind vir ewig sal voortduur. “Al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag [sal] nie ophou nie.”—Gen. 8:22.

15, 16. (a) Hoe kan die reënseisoen in die Beloofde Land onderverdeel word? (b) Beskryf die reëntye en die verband tussen hierdie tye en landboukundige aktiwiteite.

15 Die jaar in die Beloofde Land kan oor die algemeen in die reënseisoen en die droë seisoen verdeel word. Van ongeveer midde April tot midde Oktober val baie min reën. Die reënseisoen kan verdeel word in die “vroeë reëns”, of herfsreën (Oktober-November); die swaar winterreëns en kouer weer (Desember-Februarie); en die “laat reëns”, of lentereën (Maart-April) (Deut. 11:14; Joël 2:23). Dit is slegs ’n algemene verdeling, aangesien die seisoene mekaar oorvleuel vanweë die klimaatsverskille in verskillende dele van die land. Die vroeë reën maak die droë grond sag, sodat Oktober-November die “ploegtyd” en die “saaityd” is (Ex. 34:21; Lev. 26:5). Gedurende die swaar winterreëns van Desember tot Februarie is sneeuvalle nie ongewoon nie, en in Januarie en Februarie kan die temperatuur in die hoër geleë dele tot onder vriespunt daal. Die Bybel meld dat Benaja, een van Dawid se sterk manne, “op ’n sneeudag” ’n leeu doodgemaak het.—2 Sam. 23:20.

16 Maart en April (min of meer die Hebreeuse maande Nisan en Ijjar) is die maande van die “laat reëns”, of lentereën (Sag. 10:1). Hierdie laat reëns is nodig om die graan wat in die herfs geplant is te laat groei, sodat daar ’n goeie oes kan wees (Hos. 6:3; Jak. 5:7). Dit is ook die seisoen vir die vroeë oes, en God het Israel beveel om die eerstelinge van die oes op 16 Nisan te offer (Lev. 23:10; Rut 1:22). Dit is ’n pragtige en vreugdevolle tyd. “Die bloeisels word gesien in die land, die sangtyd het aangebreek, en die tortelduif laat sy stem hoor in ons land. Die vyeboom laat sy voorvye uitswel, en die wingerdstokke wat bloei, versprei geur.”—Hoogl. 2:12, 13.

17. (a) Hoe bly die gesaaides gedurende die droë seisoen aan die lewe? (b) Ondersoek die tabel “Die Israeliete se jaar” en verdeel die jaar in seisoene, soos bespreek in paragrawe 15-17. (c) Wanneer was die vroeë oes en die graanoes, wanneer is al die vrugte ingesamel, en watter feeste het met hierdie gebeure saamgeval?

17 Die droë seisoen begin ongeveer midde April, maar feitlik dwarsdeur hierdie tydperk, en veral op die kusvlaktes en teen die berge se westelike hange, word die somergesaaides deur ’n oorvloed van dou aan die lewe gehou (Deut. 33:28). In Mei word die graan geoes, en dit was aan die einde van hierdie maand dat die Fees van die weke (Pinkster) gevier is (Lev. 23:15-21). Daarna, wanneer die weer warmer en die grond droër word, word die druiwe aan die wingerdstokke ryp en dan geoes, gevolg deur die ander somervrugte, soos olywe, dadels en vye (2 Sam. 16:1). Wanneer die droë seisoen geëindig en die vroeë reëns begin val het, was al die opbrengste van die land reeds ingebring, en dit was dan (ongeveer die begin van Oktober) dat die Huttefees gehou is.—Ex. 23:16; Lev. 23:39-43.

18. (a) Waarom is die betekenis van die Hebreeuse woord vir “jaar” gepas? (b) Wat is die ware sonjaar met betrekking tot die aarde?

18 Jaar. Ons studie van tyd in die Bybel bring ons nou by die uitdrukking “jaar”. Dit word van die begin van die mens se geskiedenis af gemeld (Gen. 1:14). Die Hebreeuse woord vir “jaar”, sja·nahʹ, is afgelei van ’n grondwoord wat “herhaal; doen weer” beteken en die idee van ’n tydkringloop bevat. Dit was gepas, aangesien die kringloop van die seisoene elke jaar herhaal is. ’n Aardse jaar is die tyd wat dit die aarde neem om ’n volle omwenteling, of reis, om die son te voltooi. Die tyd wat vir ons hier op aarde nodig is om hierdie reis af te lê, is 365 dae, 5 uur, 48 minute en 46 sekondes, of ongeveer 365 1/4 dag. Dit word die ware sonjaar genoem.

19. (a) Hoe is antieke Bybeljare bereken? (b) Watter “godsdienstige jaar” het Jehovah later verorden?

19 Bybeljare. Volgens die antieke Bybelse berekeninge het die jaar van herfs tot herfs geduur. Dit was besonder gepas vir ’n landbougeoriënteerde lewe, waarin die jaar, teen die eerste helfte van ons Oktober, met ploeg- en saaiwerk begin het en met die insameling van die oes geëindig het. Noag het die jaar in die herfs begin tel. Volgens sy verslag het die Vloed “in die tweede maand” begin, wat met die tweede helfte van Oktober en die eerste helfte van November ooreenkom (Gen. 7:11, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Tot vandag toe begin baie volke op aarde hulle nuwe jaar in die herfs. Ten tyde van die Eksodus uit Egipte, in 1513 v.G.J., het Jehovah verorden dat Abib (Nisan) vir die Jode “die begin van die maande” moet word, met die gevolg dat hulle toe ’n godsdienstige jaar gehad het wat van lente tot lente geduur het (Ex. 12:2). Maar in ons dag volg die Jode ’n sekulêre, of burgerlike, jaar wat in die herfs begin, met Tisjri as die eerste maand.

20. Hoe is die maanjaar aangepas om met die sonjaar ooreen te stem, en wat is maan-sonjare?

20 Die maan-sonjaar. Tot Christus se tyd het die meeste nasies maanjare gebruik om tyd te tel en verskeie maniere gebruik om die jaar só aan te pas dat dit min of meer met die sonjaar ooreenstem. Die gewone maanjaar van 12 maanmaande het 354 dae, terwyl die maande, na gelang van die verskyning van elke nuwemaan, 29 of 30 dae het. Die maanjaar is dus sowat 11 1/4 dag korter as die gewone sonjaar van 365 1/4 dag. Die Hebreërs het die maanjaar gebruik. Die Bybel verduidelik nie presies hoe hulle hierdie jaar aangepas het om met die sonjaar en die seisoene ooreen te stem nie, maar hulle moes, wanneer nodig, bykomende maande, of skrikkelmaande, ingevoeg het. Die invoeging van skrikkelmaande is later, in die vyfde eeu v.G.J., gesistematiseer, en hierdie stelsel staan vandag as die maansirkel bekend. Daarvolgens moes die skrikkelmaand sewe keer elke 19 jaar ingevoeg word, en op die Joodse kalender is dit ingevoeg na die 12de maand, Adar, en is dit We-Adar, of “tweede Adar”, genoem. Aangesien die maankalender op hierdie wyse by die son aangepas word, staan die jare, wat 12 of 13 maande het, as maan-sonjare bekend.

21. (a) Wat is die Juliaanse kalender? (b) Waarom is die Gregoriaanse kalender akkurater?

21 Die Juliaanse en Gregoriaanse kalender. ’n Kalender is ’n stelsel om die begin, lengte en verdelings van die jaar te bepaal en om hierdie verdelings te rangskik. Die Juliaanse kalender is in 46 v.G.J. deur Julius Caesar ingestel om die Romeinse volk ’n sonjaartydreëling in die plek van die maanjaar te gee. Die Juliaanse kalender se jaar bestaan uit 365 dae, met dié uitsondering dat daar elke vierde jaar (skrikkeljaar) ’n dag bygevoeg word om dit 366 dae te maak. Maar mettertyd is daar vasgestel dat die Juliaanse kalenderjaar in werklikheid ’n bietjie meer as 11 minute langer as die ware sonjaar is. Teen die 16de eeu G.J. was daar reeds ’n geakkumuleerde verskil van tien volle dae. Gevolglik het pous Gregorius XIII in 1582 ’n geringe wysiging aangebring en ’n kalender ingestel wat vandag as die Gregoriaanse kalender bekend staan. Uit krag van ’n pouslike bul is tien dae van die jaar 1582 weggelaat, sodat die dag ná 4 Oktober die 15de Oktober geword het. Volgens die Gregoriaanse kalender moet eeujare wat nie deur 400 gedeel kan word nie nie as skrikkeljare beskou word nie. Byvoorbeeld: Anders as die jaar 2000 is die jaar 1900 nie ’n skrikkeljaar gemaak nie, want die syfer 1 900 kan nie deur 400 gedeel word nie. Die Gregoriaanse kalender is nou die kalender wat in die meeste wêrelddele algemeen in gebruik is.

22, 23. Hoe lank is ’n profetiese jaar?

22 Die profetiese “jaar”. In Bybelprofesieë word die woord “jaar” dikwels in spesiale sin gebruik as die ekwivalent van 12 maande met 30 dae elk, dit wil sê, altesaam 360 dae. Let op wat een gesaghebbende in sy kommentaar op Esegiël 4:5, 6 sê: “Ons moet aanneem dat Esegiël ’n jaar van 360 dae geken het. Dit is nie ’n ware sonjaar of ’n maanjaar nie. Dit is ’n ‘gemiddelde’ jaar, waarin elke maand 30 dae het.”c

23 ’n Profetiese jaar word ook ’n “tyd” genoem, en ’n studie van Openbaring 11:2, 3 en 12:6, 14 toon hoe een “tyd” as 360 dae gereken word. In profesieë word ’n jaar ook soms simbolies deur ’n “dag” afgebeeld.—Eseg. 4:5, 6.

24. Waar het talle eertydse volke begin tel?

24 Geen jaar nul. Eertydse volke, met inbegrip van die geleerde Grieke, die Romeine en die Jode, het nie die konsep nul geken nie. Vir hulle het alles van een af begin tel. Het jy, toe jy Romeinse syfers (I, II, III, IV, V, X, ens.) op skool geleer het, ’n karakter vir nul geleer? Nee, want die Romeine het nie een gehad nie. Aangesien die Romeine nie die syfer nul gebruik het nie, het die Gewone Jaartelling nie met die jaar nul begin nie, maar met 1 G.J. Dit het ook aanleiding gegee tot ranggetalle, soos eerste (1ste), tweede (2de), derde (3de), tiende (10de) en honderdste (100ste). In die hedendaagse wiskunde gaan die mens van die veronderstelling uit dat alles by niks, of nul, begin. Die nul is waarskynlik deur die Hindoes uitgevind.

25. Hoe verskil ranggetalle van hoofgetalle?

25 Wanneer ranggetalle gebruik word, moet ons gevolglik altyd een aftrek om die volle getal te kry. Beteken dit byvoorbeeld dat ’n volle 20 eeue verloop het as ons van ’n jaartal in die 20ste eeu G.J. praat? Nee, dit beteken 19 volle eeue plus ’n aantal jare. Die Bybel, sowel as die hedendaagse wiskunde, gebruik hoofgetalle, soos 1, 2, 3, 10 en 100, om heeltalle aan te dui. Dit word ook “heelgetalle” genoem.

26. Hoe bereken ’n mens (a) die jare vanaf 1 Oktober 607 v.G.J. tot 1 Oktober 1914 G.J.? (b) 2 520 jaar vanaf 1 Oktober 607 v.G.J.?

26 Aangesien die Gewone Jaartelling nie met die jaar nul begin het nie maar met 1 G.J. en die kalender vir die jare voor die Gewone Jaartelling nie van ’n jaar nul teruggetel het nie maar met 1 v.G.J. begin het, is die jaartal in enige datum dus in werklikheid ’n ranggetal. Dit wil sê, 1990 G.J. verteenwoordig eintlik 1 989 volle jare sedert die begin van die Gewone Jaartelling, en die datum 1 Julie 1990 verteenwoordig 1 989 jaar plus ’n halwe jaar sedert die begin van die Gewone Jaartelling. Dieselfde beginsel geld vir datums van voor die Gewone Jaartelling. Om te bereken hoeveel jaar tussen 1 Oktober 607 v.G.J. en 1 Oktober 1914 G.J. verloop het, moet ’n mens dus 606 jaar (plus die laaste drie maande van die voorafgaande jaar) by 1 913 (plus die eerste nege maande van die volgende jaar) tel, en die som is 2 519 (plus 12 maande), of 2 520 jaar. Of as ’n mens wil bereken by watter datum jy sal uitkom as jy 2 520 jaar van 1 Oktober 607 v.G.J. af tel, moet jy onthou dat 607 ’n ranggetal is—dit verteenwoordig in werklikheid 606 volle jare—en aangesien ons nie van 31 Desember 607 v.G.J. tel nie, maar van 1 Oktober 607 v.G.J., moet ons die drie maande aan die einde van 607 v.G.J. by 606 tel. Trek nou 606 1/4 van 2 520 jaar af. Daar bly 1 913 3/4 oor. Dit beteken dat 2 520 jaar vanaf 1 Oktober 607 v.G.J. ons 1 913 3/4 jaar die Gewone Jaartelling in neem—1 913 volle jare bring ons by die begin van 1914 G.J., en nog ’n driekwart jaar bring ons by 1 Oktober 1914 G.J.d

27. Wat is absolute datums, en waarom is hulle van groot waarde?

27 Absolute datums. Betroubare Bybelchronologie is op sekere absolute datums gebaseer. ’n Absolute datum is ’n kalenderdatum in die geskiedenis waarvoor daar ’n vaste grondslag vir aanvaarding is en wat ooreenstem met ’n spesifieke gebeurtenis wat in die Bybel opgeteken is. Dit kan dan as ’n beginpunt gebruik word waarvolgens ’n reeks Bybelse gebeure met sekerheid op die kalender geplaas kan word. As hierdie absolute punt eers bepaal is, word akkurate verslae in die Bybel self, soos die vermelde lewensduur van sekere mense of die lengte van die konings se regerings, gebruik om te bereken wanneer gebeure plaasgevind het wat voor of na hierdie datum in die tydstroom is. As ons by ’n vaste punt begin, kan ons dus die betroubare interne chronologie van die Bybel self gebruik om baie Bybelse gebeure te dateer.

28. Watter absolute datum word vir die Hebreeuse Geskrifte gegee?

28 Die absolute datum vir die Hebreeuse Geskrifte. ’n Belangrike gebeurtenis wat in die Bybel sowel as die sekulêre geskiedenis opgeteken is, is die omverwerping van die stad Babel deur die Meders en Perse onder Kores. Die Bybel meld hierdie gebeurtenis in Daniël 5:30. Verskeie historiese bronne (met inbegrip van Diodorus, Afrikanus, Eusebius, Ptolemeus en die Babiloniese tablette) steun 539 v.G.J. as die jaar waarin Kores Babel omvergewerp het. Die Nabonidus-kroniek verstrek die maand en dag van die stad se val (die jaar ontbreek). Sekulêre chronoloë het die datum van Babel se val dus vasgestel op 11 Oktober 539 v.G.J., volgens die Juliaanse kalender, of 5 Oktober volgens die Gregoriaanse kalender.e

29. Wanneer is Kores se bevel uitgevaardig, en waarvoor het dit genoeg tyd toegelaat?

29 Ná die omverwerping van Babel en gedurende Kores se eerste jaar as heerser van die verowerde Babel het hy sy bekende bevel uitgevaardig wat die Jode toegelaat het om na Jerusalem terug te keer. Met die oog op die Bybelverslag is die bevel waarskynlik laat in 538 v.G.J. of omstreeks die lente van 537 v.G.J. uitgevaardig. Dit sou genoeg tyd toegelaat het sodat die Jode hulle weer in hul vaderland kon gevestig en in “die sewende maand”, Tisjri, of ongeveer 1 Oktober 537 v.G.J., na Jerusalem kon opgekom het om die aanbidding van Jehovah te herstel.—Esra 1:1-4; 3:1-6.f

30. Hoe word die tyd van Jesus se doop, en van sy geboorte, deur ’n absolute datum tesame met vervulde profesieë vasgestel?

30 Die absolute datum vir die Christelike Griekse Geskrifte. ’n Absolute datum vir die Christelike Griekse Geskrifte word bepaal aan die hand van die datum waarop Tiberius Caesar keiser Augustus opgevolg het. Keiser Augustus het op 17 Augustus 14 G.J. (Gregoriaanse kalender) gesterf; Tiberius is op 15 September 14 G.J. deur die Romeinse Senaat tot keiser uitgeroep. Lukas 3:1, 3 sê dat Johannes die Doper sy bediening in die 15de jaar van Tiberius se regering begin het. As die jare vanaf Augustus se dood getel is, het die 15de jaar vanaf Augustus 28 G.J. tot Augustus 29 G.J. gestrek. As dit getel is vandat die Senaat Tiberius tot keiser uitgeroep het, het die jaar van September 28 G.J. tot September 29 G.J. gestrek. Kort hierna het Jesus, wat ongeveer ses maande jonger as Johannes die Doper was, gekom om gedoop te word, toe hy “omtrent dertig jaar oud” was (Luk. 3:2, 21-23; 1:34-38). Dit strook met die profesie in Daniël 9:25 dat 69 “sewetalle” (profetiese weke van 7 jaar elk, dit wil sê, altesaam 483 jaar) sou verstryk “van die uitgang van die woord af om Jerusalem [en sy muur] te herstel en op te bou” tot die verskyning van die Messias (Dan. 9:24, voetnoot in die NW-naslaanuitgawe). Daardie “woord” is in 455 v.G.J. deur Artasasta (Longimanus) uitgevaardig, en in die tweede helfte van daardie jaar het Nehemia dit in Jerusalem begin uitvoer. En 483 jaar later, in die tweede helfte van 29 G.J., is Jesus, toe hy deur Johannes gedoop is, ook deur heilige gees van God gesalf en het hy sodoende die Messias, of Gesalfde, geword. Dat Jesus in die tweede helfte van die jaar gedoop is en sy bediening begin het, strook ook met die profesie dat hy in “die helfte van die week” van jare (of na drie en ’n half jaar) afgesny sou word (Dan. 9:27). Aangesien hy in die noordelike lente gesterf het, moes sy bediening van drie en ’n half jaar teen die noordelike herfs van 29 G.J. begin het.g Terloops, hierdie twee bewysvoerings bewys ook dat Jesus in die noordelike herfs van 2 v.G.J. gebore is, aangesien Lukas 3:23 toon dat Jesus omtrent 30 jaar oud was toe hy sy werk begin het.h

31. (a) Waarom lyk dit asof die snelheid waarmee tyd verloop, wissel? (b) Watter voordeel het jongmense gevolglik?

31 Hoe tyd vinniger beweeg. Daar is ’n ou Engelse gesegde dat ‘’n ketel wat dopgehou word nooit kook nie’. Ja, as ons die tyd dophou, as ons daarvan bewus is, as ons wag dat iets gebeur, lyk dit asof tyd sommer baie stadig verbygaan. Maar as ons besig is, as ons belangstel in wat ons doen en daarin verdiep is, lyk dit werklik asof “die tyd vlieg”. Verder lyk dit ook asof tyd vinniger verbygaan vir ouer mense as vir jong kinders. Waarom is dit die geval? Een jaar wat by ’n eenjarige se lewe gevoeg word, beteken ’n vermeerdering van 100 persent in lewensondervinding. Een jaar wat by ’n 50-jarige se lewe gevoeg word, beteken net 2 persent meer. Vir die kind lyk ’n jaar na ’n baie, baie lang tyd. As die ouer persoon besig bly en gesond is, voel dit vir hom asof die jare al hoe vinniger verbysnel. Hy begin hierdie woorde van Salomo beter verstaan: “Daar is glad niks nuuts onder die son nie.” Aan die ander kant kan jongmense steeds by die oënskynlik stadiger jare, die wordingsjare, baat vind. Pleks van saam met ’n materialistiese wêreld ‘wind na te jaag’, kan hulle hierdie jare met vrug gebruik om ’n skat van godvrugtige ervaring op te bou. Salomo se verdere woorde is inderdaad tydig: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid voordat die ongelukkige dae kom en die jare aanbreek waarvan jy sal sê: Ek het daar geen behae in nie.”—Pred. 1:9, 14; 12:1.

32. Hoe sal mense Jehovah se beskouing van tyd beter kan verstaan?

32 Tyd—Wanneer mense vir ewig lewe. Daar lê egter vreugdevolle dae voor wat allesbehalwe rampspoedig sal wees. Dié wat regverdigheid liefhet, wie se ‘tye in Jehovah se hand is’, kan uitsien na ewige lewe in die ryk van God se Koninkryk (Ps. 31:15-17; Matt. 25:34, 46). Onder die Koninkryk sal daar geen dood meer wees nie (Openb. 21:4). Ledigheid, siekte, verveeldheid en ydelheid sal tot die verlede behoort. Daar sal boeiende en fassinerende werk wees om te doen, werk waarvoor die mens sy volmaakte vermoëns sal moet inspan en wat innige bevrediging sal verskaf wanneer dit afgehandel word. Dit sal lyk asof die jare al hoe vinniger verbygaan, en mense se waarderende verstande en goeie geheuens sal voortdurend met herinneringe aan blye gebeure verryk word. Met die verloop van millenniums sal die mense op hierdie aarde ongetwyfeld Jehovah se beskouing van tyd beter begin verstaan: ‘Want duisend jaar is in Jehovah se oë soos die dag van gister as dit verbyskiet.’—Ps. 90:4.

33. Watter seën in verband met tyd het Jehovah gebied?

33 Wanneer ons die tydstroom vanuit ons huidige menslike oogpunt beskou en God se belofte van ’n nuwe wêreld van regverdigheid in aanmerking neem, is die seëninge van daardie dag inderdaad ’n vreugdevolle vooruitsig: “Want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid!”—Ps. 133:3.

[Voetnote]

a In die King James Version verskyn die woord “uur” in Daniël 3:6, 15; 4:19, 33; 5:5, uit die Aramees; Strong se Concordance, Hebrew and Chaldee Dictionary gee die betekenis van die woord egter aan as “’n blik, d.w.s., ’n oomblik”. In die Afrikaanse Bybel word dit vertaal met “oombliklik”, “op die daad” en “oomblik”.

b Sien die voetnote by hierdie verse in die NW-naslaanuitgawe.

c Biblical Calendars, 1961, deur J. van Goudoever, bladsy 75.

d Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 458.

e Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 453-4, 458; Dl. 2, bladsy 459.

f Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 568.

g Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 899-902.

h Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 56-8.

[Tabel op bladsy 281]

DIE ISRAELIETE SE JAAR

Maand se naam Nisan (Abib)

Kom ooreen met Maart - April

Godsdienstige jaar 1ste maand

Sekulêre jaar 7de maand

Teksverwysings Ex. 13:4; Neh. 2:1

Feeste 14 Nisan Pasga

15-21 Nisan Fees van die ongesuurde brode

16 Nisan Eerstelinge as offers gebring

Maand se naam Ijjar (Sif)

Kom ooreen met April - Mei

Godsdienstige jaar 2de maand

Sekulêre jaar 8ste maand

Teksverwysings 1 Kon. 6:1

Maand se naam Siwan

Kom ooreen met Mei - Junie

Godsdienstige jaar 3de maand

Sekulêre jaar 9de maand

Teksverwysings Est. 8:9

Feeste 6 Siwan Fees van die weke (Pinkster)

Maand se naam Tammus

Kom ooreen met Junie - Julie

Godsdienstige jaar 4de maand

Sekulêre jaar 10de maand

Teksverwysings Jer. 52:6

Maand se naam Ab

Kom ooreen met Julie - Augustus

Godsdienstige jaar 5de maand

Sekulêre jaar 11de maand

Teksverwysings Esra 7:8

Maand se naam Elul

Kom ooreen met Augustus - September

Godsdienstige jaar 6de maand

Sekulêre jaar 12de maand

Teksverwysings Neh. 6:15

Maand se naam Tisjri (Etanim)

Kom ooreen met September - Oktober

Godsdienstige jaar 7de maand

Sekulêre jaar 1ste maand

Teksverwysings 1 Kon. 8:2

Feeste 1 Tisjri Dag van die trompetgeklank

10 Tisjri Versoendag

15-21 Tisjri Huttefees

22 Tisjri Plegtige vergadering

Maand se naam Geswan (Bul)

Kom ooreen met Oktober - November

Godsdienstige jaar 8ste maand

Sekulêre jaar 2de maand

Teksverwysings 1 Kon. 6:38

Maand se naam Kislew

Kom ooreen met November - Desember

Godsdienstige jaar 9de maand

Sekulêre jaar 3de maand

Teksverwysings Neh. 1:1

Maand se naam Tebet

Kom ooreen met Desember - Januarie

Godsdienstige jaar 10de maand

Sekulêre jaar 4de maand

Teksverwysings Est. 2:16

Maand se naam Sebat

Kom ooreen met Januarie - Februarie

Godsdienstige jaar 11de maand

Sekulêre jaar 5de maand

Teksverwysings Sag. 1:7

Maand se naam Adar

Kom ooreen met Februarie - Maart

Godsdienstige jaar 12de maand

Sekulêre jaar 6de maand

Teksverwysings Est. 3:7

Maand se naam We-Adar

Kom ooreen met (Skrikkelmaand)

Godsdienstige jaar 13de maand

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel