Vertrou op die krag wat God gee
Glanspunte uit Tweede Timotheüs
JEHOVAH gee sy knegte die krag om beproewinge en vervolging te verduur. En hoe het Timotheüs en ander Christene tog nie die krag wat God gee, nodig gehad nie! ’n Brand het Rome in 64 G.J. verwoes, en volgens gerug was keiser Nero daarvoor verantwoordelik. Om homself te beskerm, het hy die Christene die skuld gegee en dit het klaarblyklik ’n vlaag van vervolging ontketen. Teen daardie tyd (ongeveer 65 G.J.) was die apostel Paulus bes moontlik weer in die gevangenis in Rome. Hoewel hy toe op sy teregstelling gewag het, het hy sy tweede brief aan Timotheüs geskryf.
Paulus se brief berei Timotheüs daarop voor om afvalliges teen te staan en om onder vervolging vas te staan. Dit spoor hom aan om steeds geestelike vordering te maak en lig hom in oor Paulus se omstandighede in die gevangenis. Die brief help ook sy lesers om op die krag wat God gee te vertrou.
Ly verdrukking en onderrig met sagmoedigheid
God skenk ons die krag om as verkondigers van die goeie nuus vervolging te verduur (1:1-18, vgl. NW). Paulus laat nooit na om aan Timotheüs in sy gebede te dink nie en hy onthou Timotheüs se ongeveinsde geloof. God het aan Timotheüs “nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing [“gesonde verstand”, NW]”. Daarom moet hy hom nie skaam om te getuig en verdrukking te ly vir die evangelie nie. Hy word ook aangespoor om ‘vas te bly hou aan die patroon van gesonde woorde’ wat hy van Paulus gehoor het, net soos ons streng moet bly by die suiwer Christelike waarheid al word ander ook daarvan afvallig.
Die dinge wat Paulus hom geleer het, moet toevertrou word aan getroue manne wat weer ander kan leer (2:1-26). Timotheüs word aangespoor om ’n goeie krygsman van Christus te wees en om getrou te bly wanneer hy verdrukking ly. Paulus ly self in boeie in die gevangenis omdat hy die goeie nuus verkondig het. Hy moedig Timotheüs aan om hom daarop toe te lê om homself as ’n beproefde werker voor God te stel en om onsinnige praatjies te vermy wat heilige dinge geweld aandoen. En hy word meegedeel dat ’n dienskneg van die Here ander in sagmoedigheid moet onderrig.
Verkondig die woord!
Dit sal die krag wat God gee, verg om deur die laaste dae te kom en skriftuurlike waarheid te verdedig (3:1-17). Onder die goddeloses sal daar manne opstaan wat “altyd leer en nooit tot ’n [“noukeurige”, NW] kennis van die waarheid kan kom nie”. Hierdie “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word”. Maar Timotheüs moet ‘bly in wat hy geleer het’. En ons moet dit ook doen, omdat ons weet “die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”.
Timotheüs moet afvalliges teenstaan en sy bediening vervul (4:1-22, vgl. NW) Hy kan dit doen deur ‘die woord te verkondig’ en daarin te volhard. Dit is noodsaaklik, want die gemeente gaan ’n “moeilike tyd” tegemoet omdat sommige mense valse leringe verkondig. Jehovah se Getuies bly vandag ook streng by God se Woord en verkondig dit dringend in die gemeente en aan buitestaanders, selfs onder ongunstige omstandighede. Paulus “het die geloof behou”, al het sommige hom verlaat. Maar ‘die Here het hom krag gegee, sodat deur hom die prediking heeltemal volbring kon word’. Mag ons ook op die krag wat God gee, vertrou en aanhou om die goeie nuus te verkondig.
[Venster/Prent op bladsy 31]
’n Goeie krygsman: Paulus spoor Timotheüs aan: “Ly dan verdrukking soos ’n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud [“kommersiële sake van die lewe”, NW] nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het” (2 Timotheüs 2:3, 4). ’n Romeinse voetsoldaat ‘het verdrukking gely’ wanneer hy swaar wapentuig, ’n byl, ’n mandjie, proviand vir drie dae en ander artikels gedra het (Josephus se Wars of the Jews, Deel 3, hoofstuk 5). Hy het nie kommersiële belange nagejaag nie, want dit sou nie sy hoof behaag nie, en sy onkoste is gedek. ’n Christen verduur insgelyks beproewinge omdat hy “’n goeie krygsman van Christus” is. Al doen hy sekulêre werk om sy Skriftuurlike verantwoordelikhede na te kom, moet hy nie toelaat dat hy onnodig betrokke raak by materiële aangeleenthede wat hom laat ophou om die geestelike stryd te stry nie (1 Thessalonicense 2:9). In die getuieniswerk van huis tot huis hanteer hy “die swaard van die Gees—dit is die woord van God”, en help hy om mense van godsdiensdwaling te bevry (Efesiërs 6:11-17; Johannes 8:31, 32). Aangesien lewe op die spel is, moet alle Christenkrygs- manne derhalwe daarin volhard om Jesus Christus en Jehovah God aldus te behaag.