Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 246-bl. 254
  • Koninkryk

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Koninkryk
  • Redenering uit die Skrif
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • As iemand sê—
  • Voorspellings oor ons nabye toekoms
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • ’n Koninkryk “wat nooit vernietig sal word nie”
    Aanbid die enigste ware God
  • Wat is God se Koninkryk?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wat God se Koninkryk gaan doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 246-bl. 254

Koninkryk

Definisie: Die Koninkryk van God is die wyse waarop Jehovah sy universele soewereiniteit teenoor sy skepping uitoefen, of die middel wat hy gebruik om daardie soewereiniteit uit te oefen. Hierdie uitdrukking word in die besonder gebruik om die openbaring van God se soewereiniteit deur die koninklike regering met sy Seun, Jesus Christus, aan die hoof aan te dui. “Koninkryk” kan betrekking hê op die heerskappy van die een wat as Koning gesalf is of op die aardse ryk waaroor daardie hemelse regering regeer.

Is God se Koninkryk ’n werklike regering?

Of is dit eerder ’n toestand in mense se harte?

Luk. 17:21: “Hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle [ook KJ, TEV, Dy; maar “onder julle”, KJ-kanttekening, NE, JB; “hier by julle”, NAV; “in julle midde”, NW].” (Let op dat Jesus, soos vers 20 toon, met die Fariseërs gepraat het wat hy ook as geveinsdes veroordeel het. Hy kon dus nie bedoel het dat die Koninkryk in hulle harte was nie. Maar die Koninkryk, soos deur Christus verteenwoordig, was in hulle midde. The Emphatic Diaglott lui dus: “God se koninklike majesteit is onder julle.”)

Praat die Bybel inderdaad van God se Koninkryk as ’n regering?

Jes. 9:5, 6: “’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy [“regering”, RS, KJ, AT, Dy] is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”

Wie is die heersers in die Koninkryk?

Openb. 15:3, NW: “Groot en wonderbaarlik is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid.”

Dan. 7:13, 14: “Met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens [Jesus Christus; kyk Markus 14:61, 62], en Hy het gekom tot by die Oue van dae [Jehovah God], en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom [aan Jesus Christus] is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer.”

Openb. 5:9, 10, NAV: “U [Jesus Christus] is waardig . . . omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.” (In Openbaring 14:1-3 word daar gesê dat hierdie persone wat “van die aarde vrygekoop is” om saam met die Lam op die hemelse berg Sion te regeer 144 000 sal tel.)

Watter uitwerking sal hierdie Koninkryk op menseregerings hê?

Dan. 2:44: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”

Ps. 2:8, 9: “Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.”

Wat gaan God se Koninkryk doen?

Dit sal Jehovah se naam heilig en sy soewereiniteit verdedig

Matt. 6:9, 10: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom.” (Hier word die heiliging van God se naam ten nouste geassosieer met die koms van sy Koninkryk.)

Eseg. 38:23: “So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE [“Jehovah”, NW] is.” (God se naam sal van alle smaad gereinig word; dit sal as heilig en eerbiedwaardig bejeën word, en almal wat lewe, sal persone wees wat Jehovah se soewereiniteit gewillig ondersteun en genot daaruit put om sy wil te doen. Die vrede en welsyn van die ganse heelal hang van sodanige heiliging van Jehovah se naam af.)

Dit sal ’n einde maak aan Satan se gedulde heerskappy oor die wêreld

Openb. 20:2, 3: “Hy [die hemelse Koning, Jesus Christus] het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word.” (So sal die mensdom bevry word van die sataniese invloed wat die lewe baie moeilik gemaak het vir mense wat wil doen wat reg is. Die duiwelse invloed wat dade van die uiterste onmenslikheid tot gevolg gehad het en die demoniese invloed wat die lewe van baie met vrees gevul het, sal dan tot die verlede behoort.)

Dit sal die ganse skepping in die aanbidding van die een ware God verenig

Openb. 5:13; 15:3, 4: “Elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit [Jehovah God], en aan die Lam [Jesus Christus] kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” “Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges! Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.”

Dit sal die mensdom tot ’n harmoniese verhouding met God herstel

Rom. 8:19-21: “Die skepping [mensdom] wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God [die getuienis dat diegene wat opgewek is tot hemelse lewe saam met Jesus Christus as heersers begin optree het]. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe—nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het—in die hoop dat ook die skepping self [die mensdom oor die algemeen] vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.”

Dit sal die mensdom van alle bedreiging van oorlog bevry

Ps. 46:9, 10: “Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde.”

Jes. 2:4: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

Dit sal die aarde bevry van verdorwe heersers en verdrukking

Ps. 110:5: “Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.”

Ps. 72:12-14: “Hy [Jehovah se Messiaanse Koning] sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hom ontferm oor die arme en behoeftige, en die siele van die behoeftiges sal hy red. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld, en hulle bloed sal kosbaar wees in sy oë.”

Dit sal oorgenoeg voedsel vir die hele mensdom voorsien

Ps. 72:16, NAV: “Mag daar volop graan in die land wees, mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif.”

Jes. 25:6: “Die HERE van die leërskare sal op hierdie berg [in die hemelse berg Sion, die setel van God se Koninkryk, sal daar voorsiening vir sy aardse onderdane gemaak word] vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.”

Dit sal ontslae raak van siekte en allerhande gebreke

Luk. 7:22; 9:11: “Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig.” “Hy [Jesus Christus] het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.” (Jesus het aldus getoon wat hy as hemelse Koning vir die mensdom sal doen.)

Dit sal geskikte huise vir almal voorsien

Jes. 65:21, 22: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie.”

Dit sal bevredigende werk vir almal verseker

Jes. 65:23: “Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.”

Dit sal geborgenheid, die veiligheid van ’n mens se persoon of eiendom, waarborg

Miga 4:4: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”

Ps. 37:10, 11: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie; ja, jy sal ag gee op sy plek, maar hy sal daar nie wees nie. Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”

Dit sal geregtigheid en reg laat heers

2 Pet. 3:13: “Ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”

Jes. 11:3-5: “Hy [die Messiaanse Koning] sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel . . . En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.”

Dit sal die mensdom teen enige besering weens die natuurkragte beveilig

Mark. 4:37-41: “’n Groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. . . . Hy [Jesus] het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ’n groot stilte gekom. . . . En ’n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!” (Christus het sodoende die mag getoon wat hy as hemelse Koning oor sulke natuurkragte sal uitoefen.)

Dit sal die dode opwek

Joh. 5:28, 29: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem [die stem van Christus die Koning] sal hoor en sal uitgaan.”

Openb. 20:12: “Ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke [die werke wat hulle ná hulle opstanding verrig het; vergelyk Romeine 6:7].”

Dit sal ontslae raak van alle dood weens oorgeërfde Adamitiese sonde

Jes. 25:8: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee.”

Openb. 21:4: “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”

Dit sal ’n wêreld skep waarin mense mekaar opreg liefhet

Joh. 13:35: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is [en gevolglik die geleentheid het om Jesus se metgeselle in die hemelse Koninkryk of aardse onderdane van daardie Koninkryk te wees], as julle liefde onder mekaar het.”

Dit sal die vrede tussen mens en dier herstel

Jes. 11:6-9: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie.” (Ook Jesaja 65:25)

Hos. 2:17: “Verder sluit Ek in dié dag vir hulle ’n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde . . . en Ek sal hulle in veiligheid laat rus.”

Dit sal die aarde in ’n paradys omskep

Luk. 23:43, NW: “Voorwaar ek sê vandag vir jou: Jy sal saam met my in die Paradys wees.”

Ps. 98:7-9: “Laat die see bruis en sy volheid, die wêreld en die wat daarin woon. Laat die riviere in die hande klap, die berge tesame jubel voor die aangesig van die HERE; want Hy kom om die aarde te oordeel; Hy sal die wêreld rig in geregtigheid en die volke met reg.”

Vergelyk Genesis 1:28; 2:15; Jesaja 55:11.

Wanneer sou God se Koninkryk begin heers?

Was dit in die eerste eeu?

Kol. 1:1, 2, 13: “Paulus, ’n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en die broeder Timotheüs, aan die heilige en gelowige broeders [die erfgename van die hemelse Koninkryk] . . . Genade vir julle en vrede van God onse Vader . . . wat ons [die heiliges, lede van die Christengemeente] verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” (Christus het dus inderdaad in die eerste eeu oor die Christengemeente begin heers nog voor hierdie woorde geskryf is, maar die oprigting van die Koninkryk om oor die hele aarde te heers, het nog voorgelê.)

1 Kor. 4:8: “Alreeds is julle versadig, alreeds het julle ryk geword, sonder ons het julle geheers. Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!” (Dit is duidelik dat die apostel Paulus hulle teregwys omdat hulle die verkeerde beskouing het.)

Openb. 12:10, 12: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. . . . Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.” (Die oprigting van God se Koninkryk word hier geassosieer met die uitwerping van Satan uit die hemel. Dit het nie plaasgevind ten tye van die opstand in Eden nie, soos blyk uit Job hoofstukke 1, 2. Openbaring is in 96 G.J. op skrif gestel, en Openbaring 1:1 toon dat dit handel oor toekomstige gebeure.)

Moet die wêreld eers bekeer word voordat God se Koninkryk aan die bewind kan kom?

Ps. 110:1, 2: “Die HERE het tot my Here [Jesus Christus] gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete. U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.” (Daar sal dus vyande wees wat hy moet onderwerp; nie almal sal hulle aan sy heerskappy onderwerp nie.)

Matt. 25:31-46: “Wanneer die Seun van die mens [Jesus Christus] in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit; en voor Hom sal al die nasies versamel word, en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei . . . En hulle [wat geen liefde vir sy gesalfde broers bewys het nie] sal weggaan in die ewige straf, maar die regverdiges in die ewige lewe.” (Dit is duidelik dat die hele mensdom nie bekeer sou word voordat Christus sy troon bestyg nie; nie almal sal regverdiges wees nie.)

Toon die Bybel wanneer die Koninkryk sou begin heers?

Kyk bladsye 209-211, onder “Jaartalle”, en bladsye 259-263, onder “Laaste dae”.

As iemand sê—

‘Dit sal nie in my lewe kom nie’

Jy kan antwoord: ‘Maar dit gaan in iemand se lewe kom, nie waar nie? . . . Sou enigiemand in staat wees om te weet dat sy geslag die een is wat dit gaan sien? Jesus se eie dissipels wou dit graag weet, en die antwoord wat hy hulle gegee het, is vir ons vandag baie betekenisvol (Matt. 24:3-14; Luk. 21:29-32).’

Of jy kan sê: ‘Dit is ’n baie algemene beskouing. Maar Jehovah se Getuies glo vas, op grond van die Bybel, dat God se Koninkryk reeds in die hemele regeer en dat dit van ons afhang om te toon of ons op die aarde wil voortleef onder God se regverdige regering of nie. Dit is waarom ek vandag na u deur gekom het. Kyk wat sê dit hier in Mattheüs 25:31-33.’

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel