Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Wat veroorsaak gesinsprobleme?
    Die Wagtoring – 1991 | Mei 15
    • iets alledaags was.” Dit is dus nie verbasend dat baie kinders wat aan sulke dinge blootgestel is, dalk nie weet hoe om as volwassenes gesinsprobleme te vermy nie.

      Sommige waarnemers skryf gesinsprobleme toe aan die ekonomiese, sosiale en morele veranderinge wat in nywerheidslande plaasgevind het. Die grootskaalse toetrede van vroue tot die arbeidsmark het byvoorbeeld aanleiding gegee tot ’n dikwels verwarrende herindeling van huishoudelike rolle en verantwoordelikhede. Moeders slyp senuagtig hulle verroeste werkvaardighede, vaders worstel teësinnig met huiswerk en kinders pas hulle al huilende by die lewe in dagsorgsentrums aan.

      Daar is wêreldwyd baie gesinne wat onder hewige druk verkeer. Een werkende ouer het gesê dit is soos om “in ’n voortdurende noodtoestand te lewe”. Dit is geen wonder nie dat amper die helfte van diegene wat tydens ’n onlangse Gallup-opname ondervra is, gesê het dat die ‘Amerikaanse gesin vandag slegter daaraan toe is as 10 jaar gelede’, en min het gedink dat die situasie sou verbeter.

      Gesinsprobleme is gevolglik ’n onderwerp wat aanhoudend op televisie- en radio-geselsprogramme bespreek word. Die publiek verslind selfhelpboeke oor die gesin, en party bied ’n sekere mate van betroubare en praktiese raad. Hoewel vermanings om ‘meer openlik te kommunikeer’ of om ‘oor jou gevoelens te praat’, nuttig kan wees, dring dit nie werklik deur tot die kern van huislike probleme nie. Die volgende artikel sal dit egter doen en toon hoe gesinsprobleme te bowe gekom kan word.

  • Stel God eerste in jou gesinslewe!
    Die Wagtoring – 1991 | Mei 15
    • Stel God eerste in jou gesinslewe!

      BOB EN JEAN—die egpaar wat in die vorige artikel genoem is—het nie geskei nie. In plaas daarvan het hulle hul probleme met ’n Christenbedienaar bespreek. Hy het gou agtergekom dat hulle probleme in werklikheid uit hulle verskillende agtergronde voortgespruit het.

      Byvoorbeeld, aangesien Bob uit ’n gesin van ambagsmanne en handwerkers gekom het en self handearbeid verrig het, wou hy elke oggend ’n stywe ontbyt hê. Jean, wat uit ’n gesin van kantoorwerkers gekom het, het vir hom net koffie en roosterbrood voorgesit. Met die gevolg dat ’n rusie oor ontbyt in ’n volskaalse oorlog ontaard het!

      Bob en Jean moes hulle kommunikasie verbeter. Die werklike rede vir hulle probleem het egter veel dieper gelê. “Beskou julle mekaar in die lig van 1 Korinthiërs 13:4?” het die bedienaar gevra. Daardie Bybelteks lui: “Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie.” Die volgende vers sê liefde “handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie”. Jean en Bob was albei gewillig om hierdie woorde in hulle verhouding toe te pas.

      Hierdie egpaar se probleme het hoofsaaklik ’n geestelike oplossing geverg. Aangesien Bob en Jean ’n goeie verhouding met God wou behou, moes hulle veral Bybelbeginsels toepas en besef dat ‘as Jehovah die huis nie bou nie, werk die wat daaraan bou tevergeefs’ (Psalm 127:1). Verse 3 tot 5 bespreek hoe ’n gesin opgebou kan word. En die grootste sukses om gesinsgeluk te bevorder word behaal wanneer God eerste in die gesin gestel word.—Efesiërs 3:14, 15.

      Wat dit behels om God eerste te stel

      Om God eerste in jou gesinslewe te stel, gaan baie verder as dié gesegde: “’n Gesin se gesamentlike gebede bewaar die eenheid van sy lede.” Volgens die tydskrif Family Relations meen baie dat “godsdiens tot positiewe en gesonde gesinsinteraksie bydra en die lewensbevrediging van sy lede verhoog”. Maar om net ’n godsdiens te beoefen, is nie dieselfde as om God eerste te stel nie. Baie mense hang ’n godsdiens formeel aan net uit gewoonte, ter wille van familietradisie of sosiale voordeel. God het min invloed op hulle daaglikse lewe. Nog belangriker, nie alle godsdienste is “reine en onbesmette godsdiens voor God” nie.—Jakobus 1:27.

      As ons God eerste in ons gesinslewe wil stel, moet ons en ons geliefdes Jehovah, ‘die Allerhoogste oor die hele aarde’, volgens sy vereistes aanbid (Psalm 83:19). God se Seun, Jesus Christus, het gesê: “Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23, 24). As ons Jehovah God “in gees” wil aanbid, moet ’n hart vol liefde en geloof ons beweeg om heilige diens aan hom te verrig (Markus 12:28-31; Galasiërs 2:16). Om Jehovah met “waarheid” te aanbid, vereis dat ons godsdiensvalshede verwerp en ons ten volle aan sy wil onderwerp soos dit in die Bybel bekend gemaak word. Ons kan Jehovah God net eerste stel as ons godsdiens aan sy standaarde voldoen.a Wat is party van hierdie standaarde? En hoe kan die toepassing daarvan jou gesin tot voordeel strek?

      Hoe die man God eerste kan stel

      In 1 Korinthiërs 11:3 sê die Bybel: ‘Christus is die hoof van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus.’ As jy ’n eggenoot is, het jy die godgegewe verantwoordelikheid om die vernaamste besluitnemer in jou gesin te wees. Maar dit gee geen man die reg om ’n tiran of ’n diktator te wees nie.

      Die Bybel moedig mans aan om hulle vrou se gevoelens in ag te neem wanneer hulle besluite neem wat hulle vrou raak. (Vergelyk Genesis 21:9-14.) Trouens, die Skrif moedig ons almal aan om ‘nie elkeen na sy eie belange om te sien nie, maar elkeen ook na die ander s’n’ (Filippense 2:2-4). Waar daar geen Bybelbeginsel by betrokke is nie, sal ’n Christenman dikwels aan sy vrou se voorkeur toegee. Omdat hy haar belange op die hart dra, sal hy ook seker maak dat sy nie met verantwoordelikhede oorlaai word nie. Hy kan haar byvoorbeeld met die huiswerk help, veral as sy ’n sekulêre werk het.

      Die apostel Paulus het geskryf: ‘Mans behoort hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente’ (Efesiërs 5:28, 29). Jesus Christus handel op ’n liefdevolle wyse met lede van die gemeente.

      Die apostel Petrus se raad is ook opmerkenswaardig: “Julle, manne, [moet] verstandig met hulle [julle vroue] saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Petrus 3:7). Is die feit dat ’n man se gebede verhinder kan word as hy sy vrou op ’n liefdelose wyse behandel nie stof tot nadenke nie? Ja, ’n man moet op ’n liefdevolle wyse met sy vrou handel as hy wil hê dat God sy gebede moet verhoor.

      Wanneer God eerste gestel word, beïnvloed dit ook ’n vader se verhouding met sy kinders. Hy behoort diep besorg te wees oor hulle geestelike welsyn. Maar in ’n groot Amerikaanse opname het net die helfte van die mans gesê dat “deelname aan Bybelstudie of gespreksgroepe” ‘baie belangrik vir hulle gesin se geestelike ontwikkeling’ is. Die res het dinge genoem soos om “na uitsendings van kerkdienste te kyk of te luister” of om ‘oor die betekenis van die lewe te peins’.

      Die Bybel sê egter aan vaders: “Moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). Onder Jehovah se Getuies word daar van vaders verwag om die leiding in gesinsaanbidding te neem. Sulke mans stel God eerste in hulle gesinslewe deur gereeld gesinsbybelstudies te hou, Christenvergaderinge by te woon en aan ander skriftuurlike vereistes te voldoen.

      Hoe die vrou God eerste kan stel

      As jy ’n vrou is, kan jy God eerste stel deur jou man in sy rol as gesinshoof te ondersteun. Die Bybel sê: “Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here” (Kolossense 3:18). Dit kan dalk baie moeilik wees as ’n man nie kommunikeer nie of traak-my-nieagtig is oor die leiding wat hy in die gesin se aanbidding moet neem. Dit sal in elk geval net die spanning in die gesin vererger as jy hom die heeltyd op sy foute wys of, nog erger, as sy gesag uitgedaag word.

      Spreuke 14:1 sê: “Die wysheid van die vroue bou die huis, maar die sotheid breek dit met eie hande af.” Een manier waarop ’n werklik verstandige getroude vrou God eerste kan stel en ‘haar huis kan bou’, is deur aan haar man onderdanig te wees (1 Korinthiërs 11:3). Met ‘vriendelike onderrigting op haar tong’ vermy sy dit om onnodig krities teenoor haar man te wees (Spreuke 31:26). Sy werk ook hard sodat sy besluite sal slaag.

      ’n Ander manier waarop ’n getroude vrou God eerste kan stel, is deur ’n vlytige vrou te wees. As sy natuurlik sekulêre werk moet doen, sal sy moontlik nie die tyd of die energie hê wat nodig is om haar huis in stand te hou soos wat sy graag sou wou nie. Sy kan steeds probeer om soos die “deugsame vrou” te wees van wie die Bybel sê: “Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.”—Spreuke 31:10, 27.

      ’n Vrou sal bowenal die aanbidding van God eerste in haar lewe stel. Baie wat vir die eerste keer ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies besoek, lewer kommentaar oor hoe netjies die kinders is. ’n Vrou se werk is in hierdie opsig van onskatbare waarde. Maar sy moet ook daaraan werk om haar geestelikheid deur gebed, studie en diens aan God te handhaaf.

      Hoe jongmense God eerste kan stel

      ’n Artikel in Adolescent Counselor sê: “Kinders is geneig om gesindhede en filosofieë te ontwikkel wat hulle toelaat om hulle ouers te beheers. . . . Omdat adolessente blootgestel is aan ’n gemeenskap wat onmiddellike bevrediging en materiële rykdom beklemtoon en verheerlik, ontwikkel hulle ’n gesindheid van: ‘Ek wil dit nou hê’.” As jy ’n jeugdige is, is dit jou beskouing?

      Kolossense 3:20 sê: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.” ’n Jongmens wat sulke gehoorsaamheid as ’n goddelike vereiste beskou, sal met sy ouers saamwerk. Hy sal byvoorbeeld nie in die geheim aan hulle ongehoorsaam wees deur met skoolmaats om te gaan wat nie hulle goedkeuring wegdra nie; hy sal ook nie enigeen van sy ouers manipuleer om sy sin te kry nie (Spreuke 3:32, NW). Enige jongmens wat God eerste in sy lewe stel, sal hom eerder aan liefdevolle ouerlike leiding onderwerp.

      Hou aan om God eerste te stel!

      Dit maak nie saak wat ons posisie in die gesinseenheid is nie, ons moet God eerste in ons lewe stel en ’n intieme verhouding met hom aankweek. Doen jy en jou gesin dit?

      In hierdie “laaste dae” staan ons almal voor “kritieke tye” (2 Timotheüs 3:1-5). Dit is nietemin moontlik om geestelik te floreer en die einde van hierdie stelsel van dinge te oorleef (Mattheüs 24:3-14). As jy en jou gesin in ooreenstemming met juiste Bybelkennis optree, kan julle die hoop op die ewige lewe op ’n paradysaarde hê (Lukas 23:43; Johannes 17:3; Openbaring 21:3, 4). Ja, dit kan die geval wees as jy God eerste in jou gesinslewe stel.

      [Voetnoot]

      a Sien hoofstuk 22 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. gepubliseer word.

      [Prent op bladsy 5]

      ’n Deugsame vrou word innig waardeer

      [Prent op bladsy 7]

      Die Bybel moedig mans aan om die leiding in gesinsaanbidding te neem

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel