Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 5/15 bl. 21-23
  • Hoe om in die pionierbediening te slaag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om in die pionierbediening te slaag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe sterk is my verhouding met God?
  • Hoe lief is ek vir mense?
  • Het ek ’n gebalanseerde rooster?
  • Is ek ’n progressiewe onderrigter?
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Die pionierdiens versterk ons verhouding met God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Pioniers bring en ontvang seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Pionierdiens—Is dit vir jou?
    Ons Koninkryksbediening—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 5/15 bl. 21-23

Hoe om in die pionierbediening te slaag

IS DIE pionierbediening jou loopbaan? As jy ’n pionier, of voltydse Koninkryksverkondiger, is, stel jy ongetwyfeld daarin belang om suksesvol te wees. Maar sukses vereis meer as om net tyd aan ’n gegewe beroep te kan wy. ’n Suksesvolle persoon moet opleiding aanvaar en voortdurend sy vermoëns ontwikkel.

Hoe kan jy dus nie net as ’n pionier volhard nie, maar ook vooruitgang in jou loopbaan maak? Daar is etlike sleutelvrae wat jy kan oorweeg.

Hoe sterk is my verhouding met God?

Een van die belangrikste voorvereistes vir sukses as ’n pionier is ’n intieme, hegte verhouding met Jehovah God. Ons kan in hierdie verband ’n les van die psalmis Dawid leer. Hy het gepleit: “HERE, maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.”—Psalm 25:4, 5.

Dawid het volkome op die ‘God van sy heil’ vertrou. Hy wou hê dat Jehovah hom leer en ‘hom Sy weë bekend maak’. Kan jy nie Dawid se brandende begeerte om God te behaag, aanvoel nie? Dit was meer as ’n terloopse wens, want Dawid het gesê: “U verwag ek die hele dag.”

Maar hoe kan jy so ’n intieme verhouding met Jehovah behou? Let op dat die voorgaande Dawid se uitinge in gebed is. Ja, kommunikasie deur gebed is inderdaad die grondslag van ’n goeie verhouding met God. En ons kan bemoediging vind in die wete dat ons nie ’n afspraak met ons hemelse Vader hoef te maak nie. Ons kan hom te eniger tyd nader. Soos Dawid gesê het: “Ek roep U aan die hele dag deur” (Psalm 86:3). Selfs God se eie Seun, wat ’n volmaakte man op die aarde was, het besef dat hy nie sonder sy Vader se hulp kon slaag nie. Jesus het gedurigdeur met hom in gebed gepraat—vroeg in die oggend, gedurende die dag en tot in die nag.—Markus 1:35; Lukas 11:1; 6:12.

As Christene moet ons Jesus se voorbeeld volg as ons in ons bediening wil slaag (Hebreërs 5:7). ’n Christin wat al 30 jaar ’n suksesvolle pionier is, het haar so oor gebed uitgedruk: “Ek vind dat gebed vir my noodsaaklik is indien ek as ’n pionier wil slaag. Dit het my gehelp om ten volle op Jehovah te steun, want ek besef dat ek dit nie op my eie kan doen nie. Ek vra Jehovah voortdurend om my te help om te volhard.”

Ja, as jy in die pionierbediening sukses wil behaal, moet jy ’n sterk verhouding met Jehovah behou en deur gebed ten volle op hom steun. Die volgende is egter nog ’n belangrike vraag wat jy jou kan afvra.

Hoe lief is ek vir mense?

Die pionierdiens is ’n blyk van liefde. Waarom? Omdat die voltydse bediening ’n gees van selfopoffering vereis. As ’n pionier gee jy voortdurend van jou tyd en energie om ander te help. Maar as jy hiermee wil volhou, moet jy opreg in die behoeftes van ander belangstel. Toe Jesus op die aarde was, het hy sulke liefde aan mense bewys. Daar is byvoorbeeld die keer toe hy en sy dissipels met ’n skuit na ’n verlate plek gegaan het om ‘’n bietjie te rus’. Die skare het egter voor hulle daar aangekom. “En toe Jesus uitklim, sien Hy ’n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer.”—Markus 6:30-34.

Net soos Jesus moet ons as pioniers ’n hartgrondige liefde vir mense hê. Sulke liefde beweeg ons om ons kragte ten behoewe van hulle in te span. Soos ’n skrifgeleerde eenkeer vir Jesus gesê het: “Om [God] lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers” (Markus 12:33). Hierdie woorde help ons om te besef dat nie alleen ons werke in die bediening belangrik is nie, maar ook ons motief.

As ’n pionier bestee jy meer tyd in die predikings- en dissipelmaakwerk as die meeste ander. Maar jy kom ook met meer mense in aanraking. Hoe voel jy oor hulle? Een pionier het gesê: “Ek weet dat liefde ’n vrug van God se gees is. Daarsonder sou ek nie eens in die waarheid wees nie, laat staan nog as ’n pionier sukses behaal. Liefde maak my bewus van mense, bewus van hulle behoeftes, en ek besef dat mense op liefde reageer. Daar is natuurlik tye wanneer jou liefde vir mense beproef word as gevolg van hulle houding of gesindheid. Veral dan probeer ek luister en geduldig wees.”

Is dit hoe jy oor die mense in jou gebied voel? Om ’n suksesvolle pionier te wees, moet jy mense liefhê (1 Thessalonicense 2:6-8). Om in jou pionierloopbaan effektief te wees, moet jy egter ook ’n goeie rooster hê. Vra jou dus af:

Het ek ’n gebalanseerde rooster?

’n Pionier wat in die voltydse bediening suksesvol wil bly, moet goed georganiseerd wees. Sonder ’n goeie persoonlike rooster kan die pionierbediening frustrerend word. Dit is natuurlik nie genoeg om ’n rooster te hê wat bepaal dat ’n sekere hoeveelheid tyd aan die veldbediening bestee moet word nie.

’n Pionier moet ’n gebalanseerde rooster hê. Het jy een? Jy kan jou gerus afvra: Bestee ek ’n gepaste hoeveelheid tyd aan die verskillende aspekte van die bediening? Kan ek sê dat ek alles in die stryd werp om die mense in die gebied te bereik? Maak ek die nodige aanpassings in my rooster sodat ek hulle kan besoek wanneer hulle tuis is? Doen ek doeltreffende herbesoeke? Jesus het gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies . . . en leer hulle” (Mattheüs 28:19, 20). Beide die predikings- en onderrigtingswerk is integrerende dele van ons bediening. Is jy tevrede om lektuur by mense te laat, of gaan jy terug na almal wat belangstelling toon, hetsy hulle lektuur aanvaar of nie? Kortom, gebruik jy jou tyd produktief?

Is ek ’n progressiewe onderrigter?

Dit is nog ’n belangrike vraag. In 2 Timotheüs 4:2, (NW) het Paulus geskryf: “Verkondig die woord, hou jou dringend daarmee besig, in gunstige tyd, in moeilike tyd . . . met alle lankmoedigheid en onderrigkuns.” Suksesvolle pioniers strewe daarna om die onderrigkuns aan te kweek en te verbeter sodat hulle die woord binne of buite die gemeente kan verkondig. Waarom noem Paulus dit ’n kuns? Omdat onderrigting bekwaamheid en oefening vereis.

Hoe gaan jy jou bekwaamheid as onderrigter verbeter? Die apostel Paulus antwoord: “Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien” (1 Timotheüs 4:15, NAV). Ja, pioniers moet tyd aan persoonlike Bybelstudie, oordenking en bepeinsing wy. Dit behels onder meer die praktiese toepassing van wenke wat ons aantref in publikasies soos Redenering uit die Skrif, Ons Koninkryksbediening en die Teokratiese Bedieningskool-Handleiding.a

As jy in die pionierbediening sukses wil behaal, moet jy dus jou sterk persoonlike verhouding met Jehovah God behou. Dit sal jou weer beweeg om hartgrondige liefde vir mense te verkry en te openbaar. Om hierdie liefde te openbaar, moet jy nie net bewus wees van hoeveel tyd jy aan die bediening bestee nie, maar moet jy ook jou tyd produktief gebruik. Hoe? Deur jou in te span om soveel mense moontlik met die Koninkryksboodskap te bereik. Ten slotte, hou aan om vooruitgang te maak as ’n onderrigter deur nuwe metodes te bemeester om mense in die bediening te nader en deur die Bybel ywerig te bestudeer ten einde jou onderrigkuns te verbeter.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel