Wees geduldig en deeglik in die bediening
1 Die apostel Paulus het ’n sterk verantwoordelikheidsbesef voor Jehovah behou deur geduldig en deeglik te wees terwyl hy die goeie nuus verkondig het aan almal wat wou luister. Hy het vol vertroue vir die vergaderde opsieners van Efese gesê: “Ek bekommer my glad nie en ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God” (Hand. 20:24). Besef ons dat die dwang ons opgelê is om dieselfde te doen?—1 Kor. 9:16.
IN GEBIED WAT DIKWELS GEDEK WORD
2 Geduld is veral nodig wanneer ons gebied dikwels gedek word. Ten spyte van min gebied moet ons beweeg word om mense herhaaldelik te besoek. Wend ’n poging aan om met al die bewoners in elke huis in aanraking te kom, en help opregte mense progressief om die Bybelse hoop van God se Koninkryk te verstaan.
3 Nog ’n voordeel van geduld wanneer ons gebied dikwels gedek word, is dat ons die huisbewoners persoonlik kan leer ken. Dit sal hulle moontlik meer op hulle gemak laat voel wanneer hulle hulle deur oopmaak. Daar is uitstekende wenke in die Redenering-boek wat ons kan gebruik om ons inleidings af te wissel in gebied wat dikwels gedek word.—Sien Redenering, bladsye 9-15.
4 Daar kan geleenthede wees wanneer ons mense besoek wat ’n mate van belangstelling toon maar nie ons lektuur wil hê nie. Wat moet ons reaksie wees? Ons strewe om deeglik te wees, sal ons beweeg om aan te hou om daardie belangstelling te ontwikkel. As die belangstelling wat in hulle harte geplant is verder ontwikkel word, kan dit hulle beweeg om uiteindelik tot ’n Bybelstudie toe te stem. Een broer het ’n belangstellende huisbewoner vyf weke ná mekaar besoek sonder om lektuur by hom te laat. Tydens die sesde besoek het die huisbewoner lektuur geneem en ’n Bybelstudie is uiteindelik begin.
BIED DIE BROSJURES AAN
5 Gedurende Julie en Augustus sal ons Onderwerp vir gesprekke wees: “’n Nuwe wêreld—Deur wie?” Hierdie onderwerp is aanpasbaar genoeg sodat dit gebruik kan word wanneer enigeen van die volgende brosjures aangebied word: Jy kan vir ewig op die aarde lewe!, “Kyk, Ek maak alles nuut”, Moet jy aan die Drie-eenheid glo?, Die goddelike naam wat vir ewig sal bestaan en Die regering wat die Paradys gaan bring. As ons tyd inruim om met hierdie brosjures vertroud te raak, sal ons ’n aantal gepaste gesprekspunte vind wat ons saam met die Onderwerp vir gesprekke kan gebruik.
6 Byvoorbeeld: Ons kan onsself voorstel en dan sê: “Wat dink u van die mens se belofte om wêreldvrede te bring? [Laat huisbewoner antwoord.] Kyk wat die Bybel oor die mens se vermoë in hierdie verband sê. [Lees Jeremia 10:23.] Deur die eeue heen het die mens bewys dat hy homself eenvoudig nie kan regeer nie. Maar let op God se betroubare belofte. [Lees 2 Petrus 3:13.] God se onfeilbare belofte van ’n nuwe aarde sal dus vervul word.” As ons die “Kyk”-brosjure gebruik, kan ons die huisbewoner se aandag vestig op die woorde op bladsy 30, paragraaf 58. Wanneer ons die Regering-brosjure aanbied, kan ons beklemtoon wat in die eerste paragraaf op bladsy 3 gesê word. Die illustrasie voorop die Lewe op aarde-brosjure is baie aantreklik en dit pas by die Onderwerp vir gesprekke. Die tweede paragraaf op bladsy 31 van die Goddelike naam-brosjure kan ook gebruik word.
7 As ons ons gebied geduldig en deeglik met die goeie nuus dek, sal dit redding beteken vir dié wat na ons luister (1 Tim. 4:16). Die tyd raak min! Laat ons dus geduldig wees en ’n deeglike getuienis gee terwyl ons ’n volle aandeel aan die verkondiging van hierdie boodskap van redding het.