Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Inleidings vir gebruik in die veldbediening
    Redenering uit die Skrif
    • Inleidings vir gebruik in die veldbediening

      Kommentaar: Drie dinge verdien noukeurige aandag wanneer ’n mens bepaal watter soort inleiding jy gaan gebruik terwyl jy aan die veldbediening deelneem: (1) Die boodskap wat ons beveel is om te verkondig, is “hierdie evangelie van die koninkryk” (Matt. 24:14). Selfs al bespreek ons dit nie regstreeks nie, moet dit ons doel wees om mense te help om die behoefte daaraan te besef, of moontlik om hindernisse uit die weg te ruim wat hulle kan verhinder om aandag daaraan te skenk. (2) Opregte besorgdheid oor die welsyn van die mense wat ons teëkom, sal ons help om harte te bereik, net soos dit Jesus gehelp het (Mark. 6:34). Sulke opregte belangstelling kan getoon word deur ’n hartlike glimlag en vriendelikheid, bereidwilligheid om te luister wanneer hulle praat en dan ons opmerkings dienooreenkomstig aan te pas, asook deur vrae te stel wat hulle aanspoor om hulle gedagtes en gevoelens uit te druk sodat ons hulle beskouing beter kan verstaan. Eerste Korinthiërs 9:19-23 toon dat die apostel Paulus sy aanbieding van die goeie nuus aangepas het by die omstandighede van die mense met wie hy gepraat het. (3) In sommige dele van die wêreld word daar van besoekers verwag om sekere formaliteite deur te gaan voordat hulle die rede van hulle besoek meld. Elders kan die huisbewoner verwag dat ’n ongenooide besoeker gou ter sake kom.—Vergelyk Lukas 10:5.

      Die volgende inleidings toon hoe sommige ervare Getuies gesprekke aanknoop. Indien die inleidings wat jy op die oomblik gebruik selde tot gesprekke lei, kan jy sommige van hierdie wenke op die proef stel. Wanneer jy dit doen, sal jy hulle ongetwyfeld in jou eie woorde wil stel. Jy sal dit ook nuttig vind om wenke te kry by ander Getuies in julle gemeente wat welslae behaal in die wyse waarop hulle mense nader.

      AKTUELE SAKE

      ● ‘Goeienaand. Ek is——. Ek woon in (verstrek straatnaam of gebied). Het u gisteraand die nuus op TV gesien? . . . Wat dink u van daardie berig oor (meld ’n aktuele saak wat sorg wek)? . . . Dit is nie buitengewoon om mense te hoor vra nie: Wat word van die wêreld? As Jehovah se Getuies glo ons dat ons lewe in wat die Bybel “die laaste dae” noem. Let op hierdie breedvoerige beskrywing in 2 Timotheüs 3:1-5.’ (Kyk ook bladsye 259-268.)

      ● ‘Het u vandeesweek hierdie berig in die koerant gelees? (Toon gepaste uitknipsel.) Wat dink u . . . ?’

      ● ‘Ek wil u graag iets vra. As u kon kies, watter van die talle probleme waarmee die wêreld nou te kampe het sou u graag eerste opgelos wou sien? (Nadat jy uitgevind het waaroor die huisbewoner die meeste besorg is, kan jy dit as grondslag vir jou bespreking gebruik.)’

      ARMAGEDDON

      ● ‘Baie mense is besorg oor Armageddon. Hulle het gehoor hoedat wêreldleiers daardie uitdrukking in verband met ’n volskaalse kernoorlog gebruik. Wat dink u sal Armageddon vir die mensdom beteken? . . . Die naam Armageddon kom in werklikheid uit die Bybel, en dit beteken iets heeltemal anders as die betekenis wat algemeen daaraan geheg word (Openb. 16:14, 16). Die Bybel toon ook dat daar dinge is wat ons persoonlik kan doen om dit te oorleef (Sef. 2:2, 3).’ (Kyk ook bladsye 46-51, onder “Armageddon”.)

      BEJAARDHEID/DOOD

      ● ‘Het u al ooit gewonder waarom ons oud word en sterf? Sommige seeskilpaaie word honderde jare oud. Sekere bome is al duisende jare oud. Maar mense lewe net 70 of 80 jaar lank en gaan dan dood. Het u al gewonder waarom? . . . (Rom. 5:12). Sal daardie situasie ooit verander? . . . (Openb. 21:3, 4).’

      ● ‘Het u al ooit gewonder: Is die dood die einde van alles? Of wag daar iets ná die dood? . . . Die Bybel klaar enige vraag wat ons oor die dood het op (Pred. 9:5, 10). Dit toon ook dat daar ware hoop is vir mense met geloof (Joh. 11:25).’ (Kyk ook bladsye 84-91 en 65, 66, onder “Dood” en “Bemoediging”.)

      BYBEL/GOD

      ● ‘Hallo. Ek besoek u net kortliks om vir u ’n belangrike boodskap te bring. Kyk asseblief wat dit hier in die Bybel sê. (Lees ’n teks, soos Openbaring 21:3, 4.) Wat dink u daarvan? Klink dit vir u goed?’

      ● ‘Ons praat met ons bure oor waar ’n mens praktiese hulp kan kry om lewensprobleme die hoof te bied. In die verlede het baie mense die Bybel geraadpleeg. Maar ons lewe in ’n tyd van veranderde gesindhede. Hoe voel u daaromtrent? Glo u dat die Bybel God se Woord is of meen u dat dit net ’n goeie boek is wat deur mense geskryf is? . . . Hoe dink u kan ’n mens seker maak of die Bybel van God kom?’ (Kyk bladsye 74-84, onder “Bybel”.)

      ● ‘Ek is bly om u tuis te vind. Ek bespreek ’n bemoedigende gedagte uit die Bybel (of, die Heilige Skrif) met my bure. Het u al ooit gewonder: . . . ? (Stel ’n vraag wat tot jou onderwerp vir bespreking sal lei.)’

      ● ‘Ons spoor mense aan om hulle Bybel te lees. Die antwoorde wat dit op belangrike vrae verstrek, verbaas mense dikwels. Byvoorbeeld: . . . (Ps. 104:5; of Dan. 2:44; of ’n ander).’

      ● ‘Ons besoek ons bure vandag net kortliks. Sommige van die mense met wie ons gesels, vertrou op God. Ander vind dit moeilik om in hom te glo. Hoe voel u? . . . Die Bybel spoor ons aan om na te dink oor die betekenis van die fisiese heelal (Ps. 19:2). . . . Die Een wie se wette hierdie hemelliggame beheer, het ook waardevolle leiding vir ons voorsien (Ps. 19:8-10).’ (Kyk ook bladsye 160-166 en 379-383, onder “God” en “Skepping”.)

      GESIN/KINDERS

      ● ‘Ons praat met mense wat graag wil weet hoe hulle gesinsprobleme beter kan oplos. Ons doen almal ons bes, maar as daar iets is wat ons kan help om selfs groter welslae te behaal, sal ons daarin belangstel, nie waar nie? . . . (Kol. 3:12, 18-21). Die Bybel gee vir ons ’n hoop wat vir ons gesinne ’n rooskleurige toekoms bied (Openb. 21:3, 4).’

      ● ‘Ons wil almal hê dat ons kinders gelukkig moet wees. Maar dink u dat daar goeie rede bestaan om ’n gelukkige uitslag te verwag vir die probleme waarmee die wêreld vandag te kampe het? . . . In watter soort wêreld dink u dus sal ons kinders lewe wanneer hulle groot is? . . . Die Bybel toon dat God hierdie aarde ’n wonderlike plek gaan maak om in te lewe (Ps. 37:10, 11). Maar dit hang in ’n groot mate van ons keuse af of ons kinders daar gaan kom of nie (Deut. 30:19).’

      KONINKRYK

      ● ‘In gesprekke met my bure het ek opgemerk dat baie van hulle daarna smag om onder ’n regering te lewe wat werklik die groot probleme kan oplos waarmee ons vandag te kampe het—misdadigheid en die lewensduurte (of enige saak waaroor mense hulle op die oomblik bekommer). Dit sou wonderlik wees, nie waar nie? . . . Bestaan daar vandag so ’n regering? . . . Baie mense het in werklikheid al gebid vir ’n regering wat daardie dinge kan doen. U het ongetwyfeld al daarvoor gebid, maar baie mense dink nie daaraan as ’n regering nie (Dan. 2:44; Ps. 67:7, 8; Miga 4:4).’ (Kyk ook bladsye 246-254 en 348-352, onder “Koninkryk” en “Regering”.)

      ● ‘Ons stel ’n vraag aan ons bure. Ons wil graag hoor wat u daarvan dink. U weet dat Jesus ons geleer bid het dat God se Koninkryk moet kom en dat Sy wil op die aarde moet geskied net soos in die hemel. Dink u dat hierdie gebed ooit verhoor sal word sodat God se wil werklik hier op aarde sal geskied? . . . (Jes. 55:10, 11; Openb. 21:3-5).’

      ● ‘Ek bespreek ’n geskil met my bure wat ons almal onder die oë moet sien: Is ons ten gunste van regering deur God, of verkies ons menseheerskappy? Dink u, in die lig van hedendaagse wêreldtoestande, dat ons iets anders nodig het as wat mense tot stand gebring het? . . . (Matt. 6:9, 10; Ps. 146:3-5).’

      LAASTE DAE

      ● ‘Ons besoek u om die betekenis van wêreldgebeure te bespreek. Baie mense stel nie meer belang in God en die riglyne vir die lewe wat in die Bybel uiteengesit word nie. Dit het mense se gesindheid teenoor mekaar grootliks beïnvloed. Ek wil graag hierdie beskrywing in 2 Timotheüs 3:1-5 vir u lees en dan kan u vir my sê of u dink dat dit die hedendaagse wêreld pas. (Lees.) . . . Bestaan daar goeie rede om beter toestande in die toekoms te verwag? (2 Pet. 3:13).’

      ● ‘Baie mense glo dat hierdie wêreld binnekort sal vergaan. Hulle noem die tyd waarin ons lewe “die laaste dae”. Maar het u geweet dat die Bybel vir ons sê hoe ons die einde van die teenswoordige wêreld kan oorlewe en kan woon op ’n aarde wat in ’n paradys omgeskep gaan word? (Sef. 2:2, 3).’ (Kyk ook bladsye 259-268, onder “Laaste dae”.)

      Kyk ook “Aktuele sake” in hierdie lys voorgestelde inleidings.

      LEWE/GELUK

      ● ‘Ons besoek ons bure op soek na mense wat diep besorg is oor die betekenis van die lewe. Die meeste mense ervaar ’n mate van geluk. Maar hulle het ook met baie probleme te kampe. Namate ons ouer word, besef ons dat die lewe baie kort is. Is dit al waaruit die lewe veronderstel is om te bestaan? Hoe voel u oor die saak? . . . (Lewer kommentaar oor God se oorspronklike voorneme soos getoon in Eden; dan Johannes 17:3 en Openbaring 21:3, 4.)’ (Kyk ook bladsye 268-273, onder “Lewe”.)

      ● ‘Ons vra vandag vir ons bure wat hulle dink wanneer hulle die uitdrukking “die ewige lewe” in hulle Bybels lees. Dit is van besondere belang, want daardie uitdrukking kom nagenoeg 40 keer in die Bybel voor. Wat kan sulke lewe vir ons beteken? . . . Hoe kan ons dit kry? (Joh. 17:3; Openb. 21:4).’

      ● ‘Ons praat met mense wat waarlik besorg is oor die hedendaagse gehalte van die lewe. Die meeste van ons is bly dat ons lewe, maar baie wonder: Is ’n waarlik gelukkige lewe moontlik? Hoe voel u daaromtrent? . . . Wat meen u is vandag een van die grootste dinge wat geluk bederf? . . . (Ps. 1:1, 2; verdere tekste wat handel oor die saak waaroor die huisbewoner besorg is).’

      LIEFDE/VRIENDELIKHEID

      ● ‘Ons het gevind dat talle mense baie besorg is oor die gebrek aan ware liefde in die wêreld. Voel u ook so? . . . Waaraan skryf u die neiging toe? . . . Het u geweet dat die Bybel dit voorspel het? (2 Tim. 3:1-4). Dit verstrek ook die rede daarvoor (1 Joh. 4:8).’

      ● ‘My naam is——. Ek is een van u bure. Ek besoek my bure net kortliks om iets met hulle te bespreek waaroor ek baie besorg is, en ek is seker u het dit ook opgemerk. Dit kos nie veel om vriendelik te wees nie, maar dit is vandag baie seldsaam. Het u al ooit gewonder waarom dit so is? . . . (Matt. 24:12; 1 Joh. 4:8).’

      MISDADIGHEID/VEILIGHEID

      ● ‘Hallo. Ons bespreek die saak van persoonlike veiligheid met mense. Daar is baie misdadigheid en dit raak ons lewens. Dink u dat die dag ooit sal aanbreek wanneer mense soos ek en u snags met veiligheid op straat sal kan wees? (Of: Dink u dat enigiemand werklik ’n oplossing vir die probleem het?) . . . (Spr. 15:3; Ps. 37:10, 11).’

      ● ‘My naam is——. Ek woon hier naby. Op pad hierheen het ek opgemerk dat almal praat oor (meld ’n onlangse misdaad in die buurt of ’n ander saak van plaaslike belang). Wat dink u daarvan? . . . Is daar enigiets wat ons lewens na u mening veiliger sal maak? (Spr. 1:33; 3:5, 6).’

      ONGEREGTIGHEID/LYDING

      ● ‘Het u al ooit gewonder: Is God waarlik besorg oor die ongeregtigheid en lyding wat mense ondervind? . . . (Pred. 4:1; Ps. 72:12-14).’ (Kyk ook “Lyding” en “Bemoediging”.)

      OORLOG/VREDE

      ● ‘Feitlik almal is deesdae besorg oor die bedreiging van kernoorlog. Dink u dat ons ooit ware vrede op hierdie aarde sal sien? . . . (Ps. 46:9, 10; Jes. 9:5, 6).’

      ● ‘Ek soek na mense wat graag wil lewe in ’n wêreld waar daar geen oorlog is nie. Net in hierdie eeu was daar al honderde oorloë, onder meer twee wêreldoorloë. Nou staar die bedreiging van ’n kernoorlog ons in die gesig. Wat dink u is nodig om so ’n oorlog te vermy? . . . Wie kan ’n vreedsame wêreld tot stand bring? . . . (Miga 4:2-4).’

      ● ‘Ons vind dat feitlik almal sê dat hulle wêreldvrede begeer. Die meeste wêreldleiers sê dit ook. Waarom is dit dan so moeilik om dit te bewerkstellig? . . . (Openb. 12:7-12).’

      TOEKOMS/VEILIGHEID

      ● ‘Goeiemôre. Hoe gaan dit? . . . Ons wil graag ’n positiewe beskouing van die toekoms met ons bure bespreek. Is dit hoe u probeer om die lewe te beskou? . . . Vind u dat sommige situasies dit moeilik maak om dit te doen? . . . Ek het gevind dat die Bybel op hierdie gebied baie nuttig is. Dit gee ’n realistiese beskrywing van die toestande wat in ons dag bestaan, maar dit verduidelik ook die betekenis daarvan en vertel vir ons wat die uitslag sal wees (Luk. 21:28, 31).’

      ● ‘Hallo. My naam is——. Wat is joune? . . . Ek spoor jongmense soos jy aan om ondersoek in te stel na die wonderlike toekoms wat die Bybel aan ons voorhou. (Lees ’n teks, soos Openbaring 21:3, 4.) Klink dit vir jou goed?’

      TUISBYBELSTUDIE

      ● ‘Ek besoek u om u ’n gratis tuisbybelkursus aan te bied. As ek mag, wil ek net ’n paar minute gebruik om te demonstreer hoe mense in meer as 200 lande die Bybel tuis as gesinsgroepe bespreek. Ons kan enige van hierdie onderwerpe as grondslag vir ons bespreking gebruik. (Toon die inhoudsopgawe van die studieboek.) In watter een stel u veral belang?’

      ● ‘Ons wys hierdie Bybelstudiehulp vir ons bure. (Vertoon dit.) Het u dit al gesien? . . . As u net ’n paar minute het, sal ek graag vir u wil demonstreer hoe dit saam met u Bybel gebruik kan word.’

      WERKGELEENTHEDE/BEHUISING

      ● ‘Ons het met u bure gesels oor wat gedoen kan word om te verseker dat almal werk en ’n dak oor hulle kop het. Glo u dat dit redelik is om te verwag dat menseregerings dit sal regkry? . . . Maar daar is iemand wat weet hoe om hierdie probleme op te los; dit is die mensdom se Skepper (Jes. 65:21-23).’

      ● ‘Ons bespreek ’n gedagte oor goeie regering met ons bure. Die meeste mense wil graag die soort regering hê wat vry van verdorwenheid is, een wat vir almal werk en goeie behuising voorsien. Watter soort regering meen u kan al daardie dinge doen? . . . (Ps. 97:1, 2; Jes. 65:21-23).’ (Kyk ook bladsye 348-352, onder “Regering”.)

      WANNEER BAIE MENSE SÊ: ‘EK HET MY EIE GELOOF’

      ● ‘Goeiemôre. Ons besoek al die gesinne in hierdie blok (of, in hierdie gebied), en ons vind dat die meeste van hulle hulle eie geloof het. U het ongetwyfeld ook. . . . Maar ongeag ons geloof het ons met baie van dieselfde probleme te kampe—die lewensduurte, misdadigheid, siekte—nie waar nie? . . . Meen u dat daar werklik ’n oplossing vir hierdie dinge is? . . . (2 Pet. 3:13; ens.).’

      WANNEER BAIE MENSE SÊ: ‘EK IS BESIG’

      ● ‘Hallo. Ons besoek almal in hierdie buurt met ’n belangrike boodskap. U is ongetwyfeld ’n besige persoon, en daarom sal ek my saak kortliks stel.’

      ● ‘Goeiendag. My naam is——. Die doel van my besoek is om die seëninge van God se Koninkryk met u te bespreek en vir u te toon hoe ons daarin kan deel. Maar ek kan sien dat u besig is (of, op pad uit is). Ek wil graag net kortliks vir u iets meld.’

      IN GEBIED WAT DIKWELS GEDEK WORD

      ● ‘Ek is bly om u tuis te kry. Ons doen ons weeklikse besoek in die omgewing, en ons het nog iets wat ons met u wil bespreek oor die wonderlike dinge wat God se Koninkryk vir die mensdom gaan doen.’

      ● ‘Hallo. Dit is goed om u weer te sien. . . . Is die gesin gesond? . . . Ek het ingeloer om ’n gedagte oor . . . met u te bespreek.’

      ● ‘Goeiemôre. Hoe gaan dit? . . . Ek het uitgesien na nog ’n geleentheid om met u te kan gesels. (Meld dan die betrokke onderwerp wat jy wil bespreek.)’

  • Hoe jy kan reageer op potensiële gesprekdempers
    Redenering uit die Skrif
    • Hoe jy kan reageer op potensiële gesprekdempers

      Kommentaar: Mense se lewensvooruitsigte hang af van hulle gesindheid teenoor Jehovah God en sy Koninkryk in die hande van Christus Jesus. Die boodskap oor God se Koninkryk is aangrypend, en dit wys op die enigste betroubare hoop vir die mensdom. Dit is ’n boodskap wat lewens verander. Ons wil hê dat almal dit moet hoor. Ons besef dat slegs ’n minderheid dit met waardering sal aanneem, maar ons weet dat mense dit ten minste moet hoor voordat hulle ’n oorwoë keuse sal kan doen. Nie almal is egter bereid om te luister nie, en ons probeer nie om hulle te dwing om te luister nie. Maar met goeie oordeel is dit dikwels moontlik om potensiële gesprekdempers te verander in geleenthede vir verdere bespreking. Hier is voorbeelde van wat sommige ervare Getuies sê in hulle poging om verdienstelike persone te vind (Matt. 10:11). Ons beveel nie aan dat jy enige van hierdie antwoorde uit die hoof leer nie, maar dat jy die gedagte snap, dit in jou eie woorde stel en op ’n manier oordra wat getuig van jou opregte

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel