Hoofstuk 14
Jesus se eerste dissipels
NÁ 40 dae in die woestyn gaan Jesus weer na Johannes toe wat hom gedoop het. Terwyl hy nader kom, wys Johannes blykbaar na hom en sê vir diegene wat daar staan: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom ’n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek.” Hoewel Johannes ouer is as sy neef Jesus, weet Johannes dat Jesus vóór hom as ’n geespersoon in die hemel bestaan het.
Maar ’n paar weke vroeër, toe Jesus gekom het om gedoop te word, het Johannes blykbaar nie met sekerheid geweet dat Jesus die Messias sou wees nie. “Ek het Hom nie geken nie”, erken Johannes, “maar dat Hy aan Israel openbaar sou word, daarom het ek gekom en met water gedoop.”
Daarna verduidelik Johannes vir sy toehoorders wat gebeur het toe hy Jesus gedoop het: “Ek het die Gees soos ’n duif uit die hemel sien neerdaal, en Hy het op Hom gebly. En ek het Hom nie geken nie; maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het aan my gesê: Op wie jy die Gees sien neerdaal en op Hom bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop. En ek het gesien en getuig dat Hy die Seun van God is.”
Die volgende dag staan Johannes by twee van sy dissipels. Toe Jesus nader kom, sê hy weer: “Dáár is die Lam van God!” Hierna volg hierdie twee dissipels van Johannes die Doper Jesus. Die een is Andreas, en die ander een is skynbaar die einste persoon wat hierdie dinge neergeskryf het, wat ook Johannes genoem word. Hierdie Johannes is vermoedelik ook ’n neef van Jesus, aangesien hy blykbaar ’n seun van Maria se suster, Salome, is.
Toe hy omkyk en sien dat Andreas en Johannes hom volg, vra Jesus: “Wat soek julle?”
“Rabbi”, vra hulle, “waar is U tuis?”
“Kom kyk”, antwoord Jesus.
Dit is omtrent vieruur die middag, en Andreas en Johannes bly die res van die dag by Jesus. Daarna is Andreas so opgewonde dat hy hom haas om sy broer, wat Petrus genoem word, te vind. “Ons het die Messias gevind”, sê hy vir hom. En hy neem Petrus na Jesus toe. Johannes gaan haal moontlik terselfdertyd sy broer Jakobus en bring hom na Jesus toe; maar tipies van Johannes laat hy hierdie persoonlike inligting uit sy Evangelie.
Die volgende dag kom Jesus Filippus teë wat uit Betsaida kom, dieselfde dorp waar Andreas en Petrus oorspronklik vandaan kom. Hy nooi hom: “Volg My.”
Filippus kry toe vir Natanael, wat ook Bartholomeüs genoem word, en sê: “Ons het Hom gevind van wie Moses in die wet en ook die profete geskrywe het: Jesus, die seun van Josef van Nasaret.” Natanael twyfel. “Kan daar uit Nasaret iets goeds wees?” vra hy.
“Kom kyk”, nooi Filippus. Terwyl hulle na Jesus toe aangestap kom, sê Jesus van Natanael: “Hier is waarlik ’n Israeliet in wie daar geen bedrog is nie.”
“Waarvandaan ken U my?” vra Natanael.
“Voordat Filippus jou geroep het toe jy onder die vyeboom was, het Ek jou gesien”, antwoord Jesus.
Natanael is verstom. “Rabbi [wat Leraar beteken], U is die Seun van God, U is die Koning van Israel!” sê hy.
“Glo jy omdat Ek vir jou gesê het: Ek het jou onder die vyeboom gesien?” vra Jesus. “Jy sal groter dinge sien as dit.” Dan belowe hy: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens.”
Kort hierna verlaat Jesus die Jordaanvallei saam met sy nuwe dissipels en reis na Galilea. Johannes 1:29-51.
▪ Wie is Jesus se eerste dissipels?
▪ Hoe word Petrus, en moontlik Jakobus, aan Jesus voorgestel?
▪ Wat oortuig Natanael daarvan dat Jesus die Seun van God is?