Die grootste mens wat nog geleef het
KAN enige mens sonder twyfel die grootste mens genoem word wat nóg geleef het? Waaraan kan ’n mens se grootheid gemeet word? Aan sy militêre vernuf? sy fisiese krag? sy verstandelike vermoëns?
Die geskiedskrywer H. G. Wells het gesê ’n mens se grootheid kan gemeet word aan ‘wat hy agterlaat om te groei, en of hy ander in nuwe rigtings laat dink het met ’n krag wat ná hom voortgeduur het’. Al het Wells nie voorgegee dat hy ’n Christen was nie, het hy erken: “Volgens hierdie toets staan Jesus eerste.”
Alexander die Grote, Karel die Grote (wat selfs gedurende sy lewe “die Grote” genoem is) en Napoleon Bonaparte was magtige heersers. As gevolg van hulle formidabele teenwoordigheid het hulle groot invloed uitgeoefen oor diegene wat onder hulle bevel was. En tog het Napoleon na bewering gesê: “Jesus Christus het Sy onderdane beïnvloed en aangevoer sonder dat Hy sigbaar, fisies teenwoordig was.”
Deur sy dinamiese leer en deur die manier waarop hy in ooreenstemming daarmee geleef het, het Jesus al byna tweeduisend jaar lank ’n groot invloed op die lewe van mense. Soos een skrywer dit gepas gestel het: “Al die leërs wat ooit uitgetrek het, al die vlote wat ooit gebou is, al die parlemente wat ooit gesit het en al die konings wat ooit geheers het, het saam nie so ’n kragtige uitwerking op die lewe van die mensdom op aarde gehad . . . nie.”
’n Werklike persoon
Maar party mense sê vreemd genoeg dat Jesus nooit geleef het nie—dat hy in werklikheid ’n verdigsel deur ’n paar eerste-eeuse manne is. Die gerespekteerde geskiedskrywer Will Durant het sulke skeptici met die volgende argument geantwoord: “As ’n paar eenvoudige manne in een geslag so ’n kragtige en aantreklike persoon, so ’n verhewe etiek en so ’n besielende visioen van die broederskap van die mens kon skep, sou dit ’n wonderwerk wees wat veel groter is as enige van dié wat in die Evangelies opgeteken is.”
Vra jou af: Sou iemand wat nooit geleef het nie so ’n merkwaardige invloed op die mens se geskiedenis kon hê? Die naslaanwerk The Historians’ History of the World het gesê: “Die historiese gevolg van [Jesus se] bedrywighede was betekenisvoller, selfs uit ’n suiwer sekulêre oogpunt beskou, as die dade van enigiemand anders in die geskiedenis. ’n Nuwe era, wat deur die belangrikste beskawings van die wêreld erken word, word van sy geboorte af gereken.”
Ja, dink net daaraan. Selfs hedendaagse kalenders word gebaseer op die jaar waarin Jesus na bewering gebore is. “Jaartalle voor daardie jaar word as v.C., of voor Christus, aangegee”, verduidelik The World Book Encyclopedia. “Jaartalle ná daardie jaar word as n.C., of na Christus, aangegee.”
Kritici sê nietemin dat alles wat ons werklik van Jesus weet in die Bybel gevind word. Hulle sê dat daar geen ander verslae uit daardie tyd bestaan nie. Selfs H. G. Wells het geskryf: “Die ou Romeinse geskiedskrywers het Jesus heeltemal geïgnoreer; hy het geen spoor op die geskiedverslae van sy tyd gelaat nie.” Maar is dit waar?
Al het vroeë sekulêre geskiedskrywers maar selde na Jesus Christus verwys, bestaan daar wel sulke verwysings. Cornelius Tacitus, ’n hoogaangeskrewe Romeinse geskiedskrywer van die eerste eeu, het geskryf: “Die naam [Christen] word afgelei van Christus, wat deur die prokurator Pontius Pilatus gedurende die bewind van Tiberius tereggestel is.” Suetonius en Plinius die Jongere, ander Romeinse skrywers van daardie tyd, het ook van Christus melding gemaak. Daarbenewens het Flavius Josephus, ’n eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer, geskryf van Jakobus, wat hy geïdentifiseer het as “die broer van Jesus wat die Christus genoem is”.
The New Encyclopædia Britannica kom gevolglik tot hierdie gevolgtrekking: “Hierdie onafhanklike verslae bewys dat selfs die teenstanders van die Christelike godsdiens in antieke tye nooit die historisiteit van Jesus betwyfel het nie. Dit is iets wat vir die eerste keer en op onvoldoende gronde aan die einde van die 18de, gedurende die 19de en aan die begin van die 20ste eeu betwis is.”
Maar alles wat werklik van Jesus bekend is, is deur sy eerste-eeuse volgelinge opgeteken. Hulle verslae het behoue gebly in die Evangelies—Bybelboeke wat deur Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes geskryf is. Wat sê hierdie verslae oor die identiteit van Jesus?
Wie was hy werklik?
Jesus se eerste-eeuse metgeselle het oor daardie vraag nagedink. Toe hulle sien hoe Jesus ’n stormagtige see stilmaak deur dit te bestraf, het hulle in verbasing gewonder: “Wie is Hy tog?” Later, by ’n ander geleentheid, het Jesus sy apostels gevra: “Wie sê julle is Ek?”—Markus 4:41; Mattheüs 16:15.
Hoe sou jy antwoord as daardie vraag aan jou gestel word? Was Jesus werklik God? Baie mense sê vandag dat hy wel was. Maar sy metgeselle het nooit geglo dat hy God is nie. Die apostel Petrus se antwoord op Jesus se vraag was: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”—Mattheüs 16:16.
Jesus het nooit beweer dat hy God is nie, maar hy het erken dat hy die beloofde Messias, of Christus, is. Hy het ook gesê dat hy “die Seun van God” is, nie God nie (Johannes 4:25, 26; 10:36). En tog sê die Bybel nie dat Jesus ’n mens soos enige ander mens was nie. Hy was ’n baie spesiale persoon omdat God hom voor enigiets anders geskep het (Kolossense 1:15). Jesus het tallose miljoene jare, selfs voor die sigbare heelal geskep is, as ’n geespersoon in die hemel geleef en ’n intieme verhouding met sy Vader, Jehovah God, die Grootse Skepper, geniet.—Spreuke 8:22, 27-31.
Toe, omtrent tweeduisend jaar gelede, het God sy Seun se lewe oorgeplaas na die baarmoeder van ’n vrou, en Jesus het ’n menslike seun van God geword wat op die normale manier uit ’n vrou gebore is (Galasiërs 4:4). Terwyl Jesus in die baarmoeder ontwikkel het en terwyl hy as ’n seun grootgeword het, was hy afhanklik van diegene wat God gekies het om sy aardse ouers te wees. Jesus het eindelik volwassenheid bereik, en toe is dit aan hom gegee om alles in verband met sy vorige omgang met God in die hemel te onthou.—Johannes 8:23; 17:5.
Wat hom die grootste gemaak het
Jesus het sy Vader noukeurig nagevolg, en daarom was hy die grootste mens wat nog geleef het. As ’n getroue Seun het Jesus sy Vader so presies nagevolg dat hy vir sy volgelinge kon sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Johannes 14:9, 10). In elke situasie hier op aarde het hy opgetree net soos sy Vader, die almagtige God, sou opgetree het. “Uit Myself doen Ek niks nie”, het Jesus verduidelik, “maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Johannes 8:28). Wanneer ons dus Jesus Christus se lewe bestudeer, kry ons in werklikheid ’n duidelike beeld van God.
Al het die apostel Johannes erken dat ‘niemand God ooit gesien het nie’, kon hy nogtans skryf: “God is liefde” (Johannes 1:18; 1 Johannes 4:8). Johannes kon dit doen omdat hy God se liefde geken het deur wat hy gesien het in Jesus, wat die volmaakte weerspieëling van sy Vader is. Jesus was simpatiek, goedhartig, nederig en genaakbaar. Die swakkes en vertraptes het op hulle gemak gevoel by hom, soos trouens alle mense—mans, vroue, kinders, die rykes, die armes, die magtiges, selfs groot sondaars. Net mense met goddelose harte het nie van hom gehou nie.
Jesus het inderdaad sy volgelinge nie net geleer om mekaar lief te hê nie, maar hy het hulle gewys hoe om dit te doen. “Soos Ek julle liefgehad het”, het hy gesê, “moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Een van sy apostels het verduidelik dat dit “die kennis oortref” as ’n mens “die liefde van Christus” ken (Efesiërs 3:19). Ja, die liefde wat Christus aan die dag gelê het, styg bo akademiese kopkennis uit en “dring” ons om dit te beantwoord (2 Korinthiërs 5:14). Dit is derhalwe veral Jesus se voortreflike voorbeeld van liefde wat van hom die grootste mens gemaak het wat nog geleef het. Sy liefde het die harte van miljoene deur die eeue heen geroer en het hulle lewe ten goede beïnvloed.
Maar party maak dalk beswaar: ‘Kyk na al die misdade wat in die naam van Christus gepleeg is—die Kruistogte, die Inkwisisie en die oorloë waartydens miljoene mense wat sê dat hulle Christene is mekaar as die vyand doodmaak.’ Maar die waarheid is dat hierdie mense se dade hulle bewering dat hulle Jesus se volgelinge is, loën. Sy leer en lewenswyse veroordeel hulle dade. Selfs ’n Hindoe, Mohandas Gandhi, moes erken: ‘Ek het Christus lief, maar ek verafsku Christene omdat hulle nie lewe soos Christus gelewe het nie.’
Vind baat daarby om van hom te leer
Daar is vandag seker niks van groter belang as om ’n studie te maak van die lewe en bediening van Jesus Christus nie. ‘Hou die oog gevestig op Jesus’, het die apostel Paulus ons aangespoor. “Want julle moet ag gee op Hom.” En God self het van sy Seun gesê: “Luister na Hom!” Dit is wat die boek Die grootste mens wat nog geleef het jou sal help doen.—Hebreërs 12:2, 3; Mattheüs 17:5.
Ons het probeer om elke gebeurtenis in Jesus se aardse lewe wat in die vier Evangelies vermeld is in te sluit, met inbegrip van die toesprake wat hy gehou het sowel as sy illustrasies en wonderwerke. Alles is so ver moontlik weergegee in die volgorde waarin dit plaasgevind het. Aan die einde van elke hoofstuk is ’n lys van die Bybeltekste waarop die hoofstuk gebaseer is. Ons moedig jou aan om hierdie tekste te lees en die hersieningsvrae wat voorsien word te beantwoord.
’n Geleerde aan die Universiteit van Chicago het onlangs gesê: “Daar is in die afgelope twintig jaar meer oor Jesus geskryf as in die vorige tweeduisend.” Maar dit is van die allergrootste belang om persoonlik ondersoek in te stel na die Evangelieverslae, want, soos The Encyclopædia Britannica gesê het: “Baie hedendaagse studente se aandag is soveel in beslag geneem deur teenstrydige teorieë oor Jesus en die Evangelies dat hulle daardie basiese bronne nie op sigself bestudeer het nie.”
Ons is seker dat jy, ná ’n noukeurige, onbevooroordeelde studie van die Evangelieverslae, sal saamstem dat die belangrikste gebeurtenisse in die mens se geskiedenis tydens die bewind van die Romeinse keiser Augustus plaasgevind het, toe Jesus van Nasaret verskyn het sodat hy sy lewe vir ons kon aflê.