Studie nommer 8—Voordele van die “New World Translation”
’n Bespreking van die moderne taalgebruik en eenvormigheid daarvan, die sorgvuldige vertaling van werkwoorde en die dinamiese wyse waarop dit die geïnspireerde Woord van God weergee.
1. (a) Watter neiging word in die New World Translation reggestel, en hoe? (b) Waarom is Jehovah in plaas van Jahwe of ’n ander vorm van die naam in die Engels gebruik?
IN DIE laaste jare het ’n aantal moderne Bybelvertalings die lig gesien wat liefhebbers van God se Woord grootliks gehelp het om gou die betekenis van die oorspronklike geskrifte te begryp. Baie vertalings het egter die goddelike naam uit die heilige verslag weggelaat. Die New World Translation verhoog en eer daarenteen die waardige naam van die allerhoogste God deur dit tot sy regmatige plek in die teks te herstel. Die naam verskyn nou op 6 973 plekke in die Hebreeuse Geskrifte, sowel as op 237 plekke in die Griekse Geskrifte—altesaam 7 210 plekke. Die meeste Hebraïci verkies die vorm Jahwe, maar die juiste uitspraak kan nie vandag met sekerheid vasgestel word nie. Gevolglik word die gelatiniseerde vorm Jehovah steeds gebruik omdat dit reeds eeue lank in gebruik is en omdat dit die mees algemeen aanvaarde vertaling is van die Tetragrammaton, of Hebreeuse vierletternaam, יהוה. Hebraïkus R. H. Pfeiffer het opgemerk: “Wat ook al van sy twyfelagtige stamboom gesê kan word, ‘Jehovah’ is die korrekte Engelse weergawe van Jahwe en moet dit bly.”a
2. (a) Is daar presedente vir die herstelling van die goddelike naam in die Christelike Griekse Geskrifte? (b) Watter twyfel word aldus uit die weg geruim?
2 Die New World Translation is nie die eerste vertaling wat die goddelike naam in die Christelike Griekse Geskrifte herstel het nie. Sedert ten minste die 14de eeu het baie vertalers hulle genoop gevoel om God se naam in die teks terug te plaas, veral op plekke waar die skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte tekste wat die goddelike naam bevat uit die Hebreeuse Geskrifte aanhaal. Talle vertalings deur sendelinge in hedendaagse tale, waaronder tale van Afrika, Asië, Amerika en eilande van die Stille Oseaan, gebruik die naam Jehovah vryelik, en so ook sommige vertalings in Europese tale. Sodra die goddelike naam verskyn, bestaan daar geen twyfel meer oor watter “heer” bedoel word nie. Dit is die Heer van hemel en aarde, Jehovah, wie se naam geheilig word deurdat dit in die New World Translation of the Holy Scriptures uniek en apart gehou word.b
3. Watter kenmerke van die New World Translation help om die krag, skoonheid en betekenis van die oorspronklike geskrifte weer te gee?
3 Die New World Translation dra verder tot die heiliging van Jehovah se naam by deur sy geïnspireerde Skrif weer te gee in duidelike, verstaanbare taal wat die bedoelde betekenis ondubbelsinnig by die leser tuisbring. Dit gebruik eenvoudige, moderne taal, is so eenvormig moontlik in sy lesings, gee die werking of toestand wat deur die Hebreeuse en Griekse werkwoorde uitgedruk word noukeurig weer en onderskei tussen die meervoud en die enkelvoud in sy gebruik van die Engelse voornaamwoord “you” en in die gebiedende wyse van die werkwoord waar die verband dit nie duidelik laat uitkom nie. In hierdie en ander opsigte bring die New World Translation sover moontlik die krag, skoonheid en betekenis van die oorspronklike geskrifte in moderne taal na vore.
IN MODERNE TAAL OORGESIT
4. (a) Watter edele doel het een vroeë Bybelvertaler uitgespreek? (b) Wat het met verloop van tyd nodig geword?
4 Die ouer Bybelvertalings bevat talle verouderde woorde wat tot die 16de en 17de eeu behoort. Hoewel ons hulle nie vandag verstaan nie, het mense van daardie tyd hulle geredelik verstaan. Een man wat baie daarmee te doen gehad het om sulke woorde in die Engelse Bybel in te voer, was William Tyndale, wat glo by geleentheid aan een van sy godsdiensteenstanders gesê het: ‘Indien God my lewe spaar, sal ek, voordat baie jare verstryk het, sorg dat die seun wat die ploegspan lei meer van die Skrif weet as u.’ Tyndale se vertaling van die Griekse Geskrifte was in sy tyd maklik genoeg dat ’n ploeër dit kon verstaan. Maar baie van die woorde wat hy gebruik het, het nou argaïes geword, sodat “die seun wat die ploegspan lei” nie meer werklik die betekenis van baie woorde in die King James Version en ander ouer Bybelvertalings kan begryp nie. Daarom het dit nodig geword om die sluier van argaïese taal te verwyder en die Bybel weer in die eenvoudige taal van die gewone man te stel.
5. In watter taal moet die Bybel verskyn, en waarom?
5 Dit was die taal van die gewone man wat gebruik is om die geïnspireerde Skrif te skryf. Die apostels en ander vroeë Christene het nie die klassieke Grieks van filosowe soos Plato gebruik nie. Hulle taal was alledaagse Grieks, dit wil sê, Koine, of gewone Grieks. Die Griekse Geskrifte is derhalwe, soos die Hebreeuse Geskrifte tevore, in die taal van die volk geskryf. Dit is dus uiters belangrik dat vertalings van die oorspronklike Skrif ook in die taal van die volk moet wees sodat dit geredelik verstaan kan word. Dit is om hierdie rede dat die New World Translation nie die argaïese taal van drie of vier eeue gelede gebruik nie, maar duidelike, betekenisvolle moderne taal sodat lesers werklik te wete sal kom wat die Bybel sê.
6. Lig toe waarom dit nuttig is om hedendaagse uitdrukkings in plaas van verouderde woorde te gebruik.
6 Kyk gerus na die volgende vergelykings tussen die King James Version en die New World Translation om ’n idee te kry van die verandering wat vanaf die 17de eeu tot die 20ste eeu in die Engelse taal plaasgevind het. “Suffered” in die King James Version word “allowed” in die New World Translation (Gen. 31:7), “was bolled” word “had flower buds” (Ex. 9:31), “spoilers” word “pillagers” (Rigt. 2:14), “ear his ground” word “do his plowing” (1 Sam. 8:12), “when thou prayest” word “when you pray” (Matt. 6:6), “sick of the palsy” word “paralytic” (Mark. 2:3), “quickeneth” word “makes . . . alive” (Rom. 4:17), “shambles” word “meat market” (1 Kor. 10:25), “letteth” word “acting as a restraint” (2 Thess. 2:7), ensovoorts. Hieruit sien ons duidelik die waarde van die New World Translation deurdat dit hedendaagse in plaas van verouderde woorde gebruik.
’N EENVORMIGE WEERGAWE
7. Hoe konsekwent is die New World Translation in sy vertaling?
7 Die New World Translation poog om sover moontlik konsekwent te wees in die wyse waarop woorde en uitdrukkings vertaal word. Vir ’n bepaalde Hebreeuse of Griekse woord is één Engelse woord gekies, en dit is so eenvormig gebruik soos die idioom of verband toelaat ten einde die volledige gedagte in Engels weer te gee. So word die Hebreeuse woord neʹfesj deurgaans met “siel” vertaal. Die ooreenstemmende Griekse woord, psu·kheʹ, word in alle gevalle met “siel” vertaal.
8. (a) Gee voorbeelde van homonieme. (b) Hoe is sulke homonieme in die vertaling behandel?
8 Op sommige plekke het daar ’n probleem ontstaan in verband met die vertaling van homonieme. Dit is woorde in die oorspronklike taal wat eenders gespel word maar wat verskillende grondbetekenisse het. Die uitdaging lê dus daarin om die woord met die regte betekenis te gebruik in die vertaling. In Afrikaans is daar homonieme soos “Pool” en “pool” (streek) en “laai” (’n vrag) en “laai” (van ’n kas), woorde wat identies gespel word maar totaal verskillend is in betekenis. Een voorbeeld uit die Bybel is die Hebreeuse rav, wat heeltemal verskillende grondwoorde verteenwoordig. Hierdie woorde word dus in die New World Translation verskillend weergegee. Rav se algemeenste betekenis is “baie”, soos in Exodus 5:5. Maar die woord rav wat in titels gebruik word, soos in “rabsake” (Hebr., rav-sja·qêʹ) in 2 Konings 18:17, beteken “vernaamste”, soos waar dit in Daniël 1:3 (NW) met “sy vernaamste hofbeampte” vertaal word. (Sien ook Jeremia 39:3, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.) Die woord rav, identies in vorm, beteken “boogskutter”, wat die vertaling in Jeremia 50:29 verklaar. Woordkenners, soos L. Koehler en W. Baumgartner, is deur die vertalers as gesaghebbendes aanvaar om die betekenisverskil van hierdie eenders gespelde woorde aan te dui.
9. Hoe het een geleerde op die gebied van Hebreeus en Grieks die New World Translation beoordeel?
9 Let op wat ’n geleerde op die gebied van Hebreeus en Grieks, Alexander Thomson, in sy resensie van die New World Translation of the Christian Greek Scriptures oor hierdie kenmerkende eenvormigheid gesê het: “Die vertaling is klaarblyklik die werk van bekwame en skrander geleerdes, wat probeer het om soveel van die suiwere betekenis van die Griekse teks weer te gee as wat die Engelse taal kan uitdruk. Die vertaling poog om aan elke belangrike Griekse woord één Engelse betekenis toe te ken, en om so letterlik moontlik te wees. . . . Die woord wat gewoonlik met ‘geregverdig’ vertaal word, word oor die algemeen heel korrek weergegee met ‘regverdig verklaar’. . . . Die woord vir die Kruis word met ‘folterpaal’ vertaal, wat eweneens ’n verbetering is. . . . Lukas 23:43 is goed vertaal met: ‘Voorwaar ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.’ Dit is ’n groot verbetering op die lesing van die meeste vertalings.” Oor die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte het dieselfde resensent hierdie kommentaar gelewer: “Dit is beslis die moeite werd om die New World Translation aan te skaf. Dit is lewendig en lewenseg, en dit laat die leser dink en studeer. Dit is nie die werk van hoër kritici nie, maar van geleerdes wat God en Sy Woord eer.”—The Differentiator, April 1952, bladsye 52-7, en Junie 1954, bladsy 136.
10. Lig toe hoe die konsekwentheid van die New World Translation Bybelwaarheid hooghou.
10 Menige tegniese Bybelbespreking in die veld is al gewen danksy die konsekwentheid van die New World Translation. ’n Genootskap van vrydenkers in New York het die Wagtoringgenootskap byvoorbeeld ’n klompie jare gelede gevra om twee sprekers te stuur om hulle groep oor Bybelse aangeleenthede toe te spreek. Daar is aan die versoek voldoen. Hierdie geleerde manne het geglo aan ’n Latynse stelreël, falsum in uno falsum in toto, wat beteken dat ’n argument wat op een punt vals is geheel en al vals is. Gedurende die bespreking het een man Jehovah se Getuies aangeval oor die betroubaarheid van die Bybel. Hy het gevra dat Genesis 1:3 aan die gehoor voorgelees word, en dit is gedoen, uit die New World Translation: “And God proceeded to say: ‘Let light come to be.’ Then there came to be light.” Vol vertroue vra hy toe dat Genesis 1:14 gelees word, en dit is ook uit die New World Translation gelees: “And God went on to say: ‘Let luminaries come to be in the expanse of the heavens.’” “Wag ’n bietjie”, het hy gesê, “wat lees u daar? In my Bybel staan daar dat God op die eerste dag lig gemaak het, en weer op die vierde dag, en dit is inkonsekwent.” Hoewel hy beweer het dat hy Hebreeus ken, moes hy daarop gewys word dat die Hebreeuse woord wat in vers 3 met “lig” vertaal word ʼoor is, terwyl die woord in vers 14 verskillend is, naamlik ma·ʼoorʹ, wat na ’n ligbron verwys. Die geleerde het verslae gaan sit.c Die getroue konsekwentheid van die New World Translation het die punt beklink en bewys dat die Bybel betroubaar en nuttig is.
NOUKEURIGE VERTALING VAN WERKWOORDE
11. Watter dinamiese kenmerk van die oorspronklike Geskrifte word in die New World Translation behou? Hoe?
11 Die New World Translation skenk spesiale aandag daaraan om die betekenis van die handeling oor te dra wat in Griekse en Hebreeuse werkwoorde opgesluit lê. In die proses probeer die New World Translation om die spesiale bekoring, eenvoud, krag en uitdrukkingswyse van die geskrifte in die oorspronklike tale te behou. Om hierdie rede was dit nodig om in Engels hulpwerkwoorde te gebruik om die werklike toestand van die handeling noukeurig weer te gee. Dit is vanweë die krag van die werkwoorde dat die oorspronklike Geskrifte so dinamies en aksieryk is.
12. (a) Wat is een opsig waarin Hebreeus van Westerse tale verskil? (b) Verduidelik die twee toestande van die Hebreeuse werkwoord.
12 Die Hebreeuse werkwoord het nie “tye” in die sin waarin die term “tyd” in die meeste Westerse tale gebruik word nie. In Engels word werkwoorde hoofsaaklik uit die oogpunt van tyd beskou: die verlede, teenwoordige en toekomende tyd. Die Hebreeuse werkwoord druk daarenteen basies die toestand van die handeling uit, dit wil sê, die handeling word beskou as òf voltooid (die perfektum) òf onvoltooid (die imperfektum). Hierdie toestande van die Hebreeuse werkwoord kan gebruik word vir handelinge van die verlede of van die toekoms, en die tyd word dan uit die verband afgelei. Die perfektum, of voltooide toestand van die werkwoord, gee uiteraard handelinge van die verlede weer, maar dit word ook gebruik om ’n toekomstige gebeurtenis aan te dui asof dit reeds plaasgevind het en verby is, waardeur die toekomstige sekerheid of die feit dat dit móét gebeur, aangetoon word.
13. Waarom is dit belangrik om rekening te hou met die toestand van die Hebreeuse werkwoord indien ons ’n juiste begrip van Genesis 2:2, 3 wil verkry?
13 Dit is uiters belangrik om die toestand van die Hebreeuse werkwoord akkuraat in Engels weer te gee; so nie kan die betekenis verdraai en ’n heeltemal ander gedagte oorgedra word. Beskou as voorbeeld hiervan die werkwoordgebruik in Genesis 2:2, 3. Waar dit praat van God se rus op die sewende dag, sê die Afrikaanse vertaling: “God het . . . gerus.” Baie Engelse vertalings gebruik uitdrukkings soos “he rested”, “he desisted”, “he had desisted”, “he then rested” en “he had rested”. Uit hierdie lesings sou ’n mens die gevolgtrekking kon maak dat God se rus op die sewende dag reeds voltooi was. Maar let op hoe die New World Translation die betekenis van die werkwoorde in Genesis 2:2, 3 na vore bring: “En teen die sewende dag het God tot die voltooiing van sy werk gekom wat hy gemaak het, en hy het begin om op die sewende dag te rus [“he proceeded to rest”] van al sy werk wat hy gemaak het. Voorts het God die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat hy daarop bly rus [“he has been resting”] van al sy werk wat God geskape het om dit te maak.” Die uitdrukking in vers 2, ‘hy het begin rus’, is ’n werkwoord in die onvoltooide toestand in die Hebreeus en druk derhalwe die gedagte uit van ’n onvoltooide of voortgesette handeling. Die vertaling ‘hy het begin rus’ is in harmonie met wat in Hebreërs 4:4-7 gesê word. Die werkwoord in Genesis 2:3 is andersyds in die voltooide toestand, maar dit is vertaal met ‘hy het bly rus’ om dit te laat strook met Ge 2 vers 2 en Hebreërs 4:4-7.
14. Wat probeer die New World Translation met betrekking tot die Hebreeuse werkwoorde doen terwyl dit die misvatting van die waw-consecutivum vermy?
14 Een van die redes waarom foute begaan word by die vertaling van die Hebreeuse werkwoordvorme is die grammatikateorie wat vandag waw-consecutivum genoem word. Waw (ו) is die Hebreeuse voegwoord wat basies “en” beteken. Dit staan nooit alleen nie maar is altyd met ’n ander woord verbind, dikwels met die Hebreeuse werkwoord, waarmee dit dan een woord vorm. Sommige het beweer, en beweer steeds, dat hierdie verbinding die vermoë het om die werkwoord van een toestand in die ander om te sit, dit wil sê, van die imperfektum in die perfektum (soos baie vertalings, waaronder moderne vertalings, in Genesis 2:2, 3 doen) of van die perfektum in die imperfektum. Hierdie effek is ook al die “waw-conversivum” genoem. Hierdie verkeerde toepassing van die werkwoordvorm het tot baie verwarring en tot onjuiste vertaling van die Hebreeuse teks gelei. Die New World Translation erken nie dat die letter waw enige krag het om die toestand van die werkwoord te verander nie. Daar is eerder gepoog om die korrekte en unieke krag van die Hebreeuse werkwoord te laat uitkom en sodoende die betekenis van die oorspronklike noukeurig weer te gee.d
15. (a) Met watter omsigtigheid is die Griekse werkwoorde vertaal? (b) Lig die nut daarvan toe om die gedagte van voortgesette handeling korrek weer te gee.
15 Dieselfde omsigtigheid is aan die dag gelê by die vertaling van die Griekse werkwoorde. In Grieks druk die werkwoordtye nie alleen die tyd van ’n handeling of toestand uit nie, maar ook die soort handeling—of dit kortstondig is, begin, voortduur, herhaaldelik gebeur of voltooid is. Wanneer daar aandag geskenk word aan hierdie betekenisse wat in die Griekse werkwoordvorme vervat is, het dit ’n juiste vertaling tot gevolg waarin die volle krag van die beskrewe handeling oorgedra word. Byvoorbeeld, deur die gedagte van voortgesette handeling weer te gee waar dit in die Griekse werkwoord voorkom, word nie alleen die regte lig op ’n situasie gewerp nie, maar word ook groter krag aan vermaning en raad verleen. So word die voortdurende ongeloof van die Fariseërs en Sadduseërs te kenne gegee deur Jesus se woorde: “’n Goddelose en owerspelige geslag hou aan om ’n teken te soek.” En die nodigheid om die regte dinge te bly doen, word goed uitgedruk deur die woorde van Jesus: “Hou aan om julle vyande lief te hê.” “Hou dan aan om eers die koninkryk . . . te soek.” “Hou aan vra, en dit sal julle gegee word; hou aan soek, en julle sal vind; hou aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word.”—Matt. 16:4; 5:44; 6:33; 7:7, NW.
16. Hoe is Johannes se kommentaar oor “sonde” in 1 Johannes 2:1 korrek vertaal omdat die Griekse aoristus in aanmerking geneem is?
16 Die Grieks het ’n ongewone tyd, die aoristus, om handeling te beskryf wat momentaan of kortstondig is. Werkwoorde in die aoristus kan op verskeie maniere weergegee word, na gelang van die verband. Een manier waarop dit gebruik word, is om een handeling van ’n bepaalde aard aan te dui, hoewel dit nie met ’n bepaalde tyd verband hou nie. Ons vind so ’n voorbeeld in 1 Johannes 2:1, waar baie vertalings die werkwoord vir “sondig” so weergee dat dit op ’n aanhoudende sondige handelwyse kan dui, terwyl die New World Translation dit vertaal met “’n sonde doen”, dit wil sê, ’n enkele daad van sonde. Dit dra die korrekte betekenis oor, naamlik dat indien ’n Christen ’n daad van sonde sou begaan, hy ’n voorspraak of helper in die persoon van Jesus Christus by die hemelse Vader het. Eerste Johannes 2:1 is dus in geen opsig ’n weerspreking van die ‘beoefening van sonde’ wat in 1 Johannes 3:6-8 en 5:18 ter sprake is nie; dit vorm bloot ’n teenstelling daarmee.e
17. Wat benewens voortgesette handeling kan deur die Griekse onvoltooide tyd uitgedruk word? Lig dit toe.
17 Die imperfektum in Grieks druk nie net ’n handeling uit wat voortduur nie, maar kan ook dui op ’n poging om iets te doen sonder dat dit afgehandel is. Let op die vertaling van Hebreërs 11:17 in die Afrikaanse Bybel: “Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer.” Die werkwoord “geoffer” verskil in vorm op hierdie twee plekke in die Grieks. Die eerste geval staan in die perfektum (voltooide tyd), terwyl die tweede in die imperfektum (onvoltooide verlede tyd) staan. Die New World Translation neem die verskillende tye in aanmerking en vertaal die vers soos volg: “Abraham [het], toe hy beproef is, Isak so goed as geoffer, en hy . . . het gepoog om sy eniggebore seun te offer.” Die voltooide tyd van die eerste werkwoord word dus behou, terwyl die onvoltooide tyd van die tweede werkwoord aandui dat die handeling beoog of aangepak maar nie afgehandel is nie.—Gen. 22:9-14.
18. Wat het sorgvuldige aandag aan die funksie van ander woordsoorte tot gevolg gehad? Gee ’n voorbeeld.
18 Sorgvuldige aandag aan die funksie van ander woordsoorte, soos die naamvalle van selfstandige naamwoorde, het tot die opheldering van oënskynlike teenstrydighede gelei. In Handelinge 9:7, waar Saulus se merkwaardige ondervinding op die pad na Damaskus vermeld word, sê ’n aantal vertalings byvoorbeeld dat sy reisgenote ‘die stem gehoor het’ maar niemand gesien het nie. Dan, in Handelinge 22:9, waar Paulus hierdie voorval oorvertel, sê dieselfde vertalings dat, hoewel hulle die lig gesien het, ‘hulle nie die stem gehoor het nie’. In die eerste verwysing staan die Griekse woord vir “stem” egter in die tweede naamval (genitief), terwyl dit in die tweede geval in die vierde naamval (akkusatief) staan, net soos in Handelinge 9:4. Waarom die verskil? Geen verskil word in die bogenoemde vertalings aangedui nie, en tog gee die Grieks deur die verandering in naamval iets verskillends te kenne. Die manne het letterlik “van die stem” gehoor, maar hulle het dit nie gehoor soos Paulus dit gehoor het nie, dit wil sê, hulle het nie die woorde gehoor en verstaan nie. Daarom sê die New World Translation, wat die gebruik van die tweede naamval in Handelinge 9:7 in aanmerking neem, dat die manne wat saam met hom was “wel die geluid van ’n stem gehoor het, maar niemand gesien het nie”.
“YOU” IN DIE MEERVOUD AANGEDUI
19, 20. (a) Wat het die New World Translation in verband met skynheilige aanspreekvorme gedoen, en waarom? (b) Lig toe hoe “you” in die enkelvoud en in die meervoud van mekaar onderskei kan word.
19 Die ou Engelse vorme van die tweede persoon in die enkelvoud, “thee”, “thou” en “thy”, is in sommige moderne vertalings behou in gevalle waar God aangespreek word. In die tale waarin die Bybel geskryf is, was daar egter geen spesiale vorm van die persoonlike voornaamwoord wat gebruik is as aanspreekvorm vir God nie, maar dieselfde vorm is gebruik as wanneer iemand sy medemens aanspreek. Daarom het die New World Translation hierdie gebruike, wat nou skynheilig geword het, laat vaar en gebruik dit deurentyd die gewone, gemeensame “you”. Om te onderskei wanneer “you” in die meervoud staan, asook om werkwoorde aan te dui waarvan die meervoudsvorm nie geredelik in Engels herken kan word nie, word hierdie woorde in klein hoofletters gedruk. Dit is dikwels vir die leser nuttig om te weet of ’n bepaalde skriftuurplaas in Engels na “you” as ’n individu of na “YOU” as ’n groep persone, ’n gemeente, verwys.
20 In Romeine 11:13 praat Paulus byvoorbeeld met baie: “Nou praat ek met julle [“YOU”] wat mense van die nasies is.” Maar in vers 17 verander die Grieks na “jy”, sodat die raad pertinent op die individu toegepas word: “Indien sommige van die takke egter afgebreek is, maar jy [“you”] . . . daartussen geënt is . . . ”
NEW WORLD TRANSLATION IN ANDER TALE
21. (a) Hoe het dit moontlik geword dat meer en meer van die aarde se bevolking die voordele van die New World Translation geniet? (b) Hoeveel eksemplare van die New World Translation is teen 1989 deur die Wagtoringgenootskap gedruk?
21 In 1961 is daar aangekondig dat die Wagtoringgenootskap die New World Translation in ses ander algemeen gebruikte tale gaan oorsit, naamlik Nederlands, Frans, Duits, Italiaans, Portugees en Spaans. Hierdie vertaalwerk is aan bekwame en toegewyde vertalers toevertrou, wat almal saam by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, gewerk het. Hulle het ’n groot, internasionale komitee gevorm wat onder bekwame leiding werksaam was. In Julie 1963, tydens die “Ewige Goeie Nuus”-Byeenkoms van Jehovah se Getuies in Milwaukee, Wisconsin, VSA, het die eerstelinge van hierdie vertaalwerk die lig gesien toe die New World Translation of the Christian Greek Scriptures gelyktydig in die bogenoemde ses tale beskikbaar gestel is. Nou kon bewoners van die aarde wat nie Engels magtig was nie ook die voordele van hierdie moderne vertaling begin geniet. Sedertdien is daar met vertaalwerk voortgegaan, en teen 1989 het die New World Translation of the Holy Scriptures reeds in 11 tale verskyn, met ’n totale oplaag van meer as 56 000 000 eksemplare.f
DANKBAARHEID VIR ’N KRAGTIGE INSTRUMENT
22, 23. In watter opvallende opsigte is hierdie vertaling van die geïnspireerde Geskrifte vir die Christen nuttig?
22 Die New World Translation is inderdaad ’n kragtige instrument om te bewys dat ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is’. Uit wat in hierdie studie bespreek is, kan ons agterkom dat hierdie vertaling noukeurig en betroubaar is en dat dit ware genot kan bied vir diegene wat God graag in aangrypende, moderne en lewende taal met die mens wil hoor spreek. Die taal van die New World Translation is geestelik aansporend en bring die leser gou in voeling met die dinamiese uitdrukkingswyse van die oorspronklike geïnspireerde Geskrifte. Ons hoef verse nie meer oor en oor te lees ten einde moeilike uitdrukkings te begryp nie. Dit spreek van die begin af met krag en klaarheid tot die leser.
23 Die New World Translation of the Holy Scriptures is ’n getroue vertaling van God se Woord, “die swaard van die Gees”. As sodanig is dit voorwaar ’n doeltreffende wapen in die Christen se geestelike oorlogvoering, ’n hulpmiddel by die ‘omverwerping van sterk verskanste valse leringe en redenasies wat teen die kennis van God opgerig word’. Hoe goed stel dit ons tog in staat om met groter insig die dinge bekend te maak wat nuttig en opbouend is, die glorieryke dinge in verband met God se regverdige Koninkryk—ja, “die groot dade van God”!—Ef. 6:17; 2 Kor. 10:4, 5, NW; Hand. 2:11.
[Voetnote]
a Introduction to the Old Testament, Robert H. Pfeiffer, 1952, bladsy 94.
b Kingdom Interlinear Translation, uitgawe van 1985, bladsye 1133-8.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 528.
d New World Translation of the Holy Scriptures—With References, aanhangsel 3C, “Hebreeuse werkwoorde wat aandui dat ’n handeling voortduur of aan die gang is.”
e Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 1008.
f Volledige vertalings is in Deens, Nederlands, Engels, Frans, Duits, Italiaans, Japannees, Portugees en Spaans gepubliseer (en gedeeltelike vertalings in Fins en Sweeds).