Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 2/1 bl. 15-20
  • Sal jy baat vind by God se verbonde?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal jy baat vind by God se verbonde?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verbond vir ’n hemelse priester
  • Die nuwe verbond en die sekondêre deel van die saad
  • Jesus se verbond vir ’n koninkryk
  • Verbonde waarby God se ewige voorneme betrokke is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Groter seëninge deur middel van die nuwe verbond
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Julle sal “’n koninkryk van priesters” word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • God se nuwe verbond nader volvoering
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 2/1 bl. 15-20

Sal jy baat vind by God se verbonde?

“In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.”—GALASIËRS 3:8, 9.

1. Wat toon die geskiedenis met betrekking tot die gevolg van baie heerskappye?

SOMMIGE 18de-eeuse Europese heersers word “welwillende [of, verligte] despote” genoem. Hulle ‘het dit goed bedoel om met vaderlike welwillendheid oor hulle volk te regeer, maar hulle planne het verkeerd geloop en hulle hervormings het misluk’a (The Encyclopedia Americana). Dit was ’n vername oorsaak van die revolusies wat Europa weldra verswelg het.

2, 3. Hoe verskil Jehovah van menseheersers?

2 Jehovah verskil hemelsbreed van onberekenbare menseheersers. Ons kan maklik sien dat die mensdom werklik ’n verandering nodig het wat uiteindelik ware oplossings vir ongeregtigheid en lyding sal voorsien. Maar ons hoef nie bekommerd te wees dat God se optrede om dit te bewerkstellig van die een of ander gier afhang nie. Hy het sy belofte om blywende seëninge vir gelowige mense te bring in die wydverspreidste boek ter wêreld laat opteken. Dit sal plaasvind ongeag mense se voormalige nasionaliteit, ras, opvoeding of maatskaplike stand (Galasiërs 3:28). Maar kan jy hierop staatmaak?

3 Die apostel Paulus het ’n gedeelte van God se versekering aan Abraham aangehaal: “Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën.” Paulus het bygevoeg dat aangesien “dit onmoontlik is dat God sou lieg” ons “kragtige bemoediging kan hê . . . om vas te hou aan die hoop wat voorlê” (Hebreërs 6:13-18). Ons vertroue in daardie seëninge kan verder versterk word deur kennis te neem van die ordelike wyse waarop God die grondslag gelê het om dit te volbring.

4. Hoe het God verskeie verbonde gebruik om sy voorneme te volbring?

4 Ons het reeds gesien dat God ’n verbond met Abraham gesluit het waarby ’n saad betrokke was wat daartoe sou bydra dat “al die nasies van die aarde” geseën word (Genesis 22:17, 18). Die Israeliete het ’n vleeslike saad geword, maar Jesus Christus was in die belangriker geestelike sin die vernaamste lid van Abraham se saad. Jesus was ook die Seun, of Saad, van die Groter Abraham, Jehovah. Christene wat “aan Christus behoort”, maak die sekondêre deel van Abraham se saad uit (Galasiërs 3:16, 29). Nadat God die Abrahamitiese verbond gesluit het, het hy tydelik die Wetsverbond met die nasie Israel bygevoeg. Dit het bewys dat die Israeliete sondaars was wat ’n permanente priester en ’n volmaakte offerande nodig gehad het. Dit het die geslag van die Saad beskerm en gehelp om hom te identifiseer. Die Wetsverbond het ook getoon dat God op die een of ander manier ’n nasie van koning-priesters sou voortbring. Terwyl die Wet nog van krag was, het God ’n verbond met Dawid gesluit om ’n koninklike dinastie in Israel te hê. Die Dawidiese Koninkryksverbond het ook daarop gewys dat iemand blywende heerskappy oor die aarde sou hê.

5. Watter vrae moes nog beantwoord word?

5 Maar daar was aspekte of doelwitte van hierdie verbonde wat skynbaar onvolledig was of verduidelik moes word. Hoe kon die komende Saad byvoorbeeld ’n permanente priester wees wat meer as vorige priesters sou doen as hy ’n koning in Dawid se geslag sou wees? (Hebreërs 5:1; 7:13, 14). Kon hierdie Koning oor meer as ’n beperkte aardse ryk regeer? Hoe sou die sekondêre deel van die Saad aan die vereistes voldoen om in die gesin van die Groter Abraham te wees? En selfs al kon hulle, watter ryk sou hulle hê, aangesien die meeste lede nie van Dawid afgestam het nie? Kom ons kyk hoe God wettige stappe gedoen het deur bykomende verbonde te sluit wat hierdie vrae son beantwoord en sodoende ons ewige seën moontlik sou maak.

Die verbond vir ’n hemelse priester

6, 7. (a) Watter bykomende verbond het God volgens Psalm 110:4 gesluit? (b) Watter agtergrond help ons om hierdie bykomende verbond te verstaan?

6 Soos ons gesien het, het God binne die omvang van die Wetsverbond ’n verbond met Dawid gesluit vir ’n afstammeling (’n saad) wat vir goed oor ’n aardse ryk sou heers. Maar Jehovah het ook aan Dawid geopenbaar dat ’n blywende priester sou kom. Dawid het geskryf: “Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek” (Psalm 110:4). Wat was die grondslag van hierdie geswore woord van God wat neergekom het op ’n persoonlike verbond tussen Jehovah en die komende Priester?

7 Melgisedek was die koning van eertydse Salem, wat klaarblyklik geleë was waar die stad Jerusalem (’n naam wat “Salem” bevat) later gebou is. Die verslag van Abraham se handelinge met hom toon dat hy ’n koning was wat “God, die Allerhoogste” aanbid het (Genesis 14:17-20). Maar God se woorde in Psalm 110:4 toon dat Melgisedek ook ’n priester was, wat hom ’n unieke persoon maak. Hy was ’n koning sowel as ’n priester, en hy het gedien waar die Dawidiese konings en die Levitiese priesters later hulle godgegewe werk verrig het.

8. Met wie is hierdie verbond vir ’n priester soos Melgisedek gesluit, en met watter resultaat?

8 Paulus gee ons bykomende besonderhede oor hierdie verbond vir ’n priester soos Melgisedek. Hy sê byvoorbeeld dat dit Jesus Christus was wat ‘deur God ’n hoëpriester volgens die orde van Melgisedek genoem is’ (Hebreërs 5:4-10; 6:20; 7:17, 21, 22). Hoewel Melgisedek uiteraard menseouers gehad het, is daar geen verslag van sy afstamming nie. Pleks daarvan dat Jesus die priesteramp volgens ’n opgetekende geslagslyn van Melgisedek geërf het, is hy dus regstreeks deur God aangestel. Jesus se priesterskap sal nie op ’n opvolger oorgaan nie, want “hy [bly] priester altyddeur”. Dit is die geval, want die voordele van sy priesterlike diens sal ewig wees. Dit is waarlik vir ons ’n seën om ’n priester te hê wat “ook volkome [kan] red die wat deur Hom tot God gaan” en wat getroue knegte vir ewig kan onderrig en lei.—Hebreërs 7:1-3, 15-17, 23-25.

9, 10. Hoe vergroot kennis van hierdie vyfde verbond ons begrip van hoe God se voorneme vervul gaan word?

9 Nog ’n belangrike feit is dat Jesus se rol as Koning-Priester verder as die aardse sfeer gaan. In dieselfde konteks waar hy hierdie verbond vir ’n priester soos Melgisedek gemeld het, het Dawid geskryf: “Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir a voete.” Ons kan dus sien dat Jesus—Dawid se Here—’n plek in die hemel saam met Jehovah sou hê, en dit het by sy hemelvaart plaasgevind. Christus kan saam met sy Vader vanuit die hemel gesag uitoefen om vyande te onderwerp en oordele te voltrek.—Psalm 110:1, 2; Handelinge 2:33-36; Hebreërs 1:3; 8:1; 12:2.

10 Omdat ons van hierdie vyfde verbond weet, het ons dus ’n groter begrip van die ordelike, deeglike manier waarop Jehovah sy voorneme sal volbring. Dit bewys dat die vernaamste lid van die saad ook ’n priester in die hemel sal wees en dat die omvang van sy gesag as Koning-Priester universeel sal wees.—1 Petrus 3:22.

Die nuwe verbond en die sekondêre deel van die saad

11. Watter komplikasies was daar met betrekking tot die sekondêre deel van die saad?

11 Toe ons vroeër die Abrahamitiese verbond ondersoek het, het ons gesien dat Jesus deur natuurreg die vernaamste lid van die saad geword het. Hy het regstreeks van die aartsvader Abraham afgestam en was as ’n volmaakte mens ’n aanvaarde Seun van die Groter Abraham. Maar wat van mense wat bevoorreg is om die sekondêre deel van Abraham se saad, “volgens die belofte erfgename”, te word? (Galasiërs 3:29). Aangesien hulle onvolmaak was, ’n deel van sondaar Adam se gesin, sou hulle nie aan die vereistes voldoen om in die gesin van Jehovah, die Groter Abraham, te wees nie. Hoe kon die hindernis van onvolmaaktheid oorkom word? Dit sou vir mense onmoontlik wees, maar dit is nie vir God onmoontlik nie.—Mattheüs 19:25, 26.

12, 13. (a) Hoe het God nog ’n verbond voorspel? (b) Watter spesiale aspek van hierdie verbond verdien ons aandag?

12 Terwyl die Wet nog van krag was, het Jehovah deur sy profeet voorspel: “Ek [sal] met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond . . . sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het . . . nie—my verbond wat hulle verbreek het . . . Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer . . . sê: Ken die HERE [nie]; want hulle sal My almal ken . . . want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”—Jeremia 31:31-34.

13 Let daarop dat ’n aspek van hierdie nuwe verbond die vergifnis van sondes was, klaarblyklik op ’n manier wat “nie soos” die reëling met diereoffers onder die Wet was nie. Jesus het op sy sterfdag lig hierop gewerp. Nadat hy die Pasga saam met sy dissipels gevier het soos die Wet vereis het, het Christus die Here se Aandmaal ingestel. Hierdie jaarlikse viering sou ’n gedeelde beker wyn insluit, waarvan Jesus gesê het: “Hierdie beker is die nuwe [verbond] in my bloed wat vir julle uitgestort word.”—Lukas 22:14-20, vgl. NW.

14. Waarom speel die nuwe verbond ’n belangrike rol in die voortbrenging van die sekondêre deel van die saad?

14 Die nuwe verbond sou dus deur Jesus se bloed geldig gemaak word. Op grond van so ’n volmaakte offer kon God eens en vir altyd ‘ongeregtigheid en sonde vergewe’. Dink ’n bietjie wat dit sou beteken! Aangesien God die sondes van mense in Adam se gesin wat Hom met toegewydheid dien heeltemal kon vergewe, kon hy hulle as sondeloos beskou, hulle as geestelike seuns van die Groter Abraham verwek en hulle dan met heilige gees salf (Romeine 8:14-17). Die nuwe verbond wat deur Jesus se offer bekragtig is, stel sy dissipels dus in staat om die sekondêre deel van Abraham se saad te word. Paulus het geskryf: “Deur die dood [sou Jesus] hom tot niet . . . maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—en [sou by] almal . . . bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was. Want waarlik, Hy bekommer Hom nie oor die engele nie, maar oor die geslag van Abraham bekommer Hy Hom.”—Hebreërs 2:14-16; 9:14.

15. Wie is die partye in die nuwe verbond?

15 Jesus sou die Middelaar en die bekragtigende offer van die nuwe verbond wees. Maar wie is die partye in die verbond? Jeremia het voorspel dat God hierdie verbond met “die huis van Israel” sou sluit. Watter Israel? Nie vleeslike Israel wat kragtens die Wet besny is nie, want die nuwe verbond het daardie vorige verbond uitgedien gemaak. (Hebreërs 8:7, 13; kyk bladsy 31.) God sou nou aandag gee aan Jode en nie-Jode wat deur geloof figuurlik ‘in die hart deur gees besny is’. Dit strook met sy woorde dat diegene in die nuwe verbond ‘sy wette in hulle verstand en op hulle hart geskrywe’ sou hê (Romeine 2:28, 29; Hebreërs 8:10). Paulus het sulke geestelike Jode “die Israel van God” genoem.—Galasiërs 6:16; Jakobus 1:1.

16. Hoe help die nuwe verbond om die profesie in Exodus 19:6 te vervul?

16 Aangesien God nou met geestelike Israel gehandel het, het ’n deur van geleentheid oopgegaan. Toe God die Wet ingestel het, het hy gesê dat die seuns van Israel vir hom “’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie” sou word (Exodus 19:6). In werklikheid kon en het vleeslike Israel nooit ’n nasie geword waarin hulle almal koning-priesters was nie. Maar Jode en nie-Jode wat as die sekondêre deel van Abraham se saad aanvaar is, kon wel koning-priesters word.b Die apostel Petrus het dit bevestig en vir hulle gesê: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het.” Hy het ook geskryf dat ’n ‘onverwelklike erfenis in die hemele vir hulle bewaar is’.—1 Petrus 1:4; 2:9, 10.

17. Waarom is die nuwe verbond “beter” as die Wetsverbond?

17 Die nuwe verbond werk dus saam met die vooraf bestaande Abrahamitiese verbond om die sekondêre deel van die saad voort te bring. Hierdie nuwe verbond tussen Jehovah en geesverwekte Christene maak die totstandkoming van ’n hemelse nasie van koning-priesters in die koninklike gesin van die Groter Abraham moontlik. Ons kan dus sien waarom Paulus gesê het dat dit “’n beter verbond [is] wat op beter beloftes wettelik gegrond is” (Hebreërs 8:6). Daardie beloftes sluit die seën in dat God se wet geskryf word op die harte van mense wat hom met toegewydheid dien en wie se sondes nie onthou word nie, en dat almal Jehovah “ken, klein en groot onder hulle”.—Hebreërs 8:11.

Jesus se verbond vir ’n koninkryk

18. In watter sin het die verbonde wat ons tot dusver ondersoek het God se voorneme nog nie heeltemal volbring nie?

18 As ’n mens nadink oor die ses verbonde wat ons bespreek het, lyk dit dalk of Jehovah alles wat nodig is om sy voorneme te volbring wetlik gereël het. Maar die Bybel meld nog ’n verbond wat betrekking het op wat ons bespreek het, ’n verbond wat bykomende aspekte van hierdie uiters belangrike saak uitbou. Geesverwekte Christene verwag tereg dat ‘die Here hulle sal verlos van elke bose werk en hulle sal red om in sy hemelse koninkryk in te gaan’ (2 Timotheüs 4:18). Hulle sal ’n nasie van koning-priesters in die hemel wees. Maar wat sal hulle ryk wees? Wanneer hulle na die hemel opgewek word, is Christus reeds daar as ’n volmaakte hoëpriester. Hy sal ook reeds met koninklike mag vir universele heerskappy opgestaan het (Psalm 2:6-9; Openbaring 11:15). Wat is daar vir die ander koning-priesters om te doen?

19. Wanneer en hoe is ’n sewende belangrike verbond gesluit?

19 Op 14 Nisan 33 G.J., die aand toe Jesus die Here se Aandmaal ingestel en “die nuwe verbond kragtens [sy] bloed” gemeld het, het hy van ’n ander verbond, die sewende onder bespreking, gepraat. Hy het vir sy getroue apostels gesê: “Julle is diegene wat in my beproewinge steeds by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink, en op trone kan sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:20, 28-30, NW). Net soos die Vader die verbond met Jesus gesluit het om ’n priester soos Melgisedek te wees, so het Christus ’n persoonlike verbond met sy lojale volgelinge gesluit.

20. Met wie is die verbond vir ’n Koninkryk gesluit, en waarom? (Daniël 7:18; 2 Timotheüs 2:11-13).

20 Die 11 apostels het beslis in Jesus se beproewinge by hom gebly, en die verbond het getoon dat hulle op trone sou sit. Bowendien bewys Openbaring 3:21 dat alle geesverwekte Christene wat getrou bly op hemelse trone sal sit. Hierdie verbond is derhalwe met al 144 000 wat met Jesus se bloed gekoop is om as priesters na die hemel geneem te word en om ‘as konings oor die aarde te heers’ (Openbaring 1:4-6; 5:9, 10, vgl. NW; 20:6). Die verbond wat Jesus met hulle sluit, verenig hulle met hom om sy heerskappy te deel. In sekere sin is dit asof ’n bruid uit ’n adellike gesin met ’n heersende monarg in die huwelik verenig word. Sy is gevolglik in ’n posisie om sy koninkryksheerskappy te deel.—Johannes 3:29; 2 Korinthiërs 11:2; Openbaring 19:7, 8.

21, 22. Watter seën kan verwag word op grond van wat hierdie verbonde bereik?

21 Watter voordele sal dit vir gehoorsame mense meebring? Nòg Jesus nòg die 144 000 sal soos die welwillende despote wees wat ‘geen werklike oplossings kon voorsien nie’. Ons word eerder verseker dat Jesus ’n hoëpriester is “wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde”. Ons kan derhalwe verstaan waarom hy “medelye kan hê” met menslike swakhede en waarom die “ander skape”, soos die gesalfde Christene, God se troon ook “met vrymoedigheid” deur Christus kan nader. Hulle kan dus ook “barmhartigheid . . . verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word”.—Hebreërs 4:14-16; Johannes 10:16.

22 Diegene wat kragtens die verbond saam met Jesus koning-priesters sal wees, dra ook tot die seën van die mensdom by. Soos die eertydse Levitiese priesters die hele nasie van Israel bevoordeel het, sal diegene wat op hemelse trone saam met Jesus dien almal wat op die aarde woon in geregtigheid oordeel (Lukas 22:30). Daardie koning-priesters was voorheen mense, en hulle sal dus medelye met die mensdom se behoeftes hê. Hierdie sekondêre deel van die saad sal met Jesus saamwerk om te sorg dat “al die volke geseën word”.—Galasiërs 3:8.

23. Hoe moet individue ooreenkomstig hierdie verbonde optree?

23 Almal wat daardie seën vir die mensdom wil geniet en sodoende by God se verbonde wil baat vind, word nou genooi om dit te doen (Openbaring 22:17). ’n Goeie stap is om aanwesig te wees vir die viering van die Here se Aandmaal, wat na sononder op Woensdag, 22 Maart 1989, gehou sal word. Tref gerus nou reëlings om dit saam met een van die gemeentes van Jehovah se Getuies by te woon. Daar sal jy meer aangaande goddelike verbonde leer en verder sien hoe jy by hulle kan baat vind.

[Voetnote]

a “Die gevolg van selfs die ondernemendste hervormings was ’n verarmde boerestand, ’n adelstand wat te veel bevoorreg en te min belas is en ’n burgerstand wat ontoereikend in die regering en die gemeenskap geïntegreer is . . . Daar moet gesê word dat hoewel verligte despotisme begin het om vrae wat nie meer geïgnoreer kon word nie onder die oë te sien, dit geen werklike oplossings te midde van die politieke en ekonomiese werklikhede van die eeu kon voorsien nie.”—Western Civilization—Its Genesis and Destiny: The Modern Heritage.

b Jesus is nie ’n party in die nuwe verbond nie. Hy is die Middelaar daarvan en het nie sondes wat vergewe moet word nie. Daarbenewens is dit nie vir hom nodig om op grond daarvan ’n koning-priester te word nie, want hy is ’n koning volgens die Dawidiese verbond en ook ’n priester soos Melgisedek.

Onthou jy?

◻ Waarom is die verbond wat in Psalm 110:4 gemeld word, gesluit, en wat het dit bereik?

◻ Wie is in die nuwe verbond, en hoe het dit gehelp om ’n nasie van koning-priesters voort te bring?

◻ Waarom het Jesus ’n persoonlike verbond met sy volgelinge gesluit?

◻ Wat is die sewe verbonde wat ons ondersoek het?

[Diagram op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Verbond in Eden Genesis 3:15

Abrahamitiese verbond

Wetsverbond

Dawidiese Koninkryksverbond

Verbond om ’n priester soos Melgisedek te wees

Primêre saad

Sekondêre saad

Ewige seëninge

[Diagram op bladsy 19]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Verbond in Eden Genesis 3:15

Abrahamitiese verbond

Wetsverbond

Nuwe verbond

Dawidiese Koninkryksverbond

Verbond om ’n priester soos Melgisedek Te wees

Primêre saad

Verbond vir ’n hemelse Koninkryk

Sekondêre saad

Ewige seëninge

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel