Waardeer jy Jehovah se aardse organisasie?
KYK na ’n goed geslypte, skitterende diamant, en wat sien jy? ’n Juweel wat waarlik iets pragtigs is. Ondersoek nou daardie diamant deur ’n mikroskoop, en wat sien jy? Jy sien waarskynlik skrapies, barsies, onsuiwerhede of ander glesse, of gebreke, in die diamant.
Sal jy die diamant vernietig of weggooi net oor hoe dit onder ’n mikroskoop lyk? Natuurlik nie! Staan net ’n bietjie terug van die mikroskoop, en jy kan steeds die prag en buitengewone skittering waardeer wat dit opvallend onder ander edelstene maak.
Jehovah se aardse organisasie is, soos ’n diamant, in baie opsigte opvallend. Geen ander organisasie op aarde geniet ’n intieme verhouding met die Skepper nie. In ’n brief aan die eerste-eeuse gesalfde Christene, wat ’n hemelse hoop gekoester het, het die apostel Petrus na hierdie spesiale verhouding verwys. Hy het gesê: “Julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry” (1 Petrus 2:9). Vandag het ’n groot menigte “ander skape”, met die hoop op ewige lewe op aarde, hulle aangesluit by die oorblyfsel van daardie “heilige volk” in hulle aanbidding van God (Johannes 10:16). Hierdie twee groepe vorm saam ’n organisasie wat opvallend is soos ’n pragtige en buitengewoon skitterende edelsteen.
Moenie met ’n kritiese oog na ander kyk nie
Maar ons moet besef dat hierdie wêreldwye organisasie uit onvolmaakte mense bestaan. Wat sal dus gebeur as ons deur ’n figuurlike mikroskoop daarna sou kyk? Ja, ons sal sondige neigings en persoonlikheidsgebreke vind in die mense wat deel is daarvan.—Romeine 3:23.
Die apostel Paulus het erken dat hy sulke gebreke het. Hy het gesê: “As ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig” (Romeine 7:21). Elke Christen het dieselfde stryd. Almal maak foute. Bowendien ly baie vroeër of later as gevolg van iemand anders se foute. Moet ons ontmoedig of ontnugter wees wanneer die gebreke en onvolmaakthede van mede-Christene aan die lig kom? Moet dit ons waardering vir Jehovah se organisasie laat afneem? Natuurlik nie! Ons moet as ’t ware eerder terugstaan van die mikroskoop en ophou om ons op die onvolmaakthede van mense toe te spits.
Die Skrif noem ’n aantal eienskappe wat diegene sal identifiseer op wie die heilige gees inwerk. Van hulle is “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). In teenstelling hiermee openbaar die godsdiens-, politieke en sake-organisasies van hierdie wêreld dikwels eienskappe waarvan die Bybel praat as die werke van die vlees: “vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge” (Galasiërs 5:20, 21). Jehovah se volk is dus te midde van ’n geestelik verdorwe wêreld so opvallend soos ’n skitterende diamant tussen gewone klippe.—Mattheüs 5:14-16.
‘Verenig in dieselfde gesindheid’
Een voortreflike kenmerk van ’n diamant is die digtheid en hegte binding van sy atoomstruktuur. Jehovah se aardse organisasie openbaar insgelyks ’n eensgesindheid sonder weerga wat hulle lering en broederskap betref. Diegene wat deel uitmaak van daardie organisasie pas die vermaning toe wat in die Bybel in 1 Korinthiërs 1:10 gevind word, waar dit sê: “Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”
Jehovah se Getuies het ook bo rassevooroordeel en nasionale trots uitgestyg. Omdat hulle “die wysheid van bo” het, is hulle “onpartydig” (Jakobus 3:17). Ons gee Jehovah die eer vir wat hy in hierdie opsig vermag het in ’n organisasie wat uit onvolmaakte mense bestaan.
In teenstelling hiermee het die tydskrif The Christian Century, waar dit van die jaar 1990 praat, gesê dit lyk of “die wêreld meer as ooit verdeel is deur godsdiensgroepe en deur etniese en nasionalistiese sentimente wat nou saamhang met godsdiensopvattings. Van Indië tot Europa en van die Midde-Ooste tot die Stille Oseaan het godsdiens vermeng geraak met etniese en nasionalistiese trou—dikwels met polities plofbare gevolge.” Dit is duidelik dat diegene wat God graag wil dien hulle slegs tot die een organisasie kan wend wat Jehovah se gees en seën geniet.
‘Ek maak jou voorhoof soos ’n diamant’
Die diamant is die hardste natuurlike stof wat aan die mens bekend is. Die Bybel sê dat diamante soms gebruik is om op harde voorwerpe te skryf of te teken (Jeremia 17:1). Let ook op Jehovah se woorde aan Esegiël: “Kyk, Ek maak jou aangesig hard net soos hulle aangesig en jou voorhoof hard net soos hulle voorhoof. Jou voorhoof maak Ek hard soos ’n diamant, harder as ’n rots” (Esegiël 3:8, 9). Jehovah het Esegiël vasbeslotenheid so hard soos ’n diamant gegee wat hom in staat gestel het om aan ’n wederstrewige volk te profeteer.—Esegiël 2:6.
Net so verleen Jehovah vandag aan sy volk hardheid soos ’n diamant ten spyte van groot teenkanting. Jehovah se Getuies se werk word wetlik verbied, hulle verduur gepeupelgeweld, word gelynch, geslaan, onregverdig opgesluit, gemartel, selfs tereggestel. Maar hulle het getoon dat hulle geloof onverbreeklik is.
“My knegte sal bly wees”
Die Bybel het ’n tyd voorspel wanneer mense ’n ‘gedaante van godsaligheid sou hê, maar die krag daarvan sou verloën’ (2 Timotheüs 3:1, 5). Een koerant berig dat “Protestante, Rooms-Katolieke en Jode almal bekommerd is oor die afname” in hulle kerke en sinagoges. Jehovah se Getuies is aan die ander kant ernstige studente van die Bybel. In toenemende getalle woon hulle almal, jonk en oud, mans en vroue, verskeie weeklikse vergaderinge by. ’n Brief wat aan ’n koerant gerig is, het van hulle gesê dat “hulle godsdiens die kosbaarste ding is wat hulle besit, en hulle enigste belangstelling is om dit met andere te deel”.
Hierdie gesindheid maak Jehovah se organisasie so opvallend soos ’n kosbare diamant. En die eer gaan aan die Een wat onvolmaakte mense deur middel van sy heilige gees versterk en lei.
Die profeet Jesaja het voorspel: “So sê die Here HERE: Kyk, my knegte sal eet . . . kyk, my knegte sal drink . . . kyk, my knegte sal bly wees . . . Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is.”—Jesaja 65:13, 14.
Ons sien vandag die vervulling van hierdie profesie. God sorg vir sy volk op ’n buitengewone manier! As jy derhalwe met hulle omgaan, moet jy nie toelaat dat enige negatiewe denke jou van jou vreugde beroof nie. Kyk na die geheelbeeld en onthou: Geen ander organisasie op aarde geniet God se spesiale sorg en beskerming nie. Moet nooit ophou om jou voorreg om ’n deel daarvan te wees as ’n skat te bewaar nie.