Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 10/15 bl. 25-28
  • Die leen van geld aan mede-Christene

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die leen van geld aan mede-Christene
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bereken die koste voordat jy leen
  • “Spreek die waarheid” met uitleners
  • Pas die gulde reël in saketransaksies toe
  • Versigtige uitleners
  • Mislukking
  • Moet ek by my broer geld leen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Wanneer vriende geld uitleen of leen
    Ontwaak!—1999
  • Moet ek geld leen?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 10/15 bl. 25-28

Die leen van geld aan mede-Christene

PEDRO en Carlos was goeie vriende.a Hulle was mede-Christene, en hulle onderskeie gesinne het dikwels gesellig oor en weer gekuier. Toe Carlos dus geld vir sy sakeonderneming nodig gehad het, het Pedro sonder aarseling aangebied om dit aan hom te leen. “Aangesien ons goeie vriende was”, verduidelik Pedro, “het ek nie omgegee nie.”

Slegs twee maande later het Carlos se sakeonderneming egter bankrot gegaan, en hy het opgehou om die lening af te betaal. Pedro het tot sy verbasing uitgevind dat Carlos ’n groot deel van die geld wat hy geleen het, gebruik het om persoonlike skuld te vereffen en om vir ’n oordadige lewenstyl te betaal. Selfs na ’n jaar van besoeke en korrespondensie is die saak nie tot Pedro se bevrediging afgehandel nie. Uit frustrasie het Pedro die saak na die owerheid geneem en Carlos—sy vriend en Christenbroer—in die tronk laat opsluit.b Was dit die regte ding om te doen? Ons sal sien.

Meningsverskille en misverstande oor geldlenings is dikwels die oorsaak van gebroke vriendskappe onder mense in alle wêrelddele. Soms kan dit selfs die oorsaak van onenigheid tussen mede-Christene wees. In baie lande is dit moeilik om banklenings te bekom, en dit is dus algemeen dat mense wat geld nodig het vriende en familielede daarvoor nader. Die ongelukkige ondervinding van Pedro en Carlos lig egter toe dat ernstige probleme kan ontstaan tensy die lener en uitlener Bybelbeginsels noukeurig toepas. Wat is dan die regte handelwyse wanneer ’n mede-Christen geld by jou wil leen?

Bereken die koste voordat jy leen

Die Bybel ontmoedig onnodige geldlenery. Die apostel Paulus maan: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê” (Romeine 13:8). Bereken dus die koste voordat jy skuld maak. (Vergelyk Lukas 14:28.) Is dit werklik nodig om geld te leen? Het jy dit nodig ten einde ’n bestaan te maak sodat jy vir jou gesin kan sorg? (1 Timotheüs 5:8). Of is ’n mate van hebsug daarby betrokke—dalk ’n begeerte om weelderiger te lewe?—1 Timotheüs 6:9, 10.

Nog ’n belangrike faktor is of die skuld jou sal dwing om langer ure te werk en miskien vergaderinge en velddiens te verwaarloos. En kan jy werklik bekostig om iemand anders se geld op die spel te plaas? Sê nou die onderneming gaan bankrot? Onthou: “Die goddelose leen en gee nie terug nie.”—Psalm 37:21.

“Spreek die waarheid” met uitleners

Nadat jy sulke faktore oorweeg het, is jy moontlik steeds van mening dat dit nodig is om ’n sakelening aan te gaan. As dit nie deur sekulêre instellings verkry kan word nie, is dit nie noodwendig verkeerd om ’n mede-Christen te nader nie, want dit is iets algemeens om jou tot vriende te wend in tye van nood, soos Jesus in Lukas 11:5 gesê het. Maar dit moet vir jou ’n saak van erns wees om ‘die waarheid te spreek’ (Efesiërs 4:25). Verstrek onomwonde al die betrokke feite—die risiko’s inkluis, selfs dié wat dalk onbenullig lyk. En moenie aanstoot neem as die voornemende uitlener verskeie pertinente vrae vra sodat hy seker kan wees dat hy ’n akkurate beeld van die saak het nie.c

Praat ’n mens die waarheid as jy geld vir een doel leen en dit dan vir ’n ander doel gebruik? Beslis nie. ’n Bankier in Latyns-Amerika verduidelik: “’n Bank sal jou krediet kanselleer, en as jy nie jou skuld dadelik vereffen nie, kry hulle ’n hofbevel om jou besittings te konfiskeer.” As die geld uitgeleen word in die veronderstelling dat dit die winsgewendheid van ’n onderneming sal verhoog en dit dan vir ’n ander doel aangewend word, sal dit in werklikheid die uitlener beroof van sy versekering dat die lening terugbetaal kan word. Jy vrees dalk wel nie regstappe wanneer jy geld by ’n mede-Christen leen nie. Nietemin ‘is hy wat leen ’n slaaf van die man wat uitleen’, en dit is jou plig om eerlik met hom te wees.—Spreuke 22:7.

Pas die gulde reël in saketransaksies toe

Jesus het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). Hoe belangrik is dit tog dat ons hierdie reël toepas wanneer ons sake doen met ’n medegelowige! Hoe sal jy byvoorbeeld reageer as ’n broer jou versoek om ’n lening afwys? Sal jy meen dat hy julle vriendskap geskend het? Of sal jy sy reg om jou aanbod te weier, respekteer en besef dat hy heel moontlik sy geld nodig het of die risiko’s in ’n ernstiger lig beskou as jy? Hy betwyfel dalk opreg jou vermoë om die geld op bekwame wyse te hanteer. In so ’n geval is sy weiering heel moontlik prakties en liefdevol.—Spreuke 27:6.

As ’n vriend wel instem om geld aan jou te leen, moet besonderhede duidelik op skrif uiteengesit word, onder meer hoeveel geleen is, waarvoor die geld gebruik gaan word, watter bates as sekuriteit vir die lening gaan dien en hoe en wanneer dit terugbetaal gaan word. In sommige gevalle is dit selfs verstandig dat ’n prokureur die kontrak opstel of nagaan en bewaar. In elk geval, sodra ’n ooreenkoms onderteken is, ‘laat jou “ja” eenvoudig “ja” wees en jou “nee”, “nee”’ (Mattheüs 5:37, NAV). Moenie misbruik maak van jou vriend se welwillendheid deur nie jou verpligting teenoor hom so ernstig op te neem soos wat jy teenoor ’n bank sou doen nie.

Versigtige uitleners

Sê nou jy word om ’n lening genader? Baie sal van die betrokke omstandighede afhang. ’n Christenbroer kan byvoorbeeld sonder sy eie toedoen bankrot gaan. Indien jy die middele het om dit te doen, sal Christelike liefde jou beweeg om ‘hom te gee wat vir die liggaam nodig is’.—Jakobus 2:15, 16.

Hoe liefdeloos sou dit tog nie wees om voordeel uit ’n broer se teëspoed te trek deur in so ’n geval rente te vra nie! Jesus het gemaan: “Julle moet jul vyande liefhê en goed doen en leen sonder om iets terug te verwag.”—Lukas 6:35; vergelyk Levitikus 25:35-38.

Maar sê nou jy word bloot gevra om ’n sakeonderneming te finansier of om vir ’n lening borg te staan? Dit is gewoonlik die beste om sulke sake as finansiële beleggings te beskou. Die Bybel spoor ons duidelik aan om versigtig te wees waar dit vermaan: “Wees nie onder die wat ’n handslag gee, onder die wat vir lenings borg staan nie.”—Spreuke 22:26, NW.

Indien dit die geval is, moet jy eers vasstel of jy werklik die belegging kan bekostig. Sal dit jou finansieel ruïneer as die onderneming bankrot gaan of die lener nie die lening betyds kan terugbetaal nie? As jy die lening kan bekostig en daar wins gemaak gaan word, het jy ook die reg om ’n aandeel daaraan te hê deur redelike rente op jou lening te vra. (Vergelyk Lukas 19:22, 23.) Spreuke 14:15 waarsku: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.” Sommige sakemanne, wat normaalweg skerpsinnig is, het versigtigheid oorboord gegooi wanneer hulle sake met mede-Christene gedoen het. Die verloklikheid van hoë rente het sommige onversigtige beleggings laat aangaan waarin hulle hulle geld sowel as hulle vriendskap met mede-Christene verloor het.

Dit is interessant dat bankiers dikwels drie faktore oorweeg om vas te stel hoe riskant ’n lening kan wees: (1) die karakter van die persoon wat die lening aanvra, (2) sy vermoë om dit terug te betaal en (3) die toestande in sy soort bedryf. Sal dit nie blyk lewer van “praktiese wysheid” as jy sake op soortgelyke wyse beoordeel wanneer jy dit oorweeg om jou swaar verdiende geld aan iemand te leen nie?—Spreuke 3:21, NW.

Byvoorbeeld, watter reputasie het die broer wat die geld wil leen? Is hy bekend daarvoor dat hy geloofwaardig en betroubaar of roekeloos en onstabiel is? (Vergelyk 1 Timotheüs 3:7.) Het hy, as hy sy onderneming wil uitbrei, dit tot dusver met welslae bestuur? (Lukas 16:10). Indien nie, sal dit dalk op die lange duur van groter nut wees om hom op ’n praktiese wyse te help om sy geld te beheer as om aan hom geld te leen wat verkwis kan word.

Nog ’n faktor is die broer se vermoë om dit terug te betaal. Wat verdien hy? Hoeveel skuld het hy? Dit is net redelik dat hy eerlik met jou is. Christelike liefde moet nietemin steeds seëvier. Jy sal moontlik die broer se verkoopbare bates as sekuriteit vir die lening wil hê. Die Mosaïese Wet het dit veroordeel dat ’n man se bestaansmiddel of sy basiese besittings as sekuriteit vir ’n lening geneem word (Deuteronomium 24:6, 10-12). ’n Broer in Suid-Amerika wat ’n sakeman is, sê dus dat hy ’n bedrag van hoogstens die helfte van die waarde van ’n broer se verkoopbare bates aan hom sal leen. “En ek beskou nie die gereedskap van sy ambag of sy huis as ’n verkoopbare bate nie”, verduidelik hy. “Ek sal sekerlik nie my broer sonder heenkome wil laat en sy huis wil vat sodat ek my geld kan terugkry nie.”

Ten slotte moet jy die algemene bedryfstoestande oorweeg waar jy woon. Ons lewe in “die laaste dae”, waartydens mense “geldgieriges, . . . verraaiers” is (2 Timotheüs 3:1-4). Hoewel jou vriend en broer dalk eerlik is, is sy vennote, werknemers en kliënte dalk nie. As Christen kan hy hom nie wend tot omkopery en leuens nie—taktiek wat sy mededingers tot hulle voordeel kan gebruik. Die aanslae van “tyd en lotgeval” is ook iets wat ’n mens in ag moet neem (Prediker 9:11). Die waarde van handelsware kan skielik val. Wegholinflasie kan ’n onderneming ruïneer of jou lening waardeloos maak. Diefstal, ongelukke, vandalisme en beserings is ook onaangename feite van die sakewêreld. Jy moet al hierdie aspekte oorweeg wanneer jy jou besluit neem.

Mislukking

Soms kan ’n Christen, ten spyte van alle voorsorgmaatreëls, nie sy lening terugbetaal nie. Die Gulde Reël behoort hom te beweeg om gereeld met sy krediteur te kommunikeer. Miskien is slegs klein terugbetalings ’n tyd lank moontlik. ’n Christen moet nietemin nie voel dat klein betalings ter vereffening van sy skuld hom daarvan vryskeld om waarlik opofferings te maak om sy verpligtinge na te kom nie (Psalm 15:4). ’n Krediteur wat ’n Christen is, is ook onder verpligting om liefde te betoon. As hy meen dat hy bedrieg is, kan hy die raad in Mattheüs 18:15-17 toepas.

Dit is selde raadsaam om die sekulêre owerheid daarin te betrek, soos wat Pedro gedoen het in die geval wat aan die begin genoem is. Die apostel Paulus sê: “Durf iemand van julle wat ’n saak teen ’n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie? . . . Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie? Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges? Dan is dit al werklik ’n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?”—1 Korinthiërs 6:1-7.

Daar is moontlik sommige situasies—soos waarby ongelowige vennote, wêreldse verskaffers of versekeringsake betrokke is—wat blykbaar in ’n sekulêre hof of deur ’n regeringsinstansie geskik moet word. Maar in die meeste gevalle sal ’n Christen eerder ’n finansiële verlies ly as om die gemeente aan die skande te onderwerp wat spruit uit die vervolging van ’n broer oor ’n onbetaalbare lening.

In die meeste gevalle kan sulke droewige gevolge voorkom word. Hoe? Voordat jy geld aan of van ’n broer leen, moet jy bewus wees van die potensiële gevare. Lê versigtigheid en wysheid aan die dag. Bowenal, “laat alles”, saketransaksies inkluis, “in liefde geskied”.—1 Korinthiërs 16:14.

[Voetnote]

a Die name is verander.

b In sommige lande is dit nog steeds algemeen dat mense weens bankrotskap en die versuim om lenings terug te betaal in die tronk opgesluit word.

c Sommige het klein bedrae by verskillende uitleners geleen. Elke uitlener, wat nie al die feite omtrent die hele situasie het nie, dink dalk dat die lener maklik sal kan terugbetaal.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel