Hoofstuk 8
Wie sal die oorlewendes wees?
1. (a) Waarvan sal ’n mens se oorlewing tot in God se vreedsame Nuwe Orde afhang? (b) Hoe beskryf Openbaring hoofstuk 7 diegene wat behoue sal bly om op aarde in die Paradys te lewe?
OORLEWING van die komende wêreldvernietiging sal nie van die toeval afhang, soos so dikwels in mense-oorloë die geval is nie. Dit sal nie bepaal word deur waar iemand woon of die feit dat hy na ’n bomskuiling of ander skuilplek gevlug het toe ’n waarskuwende sirene geloei het nie. Oorlewing sal van God se barmhartigheid afhang, asook die keuse wat elkeen doen voordat “die groot verdrukking” begin. Hoe kan jy die keuse doen wat jou een van diegene sal maak wat dit oorlewe om op aarde in God se vreedsame, paradysagtige Nuwe Orde te lewe?—Openbaring 7:9, 10, 14, 15.
2. Wie stel die voorwaardes vir oorlewing, en waar tref ons hulle aan?
2 Die Bybel voorspel nie alleen dat mense die komende wêreldvernietiging gaan oorlewe nie. Dit dui ook aan watter soort persone hulle sal wees. Aangesien God oorlewing moontlik maak, stel hy tereg die voorwaardes.
3. Waarom moet kwaaddoeners uitgeroei word voordat daar vrede en veiligheid kan wees?
3 God sal wyslik en regverdig toesien dat die oorlewendes mense is wat ’n aanwins vir sy Nuwe Orde sal wees, nie diegene wat dit skade sal berokken nie. As hy onregverdiges bewaar, sal daar geen vrede en veiligheid vir die regverdiges wees nie. Hulle huise en persoonlike veiligheid sal steeds bedreig word. Maar die Bybel beloof: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit.” Dit is slegs deur God se toepassing van daardie maatstaf, wat in Psalm 37:9-11 uiteengesit word, dat die oorlewendes hulle sal kan “verlustig oor groot vrede”. Hoe God dit gaan doen, blyk uit voorvalle in die verlede toe mense se goddeloosheid God verplig het om hulle te vernietig.
Voorbeelde van oorlewing
4-6. (a) Wat toon dat die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. ’n geskiedkundige feit is? (b) Waarom het die vernietiging gekom? (c) Wat het dit vir Jesus se dissipels moontlik gemaak om te vlug?
4 In die stad Rome staan daar vandag nog ’n gedenkboog uit die eerste eeu van die Gewone Jaartelling, die Titusboog. Daarop word uitgebeeld hoedat voorwerpe ná die vernietiging van 70 G.J. uit die tempel in Jerusalem weggedra word. Daardie vernietiging is gevolglik ’n geskiedkundige feit. Net so geskiedkundig is die feit dat Jesus Christus dekades voor daardie vernietiging voorspel het dat dit sou kom asook hoe mense dit kon oorlewe.
5 Die Joodse volk het hulle van God afgekeer om mense en mensgemaakte godsdiensoorleweringe te volg (Mattheüs 15:3-9). Hulle het hulle vertroue gestel in menslike, politieke heersers in plaas van in God se beloofde Koninkryk (Johannes 19:15). Hulle het selfs die waarheid wat deur God se Seun en sy apostels verkondig is, verwerp en daarteen gestry. Jesus het hulle gewaarsku teen die gevolge van so ’n handelwyse.—Mattheüs 23:37, 38; 24:1, 2.
6 Die resultate was presies soos voorspel is. In die jaar 66 G.J. het die Jode teen Rome in opstand gekom. ’n Aanvanklike aanval op Jerusalem deur die Romeine is gevolg deur hulle onverwagte onttrekking. Vir diegene wat Jesus geglo het, was dit die teken en geleentheid om te doen wat hy gesê het: Vlug—verlaat die gedoemde stad en die hele provinsie Judea, ongeag wat agtergelaat moes word. Dit is presies wat ware dissipels van Jesus gedoen het. Toe, in die jaar 70 G.J., het die Romeine teruggekeer en Jerusalem en diegene wat versuim het om te luister ná ’n beleëring vernietig. ’n Ooggetuie, die Joodse geskiedskrywer Josephus, sê dat 1 100 000 mense in Jerusalem as gevolg van honger, siekte, burgertwis of die Romeinse swaard omgekom het. Maar die Christene wat positief opgetree het, het ontvlug.—Lukas 19:28, 41-44; 21:20-24; Mattheüs 24:15-18.
7. Wat moes mense doen om bewaar te word toe Babilon die Israelitiese nasie verwoes het?
7 ’n Soortgelyke situasie het bykans sewe eeue tevore bestaan toe God toegelaat het dat die Babiloniese magte onder koning Nebukadnesar (II) die Israelitiese nasie verwoes. Daardie vernietiging is ook geboekstaafde geskiedenis. God het die afvallige volk jare lank deur sy profete gewaarsku dat hulle gedrag op ’n ramp afstuur. “Bekeer julle, bekeer julle van jul verkeerde weë! Waarom tog wil julle sterwe?” was God se beroep op hulle (Esegiël 33:11). Die meerderheid het hulle nie aan die waarskuwing gesteur nie, en selfs toe Babilon se magte Jerusalem beleër het, het daardie Israeliete nog steeds gehoop dat vernietiging afgeweer sou word. Maar dit het plaasgevind net soos voorspel is. God het egter toegesien dat diegene wat hulle geloof deur gehoorsaamheid getoon het, bewaar is.—Jeremia 39:15-18; Sefanja 2:2, 3.
8-10. (a) Waarom het Jehovah die wêreld in die dae van Noag vernietig? (b) Waarom is Noag en sy gesin gespaar?
8 As ons nog verder in die mens se geskiedenis teruggaan, vind ons die vroegste voorbeeld van die goddelike model vir oorlewing. Dit was nie bloot ’n volksvernietiging nie, maar wêreldvernietiging. En dit is ook ’n geskiedkundige feit, naamlik die Sondvloed gedurende die jare 2370/2369 v.G.J. in die dae van Noag. Van die toestande wat voor daardie wêreldvernietiging geheers het, sê die Bybel: “Toe . . . sien [Jehovah] dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was . . . die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld.”—Genesis 6:5, 11.
9 Die goddeloosheid en geweld het God verplig om op te tree. Net Noag en sy gesin het geloof en gehoorsaamheid getoon. Uit barmhartigheid teenoor hulle, en om reg en geregtigheid op aarde te bewaar, het Jehovah God “die ou wêreld . . . van goddelose mense” nie gespaar nie. Die gevolg was dat “die toenmalige wêreld met water oorstroom is en vergaan het”.—2 Petrus 2:5; 3:5-7.
10 Maar Noag en sy gesin het behoue gebly. Waarom? Eerstens omdat hulle dit nie met daardie “wêreld van goddelose mense” in hulle ongeregtigheid eens was nie. Hulle het nie so verdiep geraak in die alledaagse dinge van die lewe, eet, drink en trou, dat hulle onverskillig geword het teenoor God se wil of sy waarskuwing in die wind geslaan het nie. Noag het in geregtigheid “met God gewandel”. Dit het nie beteken dat hy en sy gesin hulle bloot van skadelike dade onthou het nie. Hulle het eerder daadwerklik goed gedoen. Hulle het werklik geglo wat God gesê het, en hulle het hulle geloof getoon deur ’n yslike drieverdiepingark wat meer as 130 meter lank was te bou. Noag het ook positief opgetree deur ’n “prediker van geregtigheid” te wees en vir ander van God se voornemens te vertel en die weg van geregtigheid voor te staan.—Genesis 6:9, 13-16; Mattheüs 24:37-39; Hebreërs 11:7.
11. Wat moet ons doen om die komende wêreldvernietiging te oorleef, soos hierdie waarskuwende voorbeelde aantoon?
11 Hierdie agt mense het behoue gebly vanweë hulle geloof en hulle werke wat uit geloof voortgespruit het. Jesus en sy apostels het gesê dat daardie wêreldvernietiging profeties was van wat mense in hierdie “tyd van die einde” in die gesig staar. Dit is dus duidelik dat ons ons ook moet distansieer van ’n wêreld wat op vernietiging afstuur, net soos Noag en sy gesin gedoen het. Ons moet ook volgens God se wil lewe. Ons kan nie bloot deur ons eie standaarde gelei word en verwag om behoue te bly nie. God se Woord sê: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 16:25). En geen oppervlakkige skyngeregtigheid sal tot behoud lei nie. Want Jehovah God sien wat in die hart is.—Spreuke 24:12; Lukas 16:15.
Waarna Jehovah in menseharte soek
12, 13. (a) Watter toestande laat baie mense ’n verandering begeer? (b) Waarom is dit nie genoeg om hulle behoud tot in God se Nuwe Orde te verseker nie? (c) Waaruit moet ons droefheid oor die huidige, slegte toestande voortspruit as ons onder die oorlewendes wil wees?
12 Baie is ongelukkig oor die huidige toestande, en hulle toon dit deur klagtes, betogings en, in sommige lande, deur gewelddadige opstand. Baie is ontevrede oor hoë belastings en die stygende lewensduurte. Hulle betreur die gevaar wat misdadigheid inhou. Vrees wek by hulle die begeerte na ’n verandering. Maar is dít genoeg om hulle behoud tot in God se Nuwe Orde te verseker? Nee, dit is nie. Waarom nie?
13 Omdat iemand ongelukkig oor hierdie toestande kan voel en nogtans selfsugtig kan wees. Hy kan selfs sekere vorme van oneerlikheid en onsedelikheid goedkeur—mits hy nie self daaronder ly nie. Maar regskape persone beskou dinge anders. Wanneer hulle die Bybel bestudeer, sien hulle dat die slegte toestande bloot uiterlike simptome van die wêreld se werklike siekte is. Hulle besef wat agter hierdie simptome skuil—’n gebrek aan belangstelling om Jehovah se wil te leer ken en te doen en om sy regverdige standaarde na te leef. Hulle word gevolglik nie soseer deur maatskaplike onreg, misdadigheid, besoedeling of die bedreiging van oorlog gegrief nie. Sulke regskapenes voel eerder veral gegrief wanneer hulle sien hoe God se naam deur die mensdom se verdorwe gedrag gesmaad word. En hulle is bedroef omdat ander, nie net hulself nie, soveel as gevolg daarvan moet ly.
14. Wie het die “teken” vir oorlewing gehad toe Jerusalem deur Babilon vernietig is?
14 Om die komende wêreldvernietiging te oorlewe, moet ons wees soos diegene wat gespaar is toe Babilon Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig het. Hulle is beskryf as mense wat “sug en steun oor al die gruwels wat daarin [Jerusalem] gedoen word” (Esegiël 9:4). Toestande was in verskeie opsigte ‘gruwelik’. Die armes was byvoorbeeld verdruk, en sommige is selfs wederregterlik deur hulle landgenote in slawerny gehou (Jeremia 34:13-16). Die morele toestand van die koninkryk van Juda het selfs erger geword as dié van die noordelike koninkryk van Israel, wat vroeër deur die profeet Hosea beskryf is: “Hulle sweer en lieg en moor en steel . . . sodat bloedbad aan bloedbad raak” (Hosea 4:2; Esegiël 16:2, 51). Net diegene wat hartseer was oor sulke ongeregtigheid en die minagting wat dit vir God getoon het, het die “teken” vir oorlewing ontvang.—Esegiël 9:3-6.
15. Wat verhinder sommige persone om die veranderinge aan te bring wat nodig is om die komende wêreldvernietiging te oorleef?
15 Hoewel baie vandag graag vir ewig in vrede, voorspoed en gemak op aarde wil lewe, wil hulle nie die veranderinge in hulle lewenswyse aanbring wat nodig sal wees as hulle die Bybel se model vir ’n regverdige lewe leer en navolg nie. In hulle diepste wese het hulle nie werklik geregtigheid lief nie en is hulle nie opreg besorg oor hulle medemens nie. Omdat God se Nuwe Orde ’n nuwe gemeenskap gaan voortbring waarin “geregtigheid woon”, vind die goeie nuus daaromtrent slegs byval by diegene wat geregtigheid liefhet. Ander voel dat dit hulle veroordeel.—2 Petrus 3:13; 2 Korinthiërs 2:14-17.
Wat jy nou kan doen
16-18. (a) Hoe ontvang iemand die “teken” vir oorlewing? (b) Wat moet hy ten opsigte van valse aanbidding en dan ten opsigte van ware aanbidding doen? (c) Hoe moet hy politieke instellinge soos die VVO beskou?
16 Jehovah gaan slegs diegene bewaar wat werklik graag onder sy regverdige heerskappy wil lewe. Hy sal niemand dwing om dan onder toestande te lewe wat hulle nie begeer nie. Daarom moet diegene wat bewaar wil word nou bewys dat hulle sy goddelike heerskappy opreg aanvaar. Hulle ontvang die “teken” vir oorlewing deur hulle met ’n Christelike “nuwe persoonlikheid” te beklee wanneer hulle hulle lewens na God se weë skik en blyk gee dat hulle dissipels van God se Seun is. Sodoende ‘kies hulle die lewe’ en seëninge, nie die dood nie (Kolossense 3:5-10, NW; Deuteronomium 30:15, 16, 19). Wat gaan jy kies?
17 Jou keuse behels onderdanigheid aan God in aanbidding. Jesus het gesê: “Daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Johannes 4:23). Om die komende wêreldvernietiging te oorleef, moet ’n mens dus alle valse aanbidding die rug toekeer en ware aanbidding beoefen. En oorlewendes sal ook nie aangetref word onder diegene wat op die Verenigde Volke of op ander politieke instellinge vertrou nie, aangesien hulle ’n deel is van die wêreld wat vernietig gaan word.—Openbaring 17:11; 18:17-21.
18 Eindelose seëninge wag op diegene wat die weg inslaan wat tot oorlewing lei. Kyk nou na sommige van die wonderlike dinge wat God beloof aan diegene wat sy Woord glo en daardie geloof deur positiewe dade toon.
[Prent op bladsy 87]
“’n Groot menigte” sal die wêreldvernietiging oorleef om op aarde in God se Nuwe Orde te lewe