Hoofstuk 9
Aardwye vrede en veiligheid—’n betroubare Hoop
1, 2. Watter toestande wat in die Bybel voorspel is, sal hierdie aarde ’n uiters aangename woonplek maak?
HIERDIE aarde kan ’n uiters aangename en interessante woonplek wees as waarlik vreedsame, veilige toestande net oral geheers het. Hoewel dit nou allesbehalwe vreedsaam en veilig is, voorspel die Bybel dat die aarde nog eendag ’n lieflike tuiste sal word waar die mensdom die lewe ten volle sal kan geniet.
2 Wat belowe die Bybel nou eintlik? Hoe kan ons seker wees dat dit vervul sal word?
’n Vaste grondslag vir vertroue
3, 4. (a) Wat leer ons uit die betroubaarheid van die basiese wette wat die heelal beheer? (b) Wie is die Maker van daardie wette, en waarin kan ons dus met goeie rede ons vertroue stel?
3 Die heelal word deur sekere basiese wette beheer. Ons neem baie van hulle as vanselfsprekend aan. Sonsopkoms, sonsondergang, die maangestaltes en seisoene kom en gaan op ’n wyse wat tot die bestendigheid van menselewe bydra. Die mens stel kalenders op en beplan bedrywighede jare vooruit. Hulle weet dat die beweging van die son, maan en planete betroubaar is. Wat kan ons hieruit leer?
4 Die Maker van daardie wette is volkome betroubaar. Ons kan peil trek op wat hy sê en doen. Dit is onder sy naam, as die Skepper van hemel en aarde, dat die Bybel ’n regverdige nuwe orde beloof (Jesaja 45:18, 19). In ons daaglikse lewensroetine vertrou ons in sekere mate op ander mense—diegene wat voedsel mark toe bring, diegene wat die pos bestel en boesemvriende. Is dit dan nie redelik om verreweg meer vertroue in God en in die gewisse vervulling van sy beloftes te stel nie?—Jesaja 55:10, 11.
5. Hoe kan die feit dat daar geen selfsugtige beweegrede agter God se beloftes skuil nie ons met geloof besiel?
5 Hoewel mense se beloftes dikwels onbetroubaar is, is God se beloftes altyd volkome betroubaar en strek dit tot ons voordeel, nie syne nie. Hoewel God niks van ons nodig het nie, skep hy wel behae in diegene wat geloof in hom stel omdat hulle hom en sy regverdige weë liefhet.—Psalm 50:10-12, 14.
6. Watter soort geloof help die Bybel ons om te verkry?
6 Die Bybel doen ook ’n beroep op ons denkvermoë. Dit dring nie aan op blinde geloof of liggelowigheid nie. Trouens, dit definieer ware geloof as “’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebreërs 11:1). In die Bybel gee God ons ’n vaste grondslag vir geloof. Die vastheid van daardie grondslag word al hoe duideliker namate ons meer kennis van God se Woord verkry en sien hoe die waarheid daarvan ons lewens beïnvloed en hoe die profesieë daarin vervul word.—Psalm 34:9-11.
7. Wat vereis geloof in die Bybel se beloftes oor toekomstige seëninge nie van ons nie?
7 Die Bybel se beloftes van toekomstige seëninge reik baie verder as enigiets wat die mens durf beloof. Daardie beloftes vereis egter nie van ons om dinge te glo wat strydig met alle mense-ervaring is nie. En hulle druis ook nie teen normale mensebegeertes in nie. Beskou sommige van hierdie wonderlike seëninge en kyk net hoe waar dit is.
Die aarde gaan ’n tuintuiste word
8, 9. (a) Waaraan moet die woord “paradys” ons laat dink? (b) Het daar ooit so iets op aarde bestaan? (c) Wat toon dat dit God se voorneme is dat die Paradys die hele aarde moet beslaan?
8 Die woord “paradys” kom van soortgelyke woorde wat in die ou tyd gebruik is (Hebreeus, par·desʹ; Persies, pai·ri·daeʹza; Grieks, pa·raʹdei·sos), woorde wat gebruik is om dinge te beskryf wat destyds werklik op aarde bestaan het. Hierdie woorde bevat almal die basiese gedagte van ’n pragtige park of parkagtige tuin. Net soos in die ou tyd is daar vandag baie sulke plekke, en sommige van hierdie parke is baie groot. Die mens het ’n natuurlike hunkering na hulle skoonheid. Die Bybel beloof dat die dag sal aanbreek wanneer hierdie hele planeet so ’n parkagtige tuin of paradys sal wees!
9 Toe God die eerste mensepaar geskep het, het hy hulle die tuin van Eden, wat “Paradys van genot” beteken, as tuiste gegee. Die Paradys sou egter nie tot daardie een plek beperk wees nie. God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28; 2:8, 9). Dit het beteken dat die grense van die Paradys na die eindes van die aarde uitgebrei moes word, ’n verklaarde voorneme van God wat nie deur die ongehoorsame optrede van Adam en Eva verydel is nie. Jesus Christus self het vertroue in hierdie voorneme getoon toe hy ’n man wat langs hom gesterf het, beloof het dat hy ’n geleentheid sou hê om in so ’n aardse paradys te lewe (Lukas 23:39-43, vgl. NW). Hoe sal dit gebeur?
10. Watter hindernisse in die weg van die Paradys beloof God in Openbaring 11:18 om uit die weg te ruim?
10 In die komende “groot verdrukking” sal God ontslae raak van alles wat in die weg van sy inkomende aardse paradys staan deur “die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). God sal aldus doen wat menseregerings nooit kon doen nie. Hy sal almal uitwis wat die aarde op selfsugtige wyse besoedel om kommersiële hebsug te bevredig, almal wat verwoestende oorloë voer en almal wat die aarde misbruik omdat hulle geen respek het vir die pragtige gawes wat God voorsien het nie.
11. (a) Watter geskiedkundige gebeurtenis toon dat die herstelling van die Paradys op die aarde nie strydig met mense-ervaring is nie? (b) In watter beloofde seën versterk dit ons geloof?
11 Die hele aarde sal dan met prag oordek wees. Sy lug, water en grond sal weer vars en skoon word. Hierdie herstelling van die Paradys is nie ongelooflik of in stryd met mense-ervaring nie. Baie eeue gelede, toe die nasie Israel uit ballingskap in Babilon gekom het, het Jehovah God hulle weer in hulle tuisland, wat toe ’n verlate woesteny was, gevestig. Maar danksy God se seën op hulle en hulle arbeid, het die land gou so mooi geword dat naburige volke kon uitroep: ‘Dit het geword soos die tuin van Eden!’ Dit het ook baie vrugbaar geword sodat daar geen bedreiging van hongersnood was nie (Esegiël 36:29, 30, 35; Jesaja 35:1, 2; 55:13). Wat God destyds op klein skaal gedoen het, lig toe wat hy nog op groot skaal gaan doen om sy beloftes te vervul. Almal wat waardig geag word om dan te lewe, sal hulle verlustig in die Godgegewe genietinge van die lewe in die Paradys.—Psalm 67:7, 8; Jesaja 25:6.
Die einde van armoede en ekonomiese slawerny
12. Watter ekonomiese en werkstoestande moet verander word voordat ons die lewe werklik kan geniet?
12 Armoede en slawerny aan nasionale ekonomiese stelsels kom aardwyd voor. Indien miljoene nog steeds moes swoeg om net die allernodigste in die hande te kry of vervelige werk moes doen wat ’n mens ’n onpersoonlike rat in ’n reusemasjien maak, sou mense die Paradys nie werklik kon geniet nie.
13-15. (a) Waar vind ons ’n geskiedkundige voorbeeld wat vir ons toon wat God se wil in hierdie verband vir die mens is? (b) Hoe het daardie reëling tot die sekuriteit en lewensgenot van elke individu en gesin meegewerk?
13 God se wil vir die mens in hierdie verband blyk uit die wyse waarop hy sulke sake in eertydse Israel gereël het. Daar het elke familie ’n stuk erfgrond ontvang (Rigters 2:6). Hoewel dit verkoop kon word en individue selfs hulself kon verkneg as hulle in die skuld beland het, het Jehovah nogtans voorsieninge gemaak wat verhoed het dat grondbaronne verrys of dat mense lank in knegskap gehou word. Hoe?
14 Deur middel van ekonomiese bepalings in die Wet wat hy aan sy volk gegee het. Die sewende jaar van knegskap was ’n ‘jaar van kwytskelding’ waarin enige Israeliet wat in knegskap verkeer het, vrygelaat moes word. En elke 50ste jaar was “’n jubeljaar” vir die hele nasie, ’n jaar waarin “’n vrylating” aan al sy bewoners uitgeroep moes word (Deuteronomium 15:1-9; Levitikus 25:10). Dan is enige erfgrond wat verkoop was aan die oorspronklike eienaar teruggegee. Almal wat in knegskap was, is vrygelaat al het daar nog nie sewe jaar verstryk nie. Dit was ’n vreugdevolle tyd van gelukkige familiereünies en ’n nuwe begin in die lewe, ekonomies gesproke. Geen stuk grond kon dus vir altyd verkoop word nie. Die verkoop daarvan was in werklikheid net ’n huurkontrak wat op die laatste in die Jubeljaar sou verval.—Levitikus 25:8-24.
15 Al hierdie dinge het tot die ekonomiese bestendigheid van die nasie en die sekuriteit en vrede van elke gesin bygedra. Wanneer hierdie wette gehoorsaam is, het die nasie nie in die haglike toestand verval wat ons vandag in soveel lande sien waar uiterstes in rykdom en armoede naas mekaar bestaan nie. Die voordele vir die individu het die nasie versterk, want dit was vir niemand nodig om minder bevoorreg te wees en deur slegte ekonomiese toestande verswelg te word nie. Die verhaal sê dat Juda en Israel gedurende die bewind van koning Salomo “veilig gewoon het, elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom” (1 Konings 4:25). Baie kan vandag nie al hulle talente en inisiatief gebruik nie, omdat hulle vasgevang is in ekonomiese stelsels wat hulle dwing om die wense van net ’n paar of selfs van net een persoon uit te voer. Onder God se wette is die arbeidsame persoon gehelp om sy vermoëns tot die welsyn en genot van almal by te dra. Dit gee ons ’n idee van die gevoel van eiewaarde en waardigheid wat geniet sal word deur diegene wat die lewe in God se Nuwe Orde verkry.
16. Wat sal God se Koninkryk vir al sy onderdane voorsien waar dit by lewenstoestande en ’n mens se ekonomiese situasie kom?
16 Die profesie van Miga 4:3, 4 sal aardwyd ’n wonderlike vervulling ondergaan. Vredeliewende mense wat onder God se regverdige heerskappy lewe, sal “sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek”. Geeneen van die onderdane van God se Koninkryk sal in smerige krotbuurtes of in oorvol woonstelgeboue woon nie. Hulle sal hulle eie grond en huise hê (Jesaja 65:21, 22). Die Koning, Christus Jesus, het lank gelede beloof dat ‘die sagmoediges die aarde sal beërwe’, en hy het “alle mag in die hemel en op aarde” om toe te sien dat dit wel gebeur.—Mattheüs 5:5; 28:18.
Blywende gesondheid en lewe
17-19. (a) Wat toon dat blakende gesondheid en ’n lang lewe natuurlike begeertes van die mensdom is? (b) Watter feite aangaande menselewe en plantegroei laat ons oor die mens se kort lewensduur wonder? (c) Wat omtrent die mensebrein toon dat dit redelik is om te glo dat die mens gemaak is om vir ewig te lewe?
17 Maar geeneen van hierdie voortreflike toestande kan die lewe waarlik vreedsaam en veilig maak solank as wat siekte, bejaardheid en die dood die toekoms vertroebel nie. Is dit onredelik of strydig met mense-ervaring om te hoop om van hierdie ontstellende dinge bevry te word? Dit druis beslis nie teen die mens se natuur in om hierdie dinge te begeer nie, want daar is mense wat hulle hele lewe en ongekende bedrae bestee het om dit moontlik te maak.
18 Die hoop op blywende gesondheid en lewe is dus glad nie onredelik nie. Wat wel onredelik is, is die volgende: Net wanneer mense ’n leeftyd bereik waar hulle begin om die kennis, ondervinding en vermoë te hê om dinge te doen wat die moeite werd is, begin hulle oud word en sterf hulle mettertyd. Daar is egter bome wat duisende jare lank leef! Waarom moet die mens, wat na God se gelykenis gemaak is, net ’n breukdeel van die tyd lewe wat sommige onintelligente plante lewe? Moet hy nie redelikerwys baie, baie langer lewe nie?
19 Vir deskundiges wat die verouderingsproses bestudeer, is die proses nog grootliks ’n raaisel. Nog iets wat mense dronkslaan, is die feit dat die mensebrein gemaak is om feitlik onbeperkte hoeveelhede informasie in te neem. ’n Wetenskapskrywer het gesê dat die brein “volkome in staat is om enige leer- of geheuelading wat die mens daarop kan laai, te hanteer—en ’n duisendmiljoen keer meer”.55 Dit beteken dat jou brein in staat is om nie alleen enige las wat jy in ’n lewe van 70 of 80 jaar daarop kan plaas te verwerk nie, maar ook ’n duisendmiljoen keer meer! Geen wonder dat die mens so ’n dors na kennis het nie, so ’n begeerte om dinge te leer doen en tot stand te bring. Maar die kortheid van sy lewe ry hom in die wiele. Het dit sin dat die mensebrein so ’n ongelooflike vermoë het terwyl niks meer as ’n klein deeltjie van sy potensiaal benut word nie? Is dit nie baie redeliker om, net soos die Bybel, die gevolgtrekking te maak dat Jehovah die mens gemaak het om vir ewig op die aarde te lewe en hom ’n brein gegee het wat ideaal vir daardie doel geskik is nie?
20. Wat sê die Bybel het God belowe om vir die mensdom te doen in verband met die gevolge van sonde, onder meer die dood self?
20 Die Bybel toon dat die mens oorspronklik die geleentheid gehad het om vir ewig te lewe, maar dit deur opstandigheid verloor het: “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het” (Romeine 5:12, NAV). Maar die Bybel bevat ook God se belofte dat daar in die herstelde Paradys “geen dood meer [sal] wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”. (Openbaring 21:3, 4; vergelyk 7:16, 17.) Dit sê dat die ewige lewe, vry van die gevolge van sonde, God se voorneme met die mensdom is (Romeine 5:21; 6:23). En wat meer is, dit beloof dat die seëninge van God se Nuwe Orde beskikbaar sal wees aan die miljarde wat in die verlede gesterf het. Hoe? Deur ’n opstanding wat die mensdom se gemeenskaplike graf leegmaak. Jesus het met vertroue voorspel: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan.”—Johannes 5:28, 29.
21, 22. Waarom is die vooruitsig om volkome gesondheid te geniet nie te vergesog nie?
21 Die mediese wetenskap kan vandag “wondermiddels” maak en operasies uitvoer wat selfs ’n paar dekades gelede ongelooflik gelyk het. Moet ons dan twyfel dat die mens se Skepper baie verstommender genesingswondere kan verrig? Die Skepper het tog seker die vermoë om regverdig gesinde mense blakend gesond te maak, en selfs die verouderingsproses om te keer. En hy kan dit alles doen sonder om van geneesmiddels, operasies of kunsorgane gebruik te maak. God het bedagsaam bewys gelewer dat sulke seëninge nie te vergesog is nie.
22 Terwyl sy Seun op aarde was, het God hom die mag gegee om kragtige genesingswerke te verrig. Hierdie werke gee ons die versekering dat daar geen swakheid, gebrek of kwaal is wat God nie kan genees nie. Toe ’n man wie se vlees vol melaatsheid was Jesus gesmeek het om hom te genees, het Jesus die man vol medelye aangeraak en gesê: “Word gereinig!” En soos die geskiedverslag sê: “Dadelik is hy van sy melaatsheid gereinig” (Mattheüs 8:2, 3). Jesus het sulke dinge ten aanskoue van talle getuies gedoen, soos die geskiedskrywer Mattheüs berig: “Ondertussen kom daar groot menigtes na Hom met kreupeles, blindes, stommes, gebreklikes en baie ander by hulle, en hulle het dié by die voete van Jesus neergesit, en Hy het hulle gesond gemaak, sodat die skare verbaas was . . . en hulle het die God van Israel verheerlik” (Mattheüs 15:30, 31). Lees self die verhaal in Johannes 9:1-21 om te sien hoe feitlik en lewensgetrou die geskiedkundige verslag van sulke genesings is. Die waaragtigheid van hierdie gebeure word deur talle getuies, onder meer ’n dokter, die geneesheer Lukas, gestaaf.—Markus 7:32-37; Lukas 5:12-14, 17-25; 6:6-11; Kolossense 4:14.
23, 24. Waarom is dit nie onredelik om te glo dat die dode onder God se Koninkryk weer lewend gemaak sal word nie?
23 Om soortgelyke redes hoef ons nie die Bybelbelofte dat “daar ’n opstanding sal wees van die dode” as ongelooflik te beskou nie (Handelinge 24:15). Selfs jare na sy dood kan ’n persoon se stem, voorkoms en handelinge met behulp van film of videoband gereproduseer word. Behoort die Skepper van die mens, wat die presiese atoom- en molekulêre struktuur van die mens ken, dan nie veel meer te kan doen nie? Mensgemaakte rekenaars kan letterlik miljarde databrokkies berg en verwerk. Maar God het die ontsagwekkende heelal met sy miljarde sterrestelsels geskep, en elke sterrestelsel bevat miljarde sterre. Dit gee ’n totaal van biljoene, duisendbiljoene, en selfs meer! En tog sê Psalm 147:4: “Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name”! Vir God, wat so ’n geweldige geheuevermoë het, behoort dit tog seker eenvoudig te wees om die persoonlikhede van individue te onthou om hulle weer lewend te maak.—Job 14:13.
24 Jehovah het weer eens geskiedkundige voorbeelde gegee om ons geloof in so ’n wonderlike hoop te versterk. Hy het sy Seun die mag gegee om op klein skaal te toon wat hy gedurende sy regverdige heerskappy oor die aarde op groot skaal gaan doen. Jesus het ’n aantal dooies opgewek, dikwels ten aanskoue van ander. Lasarus, wat hy naby Jerusalem opgewek het, was selfs lank genoeg dood sodat sy liggaam begin ontbind het. Die opstandingshoop het beslis ’n vaste grondslag.—Lukas 7:11-17; 8:40-42, 49-56; Johannes 11:38-44.
Die aarde se vermoë om so ’n bevolking te onderhou
25, 26. Sal daar vir almal lewensruimte wees wanneer die dode opgewek word?
25 Kan hierdie planeet gerieflike woonruimte bied aan ’n bevolking soos wat daar sal wees ná die opstanding van die dode? Dit het meer as 5 000 jaar geduur voor die aarde se bevolking in die vroeë negentiende eeu eenmiljard bereik het. Vandag is dit ongeveer vyfmiljard.
26 Diegene wat vandag lewe, verteenwoordig dus ’n aansienlike deel van al die mense wat ooit op die aarde gelewe het. Sommige skat dat die totale bevolking deur die hele mensegeskiedenis sowat 15 000 000 000 is. Die aarde se grondoppervlakte is meer as 15 000 000 000 hektaar. Dit laat een hektaar per persoon toe. Dit bied nie alleen genoeg ruimte vir voedselproduksie nie, maar laat ook ruimte vir woude, berge en ander skilderagtige gebiede—sonder dat die Paradys oorbevolk is. Die Bybel toon ook dat nie almal wat vandag lewe behoue sal bly en in daardie Nuwe Orde gaan lewe nie. Jesus het inderdaad gesê: “Breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.” Hy het ook gesê dat wanneer wêreldvernietiging kom, diegene wat nie Jehovah se wil doen nie, “sal weggaan in die ewige straf”.—Mattheüs 7:13; 25:46.
27. Kan die aarde genoeg voedsel vir al daardie mense lewer?
27 Maar kan die aarde genoeg voedsel vir soveel mense voorsien? Ja, sê wetenskaplikes, en dit geld selfs onder huidige toestande. ’n Berig in The Toronto Star het gesê: “Volgens die Verenigde Volke se Voedsel-en-Landbou-organisasie (VLO) word daar aardwyd reeds genoeg graan verbou om almal op aarde met 3 000 kalorieë per dag te voed, en dit is . . . ongeveer 50 persent meer as die kleinste aanvaarbare hoeveelheid.”56 Wat die toekoms betref, het dit verduidelik dat daar, selfs onder hedendaagse toestande, genoeg voedsel kan wees om in dubbel die huidige wêreldbevolking se behoeftes te voorsien. Ons moet ook onthou dat Jehovah sy volk sal help om die aarde se landboupotensiaal behoorlik te benut, want Psalm 72:16 (NW) verseker ons: “Daar sal volop koring op die aarde wees; op die top van die berge sal daar ’n oorvloed wees.”
28. Waarom bestaan daar geen gevaar dat die aarde mettertyd oorbevolk sal raak as mense vir ewig lewe nie?
28 Ons moet let op wat God se voorneme is, soos dit oorspronklik aan die eerste mensepaar gestel is. Hulle is aangesê om ‘die aarde te vul en dit te onderwerp’ deur Eden se grense na die uithoeke van die aarde uit te brei (Genesis 1:28). Dit beteken klaarblyklik dat die aarde gerieflik gevul moes word, nie oorbevolk moes word nie. Sodoende sou die ‘onderworpe’ aarde nog steeds ’n globale park volgens die model van die mens se oorspronklike parkagtige tuiste wees. Hierdie goddelike bevel toon dus dat die bevolkingsaanwas op God se bestemde tyd en manier beheer sal word.
’n Vaste grondslag vir blywende geluk
29. Watter uitwerking het verhoudinge met ander op ’n mens se geluk?
29 Maar selfs ’n pragtige omgewing, materiële voorspoed, interessante werk en blakende gesondheid sal nie jou blywende geluk verseker nie. Baie het vandag hierdie dinge en is nietemin ongelukkig. Waarom? As gevolg van mense om hulle wat selfsugtig, twisgierig, skynheilig of haatdraend is. Blywende geluk in God se Nuwe Orde sal grotendeels die uitvloeisel wees van ’n aardwye verandering in mense se gesindheid. Hulle liefde en eerbied vir God en hulle begeerte om sy voornemens te volbring, sal geestelike voorspoed meebring. Daarsonder word materiële voorspoed onbevredigend en leeg.
30. Hoe weet ons dat slegs mense wat tot ander se vrede en veiligheid bydra in God se Nuwe Orde gaan lewe?
30 Ja, dit is werklik ’n genot om saam met mense te wees wat goedhartig, nederig en vriendelik is—mense wat jy waarlik kan liefhê en kan vertrou, en wat net so teenoor jou voel (Psalm 133:1; Spreuke 15:17). Dit is liefde vir God wat ware naasteliefde verseker, iets wat die lewe in Sy regverdige Nuwe Orde so aangenaam sal maak. Almal aan wie God die ewige lewe gaan gee, sou reeds hulle liefde vir hom en hulle naaste bewys het. Met sulke bure, vriende en werksgeselle sal jy ware vrede en veiligheid en blywende geluk kan smaak.—1 Johannes 4:7, 8, 20, 21.
31. Wat moet ons nou doen as ons werklik in God se Nuwe Orde wil lewe?
31 Jy het inderdaad ’n wonderlike vooruitsig! Die verstandige weg sal dus wees om uit te vind wat van jou verwag word om dit te ontvang. Dit is nou die tyd om jou lewe te skik na God se vereistes vir diegene wat deur die komende “groot verdrukking” heen bewaar gaan word.—2 Petrus 3:11-13.
[Prent op bladsy 98]
Die hele aarde sal eersdaags in ’n paradys omgeskep wees