-
Toon eerbied vir Jehovah, maan die boek NumeriDie Wagtoring – 1984 | Junie 1
-
-
Nadat nog ’n sensusopname gedoen is en ’n presedent gestel is in verband met die erfreg van dogters, aanskou Moses die Beloofde Land en wys hy Josua as sy opvolger aan. Voorskrifte word gegee in verband met daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse offerandes, asook wette oor geloftes. Dan word wraak geneem op die Midianiete vir hulle aandeel daarin dat die Israeliete teen God gesondig het.—Numeri 26:1-31:54.
Die stamme van Ruben, Gad en Manasse ontvang erfdele oos van die Jordaan, maar op voorwaarde dat hulle help met die verowering van die land wes van daardie rivier. Dan volg daar ’n lys van Israel se baie staanplekke van Egipte af tot op die vlaktes van Moab. Die Israeliete ontvang daarna gebooie rakende hulle verblyf in die Beloofde Land. Hulle moet byvoorbeeld alle voorwerpe van valse godsdiens vernietig en die bewoners van die land verdryf. Die grense van die land word beskryf, owerstes word aangewys om Josua en Eleasar te help om dit te verdeel, en 48 stede word aan die Leviete afgestaan. Ses vrystede word opsygesit en instruksies word gegee oor die hantering van gevalle van onopsetlike manslag en moord. Ten slotte word wette gegee oor die huweliksregte van erfdogters.—Numeri 32:1-36:13.
Terwyl jy Numeri lees, sal jy bes moontlik beïndruk word deur die klem wat dit lê op eerbied vir Jehovah en vir diegene wat aangestel is om verantwoordelikheid onder sy volk te dra. Maar jy wonder miskien oor sekere dinge. Die volgende vrae en antwoorde kan jou dus interesseer.
Gebeure by die berg Sinai
• 5:11-31—Wat het in werklikheid gebeur met ’n vrou wat aan owerspel skuldig was?
Die water self het geen teistering veroorsaak nie. Maar dit is voor Jehovah gedrink, en hy het geweet of die vrou aan owerspel skuldig was of nie. As sy skuldig was, het hy haar skoot laat opswel en haar heup laat inval. Die heup word klaarblyklik hier eufemisties vir die voortplantingsorgane gebruik. (Vergelyk Genesis 46:26.) “Inval” dui daarop dat hierdie organe weggekwyn en dus bevrugting onmoontlik gemaak het. Dit klop met die feit dat, indien die vrou onskuldig was, haar man haar swanger moes maak.
• 8:25, 26—Geld die beginsel van die wet oor Levitiese aftrede vandag vir Jehovah se volk?
Die priesters is deur al die bevoegde manspersone van die drie vernaamste Levitiese families bygestaan. Die Leviete sou mettertyd talryk word, maar die diensgeleenthede by die heiligdom was beperk. Dit was dus ongetwyfeld uit konsiderasie vir ouderdom en om oorlading van hierdie dienste te vermy dat Jehovah beveel het dat manlike Leviete op die ouderdom van 50 van sulke verpligte diens kon aftree, hoewel hulle nog vrywillig kon help. Dit lê egter geen reël neer vir geestelike Israeliete en hulle metgeselle nie, daar hulle nie onder die Wet is nie (Romeine 6:14; Efesiërs 2:11-16). Indien ’n Christen weens sy hoë ouderdom nie meer ’n sekere verantwoordelikheid kan nakom nie, kan hy miskien ’n ander vorm van diens aanvaar wat hy wel kan verrig. Vir Jehovah se Getuies is daar geen aftrede ten opsigte van die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk nie.
Gedurende die omswerwing
• 12:1—Waarom het Mirjam en Aäron teen Moses gespreek vanweë sy Kusitiese vrou?
Dit was meer as ’n beswaar teen die vrou van Moses. Die eintlike beweegrede was die begeerte na meer mag, veral aan die kant van Mirjam. Moses se vrou, Sippora, was weg en het weer by haar man aangesluit, en Mirjam was bang dat sy as eerste vrou in die laer verdring sou word (Exodus 18:1-5). Sy het Aäron toe oorreed om saam met haar Moses te kritiseer omdat hy met ’n Kusitiese vrou getrou het en om sy unieke posisie voor God te betwis. Hiervoor het Jehovah Mirjam sowel as Aäron getugtig, maar die feit dat net sy melaats geword het, dui daarop dat sy moontlik die aanstigter was. Aäron se regte gesindheid word getoon deur sy bekentenis en sy pleidooi ten behoewe van die melaatse Mirjam (Numeri 12:10-13). Wat Sippora betref, sy was die dogter van Rehuel, die Midianiet (Genesis 25:1, 2; Numeri 10:29). In Habakuk 3:7 word “die land Midian” gelykgestel met Kusan, wat blykbaar ’n ander naam vir Midian is of op ’n naburige land betrekking het. Daarbenewens is sekere Arabiese stamme Kusi of Kushim genoem. Dit wil dus voorkom of “Kusitiese” nie beperk was tot die nakomelinge van Gam deur Kus nie, maar ook gebruik is vir sommige bewoners van Midian. Daarom kon Sippora ’n Kusitiese vrou genoem word.
• 21:14, 15—Wat was “die Boek van die Oorloë van die HERE”?
Dit was ongetwyfeld ’n betroubare geskiedenisverslag van die oorloë van Jehovah se volk. Dit het moontlik begin met Abraham se geslaagde veldtog teen die vier konings wat Lot en sy gesin ontvoer het (Genesis 14:1-16). Die Skrif maak van verskeie ongeïnspireerde geskrifte melding, waarvan sommige deur geïnspireerde Bybelskrywers as bronne gebruik is.—Josua 10:12, 13; 1 Konings 11:41; 14:19, 29.
Op die vlaktes van Moab
• 22:20-22—Waarom was Jehovah toornig op Bileam toe hy saam met Balak se manne gegaan het, aangesien dit Jehovah was wat hom beveel het om dit te doen?
Jehovah het vir Bileam gesê dat hy nie die Israeliete kon vloek nie, maar die gierige profeet het gegaan met die bedoeling om dit te doen sodat hy deur die Moabitiese koning Balak beloon kon word (2 Petrus 2:15,16; Judas 11). Om daardie rede het God se toorn teen Bileam ontvlam. Jehovah was natuurlik nie daarmee gediend dat Israel vervloek word nie. Maar Bileam het, soos Kain, die wil van God koppig verontagsaam (Genesis 4:6-8). Nadat Jehovah elke vloek in ’n seën verander het, het Bileam se verdorwenheid hom beweeg om aan die hand te doen dat Balak die vroue van Moab en Midian gebruik om die Israeliete te verlei en hulle by Baälaanbidding te betrek (Deuteronomium 23:5; Numeri 31:15, 16; Openbaring 2:14). Dit het God se toorn teen Israel laat ontvlam en tot die dood van 24 000 gelei. Later is die gierige Bileam gedood deur die einste mense wat hy probeer vloek het (Numeri 25:1-9; 31:8). Wat ’n waarskuwing teen gierigheid!
• 25:10-13—Hoe is hierdie belofte in verband met die priesterskap vervul?
Die hoëpriesterskap het skynbaar in die geslag van Pinehas gebly tot met die tyd van hoëpriester Eli, ’n afstammeling van Itamar. Hierdie verandering is waarskynlik toe te skryf aan die tydelike onbevoegdheid van Pinehas se nakomelinge. Maar koning Salomo het vir Sadok, wat van Pinehas afgestam het, in die plek van Abjatar, ’n nakomeling van Itamar, as hoëpriester aangestel (1 Konings 1:1-14; 2:26, 27, 35). Sover daar uit die geskiedenisverslag vasgestel kan word, het die afstammelinge van Pinehas daarna die amp van hoëpriester baie jare lank beklee.
• 30:6-8—Kan ’n Christenvrou se man haar geloftes tot niet maak?
Nee, want Jesus se volgelinge is nie onder die Wet nie. Jehovah handel nou individueel met persone wat geloftes betref, en ’n Christeneggenoot het nie die reg om dit op te hef of te verbied nie. ’n Christenvrou moet natuurlik nie geloftes doen wat teen God se Woord of haar Skriftuurlike pligte teenoor haar man indruis nie.—Prediker 5:2-6.
Van groot waarde vir ons
Die boek Numeri is ’n waardevolle skakel in die verslag wat lei tot die oprigting van God se Koninkryk. Dit wys ook vooruit op Jesus Christus. Die diereoffers en die as van die rooi koei het byvoorbeeld gedui op die veel groter voorsiening vir reiniging deur Jesus se offer (Numeri 19:2-9; Hebreërs 9:13, 14). Die insident in verband met die koperslang was ’n voorafskaduwing van Jehovah se wonderlike voorsiening vir ewige lewe deur Christus.—Numeri 21:8, 9; Johannes 3:14, 15.
Die boek Numeri kan ons help om afgodediens en geslagsonsedelikheid te vermy. Dit waarsku ons teen die gevaar van murmurering teen God, sy aangestelde knegte en sy voorsieninge. En hierdie opwindende verslag behoort ons beslis te beweeg om die grootste eerbied vir ons liefdevolle God, Jehovah, te toon.
-
-
Moet nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie!Die Wagtoring – 1984 | Junie 1
-
-
Moet nooit vergeet dat jy ’n getuie is nie!
“Julle is my getuies, spreek [Jehovah], en Ek is God.”—JESAJA 43:12.
1. (a) Wat is die grootste voorreg wat enige persoon op aarde te beurt kan val? (b) Hoe word die woord “getuie” omskryf?
DAAR is geen groter voorreg op aarde as om ’n getuie vir die ware God, Jehovah, te wees nie. ’n Getuie is “iemand wat getuienis aflê in ’n saak of voor ’n regbank” (Webster’s New Collegiate Dictionary). Dit was Jesus Christus wat vir die grootste saak in die ganse heelal getuig het—die saak van Jehovah God. Die Bybel praat van Jesus wat “as ’n getuie voor Pontius Pilatus die voortreflike openbare bekendmaking afgelê het” (1 Timotheüs 6:13, NW). En wat het Jesus vir hierdie Romeinse goewerneur gesê toe hy tereggestaan het?
2. Waarvan het Jesus Christus getuig?
2 In antwoord op ’n vraag wat aan hom gestel is, het Jesus gesê: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig” (Johannes 18:37). Ja, Jesus het dit duidelik gestel dat hy in die wêreld gekom het om vir God se waarheid te getuig. Dit het getuienis aangaande sy posisie as Messiaanse Koning ingesluit. Jesus het ook vir God se naam, Jehovah, getuig. Daarom kon Jesus in gebed aan sy hemelse Vader sê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het” (Johannes 17:6). Tot op die dag van sy dood as ’n mens was Jesus bewus van sy plig om ’n getuie vir Jehovah te wees. Ja, Jesus het nooit vergeet dat hy ’n getuie is nie.
Die voorbeeld van “die getroue en waaragtige Getuie”
3. (a) Wie is “die getroue en waaragtige Getuie”? (b) Wat het met die gemeente in Laodicea gebeur, en watter raad het Jesus hulle gegee?
3 Jesus het sy opdrag as ’n getuie vir Jehovah getrou en ywerig uitgevoer. En in hierdie opsig het hy vir toegewyde Christene ’n skitterende voorbeeld gestel. Let ook op Jesus se raad aan die gemeente in Laodicea. Blykbaar omdat hulle deur materialistiese begeertes verlok is, het die lede van hierdie gemeente “lou” geword as getuies vir Jehovah en die Messiaanse Koninkryk. Jesus het hulle derhalwe aangespoor om ‘ywerig te wees en hulle te bekeer’. Hy het sy raad aan hierdie gemeente laat voorafgaan met die woorde: “Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie.”—Openbaring 3:14-19.
4. (a) Hoekom het Jesus homself die “Amen” genoem? (b) Wat wou Jesus nie hê dat die Christene in Laodicea ooit moes vergeet nie?
4 Jesus noem homself eers die “Amen”. Waarom? Omdat Jehovah hom gestuur het as die “Amen” (wat beteken “laat dit so wees”) op al die goddelike beloftes. Jesus is die een wat die beloftes van God verwesenlik (2 Korinthiërs 1:20). Vervolgens identifiseer Jesus homself as “die getroue en waaragtige Getuie”. Waarom? Sodat die gemeente na hom sou kyk as hulle Voorbeeld en sodoende aangespoor sou word om berou te hê oor hulle tekortkominge en weer “ywerig” te word as getuies vir Jehovah. Die Seun
-