Toon eerbied vir Jehovah, maan die boek Numeri
JEHOVAH GOD verdien die heelhartige respek van sy aanbidders. Hulle moet hom gehoorsaam en lojaal met sy aangestelde knegte saamwerk. Hoe goed word dit tog nie in die Bybelboek Numeri beklemtoon nie!
Hierdie boek se naam is gegrond op die twee sensusse of tellings van die Israeliete wat in hoofstukke 1 tot 4 en 26 opgeteken is. Numeri is in 1473 v.G.J. deur Moses op die vlaktes van Moab geskryf en dek hoofsaaklik 38 jaar en 9 maande, vanaf die jaar 1512 v.G.J.—Numeri 1:1; Deuteronomium 1:3.
Die drie dele van Numeri beskryf gebeure by die berg Sinai (1:1-10:10), later in die woestyn (10:11-21:35) en op die vlaktes van Moab (22:1-36:13). Maar wat kan ons uit hierdie insidente leer? Bevat Numeri beginsels wat Jehovah se Getuies vandag tot voordeel kan strek?
Inhoud moedig eerbied vir God aan
Die Israeliete is al ongeveer ’n jaar lank aan die voet van die berg Sinai wanneer Jehovah vir Moses beveel om die volk te tel. Met uitsondering van die Leviete word al die manspersone van 20 jaar en ouer geregistreer, en hulle getal is 603 550. In die plek van die eersgeborenes neem God die Leviete vir tabernakeldiens. Instruksies word gegee met betrekking tot die trekorde, met Juda, die talrykste stam, aan die voorpunt. Op God se bevel word die Leviete dan geregistreer en heilige take opgedra.—Numeri 1:1-4:49.
Jehovah se bevele oor kwarantyn word gevolg deur wette soos die oor jaloersheid weens ’n vrou se ontrouheid en die geloftes wat deur nasireërs afgelê word. Dan word daar besonderhede gegee oor die tabernakeldiens. Tydens die oprigting van die tabernakel en die inwyding van die altaar het die stamowerstes waardevolle offerandes gebring. Volgens die beeltenis wat Jehovah hom in ’n gesig gegee het, het Moses ’n kandelaar laat maak. Toe die lampe opgesteek en die Leviete gereinig is, kon hulle begin dien.—Numeri 5:1-8:26.
Instruksies in verband met die pasga word hersien. Die opslaan en opbreek van die laer word bepaal deur ’n wonderdadige wolk bokant die tabernakel. Die volk slaan laer op en trek weg “volgens die bevel van die Here”. Twee silwertrompette moet gebruik word om die vergadering byeen te roep en vir ander doeleindes.—Numeri 9:1-10:10.
Op die twintigste dag van die tweede maand van die tweede jaar ná die uittog uit Egipte begin die wolk bokant die tabernakel beweeg en trek die Israeliete weg. Gevalle van ongegronde murmurering kom voor. Een hiervan is ’n oproep om vleis, maar die volk toon gierigheid wanneer Jehovah kwartels verskaf. Mirjam en Aäron murmureer teen hulle broer Moses, en as straf word Mirjam tydelik met melaatsheid getref. Wat ’n waarskuwing vir ons om altyd eerbied te toon vir Godgegewe gesag!—Numeri 10:11-12:16.
Twaalf verkenners word in die Beloofde Land ingestuur en keer 40 dae later met heerlike vrugte terug. Maar tien verkenners lê soveel klem op die mense se grootte en hulle versterkte stede dat die bevreesde Israeliete na Egipte wil terugkeer. Tevergeefs spoor die getroue verkenners, Josua en Kaleb, hulle aan om op Jehovah te vertrou. Wanneer die volk daarvan praat om Moses, Aäron, Josua en Kaleb te stenig, sê God dat hy die hele volk met die pes wil tref en wil uitroei. Maar Moses tree as voorspraak op en Jehovah beslis dat die volk 40 jaar lank in die woestyn sal rondtrek, totdat almal van 20 jaar en ouer omgekom het. Die enigste uitsonderings is Josua, Kaleb en die stam van Levi. Daarna probeer die Israeliete om die Beloofde Land binne te val, maar hulle ly ’n ontmoedigende nederlaag.—Numeri 13:1-14:45.
Vervolgens word verskeie wette in verband met offerandes, sabbatskending en die gebruik van hoekklossies aan hulle klere gegee. Toe begin Korag, Datan, Abiram, On en 250 owerstes om teen Moses en Aäron te spreek. Die gevolg van hierdie skreiende minagting? Jehovah vernietig Korag en die 250 met vuur, en die ander rebelle sterf wanneer die aarde oopgaan en hulle saam met hulle huisgesinne en hulle besittings verswelg. Net die volgende dag murmureer die Israeliete teen Moses en Aäron, en weens hierdie gebrek aan eerbied sterf 14 700 in ’n plaag van Jehovah. Om ’n einde te maak aan die murmurering en te toon dat hy Aäron van die stam van Levi gekies het, laat God bloeisels uitspruit op die staf van Aäron. Dit word gevolg deur voorskrifte in verband met die pligte van priesters en Leviete en die reiniging van die volk.—Numeri 15:1-19:22.
By Kades roep die volk om water. Omdat Moses en Aäron nie Jehovah heilig wanneer hy dit wonderdadig voorsien nie, word daar aan hulle gesê dat hulle nie die Beloofde Land sal binnegaan nie. Die volk verlaat Kades en kom by die berg Hor aan, waar Aäron sterf en sy seun Eleasar as hoëpriester aangestel word. Die Israeliete verslaan daarna die koning van Arad. Later murmureer hulle teen God en Moses, en hierdie keer stuur Jehovah giftige slange onder hulle in om hulle te straf. God beveel Moses om ’n koperslang te maak en op ’n paal te sit, en die wat deur die slange gebyt word, word alleen genees deur na hierdie koperslang te kyk. Daarna behaal Israel oorwinnings oor die Amoritiese koning Sihon en Og, die koning van Basan, en neem hulle hulle land in besit.—Numeri 20:1-21:35.
Nou volg ’n beskrywing van gebeure op die vlaktes van Moab. Die Moabitiese koning Balak huur Bileam om die Israeliete te vloek, maar in plaas daarvan seën hy hulle drie maal. Deur Bileam se toedoen word Israel deur Baälaanbiddende vroue tot geslagsonsedelikheid en afgodediens verlok. Jehovah roei 24 000 oortreders uit voordat Pinehas die plaag beëindig deur ’n onsedelike Israelitiese man en Midianitiese vrou tereg te stel.—Numeri 22:1-25:18; 31:15, 16.
Nadat nog ’n sensusopname gedoen is en ’n presedent gestel is in verband met die erfreg van dogters, aanskou Moses die Beloofde Land en wys hy Josua as sy opvolger aan. Voorskrifte word gegee in verband met daaglikse, weeklikse, maandelikse en jaarlikse offerandes, asook wette oor geloftes. Dan word wraak geneem op die Midianiete vir hulle aandeel daarin dat die Israeliete teen God gesondig het.—Numeri 26:1-31:54.
Die stamme van Ruben, Gad en Manasse ontvang erfdele oos van die Jordaan, maar op voorwaarde dat hulle help met die verowering van die land wes van daardie rivier. Dan volg daar ’n lys van Israel se baie staanplekke van Egipte af tot op die vlaktes van Moab. Die Israeliete ontvang daarna gebooie rakende hulle verblyf in die Beloofde Land. Hulle moet byvoorbeeld alle voorwerpe van valse godsdiens vernietig en die bewoners van die land verdryf. Die grense van die land word beskryf, owerstes word aangewys om Josua en Eleasar te help om dit te verdeel, en 48 stede word aan die Leviete afgestaan. Ses vrystede word opsygesit en instruksies word gegee oor die hantering van gevalle van onopsetlike manslag en moord. Ten slotte word wette gegee oor die huweliksregte van erfdogters.—Numeri 32:1-36:13.
Terwyl jy Numeri lees, sal jy bes moontlik beïndruk word deur die klem wat dit lê op eerbied vir Jehovah en vir diegene wat aangestel is om verantwoordelikheid onder sy volk te dra. Maar jy wonder miskien oor sekere dinge. Die volgende vrae en antwoorde kan jou dus interesseer.
Gebeure by die berg Sinai
• 5:11-31—Wat het in werklikheid gebeur met ’n vrou wat aan owerspel skuldig was?
Die water self het geen teistering veroorsaak nie. Maar dit is voor Jehovah gedrink, en hy het geweet of die vrou aan owerspel skuldig was of nie. As sy skuldig was, het hy haar skoot laat opswel en haar heup laat inval. Die heup word klaarblyklik hier eufemisties vir die voortplantingsorgane gebruik. (Vergelyk Genesis 46:26.) “Inval” dui daarop dat hierdie organe weggekwyn en dus bevrugting onmoontlik gemaak het. Dit klop met die feit dat, indien die vrou onskuldig was, haar man haar swanger moes maak.
• 8:25, 26—Geld die beginsel van die wet oor Levitiese aftrede vandag vir Jehovah se volk?
Die priesters is deur al die bevoegde manspersone van die drie vernaamste Levitiese families bygestaan. Die Leviete sou mettertyd talryk word, maar die diensgeleenthede by die heiligdom was beperk. Dit was dus ongetwyfeld uit konsiderasie vir ouderdom en om oorlading van hierdie dienste te vermy dat Jehovah beveel het dat manlike Leviete op die ouderdom van 50 van sulke verpligte diens kon aftree, hoewel hulle nog vrywillig kon help. Dit lê egter geen reël neer vir geestelike Israeliete en hulle metgeselle nie, daar hulle nie onder die Wet is nie (Romeine 6:14; Efesiërs 2:11-16). Indien ’n Christen weens sy hoë ouderdom nie meer ’n sekere verantwoordelikheid kan nakom nie, kan hy miskien ’n ander vorm van diens aanvaar wat hy wel kan verrig. Vir Jehovah se Getuies is daar geen aftrede ten opsigte van die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk nie.
Gedurende die omswerwing
• 12:1—Waarom het Mirjam en Aäron teen Moses gespreek vanweë sy Kusitiese vrou?
Dit was meer as ’n beswaar teen die vrou van Moses. Die eintlike beweegrede was die begeerte na meer mag, veral aan die kant van Mirjam. Moses se vrou, Sippora, was weg en het weer by haar man aangesluit, en Mirjam was bang dat sy as eerste vrou in die laer verdring sou word (Exodus 18:1-5). Sy het Aäron toe oorreed om saam met haar Moses te kritiseer omdat hy met ’n Kusitiese vrou getrou het en om sy unieke posisie voor God te betwis. Hiervoor het Jehovah Mirjam sowel as Aäron getugtig, maar die feit dat net sy melaats geword het, dui daarop dat sy moontlik die aanstigter was. Aäron se regte gesindheid word getoon deur sy bekentenis en sy pleidooi ten behoewe van die melaatse Mirjam (Numeri 12:10-13). Wat Sippora betref, sy was die dogter van Rehuel, die Midianiet (Genesis 25:1, 2; Numeri 10:29). In Habakuk 3:7 word “die land Midian” gelykgestel met Kusan, wat blykbaar ’n ander naam vir Midian is of op ’n naburige land betrekking het. Daarbenewens is sekere Arabiese stamme Kusi of Kushim genoem. Dit wil dus voorkom of “Kusitiese” nie beperk was tot die nakomelinge van Gam deur Kus nie, maar ook gebruik is vir sommige bewoners van Midian. Daarom kon Sippora ’n Kusitiese vrou genoem word.
• 21:14, 15—Wat was “die Boek van die Oorloë van die HERE”?
Dit was ongetwyfeld ’n betroubare geskiedenisverslag van die oorloë van Jehovah se volk. Dit het moontlik begin met Abraham se geslaagde veldtog teen die vier konings wat Lot en sy gesin ontvoer het (Genesis 14:1-16). Die Skrif maak van verskeie ongeïnspireerde geskrifte melding, waarvan sommige deur geïnspireerde Bybelskrywers as bronne gebruik is.—Josua 10:12, 13; 1 Konings 11:41; 14:19, 29.
Op die vlaktes van Moab
• 22:20-22—Waarom was Jehovah toornig op Bileam toe hy saam met Balak se manne gegaan het, aangesien dit Jehovah was wat hom beveel het om dit te doen?
Jehovah het vir Bileam gesê dat hy nie die Israeliete kon vloek nie, maar die gierige profeet het gegaan met die bedoeling om dit te doen sodat hy deur die Moabitiese koning Balak beloon kon word (2 Petrus 2:15,16; Judas 11). Om daardie rede het God se toorn teen Bileam ontvlam. Jehovah was natuurlik nie daarmee gediend dat Israel vervloek word nie. Maar Bileam het, soos Kain, die wil van God koppig verontagsaam (Genesis 4:6-8). Nadat Jehovah elke vloek in ’n seën verander het, het Bileam se verdorwenheid hom beweeg om aan die hand te doen dat Balak die vroue van Moab en Midian gebruik om die Israeliete te verlei en hulle by Baälaanbidding te betrek (Deuteronomium 23:5; Numeri 31:15, 16; Openbaring 2:14). Dit het God se toorn teen Israel laat ontvlam en tot die dood van 24 000 gelei. Later is die gierige Bileam gedood deur die einste mense wat hy probeer vloek het (Numeri 25:1-9; 31:8). Wat ’n waarskuwing teen gierigheid!
• 25:10-13—Hoe is hierdie belofte in verband met die priesterskap vervul?
Die hoëpriesterskap het skynbaar in die geslag van Pinehas gebly tot met die tyd van hoëpriester Eli, ’n afstammeling van Itamar. Hierdie verandering is waarskynlik toe te skryf aan die tydelike onbevoegdheid van Pinehas se nakomelinge. Maar koning Salomo het vir Sadok, wat van Pinehas afgestam het, in die plek van Abjatar, ’n nakomeling van Itamar, as hoëpriester aangestel (1 Konings 1:1-14; 2:26, 27, 35). Sover daar uit die geskiedenisverslag vasgestel kan word, het die afstammelinge van Pinehas daarna die amp van hoëpriester baie jare lank beklee.
• 30:6-8—Kan ’n Christenvrou se man haar geloftes tot niet maak?
Nee, want Jesus se volgelinge is nie onder die Wet nie. Jehovah handel nou individueel met persone wat geloftes betref, en ’n Christeneggenoot het nie die reg om dit op te hef of te verbied nie. ’n Christenvrou moet natuurlik nie geloftes doen wat teen God se Woord of haar Skriftuurlike pligte teenoor haar man indruis nie.—Prediker 5:2-6.
Van groot waarde vir ons
Die boek Numeri is ’n waardevolle skakel in die verslag wat lei tot die oprigting van God se Koninkryk. Dit wys ook vooruit op Jesus Christus. Die diereoffers en die as van die rooi koei het byvoorbeeld gedui op die veel groter voorsiening vir reiniging deur Jesus se offer (Numeri 19:2-9; Hebreërs 9:13, 14). Die insident in verband met die koperslang was ’n voorafskaduwing van Jehovah se wonderlike voorsiening vir ewige lewe deur Christus.—Numeri 21:8, 9; Johannes 3:14, 15.
Die boek Numeri kan ons help om afgodediens en geslagsonsedelikheid te vermy. Dit waarsku ons teen die gevaar van murmurering teen God, sy aangestelde knegte en sy voorsieninge. En hierdie opwindende verslag behoort ons beslis te beweeg om die grootste eerbied vir ons liefdevolle God, Jehovah, te toon.
[Prent op bladsy 18]
Hoe moet Mirjam se straf ons beskouing van Godgegewe gesag raak?