Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 9/1 bl. 12-15
  • “’n Tyd om te spreek”—Wanneer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “’n Tyd om te spreek”—Wanneer?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pas Bybelbeginsels toe
  • Persoonlike verantwoordelikheid
  • Dink vooruit
  • “Kyk! Jehovah se slavin!”
    Volg hulle geloof na
  • Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Kyk! Jehovah se slavin!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Sy het die swaard van droefheid oorwin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 9/1 bl. 12-15

“’n Tyd om te spreek”—Wanneer?

MARY werk as ’n mediese assistente by ’n hospitaal. Een vereiste waaraan sy in haar werk moet voldoen, is vertroulikheid. Sy moet verhoed dat dokumente en inligting wat op haar werk betrekking het na ongemagtigde persone gaan. Die wet in haar staat bepaal ook die onthulling van vertroulike inligting oor pasiënte.

Eendag het Mary voor ’n dilemma te staan gekom. Terwyl sy mediese verslae afgehandel het, het sy op inligting afgekom wat aangedui het dat ’n pasiënt, ’n mede-Christin, ’n aborsie ondergaan het. Het sy ’n Skriftuurlike verantwoordelikheid gehad om hierdie inligting aan ouere manne in die gemeente te openbaar, hoewel dit daartoe kon lei dat sy haar werk verloor, gedagvaar word, of dat haar werkgewer regsprobleme ondervind? Of sou sy volgens Spreuke 11:13 geregverdig wees om die saak te verswyg? Dit lui: “Die wat met kwaadsprekery omgaan, maak ’n geheim openbaar, maar hy wat betroubaar is van gees, bedek ’n saak.”—Vergelyk Spreuke 25:9, 10.

Jehovah se Getuies kom van tyd tot tyd te staan voor situasies soos hierdie. Soos Mary word hulle intens bewus van wat koning Salomo gesê het: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd: . . . ’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek” (Prediker 3:1, 7). Was dit vir Mary die tyd om te swyg, of was dit die tyd om te spreek oor wat sy uitgevind het?a

Omstandighede kan baie verskil. Dit sou gevolglik onmoontlik wees om ’n standaardhandelwyse vir elke geval uiteen te sit, asof almal sake soos Mary moet hanteer. As ’n Christen ooit voor ’n situasie van hierdie aard te staan kom, moet hy trouens bereid wees om al die betrokke faktore te oorweeg en tot ’n besluit te kom wat Bybelbeginsels asook enige wetlike implikasies in aanmerking neem en wat hom of haar met ’n skoon gewete voor Jehovah sal laat (1 Timotheüs 1:5, 19). Wanneer oortredings gering is en aan menslike onvolmaaktheid toegeskryf kan word, is die volgende beginsel van toepassing: “Die liefde sal ’n menigte sondes bedek” (1 Petrus 4:8). Maar gestel dit lyk asof die misdryf ernstig is. Moet ’n lojale Christen uit liefde vir God en sy mede-Christen openbaar wat hy weet sodat die vermeende sondaar hulp kan ontvang en die gemeente se reinheid bewaar kan word?

Pas Bybelbeginsels toe

Watter fundamentele Bybelbeginsels is van toepassing? Eerstens, enigiemand wat ’n ernstige sonde gepleeg het, moet dit nie probeer verberg nie. “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spreuke 28:13). Jehovah sien alles raak. ’n Mens sal uiteindelik van verborge oortredings rekenskap moet gee (Spreuke 15:3; 1 Timotheüs 5:24, 25, NAV). Soms bring Jehovah verborge sonde onder die aandag van ’n gemeentelid sodat behoorlike aandag daaraan gegee kan word.—Josua 7:1-26.

Nog ’n Bybelse riglyn is in Levitikus 5:1 opgeteken: “En as iemand sondig—dat hy die luid uitgesproke beswering hoor, terwyl hy getuie was, dit gesien het of daarvan weet—as hy naamlik dit nie te kenne gee nie en so sy ongeregtigheid moet dra.” Hierdie “luid uitgesproke beswering” was nie godslastering of vloekery nie. Dit het eerder dikwels voorgekom wanneer iemand wat veronreg is, geëis het dat enige moontlike getuies hom help om die reg te laat geskied deur vloeke af te roep—waarskynlik van Jehovah—op die een, dalk nog onbekend, wat hom veronreg het. Dit was ’n manier om ander onder eed te stel. Enige getuies van die onreg sou weet wie veronreg is en sou ’n verantwoordelikheid hê om na vore te kom om die skuldige uit te wys. Anders sou hulle ‘hulle ongeregtigheid moet dra’ voor Jehovah.b

Ingevolge hierdie bevel van die Hoogste Gesagspeil in die heelal het elke Israeliet die verantwoordelikheid gehad om enige ernstige oortreding wat hy opgemerk het aan die regters te rapporteer, sodat die saak ondersoek kon word. Hoewel Christene nie streng onder die Mosaïese Wet is nie, is die beginsels daarvan steeds in die Christengemeente van toepassing. Daar kan dus tye wees wanneer ’n Christen verplig is om ’n saak onder die ouere manne se aandag te bring. Dit is weliswaar in baie lande onwettig om inligting in privaat verslae aan ongemagtigde persone te openbaar. Maar as ’n Christen ná biddende oorweging meen dat hy voor ’n situasie staan waar God se wet vereis dat hy, ongeag die eise van laer owerhede, rapporteer wat hy weet, is dit ’n verantwoordelikheid wat hy voor Jehovah op hom neem. Daar is tye wanneer ’n Christen ‘meer gehoorsaam aan God as aan die mense moet wees’.—Handelinge 5:29.

Hoewel ede of plegtige beloftes nooit lig opgeneem moet word nie, kan daar tye wees wanneer beloftes wat aan mense gedoen is, in stryd is met die vereiste dat ons uitsluitlike toewyding aan ons God gee. Wanneer iemand ’n ernstige sonde pleeg, val hy in werklikheid onder ’n “luid uitgesproke beswering” van die veronregte Een, Jehovah God (Deuteronomium 27:26; Spreuke 3:33). Almal wat lede van die Christengemeente word, stel hulleself onder “eed” om die gemeente rein te hou deur wat hulle self doen en ook deur die manier waarop hulle ander help om rein te bly.

Persoonlike verantwoordelikheid

Hierdie is sommige van die Bybelbeginsels wat Mary waarskynlik oorweeg het toe sy haar persoonlike besluit geneem het. Wysheid het voorgeskryf dat sy nie vinnig optree, sonder om sake baie sorgvuldig te oorweeg nie. Die Bybel vermaan: “Wees nie sonder oorsaak getuie teen jou naaste nie; want mag jy met jou lippe mislei?” (Spreuke 24:28). Die verklaring van ten minste twee ooggetuies is nodig om ’n saak afdoende te bewys (Deuteronomium 19:15). As Mary slegs ’n vlugtige melding van aborsie gesien het, kon sy gewetensgetrou besluit het dat die bewys van skuld nie afdoende was om die saak verder te voer nie. Die rekening kon foutief gewees het of dalk was die verslae andersins nie ’n juiste weergawe van die situasie nie.

Maar in hierdie geval het Mary ander betekenisvolle inligting gehad. Sy het byvoorbeeld geweet dat die suster die rekening betaal het, wat blykbaar ’n erkenning was dat sy die gemelde diens ontvang het. Sy het ook geweet dat die suster ongetroud is, wat die moontlikheid van hoerery laat ontstaan het. Mary wou graag die persoon wat moontlik gesondig het liefdevol help en gedagtig aan Spreuke 14:25 die reinheid van Jehovah se organisasie bewaar: “’n Betroubare getuie red lewens, maar hy wat leuens uitstrooi, is bedrog.”

Mary was ietwat skrikkerig oor die wetlike aspekte, maar het gemeen dat Bybelbeginsels in hierdie situasie belangriker is as die vereiste dat sy die vertroulikheid van die mediese verslae beskerm. Sy het geredeneer dat die suster sekerlik nie haatdraend sou wees en haar sou probeer terugbetaal deur moeilikheid vir haar te veroorsaak nie. Toe Mary dus al die feite tot haar beskikking ontleed het, het sy gewetensgetrou besluit dat dit ’n tyd was om te “spreek”, nie om te “swyg” nie.

Nou het ’n ander vraag by Mary opgekom: Met wie moes sy praat en hoe kon sy dit taktvol doen? Sy kon direk na die ouere manne gaan, maar sy het besluit om eers alleen na die suster te gaan. Dit was ’n liefdevolle benadering. Mary het geredeneer dat die persoon wat onder verdenking staan die geleentheid sou verwelkom om sake op te klaar of die suspisie sou bevestig as sy skuldig is. As die suster reeds met die ouere manne oor die saak gepraat het, sou sy waarskynlik so sê, en Mary sou sake nie verder hoef te voer nie. Mary het geredeneer dat as die suster ’n aborsie ondergaan het en nie hierdie ernstige oortreding van God se wet bely het nie, sy haar sou aanspoor om dit te doen. Dan sou die ouere manne haar in ooreenstemming met Jakobus 5:13-20 kon help. Gelukkig is dit hoe sake verloop het. Mary het uitgevind dat die suster onder groot druk en omdat sy geestelik swak was, tot ’n aborsie ingestem het. Skaamte en vrees het haar beweeg om haar sonde te verberg, maar sy het graag hulp van die ouere manne aanvaar om geestelik te herstel.

As Mary die liggaam van ouere manne eerste in kennis gestel het, sou hulle voor ’n soortgelyke besluit gestaan het. Hoe sou hulle die vertroulike inligting waarvan hulle te wete gekom het, hanteer? Hulle sou hulle besluit moes baseer op wat hulle meen Jehovah en sy Woord van hulle as herders van die kudde vereis. As ’n gedoopte Christen wat aktief met die Christengemeente omgaan by die oortreding betrokke was, sou hulle die bewyse moes opweeg soos Mary gedoen het om vas te stel of hulle die saak verder moet voer. As hulle besluit het dat daar ’n sterk moontlikheid was dat ’n toestand van “suurdeeg” in die gemeente bestaan het, sou hulle dalk ’n geregtelike komitee aangestel het om op die saak in te gaan (Galasiërs 5:9, 10). As die persoon wat onder verdenking staan in werklikheid as lid van die gemeente bedank het, deur ’n geruime tyd geen vergaderinge by te woon nie en haarself nie as een van Jehovah se Getuies te identifiseer nie, sou hulle moontlik besluit het om die saak daar te laat totdat sy weer begin om haarself as ’n Getuie te identifiseer.

Dink vooruit

Werkgewers het ’n reg om te verwag dat hulle Christenwerknemers “in alles betroubaar” sal wees, wat behels dat hulle vertroulikheidsreëls sal nakom (Titus 2:9, 10, NAV). As ’n eed afgelê word, moet dit nie lig opgeneem word nie. ’n Eed maak ’n belofte plegtiger en meer bindend (Psalm 24:4). En wanneer die wet boonop vertroulikheid vereis, word die saak nog ernstiger. Voordat ’n Christen ’n eed aflê of ’n vertroulikheidsbeperking aan hom laat oplê, hetsy in verband met werk of andersins, sal dit dus verstandig wees om sover moontlik te bepaal watter probleme dit tot gevolg kan hê weens strydigheid met Bybelvereistes. Hoe sal ’n mens sake hanteer as ’n broer of ’n suster ’n kliënt word? Dit is gewoonlik wanneer ’n mens saam met dokters, in hospitale, in howe en saam met regsgeleerdes werk dat ’n probleem kan ontstaan. Ons kan nie die keiser se wet of die erns van ’n eed ignoreer nie, maar Jehovah se wet is die belangrikste.

Party broers wat prokureurs, dokters, rekenmeesters, ensovoorts is, het die probleem voorsien, riglyne op skrif gestel en broers wat hulle raadpleeg, gevra om dit eers te lees voordat hulle enige vertroulike sake openbaar. Sodoende word daar by voorbaat ooreengekom dat, indien ernstige oortreding aan die lig kom, die oortreder aangespoor sal word om die ouere manne in sy gemeente oor die saak te nader. Hy moet besef dat as hy dit nie doen nie, die raadgewer verplig sal voel om self na die ouere manne te gaan.

Daar kan geleenthede wees wanneer ’n getroue kneg van God deur sy persoonlike oortuigings, gegrond op sy kennis van God se Woord, beweeg word om die vereistes van vertroulikheid ruim te interpreteer of selfs te skend weens die verhewe vereistes van die goddelike wet. Dit sal moed en oordeelsvermoë verg. Die doel sal nie wees om op ander se vryheid te spioeneer nie, maar om oortreders te help en om die Christengemeente rein te hou. Geringe oortredings weens sondigheid moet oor die hoof gesien word. Hier ‘bedek die liefde ’n menigte sondes’, en moet ons “sewentig maal sewe keer” vergewe (Mattheüs 18:21, 22, NAV). Dit is die “tyd om te swyg”. Maar wanneer iemand probeer om groot sondes te verberg, is dit dalk die tyd “om te spreek”.

[Voetnote]

a Mary is ’n denkbeeldige persoon wat te doen kry met ’n situasie waarvoor sommige Christene te staan gekom het. Die manier waarop sy die situasie hanteer, is verteenwoordigend van hoe ander in soortgelyke omstandighede Bybelbeginsels toegepas het.

b In hulle Commentary on the Old Testament sê Keil en Delitzsch dat ’n mens hom aan sonde of oortreding skuldig sou maak as hy “van ’n ander se misdaad bewus was, hetsy hy dit gesien het of op enige ander manier gewis daarvan te wete gekom het, en derhalwe bekwaam was om as ’n getuie vir die skuldigbevinding van die misdadiger in die hof te verskyn, dit nie gedoen en nie gesê het wat hy gesien of uitgevind het nie, hoewel hy die plegtige eedoplegging van die regter by die openbare ondersoek van die misdaad gehoor het, toe alle aanwesiges wat enigiets van die saak geweet het, aangespoor is om as getuies na vore te kom”.

[Prente op bladsy 15]

Dit is die regte en liefdevolle weg om ’n Getuie wat oortree het, aan te spoor om met die ouere manne te praat, vol vertroue dat hulle die probleem op ’n liefdevolle en simpatieke manier sal hanteer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel