Levitikus—’n oproep om Jehovah op heilige wyse te aanbid
JEHOVAH se aanbidders moet heilig wees. Dit is wat die Bybelboek Levitikus herhaaldelik duidelik toon. Ons lees byvoorbeeld daarin: “Ek is [Jehovah] julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig.”—Levitikus 11:44; 19:2; 20:7, 26.
Levitikus is klaarblyklik in 1512 v.G.J. deur die profeet Moses by Sinai geskryf. Dit dek net een maand—van die tabernakel se oprigting op die eerste dag van die eerste maand in die tweede jaar van die Israeliete se bevryding uit slawerny in Egipte tot op Jehovah se bevel aan Moses “op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het” in verband met ’n volkstelling (Numeri 1:1-3; Exodus 40:17). Die inhoud van die boek weerspieël kamplewe, iets wat daarop dui dat dit in die woestyn geskryf is.—Levitikus 4:21; 10:4, 5; 14:8; 17:1-5.
Getuies van Jehovah is nie vandag onder die Wet wat God deur Moses gegee het nie, want Jesus Christus se dood het daardie wet weggeneem (Romeine 6:14; Efesiërs 2:11-16). Kan die voorskrifte in Levitikus Christene dus tot voordeel strek? Indien wel, hoe? Wat kan ons uit hierdie boek leer omtrent ons aanbidding van Jehovah?
Inhoud beklemtoon heiligheid
Levitikus hoofstukke 1 tot 7 behandel offers en offerandes. Die vrywillige brandoffer is in sy geheel aan God gebring, net soos Jesus Christus homself volkome gegee het. ’n Deel van die vrywillige gemeenskapsoffer is vir God op die altaar aangebied, terwyl nog ’n deel deur die priester geëet is en ’n ander deel deur die offeraar. Die Herdenking van Christus se dood is eweneens vir gesalfde Christene ’n gemeenskapsmaal.—Levitikus 1:1-17; 3:1-17, NW; 7:11-36, NW; 1 Korinthiërs 10:16-22.
Sondoffers en skuldoffers was verpligtend. Die eerste was om versoening te doen vir sondes wat per ongeluk of onopsetlik begaan is, terwyl die tweede klaarblyklik gebring is om God te bevredig nadat ’n reg geskend is en/of om sekere regte vir die berouvolle oortreder te herstel (Levitikus 4:1-35; 5:1-6:7; 6:24-30; 7:1-7). Dit is opmerklik dat die Israeliete meer as een keer daaraan herinner is om nie bloed te eet nie (Levitikus 3:17; 7:26, 27). Daar is ook bloedlose graanoffers gebring ter erkenning van Jehovah se milddadigheid (Levitikus 2:1-16; 6:14-23; 7:9, 10). Christene bestudeer vandag al hierdie dinge met groot belangstelling, want al die voorgeskrewe offerandes onder die Wetsverbond het Jesus Christus en sy offerande of die voordele daarvan afgeskadu.—Hebreërs 8:3-6; 9:9-14; 10:5-10.
Vervolgens word voorskrifte vir die priesters uiteengesit. Op God se bevel het Moses ’n wydingsplegtigheid vir Aaron, die hoëpriester, en sy vier seuns as onderpriesters, waargeneem. Die priesterdom het toe begin funksioneer.—Levitikus 8:1-10:20.
Daarna is wette oor rein en onrein dinge gegee. Dieetvoorskrifte oor rein en onrein diere het die Israeliete beskerm sodat hulle nie deur skadelike organismes besmet is nie en het ook die skeidsmuur tussen hulle en die mense van die naburige nasies versterk. Ander voorskrifte het gehandel oor onreinheid weens kontak met lyke, die reiniging van vroue nadat hulle die lewe aan kinders geskenk het, prosedures in verband met melaatsheid, en onreinheid as gevolg van vloeiings uit mans en vrouens se geslagsorgane. ’n Studie van sulke wette behoort dit ons op die hart te druk dat dit nodig is om heiligheid as Jehovah se aanbidders te bewaar.—Levitikus 11:1-15:33.
Die belangrikste offers vir sondes is op die jaarlikse Versoendag gebring. Daar is onder meer ’n bul vir die priesters en die res van die stam van Levi geoffer. Een bok is vir Israel se nie-priesterlike stamme geoffer, en die volk se sondes is oor ’n lewende bok bely wat dan in die woestyn ingestuur is. Albei bokke is as een sondoffer beskou (16:5), wat getoon het dat hulle saam een simbool uitgemaak het. Jesus Christus is dienooreenkomstig nie net geoffer nie, maar hy dra ook die sondes weg van diegene vir wie hy as offerande gesterf het.—Levitikus 16:1-34.
Voorskrifte oor die eet van vleis en in verband met offers word vervolgens uiteengesit. Die goddelike verbod op die eet van bloed is veral opmerklik. Onthouding van bloed bly steeds die standaard vir diegene wat Jehovah in heiligheid aanbid.—Levitikus 17:1-16; Handelinge 15:28, 29.
Die oordele wat vervolgens uiteengesit word oor bloedskande, geslagsperversies en verskeie afskuwelike gebruike, soos afgodediens, spiritisme en laster, behoort ons dit ook op die hart te druk dat dit nodig is om heilig te wees in die aanbidding van Jehovah. Die priesters moes hulle dienooreenkomstig heilig hou. Voorskrifte is onder meer gegee oor met wie priesters mag trou, priesterlike onreinheid en die eet van heilige dinge.—Levitikus 18:1-22:33.
Daarna word die drie jaarlikse feeste gemeld—die Pasga in die vroeë noordelike lente, Pinkster in die laat lente, en die Huttefees of die Fees van die Insameling in die herfs. Daarna is daar voorskrifte oor die misbruik van Jehovah se heilige naam, die onderhouding van Sabbatte (weekliks, maandeliks en elke sewende jaar) en van die Jubeljaar, gedrag teenoor arm Israeliete en die behandeling van slawe.—Levitikus 23:1-25:55.
Daar word vervolgens ’n teenstelling getref tussen die seëninge wat gepaard sal gaan met gehoorsaamheid aan God en die vervloekinge wat ongehoorsaamheid sal meebring. Daar is ook voorskrifte in verband met gelofte-offers en -skattings, die eersgeborenes van diere en die gee van tiendes as ‘iets heiligs aan Jehovah’. Dit is die laaste van “die gebooie wat die HERE Moses by die berg Sinai vir die kinders van Israel beveel het”.—Levitikus 26:1-27:34.
As jy Levitikus aandagtig lees, sal jy ongetwyfeld beïndruk word deur die klem wat dit op die heilige aanbidding van Jehovah plaas. Maar jy sal dalk ook enkele probleme teëkom. Die volgende vrae en antwoorde kan gevolglik van belang wees.
Heilige offers en priesterdiens
• 2:11—Waarom was heuningoffers vir Jehovah onaanneemlik?
Die heuning wat hier bedoel word, is klaarblyklik nie byeheuning nie, maar vrugtesap. Anders sou dit nie as “eerstelinge” geklassifiseer kon word nie (Levitikus 2:12; 2 Kronieke 31:5). Aangesien vrugte-heuning kan gis, was dit onaanneemlik as ’n offer op die altaar.
• 3:17—Waarom was daar ’n verbod op die eet van vet?
Die vet is beskou as die beste of rykste deel, soos getoon deur ’n figuurlike uitdrukking soos “die vettigheid van die land” (Genesis 45:18). Die verbod op die eet van vet het klaarblyklik die feit by die Israeliete tuisgebring dat die beste dele aan Jehovah behoort. Hoewel Christene nie onder hierdie beperking van die Wet is nie, kan dit Jehovah se hedendaagse knegte daaraan herinner dat hulle voortdurend hulle heel beste aan hom moet gee.—Spreuke 3:9, 10; Kolossense 3:23, 24.
• 10:1, 2—Wat het hierdie sonde moontlik behels?
Toe Nadab en Abihu hulle hierdie ongeoorloofde vryhede veroorloof het, was hulle moontlik onder die invloed van alkohol. Dit is waarskynlik, aangesien Jehovah die priesters kort daarna verbied het om wyn of sterk drank te drink terwyl hulle by die tabernakel dien. Die eintlike rede vir Nadab en Abihu se dood was egter die feit dat hulle “vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring het, wat Hy hulle nie beveel het nie” (Levitikus 10:1-11). Hierdie voorval toon dat verantwoordelike knegte van Jehovah vandag aan goddelike vereistes moet voldoen en dat hulle nie reg aan Godgegewe pligte kan laat geskied as hulle onder die invloed van sterk drank is nie.
Heilige aanbidding vereis reinheid
• 11:40—Hoe kan hierdie voorskrif versoen word met Deuteronomium 14:21, wat sê: “Julle mag geen aas eet nie”?
Daar is in werklikheid geen weerspreking tussen hierdie tekste nie. Deuteronomium 14:21 het die Israeliete verbied om ’n dier te eet wat vanself doodgegaan het of dood aangetref is. Maar Levitikus 11:40 het bepaal wat gedoen moes word indien ’n Israeliet hierdie verbod oortree het. Die Wet het eweneens dinge soos diefstal verbied, maar sommige mense het wel gesteel. Die straf wat oortreders opgelê is, het krag aan die Wet se voorskrifte verleen.
• 12:2, 5—Waarom het ’n kind se geboorte ’n vrou “onrein” gemaak?
Die voortplantingsorgane is gemaak om volmaakte menselewe oor te dra. Maar weens die oorgeërfde uitwerking van sonde word onvolmaakte en sondige lewe op kinders oorgedra. Die tydelike ‘onreinheid” wat met ’n geboorte, maandstonde en saadvloeiings gepaard gegaan het, het die mense aan hierdie erflike sondigheid herinner (Levitikus 15:16-24; Psalm 51:7; Romeine 5:12). Dit was veral die geval met geboorte, want ’n sondoffer is daarna vereis. Dit is interessant dat Jehovah in hierdie geval die armes bedagsaam toegelaat het om voëls in plaas van ’n duurder skaap te offer (Levitikus 12:8). Sulke reinigingsvoorskrifte sou die Israeliete help om te besef dat ’n losprysoffer nodig is om vir die mensdom se sonde versoening te doen en menslike volmaaktheid te herstel. Die diereoffers wat hulle gebring het, kon dit natuurlik nie doen nie. Die Wet moes hulle gevolglik na Christus toe lei en hulle help om te besef dat slegs sy offerande ware vergifnis en die uiteindelike herstelling van menslike volmaaktheid kon meebring.—Galasiërs 3:24; Hebreërs 9:13, 14; 10:3, 4.
Heiligheid moet bewaar word
• 16:29—Wat is bedoel met “verootmoedig”?
‘Verootmoediging’ het hier heelwaarskynlik na vas verwys. Op die Versoendag is daar onder meer diere vir die sondes van die Leviete en die res van die nasie geoffer. Nadat die hoëpriester die volk se sondes van die vorige jaar oor ’n lewende bok bely het, is dit weggestuur en het dit hulle sondes in die woestyn ingedra. In die lig van die prosedure wat op die Versoendag gevolg is, is vas op daardie tyd klaarblyklik geassosieer met die erkenning van sondes.—Levitikus 16:5-10, 15, 20-22.
• 20:9—Waarom is die doodstraf voorgeskryf vir enigiemand wat sy ouers “vloek”?
’n Persoon wat sy ouers gevloek het en gehoop het dat ’n ramp hulle sou tref, was hatig en moorddadig. Hoewel hy nie ’n wapen gebruik het om hulle dood te maak nie, het hy hulle dood in sy hart begeer. Aangesien so ’n wreedaardige gees in Jehovah se oë op moord neerkom, het die Wet dieselfde straf voorgeskryf vir iemand wat sy ouers vloek as vir daadwerklike ouermoord. Dit behoort ’n Christen aan te spoor om liefde, nie haat nie, aan medegelowiges te bewys.—1 Johannes 3:14, 15.
• 25:35-37—Is dit altyd verkeerd om vir ’n broer rente te vra?
As een broer vir ’n ander geld leen vir sakedoeleindes, kan die geldskieter verwag om die hoofsom terug te kry en kan hy ook rente vra. Die lener woeker met die geld en gebruik dit om meer geld te maak, en die geldskieter kan tereg deel in die produktiwiteit van daardie geld deur gepaste rente te vra. (Vergelyk Mattheüs 25:27.) Die Wet het egter verbied dat rente gevra word op lenings om armoede te verlig. Die geldskieter kon verwag om die hoofsom terug te kry, maar dit is as verkeerd beskou om wins te maak uit ’n behoeftige naaste se teenspoed.—Exodus 22:25
• 26:26—Wat word bedoel met ‘tien vroue wat in een oond brood bak’?
Elke vrou het gewoonlik ’n afsonderlike oond nodig vir al die bakwerk wat sy moet doen. Maar daardie woorde het gewys op so ’n voedselskaarste dat een oond genoeg sou wees vir al die bakwerk van tien vroue. Dit was een van die voorspelde gevolge van ‘verset’ teen Jehovah en die gevolglike versuim om heiligheid in sy diens te bewaar.—Levitikus 26:23-25.
Hoe Levitikus ons aanbidding kan beïnvloed
Hedendaagse getuies van Jehovah lewe nie onder die Wet nie (Galasiërs 3:23-25). Maar aangesien die dinge wat in Levitikus gesê word vir ons insig in Jehovah se beskouing van verskeie sake gee, kan dit ons aanbidding beïnvloed. Let op ’n paar maniere waarop dit die geval is.
Jehovah, die Soewereine Heer, verdien heilige aanbidding. Hy duld geen mededinging nie, is heilig en dring aan op heiligheid by diegene wat vir hom heilige diens verrig (Levitikus 11:45; 19:2). Hierdie standaard geld ook vir Christelike aanbidding, soos die apostel Petrus duidelik getoon het toe hy geskryf het: “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”—1 Petrus 1:14-16.
Jehovah se naam moet heilig gehou word. Jehovah se Getuies durf nie die goddelike naam smaad aandoen nie, net soos die Israeliete van die ou tyd teen so iets moes waak (Levitikus 22:32; 24:10-16, 23). As persone wat afgesonder of geheilig is vir Jehovah se heilige diens, moet ons tereg sy naam loof en bid dat dit geheilig word.—Psalm 7:18; Mattheüs 6:9.
Jehovah vereis dat ons ons teen sonde verset. Vergifnis van sonde vereis nie alleen ’n soenoffer nie, maar ook ’n belydenis, berou en, sover moontlik, vergoeding. En as ons weet dat ’n ander lid van die gemeente hom aan ’n growwe sonde skuldig gemaak het maar dit nie wil bely nie, moet ons dit onder die aandag van die aangestelde ouere manne bring. (Vergelyk Levitikus 4:2; 5:1, 5, 6.) Vir sekere sondes is daar natuurlik geen vergifnis nie (Levitikus 20:2, 10; Hebreërs 6:4-6; 10:26-29). Maar as ons ons teen sonde verset, altyd probeer om dinge op ons hemelse Vader se manier te doen en gebruik maak van die losprysoffer van Jesus Christus, kan ons ’n goeie naam by die heilige God, Jehovah, hê.—1 Johannes 2:1, 2.
Dit is dus duidelik dat Levitikus ons aanbidding as Jehovah se Christengetuies moet beïnvloed. Dit moet die feit by ons inskerp dat ons God heiligheid van sy knegte vereis. Ons moet gevolglik sy naam heilig hou en ons voortdurend teen sonde verset. Daarbenewens moet hierdie Bybelboek ons beweeg om ons allerbeste aan die Allerhoogste te gee en altyd reinheid en heiligheid in heilige diens te bewaar, tot die lof van ons heilige God, Jehovah.
[Prent op bladsy 29]
Die offerandes onder die wet het Jesus Christus se offerdood en die voordele daarvan afgebeeld