Gebruik brosjures om jou Koninkrykshoop bekend te maak
1 Terwyl ons sien hoe Bybelprofesieë vervul word, verheug ons ons in ons Koninkrykshoop, en dit beweeg ons om met enigeen wat wil luister daaroor te praat (Luk. 6:45; Rom. 12:12). Een manier waarop ons ons Koninkrykshoop in gehoorsaamheid aan Jesus se bevel aan ander bekend kan maak, is om in Julie brosjures in die veldbediening te gebruik.—Matt. 24:14.
2 Aangesien ons etlike kleurryke en leersame brosjures het om van te kies, kan ons ons afvra watter van hulle die beste in die behoeftes van die mense in ons gebied sal voorsien en hulle belangstelling sal wek. As ons die brosjures ten beste wil benut, moet ons bekend wees met hulle inhoud. Die volgende kort oorsig sal ons in hierdie opsig help.
3 Die regering wat die Paradys gaan bring: Toe Jesus op die aarde was, was die Koninkryk van God die tema van sy prediking. Hierdie brosjure toon dat die Koninkryk ’n werklike regering is en hoe dit die probleme gaan oplos wat die lewe vandag so moeilik maak.
4 Jy kan vir ewig op die aarde lewe!: Dit verduidelik waarom God die mens gemaak het en hoe ons vir ewig op die aarde kan lewe. Die sprekende prente en bondige teks in hierdie brosjure sal byval vind by jong kinders en by diegene wat nie goed kan lees nie. Dit kan ook gebruik word om die grondleerstellings van die Bybel aan diegene met gehoorprobleme te verduidelik.
5 Die goddelike naam wat vir ewig sal bestaan: Hierdie brosjure bespreek God se naam uit ’n skriftuurlike en geskiedkundige oogpunt en toon waarom dit noodsaaklik is vir Christene om die naam te ken sowel as om dit in hulle aanbidding te gebruik.
6 “Kyk, Ek maak alles nuut”: Hierdie brosjure beeld die paradys uit en bou waardering vir die Bybel en vir ons Skepper op. Nadat dit bespreek waarom God slegte dinge toelaat, vestig dit die aandag op drie Bybelse grondleerstellings: die losprys, die opstanding en die Koninkryk. Hierdie brosjure het ook vrae onderaan die bladsye, wat dit vir ons makliker maak om ’n Bybelstudie daaruit te hou.
7 Moet jy aan die Drie-eenheid glo?: Mense sê dat hulle aan die Drie-eenheid glo, maar nie almal verstaan dit op dieselfde manier nie. Hierdie brosjure beantwoord vrae soos: Wat is die Drie-eenheid? Leer die Bybel dit? Is Jesus Christus die almagtige God en ’n deel van ’n Drie-eenheid? Wat is die heilige gees, en watter rol speel dit?
8 As ons eers besluit het watter brosjures ons in die bediening van huis tot huis of tydens informele getuienis wil gebruik, moet ons die artikels op die laaste bladsy van hierdie nommer van Ons Koninkryksbediening hersien. Daar sal ons wenke vind oor hoe ons die lektuur kan aanbied en hoe ons herbesoeke kan doen met die oog daarop om belangstelling aan te wakker en ’n Bybelstudie te begin.
9 Dit gebeur dikwels dat ’n sekere brosjure net die regte een is om ’n goeie getuienis te gee wanneer ons formeel of informeel getuig. Maar ons moet voorberei wees, ons moet genoeg brosjures by ons hê, ons moet weet wat daarin staan en ons moet ons goeie oordeel gebruik. Mag Jehovah se seën op ons ywerige bediening daartoe lei dat baie meer mense hulle saam met ons in die Koninkrykshoop verbly!—Hand. 13:47, 48, NW.